Jesus Christus vergader vir Hom 'n gemeente

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 21
Preek Inhoud: 

Ps 3: 1, 2
Ps 145: 1-5
Geloofsbelydenis
Ps 149: 1-4
Lees: Efese 4: 1-16
Teks: Sondag21A

Brs en srs, kinders!

Wat is vir 'n christen nodig om te glo?

Vermoedelik herken u die hierdie vraag wel uit Sondag 7 van die HK. Op hierdie vraag word geantwoord: Alles wat in die Evangelie beloof word. En vervolgens word van die belofte dan 'n samevatting gegee in die vorm van die ons bekende Apostoliese Geloofsbelydenis.

Een van die dinge wat dan nodig is om te glo is dat ons ons geloof bely in die heilige algemene christelike kerk.

Maar dit is nou nie juis so duidelik nie waaraan ons presies moet dink as ons ons geloof bely in die heilige algemene christelike kerk.

In die eerste helfte van hierdie eeu is daaroor in die gereformeerde kerke nogal ruim gedink. Alles wat hom as kerk aanbied kan daaronder val.

Hierdie heilige algemene christelike kerk is namelik beskou as die totaal van al die mense wat gered word. Of om dit in meer spesifiek gereformeerde terme te sê: dit is al die uitverkorenes tesaam.

Omdat vir mense nie waarneembaar is wie wel, en wie nie tot die uitverkorenes behoort nie, daarom is hierdie groep ook wel aangedui as 'die onsigbare kerk'.

Teen hierdie term het o. a Prof K.Schilder heftig geprotesteer.

Hy het daarteenoor gestel dat dit nie juis is om die kerk te omskryf vanuit iets wat by mense onsigbaar is nie (hul verkiesing). Om te omskryf wat die kerk is moet jy vanuit Christus redeneer soos die Kategismus doen.

Hy vergader vir hom 'n gemeente. Dit is wat ons belydenis sê. Christus roep deur middel van prediking en sakramentsbediening mense tot geloof.

En hierdie vergaderingswerk van Christus is nie onsigbaar nie, maar juis heel sigbaar.

In die tyd na Schilder is in ons kerke vervolgens veel nadruk gelê op die sigbare kerk.

Hoe vrugbaar dit in baie opsigte ook was, daar was ook heel wat vrae met betrekking tot die kerk wat onbeantwoord gebly het.

Met sekere antwoorde wat indertyd gegee is word vandag, vyftig jaar na die Vrymaking, nie meer genoeë geneem nie.

Maar om ontevrede te wees met die ou antwoorde, beteken nog nie dat nuwe meer bevredigende antwoorde tans beskikbaar is nie.

Inteendeel die diskussie is nog volop gaande. Miskien wel so volop dat ons klaar moeg van die diskussie is, voordat 'n goeie antwoord gevind is.

Nou kan ek vir u vanmiddag nie alle antwoorde op praktiese kerklike diskussies gee nie.

Maar dit is wel goed om vanmiddag stil te staan wat ons in die HK bely oor die heilige algemene christelike kerk.

Immers dit is vir 'n christen nodig om sy geloof in die heilige algemene christelike kerk te bely.

Die tema vir die preek is:

Jesus Christus vergader vir Hom 'n gemeente

Dit beteken:

  1. In die kerk sien ons sy werk
  2. In die kerk het ons ons roeping

'n Mooi beeld waarmee die kerk in die N.T. aangedui word is die beeld van 'n bouwerk.

Die fondament van hierdie gebou is gelê deur Christus en sy apostels. Op hierdie fondament moet verder gebou word. Ons moet daarop bou nie met hooi of stro nie, maar met deeglike materiaal.

In sekere sin is ons dus bouers aan die bouwerk van die kerk.

Ons is verantwoordelik vir deeglike boumateriaal.

Maar eintlik is dit nog ingewikkelder. Ons is nie net bouers nie, maar ons is self ook boumateriaal. Ons moet onsself as lewende stene laat invoeg.

U kan u wel voorstel dat dit vir 'n steen waar dan ook ingemessel in die gebou, baie moeilik is om die geheel van die bouwerk te oorsien. Slegs die Opperboumeester, Jesus Christus Self, kan die gehele bouwerk sien.

Hierdie stand van sake maak ons versigtig om vergaande uitsprake oor die kerk te doen.

Want wat weet ons daarvan waar Christus besig is om te bou?

