Die volgorde van geloof en goeie werke

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 24
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 24 H.K.

LITURGIE:
L. Openb. 14
Ps. 32: 1, 4
Ps. 32: 6
SB. 36: 1, 2, 4, 5
Ps. 62: 8
Ps. 90: 4, 9

Broeders en susters,

Sondag 24 H.K. gaan spesiaal in op die verhouding tussen geloof en goeie werke.

As ons alleen deur geloof salig kan word, wat dan van die goeie werke? Ons kan nie sê dat goeie werke nie bestaan nie; dat ons glad nie goeie werke doen nie. God se Woord praat mos op verskeie plekke oor goeie werke wat die Here wel deeglik waar in die lewe van sy kinders verwag. Ons lees selfs oor 'n beloning wat God vir ons goeie werke wil gee.

Maar hoe is dan die verhouding tussen hierdie twee: geloof en goeie werke?

Ons herken in die vrae van Sondag 24 duidelik die spore van die stryd van die Reformasie teen die verdienste-leer van die Roomse Kerk. Maar ons sou onsself behendig buite skot hou as ons nou vanaand al ons pyle teen dié Roomse dwaalleer en ewentueel ook teen allerhande variante daarop in die vrysinnige teologie daarna sou rig.

Want die belydenis van Sondag 24 is heelwat meer as maar net 'n bespreking van 'n aantal Roomse eienaardighede en die afwysing van 'n klomp vrysinnighede. In hierdie Sondagsafdeling word die listige dwalinge van enige mensehart oopgevlek. Ons word hier ontdek aan dit wat telkens ook in ons eie hart opkom. Want dit is soos die profeet Jeremia se in hfst. 17: 9: "Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken? ".

Ook vir Gereformeerde christene is dit maar moeilik om regtig alleen van GENADE te lewe. Ook by hulle word dikwels duidelik dat hulle die enigste regte verhouding tussen geloof en goeie werke nog nie mooi ken nie.

Ook ons word voortdurend deur die gevaar bedreig dat ons tog op ons goeie werke wil bou, ons diepgaande kennis van die Woord van die Here en die wyse waarop die Skrif verklaar moet word, ons ywer vir die diens van die Here, ons voorbeeldige lewensstyl ensomeer.

Of, die teenoorgestelde: ons gaan dink juis, en sê dit ook: ons leef mos alleen van genade? Nie deur goeie werke nie- en die gevolg is dat ons lewe leeg en arm bly, sonder vrug vir God, ja dat ons selfs weier om daadwerklik met die sonde te breek.

In albei die gevalle dreig ons om die enigste weg na die saligheid kwyt te raak.

En vir dié gevaar wil Sondag 24 ons behoed. Die liste van ons eie hart moet ontmasker word sodat dit ons nie van die weg na die ewige saligheid toe sal aftrek nie. Want daardie weg is smal en daar is baie sypaaie.

Daarom bedien ek u, om u in die goeie spoor te hou, vanaand God se Woord oor:

DIE VOLGORDE VAN GELOOF EN GOEIE WERKE.

  1. GELOWIGES VOLG DIE LAM
  2. EN DAN VOLG DIE GOEIE WERKE DIE GELOWIGES.

1. Ons het in Openbaring 14 wat ons saam gelees het, gemeente, die menigte van verloste mense bymekaar gesien soos hulle eendag kompleet bymekaar gebring sal wees rondom die Lam, voor die troon van God.

Johannes het hulle sien staan, die voltallige kerk uit die ou en nuwe verbond, en hy het daardie groot mensemenigte die lied van die verlossing hoor sing, die nuwe gesang wat ook alleen maar uit die monde van die wat van die aarde vrygekoop is, kon opwel.

Hulle lank pad van stryd en moeite, van vyandskap en vervolging oor die naam van Christus, van geloofsworsteling en volharding in 'n heilige lewe- dié lank lewensweg is eindelik klaar afgelê en het op 'n plekkie voor die troon van God uitgeloop.

Maar hoe het hulle sover gekom? Hoe het hulle die weg na God se troon kan vind en kan volg?

