Die gemeenskap van gelowiges in die Koninkryk van die Hemele

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 31
Preek Inhoud: 

Ps. 107: 1, 2
Ps. 107: 3
Ps. 141: 1 - 6
Ps. 80: 1, 8
Ps. 80: 10
Lees: Matt. 18: 1 - 20
Teks: Sond. 31 H.K.

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus.

As u die Ou Vertaling van die Kategismus vergelyk met die Nuwe Vertaling, dan moet dit vir u opvallend wees, dat die merkwaardige woord 'Hemelryk' uit die Ou Vertaling verdwyn het, en die Nuwe Vertaling daarvoor in die plek gee 'die Koninkryk van die hemele'. Ek vir my beskou dit as 'n goeie verbetering. Die woord hemelryk kom as sodanig, nie in die Bybel voor nie. Op sigself is dit nie 'n beswaar nie, maar meer beswaarlik is, dat die woord 'hemelryk' baie maklik misvertande kan wek. Dan word byvoorbeeld gedink, dat dit in Sondag 31 veral gaan om die toegang tot die hemel. En ongetwyfeld het dit wel iets daarmee te doen, maar ons moenie dink dat eers daar, by die poort van die hemel, die beslissings val nie.

Die Here Jesus gebruik self altyd die uitdrukking: die Koninkryk van die hemele. En dit is 'n goeie saak, dat die woord ook in die Nuwe Vertaling van die Kategismus weer 'n plek ontvang het.

Nou gaan dit vandag nie daarom om uitvoerig te praat oor die Koninkryk van die hemele as sodanig nie. Oor vrae soos: hoever strek daardie Koninkryk? en hoe is die verhouding tussen Kerk en Koninkryk, ens.

Daaroor is boeke vol geskryf.

Nee, ons wil ons soveel moontlik beperk tot die binnegaan van die Koninkryk en tot die buitesluiting uit daardie Koninkryk. Daaroor gaan dit in Sondag 31. En dan kan ons 'n hele klomp vrae vir die Koninkryk as sodanig laat lê.

Want een ding is in elk geval duidelik, die ingaan in die Koninkryk van die hemele, het alles te doen met geloof, met aanvaarding van God se beloftes. Wie Sy beloftes aanvaar en besef dat dit 'n genade geskenk van God is, is 'n burger van Christus se Koninkryk.

En terwyl hy die Koninkryk ingaan, besef hy dat hy nie die enigste burger van daardie Ryk is nie, maar dat Christus hom temidde van 'n gemeenskap van medegelowiges gestel het. Medeburgers van Christus se Koninkryk. Die Koninkryk van die hemele het dus baie te make met die gemeenskap van die gelowiges.

Ons tema vir die prediking oor Sondag 31 is daarom soos volg:

DIE GEMEENSKAP VAN GELOWIGES IN DIE KONINKRYK VAN DIE HEMELE.

  1. Hoe die gemeenskap tot stand kom.
  2. Hoe die gemeenskap beskerm word.
  3. Hoe die gemeenskap beëindig word.

1. In Sondag 31 gaan dit dus oor die sleutels van die Koninkryk van die hemele.

Waarskynlik sal elke katkisant wel kan vertel om watter sleutels dit dan gaan. Die verkondiging van die Evangelie en die Christelike tug.

En as ons dan 'n bietjie verder praat oor daardie sleutels, en die vraag vra, wie die sleutels moet bedien, dan kan hulle ook dit vertel:

Die verkondiging van die Evangelie - Dit is die sleutel wat die predikant op Sondae bedien.

En die Christelike tug - Dit doen die kerkraad, as iemand van die gemeente afgesny word.

Nou is inderdaad die afsnyding van die gemeente, 'n vorm van Christelike tug. Maar dit is wel 'n misverstand om tug oefening slegs tot afsnyding te beperk. Want as dit waar was, sou ons in die gemeente al in geen jare die tug bedien het nie. Want dit is lanklaas dat daar iemand afgesny is.

