Ons ontvang van God genade op genade

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 24
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 24 H K

LITURGIE:
Ps. 32: 1, 4
Gebed
L. Gal. 2: 15-3: 11
Prediking
Ps. 5: 11
Geloofsbelydenis
Ps. 40: 5
Gebed
Kollekte
SB.24: 3, 6, 7

Broeders en susters,

Een van die woorde wat ons in die kerk dikwels gebruik, is die woordjie "Genade". Want daardie woord word nou maar eenmaal dikwels gebruik in die Bybel en in ons Belydenisskrifte. Jy leer dit as kind reeds spel in die katkisasieklas.

Maar die gevaar is nie denkbeeldig nie dat ons hierdie belangrike woord alte maklik in die mond neem. Ons kan hierdie woord sommer gebruik sonder om nog die diepte daarvan te besef.

Want daardie woord is maklik gesê, maar die betekenis daarvan word selfs deur kerkmense nie maklik verstaan en aanvaar nie.

Genade is mos 'n baie vernederende woord vir hoogmoedige mense. Dit beteken: jy het self niks meer nie, jy kan niks meer nie, jy is volslae aan 'n ander uitgelewer. Wanneer tydens 'n verbete geveg van twee mense op lewe en dood die een mens weet dat hy verloor het, en die mespunt van die ander reeds in sy keel begin dring, kyk, in so'n situasie skreeu jy om genade.

Dieselfde vernedering ondergaan soldate wanneer hulle na 'n hewige vuurgeveg met die vyand gedwing is om die wit vlag uit te steek. As hulle dit moet doen, leef daar die ene verbittering in hulle harte, en lê daar dalk 'n vloek op hul lippe.

So, soos daardie man met die mes op sy keel, en soos daardie soldate wat gewing is om die wit vlag uit te steek, so is ons teenoor God, gemeente.

Ons het alleen nog lewe en toekoms as God ons genade wil bewys.

Dit is dan ook nie verwonderlik nie dat daar regdeur die eeue mense was wat teen boodskap van die Bybel dat ons slegs van genade kan lewe, in verset gekom het. Op allerhande manier is geprobeer om aan die vernedering van daardie woordjie genade te kan ontkom. Telkens is nuwe pogings gedoen, baie slim en vroomskynend partymaal, om die mens teenoor God 'n bietjie meer aansien te gee.

Ek is vanoggend geroepe om u al sulke pogings uit hande te neem. Ek moet u leer om te aanvaar dat God se genade u enigste redding is. Ja, ek moet u leer om sy genade wat Hy aan u wil bewys, nie met 'n vloek op die lippe en met verbittering in die hart nie, maar met 'n hart vol dankbaarheid en 'n psalm op die lippe te aanvaar.

Ek verkondig u:

ONS ONTVANG VAN GOD GENADE OP GENADE

  1. ONS MAG AS GODDELOSE SONDAARS REKLASSEER
  2. GOD WIL ONS DAARBY MET BELONINGS STIMULEER
  3. MAAR ONS KAN ONSSELF DAARMEE NIE REHABILITEER

1. Genade is ook 'n woord dat gebruik word met betrekking tot misdadigers, broeders en susters. Rowers, moordenaars, terroriste wat die doodstraf of lewenslange tronkstraf verdien het, kan deur die Staatspresident begenadig word. Hulle kry dan 'n aansienlike strafvermindering, of in bepaalde gevalle self kwytskelding van verdere straf.

Sulke mense is ons in God se oë. Moordenaars, rowers, verkragters....... Mense wat die ewige tronkstraf van die hel verdien.

Ons het verlede sondag daarby stilgestaan.

Maar sulke goddelose sondaars ontvang van die HERE sonder enige voorwaarde vooraf 'n totale begenadiging. Die HERE is die God wat goddeloses regverdig verklaar en van straf vryspreek.

As die Staatspresident 'n misdadiger vryspreek, moet daar tenminste aan 'n aantal voorwaardes voldoen wees: daar moet tenminste blyke van skuldbesef wees, daar moet ook die belofte wees dat hy na sy vrylating nie dadelik met sy vroeëre praktyke aangaan nie.

Maar die HERE stel nie eens 'n voorwaarde vooraf nie. Hy wag nie tot daar by ons voldoende skuldbesef is nie, Hy toets nie van tevore of daar alreeds blyke van bekering gekom het nie- hy spreek skuldige wetsoortreders sommer vry. Hy roep hulle voor sy regterstoel, konfronteer hulle met hul afstootlike misdade, maar wys dan op Christus wat klaar die straf vir ons gedra het en sê: My kind, jou sondes is jou vergewe. Jy kan My maar glo op my woord.

