Die Here Jesus Christus maak ons deur Sy Heilige Gees tot volwaardige burgers van Sy koninkryk

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 32
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 32 H.K.

LITURGIE:
L. Koloss. 1: 1-14 & Koloss. 3: 1-17
Ps. 149: 1, 2
Ps. 148: 5
Ps. 145: 1-4, 12
SB. 14
Ps. 32: 4, 6

Broeders en susters,

Gereformeerdes hou nie so van goeie werke nie.

Dit is die groot wins van die Reformasie, dat ons met Luther en Calvyn weer leer raaksien het dat 'n mens nie deur goeie werke nie maar alleen uit genade gered word.

Teenoor Fariseërs en Roomses sê ons dit die apostel Paulus na: "Uit die werke van die wet sal geen vlees voor God geregverdig word nie. Want die mens word geregverdig deur die geloof, sonder die werke van die wet".

En so het die Gereformeerde Kerke dit ook in hulle belydenisskrifte vasgelê. Sondag 24 H.K.: "Kan ons goeie werke nie die geregtigheid voor God of 'n deel daarvan wees nie? Nee, want die geregtigheid wat voor die strafgerig van God kan bestaan, moet heeltemal volmaak wees en in alle opsigte met God se Wet in ooreenstemming, terwyl ook ons beste werke in hierdie lewe almal onvolmaak en met sondes besmet is".

Kortom, Gereformeerdes glo nie aan goeie werke nie. Hulle glo, soos dit ook nog 'n keer in die eerste vraag van Sondag 32 saamgevat staan, dat ons sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is.

En tog, gemeente, ons moet goeie werke doen!

Hoe teenstrydig dit ook al mag skyn: ons word nie deur goeie werke gered nie, maar ook nie sonder goeie werke nie.

Want dit waarna in Sondag 24 alreeds gevra is, nl. of die leer dat ons alleen uit genàde, sonder eie inbring, gered word, die mense nie onverskillig en goddeloos maak nie, daarop gaan Sondag 32 nou nog 'n keer extra in. Al word ons dan ook nie deur goeie werke gered nie, tog moet ons wel goeie werke doen. Sorgelose, goddelose, leë lewens mag daar in die kerk van ons Here Jesus Christus nie wees nie. Die evangelie van louter genade gee geen vrybrief om maar in die sonde te bly lewe nie. Daar moèt goeie werke kom.

Die Kategismus gaan in Sondag 32 selfs so ver, dat die goeie werke onmisbaar genoem word om die Koninkryk van God te beërwe. Die wat in hulle goddelose ondankbare lewe volhard, sal die Koninkryk van God nie binnegaan nie. Daar is blykbaar in die Koninkryk slegs plek vir burgers wat uitblink deur goeie werke.

Al kan ons daarmee die Koninkryk nie verwerwe nie, goeie werke is blykbaar wel noodsaaklik om die Koninkryk te beërwe.

Op hierdie skynbare teëstrydigheid gaan die Kategismus in hierdie Sondagsafdeling dieper in, broeders en susters. En die teëstrydigheid los hom soos vanself op wanneer die Kategismus daarop wys hoedat die Koning van die Koninkryk van God, ons Here Jesus Christus, self die goeie werke tevoorskyn bring by elkeen wat Hy eers gekoop en tot 'n burger van sy ryk vrygemaak het. Die goeie werke wat ons van onsself nie besit nie, werk Hy by ons, om ons so tot volwaardige onderdane in sy Koninkryk te maak.

Daaroor bedien ek u vanaand God se Woord. Ek het hierdie tema geformuleer:

DIE HERE JESUS CHRISTUS MAAK ONS DEUR SY HEILIGE GEES TOT VOLWAARDIGE BURGERS VAN SY KONINKRYK,

  1. TOT GOD SE EER
  2. TOT ONS TROOS
  3. TOT HEIL VAN ONS NAASTE.

1. Bo Sondag 32 staan as opskrif: "Die dankbaarheid wat ons aan God vir die verlossing verskuldig is". Hierdie opskrif is bedoel vir die hele derde en laaste deel van die Kategismus. So was dit in Sondag 1 al aangekondig: in die derde en laaste plek sou daar oor ons dankbaarheid aan God gepraat word.

Maar u moet u deur hierdie opskrif nie op 'n dwaalspoor laat bring nie, gemeente. Dit sou maklik kan gebeur.

