Die blye boodskap van God se vreemde vryspraak

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 23
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 23 H K

LITURGIE:
Ps. 32: 1, 6
Wet
Ps. 32: 3
Gebed
L. Rom. 1: 16, 17 & Rom. 3: 10-4: 8
Prediking oor Sondag 23 H K
Ps. 130: 2
Gebed
Kollekte
Ps. 86: 2, 3

Broeders en susters,

Eendag sal God sy regterstoel bestyg en alle mense, groot en klein, voor Hom voor Hom laat verskyn. Ons het verlede sondag daarvan gelees in Openbaring 20. Op daardie dag word die boeke oopgemaak en oordeel God almal na wat in die boeke geskrywe is, volgens hulle werke.

Baie mense glo dat eers op daardie dag die beslissing sal val oor ons ewige wel of wee. In die laaste oordeel sal God beslis of ons hemel toe mag gaan of hel toe moet gaan.

Maar kan dit wees, gemeente? Dit sou mos beteken dat almal wat vandag alreeds gesterf het, steeds in onsekerheid verkeer oor hul lot. Hulle kan dan nog nie klaar in die hemel by Christus wees nie; hulle kan dan ook nog nie reeds in die hel wees nie, maar moet seker maar êrens in 'n tipe van 'n wagkamer afwag deur watter deur hulle eendag gestuur gaan word: hel toe of hemel toe. Dan sou daar tog 'n Vaevuur wees, soos die Roomses leer.

Maar die Skrif sê baie duidelik dat elke mens na sy dood weet waar hy aan toe is. Ek herinner u maar net aan die gelykenis van die ryk man en die arm Lasarus: na hul dood was Lasarus in die hemel in Abraham se skoot, en die man wat op aarde ryk was, in die helse pyn. Die laaste oordeel moes egter nog kom, want die man in die hel wou mos vir Lasarus weer aarde toe laat stuur om sy familie te waarsku.

Nee, nie die laaste oordeel bring eers die laaste beslissing nie. Ons kan dit hoogstens sê m. b. t. dié mense wat op daardie dag nog op die aarde leef.

Die oopmaak van die boeke op die laaste dag beteken ook nie dat God eers daaruit sy gevolgtrekkings moet maak en sy vonnis moet vel nie. Die boeke vorm die bewysstukke waarom die een mens hemel toe mog gaan en die ander in die helse pyn gewerp is. Enige mens word op daardie dag gekonfronteer met sy eie lewe, en die boeke sal bewys dat die hemelse Regter 'n eerlike vonnis gevel het.

Word ons dus meteen by ons sterwe geoordeel?

Mens sou so reken, maar ek moet vanoggend aan u vertel, broeders en susters, dat die oordeel oor u lewe selfs nog voor u sterfdag gevel word. Vandag alreeds plaas God sy regterstoel op die aarde, roep Hy u en my ter verantwoording, meet Hy ons lewe volgens die maatstaf van sy goddelike wet en spreek Hy sy vonnis.

Maar daardie vonnis is heeltemal anders as wat ons sou moet verwag. Terwyl ons die ewige dood verdien, sluit die hemelse Regter die ewige lewe vir ons oop.

Dié wonderlike boodskap mag ek vanoggend aan u deurgee.

Ek verkondig u:

DIE BLYE BOODSKAP VAN GOD SE VREEMDE VRYSPRAAK

HIERDIE VRYSPRAAK

  1. WORD VERKONDIG AAN GODDELOSES
  2. IS VERDIEN DEUR CHRISTUS
  3. WORD VERKRY DEUR DIE GELOOF.

1. Ons stel prys op 'n eerlike regspraak, gemeente. Word 'n mens skuldig bevind? dan moet hy sy straf kry. En as allerhande gevaarlike moordenaars skielik vrygelaat word omdat hulle beweer dat hulle uit politieke motiewe gemoor het, voel ons bra ongelukkig daaroor.

Ons het dit van ons God en Vader geleer om eerlik reg te spreek. 'n Regter mag geen omkoopgeskenke aanvaar nie, hy moet onpartydig elkeen se saak beoordeel. In Spreuke 17: 15 lees ons: "Hy wat die goddelose regverdig verklaar en die regverdige skuldig verklaar, hulle altwee is vir die HERE 'n gruwel".