En dit nie net een keer nie. Maar keer op keer. Elke keer opnuut. So dikwels Hy met die Evangeliewoord na ons toekom.

Maar kry jy op so'n manier nie sorgelose en onverskillige mense nie? Mense wat onbekommerd aangaan met hul sondige lewenspraktyke omdat God mos sommer hul oortredings vergewe? Mense wat nie meer omgee dat hulle God se goeie wet oortree nie, aangesien God blykbaar self ook nie omgee nie?

U weet dalk, dié vraag het die Roomses altyd aan die Gereformeerde Kerke voorgehou. Dit was hul bekommernis: as jy maar net aan die mense voorhou dat God goddeloses regverdig verklaar, sal g'n mens hom meer beywer om 'n godvresende lewe te lei nie. Dis hoekom die Roomse Kerk op die doen van goeie werke aandring as 'n middel om vrymoedig voor God se regterstoel te kan verskyn.

En dieselfde bekommernis speel 'n rol by dié mense wat wel self tot die kerke van die Reformasie behoort maar leer dat 'n mens darem eers 'n besondere worsteling met God moet deurmaak, 'n Pniël-ervaring moet kry, deur die donker tonnel van skuldbesef moet kruip voordat God jou jou sondes wil vergewe. (U onthou dat ek verlede week veral ook op dié gedagtes ingegaan het).

Maak die leer van Genade alleen dit nie alte maklik vir ons nie? Kweek jy daarmee geen outomatisme nie? Kan misdadigers dan maar gewoon aangaan en sondig? !

Nee, dit kan inderdaad nie. Ons kan nie gewoon aangaan met ons goddelose lewensstyl nie. Dit is vir God heeltemal onaanvaarbaar.

Maar: God eis geen lewensverbetering vooraf nie. Want as Hy dit sou eis, sou Hy geen mens kon vryspreek nie. Watter mens gaan dit mos regkry om self sy lewe sodanig te verbeter dat dit vir God aanvaarbaar is?? En sê-nou daar sou mense wees wat dit kon regkry- dan sou God nie langer die God van genade wees nie. Want dan sou daardie mense dit sélf verdien het om van hul sondes vrygespreek te word.

Nee, ons ontvang vergewing van al ons sondes uit genade alleen!

Maar daarna gaan die HERE nog verder met sy genade. Hy laat ons nie weer op eie bene staan nie. Hy Laat ons nie die tronkstraf van die hel vryspring om vervolgens te kyk wat ons met ons onverdiende vryheid gaan maak nie. Dán sou jy inderdaad sorgelose en roekelose mense gekry het.

Maar die HERE sorg ook Self vir 'n lewensverbetering dadelik na Hy ons vrygespreek het.

Hy skenk ons genade op genade!

Eers begenadig Hy ons danksy Christus se Advokaatswerk vir ons. Maar daarna begin Hy ook dadelik aan ons reklassering, ons heropvoeding, werk sodat ons weer in die normale lewe kan terugkeer. En u verstaan: ek bedoel met normale lewe die lewe volgens God se goeie norme soos Hy dit oorspronklik bedoel het.

Die HERE wil ons as normale mense terughê in sy wêreld. Ons moet weer die plekke inneem wat Hy oorspronklik vir ons bestem het. Ons moet weer verantwoordelikhede kan dra is sy skepping.

Uit onsself is ons tot dié taak nooit meer in staat nie. Die sonde het sulke diep wortels in ons lewe dat ons feitlik totaal onbruikbaar vir die HERE is. Maar Hy plaas ons na ons begenadiging onder staatstoesig. Die Advokaat wat ons vryspraak bewerk het, neem ons ook verder vir sy rekening. Ons Here Jesus Christus bly Homself persoonlik verantwoordelik stel vir ons.

Die Kategismus gebruik in antw. 64 die beeld van takke en 'n boom: soos 'n tak op 'n boom geënt kan word, so word ons by ons begenadiging op Christus geënt sodat ons voortaan onlosmaaklik aan Hom verbonde bly. U weet dat die Kategismus in navolging van die Skrif ook wel 'n metafoor gebruik wat nog sterker is: ons word by Christus ingelyf sodat ons voortaan een liggaam met Hom vorm en Hy as die Hoof, die brein, ons almal volledig regeer. Sy Gees beheers nou ook ons.

