Die waaragtige bekering van die Christen

Predikant: 
Ds RH Bremmer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
HK Sondag 33
Preek Inhoud: 

Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

In Handdelinge 16 lees ons die geskiedenis van twee treffende bekerings. Die eerste een is van Lidia wat met pers wolmateriaal handel gedrywe het. Die tweede is van die tronkbewaarder van Filippi, waarvan die naam nie genoem word nie.

Lukas het egter sy bekering uitvoerig beskrywe. Al twee het hulle tot God bekeer en is gedoop. En tog, ... wat 'n verskil in die weg van hierdie mense tot hul bekering. Ons weet hoe dit met Lidia verloop het. Lukas skryf in vers 14: "Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak" Sy het met haar hart na die prediking van Paulus geluister en tot geloof in Christus gekom en haar tot God bekeer.

By die tronkbewaarder het dit totaal anders verloop. Daar was 'n aardbewing wat die tronkdeur oop en die boeie van die gevangenes losgemaak het. Paulus kon daarna die tronkbewaarder, op die laaste oomblik, van selfmoord weerhou, deur te se dat alle gevangenes nog daar was. Die tronkbewaarder het toe vir Paulus hulle gevra wat hy moet doen om gered te word. Hulle het geantwoord: "Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin. " Hulle het toe die woord van die Here aan Hom en aan al die mense in sy huis verkondig. Hy en al sy mense is daar en dan gedoop.

Al twee het hulle tot God bekeer en het hulle laat doop. Dis die ooreenkoms. Maar by Lidia het dit rustig in die geleidelike weg, van gehoor gee aan die evangelie prediking, tot bekering gelei. Terwyl die tronkbewaarder die trauma van 'n aardbewing moes deurmaak voordat hy heilbegerig om die evangelie gevra het. Was die bekeringsgeskiedenis vir hierdie beide mense nou klaar verby? Glad nie, hulle het hul laat doop wat hulle juis opgeroep het om hulle steeds weer te bekeer. Lidia van die joodse lewe en die tronkbewaarder van die heidense leefwyse. God eis van ons dat ons heel ons lewe van die sonde afkeer, en ons tot God en die lewe in sy diens bekeer.

Dis nou ook waaroor hierdie sondag 33 spreek. Dit gaan hier om die ware bekering van die mens. Daarby moet op een ding gelet word: die bekering van die mens word in die deel van die dankbaarheid behandel. Ons bekering is dankbaarheids-werk vir die verlossing wat ons, deur die geloof in Christus, ontvang het. Dit word ook in hierdie sondag gevind, waarin beskrywe word wat ons van die bekering bely. So wil ons die Woord, oor hierdie belangrike onderdeel van die christelike lewe in dankbaarheid, bedien. Ons spreek oor:

DIE WAARAGTIGE BEKERING VAN DIE CHRISTEN

Daarby let ons op:

  1. 'n verrassende verklaring;
  2. die radikale eis;
  3. die heerlike vrug van bekering.

I Iemand het gese: Die woord bekering is vir my so 'n ouderwets woord, sal die moderne mens dit wel verstaan? Dink aan evangelisasie, waarin mense tot bekering opgeroep word. Kom dit by die mense uit? Begryp hulle wat bedoel word as gese word julle moet julle tot God bekeer? Sal 'n buitekerklik mens regtig nie verstaan dat bekeren, omkeer beteken, 'n andere rigting aan jou lewe gee nie? Want dit is duidelik die betekenis wat die Bybel daaraan gee.

Veral in die Ou-Testament het die profete 'n hebreeus woord gebruik wat gewoon die betekenis, van omkeer, het. Soos Jesaja in hoofstuk 55: 6 en 7 Israel tot bekering oproep: "Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is. Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer. "

Luister ook na die profeet Joel in hoofstuk 2: 12 en 13: "Maar ook nou se die Here: Kom met julle hele hart terug na My toe, vas huil en treur! Skeur julle harte, en nie julle klere nie. Kom terug na die Here julle God toe. " Hoor ons hoe dit volgens hierdie twee tekste by bekering op twee dinge aankom? In die eerste plek word die rigting van ons lewe daardeur bepaal. Jesaja roep op om die verkeerde pad te laat staan en na die Here terug te keer. Maar ook ons hart moet verander, hom van die verkeerde losskeur, en tot God bekeer.

