Ons Christelike dankbaarheid

Predikant: 
Ds RH Bremmer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 32
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van Dr. R H Bremmer oor sondag 32 H. K.

Geen halwe Christus nie

Lees: 1 Petrus 3: 1 - 18a
Teks: Sondag 32 H. K.
sing: Ps 34: 1 en 7
na wet Ps 119: 21
na belydenis Ps 134: 1
Ps 116: 1, 3, 5, 7
Ps 103: 1
Ps 86: 6, 8, 9

Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

Weet ons hoe dikwels die woord dankbaar en dankbaarheid in die Bybel gebruik word? Moontlik is daar die gedagte dat dit baie gebruik is.

Waarom anders, sal die woord dankbaarheid, as opskrif bo die derde deel van die kategismus geplaas wees? Tog maak ons dan 'n fout, want in die sin van God dankbaar wees of dankbaarheid bewys, word dit maar net 2 of 3 maal, afkanklik van die gebruikte vertaling en dan nog maar alleen in die Nuwe Testament, gebruik. Die oproep om God te dank word meer dikwels in die Bybel gevind. Tog is hierdie korte en kragtige opskrif, deur die opstellers van die kategismus, bo die derde deel, die sondae 32 tot 52, geplaas!

Die rede is dat daarmee 'n belofte nagekom word wat al in sondag een vir ons gegee is. Daar is mos vir ons vertel dat daar drie dinge vir ons nodig is om te weet, sodat ons in die enigste troos salig kan lewe en sterwe, naamlik: Ons ellende, verlossing en dankbaarheid. Daarin is heel ons christelike lewe vasgele. Ons is uit die ellende waarin die val in Adam ons gebring het, deur Christus verlos. Daar volg dan op: Hoe ek God vir so 'n verlossing dankbaar moet wees. Oor die laaste is dit wat ons nou gaan spreek. Dit gaan oor:

ONS CHRISTELIKE DANKBAARHEID

  1. Word deur Christus in ons gewerk;
  2. Is vir ons en ons naaste van grote betekenis;
  3. Word deur die Skrif ons op die hart gebind.

I Ons kategismus is 'n heerlik boekie, telkens het ons dit raakgesien. Nou kom dit ook weer hier in sondag 32 vorentoe. Wat wil die kategismus nou eintlik, wat wil die leerboek ons op die hart bind? O hoor ek al se: dis mos die enigste troos en dan is die gelyk aan jou kant. Tog is daarmee nie alles gese nie.

Die kategismus wil ook vir ons wys, dat die enigste troos, in drie hoofsake van ons christen wees, na ons toekom. Dit is in die eersteplek in die twaalf artikels van die geloof. Artikel na artikel bely ons daarin wat ons aangaande God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees, glo. Dan volg die tweede hoofsaak: hoe ons God sal dien. Daartoe word ons die tien gebooie van die wet van die Here, voorgehou. Daarmee weet ons nog nie alles nie. Ons moet ook weet, hoe ons tot ons Vader in die hemel sal bid. Daarom word die Onse Vader wat Christus vir ons geleer het, bede na bede vir ons bespreek.

Waarom is die kategismus nou so 'n heerlik boekie? Omdat die drie hoofsake van ons christen wees, vir ons in die omlysting, die raam, van die drie dinge: Ons ellende, ons verlossing. en ons dankbaarheid, gegee word. Die kategismus kom nie sommerso met die hoofsaak van ons christen wees na ons toe nie. Ons word geleer om dit teen die agtergrond van die drie dele van die enigste troos te bely.

Om so te se word die twaalf artikels, die tien gebooie en die onse Vader as drie edelstene in die goue ring van die troos ingevoeg. Die twaalf artikels, saam met die sakramente doop en nagmaal is ons teen die agtergrond van ons ellende en verlossing, verklaar. Nou volg die tien gebooie en die onse Vader wat ons teen die agtergrond van die: saamvatting van die derde deel: Hoe ek God vir so 'n verlossing dankbaar moet wees, leer bely.