Maar hoe spreek die HERE Self reg, broeders en susters? Onthou u nog wat ons in Rom. 4 gelees het? Paulus skryf daar oor die HERE as oor "Hom wat die goddelóse regverdig". God Self spreek wel sondaars wat die ewige doodstraf verdien, vry van hul skuld! Paulus herinner daarby aan Dawid wat op 'n stadium Psalm 32 kon sing, die Psalm waarmee ons dié diens begin het: "Welgeluksalig is die mens aan wie die HERE die ongeregtigheid wat daar in sy lewe is, nie toereken nie. ". Dawid is 'n duidelik voorbeeld van 'n mens wat deur die HERE sommer van al sy skuld vrygespreek is. Hy het volgens God se eie wette 'n dubbele doodstraf verdien. Eerstens weens owerspel en tweedens weens moord. Hy het meer as 'n jaar in sy sonde geleef. En u kan maar gerus sê: hy het as 'n goddelose geleef. Hy het God feitlik buite sy lewe gehou, alhoewel hy getrou tempel toegegaan, boeke gevat het en so meer.

En dan kom die profeet Nathan namens die HERE op 'n sekere dag in sy paleis en konfronteer die koning padlangs met sy oortredings. Maar as Dawid dan nie meer kan ontken nie, inmekaarsak en erken: "Ek het teen die HERE gesondig", klink dit dadelik uit Nathan se mond: "So het die HERE dan ook u sonde vergewe; u sal nie sterf nie!". Sondermeer volg die vryspraak van skuld. 'n Goddelose mens word regverdig verklaar. En Dawid sing vol verwondering Psalm 32 om vir sy broeders en susters te vertel dat sy geval nie 'n uitsondering by God was nie. Nee, dit is reël by God.

So maak God met goddeloses. So wil God by ons bekendstaan. So ís God.

So mag ook u Hom ken, broeders en susters. Dit is die evangelie wat u mag glo. Daar is ook geen ander evangelie as hierdie een nie. Ons het 'n God wat sondaars vergewe, wat skuldiges vryspreek, wat goddeloses regverdig. Gratis, verniet, sonder enige genoegdoening van ons kant.

Hierdie Evangelie is so verbasingwekkend dat dit byna ongelooflik is. Dit lyk alte mooi om waar te wees. Die hele kerkgeskiedenis wys dan ook hoe moeilik dit vir mense was om hierdie vreemde vryspraak sommer te aanvaar.

U ken die geskiedenis van Luther. Daardie man het in sy Bybel gelees dat die HERE 'n regverdige God is. Hy het terselfdertyd geweet hoedat hy self was: 'n mens vol sondes en tekortkomings. Watter afleiding moes Luther dus anders maak as dat hierdie regverdige God hom vir ewig moes verdoem? Hy het in sy monniksel weggekruip vir die verdiende toorn van God en alles geprobeer om sy skuld by God weer reg te maak. Maar hy moes ook al hoe meer agterkom dat geen mens dit ooit kan regkry nie. Doodsbang het hy geword, totdat hy in die brief aan die Romeine uit die gedeelte wat ons ook saam gelees het, tot sy verbasing begryp dat ons God goddelóses regverdig verklaar. Eers toe het Hy die HERE regtig leer ken soos Hy is. Eers toe het sy lewe vir God oopgebloei vol blydskap, dankbaarheid en nuwe toewyding.

Maar ook daarna, in die kerke van die Reformasie wat in Luther se spoor die Evangelie dat God sondaars regverdig verklaar, leer ken het, het telkens mense bly tob met God se vreemde vryspraak. Hulle het gemeen mens moet darem eers 'n besondere bekeringservaring deurmaak voordat God jou van jou sondes vryspreek. Jy moet eers diep deurgelei word in jou sondebesef, saamgeneem word deur die donker tonnel van vrees en bewe, sodat pas daarna, aan die einde van daardie tonnel, die ligdag kan aanbreek waarop God jou verlos en van jou skuld ontslaan.

Sulke gedagtes hoor jy vandag nog steeds, gemeente.