Dis opmerklik dat die Nuwe-Testament in die oorspronklike grieks twee woorde vir bekering het. In Matt. 3: 2 het Johannes die Doper gese: "Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom" Hier het die woord die betekenis van die radikale verandering van gesindheid. Die hoorders se gedagtewereld moet totaal verander. Maar as Paulus in Listra die evangelie verkondig se hy: "Ons bring vir julle die goeie boodskap dat julle hierdie sinlose gode moet laat staan en julle tot die lewende God bekeer. Dit is Hy wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het. " (Hand. 14: 15) Dan word 'n woord gebruik wat van rigting verander beteken. Hulle het tot daardie dag toe agter afgode aangeloop. Dit moet hulle laat staan en in die rigting van die Here begin loop.

In die inleiding het ons daarop gewys dat daar 'n geleidelike bekeringsweg, soos die van Lidia is, maar dat daar ook 'n skokmatige weg kan wees soos dit met die tronkbewaarder gebeur het. Daarom mag ons nie se dat die bekering skokmatig moet verloop, sodat jy dag en uur van jou bekering moet kan aanwys nie.

Onlangs het 'n opregte en hartlike christen my besoek en oor sy moeite met die bekering gepraat. Toe hy voor die aangesig van God in die midde van die gemeente sy geloof bely het, het sy moeder daarna vir hom gese: "Belydenis van geloof afle is op homself nie voldoende nie jy moet ook bekeer word om nagmaal te kan vier. " Sy moeite was dat hy tot nou toe nog nie bekeer was nie. Hy het bedoel, dat hy die bekering nie met dag en uur, soos die tronkbewaarder van Filippi, kon aanwys nie.

Sy moeder het natuurlik gelyk gehad, toe sy gese het dat 'n mens hom tot God moet bekeer. Ons het gehoor hoe die profete ons dit al geleer het. Die fout was egter die gedagte dat dit skokmatig moet verloop. Ons wil nie se dat dit nie kan gebeur nie, die tronkbewaarder is 'n bewys dat dit wel gebeur. God kan met 'n mens 'n wonderlike pad bewandel.

Dink maar aan koning Manasse van Juda die seun van die vrome koning Hiskia. Manasse het die hoogtes wat deur Hiskia verwoes is weer opgebou, altare vir Baals opgerig, gewyde pale gemaak, in die voorhowe van die huis van die Here altare vir al die hemelligame gebou en hom daarvoor gebuig en hulle gedien. Ja hy het selfs sy eie seuns as offer verbrand. Die Here het hom toe in die hande van die koning van Babel oorgegee. Toe dit met hom so sleg gaan, het hy die Here sy God om genade gesmeek, groot berou getoon en tot die God van sy vaders gebid. Die Here was hom genadig, het sy smeekbede verhoor en hom na Jerusalem laat terugkom. Toe het Manasse geweet dat die Here God is. Manasse het hom bekeer en die pad van die Here gaan loop. Die altaar van die Here herstel, die vreemde gode en altare verwyder en vir Juda gese dat hulle die Here die God van Israel moet dien. Ons kan dit in 2 Kron. 33 lees.

Gemeente, dieselfde lees ons van die apostel Paulus wat die vermoording van Stefanus goedgekeur het. Hy het die gemeente verwoes en van die hoepriester briewe aan die sinagoges in Damaskus gevra om daar die gemeente van God ook te vervolg. Toe Paulus naby Damaskus kom omstraal hom skielik 'n lig van die hemel af en hoor hy 'n stem wat vir hom se: Saul, Saul, waarom vervolg jy my? En hy se: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. (Hand. 9: 3-5) Van daardie tyd af het Paulus van nommer 1 kerkvervolger na nommer 1 kerkbouer verander. 'n Wonderlike omkering! Dis voorbeelde van 'n skielike bekering. So kan God met 'n mens handel.

Dit wil egter nie se dat dit die enigste manier is waarop 'n mens tot God bekeer word nie. Langs bogenoemde skokmatige bekerings is daar ook ander voorbeelde te noem. Dink aan Koning Hiskia, die Vader van Manasse, hy het koning geword toe hy vyfentwintig jaar oud was en sy eerste daad was om die deure van die huis van die Here weer oop te maak. Hy was duidelik 'n koning wat van sy jeug af die Here gevrees het. Dink ook aan Timoteus waarvan Paulus skrywe dat hy van kleins-af die heilige Skrifte ken wat kan wys maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. (2 Tim. 3: 15)

Daar is nog 'n misverstand wat telkens vorentoe kom as daar oor die waaragtige bekering van die mens gespreek word. Baie christene meen dat die bekering die eksklusiewe begin van die christen wees is. Dit word veral gevind by hulle wat veel waarde aan die "ou skrywers" uit die vorige eeu heg. Hierdie "stigtelike skrywers" uit die vorige eeu het daardie opvatting uitgedra. Die oorsaak is: die oordrewe betekenis wat aan 'n skokmatige bekering geheg word.