Johannes kan heelwat prysenswaardige dinge oor hulle opsom: hulle het hulself nie met vroue besoedel nie, maar hulle is maagdelik rein, lees ons byvoorbeeld. Johannes bedoel daarmee natuurlik nie dat hierdie mense ongetroud gebly het, asof die omgang met 'n vrou iets sondigs sou wees nie. Miskien bedoel hy dat hulle nie in owerspel en hoerery geleef het nie, maar rein en ingetoë volgens die sewende gebod hulle gedra het. Daar is egter ook baie verklaarders wat dink Johannes bedoel hier dat hulle hul van geestelike hoerery onthou het: hulle het hul nie van die Here en sy diens laat aftrek na allerlei afgode in die wêreld nie.

Ook vertel Johannes dat daar in hulle mond geen bedrog gevind is nie. Sonder gebrek is hulle. Onberispelik. Daar was in hulle lewe die lydsaamheid, die volharding van die heiliges. Hulle het die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar (sien ook vs. 12).

Langs daardie weg het hulle die troon van God gevind. Dit was 'n pad vol goeie werke, wat hulle by hulle sterwe saamgeneem het in die hemel in. Johannes het dit 'n engel duidelik hoor sê, en hy moes dit ook opskryf: "Salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Hulle mag rus van hulle arbeid en hulle werke volg met hulle".

Is dit dus dié goeie werke, broeders en susters, wat hulle voor die troon van God gebring het? Het hulle weens hulle volharding in die geloof en omdat hulle God se gebooie bewaar het, weens hulle onberisplike lewenswandel salig geword? Het hulle dié saligheid eerlik verdien?

Hoegenaamd nie. Dié goeie werke wat hulle by hul sterwe sal volg, daardie werke het nie voorop gegaan nie. Daardie werke het die weg na die saligheid nie vir hulle aangewys en gebaan nie.

'n Ander het voorop gegaan. Hulle het die Lam gevolg en Hy alleen was dit wat hulle voor die troon van God gebring het. Hy en nie die goeie werke nie, het vir hulle die weg gebaan om weer tot God te kan kom.

Die gelowiges word in Openbaring 14 aangewys as die volgelinge van die Lam. Hulle sou self nooit die weg na God se troon kan gaan nie. Maar hulle het hul volledig aan die leiding van die Lam onderwerp. Hulle het Hom voorop laat gaan en het gehoorsaam in die spoor wat Hy gewys het bly loop.

Want dit is die kenmerk van die ware geloof: die Lam volg!

'n Lam is vir 'n hoogmoedige mensehart nie bepaald 'n indrukwekkende leidsman nie. Dit verkies liewer 'n Leeu. 'n Lam is 'n voorbeeld van swakte. Dit laat hom gewillig slag.

Maar so het die ware gelowiges nou juis die Here Jesus Christus aanvaar. En daarin het hulle juis sy groot krag leer ken. Want Hy was dit wat Homself vir hulle laat offer het as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Al hulle sondes wat dit vir hulle vir ewige onmoontlik gemaak het om nog ooit voor God se troon te verskyn en 'n lied van verlossing te sing- al daardie sondes het hy op Hom geneem en het het Hom daarmee laat slag om vir ewige daaroor versoening te doen.

En die wat nou agter Hom aan gaan, dié alleen sal die smal pad met die nou poort wat na die lewe lei, vind.

Maar elke gelowige wat die Lam volg, kan nou ook nooit meer hoogmoedig en selfversekerd op sy eie goeie werke vertrou nie. Dit pas nie by die volg van die Lam nie.

Die Lam wat voorop gaan, herinner jou mos aanhoudend aan jou eie volslae magteloosheid om die saligheid te bereik! Die Lam hou ononderbroke die sondes in gedagtenis. Die lam is die lewende monument van God se vergewende GENADE. Die Lam self is die bewys hoeveel daar nodig was om sondaars salig te maak!

Ware gelowiges wat die Lam volg, sal daarom hulle lot ook alleen in sy hande lê. Hulle weet hulle is volkome van Hom afhanklik.. Net Hy kan die Leidsman wees op die pad na die ewige salige lewe. En hulle loflied aanstonds voor God se troon sal dan ook ongetwyfeld van die Lám aan Wie hulle alleen alles te danke het, sing.

Aan U, o Lam van God, 'n nuwe lofgesang!
Want u is waardig om die lof en eer t'ontvang
U 's waardig, U alleen, omdat die werk volbrag is,
toe U as offer vir ons sondeskuld geslag is.

