God se Gees is aan die werk in die Kerk

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 25
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 25 HK

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 95: 1, 4
Gebed
L. Rom. 1: 1-7, 16 & Rom. 10: 9-17
Prediking
Ps. 89: 6
Geloofsbelydenis
Ps. 84: 6
Gebed
Kollekte
Ps. 81: 1, 9, 12, 15

Broeders en susters,

Ons het vandag weer hier bymekaar gekom as gelowiges. Dit is mos die enigste rede waarom ons hier bymekaar sit vanaand en mekaar telkens weer opsoek.

As dit nie oor ons gemeenskaplike geloof was nie, sou ons mekaar dalk nie eers geken het nie. Baie van ons sou ook beslis geen vriende geword het nie.

Nou egter noem ons mekaar sommer "broeders en susters". Want ons beskou onsself as een groot huisgesin wat dieselfde Vader het en dieselfde groot Broer: God die Vader in die hemel en sy Eniggebore Seun, ons Here Jesus Christus.

Ons glo dat hierdie wêreld waarin ons lewe, die werk van 'n onsigbare God is wat nog dag vir dag sy skepping tot in die kleinste besonderhede onderhou en regeer.

Ons glo dat hierdie God ons liefdevolle Vader wil wees en dat ons sy kinders mag wees. En dit ten spyte daarvan dat ons ons meestal glad nie as sy kinders gedra nie. Ons is veels te hoogmoedig om kind te wil wees. Veels te eiewys om aan Hom gehoorsaam te wil wees. Daarom moes ons hemelse Vader ons hardhandig klein máák. Terwyl sy wêreld 'n paradys was, is dit vir ons vandag beslis nie meer 'n plesieroord nie. Virusse en bakteries teister die lewe. Mense word siek, kry ongelukke, die wonderlike natuur kan van die een oomblik op die ander in 'n dodelike dreiging verander.... Deur dit alles roep Vader in die hemel weggelope mensekinders terug van die doodloopstraat wat hulle gekies het. Want as hulle nie omdraai nie, wag daar 'n eindelose ondergang vir hulle.

Ons het daardie ondergang verdien. Maar daar is 'n weg terug: 'n weg wat deur God se groot Seun gebaan is. Hy het as mens na die aarde toe gekom om hier 33 jaar lank die straf te dra en die dood te sterwe wat ons verdien het. Hy het die ewige dood verduur om vir ons die ewige lwe terug te verdien.

En ons is vas oortuig daarvan dat as ons agter Hom skuil, ons weer heeltemal God se liewe kinders en erfgename mag wees.

Meer nog: ons glo dat Jesus Christus ons ook weer in alle opsigte tot kinders van God sal máák. Hy leer vir ons hoe om weer in alles aan Vader in die hemel gehoorsaam te wees. Hy neem ons vanuit die hemel saam deur hierdie moeitevolle lewe na 'n nuwe, beter, volmaakte lewe toe. Die wêreld word eendag weer 'n paradys.

Dit glo ons mos, gemeente? Al kan ons ook nog maar min daarvan sien met ons gewone oë, al ervaar ons dit ook nie altyd ewe sterk nie, al is daar heelwat wat ons verstand te bowe gaan- ons is oortuig dat dit die realiteit is. Dit beheers ons denke, ons doen en late. Dit laat ons die een keer op ons knieë kom van skaamte en die ander keer sing van blydskap. Dit hou ons as broeders en susters bymekaar en dryf ons steeds weer na mekaar terug. Dit dwing ons om ag te gee op mekaar en om ons in te span vir mekaar, veral as 'n broeder of suster aan hierdie gemeenskaplike geloof begin twyfel.

Eintlik is dit baie snaaks dat ons sulke dinge glo. Want dit wat ons glo is vir rasionele mense maar 'n dwaas verhaal. Om te aanvaar dat jy alleeen nog lewe en toekoms het danksy Iemand wat vir jou aan 'n kruispaal moes sterwe, ja, dat daar buite Hom op aarde hoegenaamd geen lewe meer moontlik is nie- dit is tog dwaasheid! Dit is boonop 'n aanstootlike verhaal vir mense wat hulleself nogal hoog het.