Hulle leer: Deur die bekering word die mens uit die geestelike dood, in die lewe met God oorgesit. Hulle sien die bekering as die poort tot die verlossing. Maar het ons opgelet in watter deel van die kategismus oor die ware bekering gespreek word? Met sondag 33 is ons nie meer in die deel van die verlossing nie, maar in die deel van die dankbaarheid wat met sondag 32 al begin het! Daardie laaste ding wat ons moet weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe, naamlik; hoe ek God vir so, n verlossing dankbaar moet wees.

Dit beteken dat ons bekering dankbaarheids-werk is! Daarop moet ons dan ook die volle nadruk laat val. Die noodsaak van bekering word nie van iemand gevra wat nog geen christen is nie. Sekerlik nie. Want in sondag 12 het ons al bely dat ons deur die geloof 'n lidmaat van Christus is en aan sy salwing deel het. In sondag 23 het ons bely dat ons in Christus voor God geregverdig en 'n erfgenaam van die ewige lewe is. Dit mag geen moment vergeet word nie. Hier, in sondag 33, word nie die vraag gevra: Hoe word ek deur my te bekeer 'n christen nie. Nee ons gaan hier bely wat God in die bekering van ons as christene vra.

Dis verrassend wat die kategismus ons leer: Ons staan, as christen, as lidmaat van Christus, voor die vraag: Wat is dit wat God in die waaragtige bekering tot Hom van ons eis? Dit is die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens. Verrassend gaan die kategismus nie dogmaties definieer wat bekering is nie. Nee die bekering word ons voorgehou in twee dele soos die Skrif daaroor spreek. Die eerste deel is die afsterwing van die ou mens en as tweede deel die opstanding van die nuwe mens.

Met hierdie twee dele is dit net so gestel as met die drie dinge wat in sondag 1 genoem word. Daar het ons eers bely: Dat die, met liggaam en siel aan ons getroue saligmaker Jesus Christus toebehoor, ons enigste troos in lewe en sterwe is. Toe het ons op die vraag: wat ons nodig het om te weet, sodat ons in hierdie troos salig kan lewe en sterwe geantwoord: Drie dinge, naamlik: ellendekennis, verlossing, en dankbaarheid. Daarmee het die kategismus virseker geen drie periodes in ons christenwees bedoel nie. Nee, dis drie aspekte, gesigspunte, van ons enigste troos. So moet ons ook antwoord 88 sien, die twee dele is twee aspekte, gesigspunte, van ons bekering.

Ons het die antwoord verrassend genoem. Dit help ons naamlik, om ons christen wees in die regte skriftuurlike lig te sien. Partymaal kom ons met ons christen wees in die moeilikheid. Ons weet van onsself dat ons die Here lief het, en dat ons van harte Hom wil dien en volg. Dis vir ons 'n vreugde om kerk toe te gaan en ons kragte vir 'n christen lewe in te gooi. Maar tegelyk kan ons sondes ons lelik pla. Met alle mag stry ons teen die sondes en tog val ons telkens weer in die sonde.

Veral ons jong mense kan partymaal met die mag van die hartstogte worstel. Hulle kan in die jonge lewe so fel opvlam. Daarby is hulle partymaal skaam oor hul omgang met hulle wat die Here nie vrees nie. Daar waar hulle van hul Heiland moes getuig het hulle stil gebly. Kortliks almal van ons worstel daarmee dat ons in ons christelike lewe te kortskiet. Weet ons hoe dit kom? Die oorsaak moet ons daarin soek dat ons met hierdie moeites worstel buite ons Heiland, buite die werk wat Christus volbring het, om.

Die Skrif wys ons in Rom. 6 'n ander pad. Die gemeente van Rome het met dieselfde moeites geworstel Daar was jode en heidene wat hulle tot Christus bekeer het, maar daar het nog so baie aan hul lewe as christen ontbreek. Dan verwys Paulus sy broeders en susters in Rome na hul doop. In vers 3 vra hy vir hulle: " Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die heerlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so 'n nuwe lewe kan lei. "

Is dit geen kragtige verwysing na ons doop nie? Die apostel se: Julle sukkel met julle christelike lewe, die ou mens wat so baie pla. Sien tog jul doop raak. Toe julle gedoop is is julle saam met Christus begrawe. Dit wil se: by julle doop is julle in die doopwater ondergegaan, soos Christus in die dood in die graf ondergegaan het. Christus het dit in ons plek gedoen. Daarby het Hy ons sondes met hom saam in die dood en die graf geneem. Hy het ook tot die nuwe lewe opgestaan, en ons sondes in die dood en graf agtergelaat.