Dit is dit ook wat Paulus bedoel in daardie verse wat ons uit sy brief aan die Galasiërs gelees het (2: 20): "Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my". Met ander woorde: ek gaan nie meer my eie gang nie, maar Christus se Gees beheers voortaan my lewe.

Maar kyk dan ook nog gou met my na die verse 2 en 5 van hoofstuk 3 uit daardie brief: het die Heilige Gees eers gekom nadat daardie broeders en susters hulle volgens die wet van God tot die HERE bekeer het? Nee, die prediking van die geloof het na hulle toegekom, die evangelie dat God goddeloses regverdig verklaar is aan hulle verkondig met die bevel om dit eenvoudig te gló. En toé het Christus se Gees sy kragte onder hulle begin werk.

As ek die beeldspraak van die reklassering deurtrek, kan ek sê: ons Advokaat Christus gee na ons begenadiging sy Heilige Gees as 'n permanente begeleier aan ons saam om ons 'n heropvoeding in God se wêreld te laat deurmaak. Christus se Gees leer ons weer heel geduldig om volgens God se gebooie te lewe. Hy leer ons om weer raak te sien hoe goed en heilsaam God se wet feitlik is. Hy oorwin heelwat slegte gedagtes wat in ons opkom. Hy maak ons al hoe meer tot mense wat weer bruikbaar is in God se Koninkryk omdat ons weer van harte gewillig en bereid is om nie meer vir onsself nie, maar vir ons HERE te lewe.

Dit gaan moeisaam, ons ou sondige aard steek nog voortdurend kop uit. Maar die Gees gee nie moed op nie. God het vir ons danksy Christus die terugkeer in die normale lewe weer oopgesluit, dus moét ons nou ook al hoe meer weer normale mense word. Ja, die Gees sal nie rus voordat Hy die doelwit bereik het nie.

Maak die Evangelie van God se vryspraak van goddelose sondaars onverskillige, roekelose mense? Bly goddelose sondaars feitlik goddeloos as jy so maklik vergewing van sondes aan hulle voorhou?

Nee, glad nie. God Self beywer Hom daarvoor dat daardie begenadigde goddeloses nie goddeloos bly nie. Hy bewerk ook 'n volledige lewensvernuwing.

Besef u nog, gemeente, dat Hy ons daarmee genade op genade bewys? Bekering, verandering van lewensstyl, goeie werke soos ons dit meestal maar noem, is nie iets wat ons moet presteer om vir die HERE aanvaarbaar te word nie.

Hoe dikwels sug mense onder die oproep tot daaglikse bekering. Ons opgroeiende kinders kan soms die lewensstyl wat deur pa en ma en die ampsdraers aan hulle voorgehou word, maar as lastig en moeilik ervaar.

Maar hoe kan ons dit moeilik en lastig noem? ! Bekering is 'n ekstra genade wat God aan ons bewys. God is daarin besig om ons, nadat Hy ons voor die poorte van die hele weggesleep het, weer 'n volwaardige plek in sy wêreld te skenk. Ons mag weer mens word soos God dit by die skepping bedoel het. Volmaakte mense wil Hy weer van ons maak, tot alle goeie werk volkome toegerus (2 Tim. 3: 17). God het nie in die sonde berus nie, maar is besig om ons vir 'n nuwe paradys reg te kry.

2. As u die genáde in God se reklasseringswerk aan u leer raaksien het, broeders en susters, raak u heeltemal stil van verwondering as ek u vervolgens mag vertel dat die HERE elke verbetering van u lewe ook nog wil belóón.

Die Bybel praat op talle plekke van so'n beloning van ons goeie werke.

Dit waaraan heelwat mense verbykyk, of waarmee hulle dalk heimelik die spot drywe omdat hulle dit nie mooi verstaan nie, daarvan sê God: "Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof en jou lydsaamheid en jou laaste werke wat meer is as die eerste" (Openb. 2: 19). En dan beloof Hy om dit ryklik te beloon.

Die HERE hou ons lewe noulettend dop. Hy weet van u persoonlike worsteling teen u ou geaardheid, teen die trekkrag van die sonde, teen u moeilike karakter. Hy noteer met blydskap elke oorwinning. Hy is getuie as u in u huwelik en gesin, teenoor u familie en kollegas stry teen rusie en selfsug en probeer om vredeliewend en vergewingsgesind te wees. Hy sien dit hoedat u u bes probeer om u kinders 'n godvresende opvoeding te gee sodat hulle deur die Heilige Gees geregeer sal word. Hy let daarop hoedat u uself opoffer vir die opbouing van Christus se gemeente en hoedat u beskroomd probeer om ook buite die kerk, by die werk, teenoor kennisse, die Naam van die HERE en sy kerk hoog te hou.