Sondag 24 H.K. wil ons op die smal spoor agter die Lam aan vashou, broeders en susters. Die vrae en antwoorde in hierdie Sondag wil u oë oopmaak vir die sypaaie wat ons maar al te maklik van agter die Lam weg kan voer. Want die listige mensehart soek sulke paaie voortdurend. Paaie waarop nie langer die Lam voorop gaan nie, maar waarop die mens sélf die weg na die saligheid wil baan.

Ons het daarvan baie voorbeelde hoedat mense die spoor byster geraak het omdat hulle nie hulle eie onmag erken en hulle volledig aan die Lam wou toevertrou nie.

Sulke mense was daar alreeds toe ons Heiland nog op pad was om sy offer te bring: Fariseërs. Wie dink nie dadelik aan die gelykenis wat Christus self vertel het oor die Fariseër en die tollenaar?

Daardie Fariseër het vir sy gevoel weinig probleme met die weg na God se troon gehad. Hy het self dié pad alreeds goeddeels gebaan: Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry, ek, ek, ek... ! Het het geen Lam vir sy sondes nodig gehad nie.

Hoe taai hierdie selfversekerde mentaliteit is, het die kerk sindsdien ervaar. Die apostel Paulus moes die stryd aanbind teen die sogenaamde Judaïsme in die kerk: mense wat wel in die kruisoffer van Christus wou glo, maar terselfdertyd geleer het dat mens tog ook nog die Mosaiese wette moes onderhou om salig te kan word. En wat baie ingenome was met hulle eie wetsywer.

In die tyd waarin hierdie Heidelbergse Kategismus geskrywe is, was die Roomse Kerk heeltemal op die Fariseese en Judaistiese goeie werke-leer teruggeval. Daar was 'n geestelike élite gekweek wat hulleself weens al hul goeie werke al baie heilig beskou het. Die Lam was maar net nodig om vir hulle in die goeie rigting te stoot; daarna kon hulle self die pad na God toe wel loop.

Die kerke van die Reformasie het hierdie valse verdiensteleer toe wel moedig by die voordeur afgewys, maar al gou het dit via die agterdeur weer binnegesluip. Die Remonstrante het geleer dat Christus die pad na die saligheid wel vir jou oopgemaak het, maar dat dit jou eie geloof is wat jou op hierdie pad laat loop. Jou geloof is dus feitlik jou verdienste waardeur jy die saligheid verwerf.

En toe het daar in die Gereformeerde Kerke mense gekom wat op hulle vrome bevinding en wonderlike ervarings begin vertrou het. Hulle het nie meer na die Lam gekyk om Hom te volg nie, maar hulle het na hulleself gekyk, na hulle eie vroomheid en ander mense opgeroep om húlle te volg. En hulle het hoogmoedig baie gelowige kinders van God met hulleself vergelyk, geweeg en te lig bevind.

En so het dit gebly, tot in die moderne vrysinnige teologie van die laatste eeue: telkens het die mens homself met sy vroomheid of sy goeie dade in die middelpunt geplaas. En die Lam Christus het al hoe meer 'n tweederangs posisie gekry: hoogstens nog 'n voorbeeld wat ons op eie krag kan navolg.

Maar ons sou nie net na ander mense kyk nie, broeders en susters.

Wat van onsself? Daar is geen mens wat hom sommer aan die Lam uitlewer nie. Enige mensehart probeer om daaraan te ontvlug. Ook u en my hart.

Natuurlik, ons weet baie goed dat selfs ons beste werke in hierdie lewe almal onvolkome en met sondes besmet is. U sal dit direk toegee dat 'n mens alleen deur ons Here Jesus Christus gered kan word, sonder enige eie verdienste. So Gereformeerd is ons wel.

Maar dit kan net blote kennis, teorie, geloofsléér, bly terwyl ons in ons lewe 'n heeltemal ander houding aanneem. Want by die besef dat ons alleen van GENADE lewe, pas ook alleen 'n houding van kleinheid, beskeienheid, ootmoed, ja 'n afkeer van onsself.