Ja deur die majesteit van die Vader is Christus tot die nuwe lewe opgewek. So is ons nou ook in Hom tot 'n nuwe lewe opgewek. Nou moet ons die konklusie wat Paulus vanaf vers 11 trek raaksien: "Julle moet dus altyd onthou dat ook julle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is. " Nogmaals, is dit nie verrassend nie? Maak ons in ons bekering in ons christelike lewe, nie veel te weinig van ons doop gebruik nie?

Ons jong mense moet hul doop gebruik. Daarin het hulle 'n kragtig houvas, in hul stryd teen die sonde en die duiwelse aanvegtinge. Ons as oueres natuurlik nie minder nie. Deur ons doop is ons onlosmaaklik aan ons Heiland verbind. Vanuit Hom moet ons oor ons bekering nadink en spreek. Die afsterwing van die sonde en die opstaan tot die nuwe lewe word deur Paulus in Rom. 6, in Christus en in ons in Christus gedoop wees gekonsentreer. Sonder 'n lewend en opreg geloof in Christus kom daar van die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens niks nie. Dan bly ons op onsself sien en probeer in eie krag die sondes te oorwin.

II Nou moet ons daarop let watter radikale eis God vir ons in die bekering stel. Die eis kom in die antwoorde 89 en 90 na ons toe, as daar oor die oue en nuwe mens gespreek word. Dit is eg Bybelse terme en uitdrukkings. As die Skrif oor die ou mens praat word aan Adam, die eerste mens gedink.

Deur Adam se val in sonde het hy, in die mees konkrete sin van die woord, ou mens geword. Ons almal het hy daarin saamgesleep. Sy bose krag werk in ons almal deur. Ons is ou mense vir sover die kragte van dood en verderf uit Adam in ons deurwerk. Tegelyk is ons egter ook nuwe mense. In die eerste plek is die nuwe mens ons Heiland Jesus Christus.

Jesus Christus is as die tweede Adam glansend nuut. In Hom mag ook ons glansend nuut wees. Dit gaan in die kategismus nie oor twee afsonderlike dele van ons mens wees nie. Die teologie van Abraham Kuyper het veel misverstand laat ontstaan. Hy het dit so voorgestel dat deur die wedergeboorte 'n nuwe lewensbeginsel in ons ingeplant word. Die nuwe beginsel sou hom dan langsaam aan ontwikkel. Die nuwe mens word dan steeds sterker en die ou mens steeds swakker.

Wanneer die verhouding van ou en nuwe mens so gesien word kom ons in baie moeiikhede. Ons sou dan uit 'n heilig wedergebore deel en 'n onheilig onwedergebore deel bestaan. Wie is nou vir die sondes wat ons doen verantwoordelik? Onsself of ons onwedergebore deel? Daar is christene wat hulle oor hul sondes vir God maklik verontskuldig. Die sondes is werke van die ou mens hul ou Adam word dan gese. Pleks dat saam met Dawid bely word: "Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in U oe. " Wat is die betekenis van Christus in my lewe as die goeie werke uit my wedergebore deel sou voortkom. Waarom sou ek dan nog Christus aanroep as ek in die kern tog al goed is?

Gemeente, ons self staan vir wat ons verkeerd doen verantwoordelik. Ons sondes moet ons self voor die aangesig van God bely. Met ons skuld en al ons tekortkomings mag ons tot ons Heiland ons toevlug neem. Alleen so kan ons die diepgang en radikaliteit van die antwoorde 89 en 90 verstaan. Wat is die afsterwing van die ou mens? Dit is 'n hartelike berou daaroor dat ons God deur ons sondes vertoorn het, sodat ons dit nou hoe langer hoe meer haat en ontvlug. Daarmee word tot die hart van die saak deur gedring. Is ons werklik oor ons sondes bedroef?

Haat en ontvlug ons die sondes? Dit gaan nie om die uitwendige werke nie, om 'n netjiese en fatsoenlike lewe nie. Dit gaan daarom wat ons God met ons sondes aandoen. Ons was weer egoisties, weer het ons in die roes van sondes geval, ons was jaloers, hebsugtig, leuenagtig. Dit gaan nie daarom dat ons ons wilde hare verloor en ons streke afleer nie. Dis opregte droefheid wat die Here van ons eis, die sonde kragtig haat en daarvan wegvlug. So word ons deur die kategismus ontmasker. Alle huigelary moet aan die lig gebring word. Paulus se in Ef. 4: 22 dat ons die ou mens moet afle, soos ons 'n mantel of kombers afle. Want die ou mens gaan deur begeerlikhede en verleiding te gronde.

