Die proef op die som van die evangelie van die vrye genade

Predikant: 
Ds RH Bremmer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 24
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van Dr. R H Bremmer oor sondag 24 H. K.

Die proef op die som.

Lees: Mattheus 20: 1 - 16
Teks: Sondag 24 H. K.
Sing: Ps. 149: 1 en 4
na wet Ps 119: 61
na belydenis Ps 148: 1
Ps 19: 4 en 5
Ps 34: 8 en 9

Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

Ons ken almal die geskiedenis van die vrou wat ons Heiland hulde gebring het toe Jesus in die huis van Simon die Fariseer genooi was om daar te kom eet. Die teenstellings tussen ons Here Jesus en die Fariseers, het toe nog nie so hoog geloop dat dit onmoontlik was nie.

Jesus het net sy plek aan die tafel by Simon ingeneem as daar 'n sekere vrou uit die dorp inkom. Die vrou wat 'n sondige lewe gelei het, het gehoor dat Hy in die Fariseer se huis aan tafel was. Moontlik het die evangelieprediking van Jesus haar so beindruk dat sy 'n albaste flessie met reukolie gevat het om Hom te huldig. Waarskynlik het haar sondes haar so aangekla dat toe sy by Jesus kom, sy begin en huil sodat haar trane op sy voete drup. Daarna het sy, sy voete met haar hare afgedroog, hulle gesoen en met reukolie gesalf. So is Jesus deur 'n sondares gehuldig.

Ons weet hoe Simon daaroor by homself gedink het: "Hy, as hy 'n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy 'n sondares is. " Onvoorstelbaar mooi en duidelik het ons Heiland daar met die kort gelykenis van die twee skuldenaars op gereageer. "Die een het vyfhonderd rand geskuld en die ander een vyftig. Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het die geldskieter die skuld vir albei kwytgeskel. Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys? Simon antwoord: Ek veronderstel die een vir wie hy die meeste kwytgeskel het. "

Met die "ek veronderstel" het Simon nie rojaal geantwoord nie. Ons Heiland verwyt hom dan ook sy ongasvrye gedrag, wat skerp teen die hulde betoon van die vrou afsteek. Dan se ons Heiland vir Simon: "Ek se vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. " Het ons dit goed gehoor: haar sondes is nie vergewe, omdat sy veel liefde aan Jesus bewys het nie, maar omdat haar sondes wat baie was, vergewe is, het sy die liefde betoon!

In haar liefde betoon het die vrou getoon dat sy al haar hoop op Christus gestel het. Sy het vergewing van sondes ontvang en daaruit spontaan opgetree. Met hierdie gelykenis het ons in die hart van sondag 24 beland. Die kategismus maak hier die proef op die som van wat ons in die vorige sondag bely het. Alleen deur 'n ware geloof in Jesus Christus is daar vryspraak! Van ons is daar niks by nie, selfs ons geloof is maar net 'n instrument om die vergewing te ontvang. Alleen die bloed van Jesus en sy geregtigheid is my geregtigheid en anders niks nie.

Om dit goed by ons tuis te bring word daar 'n hele sondag van die kategismus aan gewy. Die regverdiging deur die geloof word in sondag 24 tot op die bot van die Christelike lewe deurgevoer. Daar steek geen verdienste in my goeie werke nie, nie in my geloof, nie in my hoop nie in my liefde nie, dit kan geen grond vir vergewing wees nie. Uit die vergewing van sondes gaan my geloof, hoop en liefde juis blom. Deur dit in sondag 24 so nadruklik te stel word tegelyk die roomse verdienstelikheidsleer nogeens kragtig afgewys. In sondag 23 het ons bely: Daar is ons veel vergewe, daarom het ons baie lief, dis beslis nie andersom nie. Dit is sondag 24. Ons spreek oor:

DIE PROEF OP DIE SOM VAN DIE EVANGELIE VAN DIE VRYE GENADE.

Ons sien dit:

  1. By ons geloof;
  2. By ons hoop;
  3. By ons liefde.

I Sondag 24 begin met 'n indringende vraag: Maar waarom kan ons goeie werke nie die geregtigheid voor God of 'n deel daarvan wees nie?

In die eerste twee woorde 'maar waarom' kom die indringendheid na ons toe. Deur die vraag oplettend te lees kan ons raaksien dat die vraag uit die roomse hoek kom. In die sestiende eeu was die roomse suurdeeg nog nie geheel uit die kerke van die reformasie uitgeban nie, terwyl ook die diskussie met Rome oor sonde en genade nog voortgang gevind het. Ursinus en Olevianus het gestaan vir hul geloof en die roomse teensprekers nie uit die pad gegaan nie.