Hierdie opskrif kan sommer die gedagte by ons oproep dat, nadat God in Christus so veel vir ons gedoen het, ons nou iets behoort terug te doen.

Ons word in sonde ontvang en gebore en kan daarom nie in God se ryk inkom nie. Maar God het sy eie Seun oorgegee om ons van ons skuld te verlos en die toegang tot sy Koninkryk darem nog vir ons oop te sluit. En dus, so sou ons maklik kan konkludeer: nou is dit òns beurt. 'n Lewe van dankbaarheid is wel die minste wat ons teenoor God se groot weldade kan stel. En diè dankbaarheid kan ons konkreet laat blyk deur met die sonde te breek en voortaan goeie werke te doen. Want as ons nou nog nie so maak nie, as ons nou nog altyd egbrekers, diewe, gierigaards, dronkaards, lasteraars en so meer bly, ja, dat moet ons ons nie daaroor verbaas nie as God se Koninkryk asnog vir ons toegesluit word. Al sal dit ook onvolkome bly, ons kan dit darem probeer!

Dus: aan die werk! Goeie werke uit dankbaarheid gaan doen, want ons saligheid hang daarvan af.

Maar dit kan natuurlik nie die bedoeling wees nie, gemeente. Daar word van ons geen teëprestasie verwag vir dit wat die Here Christus eerste vir ons gedoen het nie. Want as ons so sou meen, sou ons weer midde-in die Fariseese en Roomse dwaling wat ons eers so kragtig verwerp het, vasgevang raak. Immers, ons sou dan feitlik tog toestem dat ons met die werk wat Christus vir ons gedoen het, nie klaar is nie; dat ons ook self nog iets moet doen. 'n Soort aanvulling van dankbaarheid wat nodig is om in God se ryk te kan ingaan.

En dan sou Christus geen volkome Verlosser wees nie. Dan trek ons ook sommerso weer 'n streep deur dit wat ons in die vorige deel van die Kategismus so sorgvuldig uit God se Woord opgediep het, naamlik dat ons uit ons ellende sonder enige verdienste van ons kant, alleen uit genade verlos is.

Maar by daardie suiwer-Skriftuurlike leer sal ons moet volhard. Daarby wil ook die derde deel van die Kategismus, ook Sondag 32, ons vashou.

Die leer van louter genade word dan ook onverkort in Sondag 32 gehandhaaf. Die eerste vraag begin met 'n samevatting daarvan.

Maar dan klem natuurlik des te meer die vraag: "Waarom moet ons dan nog goeie werke doen? " Waarvoor is dit nog nodig, as ons tog nie selfs ook maar die kleinste persentasie van ons saligheid daarmee kan verdien nie?

Hierdie vraag is nie 'n teoretiese vraag wat ver van u daaglikse lewe afstaan nie, broeders en susters. Dit is mos die vraag na u lewensstyl van elke dag. Die vraag waarvoor u besonderlik kom te staan wanneer 'n broeder of suster of u wyksouderling u oor een of andere ding in u lewe kom vermaan. Dan het u baie direk metr die vraag te make: moet daar nog wel so veel vermaan word? Moet die ampsdraers nog wel sulke hoë eise aan ons doen en late stel? Ons word mos deur genade gered, nie deur goeie werke nie, sonder enige verdienste van ons kant. Is dit nie Farisees om nog so op goeie werke aan te dring nie??

Daar kan op hierdie vraag maar een antwoord gegee word, gemeente. En u lees dit in Sondag 32.

Waarom moet daar tog nog goeie werke kom?

Nie, omdat dit tog op die een of ander wyse 'n voorwaarde vir ons verlossing is nie. Maar omdat dit die vanselfsprekende gevolg van ons verlossing is.

Omdat, so sê die Kategismus dit, omdat Christus, nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ons ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe.....

Christus doen meer as om alleen die toegang tot die Koninkryk van God vir ons te ontsluit deur ons skuld te bedek met sy bloed. Hy sorg vervolgens ook daarvoor dat ons volwaardige burgers van daardie ryk, dit is: mense met 'n lewe vol goeie werke word.

Dit gaan in hierdie deel van die dankbaarheid dus glad nie oor dit wat ons nou moet doen, as reaksie op dit wat Christus eerste gedoen het nie. Maar dit gaan hier oor dit wat Christus nog meer vir ons doen. Sonder Hom kan ons nìks doen nie. Hy doen alles!