In ons susterkerke in Nederland was daar die laaste maande nogal wat opskudding oor 'n preek van 'n Christelijke Gereformeerde predikant wat die Gereformeerde prediking van God se regverdigverklaring van goddeloses verdaggemaak het asof dit eintlik 'n gevaarlike dwaalleer is. Ek noem dit hier, omdat dit 'n goeie saak is dat ons bly meelewe met wat aangaan in ons buitelandse susterkerke, en boonop omdat daardie Christelijke Gereformeerde predikant, Ds Jaap Westerink, kort tevore nog hier in Suid-Afrika was. Hy was as afgevaardigde van sy kerke in die Sinode van die Gereformeerde Kerke hier in Suid-Afrika, januariemaand.

Ds Westerink het in sy preek gesê ons kan nie sommer die boodskap van vryspraak onsself toeëien nie. Ons moet almal eers 'n worsteling met die HERE deurmaak soos Jakob in Pniël by die Jabbokdriwwe.

Terloops: iemand het in reaksie op hierdie snaakse Skrifgebruik gevra of ons dan ook almal eers ons nek moet breek soos Eli, of soos Dawid die speeksel in ons baard moet laat afloop!

Verstaan u gemeente, dat 'n mens deur sulke gedagtes op homself teruggewerp word? Ons moet eers iets in onsself kry wat vir God 'n genoegsame rede kan wees om ons vry te spreek van skuld: 'n diepdeurleefde ervaring van die sonde, 'n worsteling met God....

Maar dan sou ons altyd onrustig en onseker bly! Dan sou ons bly soos Luther voor sy bekering. Ons sou maar in onsself bly grawe om êrens 'n positiewe punt beet te kry waaroor God ons ons sondes kan vergewe.

Maar God se Woord sê heel eenvoudig en glashelder vir u: God is dit wat goddeloses regverdig. Hoe ryk is dit vir ons, broeders en susters!

Sê nou, Paulus het in Rom. 4 geskrywe: God regverdig vromes- aan watter kenmerke moet ek dan voldoen? Wanneer mag ek myself as 'n vrome beskou?

Sê nou, Paulus het geskrywe: God verklaar die gelowiges regverdig- mag ek dan myself daaronder reken? Maar is my geloof sterk genoeg?? Ek twyfel mos so dikwels...

Sê nou daar het in Rom. 4 gestaan: God vergeef die mense wat 'n voldoende groot skuldbesef het- wanneer het 'n mens dit? Hoelang en hoe swaar moet jy daarvoor met God worstel?

Ons sou ons lewe lank bly tob en twyfel.

Maar God wag niet op iets wat eers by u moet verander het nie, Hy soek nie na iets wat eers by u aanwesig moet wees nie. Die apostel mog skrywe: God verklaar die goddeloses regverdig.

En daaronder kan ons almal maar onsself reken. Daartoe behoort alle mense.

Paulus het dit al eerder in sy brief geskrywe, hoofstuk 3: 10: Wie in hierdie wêreld rondkyk, kan maar tot een gevolgtrekking kom: "Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie...... Daar is geen vrees vir God voor hulle oë nie. Want almal het gesondig en het die lewe in heerlikheid met God verspeel.. ".

So is ons feitlik ook, broeders en susters. Alhoewel ons kerkmense is, gelowiges, is daar ook in ons lewe soveel waarmee ons teen God se goeie gebooie ingaan dat ook ons die dood verdien.

As dit goed is, weet u dit van u self baie mooi. Al sou 'n ander dit ook nie vir u vertel nie, u kan u eie gewete nie die swye oplê nie. Diep in u hart weet u baie mooi: ek het teen al die gebooie van God swaar gesondig en geeneen daarvan gehou nie; en ek is nog gedurigdeur tot alle boosheid geneig.

Wel, dit wat u weet, weet God ook. Hy weet dit selfs nog baie beter. Hy sou die aanklag nog heelwat skerper kan formuleer. Daarom verdra Hy dit ook nie as ons probeer om darem met iets aanvaarbaars in ons lewe: skuldbesef, sonde-ervaring of wat ook al, voor sy regterstoel te verskyn. Ons moet ons maar niks verbeel nie. In sy oë is ons eenvoudig: goddeloses.

Maar aan sulke goddeloses verkondig Hy vryspraak. Hy het sy knegte in die wêreld ingestuur om aan alle volke en mense na wie Hy in sy welbehae die Evangelie stuur, sonder enige onderskeid die vergewing van hul sondes voor te hou.