Maar hoekom is daar dan by ons maar al te dikwels juis die houding van selfingenomenheid, eiewysheid, die gevoel dat ons baie beter kinders van God is as ander mense? ! En hoekom stuit die ampsdraers dan so dikwels op 'n houding van selfverdediging wanneer hulle vanuit die Woord van God oor konkrete sondes moet vermaan? Meer as een keer is daar dan selfs verontwaardiging: is ons soms nie goed genoeg nie? Wat 's fout aan ons??

En is ons in ons gesprekke nie dikwels besig om onbarmhartig kritiek te oefen op ander mense, en ander kerke, asof ons ver bo hulle verhewe en omtrent volmaakte christene sou wees nie?

Ons is meestal nie bewus daarvan nie, maar uit so'n houding blyk hoeseer daar ook in ons 'n hoogmoedige, selfversekerde hart is. Asof ons van onsself goed genoeg is om voor God se troon te verskyn. Asof ons nie net deur GENADE nie maar tog ook deur heelwat eie verdienste die saligheid sal beërwe.

Broeders en susters, ook ons moet op ons oppassens wees dat ons die regte sig op die Lam nie verloor en daardeur die spoor byster raak nie. Want as Hy nie voorop gaan en die weg vir ons baan nie, sal ons die saligheid nooit bereik nie.

Hy moet voorop, ons kan slegs verwonderd volg.

2. Maar maak hierdie leer, oor GENADE alleen, nie die mense sorgeloos en goddeloos nie? Met ander woorde: is goeie werke dan glad nie belangrik nie? Is dit genoeg om maar net in Christus se naam vergewing te vra en kan ons verder maar aangaan?

Dié vraag mag nou wel gevra word.

Want so is daar dikwels gedink. Veral van Roomse syde is dit as beswaar teen die Gereformeerde belydenis van vrye genade ingebring.

En daar het ook wel mense gekom wat so gaan leef het, dat hulle met 'n beroep op die evangelie dat ons mos onbekwaam tot enigiets goeds en geneig tot alle kwaad is en dat ons alleen deur genade gered kan word, hulle 'n sorgelose en onverskillige lewensstyl aangeneem het. Vrome praters maar onderwyl gemaksugtige en oppervlakkige christene wat nie werklik die Lam gevolg het waar Hy ook heengaan nie.

Want mense wat regtig in geloof die Lam volg, kan nooit sorgeloos en goddeloos, onverskillig en gemaksugtig word nie. Hulle kan nie hulle eie paadjie loop nie.

Inteendeel, ons het in Openbaring 14 heel ander dinge oor hulle gelees. Die volg van die Lam kry gevolge in die lewe van die gelowiges. Die wat die Lam volg, moet nou ook sy paadjie loop.

En dan kry hulle soos vanself 'n christelike lewenswandel. Sonder gebrek, onberispelik, noem Johannes hulle maar liefs.

Hulle skuif God se gebooie nie eenkant toe nie en lei nie 'n losbandig lewe omdat daar mos tog wel vergewing van sondes is nie, maar hulle word juis al hoe meer gehoorsaam aan dié gebooie en begin hoe langer hoe meer godvresend lewe. Selfs al moet hulle daarvoor baie gemak en plesier, ja alles prysgee, miskien wel hulle lewe prysgee.

Die wat die Lam volg, word self deur goeie werke gevolg. Vir die wat in die Here léwe, geld die woord wat Johannes moes opskrywe: "Salig is hulle wanneer hul sterwe want hulle werke volg met hulle".

Daar kom goeie werke op die pad agter die Lam aan. Want dit is mos die Gees van Christus wat ons in geloof die pad agter die Lam aan leer loop. Christus se Heilige Gees neem ons saam agter die Lam aan -dis al genade!- en Hy sorg dan ook dat ons tot in die kleinste besonderhede die voetspore van Christus druk. Hy maak ons net soos Christus van harte gewillig en bereid om voortaan alleen nog vir God te lewe, tot sy eer, volgens sy wet.

Die Kategismus sê: dié werke moet wel daar kom by elkeen wat van harte die Lam volg. Dis onmoontlik dat daar geen goeie werke sou kom nie. Soos 'n loot wat op 'n wynstok geënt word, begin groei en blom en vrugte dra, so moet ook elkeen wat deur 'n ware geloof die Lam begin volg het, vrugte van dankbaarheid voortbring. Dit moet!

