Wat het jy aan die geloof wat regverdig maak?

Predikant: 
Ds RH Bremmer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 23
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van Dr. R H Bremmer oor sondag 23 H. K.

Evangelie op die man af

Lees: Psalm 32
Teks: Sondag 23 H. K.
Sing: Ps. 130: 1 en 4
na wet 130: 2
na belydenis Sb. 24: 3
Ps. 32: 1, 2, 3, 6
Ps 89: 1
Ps 103: 5 en 6

Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

Op die men af kom die kategismus vanmiddag/more met 'n vraag na ons almal toe. Die vraag kom nie alleen tot die lidmate van die kerk wat al belydenis gedoen het nie, maar tot almal ook ons jeug veral hulle wat hul voorberei om hul geloof in die midde van die gemeente te bely. Niemand kan by hierdie vraag verby kom nie. Wat se voordeel het ek en jy van dit alles wat ons glo? Waarom my seun en dogter gaan jy jou geloof bely? Ja wat doen ons met alles wat ons glo in die lewe van elke dag?

Aan die woord alles moet ons eers aandag skenk. Alles dis baie. Die Kategismus kyk hier agtertoe en oorsien alles wat oor die geloofsbelydenis bespreek is. Dit het met sondag sewe begin, met die vraag wat is daar vir 'n Christen nodig om te glo. Daarop het ons geantwoord dat dit in hoofsaak in die twaalf artikels opgesom is. Die artikels het ons nou saam deurgegaan. Ons het oor God die Vader, oor God die Seun en oor God die Heilige Gees gespreek. By God die Vader het ons oor ons skepping deur Hom gehandel. By God die Seun het ons bely dat ons deur Hom verlos is. By God die Heilige Gees het ons heiliging tot in die ewige lewe toe aan die orde gekom. Nou word ons voor die vraag gestel: Wat baat dit alles jou?

Die antwoord is kort en kragtig reg op die man af: Dat ek in Christus voor God regverdig is en 'n erfgenaam van die ewige lewe. In vraag en antwoord 60 word dit nog breer en magistraal uitgewerk. Met reg het iemand vraag en antwoord 60 as 'n litanie, 'n reeks aanroepinge met antwoord en 'n lofsang beskrywe. Partymaal het die opstellers van die kategismus die hoogte van 'n lofsang bereik. Ons dink aan Sondag 1 oor die enige troos en 9 oor die God wat om Christus ontwil my Vader is.

Dis heerlik gemeente om vandag saam oor die lofsang te gaan spreek. Luister nou mooi, ons sal dit onder die volgende tema doen:

WAT HET JY AAN DIE GELOOF WAT REGVERDIG MAAK?

Aan drie gesigspunte sal aandag gegee word:

  1. Die skerpe eis van die reg;
  2. Die verrassende vryspraak;
  3. Die geloof wat die vryspaak aanneem.

I Vraag 59 is vir ons tyd gemeente nommerpas. Dis mos die vraag wat vir ons jong mense reelmatig gevra word: Wat wil jy word, wat wil jy in die lewe bereik? Wat is die moontlikhede as jy matriek maak of gemaak het? Moet jy vir beroepsonderrig of vir 'n tersiere opleidingsrigting kies. Watter moontlikhede maak dit oop. Iemand wat 'n ander werkkring soek sal mos in die eerste plek oorweeg wat se voordele dit hom bied?

Nou so'n vraag word hier met die oog op die geloof gestel. Wat kan daarmee gedoen word? Wat se voordeel is daarin om belydenis van die geloof te doen? Moontlik word daar gedink: Mag daar in verband met die geloof eintlik wel so 'n vraag gestel word? Het die kategismus hier nie te ver gegaan nie? Vir 'n antwoord op hierdie vraag sal ons die betekenis van die plek moet raaksien waar die kategismus hierdie vraag stel.

In die begin is al gese dat die kategismus agtertoe kyk. In die woorde van hierdie sondag word alles wat in die voorgaande bely is betrek.

