Alleen uit genade kan ons nog God se kinders wees

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 24
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 24

LITURGIE:
L. Efes. 1: 3-6 & Efes. 2: 1-10
SB. 24: 1, 2
SB. 24: 6
Ps. 32: 1, 4, 6
Ps. 103: 7
Ps. 103: 2, 11

Broeders en susters,

Waaroor gaan dit in Sondag 24 van die Kategismus?

U weet waarskynlik wel dat die vrae van Sondag 24 ontstaan het teen die agtergrond van die stryd tussen die Roomses en die Gereformeerdes in die sestiende eeu, oor die verhouding tussen Gods se genade en ons goeie werke. Selfs die kinders weet van Luther wat 'n hele stryd moes stry om te aanvaar dat 'n mens nie deur goeie werke nie, maar deur geloof alleen gered word.

Sondag 24 wil ook ons vandag nog in dié stry van meer as vier eeue terug betrek.

Beteken dit dat ons ons vanaand met 'n ou dogmatiese stryd moet besighou?

Die eerste vraag van Sondag 24 van die Kategismus klink al dadelik maar swaar en dogmaties: "Maar waarom kan ons goeie werke nie die geregtigheid voor God of 'n deel daarvan wees nie? " En die antwoord is ook nie direk vir elkeen deursigtig nie.

So'n swaar en ondeursigtige formulering kan ons meteens al afstoot. Dit kan die saak wat in hierdie Sondagsafdeling aan die orde gestel word, vir ons op 'n afstand hou, terwyl dit tog juis 'n uiters belangrike saak ook vir ons vandag nog is.

Want dit het in daardie stryd nie oor maar net 'n aantal dogmatiese begrippe gegaan nie. Dit het gegaan oor die belangrikste vrae van ons lewe. Die stryd wat Luther gestry het, was nie maar net 'n teologiese stryd met lastige Roomse teëstanders nie, maar allereers 'n heel persoonlike stryd met sy God. Luther het in sy kloostersel geworstel met die belangrikste vraag in enige menselewe: Hoe kry ek 'n genadige God? Hoe mag ek weer 'n kind van my Vader in die hemel wees?

Oor dié vrae, wat ook vir u en vir my nog van lewensbelang is, en waarmee enige kind van God sy lewe lank bly worstel, gaan dit hier in Sondag 24. Die Kategismus wil ons bewaar by die enigste antwoord wat slegs op hierdie vrae gegee kan word en wat die Gereformeerdes in die tyd van die Reformasie weer uit die Skrif agtergekom het: alleen UIT GENADE wil God nog my Vader wees.

Nie soseer dus vanweë 'n ou dogmatiese stryd in die verlede nie, maar met die oog op die aktuele stryd in u eie lewe, moet ek u met behulp van Sondag 24 verkondig:

ALLEEN UIT GENADE KAN ONS NOG GOD SE KINDERS WEES

GOD SE GENADE MAAK ONS LEWE

  1. VRY
  2. BLY
  3. RYK

1. Ken u nog die diepe betekenis van die woordjie GENADE, gemeente? Ons gebruik dit in die kerk so dikwels, dat so'n woordjie, waarin die wonder van ons lewe opgesluit lê, al hoe meer sy betekenis vir ons kan verloor.

Wat gebeur as iemand "begenadig" word?

Kom ek neem die voorbeeld van die Wit Wolf Barend Strydom wat in 1988 koelbloedig en sonder enige aanleiding 'n hele aantal nie- blankes in die middestad doodgeskiet het. Hierdie moordenaar is - en ek glo: tereg- tot die doodstraf veroordeel. En hy wag nou vir die voltrekking van die vonnis. Die enigste vooruitsig wat hy nog het, is die dood.

Daar is net een moontlikheid dat hy sy verdiende straf vryspring: as hy deur die Staatspresident "begenadig" word. Maar dan kry hy ook alleen uit genáde die lewe weer! Nie omdat hy dit verdien het nie, nie omdat agteraf geblyk het dat die vonnis te swaar was nie- nee, net uit genade spring hy die dood vry.