Al word die woord dankbaar maar weinig in die Bybel gebruik, saaklik is dit voortdurend aanwesig. Dit het die opstellers van die kategismus nou gebruik om alle misverstande, by die spreek oor die wet uit, te sluit.

Kyk mooi na vraag 86 Daarin neem Ursinus en Olevianus direk op oortuigende wyse teenoor hul roomse teensprekers stelling in. Hulle roomse opponente word deur hulle goed geken. Die roomse se: Die gereformeerdes is ook maar deurmekaar, hulle praat oor die ellende, die dam van ellende waaruit jy gered, moet word. Hulle hou nie op praat oor genade as enigste redding nie.

Hierdie roomse teenspraak word nou in vraag 86 gebruik: Aangesien ons uit ons ellende, sonder enige verdienste van ons kant, alleen uit genade, deur Christus verlos is. Kragtiger kan die heerlike werk van Christus amper nie verwoord word nie. Maar die roomse se vra: waarom moet julle dan nog goeie werke doen?

Het ons raak gesien wat hier op die spel staan, gemeente? Die hele leer van die vrye genade word hier in 'n slegte daglig gestel. Die roomse man se: wat is dit met julle leer van vrye genade as daar dan tog nog goeie werke gedoen moet word? As jy se: jy is klaar verlos, dan kan jy mos maar lewe soos jy graag wil?

Helaas moet ons erken dat die roomse man die vraag met reg kon stel. Want in die reformasie tyd was daar langs die gereformeerdes 'n sekte, die sogenaamde antinomiane, wetwegwerpers, wat beweer het dat christene nie nodig het om die wet te onderhou nie, want Christus het dit mos vir jou gedoen! Dit was geen nuwe dwaling nie, in Rom. 6 het Paulus dit al bestry: "Wat moet ons nou hiervan se? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde daar nog in voort lewe? "

So is dit, dat die vraag van roomse kant, agressief en met 'n verwyt na ons toe kom: Hoe kan julle met die leer van die vrye genade, mense tot goeie werke aanspoor en waaragtige dankbaarheid vra? Hoe kan julle met daardie leer die wetwegwerpers bestry? Kyk nou na antwoord 86, meesterlik word daar die Skrif nagespreek. Die kategismus laat hom nie die probleemstelling van sy teenstanders opdring nie. Nee daar word nou teenoor rome nie 'n aantal argumente opgesom, waarom 'n christen wel goeie werke moet doen nie. daar word ook glad nie na die eis van die tien gebooie verwys nie.

Teenoor die roomse werkheiligheid, wat goeie werke vir bepaalde verdienstelike redes nodig ag, se antwoord 86: "Omdat Christus" en dan volg wat Christus gedoen het. So 'n antwoord word glad nie verwag nie, dis ook onlogies, om as daar gevra word waarom doen jy dit, te verwys na wat 'n ander doen of gedoen het. Maar met hierdie onlogiese antwoord word die vraag, in die lig van die Skrif, onlogies! Want Jesus Christus word weer in die middelpunt geplaas: Omdat Christus ons met sy bloed gekoop en vrygemaak het, word ons ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe.

Ja, die gereformeerde belydenis beweeg hier op 'n smal randjie, een misstap en ons sal in die kloof van die roomse werkheiligheid, of in die afgrond van verwerping van die wet val, laat ons in die sonde bly dat die genade meer mag word! Ons mag egter op die pad van sondag 86 veilig loop. Al dreig daar na beide kante gevare die pad self is betroubaar! Met die belydenis gaan ons veilig daartussen deur, as dit se: Ons is mos van Christus Hy het ons met sy bloed gekoop en vrygemaak.

Hoe pragtig word in hierdie twee woorde: "Gekoop en vrygemaak" die hele deel van die verlossing saamgevat. Die kategismus wil se: Deur Christus gekoop en vrygemaak, ons het nie nodig om dit self te doen nie. Ons het nie nodig, om ons uit die mag van die sonde los te wikkel nie. Ons Heiland het dit klaar vir ons gedoen! Nee, wat ons in die deel van die verlossing bely het, kan rome nie op los skroewe stel nie. Die hemel kan nie deur goeie werke verdien word nie. Dit staan rotsvas!

