Beskadigde en begenadigde mense sal volgens Christus se voorbeeld herstel word

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 32
Preek Inhoud: 

13-09-92

SONDAG 32

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 82 : 1, 2
Gebed
Skriflesing: 2 Petrus 1 : 1-11, NGB Art. 24, p. 1
Sing: Ps. 15 : 1, 2
Kategismus : Sondag 32
Prediking
Sing: Ps. 119 : 13
Geloofsbelydenis
Sing: Ps. 119 : 14
Dankgebed
Kollekte
Sing: Ps. 119 : 19, 20
Seën

Broeders en susters in die Here Jesus Christus,

wanneer daar êrens oudheidkundige opgrawings plaasvind, word dikwels potskerwe ontdek. Die skerwe van 'n pot wat vroeër mooi was, word opnuut georden en gelym. Die pot word in sy ou glorie herstel. Die barste bly egter altyd sigbaar. Daar is stukke wat ontbreek en nooit gevind sal word nie. Op baie plekke in die wêreld word daar by opgrawings van huise ook mosaïekvloere gevind. Dis pragtige inlegwerk van glasskerwe, teëls of marmer: stukkies van verskillende kleure wat saam 'n kleurryke beeld of 'n figuur gevorm het. Gevorm hét, ja, want die mosaïekvloer is yslik beskadig en moet nou sorgvuldig gerestoureer word.

Die mens wat geskep is as beeld van God in die paradys: 'n pragtige, volmaakte beeld, 'n spieël van God se skoonheid. Die mens wat in sonde geval het: die skerwe van 'n verwoeste mosaïek, die spore van 'n verbye skoonheid. Die mens wat verlos word en volgens die beeld van Christus vernuwe: die skerwe word opgepak deur Christus, skoongewas en opnuut volgens God se plan georden. 'n Nuwe mosaïek, 'n nuwe beeld ontstaan. Ons sal dit nie vergeet nie: dat 'n mosaïek eers gemaak kan word, wanneer daar skérwe is. Met dié beeld wil ek die preek orden:

BESKADIGDE EN BEGENADIGDE MENSE SAL VOLGENS CHRISTUS SE VOORBEELD HERSTEL WORD

Ons ondersoek

  1. die spieël,
  2. die mosaïek
  3. die skerwe.

1. DIE SPIEËL WAT GEBREEK HET

Vroeër was die mens (soos ons met die bekende woorde sê) die beeld van God. Wat beteken dit? Wanneer jy die mens sien, sien jy iets van God! 'n Beeld, ja, 'n spieëlbeeld. Gelykenis, sê Gen. 1. Dié spieël het by die sondeval gebreek. Mense weerspieël nie meer God se liefde en goedheid, sy regverdigheid en wysheid meer.

Dit is hoe die begin van die Kategismus oor ons praat. God het die mens goed en na sy ewebeeld geskep, maar die mens het dié liefde verloor. Daar kom ook God se wet ter sprake. "Waaruit ken jy jou ellende? Uit die wet van God". Ons sit altyd 'n bietjie met die probleem: begin die Kategismus nou (in Sondag 32) nog 'n keer oor ons swakheid? Moet altyd weer opnuut die neiging tot die kwade bespreek word? Kyk, die Gereformeerde teologie sê dit so: daar is drie wyses waarop God se wet in die wêreld funksioneer. Een van die drie is: dat die wet ons sondes blootlê. Dit is wat die beeld van 'n spieël oor jou vandag sê. Vroeër het die mens iets van God weerspieël, maar nou sien jy net hoe lyk jy! Midde-in jou gesig staan die sonde geskrywe. So het die wet van die HERE veral in die Ou Testament gewerk. Paulus sê dat die wet 'n tugmeester was om die volk tot die eerste koms van die Here Jesus Christus te bewaar. 'n Tugmeester werk met strawwe, somtyds ook lyfstrawwe om die kinders binne die perke te hou. Dit is wat in Sondag 2 ook gedoen word: jou ellende sien jy in die wet raak, in die wet wat liefde van jou vra. Sonder genade kry ons dit nie reg om God en die medemens enduit lief te hê nie.

Nee, ons gaan nou in die derde deel van die Kategismus nie opnuut vandaaruit oor sonde praat nie. Nou mag ons voluit vanuit die verlossing dink en praat en mekaar bemoedig! Wat moet ons in die wet van die liefde sien? God se aangesig!

Ons vergeet vanaand egter nie dat in Sondag 32 ook v/a 87 staan nie. "Kan dié mense dan nie salig word wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie?". Ons word hier gekonfronteer met goddeloosheid: dit is volharding in sonde teen die 1ste of die 2de tafel van die wet. Dus dwaling in die geloof en sondes in die lewe. Wie v/a 82 nog onthou, hoor die woorde wat daar gebruik is: "Moet dié mense ook aan die nagmaal toegelaat word wat met hulle belydenis en lewe wys dat hulle ongelowig en goddeloos leef?". Daarna het die Sondag 31 oor die kerklike tug gevolg: wat die koninkryk vir die ongelowiges toesluit. Nou opnuut, aan die begin van die mooi gedeelte oor dankbaarheid: wat van die onbekeerdes?