Net so radikaal as die kategismus die eis van God vir die afle van die ou mens formuleer, word dit vir die opstaan van die nuwe mens gedoen. Dit is 'n hartelike vreugde in God deur Christus en 'n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe. Ook by die opstanding van die nuwe mens wil die kategismus die hart inskakel, in die hartlike vreugde in God deur Christus. Jong mense mag regtig bly wees as hulle vir Christus gekies het.

Om saam met die kategismus die opstanding van die nuwe mens te bely is 'n opwekkende besigheid. Lus en liefde om volgens die wil van God te gaan lewe. Dit kan nie al sugtende met 'n somber gesig gedoen word nie, want as kind van God word dit heerlik gevind om die Here te dien. Ja ons kategismus is nie sommerso te vrede nie. Dit gaan hier om die radikale eis van God in ons bekering. Paulus se in Ef. 4: 24 vir ons: en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.

So dring ons met die kategismus tot agter ons blinkkant van fatsoen deur wat ons aan die wereld voorhou. Daar staan ons voor die vraag: Blom in ons hart regtig die vreugde oor die in Christus verlos wees? Is dit ons lus en liefde om in goeie werke voor die aangesig van God te lewe

III Ons het nou by die laaste vraag en antwoord van sondag 33 gekom wat by antwoord 90 aansluit. Want daar word gevra: Wat is goeie werke? Die goeie werke waarin ons met lus en liefde mag lewe? Wel gemeente, hulle is die heerlike vrug van ons ware bekering tot God. Hulle word uit 'n waar geloof, volgens die wet van God tot sy eer gedoen. Skerp antiteties word daaraan toegevoeg: en nie die wat op ons goeddunke of op oorgelewerde gebruike van mense gegrond is nie. Hier neem ons saam met die kategismus teenoor rome met sy uitwendige goeie werke stelling in. Soos klooster-askese, 'n daagliks voorgeskrewe aantal gebede bid, bedevaartstogte, aflate koop, versterwing en so meer.

Met skerp insig is hier na 1 Sam. 15 verwys: Waar koning Saul deur Samuel bestraf word. Die opdrag van God vir koning Saul was: Tref die Amalekiete met die banvloek en veg tot hulle vernietig is. Saul het dit nie gedoen nie, maar die vee uitgespaar om aan die Here te offer. Luister nou wat Samuel daarvan se: Gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme. Die offer van Saul was beslis nie volgens die wet van God en tot sy eer nie. Die eiemagtige goeie werke van Saul het die einde van sy teokraties koningskap beteken.

Daar word ook nog na Jes 29: 13 verwys: "Die Here het gese: Hierdie volk is naby My met die mond, hulle eer My met wat hulle se, maar hul hart is ver van My af, hulle dien My soos mense dit wil he, nie soos Ek wil nie. " Daarom moet die profeet die oordeel oor die volk verkondig.

Werklik goeie werke vir God, vrugte van waaragtige bekering word spontaan uit geloof tot eer van God gedoen. Die werke word so spontaan gedoen dat onsself nie eens weet dat ons hulle doen nie. Soos Mat 25: 37-40 se: "Dan sal die wat die wil van God gedoen het, Hom vra: Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien en U gehuisves of sonder klere, en vir U klere gegee? Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek? En die Koning sal hulle antwoord: Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen. "

Gemeente ons is Gereformeerde Kerk. Dit wil se: hervorm, vernuwe, tot die diens van God. Dis 'n erenaam, maar wat ook groot verpligtings ople. In openbaring 2: 5 en 6 se Christus vir die gemeente van Efese: "Maar Ek het dit teen julle: julle het my nie meer so lief as in die begin nie. Dink daaraan hoever julle al agteruit-gegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het. Anders, as julle julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal julle lamp van sy plek af wegvat. " Gemeente laat dit van ons nie gese kan word nie. Maar laat ons ons elke dag van ons lewe tot die Here bekeer. Dan sal hierdie verrassende sondag in die radikale eis tot bekering by ons tot 'n heerlike vrug word.

Amen.

Liturgie: 

Vertaalde preek van Dr. R H Bremmer oor sondag 33 H. K.
Lees: Romeine 6: 1 - 14
Teks: Sondag 33 H. K.
Sing: Ps. 66: 1, 8, 9
na wet Ps 65: 2
na belydenis Sb. 50: 4 en 5
Ps. 56: 1, 3, 4
Ps. 119: 42
Ps. 25: 2 en 6