En verder is tugoefening, seker nie die uitsluitlike verantwoordelikheid van die kerkraad nie. As ons antwoord 85 deurlees, kom die kerkraad eers halfpad in die prentjie. Dit is eers die gemeente self wat sy verantwoordelikheid moet ken. So het ons dit verlede week al gesien: As ons saam Nagmaal vier is ons ook vir mekaar verantwoordelik!

Om uit die Woord van die Here na te gaan hoe dit werk, het ons saam Matteus 18 gelees, die hoofstuk waarin die Here Jesus nadruklik oor ons onderlinge verantwoordelikheid vir mekaar praat.

Ons wil begin by die begin van Matteus 18.

Die dissipels is besig met 'n diskussie oor die vraag: Wie is tog die grootste in die Koninkryk van die hemele?

Dit klink na 'n algemene diskussie onderwerp waaroor elkeen sy sê kan sê.

Maar dit gaan hier tog om 'n bietjie meer. Hulle sê dit nie so nie, maar die eintlike stryery onder die dissipels, het oor die vraag gegaan: Wie van ons is die grootste in die Koninkryk van die hemele? Wie van ons mag langsaan die Here Jesus sit in Sy Ryk?

Wel, omdat daardie onderwerp bespreek is, gaan die Here Jesus daarop onmiddellik in. Maar die opvallende is, dat hulle op die vraag glad nie 'n antwoord kry nie.

Die Here Jesus gaan naamlik nie praat oor hulle wat binne is in die Koninkryk nie, en hoe daar hul onderlinge verhouding sal wees nie. Nee, Hy gaan praat oor hoe om daar binne te kom.

Uit Sy antwoord blyk dat die Koninkryk slegs kan oopgaan vir hulle wat klein is. As jy groot is na die maatstawe van hierdie wêreld, as jy jouself groot en belangrik voel as mens.... maar dan kom jy daar nie eers in nie!

Mense wat groot wil wees, bly buitekant die Kerk!

En daarom is die vraag na die grootste in die Koninkryk van die hemele 'n onsin vraag!

Want daar is slegs 'kleines' binnekant.

Buite die Koninkryk mag die vraag wie die grootste of belangrikste is, dalk sinvol wees, maar binne die Koninkryk kan daardie vraag nie eens aan die orde kom nie.

Want om in te gaan, moet jy eers klein word en vergeet van jou eie belangrikheid.

En om aan te wys hoe klein jy moet word, roep die Here Jesus 'n klein kindjie na Hom toe, en laat hom in hul midde staan.

En let nou op die kind. Die kind voel heeltemal skaam deur die belangstelling van al daardie mans. Die kind dink verwonderd: Hoekom moet ek hier staan? Hoekom wil die Here Jesus nou juis vir my gebruik?

Wel, vir sodanige mense, soos hierdie kind, is die Koninkryk van die hemele!

Die kind vra nie: Sal ek hier dalk die grootste wees nie?

Welnee, die kind kom nie eers op die gedagte nie.

Wel, so word duidelik hoekom die Here Jesus sê: As julle nie verander, en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die Koninkryk van die hemele ingaan nie. Hulle moet verander.

Met ander woorde. Hulle moet hul bekeer.

Bekeer in die sin, dat hulle afsien van hulself en volkome op die Here gaan vertrou.

Vir sodanige mense is die Koninkryk van die hemele.

Jy kan daar net as 'n kind binnekom. En as jy een keer binnekant is, dan moet jy bly soos 'n kind.

Altyd weer verwonderd wees oor God se genade, dat selfs jy kon ingaan.

Dit is die basis houding wat 'n mens in die gemeente moet hê.

As jy verbaas is oor God se genade dat jy in Sy Koninkryk kon binnegaan, dan sal jy tot jou vreugde ontdek dat die Here ook ander mense, broeders en susters in daardie Koninkryk laat ingaan het.

Wel, so kenmerk Christus die gemeenskap van die gelowiges, as 'n gemeenskap van mense wat hul bekeer het, tot die kleinheid van 'n kind.

Saam met mekaar is jy klein en afhanklik onder die Evangelie van die Koninkryk.

Wel, dit beteken ook dat mense in die Ryk omsien na mekaar, dat hulle mekaar bemoedig. Dit kan nie anders nie.