Maar tegelyk word ook vorentoe gekyk. In die sondae wat nou volg word die sakramente een vir een behandel. Eers wat hulle in die algemeen vir ons beteken, daarna wat die doop en die heilig nagmaal ons in die besonder te se het. In die sondae 7 tot 22 het ons om so te se deur 'n oop deur in die paleis van God gekyk. Net nou, in die sondae oor die sakramente, sal ons gaan sien watter skatte daar vir ons klaar le. Voordat die kategismus van die een na die ander oor gaan word ons eers 'n oomblik gestop.

Tussen die geloof in God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees en die skatte wat ons in die sakramente gaan bely, word ons tot selfbesinning geroep. Asof gese word: gee jou nou eers rekenskap waaroor dit alles nou werklik gaan. Dink ons dit is geen goeie ding nie? Het oueres en jongeres dit nie partymaal nodig, om jou te besin oor dit wat ten diepste die toekoms van die christenlewe bepaal. Hierdie lewe word tog nie alleen deur die behaal van sertifikate en grade bepaal nie. Tog ook nie alleen deur troue of 'n uitstaande posisie nie?

Dis tot hierdie selfbesinning wat vraag 59 ons dring. Daarby gaan dit oor 'n skat wat ver bo kwalifikasies, geldverdien, 'n huis met 'n spogtuin of 'n motorkar uitreik. Dit gaan daaroor waarop is jou lewe gebaseer? Kan jy in jou lewe op die beloftes van God steun en eenmaal in vrede met God sterwe? Eintlik word die vraag van sondag 1 hier opnuut gestel. Alleen word dit nou vanuit die oogpunt van die regverdiging deur die geloof gedoen. Daarin word die vraag wat is jou enigste troos dieper uitgewerk en begrond.

Oor die vraag wat baat dit jou nou dat jy dit alles glo, laat antwoord 59 ons vir geen oomblik in onsekerheid verkeer nie. Dat ek; jaseker ek self! Dat ek regverdig voor God is en 'n erfgenaam van die ewige lewe. Ja, regverdig voor God, is 'n begrip wat swaar gelaai is. In die vrae 60 en 61 kom dit weer voor ons aandag: Hoe is jy regverdig voor God en waarom se jy dat jy alleen deur die geloof regverdig is? Deur die kategismus word ons hier, om so te se, tot die hoogste sport voor God opgehef. Dit gaan nie daaroor dat ek vir my eie gevoel regverdig is nie, op daardie trapleer het ons dit sommerso bereik. Meestentyds is ons nogal met onsself tevrede, maar regverdig voor God is gans anders!

Dis ook nie dieselfde as in die oe van ander regverdig wees nie. Oor hoe jou maats of jou ouers oor jou dink nie. Ook nie hoe jou bure, jou medewerkers, werkgewer, of die kerkraad oor jou dink nie. Dit gaan oor 'n totaal ander orde! Dit gaan daaroor hoe God oor jou dink! Hoe Hy die heilige lewende God jou beoordeel. In die oorspronklike latynse uitgawe van die kategismus word 'n uitdrukking gebruik wat letterlik beteken: Hoe is jy regverdig voor die aangesig van God? As ons weet dat ons met hierdie vraag tot voor die aangesig van God opgehef is dan weet ons dat daar niks weggesteek kan word nie.

Dink hier aan Jesaja 6 die roepingsvisioen van die profeet as hy die serafs hoor sing: "Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid. " Toe het Jesaja gese: "Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder 'n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige. "

Ja die oe van die Here vlam soos vuur en dring diep tot in die binnenste van ons gemoed deur, daar kan niks verberg word nie. "Here U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, " Tot daardie hoogte word ons, met die regverdig voor God wees opgehef. Gemeente ons kom met hierdie vraag in die hof voor God te staan Die beeld van 'n regsaak word reelmatig in die Skrif gebruik om ons verhouding tot God uit te spel.

