Luister met liefde vir die lewende God!

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 35
Preek Inhoud: 

04-10-92

SONDAG 35 - 2de gebod

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 16 : 1, 2
Gebed
Skriflesing: Johannes 10 : 1-16
Kategismus : Sondag 35
Sing: Ps. 115 : 1, 2, 3
Prediking
Sing: Ps. 115 : 7, 8
Geloofsbelydenis
Sing: Ps. 115 : 9
Dankgebed
Kollekte
Sing: SB. 18 : 3, 4
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

by die inleiding op die onderwys oor die 10 gebooie het ek aangekondig: ons sal by elke gebod probeer onderskei wat die betekenis is vir die gelowiges en wat vir die mense wat God nie ken nie. Die wet help jou mos om te sien hoe die HERE midde-in en met die skerwe van jou lewe iets nuuts maak, soos 'n mosaïek wat weer skoongemaak en gerestoureer word. In die wet het die HERE egter ook iets om vir die wêreld te sê, nl. dat die skerwe vertel hoe elke mens geroep word om God te dien.

Binne die verbond, vir die volk van God is die 1ste gebod 'n oproep tot eerbied vir die HERE. Na buite toe is dié 1ste artikel van God se wet 'n oproep tot geloof en bekering. Die antwoord op dié gebod is dan ook die pragtige geloofsbelydenis: "Hoor Israël, die HERE is onse God, Hy is die enigste HERE". Vir mekaar sê jy: "Hy is onse God". Vir almal wat wil hoor, teenoor alle afgodery sê jy: "Hy is die enigste HERE"!

Die 2de gebod is totaal 'n gebod vir die mense wat deur die HERE gekies en geroep is: geroep ook tot bekering en geloof. Hoe sal ons nou die HERE as die enigste God, as ons HERE dien? Kyk, by ongelowiges is die eerste gevaar: afgodery. Dit is 'n feit dat ook mense wat sonder die Here lewe, tog agterkom hulle benodig 'n mag bo hulle en sal in hulle nood en angs altyd vir 'n toevlug soek. Vir mense wat die HERE ken, begin dit egter nie met afgodery nie. Vir ons is afgodery die laaste gevaar, die gevaar aan die einde van die pad. Naamlik dan wanneer ons weggly in 'n eiesinnige manier om onse Here te dien. Wanneer dit gebeur, bly daar niks oor om vir jou naaste te getuig nie. Jou belydenis kan dalk mooi klink, daar is dan egter niks vir jou naaste om te sien nie. Ek verkondig die boodskap van die 2de gebod so:

LUISTER MET LIEFDE VIR DIE LEWENDE GOD!

Leef so

  1. almal in die kerk,
  2. saam by die huis
  3. self voor die HERE.

1. LUISTER ALMAL IN DIE KERK MET LIEFDE VIR DIE LEWENDE GOD

Die hele geskiedenis van Israël begin eintlik eers wanneer die HERE hulle by die Sinaïgebergte ontmoet. "Ek is die HERE julle God wat julle uit die slawehuis uitgelei het!". Die magtige en pragtige woorde het die hele volk uit die mond van die HERE self gehoor. Saam met die HERE is hulle dan op pad om die land van die belofte te soek. Die 1ste gebod soek die liefde van die volk vir die HERE alleen. Die 2de gebod bepaal dat die mense nie mag poog om 'n afbeelding van die HERE, 'n eie visie op die HERE te maak nie.

Dit het Israël baie vinnig probeer. Moses was hulle kontak met die HERE. Wanneer Moses te lank bo op die berg, ver van hulle bly, vra hulle vir Aäron om 'n godebeeld vir hulle te maak, 'n afbeelding van die HERE. Nee, hulle het beslis nie bedoel om 'n afgod te gaan dien nie. Wanneer die beeld gereed is, sê die volk: "Dit is jou God wat jou uit Egipte bevry het, o Israël!". Hulle haal die kragtige en pragtige eerste woorde van die HERE aan. En Aäron roep uit: Môre is daar 'n fees vir die HERE!". Israël het probeer om die HERE digterby te bring. Hulle wou 'n sigbare hulp vir hulle geloof, 'n tasbare bewys. Kyk, dis wat die godebeelde bedoel het: om die gevoel te hê jou god is naby, om te weet hy is daar as jy hom benodig.

Dit is presies wat die HERE verbied het. Hy het belowe: Ek is naby, Ek sluit die verbond. Jy hoef My nie op te roep nie, jy mag My aanroep. En jy mag My hoor. Ek is daar, wanneer julle gehoorsaam is. Ek is die lewende God! Dien My met liefde; en nie met jou angs of Ek wel daar is nie. Nee, mense van die 20ste eeu het nie 'n neiging om 'n afbeelding van God te maak nie. Ons soek denkbeelde: ons wil mos ook mooi weet hoe is God. Ons soek egter ook vir sekerheid dat Hy naby is!