Hy is dit wat deur sy Heilige Gees die goeie werke in 'n lewe van dankbaarheid by ons tevoorskyn roep. Hy volstaan nie daarmee dat ons vergewing ontvang nie, maar Hy sorg vervolgens ook daarvoor dat daar by ons vernuwing kom.

Omdat, noudat Hy deur sy bloed sy Koninkryk vir ons weer oopgelê het, ons lewe nou ook aan die styl van hierdie ryk aangepas moet word.

Want soos ons van nature nog altyd is, onbekwaam tot enigiets goeds en tot alle kwaad geneig, kan ons in die Koninkryk van God nie binnegaan nie. Die slagboom is wel weggeneem, die weg lê wel oop, maar soos ons van onsself is, pas ons glad nie in hierdie ryk van volmaaktheid nie. Ons sal daarvoor eerste 'n volledige wedergeboorte moet ondergaan.

Wat is mos daardie Koninkryk van God wat Christus vir ons kom en oopsluit het? Waarom het God sy eie Seun aarde toe gestuur?

Tog alleen met die bedoeling dat dit hier op aarde weer sou word soos wat dit eendag was? Met die bedoeling dat ons mènse weer sou word wat ons was!

Dit moet weer word soos dit by die begin van hierdie wêreld was. Toe daar slegs mense op aarde geleef het wat in alles hul God en Skepper geëer het. Destyds het die mens sy lewe deur God se Wet laat beheers, wat van hom geëis het dat Hy God sou liefhê bo alles en sy naaste soos homself. Destyds was dit 'n lus vir die mens om tot God se eer aan al sy gebooie gehoorsaam te wees. God het as Koning net voorbeeldige onderdane geken.

Daarvoor het God sy Seun in die wêreld gestuur: om daardie inmiddels verlore vrederyk weer te kry. Daarvoor het Christus hier op aarde gekom: om ons weer tot paradysmense wat louter tot die eer van hulle God lewe, te maak.

Ons vergeet dit sommerso. Ons maak ons sommer 'n eensydige en daarom egoistiese voorstelling van die verlossingswerk van ons Here Jesus Christus. Dan vind ons dit maar net belangrik dat daar vir ons, danksy Christus, die uitsig op 'n plekkie aanstonds in die hemel is; en daarna, by sy wederkoms, 'n plekkie op die nuwe aarde. Dan is dit vir ons die vernaamste dat ons eendag, danksy Christus, van alle ellende verlos sal wees en in die ewige vreugde mag lewe. Ons is dan met vergewing al meer as tevrede.

Maar dan vergeet ons die allerbelangrikste, nl. dat Christus in die eerste plek gekom het om ons hart en lewe weer aan sy Vader toe te wy. 'n Plek in die hemel en eendag op die nuwe aarde en so meer, dit alles kan slegs die gevolg dààrvan wees. Dìt staan voorop: ons lewe moet weer word soos dit was: vol van spontane liefde en dankbaarheid en verwondering vir ons goeie God. Dit is die belangrikste in die Koninkryk van God.

En daarom het ons Heiland nie alleen gekom om ons met sy bloed uit die heerskappy van die sonde los te koop nie. Hy doen meer. Vergewing alleen is vir ons nie voldoende nie. Daar moet 'n volledige vernuwing bykom. En daarom gee Hy ons ook sy Heilige Gees om ons deur Hom tot volwaardige burgers van die Koninkryk van die hemele te maak. Dit wat ons van onsself nie meer het nie, dit gee Hy ons deur sy Gees. 'n Lewe wat weer deur goeie werke uitblink.

Hy maak sondige mense klaar vir sy Koninkryk, waarin God weer alles in almal sal wees. Hy werk daaraan dat ons als volwaardige burgers van daardie ryk weer die HERE onse God sal liefhê met ons hele hart en ons hele siel en ons hele verstand en al ons kragte. En dat ons ons naaste, die medeburgers in God se ryk in die eerste plek, sal liefhê soos onsself.

Soos Christus self is, so wil die Heilige Gees ons ook maak. So, dat ons saam met Hom, daardie volmaakte Mens, kan sing:

Ek bied u hart en hande
in will'ge offerande
al wat ek is en het.
Diep in my ingewand
waar liefde en ywer brand
dra ek u heil'ge wet.