So, soos Barend Strydom, is ons teenoor die HERE, broeders en susters. Mense wat die dood verdien. Wat feitlik al dood wás deur die misdade en sondes wat ons gedoen het. So sterk druk die apostel Paulus dit uit in die Skrifgedeelte wat ons in dié diens gelees het: Efes. 2: 1 en 5.

Sondag 23 van die Kategismus het ons alreeds voor God se regbank gestel en ons misdade oopgevlek. En toe was die vonnis onontwykbaar. Ons het nie eens 'n Staatsaanklaer nodig om ons skuld te probeer bewys nie. Ons eie gewete kla ons al aan dat ons teen al die gebooie van God swaar gesondig en nie een daarvan gehou het nie. En ons ken die regseis van God, dat dié wat sulke dinge doen, die dood verdien.

Ons sal nog baie meer skuldig voel, as ons besef voor Wie se regbank ons staan. Die Regter is ons Vader!

Paulus noem ons in Efes. 2: "Kínders van die ongehoorsaamheid" en "kínders van die toorn". Ons is maar nie net burgers wat die wet van 'n owerheid oortree het nie. Ons is kinders wat die lewe met Vader onmoontlik gemaak het. Kinders wat Vader se liefde verag het. Kinders wat Vader tot in die diepste van sy siel gekrenk en seergemaak het.

Dít het Luther besef. Hieroor het hy in sy monniksel inmekaar gekrimp. En dit het vir hom al hoe meer 'n verskrikking geword: hoe kan ek dit wat ek my hemelse Vader aangedoen het, ooit weer goedmaak?

Hy was bereid om alles daarvoor te doen. Hy het ook alles geprobeer om sy skuld teenoor sy Vader te boet: hy het homself gepynig, het het gevas en gebid, hy het 'n bedevaart na Rome gemaak...... Maar hy het agtergekom dat dit alles niks gehelp het nie.

'n Sondige mensekind het Vader se liefde vir goed verspeel en verdien net die doodstraf.

Dit moet ook ons telkens opnuut leer, gemeente: ons kan sélf niks, maar dan ook niks daaraan doen om die dood vry te spring nie.

Ja, ons kon dit alleen as ons lewe weer een en al liefde sou wees. As die liefde vir God en die liefde vir ons medemens ons lewe van soggens vroeg tot saans laat volledig sou beheers.

Dit het ons Vader in die hemel mos altyd van ons gevra. Dit was feitlik die hele inhoud van sy Wet.

Soos God self een en al liefde is, so verwag Hy ook van ons dat ons lewe liefde sal wees. Omdat alleen liefde die lewe leefbaar maak en leefbaar hou.

Maar ek hoop dat u u self goed genoeg ken om te weet dat dít nou juis die onoorkomelike probleem in ons lewe geword het: die liefde vir God en die naaste beheers ons lewe nie meer volkome nie. Ons word deur sélfliefde geregeer. Ons plaas telkens maar weer onsself in die middelpunt, ons vind onsself so belangrik, alles draai in ons lewe om onsself. En God en ons naaste kom op die tweede plek, of die derde..... Hoogmoedig, eiewys, selfgesentreerd- dit is woorde wat by ons pas.

Ook as ons weer kind van die HERE wil wees en regtig ons Vader wil liefhê en gehoorsaam wees, moet ons mos nog telkens weer agterkom dat ons die grootste gedeelte van die dag hoegenaamd nie aan God dink nie. Ons staan glad nie daarby stil dat dit Hy is wat ons deur die lewe dra nie, dat Hy vir ons almal lewe, asem en alles gee nie, dat Hy hoor wat ons sê en sien wat ons doen nie.

Ons is altyd maar weer met onsself besig. Hoe dikwels is ons so met onsself besig dat ons nie tyd of nie lus het om ons met al ons tyd en gawes en kragte aan die diens van die HERE te gee nie?

Waar was byvoorbeeld die meeste van u toe die kerkraad afgelope donderdagaand die gemeente saamgeroep het om saam die finansiële posisie van ons gemeente en ons betrokkenheid by die sending in ons omgewing te bespreek?

Hoekom is daar nog soveel lidmate wat dermate met hulle eie belange besig is, dat hulle by die eerste die beste finansiële probleme dadelik hul bydrae vir die belange van die HERE in kerk, sending en skool besnoei of selfs glad nie meer betaal nie?