Dink maar aan die naggesigte van Saggaria in hoofstuk drie van sy profesie sien hy Josua voor God staan. Langs Josua het die satan gestaan wat besig was om hom aan te kla oor sy klere wat liederlik bevuil was. Verbeel jou, die wit linne onderkleed en die blou rok met daarop die skouerkleed van blou pers en bloedrooi wolstof met gouddraad geborduur, daarop die borssak met die twaalf oniksstene vasgemaak met kettinkies van goud, alles liederlik vuil gesmeer. So het Sagaria Josua die hoepriester wat voor God die volk Israel verteenwoordig voor God sien staan. Van nature gemeente staan ons almal so voor God, of is daar iemand wat dink dat hy 'n skoon lewenskleed kan wys?

Ja daar staan die duiwel, die aanklaer in die strafsaak voor God die regter van hemel en aarde. Hy wys op die vuil klere van die hoepriester wat heilig en rein vir God die priesteramp moet bedien. Die duiwel is seker, hierdie die regsaak sal hy win. Dis nie vir niet nie dat Satan in die Bybel die aanklaer van die gelowiges genoem word nie. Dis Hy wat die gelowiges dag en nag voor ons God aangekla het. Maar is die Satan die enigste aanklaer by God? Nee, se antwoord 60, as 'n felle aanklag: my gewete kla my ook aan.

My gewete kla my aan dat ek --- weer die EK --- teen al die gebooie van God swaar gesondig en geeneen daarvan gehou het nie en dat ek nog gedurigdeur tot alle boosheid geneig is. Onderskat die duiwel nie dis hy wat die mees geslepe skepsel van God is. Hy ken die wet van God beter as ons, om ons by God te verkla, maar dan is daar ons gewete wat daarmee saamstem. Of gaan hierdie belydenis vir ons te ver? Is daar miskien iemand wat nie teen al die gebooie van God gesondig het nie. Die kategismus praat nie oor die somtyds teen hierdie of daardie gebod sondig nie, maar dit gaan oor alle gebooie, soos hulle in die liefde tot God en liefde tot die naaste, in die liefde gebod saamgevat is.

Die mes van ons belydenis sny nog dieper en se my gewete kla my aan dat ek geeneen van die gebooie gehou het nie. In die onderhou van die gebooie van God sondig ek teen almal, maar nog erger ek ignoreer die gebooie ek onderhou geeneen daarvan nie. Dis die tekort van ons lewe dat daar niks tereg kom van die liefhe van God bo alles en die naaste soos onsself nie. Hier word die masker van ons lewe afgeruk en word ons aan ons totaal verdorwe lewe ontdek.

Nou, niks teregkom is dit nie te sterk gestel nie? Ja toe ek na my sondige natuur gelewe het, het daar nie veel van tereggekom nie. Maar nou ek geleer is om teen die sonde te stry nou bly ek my in die gebooie van God verlustig. Gemeente dink ons so? Lees dan verder wat ons met antwoord 60 bely: dat ek nog gedurigdeur tot alle boosheid geneig is. Dink ons dat dit in die toekoms met ons beter sal gaan? Hierdie gedagte word al by die wortel afgesny. Die kategismus verwys na 'n woord van Paulus, die apostel van Jesus Christus wat op die pad na Damaskus bekeer is.

Paulus skryf in Rom. 7: 23 tot 25: "maar ek vind in my doen en late 'n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my 'n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is. Ek ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here. So is dit met my dus gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde. " Die kategismus spreek nie te skerp oor die aanklag teen ons nie, maar het die Skrif nagespreek.

Verderaan in die kategismus sal met ander woorde dieselfde gese word, naamlik: Ook die allerheiligste het maar 'n klein beginsel van hierdie gehoorsaamheid. Dis dieselfde as wat Dawid in Psalm 51 bely het: "Ja, my oortredinge ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus. Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oe. " In hierdie aanklag le 'n waarskuwing om nie ons gewete toe te skroei nie. Daar is in die kerk van daardie mense en Paulus waarsku teen hulle in 1 Timoteus 4: 2. So waarsku sondag 23 ons almal om ons nie aan hierdie skerpe aanklag te onttrek nie, maar ons eerder daardeur tot verootmoediging te laat bring.

