Wil beskadigde en begenadigde mense volgens Christus se voorbeeld vernuwe word?

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 33
Preek Inhoud: 

20-09-92

SONDAG 33

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 119 : 22, 23
Gebed
Skriflesing: Kolossense 3 : 1-17
Sing: Ps. 51 : 6, 7, 8 [na bekering!]
Sondag 33 HK
Prediking
Sing: Geloofsbelydenis
Dankgebed
Kollekte
Sing: SB. 44 : 2, 3
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

vorige week het ons oor die beeld van God gedink. So het God die mens geskep om sy trekke te weerspieël. Dié beeld, dié spieël het in skerwe uiteen geval. In Christus het God egter alle skerwe van jou lewe opgetel en skoongewas. Nou wil God ook deur die Gees in jou lewe 'n mosaïek bou: 'n bekeerde mens word nou volgens die voorbeeld van Christus gerestoureer. So mag dié mens 'n beeld van Christus wees en Hom weerspieël.

Hoekom praat ons dan nou nog oor ons bekering? Moet ons nou, pleks van oor onsself, nie eerder oor die werk van die Here Gód verder praat nie? Dat die Kategismus nou deurvra oor jou bekering is deur v/a 87 uitgelok: oor die mense wat hulle nie tot God bekeer nie. Positief staan dan daarteenoor: wat is nou presies die wáre bekering? Wanneer jy mooi gehoor het wat verlossing is, wil jy mos weet hoe mooi die vernuwing volgens die beeld van Christus sal wees!

Ja, ons praat verder oor die vernuwing. Soos Sondag 32 gesê het: nadat Christus ons deur sy bloed gekoop het, is Hy ook besig om ons deur sy Gees tot sy ewebeeld te vernuwe. Die invalshoek is vanaand: is jy bereid om aan die verandering van jou lewe saam te werk? Ja? En in hoevérre is jy dan daartoe bereid?

Ek preek oor Sondag 33 en my tema is dié keer 'n vraag wat ek as dienaar van die Woord vir u vra:

WIL BESKADIGDE EN BEGENADIGDE MENSE VOLGENS CHRISTUS SE VOORBEELD VERNUWE WORD?

1. v/a 88

Bekering: dié woord gebruik die HERE in sy Woord baie. Elke keer sê dit: wat van jou? Ek, die HERE, is 'n genadige God, maar keer jy ook tot My terug? Vir die wonder waarmee Gód nuwe lewe in 'n mens wek, gebruik die Bybel die woord: wedergeboorte. Die Gees moet deur 'n mens se hart waai en dit verander. Wanneer dié groot proses van verandering begin, praat ons van: heiligmaking. Dit is die Heilige Gees wat 'n sondaar die begin van heiligheid wil gee. Dus van God se kant: wedergeboorte en heiligmaking. Van ons kant moet daar egter wees: bekering en vervolgens 'n hele lewe wat in dankbaarheid aan God gewy word.

Ons los nou die beeldspraak van die mens wat 'n spieël van God se heerlikheid moes wees, maar wat gebreek het. Ons praat nou verder met die taal van die Bybel oor die harde werklikheid: dit gaan oor lewe of dood. Vir elke mens gaan dit by bekering oor lewe of dood. Vir altwee begin dit op die punt waarop jy besef "ek mote my bekeer". Vanaf dié punt loop dit uit op die ewigheid: dis ewige lewe of ewige dood. Op watter pad loop jy nou? Dan vat die Kategismus saam wat uit die Bybel opgetel is: ware bekering het twee kante. Dit is "afsterwing van die ou mens en opstanding van die nuwe mens". Daar is een mens, een persoon. Op wat lyk jy die meeste: op die ou mens, die mens wat sonder God op pad is om te sterwe? Of op die nuwe mens wat op Christus lyk en daarom nou al rêrig mag lewe?

Moet asseblief nie te lig oor die woord "afsterwing" dink nie. Ja, ons gebruik die woord afsterwe vir die dood. Ja, vir die pad van iemand wat besig is om te sterf! Dit vat in een woord die verskriklike afbraak van die liggaam en die gees van 'n mens, 'n geliefde. Luister hoe praat Paulus: "Want julle het gesterwe ..." (Kol. 3:3). Julle het gesterwe? Het ons? Hoe dan?! Dit beteken: wanneer jy 'n deel is van Christus, het jy in Hom alreeds op Golgotha gesterwe. Dit wat onder die oordeel van God dood moet, het die straf en die vloek al ondergaan. Dis verby! Christus, jou Heer het mos alreeds gesterwe.

Dis hoekom daarlangs die woord "opstanding" staan. Die teendeel van sterwe is: die opstanding uit die dood. Dit is die beeld wat die Heilige Gees in Paulus se hart ingegee het. Met dié werklikheid kon hy mooi vergelyk wat gebeur wanneer 'n mens deur die Here Jesus verlos is. Kyk hoe sê hy: "As julle dan saam met Jesus Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is" (Kol. 3:1). Soos wat Hy na sy afsterwe aan die kruis opgewek is uit die dood, so word 'n mens wat homself bekeer opgewek. Uit die dood, in die lewe. Jy mag verder lewe, maar nou sonder die gevaar van die dood, van die vloek van God heeldag bo jou kop.