Oor watter mense gaan dit? Gaan dit oor mense binne of buite die gemeente van Christus? Oor altwee. Dit gaan oor elke mens wat nog en wat opnuut in sy sondes vasgesteek is. Oor elke mens wat so leef: binne of buite die gemeente. Elkeen: met publieke of met geheime sondes. Kyk, in die antwoord haal die Kategismus name aan wat jou sommer aan die 10 gebooie herinner. Dit is mense wat met die naam van 'n sonde teen een van die gebooie genoem word. Dit is 'n dief of 'n dronkaard (6de gebod), 'n onkuise of 'n egbreker (7de), 'n lasteraar (9de). So noem ons mekaar nie, want dan sou ons mekaar vloek. So noem die Skrif my, wanneer ek vashaak in 'n sonde. Ek kan dit self lees. En hoor.

Hoekom praat die Kategismus nou so? Pas dit by die blymoedig begin oor dankbaarheid? Ja, want dit gaan ook nog altyd oor bekering. By Sondag 33, volgende week D.V., sal ons verder daaroor praat. Vanaand sê dit vir u: vergeet geen moment van watter sonde jy verlos is in die Here Jesus Christus! Of is jy nie verlos nie? Verhef jouself geen moment bo die mens wat nog onbekeerd lyk nie. As God jou nie vashou nie, is jy sommer ook (dalk nie 'n moordenaar nie, maar wel) 'n onkuise, lasteraar of gierigaard. Of is jy dit?? Kom, laat ons verstaan dat God met jou nie net by vergewing wil bly staan nie. Na vergewing soek Hy ook vernuwing! Soos ons by Petrus hoor: "want hy by wie hierdie dinge (van vernuwing) nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet" (2 Petr. 1:9). Kom ons vergeet nie van die vergewing van ons vorige sondes (die van gister dalk?) nie.

2. DIE MOSAÏEK WAT HERSTEL WORD

Die wet, het ek gesê, word op drie maniere in die Bybel gebruik. By punt 1 het ons gesien: dit werk soos 'n spieël wat jou lelykheid aan die lig bring. Die spieël wat God se beeld moes wys, het gebreek. Kom ons hou die beeld van glasskerwe vas. Want God het in Christus die skerwe van ons lewe opgetel. Op vergewing volg mos: God se plan om jou te vernuwe. Begenadigde mense is ja, beskadigde mense wat herstel moet word. God neem die skerwe van jou lewe in sy hand. Dit is wat v/a 86 wil sê.

Christus wat ons met sy bloed gekoop het, wil ons ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe. Kyk, hier het jy opnuut die woord "ewebeeld". Ons praat nie meer so maklik oor "die mens as die beeld van God, sy Skepper" nie. Daar is teveel skade aan dié beeld. In die wêreld vol skerwe het God egter sy eniggebore Seun gestuur. Die Bybel hoem Hom: "die beeld van die onsigbare God" (Kol. 1:15) en "die afskynsel van sy heerlikheid en die afdruk van sy wese" (Hebr. 1:3). Wil jy weet hoe lyk God? Kyk vir Jesus! Hy is God "geopenbaar in die vlees" (1 Tim. 3:16). Ons het in 2 Petr. 1 gelees: "sy goddelike krag het ons alles wat tot die lewe en godsvrug dien, geskenk, nl. deur die kennis van Hom wat ons geroep het" (vs. 3). Verstaan u nou hoe pragtig dit is dat God beskadigde mense wil vernuwe volgens die beeld van Christus! Hy is die voorbeeld aan die hand waarvan God jou verander. Dit is Hy wat op aarde tussen die mense wou wees, wat liefde gewys en sy offers gebring het. Dit is Hy wat soos 'n kind gehoorsaam aan sy Vader was en soos 'n mens die duiwel weerstaan het.

Die doel? "Sodat ons met ons hele lewe bewys (soos Hy dit met sy hele lewe bewys het) dat nou ook ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons geprys word (soos Jesus die hemelse Vader geprys het). So kan 'n mens, sê Petrus, weer "deelgenoot van die godlike natuur" word. God herstel aan die hand van die skerwe die mosaïek: sy beeld, die mens, die seun van God.

Dit is waar die "goeie werke", die mooi dade van geloof inkom. Kyk vir Petrus se opsomming, die groeiproses: geloof, ywer, deug, kennis, selfbeheersing, volharding (onthou u dit van Jakobus?), godsvrug, broederliefde en naasteliefde (vs. 5-7). Wil jy word soos Christus? Is Hy jou voorbeeld? Bid vir dié geloof deur die Gees. NGB Art. 24 het gesê, en dis gelowiges wat praat: "Ons glo dat hierdie ware geloof in die mens voortgebring word deur die hoor van die Woord (Sd. 31!) en deur die werking van die Heilige Gees, dat die geloof hom wedergebore laat word en tot 'n nuwe mens máák en hom 'n nuwe lewe laat lei, bevry van die verslawing aan die sonde". Dis nie 'n dooie geloof nie, maar dit gaan deur die liefde tot dade oor. Dit is die vrugte.