Dit is nie 'n harde eis van God nie. Maar dit is 'n vanselfsprekende gevolg van die volg van die Lam.

Ons het in Openb. 14 ook oor dié vrugte gelees. Eendag sal God die oes binnehaal. As die tyd daarvoor ryp geword het, word die sekel ingesteek en die vrugte bymekaar gemaak. Die vrugte van ons goeie werke.

Openb. 14 het vertel daar sal tweërlei oes afgeoes word: bo en behalwe die goeie vrugte wat God gaan versamel in sy skuur, word ook die slegte vrugte bymekaar gemaak, maar dit word in die groot parskuip van die grimmigheid van God gegooi.

En die HERE gaan daarby van die eenvoudige reël uit: aan die vrug ken 'n mens die boom.

Maar u moet dan ook self maar daarvan uitgaan, broeders en susters! Groei daar in u lewe vrugte van geloof en bekering?

Blyk u volg van die Lam uit die goeie werke wat u volg?

Nee, dié werke kan nooit voor u uit, in plaas van die Lam, vir u die pad na God se troon ontsluit nie. Maar hulle kan ook nie wegbly as u regtig die Lam volg nie.

Die wat vermaan word omdat sy lewe in die diens van die Here leeg bly of omdat daar te veel slegte werke in sy lewe aan die lig kom, kan hom nie verontskuldig met 'n beroep op God se ganade nie. Die verskoning dat ons die saligheid mos nie kan verdien nie, is maar net 'n listige selfmisleiding. In werklikheid het iemand wat homself op so'n wyse wil verskoon, die Lam uit die oog verloor en is besig om sy eie paadjie te loop.

Laat elkeen homself ondersoek!

Ek mog vir u weer die weg na die saligheid wys, vanaand. Dit is die pad agter die Lam aan. Daar is geen ander pad nie.

Salig is elkeen wat hierdie pad loop. Ja, ons kan hom gelukwens. Want die wat die Lam volg, kry 'n ryke lewe. Dié word geen fanatikus, geen aktivis of wetticis nie, maar sy lewe gaan blom en vrugbaar word vir God. Goeie werke breek uit sy lewe na buite. En daar word 'n mens maar net ryker van! Want God gee loon na werke. Ja, die Bybel praat selfs oor loon oor ons goeie werke!

Nie omdat ons nou tog iets sou verdien nie. Nee, hierdie beloning word nie uit verdienste maar uit genade gegee, sê die Kategismus.

Want ons God wat self die goeie werke by ons tevoorskyn bring wanneer ons die Lam volg, maak ons deur dié goeie vervolgens toenemend ryker. 'n Mens word van goeie werke doen baie beslis nie minder of armer nie. Inteendeel, jou lewe word ryk en gelukkig. Want jy leef nie langer vir jouself nie, maar vir jou God en Redder en vir jou naaste in sy Skepping. Die ywer vir die Here en sy diens vervúl die lewe en bewaar jou vir leegheid en oppervlakkigheid. Dit til jou uit bo krampagtige besorgdheid vir jou eie sakies en jou eie belange en bring rus en ewewig in jou lewe. Dit bewaar jou vir 'n voortdurende angs vir die toekoms- die Lam wat vooraan gaan weet mos wel die pad! Dit leer jou om nie net vir jouself te lewe nie maar in 'n gemeenskap van broeders en susters.

So seën en beloon God vandag al 'n gehoorsame en vrugbare lewe van elkeen wat die voetspore van die Lam druk.

En by ons sterwe word ons nog ryker. Want ons goeie werke, hoe onvolmaak en met sondes besmet ook al, volg ons by ons sterwe. Hulle gaan saam, deur die dood heen, die ewige lewe in. Ons goeie werke het ewigheidswaarde. God wil hulle gebruik vir sy groot werk van vernuwing van hemel en aarde. En die groot beloning wat ons dan sal ontvang is dit: 'n ryk lewe vir God waarin ons saam met God die vrugte mag pluk van ons goeie werke.

So'n lewe lê voor vir elkeen wat agter die Lam bly loop.

Wie wil loop agter die Lam, ontvang 'n groot loon.

Maar dan wel 'n loon wat die Lam vir ons verdien het!

AMEN.

(Pretoria, 26 Februarie 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)