Werklike bekering gebeur solank Christus aan jou werk

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 33
Preek Inhoud: 

18-08-91

SONDAG 33

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 37 : 2, 3, 4
Geloofsbelydenis
Sing: Ps. 37 : 14, 15, 16
Skriflesing: Jesaja 61:10 - 62:5, Koloss. 3:9-17, Openb. 19:6-10
Gebed
Kollekte
Sing: SB. 42 : 1, 2, 3
Sondag 33 HK
Prediking
Sing: SB. 42 : 4, 5
Dankgebed
Sing: Ps. 51 : 4
Seën

Gemeente van ons Heiland,

onthou u nog die verhaal waarmee die vorige preek begin het? Dit het gegaan oor die man wat na jare en jare opsluiting uit die tronk vrygelaat word. Sy klere is nie van die jongste mode nie. Ja, sy gevangenisklere mag hy agterlaat: die skande word hom tenminste bespaar om in sy boewepak gesien te word. Hy het egter nie 'n keuse nie: hy moet sy ou klere aantrek. Geld om iets nuuts te koop, het hy nie.

Die klere en die kleur van die klere is 'n pragtige beeldspraak in jou Bybel. Die klere is: jou uiterlik. Hoe jy aantrek, wys hoe jy voel. Je trek anders aan vir 'n begrawenis as wat jy dit vir 'n troue doen. Die verlore seun kry, as hy met blydskap by die huis ontvang is, van sy pa dadelik 'n nuwe stel klere: om die blydskap en die nuwe begin sigbaar, feestelik te maak. Die ou en vuil klere waarin hy met die varke verkeer het, verdwyn in die asblik.

Klere is 'n mooie voorbeeld om oor die sigbare van die lewe van 'n christen te praat. Kleding wek egter ook emosies op. Iets wat mooi lyk, trek jou aan: dit moet heerlik wees om dit te kan dra en mooi te lyk. Iets wat nie mooi is nie, word al vinnig afskuwelik genoem: jy haat dit om soiets te moet dra. Nee, dit gaan nou nie oor kleding nie. Dit gaan oor die sigbare van jou lewe: dit wat God sekerlik sien en op kwaliteit beoordeel én dit wat jy vir die wêreld mag wys, hoe hulle dit ook beoordeel.

Ook ons Kategismus praat van emosies: die toorn van God oor die kwaad en 'n christen se haat teen sy sondes. Oor die vreugde van jou hart om God te mag ken en die lus om volgens God se wil te lewe. Ken u die emosies? Praat u met mekaar oor die diepgang van die bekering? God wil mos die harte raak. Ek bedien u vanaand die boodskap van die Bybel oor bekering:

WERKLIKE BEKERING GEBEUR SOLANK CHRISTUS AAN JOU WERK

  1. om wat Hy werklik maak, te wys (v/a 88)
  2. om wat Hy oud verklaar het, te vernietig (v/a 89)
  3. om wat Hy nuut sien wil, te skep (v/a 90)

1. WAT CHRISTUS WERKLIK MAAK, MOET HY WYS

Ons dink nou oor bekering. Daar is ook nog die woord "weder-geboorte". Dit gaan oor dieselfde: dat die mens deur die liefde van Christus, deur die wonder van die Heilige Gees weer by God mag kom. Deur van bekering te praat, belig die Bybel die kant van die mens: jy moet jousélf tot God bekeer. Deur van wedergeboorte te praat word Gód se werk uitgedruk: die Gees maak in jou hart 'n nuwe begin, so nuut soos 'n geboorte is. Die twee kante, God s'n en ons s'n, word baie mooi in hierdie Bybelteks duidelik: "Bekeer my, dan sal ek my bekeer, want U is die HERE, my God" (Jer. 31: 19). U is die HERE, dus moet ú my hart bekeer. U is ook my God, dus sal ék my bekeer. Ek belowe dit, maar U moet vir my sterk wees. Die bekering is in hierdie lewe nooit gereed nie. God wil daaraan werk, jy moet in sy krag ook daaraan werk.

Ons moet mooi onderskei. Daar word met baie verskillende bedoelings van "bekering" gepraat. Dikwels word bedoel: bekering is die eerste keuse vir God, die eerste keer dat die evangelie jou hart raak. Dan kan jy van God so 'n groot sekerheid kry dat jy mag sê: Hy sal my altyd in die geloof bewaar! Mense wat in die kerk grootgeword het, kan dikwels nie 'n moment noem waarop daar so 'n ingrypende, duidelike verandering in hul hart plaasgevind het nie. Die geloof het stadig ontwikkel en so ryp en ryk geword. Solank as wat hulle digby die Here bly, kan hulle sê: Hy sal die geloof altyd in my bewaar. In hierdie Sondag praat ons nie veral van die "eerste" bekering nie. Dit gaan vanmiddag oor die groei in die geloof, groei wat daar moet wees. Wie bly elke dag naby die Here? Die eerste begin moet tot 'n mooi, vol geloof uitgroei, sowel by die mens wat in die kring van God se verbond mag grootword, as die wat deur 'n ingrype van God verander word. Dié bekering is in hierdie lewe nooit gereed nie. Selfs "jou roeping en verkiesing" is wel daar, maar moet, soos die Skrif sê, "vasgemaak" word.