Die vraag wat met 'maar waarom' begin spreek ook van 'n seker ongeduld. Hoe het ek dit nou, is die christelike lewe vir God van geen waarde nie? Waarom sal ons op hierdie gereformeerde standpunt ons nog vir God inspan as daar tog geen waarde aan geheg word nie? En as ons goeie werke, die hele christelike lewe, in sy geheel nie vir God verdienstelik is nie, kan dit dan miskien vir 'n deel waarde he?

Dis hoog belangrike sake wat hier in ons verhouding tot God aan die orde kom. Sien ons raak wat daaragter skuil? Dis die mensbeskouing! In die roomse geloofsleer word baie meer optimisties oor die mens gepraat as wat die gereformeerdes dit doen. Volgens Rome is die val van die mens nie so diep dat hy onbekwaam vir enige goeie werk is nie. Ook in die hede het die roomse kerk nuwe styl, die optimistiese siening behou. Die roomse teologie van vandag is van horisontalisme en medemenslikheid deurtrek. Daar word op 'n nuwe samelewing met nuwe mense wat die vrede op aarde sal bring, gehoop. Die roomse teoloog Schillebeeckx en andere teoloe meen dat dit beslis bereikbaar is. Die genade van God sluit by die goeie aan wat nog in die menslike natuur oor gebly het. So maak hulle van die kerk 'n sosiale instelling wat die mens moet verbeter.

So kan vandag gehoor word dat die kategismus uit die tyd is. Waarom het die gereformeerdes so'n pessimistiese mensbeskouing, dis mos glad nie meer aktueel nie? As so gedink word dan word die plank goed mis geslaan. Die kategismus het die teenpraters rustig aangehoor, maar nou hulle hul saak gestel het, kom sy in antwoord 62 met twee gewigtige argumente vorentoe, naamlik: Die geregtigheid wat voor die strafgerig van God bestaan kan, moet heeltemal volkome en in alle dele gelykvormig aan die wet van God wees. Dis die eerste argument en die tweede een is dat ook ons beste werke in hierdie lewe almal onvolkome en met sondes bevlek is.

Die kategismus het die belangrikste een voorop geset: Watter geregtigheid kan voor die strafgerig van God bestaan? Die woord geregtigheid is geen eenvoudig begrip nie, ons moet daarop ag gee dat die woord "reg" daarin is. Dit gaan daarom of ons reg vir God staan. Daarin word die hart van die verskil tussen Rome en ons geraak. Ons het netnou die optimistiese mensbeskouing van Rome genoem. Hier in antwoord 62 sien ons dat daar ook 'n diepgaande verskil tussen ons en hul siening op God bestaan.

Hoe staan ons teenoor God? Hoe beoordeel God ons? Op hierdie vraag gee die roomse teoloe nog dieselfde antwoord as hulle in die tyd van die groot reformasie gegee het. Hulle sien, om so te se, God as die grote ouditeur wat die balans, die verhouding van laste en bates, van elke mense lewe ondersoek. Onder die laste word ons sondes en tekortkomings geboek, terwyl vir die gelowiges die kruisverdienste van Christus tot die bates gereken word.

Volgens Rome is die verdienste van Christus nie genoeg om teen die laste op te weeg nie, daarom moet deur goeie werke die verdienste van Christus aangevul word. Rome let nie op die kwaliteit, maar op die kwantiteit. Die Goeie werk van Christus moet met goeie werke van die gelowiges aangevul word om teenoor die hoeveelheid sondes en tekortkomings positief te balanseer. Die reformasie het juis weer die volkome voldoening, geregtigheid en heiligheid van Christus wat ons geskenk en toegereken word as die wonder van die liefde van God bely!

Die apostel Paulus, het ook met hierdie siening geworstel. Die fariseers van sy dae, het ook dieselfde siening in die verhouding van God en mens gehad. Teenoor hul sondes was hul gehoorsaamheid aan die wet van God voldoende vir 'n positiewe balans. 'n Saligmaker het hulle glad nie nodig nie. Hoe het Paulus deur die genade van God op die pad na Damaskus tot 'n ander siening gekom. Die wet van God kla aan, die wet veroordeel, deur die wet van God word ons aan ons skuld ontdek.

Die wet van God is nie maar net 'n opsomming van losse wetsbepalings nie, maar dis 'n vurige wet wat volmaakte liefde tot God en die naaste eis. In die wet is ons in hande van die heilige majesteit van God wat ons aan die wet toets. Daarin word ons met sy eie goddelike heiligheid gekonfronteer. Soos Paulus in Galasiers 3: 10 skrywe: "Almal wat staat maak op die onderhouding van die wet, val onder die vloek, want daar staan geskrywe: Daar rus 'n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie. " Dis nie die hoeveelheid wetswerke nie, maar dit gaan om die kwaliteit, die wet moet stiptelik onderhou word!