Aan die anderkant gemeente kan ons ook nie soos die aninomiane se, maar aangaan of daar geen wet van die tien gebooie meer bestaan nie. Want se antwoord 86: nou Christus ons gekoop en vrygemaak het, los Hy ons nie uit nie. Absoluut nie: Hy gaan ons ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe. Hy bly bestendig aan ons deurwerk. In sy hand hou Hy ons vas omklem

Christus het op Golgotha sy bloed vir ons gestort en ons daardeur vrygekoop. Op Paassondag het Hy opgestaan en ons van die mag van dood en duiwel vrygemaak. Dit is die eerste gekoop en vrygemaak, maar daar volg die tweede: Hy het hemel toegegaan en aan die regterhand van God sy plek ingeneem. Vandaar het Hy sy Gees uitgestort. Dit het ook Pinkster geword en deur sy Pinkstergees het Hy ons harte gegryp.

Ons harte aangegryp om ons nuwe mense te maak wat die Here dien. Dink maar aan wat Paulus in Rom. 8: 29 geskryf het: "Die wat Hy lank tevore (dit wil se: van ewigheid af) verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan he van wie Hy die eerste is. "

Gemeente, van die werk en die krag van ons Heiland word deur ons meestal te gering gedink. Ons het 'n lewende Heiland! Voortdurend werk Hy aan ons, ook vandag onder die prediking van die Woord, word ons deur Hom vernuwe. Sien ons die diepte wat in die vernuwe le? Ons vernuwe nie ons self, gaan nie onsself tot 'n ander mens omvorm nie. Ons wat in sonde ontvang en gebore is hoe sou ons dit kan doen? Dis Christus wat dit doen. Dit doen Hy deur die Pinkstergees, uit die krag van die werk wat Hy volbring het.

Ons mag een van die baie broeders en susters van Hom wees, wat aan sy beeld gelykvormig gemaak word. 'n Swak voorbeeld vind ons in die huwelik, 'n man en vrou wat jare lank getroud is, groei na mekaar toe, die manier van praat en gewoontes word van mekaar oorgeneem. Hulle kom steeds nader aan mekaar. Is dit ook tussen ons en ons Heiland nie so nie? As ons uit Christus lewe, elke dag ons toevlug tot sy offer en bloed neem, as sy Gees in ons hart woon en werk, kan dit nie anders nie: ons word aan sy beeld gelykvormig.

Ja, ons gaan sy beeld vertoon! Ons word vergewensgesind. Ons gaan volgens die tien verbonswoorde lewe. Ons gaan saam met die berymde Psalm 119: 17b sing: "Want u wet wat hul verwerp het, in hul agting waardeloos, is die stof van my gesange, op my pelgrimspad my troos. " en met vers 21b "Midde-in die stille nagte staan ek op met lofgeklank om U vir U wyse regte met my ganse hart te dank". Gemeente, nou gaan ons ook verstaan waarom hierdie derde deel van ons kategismus onder die opskrif: "Ons dankbaarheid" bespreek word. Ons is dit nie verskuldig soos in die ou nederlandse en ons afrikaanse kerkboek gese word nie.

Dankbaarheid is beslis geen teenprestasie nie. Somtyds word dit daarvan gemaak. In oorwegend roomse gebiede kan langs die pad kruisbeelde gesien word. Daarop is Christus aan die kruis afgebeeld, met as onderskrif: Dit het Ek vir jou gedoen wat doen jy vir My? So wil die kategismus sekerlik nie dat ons dankbaarheid wys nie. Dis nie so dat Christus vir ons eers 'n prestasie lewer en dat ons daarna ons teenprestasie moet bring nie.

Christus lewer geen halwe werk nie, Hy het sy werk nie gestop nadat Hy sy werk op Golgotha volbring het nie. Christus werk aan ons voort! Wat verder aan ons gedoen word, is baie sorgvuldig in antwoord 86 geformuleer: Dat Christus ons ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe, sodat ons met ons ganse lewe aan God dankbaarheid vir sy weldade sal bewys en Hy deur ons geprys word. Gemeente dis woorde van goud. In hierdie derde deel kom mos die tien gebooie en die Onse Vader aan die orde. Dit word nou in die lig geset van, met ons ganse lewe ons dankbaarheid bewys.