Nadat Petrus sy opsomming van die geweldige groei in geloof gegee het, sê hy: "want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet" (vs. 9). Dit mag niet gebeur nie! "Beywer julle des te meer om julle roeping en verkiesing vas te maak" (vs. 10). Hoe kan jy jou roeping en verkiesing self vasmaak? Dié "vasmaak" praat van garansie. God gee die garansie van sy beloftes. Jy moet wys dat jy die garansie nie laat afloop nie. Solank as wat jy die geloof vashou, laat God die garansie waarde behou. Dit is wat die Kategismus bedoel met: "uit die vrugte van ons geloof sekerheid kry". Jy sien aan die vrugte: kyk, ek word anders, ek wil soos die Here wees! God se beloftes het krag: selfs in my! Daar groei 'n mosaïek. Ja, ek sien nog altyd die skerwe, in allerlei kleure. Die Here kan egter van 'n beskadigde mens uit genade 'n nuwe beeld bou: volgens die voorbeeld van Jesus.

3. DIE SKERWE WAT BRUIKBAAR IS

Almal weet dat ons op twee maniere oor "die wet" van God die HERE praat. Ons ken eerstens ons ellende uit die heilige wet van God (spieël). Vervolgens moet die dade van ons dankbaarheid, die nuwe lewe volgens die wet van God wees (mosaïek). Dit gaan by die wet van God oor álle mense. Hy beperk Homself nie tot die kerk nie. Daarom sê ons ook: die wet het ook 'n betekenis vir die ongelowige of onbekeerde mens! Dit is die 3de waardevolle betekenis van die wet (wat eintlik aan die ander voorafgaan): voordat dit 'n spieël is om van te skrik of 'n mosaïek wat jou die veelheid van christelike dinge leer, is daar die skerwe. Bloot skerwe van die ou beeld van God. Lelyk, hartseer, stukkend en skerp. En tog nog altyd skerwe van die beeld van God.

Dié element staan nie so in die Kategismus nie: nl. dat die wet van God ook betekenis vir die lewe in die staat, vir die samelewing van christene en ongelowiges het. V/a 87 gee ons egter wel aanleiding om dié gedagte in te bring: oor die mens wat teen God se wet leef. Daardie betekenis vir die burgerlike lewe wil ek by die preke oor die 10 gebooie inbreng. Dit gee ons 'n kans om te sien wat God vir alle mense sê. Dit is belangrik, veral noudat 'n nuwe grondwet besig is om geskryf te word. Wat sê die HERE vir alle mense? Hoe sal die kerk dit profeties vir die mense sê?

Die Gereformeerde etiek sê dan: ja, daar is nog sekere goeie dinge by mense wat sonder God leef. Daardeur beteuel Hy die kwaad van die mense. Hy weerhou hulle in sy goedheid, sodat die kwaad die lewe op aarde nie vernietig nie. Die HERE het, sê die apostel Paulus in Rom. 2:15, "die werke van die wet in die hart van die heidene geskrywe". Geskrywe: ingegrif, sodat hulle gedwing is om tog nog iets goeds te doen. Ek gee 'n voorbeeld. Nie elke egpaar wat ongelowig of onbekeerd is, se huwelik misluk nie; daar is ook daar opregte en onselfsugtige liefde. Daar is nie net mooi gesinne in die kerk nie. God verhoed dat die sonde alles stukkend sal maak. 'n Ongelowige mens kan mooi vir regverdigheid en vir barmhartigheid stry. Nie hulle nie, maar God bewaar die spore van sy goedheid op aarde.

Wat beteken elke afsonderlike gebod van God vir die land, 'n hele volk, vir die samelewing? Wat sê die HERE in sy wet oor die lewe en watter taak het die kerk om profeties die goeie wet van God uit te dra? Ons vra dus elke keer: met watter skerwe skryf God sy wet in die hart van die mense? Ons het begin met Ps. 82: God daag die maghebbers uit om reg te doen. Elke mens is volgens die beeld van God geskep. Want, sê Jakobus, ons mag nie "die mense vervloek wat volgens die beeld van God geskep is" nie (Jak. 3:9). Ja, ek weet, ons Gereformeerde voorouers en voorgangers sê: die mens het die gawes van God almal verloor. En tog bly dit vir elke mens die roeping: om jouself tot God te bekeer, om beeld van God te word.

Die beeld wat Christus van God gegee het, die voorbeeld wat Hy self is: dit is wat die kerk tog altyd mag verkondig. Dié mooi beeld vertel alles van God. Sy wet is sy goeie wil, soos ons tog sself agtergekom het! Daarmee wil God jou lewe mooi maak. Sou ons dit nie enigiemand toewens nie?!

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)