Hoe kom 'n mens uit die konfrontasie met die wet te voorskyn? Paulus se almal wat sy hoop op die werke van die wet bou is vervloek. Luister ook na Jakobus wat meer as al die ander apostels op die onderhou van die wet, nadruk gele het: "As iemand die hele wet onderhou maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie. " (Jak. 2: 10) Die wet van God is 'n eenheid. Daarom moet die geregtigheid wat voor die gerig van God kan bestaan, in alle opsigte met die wet van God in ooreenstemming wees.

Dan is daar nog die tweede argument van antwoord 62 dat ons beste werke in hierdie lewe almal onvolkome en met sondes bevlek is. Daarby word na aangrypende woord van Jesaja 64: 6 verwys: Ons het almal geword soos mense wat onrein is, ons beste dade is soos vuil klere; ons is almal soos verdroogde blare, ons word deur ons sondes weggewaai soos deur 'n wind. In die grondteks staan daar in die plek van vuil klere letterlik: maandstonde doeke, besoedel met menstruasie bloed. So is ons geregtigheid vir God, se Jesaja, om weg te gooi hulle is besoedel, onrein en kan vir God nie bestaan nie.

Maar nou vra ons tog: As God deur Jesaja ons werke so sterk veroordeel, watter nut het dit dan om vir die koninkryk van God te werk? Met alle mag verdedig ons die christelike lewenspatroon en met krag staan ons die sekularisering teen. Ons onderhou ons eie skool, is dit dan almal sinloos? Van Sagaria en Elisabet se die Skrif tog maar dat hulle onberispelik al die gebooie en voorskrifte van die Here onderhou het. (Lukas 1: 6) Het dit dan geen sin nie? Virseker gemeente, maar nooit as 'n grond om daardeur vir God regverdig te wees nie.

Het Dawid op sy lewenslange diens vir die Here kan wys, toe hy met Batseba gesondig het? Dis hy wat die ark van die Here na die Sionsberg opgevoer het, wat skatte versamel het sodat Salomo die huis vir die Here kon bou. Hoor wat hy gesing het nadat hy sy sonde vir God bely het: "Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees. " (Ps. 51: 9) In vers 19 vervolg hy dan: "Die offer wat U wil he, o God, is verootmoediging: U sal 'n hart vol ootmoed nie gering ag nie, o God. " Waarop het Sagaria gesteun toe hy vanwee sy ongeloof in die boodskap dat uit Elisabet vir hom 'n seun gebore sou word, met stomheid geslaan is? Het hy op sy onberispelike priester lewe vir God gewys? Nee hy het sy ongeloof bely en tot die barmhartigheid van God sy toevlug geneem. In sy lofsang het hy heerlik van die verlossing vir die volk van God en sy barmhartigheid gespreek.

So word ons deur die radikale antwoord 62 na die enigste geregtigheid gedring wat voor die oe van God kan bestaan, naamlik: die geregtigheid van ons Here Jesus Christus. So word in sondag 24 gehandhaaf dat ons alleen deur die geloof regverdig voor God is. Alleen uit die werk wat Christus vir ons volbring het kan die christelike lewe groei en blom. Die christelike lewe kan nooit die grond word om voor god te kan bestaan nie, maar dit kan wel oor ons lewe die gloed van die vergewing van die sondes le.

Soos die Heiland in die huis van Simon die fariseer oor die sondares gese het: "Omdat haar sondes wat baie is vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. " As daar so uit die vergewing van die sondes gelewe word dan sal ook alle krampagtigheid uit ons lewe wyk.

Hoe is dit moontlik dat ons christelike lewe so star en vreugdeloos is? word daar nie te min uit die geloof in die vryspraak van ons skuld om Christus ontwil gelewe nie? Daarin kry ons die proef op die som of daar uit die regverdiging van Christus gelewe word.

II Intussen het die teenspreker die kerk van die reformasie opnuut 'n argument voor die voete gegooi, om die regverdiging uit die geloof te bestry. Hy vra: Hoe? Verdien ons goeie werke niks nie, terwyl God hulle tog in hierdie en in die toekomende lewe wil beloon? Dit lyk of hy die Bybel aan sy kant het gemeente. Lees maar Genesis 15: 1 Daar se God vir Abraham: "Moenie bang wees nie, Abram, Ek beskerm jou! Jou beloning sal baie groot wees. " Eintlik staan daar: Ek is jou loon. Kan daar aan 'n groter loon gedink word? Dink aan Psalm 19: 12: "Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning. " Christus self se in die einde van Openbaring: "Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. " (Openb. 22: 12) Die teenspreker se nou: sien jy waar loon is daar moet ook verdienste wees. Eers as jy 'n maand gewerk het kry jy jou salaris tjek, sal dit in die koninkryk van die hemel anders wees?

