Ons glo in die volharding van die heiliges

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 21
Preek Inhoud: 

Ps. 33: 1, 2
Ps. 33: 5, 6
Ps. 150: 1, 2, 3
SB. 24: 1 - 4
SB. 24: 5 - 7
Lees: 1 Kor. 1: 1 - 9 & D.L. hfst. V par. 1 - 3
Teks: Sondag 21a

Broeders en susters,

Vandag gaan dit oor die eerste vraag en antwoord van Sondag 21. Wat glo jy van die heilige algemene christelike kerk? En dan volg daar 'n redelik uitvoerige antwoord, waar ons belydenis doen van die werk van Jesus Christus, met betrekking tot Sy gemeente. Die antwoord sluit af met 'n stertjie. Dit klink amper soos 'n toegif: dat ek daarvan 'n lewende lid van is en ewig sal bly.

'n Pragtige belydenis, waarin die gelowige 'n uitspraak doen oor homself, ('n lewende lid) en sy volste vertroue uitspreek, dat dit in die toekoms net so sal bly. Ek sal ewig 'n lewende lid van die kerk bly. Hierdie belydenis moet elkeen van u, soos u hier vandag in die kerk sit, maar net so uitspreek: Ek sal ewig 'n lewende lid van die kerk bly.

En tog, as ons dit so vir onsself opsê, dan kom daar wel 'n paar vrae. 'n Ewig lid van die kerk? Hoe kan jy, sterflike en sondige mens dit sê? Dat jy ewig lid sal bly. Hoeveel mense wat dit as kind op die katkisasie geleer het, het later nie die kerk verlaat nie? Enige mens kan tog struikel of deur allerhande omstandighede sy geloof verloor? Hoe kan 'n mens dit nou van homself sê: "Ek sal ewig lewende lid van die kerk bly". Klink dit nie arrogant nie?

Maar tog gaan dit hier oor die belydenis van die kerk. Die kerk van alle eeue. En ons wil ook vandag tot instemming kom met die belydenis van die kerk van alle tye, en daarom ons verdiep in die vyfde hoofstuk van die Dordse Leerreëls. Vandag die eerste drie paragrawe. Later sal ons verder gaan. Die vyfde hoofstuk van die Dordse Leerreëls staan bekend as die hoofstuk oor die volharding van die heiliges. Daaroor gaan dit vandag:

ONS GLO IN DIE VOLHARDING VAN DIE HEILIGES.

Daartoe bely ons:

  1. ons swakheid
  2. God se trou.

"Hulle wat God na Sy voorneme tot die gemeenskap van Sy Seun, ons Here Jesus Christus, roep en deur die Heilige Gees wederbaar... " So begin die eerste paragraaf van die Dordse Leerreëls hoofstuk vyf.

Ons sien sommer dat ons in aanpak en woordgebruik baie naby Sondag 21 is. In Sondag 21 is dit: Die Seun van God vergader vir Hom deur Sy Woord en Gees 'n gemeente, wat tot die ewige lewe uitverkies is.

Hier: God roep mense tot gemeenskap met Sy Seun en wederbaar hulle deur die Heilige Gees.

Reeds vanaf die begin lê hoofstuk vyf die aksie heeltemal in die hande van God Self. Daarmee sluit hoofstuk vyf dan ook aan by eerdere hoofstukke in die Dordse Leerreëls. Daar het ons God bely as die bron van alle goed. Die wêreld, die mensheid, die kerk, dit alles kom voort uit God se skeppende hande.

En in die geloof kan die kinders van God nog verder terugkyk. Hulle bely met die Bybel in die hand, dat God al voor die grondlegging van die wêreld Sy plan klaar gehad het, om Sy kinders van die dood te red, en vir hulle 'n ewige lewe te gee. Hy doen dit deur hulle aan Christus te gee.

God voer die ewige voorneme uit, deur Sy uitverkorenes tydens hulle lewe, met die Evangelie te roep, en dan sorg die Heilige Gees dat hulle aan die roeping gehoor gee, deur hulle op Sy tyd te wederbaar.

God bring hulle tot die gemeenskap met Christus. En by die gemeenskap met Christus moet ons dink aan die kerk. Die bruid van Christus, waarvoor Hy Sy lewe gegee het.

Dit alles, gemeente, lê opgesluit in die eerste reëls van die Dordse Leerreëls hoofstuk vyf pragraaf 1. Die ewige voorneme van God, die werk van die Seun tot verlossing van Sy bruid, die werk van die Heilige Gees, om mense tot geloof te bring.

Hier word dus alles toegeskryf aan, en verwag van die Drie-enige God. Maar dan kom daar wel 'n vraag op, hierdie: Wat werk die werk van God nou presies uit in 'n mense lewe? Hoe staan dit nou met die lewe van die uitverkorenes? Wat gebeur daar met die kerklede? Wat sien jy van die wederbarende werking van die Heilige Gees? Want ons kan wel die volmaakte werke van God prys, maar staan ons daarmee dan nie totaal buite die werklikheid nie?

Want wat sien jy van dit alles eintlik?

