God die Heilige Gees doen 'n volkome werk

Predikant: 
Ds RH Bremmer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 22
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van Dr. R H Bremmer oor sondag 22 H. K.

Amen en Halleluja.

Lees: 2 Kor. 4: 16 - 5: 10
Teks: Sondag 22 H. K.
Sing: Ps. 30: 6 en 8
na wet Ps 31: 15
na belydenis Ps 16: 4
Ps 73: 10, 11, 12
Sb. 24: 7
Ps 10: 1, 2, 3, 6

Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

Ook sondag 22 word in die kategismus deur ons onder die opskrif: "Oor God die Heilige Gees en ons heiligmaking" bely. Katkisante vind dit partymaal vreemd. Wat het die opstanding van die vlees en die ewige lewe met die Heilige Gees en ons heiliging te doen? Dat die titel vir sondag 20 gebruik word is verstaanbaar daar word tenminste oor die Heilige Gees gespreek. Is dit geen oordrewe indelingsywer om ook sondag 21 en 22 onder dieselfde koppie te vang nie? Of is dit moontlik tog nie so vreemd soos dit op die oog af lyk nie?

Oor die Heilige Gees en sy werk moet ons regtig nie gering dink nie. In sondag 21 het ons bely: Christus vergader sy kerk deur sy Gees en Woord. Dat die gemeenskap aan Christus en al sy skatte en gawes ons deur die Heilige Gees deelagtig gemaak word, het ons al in sondag 20 bely. Die toeeiening van die vergewing van die sondes as een van die skatte van Christus word ook deur die Heilige Gees gewerk! Kyk nou hoe mooi die laaste artikels by die vergewing van sondes aansluit.

So radikaal het God ons die sondes vergewe dat die Heilige Gees ons vlees uit die magt van die dood opwek, en ons die ewige lewe skenk! God die Heilige Gees wis die laaste spore van ons sonde bestaan totaal uit, deur ons 'n nuwe, 'n verheerlikte bestaan in die ewige lewe te gee. Dit is deur die mense wat die kategismus opgestel het mooi raakgesien. Hulle vra nadruklik hoe die opstanding van die vlees en die ewige lewe ons troos. Sondag 22 sluit aan by sondag 1 waar ook onmiddelik lewe en dood aan die orde gestel word: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Dis die Heilige Gees wat ons deur die sonde vernielde bestaan, gaan heilig tot ons in die heerlikheid van die ewige lewe onberispelik sal wees. Gemeente, God laat die werk wat sy hand begin nie los nie. Deur die werk van die Heilige Gees word dit tot die volkomeheid in die ewige lewe gebring, In hierdie lig wil ons sondag 22 oordink.

GOD DIE HEILIGE GEES DOEN 'n VOLKOME WERK. Dit sien ons:

  1. By die sterwe;
  2. By die opstanding van die vlees;
  3. In die heerlikheid van die ewige lewe.

I Tot een van die oudste dele van die twaalf artikels van die geloof, moet die artikel oor die opstanding van die vlees gereken word. Reeds in die tweede eeu na Christus is hierdie belydenis in gebruik. By die doop het hulle triomfantelik bely: Ek glo in die opstanding van die vlees. Hulle het geweet wat vir hulle wag as hulle deur die doop hul van hul heidense bestaan, in Christus laat reinig het. Die risiko van die dood het daarmee saamgekom: Voor die wilde diere gegooi om verskeur te word of op die brandstapel omkom. Hulle het bely die dood kan ons van ons Here Jesus Christus nie skei nie.

Polykarpus die biskop van Smirna het op die brandstapel uitgeroep: Ek sien Jesus! Teenoor die dreiging van die dood het hulle volgehou: Ek glo dat my vlees sal opstaan. Oor die dood heen het hulle die dag van ons Here Jesus Christus gesien. Hom het hulle bely: Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel. Na die triomf van Jesus Christus het hulle met verlange uitgesien. By die kerk van die groot reformasie was dit nie anders nie. Die manne en vroue vir wie Ursinus en Olevianus hierdie troosboek geskrywe het, het ook van skavot en brandstapels geweet. Hulle het ook deur die vuur van vervolging gegaan, en nadruklik oor die troos gepraat wat hulle uit die laaste twee artikels van die geloof geput het.