Lees nou antwoord 63 hoe die teenspraak weerle word. Die antwoord is sorgvuldig geformuleer: Hierdie beloning word nie uit verdienste gegee nie, maar uit genade. Op die eerste gesig lyk dit eintlik vreemd. Uit genade wil mos se dat daar glad geen werk in die prentjie is nie. Uit genade beteken verniet. Dis ook die regte betekenis. Hierdie antwoord sou ook vreemd wees as ons met 'n ooreenkoms uit die ekonomiese sektor te doen het.

Ons is hier egter in die koninkryk van die hemele, daar gebeur dinge nie volgens ons regulasies nie. In ons oe mag dit vreemd wees, maar nie in die oe van God nie. Hy wil he dat ons dinge deur sy oe moet sien. Ons Here help ons daarmee met die sprekende gelykenis in Lukas 17 waar Jesus vir sy dissipels se: "Se nou een van julle het 'n slaaf wat ploeg of vee oppas. Sal hy vir die slaaf se as hy van die veld af inkom: kom eet eers gou? Natuurlik nie! Maar hy sal vir hom se: Maak vir my iets klaar vir aandete. Sit dan jou voorskoot aan en kom bedien my terwyl ek eet en drink. Daarna kan jyself eet en drink". 'n Slaaf wat sy opdrag uitvoer word mos nie bedank nie, of hoe? So is dit ook met julle: as julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, se dan: "Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen. "

So was dit in die verhouding van daardie dae. 'n Slaaf het niks verdien nie, sy heer het hom gekoop om hom te dien! So is dit ook met ons. As ons doen wat ons Here wat ons met sy bloed gekoop het, ons opdra dan het ons glad geen rede om ons bors uit te stoot nie. Ons is slawe van ons Here wat niks verdien nie. As ons met alle mag vir ons Here werk, doen ons nog maar net dit, waarvoor Hy ons gekoop en betaal het. Wanneer ons dan tog beloon word, selfs met nie minder as die ewige lewe nie - wat 'n heerlike loon - is dit nog steeds geen verdiende loon nie.

Gemeente, ons kan dit nie nalaat om die aandag op nog 'n gelykenis te rig nie. Naamlik die uit Matt. 20 wat ons netnou saam gelees het. Daar is verklaarders wat moeite met die verklaring het, maar as ons die gelykenis rustig oorweeg sal ons daarin 'n indringende evangelie verkondiging vind.

Dit gaan weer oor 'n heer, egter nou een wat vroeg in die more arbeiders huur, om vir 'n penning die dag in sy wingerd te werk. Teen nege-uur gaan hy weer uit en sien ander werkloos op die mark rondstaan. Hy se vir hulle: 'Gaan werk julle ook in my wingerd en wat billik is sal ek julle betaal. ' Hulle is toe soontoe. Teen twaalf uur en drie uur het hy weer uitgegaan en dieselfde gedoen. Selfs om vyf uur het hy nog arbeiders aangeneem om in sy wyngaard te werk. Toe die dag klaar was het hy die arbeiders geroep en begin met die laaste, om almal 'n penning te betaal. Die mense wat die eerste uur gehuur is het toe by die eienaar gekla en gese: "Hierdie laastes het net een uur gewerk en nou betaal u hulle dieselfde loon as vir ons wat die hele dag hard in die warm son gewerk het. " Hulle het dit onregverdig gevind en ons het die neiging om met hulle saam te stem.

Ons moet die gelykenis egter goed lees, daar is enkele besonderhede wat ons nie mis moet kyk nie. Die gelykenis is met sorg deur die Here opgebou. Ten eerste moet opval dat net met die eerste arbeiders 'n afspraak oor die loon gemaak is. Vir die ander is belowe dat hulle billik betaal sou word. In die tweede plek het die heer opdrag gegee dat die werkers van die eerste uur laaste hul loon moes ontvang. Sodat die werkers van die eerste uur kon sien wat die laastes ontvang het. Die eienaar het so die arbeiders beproef: het hulle met plesier vir hom gewerk, of het dit net om die beloning gegaan. En hulle word uitgevang dat dit net om die geld was. Daarop het die eienaar vir die werkers gese: "Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir die gewone dagloon nie? .... Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is? "

Gemeente, watter arbeider in die wingerd sou ons wees? Is ons werkers van die eerste uur? Partymaal kan 'n mens wel so dink as gehoor word hoe ons oor ons broeders en susters oordeel. Dring dit wel voldoende tot ons deur dat dit enkel genade is om as werkers van die eerste uur in die wingerd van ons Here te mag werk. Dan sal ons ook nie kla as die Here 'n uur voor die einde van die werkdag nog mense inneem wat ons voorgaan nie.