Later vra ons aan die hand van v/a 89-90 dieper deur oor die betekenis van afsterwing en opstanding. Nou keer ons terug tot 'n punt wat ons al eerder gesien het: daar is net een mens, daar is net jy. Is jy basies nog steeds die ou mens wat jy sonder God sal wees of is jy in wese al die nuwe mens wat op Christus lyk? Kan jy tot in jou hart sê: toe Christus gesterf het, was Hy lief vir my? En toe Hy opgestaan het, was dit om vir my 'n nuwe kans te gee!

Hoe kan ons egter so absoluut of die een of die ander wees? Ons is mos nie volmaak nie. Nee, dit is hoekom daar twee dele, of twee kante aan bekering is. Dié twee hang saam soos 'n proses van siekte of van gesondheid saamhang. Dis die een of die ander. As die siekte toeneem, gaan die gesondheid af. As die gesondheid egter opgaan, neem die siekte af. Daar mag nooit stilstand wees, want dan is daar geen positiewe balans nie! Wanneer die afsterwe van my sonde deursit, staan ek as 'n nuwe mens op. As egter die opstaan as 'n mens soos Christus nie deursit nie, staan skielik die afsterwe van jou sondes stil. Wat kies jy?

Moet binne die kerk aanhoudend oor bekering gepraat word? En met sulke skerpte? Ek dink ja, want daar word so maklik geleef, asof die son van God se genade vanselfsprekend oor ons skyn. Die gevaar is altyd daar dat mense wat in die kerk grootgeword het, God dien omdat hulle dink dit moet. Dit moet, sonder dat daar 'n verlange tot God is. Verstaan u hoe diep lewe of dood gaan? Wil mense wat in die lewe beskadig is en wat in die verbond begenadig is, wel rêrig volgens die voorbeeld van Jesus Christus vernuwe word? Ek hoop u antwoord sal "ja" wees. Ja, ek wil, want dit gaan oor my lewe of my dood! Dit is die samevatting van dié eerste punt.

2. v/a 89

Wat is presies daardie afsterwing van die ou mens? Dit is 'n hartlike berou daaroor dat ons God deur ons sondes vertoorn het. Elke keer kom jou hart ter sprake: nou "'n hartlike berou", later "'n hartlike vreugde". Hoe diep raak dit jou dat jy, 'n gedoopte en bevoorregte mens, so maklik met jou sondes saamleef? Hoe diep? Ek wil u spesiaal herinner aan die een keer wat die apostel Paulus geskree het: "Ek, ellendige mens!" (Rom. 7:24). Ek wonder of 'n mens homself rêrig bekeer het, wanneer daar nie die skree tot God was nie.

Ja, jou hart en dus jou diepste wese, jou emosies is in die hele proses betrek. Die geloof in God kan nie buite jou emosies om staan nie. Het jy al 'n keer gehuil, nee nie oor jou eie seer nie, maar oor die ellende wat jy vir God se oë aangerig het? Jou sonde is hartseer in God se hart. Paulus praat dan van "droefheid volgens die wil van God": soos wat God dit sien wil en as opreg ervaar. Daarteenoor staan "die droefheid van die wêreld wat die dood bewerk" (2 Kor. 7). Dis trane sonder dat jou gesig omhoog gerig is tot God. Kan jy huil oor jou sondes? Kan jy tot in jou diepste wese bedroef wees oor die ongeloof en sonde van so baie ander mense? Om die Here ontwil.

Kom ons vergeet nie daarvan hoe die Kategismus oor bekering begin praat het nie. V/a 87 het gegaan oor "die mense wat in hulle goddelose ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie". Daar is in die gemeente van Christus mense wat wel uiterlik en nie innerlik gelowiges is nie. Die huigelaars, sê die Kategismus. Kom ons sê: mense wat nie hulle hart aan die Here oorgegee het nie. Wat nog nooit rêrig berou tot op die bodem van hul hart gevoel het nie. Dalk is jy tevrede oor jouself: in jou midde van 'n aanvaarbare kerklike lewe en 'n lekker eie lewe. Of dalk is jy glad nie tevrede met jouself, maar kan jy tog God nie vind nie. En soek jy nie, omdat jy nie kan skree nie.

Vergelyk jouself met Christus. Nee, nie om op eie krag soos Hom te word nie, want Hy is sonder sonde mens en God. Wel om Hom te volg en deur Hom gered, anders, nuut te word. Daar moet iets afsterwe in jou. Dit is iets wat sleg is vir jou, wat jou dood sal veroorsaak en jou aanhoudend afbring. Jou sondes: dit is wat eendag doodgemaak sál word, verseker, op die groot dag van God se toorn. Jesus sê: dit wat sleg is in jou en sleg is vir jou, moet nou alreeds afsterwe. Dit moet, maar dit mag ook. Jy mag ook nou alreeds verlos word van dit wat gevaarlik is vir jou. Soos enige mens alles sal doen om van 'n kankergeswel ontslae te raak, so wil die Here alles doen om jou lewe van jou sonde te red.