Die troos het hulle nie alleen aan die wederkoms van Christus en die wederopstanding van die vlees wat daarmee saamgaan verbind nie, maar hulle het die troos ook verbind met dit wat direk by die sterwe gebeur. Nadruklik word daaroor deur antwoord 57 gespreek. Die nabye toekoms van die sterwe en die wederkoms van Christus wat verder voor ons le, word in een geloofsvooruitsig saamgebring. Dit word in een lange sin gedoen, maar tog word dit deur die woorde "nie alleen...... maar" ook duidelik in twee verdeel. Ons bely: nie alleen ons siel sal dadelik tot Christus sy Hoof opgeneem word nie, maar hierdie vlees van my sal weer met my siel verenig word. Ja dan... heerlike vooruitsig, ... aan die verheerlikte liggaam van Christus gelykvormig word.

Gemeente, in die eerste gedeelte van hierdie lang sin word teenoor die Roomse siening van die vaevuur, stelling ingeneem. Dit word deur die woord 'dadelik' gedoen. Nie na die vaevuur nie, maar dadelik tot Christus opgeneem! Moontlik dink u: dis vandag nie meer aktueel nie, moet ons as gereformeerdes vandag nog daaraan aandag skenk? Gemeente maak geen fout nie. Dit raak ons geloofsinsig in die werk van ons Heiland tot in sy diepste grond. Daarom wil ons vandag ook daaraan ekstra aandag gee.

Die leer van die vaevuur is maar nie 'n onderdeel van die Roomse leer wat op homself staan nie, maar hang ten nouste met die hele leer saam. Juis deur die leer te verwerp, sal opnuut die reformatoriese belydenis van ons Heiland en plaasvervanger, in sy vir ons volbragte werk, skitter. Die Roomse kerk leer dat 'n gelowige wat sterwe nog nie voldoende van sy sondes wat hy hier op aarde bedryf het, gereinig is nie. Daarom kan hy onmoontlik voor die heilige God verskyn. Want, se hulle: Christus het op Golgota wel die erfsonde versoen, maar die sondes wat daagliks deur ons bedrywe word, moet deur die misoffer versoen word. Die krag van die misoffer kan nie alleen die lewendes ten goede kom nie, maar kan ook vir die dooies versoening bewerk.

So het daar in die loop van die middeleeue die gedagte opgekom dat daar 'n plek tussen hemel en hel moet wees, waar die siele van die gelowiges wat gesterf het, 'n laaste en totale reiniging moet deurstaan. Rome het hom daarvoor op die apokriewe boek van die Makkabeers beroep. Daarin staan dat Judas die Makkabeer offers het laat bring vir hulle wat in die stryd teen die Syriers gesneuwel het. Op die lyke van die gesneuweldes is afgodsbeeldjies gevind, waardeur hulle nie dadelik in die ewige rus sou kon ingaan nie.

Volgens die roomse teologie word die vaevuur deur twee dinge getypeer. Eerstens word daar die nabyheid van God gemis. Die siele in die vaevuur verlang baie na die nabyheid van God soos dit in die hemel gevind word. In die tweede plek is daar die wroeging oor die sondes wat hier op aarde bedrywe is. Die siele dink dan daaraan hoe maklik hulle die misdrywe deur goeie werke op die aarde kon goed gemaak het. Eers nadat hulle lange tyd in die vaevuur deurgebring het, kan hulle nader tot God kom en in die ewige rus ingaan. Hulle se dan: Gelukkig kan hierdie proses bespoedig word deur hier op aarde aflate en siele-misse vir die afgestorwenes te bring.

So sien ons dat hierdie systeem uiters verfyn aaneengeskakel is. Die ergste is dat die uitsig op die werk wat Christus volbring het, verduister word. Moontlik is een van die mees ingrypende gevolge van die terugkeer tot die evangelie van vrye genade dat die reformatore die leer van 'n vaevuur tussen hemel en hel totaal verwerp het. Immers, ons het eers die vergewing van die sondes bely, dat God die nooit meer wil gedenk nie. Christus het die straf vir ons tot die uiterste toe gedra.