En Hy gee ons loon na werke.

Nie eers na ons dood nie. Ook nou alreeds in hierdie lewe.

Weet u waarmee die HERE ons vandag alreeds beloon, gemeente? Met blydskap, tevredenheid, vertroue, met liefde wat u terugontvang in die gemeenskap van die heiliges..... Daardie tipe dinge.

Wanneer u uself inset in die diens van die HERE, is u beloning dat u bewaar word vir 'n lewe van leegheid en oppervlakkigheid soos so veel mense lei. Wanneer u nie uself soek en u eie belange nie, maar die belange van die HERE en sy kerk, is u beloning dat u nie gepla word, soos so veel ander mense, deur daardie aanhoudende onrus, krampagtige bekommernis en ontevredenheid nie. U raak ontslae van gierigheid, en selfgesentreerdheid en kan bly en rojaal wees.

Wanneer u stry teen u hartstogte, u driftige karakter, u onversoenlikheid, ontvang u as beloning die egte geluk, huislike vrede, die aangrypende ontroering van 'n versoening na onenigheid.

U offers in die godvresende opvoeding van u kinders, in die uitdra van die Evangelie, in die ampsdiens in die kerk, verryk dalk die meeste uself: u insig word dieper, u kennis breër, u wysheid en bedagsaamheid groter, u geduld en selfbeheersing sterker...

So beloon die HERE vandag alreeds die resultate van sy opvoedingswerk in ons lewe. En u verstaan: daarmee wil Hy ons stimuleer om onsself al hoe gewilliger aan sy opvoedingsprogram te onderwerp. U moet ook self plesier kry in die vernuwing van ons lewe. Bekering moet vir ons geen lastige eis van 'n onverbiddelike God wees nie, maar 'n wonderlike herstel van 'n lewe wat ons eers deur die sonde verspeel het.

En wie homself so met al hoe meer vreugde aan hierdie heropvoeding deur Christus se Gees onderwerp, ontvang eendag in die toekomstige lewe die ewige vreugde as beloning. "Salig is die dooies wat in die Here sterwe", mog Johannes vir ons opskrywe, "Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hulle moeites wat daar in hierdie lewe nog was vanweë die sonde, en hulle werke volg met hulle". Met ander woorde: alle moeite van vandag om weer volgens God se goeie gebooie te lewe, word dan vir ewig beloon. Met die terugkeer in 'n volledig herstelde lewe, sonder sonde en sonder die vreeslike gevolge van die sonde.

Het ons dan aan die einde van die dag tog iets verdien? ! Is God wel verplig om ons eendag daardie loon uit te keer as ons vandag regtig ons bes geprobeer het om nie meer as goddeloses nie, maar as kinders van sy Koninkryk te lewe?

Natuurlik nie, gemeente.

Mense wat die doodstraf verdien, en dan sommer begenadig word, en weer in die maatskappy mag terugkeer, per grasie hul vroeëre werk terugkry en daarvoor ook nog betaal word- sulke mense ontvang mos maar net die ene genade na die ander. Hulle het alle regte verspeel, dus kan elke nuwe blyk van genade hulle maar net nog beskaamder en dankbaarder maak.

Alleen daarom beloon God ons goeie werke: sodat ons Hom al hoe meer sal dank en eer as die God van genade.

3. Maar maak die herstel van ons lewe danksy die opvoedingsprogram van Christus se Gees ons nie algaande tog 'n bietje meer aanvaarbaar vir God nie??

Met dié vraag begin Sondag 24 van die Kategismus, broeders en susters, en met dié vraag sluit ek vanaand af. Want dit is uiteindelik die hoofvraag waarmee ons feitlik almal worstel. Nie net die Roomses nie. Ons Gereformeerdes ewe goed. Want: ons kan moeilik ontken dat ons aanvanklik, van nature, of hoe 'n mens dit ook al wil noem, goddelose sondaars was, onbekwaam tot enigiets goeds en tot alle kwaad geneig. En ons aanvaar dat ons nog slegs deur God se genade die lewe kon terugkry, danksy Christus se versoeningswerk vir ons.

Maar hoe is dit inmiddels? Daar het mos al baie in ons lewe verbeter. Nee, ons is nog nie volmaak nie. Maar wat as ons onsself vergelyk met sêmaar heelwat broeders en susters in Mamelodi en Soshanguwe. Die dominees sê mos self dat reëlmatige ontmoeting tussen ons belangrik is omdat hulle baie van ons kan leer. En dan praat ons nog nie eers van die verskil wat daar mos onmiskenbaar is tussen ons en die wêreld wat nog -of: weer- in die sonde leef. Ons is mos nie meer heidene nie! Kan mens ons, lidmate van die Vrye Gereformeerde Kerk, nog wel goddeloses noem?