Die apostel Johannes skryf sommer in sy eerste brief: "Kinders, die sondes is julle vergewe". Mog Hy dit sommer sê? Het hy alle lesers van sy brief so goed geken dat Hy dit vir almal sommer kon sê? Wat het hy feitlik van hulle geweet?

Waarskynlik baie min. Maar dit maak nie saak nie. God het Hom geroep om dié boodskap deur te gee: daar is vryspraak van skuld vir goddeloses.

En soos Johannes dit destyds mog skrywe, mag ek dit vandag nog vir u sê: broeders en susters, u sondes is vergewe!

2. Maar is God dan nie 'n regverdige Regter nie? ! Ons het mos in die begin van die Kategismus geleer dat die HERE die sonde nie kan verdra nie. Toe ons in Sondag 4 gevra het of God dalk nie bietjie barmhartig oor goddelose sondaars kan wees nie, was die onverbiddelike antwoord: "God is wel barmhartig, maar Hy is ook regverdig. Daarom eis sy geregtigheid dat die sonde wat teen die allerhoogste majesteit van God gedoen is, ook met die swaarste straf, dit is die ewige straf aan liggaam en siel, gestraf word". So het Paulus mos ook eerder in sy brief aan die Romeine geskrywe. Kyk hoofstuk 2: 18: "die toorn van God word van die hemel af openbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense.. ".

Hoe kan God dan so skielik ons skuld eenkant skuiwe? !

Bedek Hy dit aan die einde van die dag darem maar met die mantel van die liefde?

Nee, Hy bedek dit met die bloed van sy eie Seun!

As Hy ons voor sy regterstoel ontbied en ons herinner aan die eise van sy goeie wet, staan daar 'n Advokaat in die hofsaal wat sommer aan ons toegewys word: die Here Jesus Christus. Maar dit is nie sommer 'n advokaat nie. Nie 'n man wat versagtende omstandighede aanvoer, wat prbeer om ons minder toerekeningsvatbaar te laat verklaar of so aan nie. Hierdie Advokaat het Self in ons plek alreeds die volle straf oor ons skuld gedra.

Dat God ons sondes nie sommer deur die vingers sien nie, het aangrypend geblyk op Golgotha: daar het die HERE sy afkeer van ons sondes, sy verskrikkelike toorn daaroor aan hierdie Advokaat laat voel. Christus is weggestoot in die godverlatenheid van die hel. Al ons sondes het God op sy skouers gepak en vervolgens sy grimmigheid oor sy Seun uitgestort.

En nou kan God goddeloses vryspreek en nogtans 'n regverdige God bly. Want dié Christus gaan langs my voor God se regterstoel staan en God sê: Kyk hier, dis oor Hom dat Ek vir jou sê: jou sondes is jou vergewe.

Christus het in my plek die skuld vereffen, Christus het vir my daardie vreemde vryspraak verdien. God reken my eenvoudig toe dit wat Christus vir my gedoen het. Asof ek self daar op Golgotha aan die kruis gehang en in die hel neergedaal het!

Sonder Christus sou daar geen vryspraak vir ons kan wees nie. Sonder Christus sou ons klaar in die ewige dood neergedaal het.

Maar ons is soos 'n doodarme meisie wat in gemeenskap van goedere trou met 'n skatryke jonkman. Skielik is alles wat van hom is, ook van haar.

Ja, die Bybel, en dus ook die Kategismus, gebruik 'n beeld wat nog baie sterker is: ons word by die Here Jesus Christus ingelyf. Ons vergroei heeltemal met Hom sodat ons feitlik in Hom opgaan. As ons nou voor God staan, sien God ons skuld, ons sonde glad nie meer raak nie. Want ons staan daar as 'n deel van Christus. En God sien maar net meer die onskuld en heiligheid van Christus.

Maar sonder Christus kan u en ek dus ook nie meer bestaan nie, broeders en susters. Is u bewus daarvan? Die Nederlandse Geloofsbelydenis praat in art. 22 van "Christus omhels" en dit impliseer 'n baie intieme relasie met Hom. Dit dui op 'n volledige oorgawe aan Hom vol liefde en verlange.

En dan vra ek weereens: het u so'n persoonlike relasie met u Heiland?