Inderdaad ons bly tot ons dood toe sondaars. Ons sondes bly ons tot die laaste toe aankla, maar reiniging na die dood bestaan daar nie. Christus het aan die kruis ons skuld weggedra. Hy het dit uitgeroep dit is volbring! Met sondag 16 het ons bely die dood is 'n afsterwing van die sondes en 'n deurgang tot die ewige lewe. In die afsterwe word ons deur God van die laaste besmetting van die sonde verlos. Reingewas deur die bloed van Christus mag ons die heerlikheid ingaan.

Hoe stel die kategismus ook in antwoord 57 Christus weer sentraal! Dadelik na hierdie lewe word my siel tot Christus sy Hoof opgeneem. Deur die krag van Christus word my vlees opgewek. Ek sal aan die verheerlikte liggaam van Christus gelykvormig word. Oor die sterwe en dood straal die lig van die werk wat Christus volbring het. Driemaal word ons heerlik Hoof hier genoem. Vir die manne en vroue van die reformasie het die Skrif te duidelik van volkome verlossing gespreek, om vir Rome ook maar een stap terug te staan.

Dink aan die antwoord van Christus toe die moordenaar aan die kruis vir Hom vra: "Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom. " Bedink wel hierdie is 'n misdadiger met bloed wat aan sy hande kleef. Wat antwoord ons Heiland? "Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees. " (Luk. 23: 43) In die vandag het Christus die troos gele, deur die dood heen sal hy saam met Christus die paradys ingaan. Miskien het die man nog aan 'n aardsryk gedink, maar Jesus maak vir hom die paradys van God oop. As daar een man met 'n sondige verlede tot voor die poort van die dood gekom het dan was dit hierdie man. As daar net een, eers by sy sterwe van sy sondes verlos is, dan kan dit net hy wees.

Moenie dink dat Rome geen plan met hierdie moeilikheid gemaak het nie. As meesters in Skrifverminking lees hulle: "Ek verseker jou vandag: Jy sal saam met My in die paradys wees" Asof vir die misdadiger duidelik gemaak moes word dat Christus vandag praat. Nee, "die vandag" behoort net by die saam in die paradys wees. Ons Heiland het as mens gesterwe. Net soos elkeen van ons het Hy deur die poort van die dood gegaan. Hoor nou hoe ons Heiland op die grens van lewe en dood sy verwagting van sy geloof uitspreek: "Vader in u hande gee ek My gees oor. " (Luk. 23: 46) Op Golgota het Christus die vaderhande gesien wat na Hom uitgestrek is. Hande wat Hom in die vaderhuis tuisbring. Sou God met al sy ander seuns en dogters anders handel?

Ons word dadelik tot Christus ons Hoof opgeneem. Die kategismus verwys nog na die gelykenis van die ryk man en die arme Lasarus, toe hy te sterwe kom is hy deur die engele na die ere plek langs Abraham gedra. (Luk. 16: 22) God het sy liturgiese geeste uitgestuur om Lasarus uit die aardse ellende, in die heerlikheid van God in te dra. Ons moet oppas dat ons in 'n gelykenis nie meer lees as die Skrif self daarin openbaar nie, maar dit is seker: Lasarus was na sy sterwe by God, in gemeenskap met Abraham en alle heiliges, hy is daarin opgeneem en tuisgebring.

Ook in antwoord 57 van die kategismus is elk woord met sorg gekies. Daar word van Christus ons Hoof gespreek. Dit was ook moontlik om vir Christus ons Middelaar of ons Heiland te kies. Weloorwoe word die woord Hoof gekies. Daardeur word die nou verband wat daar tussen Hom en ons is, blootgele. Hy, ons Hoof, is in heerlikheid aan die regterhand van die Vader; sal Hy ons sy lede in die mag van dood en graf los?

Die Heilige Gees gaan sy werk voltooi, deur uit krag van die werk wat Christus volbring het al die kinders van God in die vaderhuis op te neem. Dis ons blye vooruitsig gemeente! Luister na die troosvolle woord van Paulus in 2 Kor. 5: "Ons weet" so vas en betroubaar begin hierdie hoofstuk: "Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar 'n tent is, afgebreek word, ons 'n vaste gebou in die hemel het. Dit is 'n woning wat nie deur mense gemaak is nie maar deur God, en dit bly ewig staan. " Die gebou is deur God uitgedink, geskep en reg gemaak om 'n ewig huis vir ons te wees.