Ons mag die wet van God in my lewe volbring. Dit mag ons uit dankbaarheid doen. Die wet le ons nie onder die dreiging van die sambok nie. Dis nie ons moet dit doen, ons moet dit onderhou, wee jou as jy dit nie onderhou nie. Christus se nie: so en so moet jy bid en wee jou as jy nie aanhoudend so bid nie. Nee, ons mag dit alles doen. Ons mag in ons lewe ons dankbaarheid volgens die wet van God toon. Ons mag in ons gebede vir ons hemelse Vader wys hoe dankbaar ons is. Ons mag telkens weer met ons nood en behoeftes tot Hom kom. Ook in alles van Hom alleen verwag word dankbaarheid bewys.

Weet ons wat dankbaarheid eintlik beteken? Dit is van die woord aandenking afgelei. Iemand wat jy welgedoen het, daar wil jy graag 'n aandenking aan he, sodat jou dit help om hom in dankbaarheid te gedink. Jy het goeie raad in 'n kritiek moment van jou lewe gekry, of iemand het jou gehelp toe ander jou gelos het. Dit sal jy jou lewe lank nie vergeet nie en as die geleentheid hom voordoen sal jy dit bewys ook. So sal dit ook in ons christenlewe wees.

Ja, ons christenlewe is kwesbaar, ons gaan oor hoogtes en deur dieptes. Die duiwel is daar om ons steeds weer op ons swakste punte aan te val. Partykeer is ons, voor die aangesig van ons hemelse Vader, diep skaam. Tog, ons mag dankbaar wees en ons mag die dankbaarheid bewys. Telkens weer wil ek, na die goeie wet van God, terugkeer en sing: "Leuens haat ek; in U wette is my lus en liefde altyd: en die ganse dag deur sing ek lof op u geregtigheid. Vrede is daar, enkel vrede, en dit daal in die gemoed van wie u bevele liefhet, vrede sonder teespoed. " (Ps. 119: 59 berym) So is dit ook in ons gebede, in grote dankbaarheid mag ons om hulp en krag bid. Want ons weet Vader sal ons nie uitlos nie!

Daar is nog een element in die eerste sin van antwoord 86 wat aandag moet kry, naamlik: en Hy deur ons geprys word. Ons mag dit nie oor die hoof sien nie. Dit gaan mos in ons christenlewe van dankbaarheid daarom, dat God geprys word. Ons dankbaarheid sal nie alleen in die daad, maar ook met woorde, tot uitdrukking kom. Dit is somtyds moeiliker as deur dade, 'n blomruiker uit stuur is makliker as om in woorde hartelik te bedank. So is dit om God te prys ook nie altyd maklik nie.

Gemeente as daar onder ons moeite is om woorde van dankbaarheid te vind, roep dan die Psalms tot hulp. Wat 'n lofprysing van God, wat 'n vrymoedige dank uiting kom daarin na ons toe. Neem Psalm 103: "Loof, loof die Heer in wie 'k van harte bly is, ....... laat hoor my siel, die stem van dankgebede, vergeet nooit een van sy weldadighede" Of psalm 118: Loof, loof die Heer met lofgesang...... sy goedheid duur in ewigheid. Ook Psalm 116 nadat die digter van sy uitredding gesing het: "Wat kan 'k die Heer vir al sy guns vergeld? Wat kan 'k Hom bring uit dank vir sy genade? Ek sal Hom prys vir sy verlossingsdade en by die kelk van heil sy Naam vermeld. "

Die teenprestasie word deur die digter as onmoontlik verwerp. Hy sal by die kelk van heil, die beker by die pasga, die Naam van die Here vermeld en Hom prys vir sy verlossingsdade. Die Naam van die Here aanroep, dit is dankbaarheid bewys. Dankbaarheid is geen teenprestasie nie, maar sigbaar maak dat ons Verlosser geen halwe Verlosser is nie. Hy is dit wat ons lewe totaal saligmaak. Nadat Hy ons deur sy bloed gekoop en vrygemaak het, gaan Hy ons ook na sy beeld vernuwe. Ons Heiland doen geen halwe werk nie!