Selfs ons beste werke in hierdie lewe is almal onvolmaak en met sonde besmet, sê die Kategismus. En weereens: ek hoop dat u uself goed genoeg ken om dit te wéét uit u lewe.

Gebeur dit nie dikwels selfs tydens ons heel persoonlike gebed in die binnekamer nie, dat ongemerk ons konsentrasie op die HERE verander in 'n meditasie van onsself? Gebeur dit nie dikwels tydens ons Skriflesing nie, dat ons gedagtes sommer wegdwaal en ons pleks van om te luister na ons hemelse Vader weer begin praat met onsself?

Selfs in ons beste werke in die diens van die HERE soek ons nog onsself. Ek soek in my preke en my ander amptelike werk nog maar alte dikwels myself: hoe sal die mense na my luister? Hoe sal hulle oor my dink? Hoe sal hulle my met ander predikante vergelyk?

U, my medeampsdraers, moet tog ook voortdurend teen so'n gevoel van menslike ydelheid stry: sal die broeders en susters jou as hul wykouderling of wykdiaken waardeer? Sal hulle jou huisbesoeke meer geniet as dié van jou voorganger?

En hoe is dit met u, broeders en susters? As u byvoorbeeld wel aanwesig was verlede Donderdag by die gemeentevergadering, as u wel u bydraes vir Kerk, sending en skool na behore probeer gee, voel u dan nie dikwels béter as ander broeders en susters nie? Is u vry van enige gevoel van ydelheid en selfliefde?

Gemeente, God wil weer álles in ons wees en daar mag geen spoor van selfliefde in ons oorbly nie. Ons moet weer word soos die mens in die Paradys was.

Maar wie van ons sal dit ooit sélf regkry? As Paulus ons in Efes. 2 "dood deur die misdade en sondes" noem, beteken dit nie net dat ons die dood verdién nie, maar ook dat die sonde alle lewenskrag om self ons lewe weer te verbeter, in ons doodgemaak het.

As Vader in die hemel moet wag tot ons uit onsself in 'n nuwe, volmaakte lewe opstaan, sal ons nooit meer sy kinders kan wees nie.

Maar dan is dit die Evangelie, dat God, wat ryk is in barmhartigheid, ons deur sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ons in Christus BEGENADIG het. Sy liefde vir ons het sterker as ons liefdeloosheid en selfliefde geblyk. Hy het ons so liefgehad, dat Hy sy Geliefde -het u gesien dat Paulus in Efes. 1: 6 ons Here Jesus Christus só noem? - gegee het om ons doodstraf te dra en ons daardeur weer tot sy kinders te maak.

Dit, broeders en susters, is die hart van die boodskap van die Bybel. En die moeilike eerste vraag en antwoord van Sondag 24 wil ons by hierdie Evangelie van God se genade bewaar. Ons hoef nie eers self ons skuld, of 'n gedeelte daarvan, wegwerk nie. 'n Ander het dit klaar vir ons gedoen: God se eie Seun. Ons hoef nie ons sélf eers tot 'n bepaalde vlak van godsdienstigheid opwerk voordat God weer ons Vader kan en wil wees nie. Ons sou dit nooit regkry nie. Ons hoef maar net te glo dat God om Christus ontwil weer ons Vader wil wees, en dat ons sy kinders weer mag wees, ten spyte van alle sonde in ons lewe.

Vir Luther het die ontdekking van hierdie Evangelie in die Bybel "die poort na die Paradys" geword, soos hy dit self genoem het. Want hierdie Evangelie van genade alleen, maak 'n mens vry van alle angstige twyfel of hy wel goed genoeg is om God se kind te wees. Dit bevry 'n mens van alle krampagtige pogings om self op die een of ander wyse die saligheid te wil verdien. Dit troos 'n mens in alle tekortkomings en struikelinge waarvan die lewe ook na die bekering tot God nog vol bly.

Dit bevry 'n mens ook van alle hoogmoed en eiedunk waardeur hy homself telkens in die middelpunt plaas maar op die ou end ook maar net homself oorhou.