Sal die by Christus wees, soos Paulus dit in Filippense 1: 23 noem, 'n bewuste by Christus inwoon wees? Vas en seker, soos die kind van God by sy sterwe die oe sluit, so maak hy hulle by God en sy heilige engele weer oop. Dat gestorwe gelowiges in 'n bewustelose siele-slaap by God verkeer, kan absoluut nie in die Skrif begrond word nie. Die dogtertjie van Jairus en Lasarus word wel as bewys genoem. As ons Heiland oor hul dood as 'n slaap praat gaan dit nie oor die toestand waarin gestorwenes verkeer nie, maar oor die tydelike van hul gestorwe wees. Soos slaap geen blywende toestand is nie so sal ook hul dood tydelik wees.

Dink aan die slot van die antwoord van Jesus aan die Sadduseers as hulle Jesus oor die opstanding uit die dood wil uitvang met die sewe broers wat almal dieselfde vrou gehad het. Dan se Jesus vir hulle: "Dat die dooies opgewek word, het Moses ook aangedui waar hy in die gedeelte oor die doringbos praat van 'die Here, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob. ' Hy is nie 'n God van dooies nie maar 'n God van lewendes, want by Hom leef hulle almal. " (Lukas 20: 38)

In hierdie woorde van ons Heiland le 'n groot oortuigingskrag; By Hom leef almal! Nou, vandag! As jy nou nog twyfel oor die bewustheid van ons dooies wat bo by die Here is, gaan dan Openb. 6: 9-12 lees. Daar roep die siele onder die altaar: "Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde? " Gemeente, hulle daar bo leef met ons, met die ryk van God hier op aarde, mee. Dis een kerk, die wat daarbo gesien word en wat hier op aarde is. Dis om die triomf van die reg van God en van sy ryk dat hulle in hul gebede met ons saam worstel.

Die siele onder die altaar kan ook maar net saamworstel omdat hulle in skerp bewussyn met die stryd in die koninkryk van God hier op aarde meelewe. Hulle kry ook 'n antwoord: "daar is vir hulle gese om nog 'n klein rukkie te wag, totdat hulle mededienaars, hul medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemaak gaan word, almal daar is. " Kan 'n siel sonder bewussyn 'n klein rukkie wag? Nee tog, sekerlik nie. Met vurig verlange sien hulle na die dag van die eindoorwinning van die Lam uit.

Voorstanders van die siele-slaap het hulle ook op die Ou-Testament beroep. Soos op die gebed van Hiskia in Jes. 38: 18, naamlik: "In die doderyk kan niemand U loof nie, geeneen wat dood is kan U prys nie; niemand in die graf dink aan u trou nie!" Hiskia is deur die mag van die dood diep beindruk. Tog stel hy in sy lofgebed die heerlikheid van die lewe daar teenoor: "Net hulle wat nog lewe, kan U loof, so doen ek dit vandag. Vaders sal hul kinders van u trou vertel. Here U het my gered. Ons sal op ons liere speel al die dae van ons lewe, in die huis van die Here. "

Beteken die gebed van Hiskia dat in die Ou-Testament die dood onoorwinbaar is? Het die dood onder die ou-verbond 'n grens aan die lewensmag van God kan stel? As so gedink word, dan word die profetiese Woord nie geken nie. In Jesaja 25: 7 en 8 lees ons: "Op hierdie berg sal Hy die doek verwyder, die doek wat oor al die volke gegooi was, waarmee al die nasies toegemaak was. Hier sal die Here God die dood vir ewig vernietig en die trane op almal se gesigte vir ewig afvee. " Dieselfde vooruitsig het Job gehad toe hy uitgeroep het: "Nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou. " (Job 19: 26) Ook die Ou-Testament stel somtyds in 'n flitsbeeld die oorwinning van God oor die dood in die vooruitsig.

II Met opset het ons by die woord van die Skrif oor die dadelik na die sterwe tot Christus ons Hoof opgeneem word, 'n bietjie langer stilgestaan. Antwoord 57 open egter ook met groot nadruk die uitsig op die dag waarop Christus volkome oor die dood sal triomfeer. Konkreet word gese: dat ook hierdie selfde vlees van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en gelykvormig sal word aan die heerlike liggaam van Christus.