Dit is wat die Here Jesus bedoel, as Hy in vers 5 sê: En elkeen wat een van sulke kindertjies in My Naam ontvang, ontvang My.

So 'n kind - dit is elke broer of suster van jou in die gemeente.

Jy moet hom ontvang - met oop arms, dit beteken dat jy jou hart vir die ander oopstel, dat julle jul verantwoordelik voel vir mekaar, dat die heil van jou broeder van jou 'n sorg is.

Wie so sy broer ontvang, ontvang My, sê die Here Jesus dan.

'n Mens kan eenvoudig in die gemeenskap nie aan sy broer of suster verbystap nie, want dan loop jy Christus Self verby.

Eers as ons nou saamvat, kan ons dit so sê: Die gemeente van Christus is 'n gemeenskap van 'kleines', van mense wat elk vir homself verwonderd is oor God se genade, dat die Here hom in daardie gemeenskap 'n plek gegee het.

2. Die beskerming van daardie gemeenskap.

Dat God se Koninkryk nou reeds aanwesig is op aarde, naamlik in die gemeenskap van die gelowiges, dit is 'n heerlike saak.

Dit is een van die rykste dinge wat God op aarde gee. Dat daar 'n gemeenskap is van mense wat op pad is na die Ewige Lewe met God. Maar tegelykertyd moet ons besef dat daardie gemeenskap op aarde nog so ontsaglik kwesbaar is. Want daar is die sonde wat die gemeenskap steeds bedreig.

Die sonde wil steeds die deur Christus gestigte gemeenskap ondermyn, ontbind.

'n Voorbeeld van 'n sonde wat in enige gemeenskap ondermynend werk, is om slegte dinge oor mekaar te vertel. Dit kan 'n gemeenskap verwoes. Die een verhef hom bo die ander, of die een groepie verhef homself bo die ander groepie in die gemeenskap.

Wel dan gebeur presies waarvoor die Here Jesus so waarsku: Jy verhef jou bo 'n ander. Jy is groot en hy is klein!

Dus met skinderpraat verwoes jy nie net die gemeenskap en breek jy nie net die ander af nie, maar boonop doen jy skade aan jouself.

Jy is nie meer klein in God se Koninkryk nie.

Jy is besig om jou eie plek in die Koninkryk te verspeel.

Daarom moet ons ons steeds weer beproef op die punt, gemeente. In die gemeente van Christus mag dit nie voorkom nie. Die gemeenskap is daarvoor te kosbaar, en te kwesbaar.

Omdat in die gemeenskap mense so nou aan mekaar verbonde is, kan ook nog op 'n ander manier skade ontstaan.

En dit gebeur as iemand in eie lewe ruimte gee aan die sonde.

As hy in stryd lewe met die gebooie van die Here.

Want binne die sterk gemeenskap wat daar is, kan soiets nooit 'n private aangeleentheid wees nie, maar dan word daarmee as het ware die sonde in die gemeenskap van die gelowiges, geimporteer.

En dit is 'n ernstige saak, want daarmee word heel die gemeenskap aangetas. Met sonde kan elkeen geinfiltreer raak.

Wat die een doen, dit doen ook die ander. As 'n broeder so kan doen, hoekom ook nie ek nie?

En so word die werk van God op aarde ondergrawe.

Die gemeenskap van 'kleines' word afgebreek.

En wat moet 'n mens daarteen nou onderneem?

Hoe kan die verwoestende mag van die sonde gekeer word?

Hoe kan hierdie gemeenskap daarteen beskerm word?

Die antwoord wat die Here Jesus daarop in Matteus 18 gee, is tweedelig.

Kort samewattend kan ons dit so sê: In verband met die sonde moet 'n mens hard wees vir jouself en tegelyk geduldig met jou broeder.

Van daardie hard wees teenoor jouself, gee die Here Jesus 'n paar sterk voorbeelde.

As jou hand of jou voet jou laat struikel, kap dit af en gooi dit van jou af weg.

As jou oog jou laat struikel, ruk dit uit en werp dit weg van jou af.