Want alleen aan sodanige mense wil God in sy ryk 'n plek gee.

Ons kan van onsself nooit meer so ver kom nie. Maar Christus bring ons sover! Hy maak die verlossing kompleet.

In elke preek, so dikwels die wet van die HERE sondags vanaf die kansel aan u voorgehou word, by elke huisbesoek, siekebesoek, tydens die katkisasies, so dikwels u by die huis u Bybel oopmaak en lees..... in dit alles is die Gees van Christus besig om u tot nuwe mense te maak. Die Gees gee krag aan die Woord van die Koninkryk, so'n krag dat ons ons daardeur laat gesê en ons hart toenemend daardeur laat beheers.

En dan bly die gevolge nie uit nie, broeders en susters. Dan kòm daar goeie werke, ja, dan kom daar die kragte van die Koninkryk los in 'n menselewe. Dan kom daar die stryd teen alles wat sonde is. Dan kom dan in alles 'n strewe om die HERE te eer. Die krag van die Heilige Gees bewerk 'n ware wedergeboorte, vorm heeltemal nuwe mense, 'n hele nuwe volk wat hom deur die wette van God se Koninkryk laat beheers. Sorgelose, roekelose, goddelose mense?

Hoegenaamd nie. Inteendeel, toegewyde onderdane van God se ryk, mense wat leef in goeie werke.

En so moet dit ook, sê die Kategismus; die goeie werke moet ook daar kom, want dit behoort nou maar eenmaal by die verlossing deur genade alleen.

Sonder dit is u verlossing nie kompleet nie.

2. Ons ontvang self as burgers van God se ryk 'n magtige troos in daardie goeie werke wat Christus deur sy Gees in ons werk, gemeente. 'n Hele houvas.

Want, so sê die Kategismus in die tweede plek: danksy die vernuwende werk van die Heilige Gees kan elkeen nou by homself van sy geloof uit die vrugte versekerd wees.

Dit is bietjie 'n moeilike sin, wat al heelwat misvattings veroorsaak het. Maar die bedoeling is eenvoudig dit: die wat die goeie werke in sy lewe sien kom, die wat die heiligende kragte van die Gees in sy lewe begin opmerk, mag hom daardeur gesterk voel in die wetenskap dat ook hy, of sy, in die registers van God se Koninkryk ingeskryf staan.

Wat lyk daardie Koninkryk soms onbereikbaar ver weg te wees. En wat kan 'n mens gou begin twyfel: kom daar wel ooit 'n Koninkryk van God?? En as dit kom, sou èk daarin dan wel mag binnegaan? Is daarin vir my, groot sondaar wat ek is, wel 'n plek?

Ons word so gou kortsigtig en moedeloos. Dan gaan ons ons blindstaar op die goddelose kragte wat in die wêreld baas lyk te wees. En ons vra onsself vertwyfeld af of die koms van God se Koninkryk nie 'n mooie wensdroom bly nie.

Of ons staar onsself blind op die puinhoop van ons eie versondigde lewe en ons vra onsself wanhopig af of sulke mense wel ooit burgers van God se volmaakte ryk kan word?

Maar om ons oor al daardie twyfels en vrae heen te tel, konfronteer Christus ons met die kragte van sy komende Koninkryk in ons lewe. Daardie kragte word tog alreeds voelbaar, merkbaar, sigbaar by ons? Want die Heilige Gees bring tog goeie werke in ons lewe tevoorskyn? Nee, dit is nie meteens groot dade van gehoorsaamheid en ywer vir God nie. Maar nogtans, ons merk dit tog dat die begeerte by ons groei om God se wet al hoe meer die eerste plek in ons lewe te gee, dwars teen die begeerte van die vlees in? Ons wil tog die HERE ons God liefhê bo alles en ons naaste liefhê soos onsself? En daar is mos daardie neerdrukkende gevoel dat ons God en ons naaste nog veels te min liefhet? Ons het mos 'n afkeer van onsself vanwëe die sonde, ons skaam ons daarvoor dat ons God nog telkens deur ons sondes vertoorn? En die sonde en swakheid wat nog in ons oorgebly het, het tog teen ons wil in ons oorgebly? Ons wil juis al hoe meer as 'n kind van die HERE lewe.