Hierdie Evangelie maak ons weer wat ons moet wees: kind van Vader in die hemel. 'n Klein, beskaamd, skuldbewus, en terselfdertyd baie dankbaar en verwonderd kind wat al Vader se liefde verspeel het en nogtans van Vader se liefde mag lewe.

2. Maar maak hierdie Evangelie die mense nie onverskillig en roekeloos nie? As ons niks daarvoor hoef te doen om weer kind van God te mag wees nie, dan word dit vir 'n mens mos wel baie maklik gemaak. Dan kan hy mos ook net so wel maar bly aangaan in sy selfgesentreerde en dikwels goddelose lewentjie?

Met dié kritiek het in die tyd van die Reformasie die Roomse teoloë die leer van die Skrif soos die Gereformeerdes dit weer gepredik het, probeer bestry.

Moet jy die mense nie leer om na die volmaaktheid te strewe nie?

Daar moét mos goeie werke in die lewe van 'n kind van God wees. Praat die Skrif nie op baie plekke van sulke goeie werke nie?

Ja, daar moet inderdaad goeie werke in die lewe van 'n kind van God kom. En die volmaaktheid moet die doel bly.

Maar daar sál ook goeie werke kom. En daar kóm ook 'n toenemende verlange na die volmaaktheid.

Maar nie as 'n voorwaarde voordat God ons genade wil bewys nie. Dog as 'n gevolg nadat God ons genade bewys het.

Want God se genade is so groot dat Hy self die goeie werke in ons lewe bewerk. Hy wil ons nie net weer as sy kinders aanvaar nie, maar Hy sorg vervolgens self ook daarvoor dat ons ons weer as sy kinders gaan gedra.

As ons weer sy kinders mag wees, wel, dan moet ons ook weer heeltemál sy kinders wees! Kinders wat weer in liefde met en vir Hom lewe. Eerder is Vader nie tevrede nie.

Ons het in Efes. 1: 4 en 5 gelees dat die HERE ons vir Homself as sy kinders aangeneem het, "om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees". Met dié doel het God ons begenadig. Dit moet weer word soos dit in die Paradys was: Hy Vader, ons sy kinders. Hy vol liefde vir ons. Ons ook vol liefde vir Hom en vir mekaar.

Ons sy kinders wat bly is dat ons kind van hierdie Vader mag wees. Wat ons by Hom tuisvoel. Vir wie niks te veel is om vir Vader te doen nie. Wat dit geniet om in alles vir Vader te lewe.

So wil God hê moet ons weer wees.

Maar so sal ons uit onsself, ten spyte van die sterkste aansporings, nooit meer word nie.

Daarom máák God ons weer so.

In Efes. 2: 10 skryf Paulus: "Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke" God het ons in sy genade as 't ware opnuut geskape- ons was mos dood. Maar met die doel dat ons weer goeie werke sou doen. Maar dan skryf die apostel m. b. t. daardie goeie werke dat "God hulle voorberei het, sodat ons daarin kan wandel"

Dit is 'n baie sterk uitdrukking. Ons goeie werke is oorspronklik God se eie goeie werk. Hy bewerk dit by ons. Soos ons vroeër (sien Efes. 2: 3) in die begeerlikhede van die vlees gewandel het en net die wil van ons eie sondige vlees en van ons sondige sinne gedoen het, so bewerk God dat ons voortaan volgens die begeerte van die Gees, die Heilige Gees, begin wandel in 'n lewe vol goeie werke.

Sodra 'n kind van God sy toevlug tot die Here Jesus Christus neem en besef dat hy net nog uit genade kind van God kan wees, begin sy lewe weer groei en bloei en vrugte dra vir sy hemelse Vader, sê die Kategismus met 'n pragtige beeld kort en kragtig in Sondag 24. Dit kan nie anders nie. Want sodra die lewe van 'n sondige mens "Christus" geword het, begin die Gees van Christus daardie mens verander. Hy maak daardie mens aan Christus gelyk. Soos Christus Kind van Vader was en is, so word ook daardie mens gemaak. Die lewe wat vry gemaak is, word nou ook bly gemaak. Die herstelde lewe met Vader maak die lewe bly en dankbaar, en van harte gewillig en bereid om voortaan weer alleen vir Vader te lewe en te werk.