Die antwoord daarop gee die vervolg van paragraaf 1: God verlos wel van heerskappy en die slawerny van die sonde, maar verlos die uitverkorenes in hierdie lewe nie heeltemal van hulle sondige natuur en bestaan nie. En daarmee het ons 'n antwoord op 'n klomp vrae oor die kerk en oor onsself as lidmate daarvan.

Die Bybel kan in pragtige woorde en beelde praat oor die kerk. Sy is die bruid van Christus. Gewas en gereinig deur Sy bloed. Sy is die gemeente van uitverkorenes.

Ja, Sy is 'n gemeenskap van heiliges.

Sy is die tempel van die Heilige Gees.

'n Volk van priesters, die kosbare eiendom van God, 'n heilige nasie.

Dis almal aanduidings van die kerk. Die een nog lowender as die ander.

Maar tegelykertyd bestaan dieselfde kerk uit mense, wat met die woorde van die Dordse Leerreëls: nie heeltemal van hulle sondige natuur verlos is nie.

En daarom is die kerk ook 'n versameling van eiewyse, kortsigtige, humeurige, bekrompe, geldgierige, neulerige mense.

En dan moet u nie na u broeder of suster, wat u in hierdie aanduidings ongetwyfeld wel herken, kyk nie, maar kyk na uself. Elkeen van ons is op sy tyd eiewys, kortsigtig, humeurig, bekrompe, geldgierig of neulerig. Ons het kerke vol van sulke mense. En tog is dit die gemeente wat Christus liefhet! Dit is sy wat Hy ondanks alles, Sy uitverkore bruid, wil noem!

Maar eers weer terug na paragraaf 1.

Christus verlos Sy uitverkorenes van die heerskappy en slawerny van die sonde. En dit het Hy klaar gedoen. Julle almal is deur Hom bevry van die slawerny van die sonde. Julle hoef nie meer vir elke sonde te val nie. Julle is nie soos 'n verslaafde wat heel goed weet dat hy sy lewe na die ondergang voer, maar so verslaaf is aan sy genotmiddel, dat hy dit tog nie kan loslaat nie. Ondanks homself gryp hy daar steeds weer na. Hy is 'n slaaf.

Maar julle is kinders, bevry van die slawerny van die sonde. Julle ken die gevaar van die sonde, en die Heilige Gees gee vir julle ook die krag om 'nee' te sê. En daarmee het by julle 'n totale lewensvernuwing 'n aanvang geneem.

'n Aanvang, 'n begin, want nog die Bybel nog die belydenis, leer dat 'n mens in hierdie lewe totaal van sy sondes verlos kan word nie.

Daar bly 'n voortdurende stryd. Steeds weer val jy in sonde.

Jou sondige natuur neem jou steeds weer mee.

Daarom praat paragraaf 2 ook van die daaglikse sondes van swakheid. Selfs van ons beste werke moet ons bely, dat hulle gebrekkig is.

Dus sal ons almal elke dag weer om vergewing van sondes moet vra. Maar waarom is dit nodig, dat ons dit elke keer weer moet hoor? Waarom moet 'n mens elke dag weer skuldbelydenis doen? Wel die antwoord op die vraag kry u ook in paragraaf 2.

Daarom moet die gelowiges hulle elke dag voor God verootmoedig.

Hierdie skuldbelydenis hou ons nederig. En dan lees ons verder in paragraaf 2: vanuit hierdie skuldbelydenis leer ons om steeds weer ons toevlug tot Christus te neem.

Ons leer om ernstig te bid om lewensverandering, om lewensvernuwing deur die Heilige Gees. En hoe meer ons teleurgesteld is oor ons eie foute en gebreke, hoe meer ons na die bereiking van die volmaaktheid begin verlang.

Dit is die pad waarop God die uitverkorenes sit. In Sy verkiesing doen Hy alles. Hy verkies, Hy roep, Hy heilig. Hy verheerlik.

Maar die gelowige word deur Hom gesit op 'n pad van stryd teen sy sonde, van aanvegting, van verlange, van gebed, van volharding in geloof, hoop en liefde. 'n Sware pad dikwels.

In elk geval nooit 'n pad waarlangs 'n uitverkorene glimlaggend gaan nie, in 'n sogenaamde vertroue dat God hom verkies het, en dat met hom niks kan gebeur nie. Ook nie 'n pad waarop 'n mens gaan wat ver verhewe is bo die sondigheid van 'n bose wêreld nie.

Nee, paragraaf 3 maak duidelik die sonde is 'n inwoner in jou lewe. 'n Vaste inwoner wat jy nie sommer die deur kan wys nie. En daarby leef jy in die wêreld wat vir jou vlees steeds aantreklik sal wees, en tenslotte is daar nog die Satan wat aktief is in sy pogings om ook die uitverkorenes van hul pad te trek.

Nee, as ek bely dat ek van die Kerk 'n lewende lid is en ewig sal bly, dan sê ek dit nie omdat my kragte groot genoeg is om my woord te hou nie. Ewemin kan ek dit sê omdat ek meen dat dit met die suigkrag van die wêreld en die aanvalle van Satan wel 'n bietjie sal meeval.