Met hierdie 'ingrypende' voorbeelde onderstreep die Here Jesus die erns van die situasie: Dit gaan naamlik om die al of nie in die Lewe ingaan nie. As iemand sagsinnig is teenoor homself, as hy nie in sy eie vlees kan sny nie, dan word hy 'n slaaf van die sonde.

Daarom, broeders en susters, seuns en dogters. Beproef julleself. Beproef julle lewe of dit in stryd is met die gebooie van God.

In elke prediking sal daardie oproep tot selfbeproewing weer na ons toekom:

  • Is ek nog wel klein in God se Koninkryk?
  • Is ek nog verwonderd oor die genade, dat ek mag lewe in die gemeente van Christus?
  • Is daar in my lewe nog die stryd teen die sonde?
  • Is ek nog bereid om in eie vlees te sny?

Doen dit! Want dit gaan om u lewe.

Tot sover oor die hard wees vir jouself.

Maar nou die andere geval. Nou sien ek dat my broeder sondig.

Moet ek nou, as ek so hard ten aansien van myself moet optree, en eventueel selfs liggaamsdele moet uitsny, nou maar net so hard wees ten opsigte van my broeder of suster?

Die antwoord op daardie vraag kry u in die gelykenis wat die Here Jesus hierna vertel. Die gelykenis van die verlore skaap.

Christus het na hierdie wêreld gekom om dit wat verlore was te soek, en te behou. Wel, as Hy met daardie doel gekom het, hoe sal ek my dan opstel ten opsigte van 'n struikelende broeder of 'n dwalende medemens?

Dan moet ek tog daarin my Here navolg! Dan het ek 'n taak teenoor 'n dwalende broeder!

Dan moet ek vir hom 'n soekende herder wees, soos die Here Jesus Self is. Vol liefde om hom te bekeer.

En in hierdie verband gee die Here Jesus ook 'n aanwysing, hoe ons so 'n dwalende broeder moet soek, om hom te behou.

As 'n broeder sondig teen jou of teen God se wet, dan word die gemeenskap van die gelowiges bedreig. Dan is op daardie oomblik elke lid van die gemeemskap geroep om pastorale werk te doen.

Herderswerk, om te soek, hom wat dreig verlore te gaan.

Want die gemeente kan so 'n verlies nie hê nie.

God wil so 'n verlies nie ly nie. En daarom moet alles in werking gestel word om die broeder te behou.

Dit beteken nie dat dan onmiddellik heel die gemeenskap gewaarsku moet word, om almal tegelyk die broeder te vermaan nie. Dan bereik jy meestal presies die teenoorgestelde van wat jy bedoel.

Nee, die 99 ander skape laat die herder staan om die verdwaalde een te soek.

Daarom sê die Here Jesus: Gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen.

Oortuig hom in 'n gesprek onder vier oë.

Hoe kleiner die kring waarin iets bekend is, hoe makliker jy dit vir die broeder maak, om sy sonde te erken en hom te bekeer.

As hy luister dan is daar vreugde in die hemel oor die een skaap wat gedwaal het, en hom weer terug laat bring het in die kudde.

Die behou van jou broer en suster, dit is 'n saak wat ons almal na aan die hart moet lê.

'n Mens sal sê: Daar is baie moed nodig om 'n ander aan te spreek oor sy sonde. Moenie verwag jy is welkom met 'n vermanende woord nie. Dit is waar. Maar 'n mens kan ook sê: Daar is geloof nodig om 'n ander te vermaan.

Om nooit iets te sê nie, dit is baie makliker, maar dan wys ek 'n gebrek aan liefde.

'n Gebrek aan liefde vir my dwalende broer of suster. Maar ook 'n gebrek aan liefde vir die saak van die Here. Die gemeente van Christus.

Wie besef watter groot rykdom hy self ontvang het in die Koninkryk van Christus, hy sal nie werkloos toesien as 'n medebroeder of suster besig is om daardie rykdom te verloor nie.

