Die Heilige Gees vernuwe ons tot die ewebeeld van Christus

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 32
Preek Inhoud: 

Voor diens: Ps 24: 1-5
Ps 108: 1, 2
Ps 60: 1, 2
Ps 84: 3, 4, 6
Skb 30: 1-6
Lees: Filip 1: 27-2: 18
Teks: Sondag 32 HK

Brs en srs, sns en dgtrs,

Sondag 32 is die kategismus sondag wat die noodsaak van die doen van goeie werke aan die orde stel.

Goeie werke. Vir baie van ons het dit dink ek die klank van heel spesiale dade. By voorbeeld 'n besondere daad van selfopoffering. Dit lyk vir ons na 'n goeie werk.

So het ook die ryk jongman gedink toe hy by die Here Jesus kom en vra: Goeie Meester watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan he?

Hy wil iets spesiaals presteer. 'n Goeie werk doen.

Gemeente, oor hierdie tipe goeie werk praat sondag 32 nie.

Die Here soek nie nou en dan groot dade van opofferings van ons kant, wat ons as goeie werke op ons debiet kan noteer nie.

Nee, al wat die Here wil he is dat ons ons gewone lewe moet heilig tot sy eer.

Hy vra van ons 'n lewe waaruit dankbaarheid straal. Hy soek ons eerlike erkenning van skuld aan ons sondes. En 'n opregte vraag om genade.

Want uit so'n lewe ontvang God lof.

Dus as ons weer vra oor watter goeie werke gaan dit in hierdie Sondag, dan is die antwoord: Dit gaan oor die heel gewone lewe van 'n kind van God wat leef in vertroue op sy hemelse Vader.

Dit is die grootste wat daar is.

God word geeer met 'n menselewe waarin Hy en Sy diens in die middelpunt staan.

Maar ons moet wel bedink, om mense sover te kry dat hulle hul aandag van hulself en hul eie belange gaan rig op Jesus Christus, daarvoor is wel 'n wonder nodig. 'n Wonder van die Heilige Gees.

Daaroor gaan dit in vanoggend se preek.

Ons tema is:

Die Heilige Gees vernuwe ons tot die ewebeeld van Christus

  1. So ontvang God lof
  2. So vat ons moed
  3. So word ons naaste geroep

In verlede week se kategismus preek het ek gese dat sommige mense die neiging het om op die vraag waaroor dit gaan in die geloof iets te antwoord soos: dat ek later in die hemel kom.

Daarvan het ek verder veronderstel dat dit 'n ou Roomse suurdesem is.

Ek vrees dat hierdie suurdesem ook onder ons nog lank nie uitgesterf het nie: Ons verlossing beteken dat ek later in die hemel kom.

Gemeente, dit is wel deel van die boodskap van die Bybel, maar onthou goed, dit is slegs 'n deel. En as jy daarop sou konsentreer dan verval jy tot 'n geweldige versmalling van die bybelse boodskap. Want stel dit is die punt waaroor dit gaanin die evangelie, dan begin mense onmiddellik redeneer, hoever kan ek gaan sonder om my latere posisie in die hemel in gevaar te bring. Broers en susters, laat ek dit vir u kan se: So'n gedagte is niks minder as dodelik vir die christelike lewe!

Want dan het jy die werk van Christus middedeur gesny! Jy het net die helfte van die boodskap opgevang en as jy daarmee weghardloop verloor jy die hele boodskap.

Die boodskap van sondag 32 is nou: Christus verlos ons nie net nie, maar Hy vernuwe ons ook!

Op Golgota het die groot werk van ons verlossing plaasgevind. Daar is vir ons die ewige lewe verdien.

Maar daarmee is Christus nie klaar nie. Hy is nie tevrede voor hy ook ons lewe hier en nou kan vernuwe nie.

En dit is nou waar die Heilige Gees inkom. Die Heilige Gees is die Gees van Christus. Die Gees het maar een doel: die werk van Christus moet afgemaak word. Toe deur die sonde van die mens God nie meer aan sy eer gekom het nie, het Christus gekom om mense te bevry uit die mag van die vyand van God. Maar nou moet dit ook 'n werklikheid word in die lewe van hulle vir wie Christus sy lewe gegee het.