Kyk, dat dit daar is, en groei, dit is geen vanselfsprekende saak nie!. Inteendeel, daarin breek die kragte van God se Koninkryk in ons lewe na buite. Daarin blyk konkreet die werk van die Heilige Gees wat besig is om ons lewe na die ewebeeld van Christus te vernuwe.

En dùs mag ons tot ons troos die gevolgtrekking maak dat God se ryk dus tog blykbaar in aantog is, en dat daar ook op ons intog gereken word. Ons voel tog hoedat ons nou alreeds vir daardie ryk klaargemaak word? Wie sou dan nog twyfel?

Maar u mag en moet dit nou ook maar omdraai, broeders en susters. As daar in 'n menselewe nie die vernuwende kragte van God se Koninkryk tevoorskyn kom nie, as 'n mens op geen enkele wyse daarvan blyk gee dat God se heil'ge wet deur hom diep in sy ingewand, waar liefde en ywer brand, saamgedra word nie; maar as inteendeel toenemend blyk dat hierdie mens pleks van om God lief te hê bo alles en die naaste soos homself, net homself tot wet wil wees en homself wil behaag- dan moet die gevolgtrekking wel wees dat hierdie mens blykbaar geen deel het aan die verlossing deur Christus en dus die Koninkryk van God nie kan beërwe nie. Hy is geen burger van diè ryk nie. Want die beste bewys van hierdie burgerskap, goeie werke, is nie daar nie.

3. Deur daardie goeie werke, waarin die kragte van die Koninkryk van die hemel in ons openbaar word, kry ons ook aantrekkingskrag vir ons naaste. Dit is die derde ding wat Christus deur sy Heilige Gees in ons lewe wil bereik. Deur ons godvresende lewe moet ook heelwat van ons naastes vir Christus gewen word. Die registers van God se Koninkryk kan nog baie uitgebrei word. Daar kan nog baie burgers by. Tot aan die uiterste van die aarde stuur Christus daarom predikers om die mense te roep met die Evangelie van sy Koninkryk. Sendingswerk.

Maar die weg na die uiterste van die aarde begin naby ons huis, broeders en susters. By ons naaste. Evangelisasiewerk. Ons leef temidde van mense wat nog in die duisternis van die sonde lewe, wat Christus se Koninkryk nog nie ken nie; of nie meer daarvan weet nie. Ons het 'n taak teenoor hulle. En daardie taak bestaan nie net in preek nie.

Daardie mense moet in ons lèwe die kragte van God se ryk gaan opmerk. Agterkom dat ons anders is. U weet wel dat die mense rondom ons baie meer let op dit wat ons doèn, en nie doen nie, hoe ons leef, as op dit wat ons sê. Nie ons woorde nie, maar ons dade word fyn dopgehou.

Maar dan moet hulle ook aan ons doen en late gaan agterkom dat daar kragte in ons lewe werk wat ons hele lewe omvorm; dat ons ons lewe deur ànder wette laat beheers as hulle.

Dat ons glad nie konserwatief, agterlik is nie, maar juis baier progressief, vooruitstrewend: ons is op pad na die nuwe aarde van God! Ons werke moet ons woorde bevestig.

Ons lewe moet so wees dat nie ons nie, maar die kragte van die Heilige Gees wat in ons werk, aantrekkingskrag kry. Sodat mense nuuskierig en verwonderd gaan soek en vra na die oorsaak hoekom ons anders is. Sodat hulle gaan begeer om self ook deur die kragte van God se Koninkryk aangegryp en saamgeneem te word aangesien die lewe daardeur eers regtig goed word.

Ook dààrom moet daar goeie werke in u lewe kom, broeders en susters: om ook ander mense vir God en sy ryk te wen.

Want God se Koninkryk moet vòl word. Vol met volmaakte burgers. Ja, ons moet goeie werke doen. Sondag 32 sê dit reguit. Maar u verstaan nou tog dat dit nie moet as 'n strenge wet vir ons nie. Dit moet volgens God se allesomvattende verlossingsplan. Want God soek in Christus ons totàle verlossing!

Eerder het Hy geen rus nie. En daarom het Christus eerder geen rus nie, het die Heilige Gees eerder geen rus nie.

Want eerder het hulle hul goeie werk nie voltooi nie.

AMEN.

(Pretoria, 30 April 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)