3. Die einde van daardie gemeenskap.

As 'n broer nie na liefderyke vermaan wil luister nie, nog onder vier oê, nog met getuies daarby, dan kan daar 'n oomblik kom dat die gemeente gewaarsku moet word. Ook dit is nadruklike onderwys van die Here Jesus. Dan moet so nodig heel die gemeenskap gemobiliseer word, om die sondaar te probeer behou.

Maar as ook dit nie help nie, as duidelik word, daar is nie meer hoop op herstel nie, dan moet daar 'n einde kom aan die gemeenskap met daardie sondaar.

Dan het hy homself blykbaar aan die sonde verkoop. Dan leef hy nie meer onder Christus se heerskappy nie, maar onder die heerskappy van die duiwel.

In so 'n geval volg die afskeid.

Laat hom dan vir jou wees soos die heiden of die tollenaar.

Ofwel, dan is hy nie meer 'n broeder nie, maar iemand aan wie die Evangelie verkondig moet word, met 'n oproep tot geloof en bekering.

So gee Christus bevel tot opsegging van die gemeenskap. Dan word die Koninkryk van die hemele gesluit. Nogmaals: Die Here Jesus sê dit nadruklik alleen aan die adres van die dissipel van Hom wat eers alles gedoen het om te behou. Om die dwalende te soek. Wel as alles gedoen is, dan is daar op 'n seker oomblik geen middel meer beskikbaar nie.

As die sonde nie weggedoen kan word nie, dan moet die sondaar weggedoen word.

As die sonde nie uitgesny kan word nie vanweë die vashoudendheid van die sondaar aan sy sonde, dan word die sondaar met sy sonde afgesny.

Want die sonde mag in die gemeente nie 'n wettige plek kry nie.

Nou is hierdie oefening van die slotfase van die tug een van die moeilikste take waarvoor die gemeente en wel spesiaal die kerkraad staan.

Dit is moeilik in daardie sin, dat dit baie pynlik is om iemand af te sny.

Want die gemeenskap kan so moeilik een wees.

Maar dit is ook moeilik om te beoordeel wanneer die sonde werklik volgroei is.

Daarvoor is baie liefde en wysheid en gebed voor nodig.

Want dit is nie 'n kleinigheid om vir iemand te moet sê dat die Koninkryk van die hemele vir hom gesluit is nie. Want so 'n beslissing het gevolge tot voor die troon van God toe.

Want die tug is uiteindelik nie 'n saak van mense nie, maar van God self.

Alles wat julle op aarde bind, sal in die hemele gebonde wees, en wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemele ontbonde wees.

Nou kan 'n mens dalk sê: Ja maar dit is tog ook moontlik dat 'n kerkraad beoordelingsfoute maak. Dit het tog wel in die verlede voorgekom.

Dit is waar natuurlik. Mense kan foute maak.

Maar as verkeerde toepassing of 'n misbruik wat wel van die tug gemaak is, hef daarom die goeie gebruik nog nie op nie.

Ons mag nie vanweë die erns en die moeilikheid van die tug maar sê: laat ons liewers die sondaar maar sy gang laat gaan. Ons kon 'n slag te vinnig geoordeel het.

Maar dit mag nooit. Daarvoor is hier te groot sake in geding.

Die heiligheid van Christus gemeente, en die heiligheid van die Nagmaalstafel. Aan daardie tafel word die gemeenskap van die gelowiges sigbaar gemaak. Daar is vir grotes nie plek nie. Grotes is mense wat hulleself kan red, hulle het die genade van Christus nie nodig nie. Hulle aanvaar geen vermaan oor hul sondes nie.

Grotes is ook hulle wat hulself so verhef bo hul broeders en susters, dat hulle dit nie die moeite werd vind om 'n dwalende broer of suster tot bekering te roep nie.

Die Nagmaalstafel is vir kleines. Mense wat steeds weer verwonderd staan oor die feit dat hulle ondanks huls sondes, daar tog weer kan sit.

Die Nagmaalstafel is vir kleines, wat hulself nie te groot voel om in eie vlees te sny nie. Dit is 'n tafel vir kinders wat hulle saam verbly oor die liefde van hul Vader wat hulle tot so 'n gemeenskap geroep het.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)