Inteendeel. Wie oor volharding van die heiliges wil praat, moet begin om eers die erns van die sondes te bely.

As 'n mens oorgelaat word aan eie kragte, dan sal daar nooit sprake van volharding kan wees nie, en dan moet ons die woordjie 'ewig' maar vinnig uit die belydenis verwyder.

En so, deur erkenning van die swakheid word die weg vrygemaak vir 'n ware belydenis.

Vir 'n woord in die volste vertroue gespreek.

Immers, nou alle roem in mensekragte uitgesluit is, nou kan ons let op die krag van God.

Daarmee is ons aan ons tweede punt.

2. God se trou.

Maar God is getrou! Met hierdie vier woorde kom die groot verandering! Maar God is getrou. Dit maak alles anders! In ons weergawe van die Dorde Leerreëls staan hier nie 'n teksverwysing nie, maar die slotwoorde van paragraaf 3 is 'n vrywel letterlike aanhaling uit die Bybel. 1 Korinte 1: 8 en 9.

"God is getrou, deur wie julle geroep is tot die gemeenskap met Sy Seun Jesus Christus, onse Here, wat julle ook sal bevestig tot die einde toe, om in die dag van onse Here Jesus Christus onberispelik te wees"

God het in die gelowiges 'n werk begin.

Paulus sien dat dit in Korinte gebeur het. Die Here het hule geroep tot die gemeenskap met Sy Seun Jesus Christus, oftewel: Die Here het die Korintiërs in 'n gemeente, in die kerk saamgebring. Wel, dan sal Hy vir hulle ook bevestig tot die einde toe.

Hy is mos getrou!

As ons die woord getrou hoor, dan dink ons amper onmiddellik aan die Verbond. God se trou in die Verbond is spreekwoordelik. As ons alleen al let op die Ou Verbond met die volk Israel. Watter ontrou, watter swakheid, watter afval. As dit van die volk afgehang het, dan het die hele Verbond nêrens gekom nie. Hoeveel redes was daar nie vir God om definitief met die Verbond te breek nie.

Maar God is getrou. Dit staan met groot letters geskrywe bo die geskiedenis van die Ou Verbond.

Maar God is getrou. Dit staan nog steeds nadruklik by elke doopvont, waar 'n kind in die gemeente van Christus ingelyf word.

En dit mag ons bely.

Ons mag belydenis doen van die volharding van die heiliges. Maar wat ons dan eintlik bely is die volharding van God. Sy verkiesende liefde in Christus het na ons uitgegaan, al voor die grondlegging van die wêreld. In daardie onbegryplike wonder lê ons heil vas.

En daarom mag ons van verkiesing voortgaan na volharding.

God Self is van ewigheid tot ewigheid.

Sy verkiesing kan nie ongedaan gemaak word nie. En so loop die pad van God se verkiesing deur die Kerk na die ewige lewe.

Hy bring Sy verkorenes binne in die heilige algemene christelike kerk. En daarom mag ons glo in ons verkiesing.

En mag ons ook vertrou op ons volharding. Op God se volharding, immers. Want Hy is getrou!

Die hele gang van sake word pragtig onder woorde gebring in die slotparagraaf van Dordse Leerreëls hoofstuk 2 paragraaf 9. Ek sal vir u voorlees: "Hierdie raadsbesluit is die gevolg van God se ewige liefde vir die uitverkorenes. Die besluit word van die begin van die wêreld af tot vandag toe kragdadig deurgevoer ondanks die vergeefse verset van die magte van die doderyk. Hierdie besluit sal steeds deurgevoer word, sodat die uitverkorenes op die regte tyd in een liggaam vergader sal word. Daar sal altyd 'n kerk van gelowiges wees, gegrond in die bloed van Christus. Hierdie kerk moet Hom as haar Verlosser, wat sy lewe aan die kruis vir haar gegee het - soos 'n bruidegom vir sy bruid -, standvastig liefhê en Hom met volharding dien en van nou af tot in alle ewigheid verheerlik".

Sit u in die kerk? Wel prys dan God vir Sy genade en liefdebetoon!

Want dit is tenslotte waar dit alles om gaan in die Dordse Leerreëls. Dat God van die mense alle eer ontvang, en dat die gelowiges daarin hul troos leer vind.

Lê daarom maar rustig al julle heil in hande van die Here God. Vergeet daarvan om op eie kragte vol te hou. Dit kry u nie klaar nie. Erken rustig: My kragte is hopeloos te klein. Maar God is getrou. Aan Hom die ere!

Hierdie belydenis dat alles van God afhang, en dat Hy alleen geprys moet word vir Sy groot dade, maak 'n mens nie werkloos nie.

Inteendeel.

Om lid te wees van die heilige algemene christelike kerk, gee vir jou baie werk. Die werk van die liefde. Die werk van dankbaarheid. Luister nog eenkeer na Dordse Leerreëls hoofstuk 2 paragraaf 9, die slotsin: Hierdie kerk moet Hom as haar Verlosser, wat Sy lewe aan die kruis vir haar gegee het - soos 'n bruidegom vir sy bruid - standvastig liefhê, en Hom met volharding dien, en van nou af tot in alle ewigheid verheerlik.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)