Moet maar eerlik wees, broeders en susters, sulke gedagtes is nie vreemd vir u nie. Onwillekeurig het ons die indruk dat ons al heelwat verbeter het in vergelyking met baie ander mense. Maar maak dit ons dan nie meer aanvaarbaar vir God nie? Daar is mos 'n hele verskil tussen 'n brutale atheïs en 'n Gereformeerde christen!

Sulke gedagtes is al so ou soos die sonde oud is. Ek het dit alreeds in my inleiding gesê: regdeur die eeue is sulke pogings aanwysbaar waarin die mens homself meer aanvaarbaar vir God wil maak. En dit ontwikkel sommer so ver dat die mens gaan dink hy kan sy skuld teenoor God algaande heeltemal vereffen duer sy goeie werke, en daarna kom dit so ver dat God hóm iets skuld.

En ek sê weereens: sulke gedagtes loop jy nie net by Roomses raak nie; ook onder Gereformeerdes kry jy mense wat die gevoel het dat God min of meer verplig is om ons te help, ons gebede te verhoor, ons siekte en teëslae te bespaar. Ons leef mos as goeie christene, ons gaan getrou kerk toe en so meer. En hoe dikwels sê mense: Daardie man gaan eendag gewis hemel toe. Kyk hoén goeie mens is hy!

Maar weet u wat sê God, gemeente?

Meen julle julle kan jul skuld by my langsamerhand wegwerk noudat Ek julle aan my heropvoedingsporgram onderwerp het? Meen julle julle kan nou die lewe terugverdien? Moenie 'n fout maak nie. Julle maak nog elke dag jul skuld teenoor My groter! Want selfs jul beste werke is in my oë nog nie goed genoeg nie. Dis reg, daar het heelwat by julle verbeter. En Ek is bly daarmee. Ek beloon dit ook. Maar met minder as die volmaakte is Ek nie tevrede nie. Ek toets jul lewe en jul werke volgens My ou wet, waarin Ek maar net liefde vra: 100% liefde vir My en 100% liefde vir jul naaste. En daar is niemand van julle wat daaraan ten volle voldoen nie.

Dit is mos so, gemeente? Wie van ons het die HERE vir 100% lief, met sy hele hart, met sy hele siel, met sy hele verstand, met al sy kragte? Ja, ons luister weer na sy Woord; maar wie van u ken sy Woord volkome? Ons leef inderdaad anders as baie ander mense in hierdie wêreld en in hierdie stad; maar is dit altyd omdat ons weet die HERE wil dit graag so hê? Of is dit ook dikwels maar net gewoonte, resultaat van ons opvoeding, of groepsgedrag?

Ons bríng offers vir ons naaste. Maar gebeur dit altyd met 'n hart vol liefde? Sug u nooit daaronder nie: nou moet ek alweer soontoe gaan? Is u nooit bietjie heimelik trots daarop dat ú darem gehelp het waar die meeste ander g'n hand verroer het nie?

Solank dit nog so by ons is, gedra ons ons steeds soos goddeloses, broeders en susters. En gee ons God steeds redes om ons vir ewig in die godverlatenheid weg te stamp.

Dit wat Christus se Gees in ons losmaak, is goed. Daar groei inderdaad al weer goeie werke in ons lewe. Niemand kan dit ontken nie. Ook God ontken dit nie. Maar ons uitvoering en hantering van daardie werke is nog so sleg, dat selfs ons beste werke dadelik met sonde besmet raak.

Sodat ons dus ons skuld al hoe groter maak.

Ons bly ons hele lewe lank op God se genade aangewese, broeders en susters.

Vir dié werklikheid moes ek vanaand u oë weer oopmaak. En moet nooit probeer om dié werklikheid weg te redeneer nie.

Want eers wanneer u dié werklikheid ten volle raaksien, sal u bereid wees om u heeltemal aan God se genade uit te lewer.

En u sal moet, want daarsonder kan u nie lewe nie.

Ja, ons is volslae aan sy genade uitgelewer en dit is vir ons hoogmoedige hart nie aangenaam nie. Maar wie van ons is so dwaas om daar teenin te vloek? !

As jy moet smeek om genade- dit bly maar 'n moeilike ding.

Maar as jy mag leef van genade- dit laat 'n mens tog van verwondering sing?

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)