II Ons wil nog 'n maal die aanklag van die duiwel uit Sagaria 3 in die prentjie kry. Wat gaan daar gebeur nou die duiwel vir God op die liederlik vuil klere van Josua wys? Hoe sal ons met die aanklag van ons gewete voor die aangesig van God kan bly staan? Lees nou die verrasende en verblydende vervolg van antwoord 60. Na die aanklag kom daar 'n simpel woord 'nogtans' wat goud werd is. As jy met jou hart antwoord 60 bely onderstreep dan hierdie "nogtans", want daarmee word die oordeel oor ons sondaars in sy teendeel omgekeer. Dit wil se: al is die aanklag van die duiwel en van my eie gewete van a tot z waar, nogtans tree daar nou 'n totaal nuwe situasie in. God gaan skenk en toereken!

God gaan in die regsaak uitspraak lewer. Ja, die aanklag van die duiwel het Hy gehoor en Hy hoor ook my gewete wat my aankla. Nogtans veroordeel God nie, maar spreek vry! Josua staan voor die engel van die Here en die Engel het vir sy helpers gese: "Trek uit die liederlike vuil klere van hom. " en vir Josua het Hy gese: "Ek het jou oortredings vergewe en Ek gaan vir jou skoon klere aantrek!" Verassend spreek God vry! Hoe is dit moontlik? Hoe kan God so handel? Dit laat ons die vervolg van antwoord 60 hoor. Wat God in Ou-Testamentiese beelde aan Sagaria geopenbaar het, dit gaan ons met die kategismus in Nuut-Testamentiese taal bely: God gaan my die volkome genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus skenk.

Hierdie woorde is met sorg gekies. Ons het antwoord 60 'n litanie, 'n lofsang genoem. 'n Lofsang word sorgvuldig geformuleer. Dis absoluut geen klomp woorde wat maar net opeen gestapel is nie. God skenk my die volkome genoegdoening van Christus, dit staan reg teenoor die aanklag: dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het. Gemeente sien u wat God doen? Oor my sondes en totale tekortskiet word die straf wat sy eie liewe Seun op Golgota gedra het, geskuif. Christus het volkome genoegdoening aan die geregtigheid van God gedoen. My sondes is deur die lyding en sterwe van Christus volkome bedek. Soos ons in Jesaja 53 lees: "Oor ons oortredings is Hy deurboor oor ons sondes is Hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring was op Hom. "

Wat word in hierdie antwoord die plaasvervangende werk van ons Heiland mooi geteken. Want dit bly nie net by die genoegdoening van Christus nie. God reken my ook die geregtigheid van Christus toe. Immers ons het geeneen van die gebooie van God volbring nie. Ons het nie alleen die gebooie van God oortree nie, maar ons het ook nie daarvolgens gelewe nie. Dis daarom dat antwoord 60 ook van die toerekening van die geregtigheid van Christus spreek. Hy, het die gebooie wel volbring, tot op die kruis toe het Hy hulle volbring.

Christus het God en sy naaste tot in die dood toe volkome liefgehad. In die geloofsleer word dit die gehoorsaamheid met die daad van Christus genoem, sy geregtigheid, deur die gebod van God te volbring. Selfs aan die kruis het Hy vir sy moordenaars gebid. Die Here se nou: Maak daardie tekort in jou lewe dat jy my gebooie nie volbring nie, jou stukkend? Hoor dan: oor jou lewe het Ek die volmaakte geregtigheid van my Seun gele. Die gee Ek vir jou en die reken Ek jou sommerso uit vrye genade, toe.