Ek het onlangs in 'n jeugblad van susterkerke van ons in die buiteland 'n vraaggesprek gelees met jongmense wat uitgevra is oor die plek wat Christus in hul lewe inneem. Mens skrik van die antwoorde: "Ek het geen persoonlike relasie met Jesus nie. Vir my is die geloof veral die geloof in die Vader. Jesus is wel belangrik maar staan darem baie minder op die voorgrond. Hy het 'n soort brugfunksie: via Hom het ek by die Vader kon kom, maar daarna het Hy na die agtergrond verdwyn. Jesus speel in my geloofslewe skaars meer 'n rol". Dit sê 'n Gereformeerde seun van 20 jaar wat waarsknlik reeds belydenis afgelê het. 'n Dogter van dieselfde leeftyd vertel: "Ek dink feitlik nooit aan Jesus nie. Vir my is die Vader baie belangrik. Ja, ek bid natuurlik wel "om Jesus ontwil", maar ek staat eintlik nooit stil by daardie woorde nie".

Hoe is dit met u, broeders en susters?

Hoe met julle, jongmense?

God se vreemde vryspraak kom in die Persoon van die Here Jesus Christus na ons toe. Christus kom namens die Vader voor u en my staan en sê: Kyk hierso, al het jy ook hoeveel skuld- jou sondes is jou vergewe. Danksy my offer vir jou. Christus hou as 't ware sy arms oop om u in liefde te ontvang. En by Hom is daar vergewing, lewensherstel, 'n ewige uitsig.

Maar wie Christus nie eintlik persoonlik ken nie- ken daardie mens wel regtig die Vader? !

3. Daarom roep God ons op om Christus in geloof te omhels, gemeente. Dit is die enigste voorwaarde wat Hy aan ons stel om van ons skuld by Hom ontslae te kan raak. Ek moet Christus en al sy weldade met 'n gelowige hart aanneem.

Konkreet beteken dit: ek moet die Evangelie waarmee God na my toekom, gelowig aanneem.

Want Christus se oop arms vir u en vir my word in die Evangelie sigbaar. Lees en luister na die geskiedenis van die mens se opeenhoping van sondes. Lees en luister na die verhaal van Christus se koms in die wêreld. Lees en luister na die verhaal van sy gehoorsame lewe aan God. Lees en luister na die heerlike geskiedenis van sy vreeslike lyding. Lees en luister ook daarna hoedat God hierdie Borg uit die dood opgewek het: God aanvaar sy Middelaarskap!

Lees en luister na dit alles en God Self kom in Christus in lewende lywe voor u staan. Hy spreek u almal persoonlik aan en sê: Ek spreek jou vry van al jou skuld. En God voeg daaraan maar net toe: Glo jy dit? Hoekom glo jy dit nie? .

Paulus het aan die begin van sy brief aan die Romeine geskryf dat die Evangélie "'n krag van God is tot redding vir elkeen wat glo. Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar... ". God se vrysprekende vonnis word dáárin, in die Evangeliewoord, geopenbaar. Met ander woorde: wie sy persoonlike vryspraak te wete wil kom, moet nie by homself op soek gaan, na kenmerke, skuldbesef en daardie tipe van sake nie. Die moet net HOOR. Na die Evangelie hoor.

Orals waar die Evangelie klink, plaas God sy regterstoel.

Dit gebeur vanoggend hier en op talle plekke in die wêreld. Dit gebeur vanoggend in Mamelodi en in Soshanguve. Daar en hier is van nature goddelose mense bymekaar wat nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is. Maar God groet daardie goddelose mense met die woorde: "Genade en vrede vir julle... ". Die HERE hou sy heilige wet aan ons voor, sodat ons in ons gewete brand van skaamte. Maar Hy hou ook die Here Jesus Christus aan ons voor en sê: omhels Hom as jou Verlosser. Glo dat jou sondes klaar vergewe is, danksy sy offer ook vir jou.

Maar daardie woorde klink nou ook as 'n bevél: ons moet glo! Want wie durf nou nog vir God te sê: Nee, dankie, ek soek dit nie?? Wie is dit wat nou nog durf te vra: Maar is dit wel vir my? . Die Evangelie is mos vir goddeloses, en wie is dit hier vanoggend wat meen dat hy, of sy, nie daaronder gereken kan word nie??