Nogtans glo ons dit.

Hoekom eintlik, broeders en susters?

Daaroor gaan dit in Sondag 25 van die Kategismus. Daaroor gaan dit dus ook in hierdie preek. Ek verkondig u:

GOD SE GEES IS AAN DIE WERK IN DIE KERK

  1. HY WERK DEUR GOD SE WOORD
  2. HY GEE 'N SIGBARE ONDERSTEUNING AAN GOD SE WOORD
  3. HY GEBRUIK DIE MENSLIKE VERKONDIGING VAN GOD SE WOORD.

1. Die vraag waarop ons vanaand fokus, is dus: hoekom glo ons eintlik in God die Vader en in sy Seun, ons Redder? Waarvandaan kom dié geloof?

Die antwoord kan kort wees: so staan dit in die Bybel.

Sonder die Bybel sou ons van ons Here in die hemel en van sy Seun Jesus Christus nie geweet het nie.

Daarom lê die Bybel oop tydens elke kerkdiens. Daarom neem ouderlinge en diakens altyd hul Bybel saam as hulle huisbesoek doen. En in ons huis neem die lees van God se Woord 'n belangrike plek in in ons daaglikse lewenspatroon.

Ons bly steeds met die Bybel besig.

Maar eintlik is dit omgekeerd: die Bybel bly steeds met óns besig.

Want wat is die Bybel vir ons, gemeente?

Is dit maar net 'n boek met allerhande belangrike mededelings en leersame onthullings? 'n Verhaal van wonderbaarlike feite uit die verlede en wonderlike voorseggings m. b. t. die toekoms? 'n Boek ook vol sinvolle voorskrifte en aanwysings om die lewe aangenamer te maak....

Nee, Bybelwoorde is meer as net woorde. Ons het in Paulus se brief aan die Romeine gelees dat die boodskap van die Bybel "'n krag van God is tot redding vir elkeen wat glo". Die woorde van die Bybel doen iets aan 'n mens.

Ons lees in die Bybel geen dooie letters nie, maar "die Woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard.. " sodat dit deurdring tot in die diepste skuilhoeke van ons lewe, sê die skrywer van die brief aan die Hebreërs.

Die Bybel is 'n "lewende" omdat die Skrywer van die Bybel 'n lewende Persoon is.

Die Bybel is 'n baie oue boek. Eeueoud. Nogtans vind ons in die Bybel nie die verouderde boodskap van Iemand wie se tyd lank al om is nie. In die Bybel spreek Hy ons aan wat gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is: die lewende, ewige God self.

Hy kom in die woorde van die Bybel persoonlik voor u staan en spreek u aan. Hy spreek u aan, nie met 'n ou verhaal nie, maar met 'n aktuele boodskap. 'n Boodskap wat vir almal se ore bestem is en nogtans ook heel direk op u persoonlik toegespits is. Hierdie boodskap: Ek wil julle/jou God weer wees. Ek wil weer jou Vader wees en jou as my kind kan liefhê en versorg met alles wat jy benodig. Daarvoor het Ek my liefste Seun by My in die hemel opgeoffer en tot in die hel weggestoot. Sodat jy weer vir My sou kon lewe.

Ja, ook die Seun wat een is met die Vader, kom in die Bybelwoorde voor u staan en sê vir u almal persoonlik: Ek wil ook jóu Redder wees. Vir jou het Ek My liggaam in die dood oorgegee en my bloed vergiet aan die kruis op Golgotha.

Gee jou oor aan My en Ek neem jou saam na die Vader toe terug. Ek neem jou saam in 'n nuwe lewe na 'n heerlike toekoms toe.

So is die Woord van God in die Bybel 'n krag tot redding vir elkeen wat luister en glo. Die Gees van God wat van die Vader en die Seun uitgaan, gebruik hierdie lewende Woord van God soos 'n swaard om ons lewe oop te sny en ontvanklik te maak vir die roepstem van die Vader en die Seun sodat ons sal lewe.