Hierdie selfde vlees van my; kan dit sterker gese word? As ons dit bely, kan ons vinger na ons eie liggaam wys. Duidelik word hier na sondag 18 teruggewys, naamlik dat ons in Christus, ons vlees as 'n seker pand in die hemel het. Dat Hy as die Hoof, ons die lede tot Hom sal neem. As Christus nie weerkom voordat ons sterwe nie dan sal ons liggaam tot die stof van die aarde weerkeer. Tog staan ons geloof rotsvas, deur Christus se krag opgewek, sal dit aan sy heerlik liggaam gelykvormig word.

Ons Heiland het self die graf ingegaan, Hy het waaragtig gesterwe. Maar soos die Gees van God Hom uit die graf opgewek het en met die ewige lewe beklee, so sal dit ons ook vergaan. Magtig en troosvol het die apostel Paulus in die opstandingsvolle hoofstuk 15 van sy eerste brief aan die Korintiers daaroor gespreek. In vers 52 lees ons: "By die laaste trompet sal dit in 'n oomblik, in 'n oogknip gebeur, want die trompet sal weerklink, en die dooies sal as onverganklikes opgewek word, "

Dit sal 'n magtig en triomfantlik oomblik wees. Die hele skepping het daar eeue lank op gewag. Dit het gelyk dat dood en duiwel hier op aarde die laaste woord het. Vir eeue het dit gelyk, of die woord van Christus dat die sagmoediges die aarde sal beerwe nie sou realiseer nie. Die sagmoediges is verdruk, gehoon, vertrap en na die skavot gesleep. Nou, op die die laaste dag waarop geen nag sal volg nie, sal gesien word: Dit is God wat oor dood en duiwel triomfeer. Luther het geskrywe: Op die dag sal die duiwel 'n groot skreeu gee. Vir ewig het hy die stryd verloor.

Hoe sal dit wees? Dieselfde Luther het gese: Dan sal daar op my grafsteen geklop word en Jesus sal se: "Dr. Martinus, kom uit en ek sal opstaan en in die ewige blydskap by die Here wees. " Kan die opstanding in woorde mooier vertolk word? Die Gees van God sal lewewekkend oor die aarde stryk. Geinspireer deur die Heilige Gees het Esegiel in die seweendertigste hoofstuk van sy profesie oor die dorre bene gespreek. In vers 15 lees ons: "Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe en Ek sal julle in jul land laat woon. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het dit gese en Ek sal dit doen, se die Here. "

Moet nou tot in die kleinste besonderhede verklaar word hoe dit op die groot dag van die opstanding sal wees? Hoor hoe Paulus nuuskierige vraers reghelp: "Maar iemand kan vra: Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam sal hulle he? Dis 'n dom vraag! Wat jy saai, kom nie tot lewe tensy dit eers sterwe nie. En wat jy saai, saai jy nie in die toekomstige gestalte daarvan nie...... maar God gee 'n gestalte daaraan, soos Hy bepaal het" (1 Kor. 15: 35-38).

Paulus wys ook die pad hoe daar in geloof oor nagedink mag word en se: "So is dit ook met die opstanding van die dooies: wat gesaai word, is verganklik en word in onverganklikheid opgewek; wat gesaai word, is gering en word in heerlikheid opgewek; wat gesaai word, is swak en word in krag opgewek. 'n Natuurlike liggaam word gesaai, en 'n geestelike liggaam word opgewek". (vers 42-44) Die hoe van die geheim van die opstanding is nie vir ons gegee nie, maar van die heerlikheid mag ons verseker wees.

Antwoord 57 spreek van die opstanding van die vlees vir hulle wat in Christus gesterf het. Tot ons waarskuwing word in die Skrif ook oor die opstanding van ongelowiges gespreek. Alle mense sal opstaan. Christus sal die lewendes en die dooies oordeel. Die boek van die lewe van elke mens sal ontsluit word. Soos Daniel in vers 2 van die twaalfde hoofstuk dit skerp uitspel: "Baie van die wat ontslaap het, sal uit die graf opstaan, party tot die ewige lewe en party tot die ewige skande en veragting. " Hierdie woord dring ons na Christus toe. Alleen in Hom wil God ons opstanding tot ewig lewe skenk. Hulle wat uit die afskuwelike leus: "dood is dood" lewe, sal in die oordeel sy dwaasheid betreur.