Maak die Evangelie dat ons alleen uit genade gered word, die mense gemaksugtig en lui?

Hoegenaamd nie, dit is onmoontlik! Hierdie Evangelie maak die lewe juis vol aktiwiteit. Hoe meer 'n mens leer om van genade alleen te lewe, des te groter sal sy liefde en ywer vir sy hemelse Vader wees.

As dus die lewe van mense leeg en lui bly, kan dit nooit die skuld van die Evangelie van God se groot genade wees nie. Dan kan dit alleen maar beteken dat hierdie Evangelie die hart van daardie mense nog nie regtig geraak het nie.

Hulle is nie blye en dankbare kinders van God nie, omdat hulle nog altyd nie regtig vrye kinders van God is nie! Daarom sal daar ook nooit meer aktiwiteit en liefdeswerk in hul lewe losgemaak word nie, as hulle nie allereers leer aanvaar dat hulle alleen nog van God se genade kan lewe nie.

3. Daardie mense is nog altyd dood-arm, broeders en susters.

Maar as u u deur die Evangelie van God se genade laat vry maak en bly maak het, sal dit u ook toenemend ryk maak. Met die belofte mag ek my preek van vanaand afsluit.

Die Bybel praat mos op heelwat plekke van 'n beloning wat God vir sy kinders gee as hulle weer van harte gewillig en bereid vir Hom in goeie werke wil lewe.

Dit mag 'n oomblik lyk, asof ons dus ook self iets aan ons saligheid kan bydra. Die woordjie "Loon" wat telkens in die Bybel gebruik word (Byvoorbeeld as Christus aan die einde van die laaste Bybelboek sê: "Kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees")- daardie woordkeus wek die indruk dat ons iets kan verdien. En hoe harder ons werk, des te groter sal seker maar die loon wees.

Maar ons het inmiddels mos duidelik geleer dat al ons goeie werke feitlik God se goeie werk in ons lewe is. Hy bring 'n nuwe lewensstyl in ons lewe tevoorskyn. As Hy dus daarop 'n beloning gee, gee Hy 'n beloning vir sy eie werk! Soos ons ook bely in Art. 24 NGB: "Dit is deur sy genade dat Hy sy eie gawes bekroon".

Waarom praat die HERE in die Bybel dan nogtans van "loon"?

Wel, dis feitlik maar net om ons nog meer te stimuleer en te bemoedig tot 'n bly lewe vir Hom. Hy laat ons in hierdie lewe alreeds agterkom en beloof met die oog op die toekoms, dat die lewe weer met en vir Hom 'n ryk lewe is.

Ons kan partymaal in ons kortsigtigheid die gevoel hê dat die lewe as kind van die HERE maar moeilik en lastig is. Die wêreld rondom ons probeer ons wysmaak dat jy maar arm is in vergelyking met die wat hulle eie heer en meester is.

Maar dan lok Vader die hemel ons met 'n bemoedigend loon op ons lewe vir Hom. Jy word regtig daarvan nie armer nie. Inteendeel, dit maak lewe ryk.

Vandag al kan u dit agterkom, as dit rus en ewewig in u lewe bring; as dit u van krampagtige bekommernis vir u eie belange verlos; as dit u bo selfgesentreerdheid wat eensaam maak, uit til en in plaas daarvan die gemeenskap van broeders en susters in die gemeenskap van heiliges laat proe; as dit ons van gierigheid en selfsug bevry en leer om ander bly te maak; as dit u troos in verdriet en spanning en help om u toekoms en dit van u kinders in Vader se hande te lê.

En na hierdie lewe maak God u nog veel ryker as die vreugde eers in die Hemel en daarna in die nuwe Pardys kom.

Gemeente, die HERE roep u vandag weer as sy kinders na Hom terug.

Daar is maar een smal paadjie waarlangs ons na Hom terug kán kom.

En dit is dit pad oor Christus se kruis, die pad van God se genade alleen. Maar wie daardie pad weer begin loop, word nie armer nie. Inteendeel, dié word weer vry, bly en ryk. Want daardie pad bring Hom weer tuis!

AMEN.

(Pretoria 22 April 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)