En wat doen dan die Gees?

Sondag 32 noem dit so: Hy vernuwe ons na die beeld van Christus.

As ons dit heel eenvoudig se, dan beteken dit dat die Heilige Gees so met ons begin werk, dat ons op die Here Jesus begin lyk.

En hoe is dit dan? Wel dit kan ons in die Bybel lees hoe ons dan moet optree. Ons kan die evangelieverhale oor en oor lees om te sien hoe die Here Jesus in die verskillende situasies opgetree het. En daaruit sou ons verskriklik baie kon leer.

Maar kom ons doen dit 'n bietjie anders. Ons kyk na die prentjie van Paulus van die Here Jesus teken. Ons het daarvan klaar gelees in Filippense 2.

Ons kyk nou na vers 3.

'Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoer ag as homself. '

Vra jouself net af, hoe besig is jy eintlik met ydele eer? Hoe belangrik is dit vir jou dat mense na jou opkyk omdat jy so'n goeie maatskaplike posisie het?

Hoeveel waarde het dit vir jou, dat jy so'n duur motor kan bekostig? Of dat jou huis in 'n goeie buurt staan?

Ydele eer broers, want regtig daardie goed kan van jou nie 'n gelukkige mens maak nie. Ook al het jy altyd so gedink toe jy daarvoor so hard gewerk het.

Ag 'n ander hoer as jouself, dit is christelike nederigheid.

As iemand ons aanspreek op ons verkeerde dinge dan is ons al te haastig om heftig in die verdediging te gaan. Wil u weet wat ware nederigheid is?

Wel dit is so: Se nou dat iemand jou op jou tekortkomings wys dan se jy: Jy is reg broer, ek is verkeerd daar maar dit is nog maar net wat jy kan sien. Die binnekant lyk nog erger.

'Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien, maar elkeen ook na die ander s'n. '

Om na die ander se belange te kyk is niemand van ons aangebore nie. Inteendeel. Daar is heel wat bekering nodig om die belange van die ander in ons programma op te neem. Ons agende is al so vol.

Wel gemeente dit is oor hierdie sake waarom dit gaan by die vernuwing tot die beeld van Christus.

Wie was totaal los van eiebelang en het uitsluitlik geleef vir die belange van ander mense?

Wie is die toonbeeld van nederigheid?

Wie het nooit een keer ydele eer gesoek nie?

Hier kan ons maar een Naam invul. Die Naam van Jesus Christus.

Daarna verwys Paulus dan ook. Hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.

Let op die woord gesindheid. 'n goeie werk is nie 'n saak van nou en dan 'n uitstaande daad nie, maar 'n kwessie van gesindheid.

Die gesindheid van Jesus Christus. Hy het alles opgegee om diensbaar te wees. Aan mense en aan God. Hy het Hom tot in die dood verneder. Ooit eerder so'n nederigheid gesien?

Let goed daarop, want so wil die Heilige Gees julle ook maak. Ewebeeld van Christus. Dit is nie iets roemryks nie. Voorlopig in elk geval nie. Dit beteken net 'n kruis op jou neem. Dit beteken jouself en jou eie ambisies verloen.

Dan begin jy op die Here Jesus lyk.

'n Bitter moeilike pad gemeente, maar 'n uiters noodsaaklike pad. En tegelykertyd ook 'n uiters verrykende pad. Want so word jy tot 'n nuwe mens gemaak.

'n Mens vir wie dit 'n vreugde is om te kan lewe. 'n Mens vir wie dit heerlik is om kontak te oefen met die Here deur in die bybel te lees. 'n Mens wat graag iets vir sy naaste wil beteken. 'n Mens wat met blydskap 'n weg van gehoorsaamheid aan die Here begin soek in sy lewe.

Om so'n mens te kan word daarvoor is veel gebed nodig.

Want slegs die Heilige Gees kan van jou so'n mens maak.