Dit lyk asof die Kategismus nie, soos by die uitleg van al die ander gebooie, langs dit wat verbied word, ook 'n positiewe uitleg gee nie: wat gebied God in hierdie gebod? Ja, tussen die reëls is daar tog positiewe woorde: nl. "op geen ander wyse God vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie". Wat Hy in sy Woord beveel het: die Bybel staan vol daarmee. Die Here práát oor hoe ons Hom mag liefhê. Die hele geskiedenis is een van God se omgang met sy volk! Hy is naby, die mense mag Hom dien en hulle liefde op talle wyses uiter.

Die mooiste positiewe uitspraak staan in v/a 98: die HERE wil sy Christene deur die lewende verkondiging van sy Woord laat onderrig. Sy Christene: julle ken mos vir Christus. So naby het God gekom: sy Seun, die mens. So regstreeks het God met ons gepraat: Jesus word mos die Woord genoem. Een ding ken jy van Hom duidelik: dis sy stem. Hoor hoe het God by Sinaï gepraat. Hoor hoe het Jesus in die Bergrede oor die 10 gebooie gepraat! Onthou altyd hoe Jesus in Joh. 10 oor Homself as die goeie Herder vertel het. "Die skape sal hom volg, omdat hulle sy stem ken". Dié stem klink, moet klink in alle verkondiging in die kerk. Dit is wel my stem, maar dis altyd sy woorde.

Die lewende verkondiging van sy Woord: jouself láát onderrig is die juiste houding om Hom te dien, om te leer hoe om Hom te dien. Dié luister word vanselfsprekend gevolg deur te doén, te dien, wanneer jy mooi luister. Nee, ons dien nie beelde nie. Ons is wel so eiewys dat ons ons eie denkbeelde het. Die groot gevaar van sonde teen die 2de gebod in die kerk is: oppervlakkigheid. Jy is mos aan soveel rykdom gewoond. Daarom het elkeen sy mening, sy oordeel oor die kerk. Ons praat dan, pleks van te luister, oor uiterlike dinge: oor mekaar en oor die predikant. By die uiterlikhede is daar ook die gevaar van verafgoding van die kerk: daar kan by jou dooie geloof wees, terwyl jy tog saam die paadjie loop. Dan kom daar maklik 'n mate van kritiek op die ander wat eintlik besig is om jou eie leë hart te verberg. Waar is jou hart en siel wat die Here dien midde tussen sy mense? As daar basies ongeloof in jou hart woon, kan 'n gemeente jou nie tevrede stel nie.

Daar is ook mense wat houvas in die kerk soek, omdat alles in die land so onrustig is. Nee, dis nie ongeloof. Dit kan wel 'n teken van kleingeloof wees. In kleingeloof klou ons vas aan die verlede, aan gewoontes en reëls en is ons bang vir alles wat soos openheid na buite toe lyk. Waar is die basiese vertroue in die Here en sy Woord? Waar is die vrymoedigheid wat uit die bevryding van die sonde voortkom? Kom ons soek om met liefde almal die lewende God te dien. Ook as kerk is daar 'n taak. Wil u graag weet watter taak? Luister dan.

2. LUISTER SAAM BY DIE HUIS MET LIEFDE VIR DIE LEWENDE GOD

Die volk Israël het in sy geheel die HERE hoor spreek, toe Hy sy wet gegee het. Opvallend is dat nie net die volwassene nie, maar alle gesinne rondom die voet van die berg versamel was. Die gesinne is daar, van die oudste tot die kleinste, van die eerste tot die vierde geslag: oupa- en oumagrootjies en hul agterklein-kinders, ouers en kinders. Hulle het dit gehoor toe God die 1ste en 2de gebod besluit het met die woorde:

"Want Ek, die HERE jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek besoek die sondes van die vaders aan hulle kinders, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie onderhou" (Eks. 20:5-6).

Dis vir my jammer dat die Kategismus dié indringende woorde wat die HERE aan die 1ste en 2de gebod verbind het, nie noem nie. Dit gebeur byv. wel in Calvijn se Kategismus vir die kerk in Geneve. Daar is hele nege vrae en antwoorde aan hierdie woorde gewy! Kom ons betrek die woorde van die HERE nou in ons oorwegings.