Ons kan 'n vreeslike siekte, ja, enige siekte háát. Dit tas jou gesondheid, jou moontlikhede aan. Dit bedreig die geluk en die verwagting van die lewe. Die belydenis sê nou eenvoudig: so moet jy ook leer om jou eie sonde te haat en daarvan weg te vlug. Nee, ek noem nou nie voorbeelde aan die hand van die 10 gebooie nie. Dit gaan dieper, dit gaan oor jou hart en oor die Here. Kom ons hoor Paulus praat: "Daarom moet julle die aardse dinge dood-máák wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes en gierigheid; en ook woede, haat, nyd, gevloek en vuil taal" (Kol. 3:5, 8). Leer by Christus om jou sonde te háát en weg te vlug van jou slegte kante. Net dan vlug jy tot Hom. Dan sal Hy jou graag opvang.

Wil mense wat in hulleself beskadig is en wat deur God begenadig is, nog steeds volgens die voorbeeld van Christus vernuwe word? Het u al leer skree tot God, byv. met die woorde van Jeremia: "Bekeer my, HERE; dan sal ek my bekeer"?! Ek hoop u antwoord sal wees: ja, Here, hoor my skree tot U! Die eerste antwoord was: ja, want dit is 'n saak van lewe of dood. Die tweede antwoord mag wees: ja, Here, U het my skreeu tog gehoor?!

3. v/a 90-91

Nou nog die vraag oor die opstanding van die nuwe mens. "Dit is 'n diepgevoelde vreugde in God deur Christus en dit is my lus en my liefde om volgens die wil van God te lewe". Hier kom opnuut jou emosies ter sprake. Dit is die diepste van jou hart wat suiwer reaksies wakker maak. Bly wees met God: om wie Hy self is en wie Hy vir jou is. Deur Christus, omdat Hy jou toegang tot die Vader wil wees. Hy wil die voorbeeld wees waarvolgens God jou lewe nuut wil maak. Bekering is: entoesiasties wees oor God se planne met jou en julle, met hom en haar.

Die diepste van al die emosies van die geloof is: liefde en warmte in jou hart oor God. Jy ken mos sy hart, sy karakter en sy liefde! Hy wat Vader en Seun en Gees is. Hy is jou Vader, jou Here en die Gees wat in jou hart welkom wil wees voel. Dit is dié liefde wat in jou die verlange wek om net Hom te dien, om met jou lewe iets vir Hom te beteken, om Hom bly te maak.

Ek praat nou maar kort oor die laaste vraag en antwoord: dié oor goeie werke. Ons kry by elk van die 10 gebooie genoeg tyd om die mooi dinge van 'n christenlewe te sien. Nou is dit genoeg: nl. dat die dinge wat jy graag vir God doen volgens drie kenmerke geken kan word. Dit is alles wat uit 'n ware geloof, tot God se eer en volgens sy wet gedoen word. Of soos Rom. 11: 36 dit sê: "want uit Hom en tot Hom en deur Hom is alle dinge, aan Hom die heerlikheid tot in ewigheid!". Uit Hom (uit 'n ware geloof) en tot hom (tot sy eer) en deur Hom (volgens sy wet) is alle dinge". Proe u hoeveel liefde tot God daar in jou hart mag wees? Proe jy hoe dié liefde jou in staat stel om jou lewe vir Hom te wy?! Al jou werke is dan uit God, tot God en deur God. En dit is jy wat so 'n kind vir Hom mag wees en 'n dissipel van Jesus.

Die nuwe mens staan op: sien jy hom in jou lewe? Paulus sê: "Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid" (Kol. 3:12). Aan dié trekke sien jy die beeld van Christus in jou lewe opstaan.

Die vraag was: wil beskadigde en begenadigde mense wel volgens die voorbeeld van Christus verander word? Die antwoord is joune, jou antwoord tot God. Dit is hoekom ek vanaand 'n vraag vir almal gevra het. Sê die antwoord vir die Here! Besef jy dat dit oor lewe of dood gaan? Kan jy tot God skree om die erns van jou sonde en van die sonde? Kan jy juig, omdat die beeld van Jesus sigbaar word in jou lewe? Sondag 33 vra vir jou: en wat doen jy? Opnuut besef ons: sonder Hom kan ons niks doen nie. Die Heilige Gees moet liefde in my hart wek. Hy moet my gevoelens verander om die sonde in my te kan haat. Hy moet my emosies, my blydskap en my verlange warm maak vir sy saak. Hy moet, ja, want dit gaan 1. oor lewe of dood (v/a 88), 2. jou skreeu tot God (v/a 89) en 3. die liefde van jou hart (v/a 90-91).

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)