En soos ons weet die Heilige Gees word net geskenk aan hulle wat sonder ophou daarom vra.

Immers die Gees soek maar een ding: Hy wil dat God alle eer moet ontvang.

Dus staan Hy by elke mens wat wil leef tot die lof van die Naam van God.

2. So vat ons moed.

Daar moet dus goeie werke in ons lewe wees. Want God moet lof ontvang.

Of soos die Here Jesus se: Deur julle goeie werke word die Vader in die hemel geprys.

Maar nou wil ons ook kyk na die kind van God op aarde. Vind hyself ook baat by die doen van goeie werke?

Ons Kategismus antwoord hiersonder enige aarseling: Sekerlik!

Natuurlik bring die doen van goeie werke baat aan die kind van God.

Immers jy laat jou lewe vernuwe.

Jy laat dit vrymaak van 'n bederwende mag. Die mag van die sonde.

En daardie bevryding bring vir jou vreugde en blydskap. Jy gaan sien weer 'n pad vorentoe. Die sonde kan dit angstig donker maak in ons lewe.

Maar die vernuwing deur die Gees van God bring lig.

Die kategismus noem as eerste vrug van die inspanning wat dit vra om goeie werke te doen, dit: jy begin groei in geloofssekerheid.

Daar is dus 'n verband tussen vrugbaarheid as gelowige en sekerheid in die geloof. En as ons 'n bietjie daaroor dink verstaan ons ook wel hoekom.

Dit is namelik twee sake wat mekaar versterk. Waar jy toeneem in vrugbaarheid, dus waar jy veel vrugte van dankbaarheid voortbring, daar groei jy ook in geloofssekerheid.

En vanuit die groei in geloofssekerheid is daar weer meer enthousiasme om goeie werke te doen.

Hoe meer vrugte hoe meer geloof. Hoe meer geloof, hoe meer vrugte. Dit is 'n mekaar versterkende effek. Kom ons noem dit 'n positiewe spiraal. Met 'n psalmwoord: jy gaan van krag tot krag steeds voort.

Maar waar jy nie in daardie positiewe spiraal inbeweeg nie, kom jy in 'n negatiewe spiraal.

Jy raak slordig in jou gebedslewe, jy bring geen vrugte van dankbaarheid meer voort nie, want die dankbaarheid begin uit jou lewe uitsyfer. En vervolgens gaan die geloof steeds minder vir jou beteken. Jy begin tenslotte regtig betwyfel of die geloof hoegenaamd enige waarde in jou lewe het.

Daar het jy die negatiewe spiraal met sy vernietigende effekte.

Want as jy eenmaal in daardie spiraal inbeweeg is die volgende stap steeds 'n logiese voortgang op die pad waarop jy gaan. Jy raak ontevrede, jy straal onvrede uit, mense begin daarop reageer en jy verloor nog meer van jou vrede ensovoort.

'n Totaal heillose pad. 'n Onvrugbare lewe lei onverbiddelik tot afsterwing van die geloof.

Daarom pas in so'n situasie net een ding: radikale bekering!

Dan moet jy weer begin dink vanuit die logika van die evangelie. Maar onthou, dit is 'n baie snaakse logika.

Hoor maar: Om te gee vir die Here, daarvan word jy beter.

Gee tyd. Tyd vir gebed en meditasie en jy sal agterkom dit beteken 'n groot verryking in jou lewe.

Gee geld. En jy sal sien jou dankbaarheid vir wat jy oorhou neem toe. Sodat jy jou baie ryker voel.

Gee liefde. Straal dit uit na ander mense toe. En jy sal ontdek tot jou verbasing: Dit gaan terugkom, soms van ongedagte kant. Maar jy word net beter daarvan.

Jy kan ook vir die omgekeerde kies. Jy hou jou tyd vir jouself en jou eie ontspanning. En kort voor lank is daar 'n groot armoede in jou geloofslewe.

Hou jou geld vir jou self. En jy raak ontevrede met wat jy het aan materiele voorsieninge.