II Ons het nou gesien dat Christus in ons die dankbaarheid werk, dit is vir ons self en vir ons naaste van groot betekenis. Daaroor spreek antwoord 86 as laaste: Dan ook dat elkeen by homself van sy geloof uit die vrugte versekerd kan wees. Oor hierdie sin is daar al baie gestry. Party mense het gese: die kategismus leer: dat ons die sekerheid van ons kind van God wees, van ons uitverkiesing, uit die vrugte van ons geloof kan aflees.

Twyfel jy oor jou kindskap? Ondersoek dan jou lewe of daar vrugte van die geloof gevind word. As hulle daar is, mag jy seker weet dat jy 'n christen, 'n kind van God, is. Andere kerkmense het hulle teen hierdie redenering verset. Hulle het gese die sekerheid vir die kindskap van God kan nooit in iets in die mens self gevind word nie. Dis mos 'n wankele grond die een dag is daar vrugte die ander dag is daar nie vrugte nie. Daar was ook wat gese het: die kategismus het hier 'n fout gemaak. Hulle se: Alleen die beloftes van God kan die vaste grond vir die sekerheid van die kindskap van God wees.

Daar is 'n ou lied wat se: Die vaste grond waarop ek bou, le nie in my nie, maar in God se trou! Daarmee kan ons saamstem, want dit het ons al met sondag 7 bely: 'n Ware geloof is nie alleen 'n gewisse kennis waardeur ek alles vir waaragtig hou wat God aan ons in sy Woord geopenbaar het nie, maar ook 'n vaste vertroue, ..... dat nie alleen aan ander nie, maar ook aan my vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid deur God geskenk is. Hierdie geloofssekerheid word beslis deur antwoord 86 nie teruggeneem nie.

Die sekerheid dat ons kinders van God is, kry ons net deur toevlug tot die beloftes van God te neem en die werk wat ons Heiland vir ons volbring het. God het die beloftes in die doop aan ons beteken en verseel. Dis nou hierdie sekerheid wat in ons lewe menigmaal aangeveg word. Daarin is die duiwel baie aktief. Hy wys dan op ons sondes en swakheid, om dan met die twyfel vraag te kom: is jy met daardie sondes, regtig 'n kind van God? Deur dan aan die beloftes van God vas te hou, is vrug van die geloof.

Soos Christus vir ons in Joh. 15: 5 leer: "Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie". Dit kan ook nie anders nie dis Christus, die Wynstok wat ons vrugte laat dra. Nou se die kategismus hier, wanneer jy vrugte van geloof in jou lewe raaksien, mag dit jou verseker dat jy in Christus en Christus in jou is. Dit verseker nie die kindskap nie, maar dat die weldaad van Christus met 'n gelowige hart aangeneem is. Gryp die beloftes van God, die werk wat Christus volbring het, aan. Verjaag die Satan, om oor die vrugte wat Christus in jou lewe werk, dankbaar te wees. Dis daarin wat die sekerheid van die geloof groei!

Die christelike lewe van dankbaarheid is nie alleen noodsaaklik vir onsself nie, maar ook, se antwoord 86 aan die einde, vir ons naaste: dat deur ons godsalige wandel ons naaste ook vir Christus gewin kan word. Daarby word na 'n merkwaardige teks uit 1 Petrus 3: 1, 2 verwys: "Vrouens, julle moet aan julle mans onderdanig wees. As daar van julle is met mans wat nie die Woord van God glo nie, en die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle jul gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om 'n woord te se nie. "

Hierdie betekenisvolle teks verplaas ons in die eerste christen gemeentes. Daar het vroue tot Christus gekom, maar hul mans het nie gelowig geword nie. Hulle het in hul heidense losbandigheid gebly. Wat wil Petrus dat die vroue sal doen? Moet hulle sonder ophou met hul mans oor die geloof spreek en twisgesprekke voer? Nee, hulle moet, sonder woorde, deur hul voorbeeldige gedrag die mans vir Christus wen.