Die Bybel bevat wel baie feite uit 'n ver verlede. Ons hoor daarin die verhaal van wat God vroeër gedoen het met en vir sy volk. Ons lees voorskrifte en leefreëls wat in situasies gegee is soos ons vandag nie meer ken nie.

Nogtans ontvang ons in die Bybel nie 'n klomp mededelings wat ons vir kennisgewing kan aanneem nie. Maar uit al daardie ou verhale en feite en voorskrifte klink steeds die een aktuele boodskap waarmee die Gees van die lewende God u en my vandag aanspreek en soek. Waarmee Hy u en my behoud soek.

Hy hou ons daarin die spieël voor sodat ons onsself sal herken in ons skuld teenoor God: só is die mens vanaf die sondeval. Hy ontmasker daarmee telkens weer skynheiligheid by ons. Sodat ons ons sondige natuur al hoe beter leer ken en al hoe meer skuldbewus en verslae sal agterkom dat ons geen lewe in onsself het nie.

Die Heilige Gees doen dit nie een keer nie, maar aanhoudend. Elke keer weer as ons die Bybel oopmaak, sodat ons nooit meer met onsself tevrede sal raak nie.

Hy herinner ons in die Bybel ook voortdurend aan God se verskriklike toorn oor die hoogmoed en eiewysheid en ongehoorsaamheid van die mens. Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God. Want onse God is 'n verterende vuur.

Maar die Heilige Gees plaas ons deur die Bybel veral elke keer weer voor die Here Jesus Christus wat ons Borg wil wees by die Vader. Die Bybel bevat veral die indringende oproep om die lewe buite jouself in Hom te soek. Ons hoef nie te probeer om self die verhouding met God te herstel nie- ons sou dit nooit en te nimmer regkry nie. Jesus Christus het dit klaar gedoen. Ons hoef dit maar net dankbaar te aanvaar. Ons aan Hom gewonne gee.

En dan neem die Gees ons in die Skrif ook saam op die weg agter Christus aan na die Vader terug. Hy wys vir ons hoedat ons met Christus mag opstaan in 'n nuwe lewe. Christus sal ons die krag gee om weer al hoe meer volgens God se goeie gebooie te begin lewe in 'n nuwe gehoorsaamheid. Die Gees wys in die Bybel presies vir ons aan hoedat dié weg loop en hoedat die lewe op daardie weg regtig weer opbloei. Hy bemoedig ons so dikwels ons struikel en val, met 'n oneindige geduld.

Dít is die Bybel vir ons, broeders en susters.

Die lewende Woord van die lewende God waarmee Hy ons redding soek.

Maar daarom ook 'n Woord wat ons dwing om te reageer. Ek het dit reeds gesê: u kan die boodskap van die Bybel nie vir kennisgewing aanneem nie. God se Woord soek u antwoord. U sal moet kies: gee u uself gewonne? Of verhard u maar net in u eiewysheid en onwil om te luister?

G'n mens gee homself sommer gewonne aan God nie. Maar ek het ook reeds vir u gesê: die Woord van God is meer as net woorde; dit is 'n krag. Dit is die swaard van die Heilige Gees. En as God dit in sy genadige liefde wil dat 'n sondige mens van die ewige ondergang gered word, is daardie vir hoogmoedige en eiewyse mense aanstootlike en dwase boodskap nogtans is staat om alle verset geleidelikaan weg te sny en daardie mens in geloof en aanbidding op sy knieë te kry.

So het die Gees van God u mos ook op u knieë gekry?

Daar word in die kerk eintlik maar net gepraat. En ons erediens bestaan in hoofsaak uit luister. Die preekstoel staan in die middelpunt, tydens die katkisasieklasse en huisbesoeke laat ons voornaaamlik die Bybel aan die woord. Die kerk is nie 'n doen-geselskap nie, maar 'n hoor-gemeenskap.