Weet ons, die getal van hulle wat die Here in diens wil neem, of die diens waartoe hulle geroep is? Net voor hierdie gelykenis se Christus: Baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste. Ons loon word uit vrye genade deur God bepaal. Dis wat hierdie gelykenis vir ons leer. Dan kan laastes ryker as eerstes beloon word.

Nog een ding moet ons raaksien. Die loon wat God uit genade skenk, is nie gering nie. Ons het 'n rojale hemelse Vader wat volgens vraag 63 in hierdie en in die toekomende lewe ons goeie werke wil beloon. In die bergrede se Christus: Wees bly en verheug want julle loon is groot in die hemel. (Matt. 5: 12) Ons Vaders het van grade van heerlikheid gepraat. In die ewige lewe word nie elkeen gelyk beloon nie en tog word daar niks van die volkomeheid van die hemelse heerlikheid afgedoen nie.

Dis weleens so verduidelik: Die bekers waarin die nuwe wyn geskenk sal word is nie almal ewe groot nie, maar hulle is wel almal tot die rand toe vol. So word in sondag 24 in die loon wat ons toegese word die proef op die som gelewer. Dit is genadeloon en ons christelike hoop is op die heerlikheid gerig wat ons uit genade toegese en geskenk word.

Die teenspreker is nou byna stil gemaak. Daar is egter nog een pyl wat hy op sy boog het. Hy vra: Maar maak hierdie leer nie sorgelose en goddelose mense nie? Saam met antwoord 64 se ons kliphard, nee! Nee; want dit is onmoontlik dat iemand wat in Christus deur 'n waaragtige geloof ingeplant is, geen vrugte van dankbaarheid sou voortbring nie.

Voel ons, hoe hierdie antwoord van verontwaardiging vibreer? Dink net dat die leer van die vrye, soewereine, genade, sorgelose en goddelose mense sou maak. Die kategismus se nie dat daar in die kerk nie van daardie mense is nie. 'n Verklaarder uit vroeer dae skryf dat daar bosse van die mense in die kerk is. Dan kry tog die skrik jou beet en hoop jy dat dit onderons nie die geval is nie. Virseker kom dit nie uit die leer van die evangelie voort nie.

Inderdaad kom ons partymaal wel met mense in die kerk in aanraking wat hulle glad geen enkele sorg oor hul ewige saligheid maak nie. Hulle moet hulself die vraag van Paulus voorhou: " Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? " (Rom. 6: 1) Vurig hoop ons dat elkeen daar hartgrondig nee op antwoord.

Ons bely: dis onmoontlik dat die leer van die kerk sorgelose en goddelose mense maak nie. Dis geen onmoontlikheid in natuurnoodwendige sin nie, soos: dis onmoonlik dat 'n klip boontoe val nie. Vanuit God en vanuit die volbragte werk van Christus gesien, is dit onmoontlik. Elkeen wat in Christus, die ware Wingerdstok ingeplant is, bring uit die krag van Christus baie vrugte voort. Christus se: "Wie in my bly en Ek in hom, dra baie vrugte. " (Joh. 15: 5)

Dink nog 'n maal aan die vrou wat 'n sondares was. Omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Of 'n voorbeeld wat in waterarme streke duidelik spreek: Dis soos met iemand wat 'n boorgat laat sink en daar word 'n wateraar raakgeboor sodat die water daar uitspuit. So is dit met elkeen wat hom in Christus laat inplant. Hy sal sy Heiland hartlik liefhe en sy hele lewe 'n lewende dankoffer wil maak. Sonder My, se Christius in die gelykenis van die wingerdstok, sonder My kan julle niks doen nie.

So het ons saam met ons belydenis van sondag 24 die proef op die som van sondag 23 ontvang. Die teenspreker se mond is stil gemaak. Opgewek gaan ons nou saam met die kategismus in sondag 25 verder oor die genademiddele, oor Woord en sakramente spreek en nadink. Want die vrye en soewereine genade is veilig gestel. Veilig gestel uit die volbragte werk van ons Heiland Jesus Christus ons Here en in die vrye genade van God. Die proef op die som!

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)