Ons moet oor bekering bly praat, omdat daar afval van die geloof moontlik is. Die afval, die verskriklike gevolg, begin by die afgly, die stille verwatering van die geloof. Kom ons probeer te ontdek hoe die afval in ons lewe kan inkom: om daarteen te kan waak, by onsself en by mekaar. Daar is mos die christelike geloof (die inhoud, die geloofsleer, die belewing) en daar is die christelike lewe (die keuses, die sigbare, u dade). So kan daar aan die een kant dwaling in gedagtes en aan die ander kant sonde in dade kom. Die duiwel soek sy invalshoeke in jou. Langs die twee spore voltrek die afval homself. Die duiwel probeer die inhoud van die geloof in jou hart te skaad én hy probeer om jou te mislei in die dade. Dit kan so erg word dat jy by God begin wegdwaal.

Hoekom praat ons nou van afval van die geloof, van wegdwaling by die Here vandaan? Ons moet dit, ook omdat v/a 87 gevra het: wanneer mag 'n mens nie in die vrede van die Here kom nie? Dan word 'n hele paar ernstige gevalle genoem: mense wat vasgevang is in dwaling of sonde. Dan moet jy jou bekeer: om jou lewe te red. Dan moet ons saam soek vir die oorsaak: om op die regte plek te help. Onthou egter altyd dit: jy mag vanuit die dankbaarheid oor die verlossing praat! Jy mag groot dankbaarheid wys, as jy met broers of susters praat. Laat dit, die eie blydskap deurklink, as ons stry vir iemand se redding.

Kom verwag ons die wonder van die Heilige Gees dat Hy ook mense wat dwaal of sondig kragtig sal uithelp! Kom ons bid vir die wonder, soos daar groot wonders gebeur, wanneer mense tot die geloof geroep en wonderlik verander word. Soos daar 'n wonder gebeur het, toe jy in die beskerming van God se verbond gebore is.

2. WAT CHRISTUS OUD VERKLAAR HET, MOET VERNIETIG WORD

Hoe kan dit nou gebeur: dat mense wat hierdie lewe liefhet, hééltemal aan die Here toegewy is? Dit is darem wat die Here wil bereik: dat sy mense skitter soos sterre, leesbaar is soos briewe. Die Bybel praat dan van die ou mens wat moet sterwe, die ou mens in jou wat nou alreeds doodgemaak moet word. Maar daar is tog baie sake wat mens moeilik loslaat? Daar is dinge wat ek tog graag wil geniet, daar is my karakter wat moeilik verander, daar is mense wat my moet bly respekteer. Kan jy verstaan dat die Here verkeerde relasies háát? Of dat Hy jou wyse van geniet verafsku? Kan jy walg van wat die Here sonde noem?

Ek dink ons kán dit verstaan. Dink byvoorbeeld aan dinge wat jou vreeslik pla. Sulke dinge gaan jy al hoe meer haat, hoe langer die pla aanhou. Dink aan 'n siekte wat besig is om 'n mens te vernietig. Dit kan lei tot 'n groot afsku, 'n diep haat teen dié siekte. Jy weet mos dit bedreig alles waarvir jy lief is. As jy iets kan verafsku wat sigbaar, tasbaar jou lewe bedreig, óf die lewe van jou kinders, jou ouers, jou broers of susters: sal jy dan nie daarteen veg nie? Sal jy dan nie met alle krag wat in jou is, jou daarteen verset nie? Skreeu jy hom hie dokter toe, as hy dit bly weier?

So, sê die Here, is daar dinge wat jy nie in die eerste plek so sien of voel nie, maar wat tog jou lewe bedreig. Dit is die ou dinge in jou: oud, omdat dit eendag definitief sal sterwe. Dit sal eendag sterwe, omdat God die dood daaroor aangekondig het. Dink dan maar aan al die sake waarop in die ou verbond alreeds die doodstraf gestaan het. Die misbruik van God se naam, die minagting van die ouers, die egbreuk, die dien van ander gode (soos jou geld). Of die kleiner sake (wat ons maklik klein noem), soos Paulus opsom: "Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het" (Kol. 3: 9). En: "Nou moet julle ook dit alles aflê naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond" (vs. 8). Dit is konkrete dinge, ook in die lewe van 'n gesin, ook in die lewe van die gemeente. Dit is konkrete dinge wat jou en die mense rondom jou swaar kan beskadig. Dit is dinge wat jou die dood kan bring: as die oordeel van God.

Die Bybel praat, langs die sterf van die ou mens, ook van die aflê van die ou klere. Sterker nog, onder die klere is jy net kaal. Die Here kyk onder die uiterlik. Die mense sien dalk nog genoeg wat respek afdwing, maar die Here sien die werklikheid van jou hart: Hy kyk dwars deur die klere. Dan sê die apostel: "ek hoop dat ek nie naak bevind sal word nie" (2 Kor. 5:3). Dit is goed vir 'n mens om 'n keer te besef wat dit is om kaal en alleen voor God te staan.