Daar is telkens weer mense wat daaraan aanstoot neem. Hulle soek meer die daad as die Woord. Hulle begeer meer aktiwiteit. Maar as ons God se woorde wil inruil vir ons dade, beteken dit die einde van die kerk. As die gesamentlike luister na die Woord van onse God ons nie meer bymekaar hou nie, raak ons mekaar sommer kwyt. Dit is egter nog nie die ergste nie. Ons raak dan ook ons God en Vader en die lewe deur sy Seun kwyt.

2. Tog is ons kerkdienste nie so sober dat daar alleen maar woorde klink nie. Op party sondae word daar ook die daad by die Woord gevoeg. Dan gebeur daar ook iets sigbaars en tasbaars voor in die kerk. Daar word water gesprinkel op die koppie van 'n baba. Daar word brood gebreek en wyn geskenk en rondgedeel.

Dit is egter nie óns dade wat ons as reaksie by God se Woord voeg nie. Dit is twee dade van God wat Hy self ter ondersteuning by sy Woord byvoeg.

Om ons met des te meer klem op te roep om ons aan sy beloftes gewonne te gee.

Eintlik gee hierdie twee handelinge, wat ons sakramente noem: doop en nagmaal, niks nuut nie. Niks wat nie ook alreeds in die Bybel gesê is nie. Hulle onderstreep maar net die boodskap van die Bybel.

Dit is in die geskiedenis van die kerk dikwels misverstaan. Die duidelikste voorbeeld daarvan is die Roomse Kerk. Daar het die sakramente algaande God se Woord heeltemal na die agtergrond geskuif en alle aandag vir hulleselkf opgeëis. Die sakramente het geword tot 'n tipe van medisyne van lewensbelang waardeur doodsieke mense amper soos vanself weer kan gesond word voor God.

Die aantal is ook van twee uitgebrei tot sewe wat in die verskillende fases van 'n menselewe toegedien moet word om hom te begelei in sy geleidelike herstel in die lewe met God.

Terwyl die sakrament deur God bedoel is as 'n ekstra verduideliking van sy Woord, het die Roomse Kerk dit presies omgedraai en die sakramente tot die belangrikste handelinge van die kerk gemaak terwyl die Woord nog slegs as 'n verduideliking van die sakrament moet dien.

Maar die gevolg daarvan was dan ook dat namate die Woord al hoe meer na die agtergrond geskuif is, ook ons Here Jesus Christus al hoe meer na die agtergrond gedruk is. Die mense is nie meer opgeroep om hulleself gewonne te gee aan dit wat God in Chrístus vir hulle wil doen nie. Maar hulle is geleer om hulleself uit te lewer aan dit wat die kérk deur sy sakramente vir jou doen: as jy maar daardie "medisyne" op 'n gereëlde basis "inneem", verseker jy jouself van 'n mooi plekkie eendag in God se nuwe wêreld. Christus is hoogstens nog die groot Apteker wat eendag hierdie medisyne ontwikkel het; maar dit is die kerk wat dit vandag aan jou voorsien en jou begelei in die gereëlde gebruik daarvan.

Die mense het al hul vertroue op 'n klompie uiterlike verrigtinge van die kerk gestel pleks van op hul Verlosser in die hemel. Dis dié dat die Heidelbergse Kategismus in Sondag 30 m. b. t. een van daardie Roomse sakramente, die Mis, ronduit sê dat dit "in wese niks anders is nie as 'n verloëning van die enige offer en lyding van Christus aan die kruis en 'n afgodery wat vervloek is".

So'n oorskatting van die sakramente kom origens nie net in die Roomse Kerk voor nie, gemeente. Ook mense wat hulleself Gereformeerd noem, kan gaan dink dat hulle lewe en toekoms gewaarborg is as hulle maar van tyd tot tyd die sakrament gebruik. 'n Mens moet natuurlik gedoop wees! Of jy vervolgens ook vanuit jou doop lééf- daarby staan talle mense skaars stil.

En hoeveel mense sou daar wees wat die meeste kerkdienste waarin daar maar net gepreek word, nie bywoon nie, maar op die nagmaalsondag nooit sal ontbreek nie? Want 'n mens benodig tog die nagmaal!