Deel geen liefde uit na ander mense nie, maar probeer net hulle aandag soek vir jou dinge. En jy sal ontdek jou onverskilligheid ten aansien van die ander het tot gevolg dat ander onverskillig raak teenoor jou.

Om vernuwe te word na die ewebeeld van Christus. Broers en susters, seuns en dogters dit is die beste wat met jou kan gebeur.

Laat jou vernuwe deur sy Heilige Gees!

Bid dat Hy hoe langer hoe meer in jou kom woon. Dan kan jy moed vat.

Want om vervul te raak met die Heilige Gees dit is die grootste rykdom wat 'n mens op aarde ten deel kan val.

En God het daardie gawe vir julle almal belowe.

3. So word ons naaste geroep

Die Kategismus noem nog 'n derde rede hoekom goeie werke gedoen moet word. Dit is terwille van jou naaste.

'Deur ons godvresende lewe moet ons naaste ook vir Christus gewen word. '

Ek wil sommer 'n paar details uitlig.

Ons naaste moet ook vir Christus gewen word. Ook: dit beteken ook hy, bo en behalwe jy. Maar daarmee is duidelik dat jy jou eerste vir Christus moet laat wen. As jy jou nie volledig vir Christus wil laat wen nie, vergeet daarvan dat jy ooit jou naaste vir Hom kan wen. Dit is die eerste wat ek hier wil se.

Die tweede is dit: Ons naaste moet vir Christus gewen word.

Ek dink baie van ons hulpbetoon of liefdebetoon aan ons naaste is eerder 'n poging om die naaste vir onsself te wen as om hom vir Christus te wen.

Mense kan dikwels baie besig wees om die simpatie van hul medemense te soek. Die mense moet van jou hou, hulle moet jou respekteer. Wel as jy dit wil probeer gaan jy 'n uitputtings-slag tegemoet wat tot niks gaan lei nie.

En dit is seker nie wat die Kategismus hier bedoel nie. Jou naaste hoef nie vir jou gewen te word nie, maar vir Jesus Christus.

Deur op jou werk saam te lag oor 'n ongepaste grap wen jy moontlik die simpatie van jou kollegas. Deur op skool saam te praat op 'n manier soos 'n kind van die Here nie behoort te praat nie, wen jy dalk die bewondering van jou medeleerlinge. Maar jy wen niemand vir Jesus Christus nie.

Moet ook nie dink dat jy deur altyd somber te wees en nooit pret te maak nie, ooit iemand vir Christus kan wen nie.

Nee, 'n christen moet blydskap uitstraal.

Hy weet van sy roeping om in die wereld getuie van Christus te wees. En dit is werklik nie so dat hy altyd moet sug onder die gewig van daardie roeping.

O nee, die Heilige Gees is met hom besig. Hy maak van hom 'n nuwe mens. En dit gaan sigbaar word. Definitief. En dit sal ook mense tot Jesus Christus trek. Dit kannie anders nie.

Dit geld vir ons persoonlike lewe. Dit geld ook vir ons lewe as gemeente.

Behoort die gemeente nie te wees soos 'n stad op 'n berg nie? Opvallend en sigbaar vanaf 'n groot afstand?

Wel waarvoor is dit anders as om ander mense tot Jesus Christus te trek?

Jy kan natuurlik kies vir 'n gemeentelike lewe, waarin ons gesellig onder ons is. Die versoeking is groot. Want dit pas ons. Dit is maar die gemaklikste. En as daar groot swakhede onder ons voorkom, dan se ons, nou ja dit gaan maar so. Solank dit nog maar gesellig bly.

Maar die Skrif hou ons ons roeping voor as gemeente.

Kom ons luister nog een keer na Paulus: Filip. 2: 15... sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van 'n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wereld....

Onberispelik temidde van 'n goddelose wereld...

Gemeente, dit is u roeping. Ons het in die wereld nie die naam van ons kerk hoog te hou nie. Ons roeping is hoer. Soos die Naam hoer is. Dit gaan om die eer van die Naam van J.C. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)