Dit was partymaal baie moeilik, deurdat die mans in drankmisbruik en ander goddelooshede geleef het. Tog, vrouens aan daardie mans onderdanig wees! In jou lewe laat sien jy is 'n christen, daarvan gaan voortdurend, 'n vir Christus winnende krag uit. Natuurlik gemeente, is georganiseerde evangelisasie belangrik ons durf die betekenis nie onderskat nie. Maar tegelyk gaan daar 'n enorme krag van ons christelike lewenswandel uit. 'n Voortdurende stille krag.

Ons belydenis het beslis nie alleen die oog op ons buitekerklike naaste nie. Daar word ook aan ons eie man, of eie vrou, ons eie kinders gedink. Deur ons christelike lewenswandel word hulle ook voortdurend met ons Heiland gekonfronteer. Ons dink aan die diskussie oor kerkverlating. 'n Ondersoek het uitgewys dat baie van die jeug wat die kerk verlaat dit doen, omdat daar tuis geen christelike lewenswandel was nie. Kerk toe gaan en boekevat het vormediens geword. Daar het geen oortuigende christelike lewe agter die handelinge oorgebly nie.

Gemeente, veronagsaam hierdie waarskuwing nie. Laat ons lewenswandel so wees dat ons kinders nie daardeur van ons Heiland en sy gemeente vervreem raak nie. Ja op ons ouers rus 'n groot verantwoordelikheid. Maar ook in werksverhoudinge van werkgewer en werknemer. Orals, in ons werkplek, in die straat waar ons woon, mag ons deur ons lewenswandel, van Hom getuig wat ons met sy dierbaar bloed gekoop het. Hy is geen halwe saligmaker nie, ook ons lewenswandel wil Hy vernuwe.

III Ons kom nou by die laaste. In die vorige twee punte het ons oor die christelike dankbaarheid gespreek. Hoe ons God vir so 'n verlossing dankbaar moet wees. Maar helaas is daar ook ondankbare christene! Ons kategismus steek dit nie weg nie. In vraag 87 word dit reguit genoem: daar is kerkmense wat in 'n goddeloos en ondankbaar lewe bly voortgaan. Dis treurig en droewig, maar die moet genoem word, daar is 'n skerpe, ontdekkende boodskap ook vir daardie kermense, hulle kan nie behoue word nie. Hulle kan die koninkryk van God nie beerwe nie. Dis geen woord van 'n hel en verdoemenis prediker nie. Geen man wat van ander vra wat hyself nie onderhou nie. Nee antwoord 87 spreek die Skrif na!

Dit gebeur nie dikwels dat die kategismus die Bybel letterlik siteer nie. Dit word net gedoen op punte wat baie bestry word. So is dit hier. Opnuut en weer met groot krag word verkondig, dat die leer van die vrye genade in geen geval die christelike lewe ondermyn of beskadig nie. Die teensprekers word nou met die Bybel in die hand die mond toegemaak. Die Skrif se dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, geldgierige, dronkaard, lasteraar, of rower, of dergelyke die koninkryk van God sal beerwe nie. In die hemel sal geen skurke inkom nie. Wat sal onreine en goddelose mense in die reine en heerlike hemel van God maak?

Hierdie sondag, het ons 'n begin met die deel oor die dankbaarheid gemaak. Die sondae wat kom sal daar oor gebod en gebed gespreek word. Dit alles sal in die stralende lig van die dankbaarheid tot ons kom. Daarby staan baie op die spel het antwoord 87 vir ons geleer. Maar ons moet steeds bedink ons het geen halwe Saligmaker nie. Ons is gekoop en vrygemaak en word deur sy Heilige Gees vernuwe! Daarom te meer 'n ondankbare sal die koninkryk van God nie beerwe nie. Daarop pas net die kragtige oproep van Paulus in kol. 3: 15: "Wees altyd dankbaar!"

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)