En nog gemeente is nie alles oor die plaasvervanging van ons Heiland gese nie. Ons word deur ons gewete aangekla dat ons tot alle boosheid geneig is. Die Here se: Ek weet jou goeie voorneme loop telkens weer op die bedorwe hart van jou stukkend. Ek weet hoe dit more en oormore in jou lewe aangaan. Luister nou mooi, die heiligheid van Christus, sy lewe op aarde wat sonder sondes was, dit het Ek klaar oor die toekoms van jou lewe gele. Jou lewe is volkome deur die heiligheid van my Seun bedek. Laat ons nog eenmaal na die hoepriester Josua wat voor die engel van die Here staan, kyk.

Met reg kan die duiwel van God eis dat 'n vuur van God sou uitgaan om Josua te verteer. Maar God doen dit nie, Hy laat vir Josua skoon klere aantrek. Dan se antwoord 60 dit doen God sonder enige verdienste van my kant uit louter genade. Die woorde sal ons almal uit die katkisasieklas bekend in die ore klink. Hulle het 'n diep inhoud uit louter genade, dit wil se alleen, suiwer, genade sonder dat daar 'n spoor van eie werk in is nie. U verstaan gemeente ons staan hier in die hart van die groot reformasie. Dis waar Luther en Calvyn hul lewe lank vir gestry het.

Ja ons staan hier midde-in die evangelie van die sondaar wat verniet geregverdig word. Dink aan die gelykenis van die fariseer en die tollenaar in Lukas 18: "Die fariseer het gaan staan en by homself so gebid: O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe bedrieers, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee 'n tiende van my hele inkomste" Ja die fariseer is besonder selfvoldaan. Maar wat bid die tollenaar? Net 'n paar woorde: "O God wees my sondaar genadig" Hoor nou wat Jesus van die gebed van die tollenaar se: "Hierdie man en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. " Dis nou louter genade. Soos water glashelder sonder vertroebeling kan wees, so is God in sy barmhartigheid glashelder.

Die slot van antwoord 60 laat ons nog sien hoe radikaal die vryspraak van God is. Deur die vryspraak van God word ek so geregverdig, asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie, ja, asof ek self alle gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het. Hoor ons die juigtoon van die geloof? Dis die uitwerking van die een woordjie "nogtans"

Luther het op Habakuk 3: 17 en 18 gewys, daar laat die profeet die radikale van die 'nogtans' in beelde van sy tyd sien. Hy se: "Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerd wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my redder. " Die profeet wil maar se: al is ek totaal berooid nogtans sal ek in God my Redder juig. God skenk en reken ons immers heel die plaasvervangende werk van ons Heiland toe.

Hierdie antwoord predik ons die groot ruil, die groot verwisseling, soos ons Vaders die plaasvervanging genoem het. God neem my liederlik vuile klere van my af, om hulle op Christus se skouers te le. Hy neem die smetteloos witte kleed van Christus, sy genoegdoening, geregtigheid en heiligheid, om hulle blinkend op my skouers te le. Sondag 23 het begin met die vraag: Wat baat dit jou dat jy dit alles glo? Daar is die antwoord: Jy is daardeur voor God regverdig. Onmiddelik vloei daaruit voort dat jy 'n erfgenaam van die ewige lewe is. Virseker was dit 'n skerpe aanklag waar antwoord 60 mee begin het. Maar het daar 'n verrassende vryspraak op gevolg. Daarom loof en prys jou God vir daardie weldaad.

III So het ons tot die laaste gekom. Die vryspraak wat in die evangelie, in 'n heerlik blye boodskap tot ons kom, is die evangelie van die geloof. Daarop le die slot van sondag 23 alle nadruk. Die slot van antwoord 60 is dat ek aan die weldaad deel het vir sover ek dit met 'n gelowige hart aanneem. Weet ons wat wat dit is om te glo?