Dit sê hoe jy daarop ag moet gee om saam by die huis die HERE met jou hele hart te dien.Dit lê die fondament aan die eerste nl. dat jy deel van God se volk, deel van die kerk is. Liefde vir die HERE: dit is wat ouers hulle kinders moet wys. Want alles wat anders is, is haat: onverskilligheid, misagting van 'n gebod. Ja, dit kan jy by die huis jou kinders leer: pleks van liefde en dan gehoorsaamheid. liefhê en haat leer 'n mens; onderhou of ignoreer van die gebooie ook. Dit sê alles: leer om saam te luister, as jy lees en voor jy praat. Is daar dan rêrig mense wat hier sit en die HERE haat? Nee, oënskynlik nie. Hoe sou jy dit waag om te sê jy haat Hom?! Jy sal mooi moet luister, wanneer daar tog 'n mate van onverskilligheid in jou hart is. Die HERE ervaar dit van jou as: hy het my nie met sy hart lief nie; Ek lééf nie rêrig vir hom nie. As jy nie weet hoe om bly te wees oor Sondae en oor die kerk nie, bewys jy dat daar liefde ontbreek. Nee, die sondes van die vaders en moeders word nie deur God op die kinders gelaai nie. Die ouers kan egter hulle houding wel op die kinders oordra. Wanneer ook hulle weer onverskillig is, sien God ook by hulle wat eers kinders was, 'n gebrek aan liefde. En opnuut: die HERE verdra dit nie. Dit is die betekenis van die woorde "Ek is 'n jaloers God", soos ons in die NAB lees: "Ek eis onverdeelde trou aan My".

Dit mag jy by die huis saam oefen. Om jou hele hart en siel, verstand en kragte vir Hom te gee. Leer jou kinders maar, pa's en ma's: hoe uniek elkeen van hulle is en hoe die HERE elkeen se hart spesiaal soek. Bid saam met elke kind afsonderlik en almal saam. Waag dit om te bly sing, ook wanneer hulle ouer word. Praat ook oor jouself as ouers eerlik: as beskadigde mense wat baie bly is om begenadig te wees. Dit wys namelijk vir jou kinders dat jy óók geluister het.

Leer hulle ook dat die kerk twee dinge is. Dit is die kudde, die plek waar jy naby die Here en veilig by Hom is. Leer hulle ook die ander trek van die kerk: dat die kerk op pad is in die wêreld: om saam met die Herder te soek wat verlore is, om saam met die Here wat sy kudde bymekaarmaak, uit te beweeg en dit in geloof en saam te waag. Ook in die kontak met ander kerke en mense uit ander kerke. Dit lê moontlik baie naby al op ons pad. Is u gereed? Het ons geluister?

3. LUISTER SELF VOOR DIE HERE MET LIEFDE

Almal in die kerk en saam by die huis: dit sal net reg wees, wanneer elkeen persoonlik weet hoe om alleen die HERE te dien en lief te hê. Hoe dien jy self die Here? Deur vir Hom te wys hoe graag jy tyd met Hom soek. Deur in dié tyd sy Woord te ondersoek en sy stem te wil hoor. Deur jou hart oop te maak en Hom te prys en te vra. Deur Hom te sien en te soek in die dinge wat in jou lewe en in de wêreld rondom jou gebeur. Sulke stiltetyd: dis vir almal die geleentheid om jou geloof as liefde en in luister te uiter. Ken jy dit? Soek jy dit? Hy ken jou naam: ken jy sy stem? Sy stem: dis die warmte én partykeer ook die skerpte. Dit is die liefde en eers, wanneer jy nie meer mooi hoor nie, sy hartseer omdat jy sy liefde nie soek nie.

Dit kan gebeur dat jy begin met op jou eie wyse, op jou eie maklike wyse uiterlik die Here nog te dien. Dit kan al dieselfde wees as afgodery, wanneer daar sommer dinge in jou lewe is wat baie belangriker as die Here self is. Jou lewensstyl is afgodsdiens as dit materialisties is (geld, besit, huise en vakansie). Dit is al afgodsdiens in Suid-Afrika as dit nasionalisme, die veiligheid van jou eie mense in die vaandel dra. Dit is al die sekerhede wat die Here as jou sekerheid uit jou daelikse spreke wegdruk.

Luister met liefde vir die lewende God: dit moet in die hart van jou lewe begin. Daar waar jy alleen teenoor Hom staan en daar niemand is wat jou aflei of wat jou help nie. As jy met God kan praat, dan kan jy ook daaroor vir ander mense vertel. Wanneer jy die lewende spreke van God soek, sal jy kan praat: so eenvoudig as wat die Here Jesus self gepraat het. Stel jou talente beskikbaar: jou hele hart en siel, jou kragte en verstand. Dit is alles wat Hy spesiaal vir jou gegee het. Jy is uniek: daar is net een soos jy wat Hom so kan dien. Dis jy! God sien jou en wys jou jou voorgeslag. Hy wys ook vorentoe.

Jy mag in jou voorgeslag die pad van die HERE zien. Eendag is jy egter die eerste geslag! Jy sal die eerste geslag wees nl. ten opsigte van jou kinders, jou kleinkinders en agterkleinkinders, die 2de, 3de en 4de geslag na jou wanneer God dit gee. Jou soek die HERE met sy Woord, omdat Hy jou as 'n persoon liefhet en wederkerig op jou liefde hoop. Die 1ste gebod, die gebod om net die HERE te dien, vra van jou 'n geloofsbelydenis. Die 2de gebod, nl. hoe om alleen die HERE te dien, soek die daadwerklike lewe wat die belydenis, die geloof, jou luisterhouding wys.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)