En is ons altyd in staat om die kwaliteit van die boumateriaal te beoordeel?

Gemeente, ek maak hierdie inleidende opmerkinge om ons van te vore 'n bietjie beskeidenheid by te bring in beoordeling van ander kerke en ander gelowiges. Hierdie beskeidenheid was in ons eie geskiedenis nie altyd 'n uitstaande kenmerk nie. Daar is dikwels nogal maklik vergaande oordele uitgespreek oor ander kerke en gelowiges, wat nie reg is nie.

Maar hierdie opwekking tot beskeidenheid beteken nie dat ons alles maar kerk moet noem wat hom as sodanig presenteer nie.

Of dat ons onmiddellik elkeen wat maar die naam van Jesus Christus noem, as 'n broeder in die Here omhels nie.

Immers daar is 'n duidelike norm waaraan ons onsself en ook ander kerke mag beoordeel.

Die HK bring die norm so onder woorde: Die Seun van God vergader vir Hom 'n gemeente deur Sy Gees en Woord.

Gees en Woord. Dit is die instrumente van Christus' se kerkvergadering.

Daaraan kan ons sowel Christus as sy kerk herken.

Die kerk is die kerk van die Woord. By die grasie van die Woord bestaan die kerk. En waar hierdie Woord bedien word, daar is na sy belofte ook die Heilige Gees werksaam.

Die Woord waarin die Gees saamkom is die enigste skat van die kerk. As die kerk nie meer van hierdie Wooord uitdeel nie, dan het sy niks meer om te gee nie. Dan verdwyn daar ook die Gees en tenslotte verdwyn die kerk self.

Oor hierdie kerk wat met die Woord van God werk sê die Bybel magtige dinge. By voorbeeld die kerk is 'n pilaar en grondslag van die waarheid.

Dit is nogal 'n hele pretensie om dit so te sê: Ons het die waarheid.

Vandag wil mense daarvan nie meer weet nie. In baie van vandag se teologie word gestel: Al wat jy as 'n mens kan sê is, jy is op soek na die waarheid. Jy probeer agter die waarheid kom. En jy soek in die wete dat jy nooit enige finale sekerheid sal hê nie, want b. v van 'n lewe na die aardse lewe kan niemand tenslotte iets werklik bewys nie. Jy kan slegs daarop hoop. Jy kan slegs soek.

Maar die Bybel gee die kerk die reg om te sê: Ons hoef nie te soek vir die waarheid nie. Ons het reeds die waarheid gevind.

Ons vind die waarheid in die Woord van God.

Dit beteken nie dat ons onmiddellik op alle vrae wat 'n mens sou kon vra 'n antwoord het nie, maar tog mag ons sê: Ons het die waarheid. Die waarheid is Jesus Christus wat in sy Woord na ons toekom.

In Sy Woord gee Jesus Christus Homself aan die kerk.

Dus dit is die skat wat ons as kerk het. Jesus Christus soos Hy Homself in sy Woord gee.

Dit is ons eer as kerk dat Jesus Christus aan ons sy Woord waarin Hy Self saamkom toevertrou het.

Dit is 'n eretaak om daarvan te kan uitdeel.

'n Eretaak en tegelyk 'n baie nederige werkie.

Ons het mos nie 'n eie woord nie. Dit is nie ons groot gedagtes wat onsself bedink het en waarmee ons kan spog nie.

Ons kan slegs woorde deurgee wat ons van 'n Ander ontvang het.

As kerk het ons niks los van Christus nie.

Ons is ook niks buite Christus nie.

Ons leef maar net by die grasie van diens aan ons Heer, Jesus Christus.

Hy het die eerste en die laaste woord in die kerk.

Hy is die Bouer en die Bewaarder van die kerk.

Dus laat ons goed onthou: As ons praat van die kerk, dan praat ons van die werk van Jesus Christus.

Ook as dit gaan oor die gemeente waarvan ons self 'n lidmaat is.

Dit maak ons versigtig in wat ons daarvan sê.

As gemeente is dit baie nuttig om steeds krities te wees op jouself.

As gemeente moet jy jou steeds afvra: Leef ons nog vir die diens aan Christus? Leef ons nog werklik uit die Heilige Gees?

Swakhede in die kerk mag aangewys word.

En daar is genoeg. Immers ons is almal mense met tal van tekortkomings. Dit is glad nie moeilik om te wys op kortsigtigheid en kleinsieligheid, op eiewysheid en arrogansie.