III Ons het nou tot die laaste gekom. Die twaalfde artikel van ons geloofsbelydenis is eintlik 'n uitwerking van wat ons in die elfde bely het. Om in die opstanding van die vlees te glo, is tegelyk glo in 'n ewig en onverganklike lewe. In die een is die andereen opgesluit. In antwoord 58 word tussen die nou, die hiernumaals, en die hiernamaals 'n noue verbinding gele. Die ewige lewe staan nie haaks op hierdie lewe op aarde soos God dit geskape het en deur die Heilige Gees herskep word nie.

Ons bely in hierdie antwoord: Dat, aangesien ek nou die beginsel van die ewige vreugde in my hart gevoel, ek na hierdie lewe volkome saligheid sal besit. As antwoord op die vraag na die troos van die ewige lewe, se die antwoord eintlik: Dat ek na hierdie lewe volkome saligheid sal besit. Maar deur die tussensin: aangesien ek nou die beginsel van die ewige vreugde in my hart gevoel, word die vreugde van nou kragtig aan die ewige vreugde verbind. Soos ek en u nou bely dat ons die beginsel van die ewige vreugde in ons hart gevoel, sal ons na hierdie lewe volkome saligheid besit. God laat die werke van sy hande nie vaar nie, as daar nou die beginsel is, dan sal Hy sekerlik die volkome vreugde ook eenmaal skenk. Die Heilige Gees sal dit doen as ons voor die vriendelik aangesig van God verskyn!

Hoe dit daar sal wees? Sal ons mekaar herken? Hou die ewige lewe meer in as om God ewig te loof en te prys? Ag, het Luther eenmaal gese: Ons sal daar geen tyd kry nie, om Salomo te vra of hy die Hooglied wel geskryf het. Hy bedoel: begin nou eens om van jou eie menslik nuuskierige vrae te rus en die beginsel van ewige vreugde uit te lewe.

Ook antwoord 58 wil glad niks van daardie soort vrae weet nie. Die saligheid is so groots en heerlik dat dit in mense maat en woorde nie kan beskryf word nie. Geen oog het dit gesien, geen oor gehoor en wat in die hart van geen mens opgekom het nie. Gemeente, Johannes het op Patmos 'n glimp daarvan gesien. In verruklike beelde het God die hemelse heerlikheid laat sien. 'n Nuwe Jerusalem, strate van Goud, poorte uit een perel gemaak. God self sal by sy volk wees en sal al die trane van hulle oe afdroog. En alles oortreffend: daar sal geen dood meer wees nie meer nie.

Gemeente, oor die dood wat daar nie meer sal wees nie raak 'n mens nooit uitgedink nie. Daar sal net 'n alles oorstelpend pure lewe wees. Geen son en maan sal daar meer wees nie, want die heerlikheid van God verlig die stad en die Lam sal haar lamp wees. Daar het Johannes ook 'n stem hoor se: "Kyk Ek maak alles nuut. " Werklik gemeente almal wat die verskyning van Christus lief gehad het sal daar wees. Almal wat verongelyk en verontreg is sal reg gedoen word. Alle skuld is vir ewig agter die rug van God weggewerp. Die fees sal met die bruilofsmaal van die Lam begin. Ons almal, saam met die heiliges wat ons voorgegaan het en wat nog na ons sal kom, sal as gaste by die bruilofsmaal van die Lam aansit.

Die kerkvader Augustinus het gese: In die ewige lewe sal die Amen en die Halleluja ewig weerklink. Amen op die werk wat die Lam volbring het en Halleluja vanwee die heerlikheid van God drieenig. Gemeente die twaalf artikels is klaar verklaar. Die heerlikheid van God die Vader in die skepping, van God die Seun in die verlossing en van God die Heilige Gees in die ewige heiliging van alles wat geskep is, is ons getoon! Wie sal op die werk en heerlikheid van hierdie drieenige God geen Amen en Halleluja se nie? Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)