Nee, ons moet maar net elke keer as die Evangelie aan ons voorgehou word, beskaamd en verwonderd ons kop buig en die reddende hand wat Christus ons toesteek, dankbaar beetgryp. Elke keer, ja. Dis nie voldoende om net een keer, wanneer jy uit die ongeloof oorgaan tot die geloof, Christus in die geloof te omhels nie. Dit moet ons daagliks bly doen, soos Christus daagliks in die Evangelie sy hande na ons bly uitsteek. Daar kom naamlik nooit 'n moment in u lewe dat u weer so ver op u eie bene staan dat u Christus nie eintlik meer benodig nie. Nooit. Dit bly altyd maar weer: geloof. Altyd maar weer hoor en aanvaar, elke keer opnuut geregverdig word omdat u u weer soos 'n goddelose gedra het.

Dit geld vir julle, kinders en jong mense: Kinders, jou sondes - en wat kan jy daardeur gepla word, wat kan jy jouself onrein, onwaardig en sleg voel!- kinders, jul sondes is julle vergewe. Vryspraak. Telkens opnuut asof jy telkens opnuut as 'n gelowige moet begin.

Dit bly so tot op ons sterfbed. Tot op ons heel laaste snik is ons almal van daardie vrysprekende Woord van God afhanklik.

Die vryspraak word ook sonder ophou verkondig aan die wat nie glo nie, sodat hulle dit eendag tog sal gaan glo. Die vryspraak word verkondig aan die wat twyfel, die wat soek, tob, sodat hulle sal weet dat God nie sommer iets sê wanneer Hy sê dat Hy goddeloses vryspreek nie.

Verstaan u dat dit dan 'n belediging van die HERE is as ons Hom nou nog nie glo nie? Dit is 'n belediging van ons goeie God om sy uitgestoke arms te ignoreer. God wil dat ons Hom, die Betroubare, op sy Woord glo, en wee ons as ons dit nie doen nie.

Die Kategismus lê daarop ook 'n sterk nadruk in Sondag 23. Daar staan: "Aan hierdie weldaad het ek deel vir sover ek dit met 'n gelowige hart aanneem".

Dit beteken nie dat my geloof dus feitlik my redding word nie. God spreek ons nie eers vry as ons so goed wil wees om te glo nie. Die Kategismus sê: "Ek is nie op grond van die waarde van my geloof vir God aanneemlik nie". Nee, Hy kom alreeds na ons toe met sy boodskap van vryspraak voordat ons glo. Hy spreek ons nie vry omdat ons glo nie, maar juis sodat ons Hom sal glo. So is sy werkswyse: Hy kom eerste na ons toe met uitgestoke hande, selfs na mense wat nog nooit van Hom gehoor het nie. Na goddelose mense. So het Hy na die meeste van ons alreeds in die doop na ons toegekom toe ons nog veels te klein was om te kan glo.

Maar as Hy met uitgestoke hande na ons toekom, verwag Hy ook dat ons die hande na Hom uitsteek. Hy verwag dat onder sy liefde vir ons nou ook ons harte in liefde vir Hom oopgaan. Hy gooi sêmaar na ons, terwyl ons besig is om in 'n dodelike moeras weg te sak, 'n reddingstou toe. En hoef nie meer te doen as om daardie tou te gryp en ons daaraan vas te klem nie.

Maar watter mens gaan hom dan vervolgens beroem op sy hande waarmee hy darem die tou gegryp en beetgehou het? ! Watter mens durf dan te gaan spog met sy eie geloof asof hy dáárdeur gered is?

Trouens, dit is nog God Self wat ons sover moet bring dat ons sy reddingstou raaksien en beetgryp. Van onsself wíl ons nie eens deur God gered word nie. Daarvoor is ons selfs te hoogmoedig. Maar Hy bewerk dit Self dat ons gewete op sy goeie wet begin reageer en ons beskuldigend begin aanspreek. Hy leer ons om ons oor ons skuld te skaam. Gods eie Heilige Gees is dit wat ons sover bring dat ons gelowig Christus en al sy weldade omhels.

Ons het dus helemaal niks om mee te kan spog nie. Ons kan alleen maar vol verwondering aanvaar wat God in sy liefde aan ons wil gee.

Ons word nooit veel meer as goddeloses nie.

Maar as u dit erken, en u klein, baie klein voel teenoor ons groot en genadige God, mag ek vanoggend vir u sê: God neem u weer aan as sy kinders, want u sondes is u om Christus ontwil vergewe!

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)