God het egter die sakramente maar net bedoel as 'n nadruklike onderstreping van sy boodskap in die Bybel. Om ons die beloftes daarin nog beter te laat verstaan en dit te beseël, sê die Kategismus in Sondag 25.

Wat elke keer hoorbaar is in die kerk, word in die sakrament ook 'n keer in 'n eenvoudige simboliese handeling sigbaar gemaak: 'n pasgebore baba word met 'n bietjie water gewas. Daardie kind is dus vuil. Maar die vuiligheid sit nie aan die buitekant nie. Die ma het dit ongetwyfeld by die huis nog gebad. Die vuil sit aan die binnekant. Daardie kind is, hoe klein ook al, in sonde ontvang en gebore. Daarom kan dit so geen kind van God wees nie. Want vir God is die sonde onverdraaglik.

Dit sê daardie bietjie water by die doop.

Maar die water wys terselfdertyd: die kind word darem skoongewas. God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees wil hierdie kind skoonwas. En nogtans 'n plek gee in God se Koninkryk. Dit belowe die water ook.

So eenvoudig is eintlik God se boodskap aan ons. 'n Kind kan dit al verstaan.

So is dit ook met die sakrament van die nagmaal: voor in die kerk word aan 'n tafel brood gebreek en rooi wyn geskenk. Dit laat almal onwillekeurig terugdink aan die dood van God se Seun op Gogotha. Maar daardie brood en wyn word vervolgens rondgedeel met die oproep: "neem, eet, drink almal daaruit.... ". Want Christus se dood is ons brood. Hy het gesterf sodat ons sou lewe. Sy dood is ons lewensmiddel. Ook dit kan 'n kind verstaan.

Maar wanneer die doopwater en die brood en wyn by die nagmaal op hierdie wyse God se boodskap in die Bybel sigbaar verduidelik, het hulle tegelyk ook die krag van 'n waarborg. Die Kategismus sê mos: hulle beseël daardie boodskap ook. Net so seker as wat ons eendag die doopwater op ons voorkop ontvang het, wil God ons sondes van ons af weg was deur Christus se bloed en Gees. Net so seker as wat ik die nagmaalsbrood en wyn deurgesluk het, mag ek glo dat Christus ook vir my aan die kruis gesterf het.

Die twee sakramente vorm dus maar net 'n ekstra aansporing om die HERE op sy Woord te glo. Hulle gee niks in hulleself nie. Hulle bind ons maar net God se beloftes des te sterker op die hart. Daarom help dit ook nie om gedoop te wees as ek myself nie daardeur laat aanspoor om my sondes deur Christus te láát afwas nie. Dan maak die doop my maar net skuldiger voor God.

Dit help ook nie om male sonder tal die nagmaal te vier as u uself nie daardeur laat aanspoor om die volkome versoening van al u sondes by Christus alleen te soek nie. Dan eet en drink u juis al hoe meer 'n oordeel oor uself.

Maar as die Gees van God 'n mensehart ontvanklik maak vir God se genadige beloftes, word die sakramente 'n wonderlike hulpmiddel om alle twyfel aan God se beloftes uit te ban. Dan leer mense om selfs uit die mees verskriklike sondes weer op te staan en met God verder te gaan in 'n vrye gewete. Daar is mos volkome vergewing van al ons sondes! Wie durf daaraan nog te twyfel noudat God dit so sigbaar en duidelik gewaarborg het?

3. Die hoofvraag vanaand was, broeders en susters: waarvandaan kom ons geloof? Wat maak ons tot mense wat hulleself in geloof aan God oorgee?

Die antwoord is dus: God self, in die Persoon van die Heilige Gees, bewerk en versterk die geloof in ons. Deur die Bybel met die sakramente as ondersteuning daarby.

Ek moet egter nog u aandag vra vir 'n paar opvallende woordjies wat die Kategismus in Sondag 25 gebruik as ons op die werk van die Gees gewys word.

Die Gees werk die geloof deur "die verkondiging van" die Evangelie. En Hy versterk dit deur "die gebruik van" die sakramente. As 'n mens na die oorspronklike tekste van die Kategismus kyk, blyk dit dat met die woordjie gebruik die bediening deur die ampsdraers bedoel is.