Die stryd teen sonde en dwaling kan swaar wees. Ja, so swaar dat die Bybel praat van "dood maak". "Dood julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en geldgierigheid" (Kol. 3:5). Dit moet jy doen: dit dood maak, voordat die dood oor jou kom. Die sterflikheid is mos nie net die broosheid van jou liggaam nie. Die sterflikheid wortel nog altyd in die mag wat die sonde oor jou het. Dit is hoekom ons nog altyd moet sterwe: om die mag van die sonde vir altyd af te lê. Ja, dit is swaar om te hoor, maar u onthou darem dat die Here Jesus so en nog vreesliker gesterf het: in u plek. En: Hy het opgestaan in 'n nuwe lewe om u nuwe lewe te gee, al op hierdie aarde, vandag.

3. WAT CHRISTUS NUUT WIL SIEN, MOET GESKEP WORD

Terwyl die ou sondes en dwalings moet sterf, uitgewis moet word, is daar om Christus ontwil nou alreeds die mooie wat in die plek daarvan mag kom en ook werlik kom. Pleks van die dwalings van jou eie gedagtes gee Christus 'n oorvloed aan waardevolle gedagtes: alles wat die Bybel oor God en sy werk vir jou geopenbaar het. Pleks van sondes word jou die mooi werke van die geloof gewys: alles wat christene op aarde waardevolle mense maak, sodat hulle orals seën mag versprei. Dit, sê die Bybel is die nuwe mens: 'n mens wat nuut lyk op hierdie aarde.

Daarvir gebruik die Here opnuut die beeld van kleding. Ons het in Jesaja gelees hoe die klere praat van die blydskap. "Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel". Die vergelyking word uitgebrei met die versiersels van bruidegom en bruid. "Soos die bruidegom bly is oor sy bruid, so sal God bly oor julle wees". Die mees bekende beeld is van die wit klere. Wit is die beeld van volmaakte suiwerheid. Wat jy nie van jouself het nie, kry jy aangetrek. Dit is die suiwer geregtigheid van Christus wat jou omwikkel, sodat jy vir God se aangesig wit mag lyk. Aan die slot van Openbaring hoor ons hoe oor die fees wat kom, vertel word. Van God se kinders, die bruid, word vertel: "aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink linne, want (sê die verklaring van die Here) die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges". Die heiliges: dit is jy wat Christus se heiligheid wil bereik. Die regverdige dade: dit is alles wat jy van Christus mog leer en in sy genade mog doen. Dit is wel dade wat nou gedoen moet word: om straks daarmee beklee te word.

Dié klere lê gereed. Die Bybel is vol van voorbeelde, veral van die Heiland self, wat u net hoef toe te pas. Die Bybel is vol van wysheid wat u net moet aanvaar. Die Gees gee die krag om goed te doen vir mekaar, vir u naaste. Hy vervul u met die inhoud van God se eie Woord! So sal daar nuwe mense opstaan. So het alreeds baie nuwe mense opgestaan. Hulle is dikwels baie meer wêrd as wat hulle self besef! U moet besef dat die mooi werke die plek van u sondes in u lewe moet inneem. Kyk dan ook vir die mooi werke wat ook vir uself vrugte, bewyse van die lewendigheid van die geloof is! As u met ontferming bewoë is oor al die mense wat die Here nie ken nie, as u eintlik baie graag van u geloof sou wil getuig, as u hartseer is oor die ellende in die land, dan is daar alreeds nuwe dinge. Dit is dinge wat uit die geloof in God se pragtige wil vir die wêreld gebore is.

Onthou een ding veral: die nuwe mens waaroor ons in die Bybel gelees het, moet deur God self geskep word. "Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword" (2 Kor. 5:17). En" u is in Christus Jesus geskep om goeie werke te doen" (Ef. 2:10). Daar is die groot, verbasende werk van God waar mense uit die geloof lewe: waar liefde, geduld en wysheid gevind word. Waar moed is om teen onreg en ongeloof te protesteer. Waar troos en ontferming gevind word, is God besig iets te skep wat nog altyd nuut is in 'n wêreld en 'n land vol hardheid en materialisme. Daar is baie bekering nodig, voordat 'n nuwe mensheid sigbaar word, voordat die koninkryk homself begin wys. Dit is nodig: die wedergeboorte waaroor ons belydenis sê "dit is die nuwe skepping, die opwekking uit die dood en die lewendmaking, waarvan die Skrif so heerlik spreek, wat God sonder ons in ons werk" (DL III/IV 12). En: die krag van die bekering wat God werk, is "nie minder of geringer as die skepping of as die opwekking van die dooies nie". Die opwekking uit die dood: dit begin hier op aarde alreeds. Dit sal voltooi word as heeltemal nuwe mense uit die graf opstaan. Dit sal u toekoms wees, as u nou alreeds wil opstaan: voor God, in die wêreld, vir u naaste.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)