Dit is in die volbragte, plaasvervangende, werk van Christus glo. Dis Christus jou hand gee, omdat Hy in die evangelie van die regverdiging jou al by die hand geneem het. Kom se Hy in die evangelie, kom, saam sal ons God toe gaan en voor Hom is jou skuld deur My bedek.

In die begin van die preek het ons gesien dat sondag 23 terugkyk na die sondae oor die twaalf artikels en na die sondae oor die sakramente vorentoe kyk. In sondag 26 sal ons al hoor dat Christus ons al in ons doop by die hand geneem het. Die jongeres onder ons wat binnekort hul geloof gaan bely, gaan dan met hul ja woord openlik hul hand in die hand van Christus le. Wanneer jy dan saam met Christus voor God staan word die groot ruil voltrek. Die verwisseling waaroor ons netnou gespreek het. Die slot van antwoord 61 se: Ek kan my Heiland met sy genoegdoening, geregtigheid, en heiligheid, nie anders as alleen deur die geloof aanneem en my toeeien nie.

Daardie woord toeeien is 'n sprekend woord! Dit is na jou toe haal. Jou tot eiendom maak. In die doopformulier word hierdie woord al gebruik. Daar verklaar die kerk, dat die Heilige Gees ons tot eiendom maak wat ons in Christus het, naamlik die afwassing van ons sondes en die daaglikse vernuwing van ons lewe. So sal ons eendag volkome rein 'n plek ontvang in die gemeente van die uitverkorenes in die ewige lewe.

Wag 'n bietjie het die roomse opposisie van Ursinus en Olevianus in hul tyd gese. Wag 'n bietjie kom jul nou tog in ons lyn? Is daar tog in die glo van julle nie dieselfde verdienste wat ons in die goeie werke le nie? Is die geloof nie die onmisbare verdienste, om salig te wees nie?

Hierdie verwyt is die opstellers van die kategismus meermale voor die voete gegooi. Daarom dan ook die laaste vraag van sondag 23: Waarom se jy dat jy alleen deur die geloof regverdig is? In die woord alleen is al 'n kragtig verweer, teen die roomse verwyt, gele. Dink julle vra Ursinus en Olevianus, dink julle regtig dat ons die geloof tot iets verdiensteliks maak? Dat die geloof 'n prestasie van die mens is op grond waarvan God vryspreek? Glad nie, ek deur die geloof aangenaam? 'n Verdienstelike daad van my kant? Onmoontlik, dis net die manier waarmee ek my Christus weldade tot my eiendom maak. Daar is glad geen verdienste in nie.

Se maar 'n man ry met motorkar in die water en dreig om te verdrink, dan kom daar 'n lewensredder wat die man deur sy deurvenster weet te red. Moet nou die lewensredder vir die geredde man dankie se omdat hy so goed was om hom te laat red? Immers nooit nie. Dis die geredde man wat geen woorde sal vind om sy dankbaarheid vir sy redding uit te druk nie. So is dit ook, wanneer God my in Christus deur die evangelie die reddende hand toesteek, wat kan ek dan anders doen as die hand vasgryp? Wat anders, as my deur my Heiland, deur die heerlik evangelie laat red. Moet God my dan prys vanwee my geloof? Ek kan nie anders as God vir sy goedertierenheid te loof en te prys.

So staan die kerk van Christus met hierdie blye boodskap van vryspraak en vergewing in hierdie wereld wat hoe langer hoe meer verliederlik. Die kerk, dis ons, mag in die naam van Christus almal wat hulle deur sonde en vernieling van die lewe saamgesleep is, verkondig dat daar by God vryspraak en vergewing is, vir wie in Christus tot Hom vlug.

Dit is die boodskap op die man af!

Wat baat dit jou nou dat jy dit alles glo? Dat ek in Christus voor God regverdig is en 'n erfgenaam van die ewige lewe. Dis meer dan die beste kwalifikasies en die hoogsbetaalde pos. Dit is die enigste troos in lewe en in sterwe. Wat 'n heerlik boekie daardie kategismus van ons!

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)