Met ander woorde: die Heilige Gees skakel mense is om God se goeie Woord ons op die hart te bind.

Dis nie genoeg om 'n Bybel te koop en by die huis vir uself te lees nie. U kan ook nie self by die huis u eie kinders doop en as gesin die nagmaal vier nie.

Die Gees van God gebruik 'n kerk met ampsdraers in om die Woord van u God aan u voor te hou.

Ons kan ook nie sending drywe en evangelisasiewerk doen deur maar net so veel as moontlik Bybels in allerhande tale te laat druk en te versprei nie. Dit is wel pragtige en noodsaaklike hulpmiddels. Maar daar sal tog ook manne uitgestuur moet word om as knegte van die Gees God se Woord aan die man te bring.

So het die HERE van ouds met sy verbond na die mens toe gekom. Profete is gestuur om sy woorde van liefde oor te dra en om 'n appèl te doen op die hart van die volk. Christus het apostels gekies om na sy terugkeer na die hemel sy oproep tot geloof en bekering orals op aarde te laat hoor. Daardie apostels het in die gemeentes van gelowiges wat as gevolg van hulle prediking ontstaan het, weer ouderlinge en diakens aangestel.

Daardie manne kom nie met hulle eie woorde na die mense toe nie. Hulle mag sê: God self roep julle deur ons mond op: laat julle met God versoen!

In die mense kom God baie dig na u toe, gemeente. U hemelse Vader en u Heiland het nie volstaan met 'n algemene, vir almal gelyke boodskap op papier nie, maar sorg daarvoor dat hul liefdesboodskap ook heel persoonlik op u afsonderlik mondeling toegespits word. Hy spreek u deur sy ampsdraers aan in u eie tyd en in u eie omstandighede. Hy spreek direk in op u heel persoonlike stryd en verdriet, Hy help u baie konkreet help om die sondes wat in u lewe steeds kop uitsteek, raak te sien en te bely. Hy bring al Christus se weldade sommer by u tuis, persoonlik geadresseer.

Ja, dit maak alles in die kerk nog gewoner: daar word eintlik maar net gepraat en dit is selfs heel gewone manne wat aan die woord kom.

Maar ons het hier te make met die wonder van die gewoonheid. Op hierdie wyse wil die God van die hemel en die aarde met ons te make hê!

Moet u dus nie te gou vererg oor daardie gewone manne wat as ampsdraers geroep is om God se Woorde aan u voor te hou nie, gemeente.

'n Mens kan te veel eer gee vir die ampsdraers. Dit het in die Roomse Kerk gebeur. Aangesien hulle die beskikking het oor daardie belangrike sakramente wat soos medisyne jou weer gesondmaak voor God, is en word hulle nog steeds as meer as gewone mense vereer, ja aanbid. Jou lewe en toekoms lê mos in hulle hande!

Maar 'n mens kan ook te weinig eer aan die ampsdraers gee. Dit sien ons by verskeie sektes wat die gewone woord wat gewone manne volgens die Skrif spreek, minag omdat hulle hul liewer laat lei deur sogenaamde regstreekse ingewings wat die Heilige Gees sou gee.

Maar dit kan ewegoed by uself gebeur as u u vervies oor die konkrete persoonlike vermaan waarmee u wykpredikant of -ouderling of -diaken u na u God kom terugroep en u uself aan daardie vermaan probeer onttrek.

Dan onttrek u u nie maar net aan 'n lastige mens nie. Dan verset u u teen die Heilige Gees van God. Dan sluit u uself af vir Christus wat u in al sy weldade wou laat bly deel.

Onthou u nog wat ons aan die begin van hierdie diens gesing het, Psalm 95?

"As jul vandag sy roepstem hoor,
verhard jul nie, maar neig jul oor,
merk op die roep van sy ontferming. "

God se roepstem het ook in hierdie preek uit die mond van 'n gewone en gebrekkige mens na u toe gekom.

Maar dit wás die roep van Gods ontferming.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)