Dit alles moet by die lig van die Woord ontdek en bestry word.

En tog, hoeveel swakhede daar in die konkrete gemeente ook aanwysbaar is, laat ons nie vergeet dat vir hierdie mense Christus sy lewe gegee het.

Al die pragtige woorde waarmee die Bybel die liefde van Christus vir sy gemeente beskryf, gaan nie oor sy ewentuele liefde vir 'n ideale gemeente nie, maar praat van sy liefde vir die konkrete gemeenskap van mense soos ons hulle sondags by mekaar sien rondom die Woord.

Wie vanweë tekortkomings van die kerk nie 'n goed woord vir die bruid van Christus oorhet nie, kannie verwag dat die bruidegom vir hom 'n goeie woord sal spreek nie.

Mense wat deel wil hê aan die gawes van Christus soos vergewing van sondes en die ewige lewe, moet daar wees waar Christus dit uitdeel. Dit is in die kerk, die heel konkrete gemeenskap van mense wat ondanks al hul verskille en ondanks al hul probleme hulle laat onderwys uit die Woord en laat lei deur die Gees.

Wie Christus soek moet daar wees waar Christus Hom laat vind.

Dit is in die kerk waaraan Hy Hom deur sy belofte verbonde het.

2 Ons het ons roeping mbt die kerk

Ons het nou gesien, die Bybel sê pragtige dinge oor die kerk.

Die kerk het die waarheid in God se Woord ontvang.

Wie Christus soek moet in die kerk wees.

Uitstekend.

Maar nou is daar 'n probleem. Waar vind ons hierdie kerk?

Immers ons leef in 'n situasie dat daar baie kerke en groepe is wat almal daarop aanspraak maak dat hulle kerk van Jesus Christus is. Wat maak 'n mens in so'n geval?

Moet elkeen hom maar aansluit waar hy die meeste tuisvoel?

Maak dit eintlik baie saak waar jy aansluiting soek, want elke kerk het mos maar sy foute en swakhede. Daar bestaan op aarde nie soiets soos 'n volmaakte kerk nie. Wat nou?

Laat ons voordat ons op die vraag ingaan eers vasstel dat die veelheid van kerke en kerkverbande 'n baie verdrietige saak is.

Afgesien van allerhande verklarings wat 'n mens daarvan kan gee is dit in elk geval 'n bron van groot verwarring. Dit kannie anders nie of die getuienis van die kerk in die wêreld het daardeur baie verswak.

Die kerk kon in die wêreld van baie groter betekenis gewees het as daar eenheid onder die Christusbelyders was.

As nou nog die teenstelling was tussen die een en die ander kerk die teenstelling was van waarheid teenoor dwaling, dan kon ons daarmee vrede hê. Dan kon jy sê daar is 'n ware en daar is 'n valse kerk. Die verskil tussen die een en die ander kan vir almal duidelik wees.

Maar die werklikheid is baie ingewikkelder.

Ons ontmoet gelowiges in totaal verskillende kerke.

En dit is 'n situasie wat iemand wat Jesus Christus en sy kerk liefhet baie verdrietig stem.

Sommige mense vind in die verdeeldheid aanleiding om te sê: Die vraag van welke kerk is nie belangrik nie.

Nou ja ek is nou toevallig lid van die VGK, maar dit maak eintlik glad nie saak vir my waar ek kerk toe gaan nie. Orals is mos gelowiges, orals word gebid en liedere gesing.

As jy so praat neem jy die roeping tot eenheid van die gelowiges waaroor die Bybel duidelik is, nie ernstig nie.

Dan het jy die probleem opgelos deur net die probleem te negeer.

Ander mense dink net vanuit die eie kerk. Ons kerk is die ware en al die ander kerke is iets mee fout.

Hierdie oplossing het die voordeel van die oorsigtelikheid daarvan. Die hele probleem van kerklike verdeeldheid los jy op deur eenvoudig die fout by die ander te lê. Dan is jy self klaar en hoef jy daaroor nie verder te dink of te bid nie.

Binne ons kerke het ons dikwels vir die verleidelikheid van hierdie oplossing beswyk. Maar is ons klaar met ons roeping mbt die kerklike vraagstuk as ons sê: ons het al 'n hele paar keer ons posisie verduidelik. Hulle kan dit almal weet. Ons kan en hoef verder in die opsig geen aksie meer te onderneem nie. Kan dit so?

In Efese 4: 1 lees ons: Ek vermaan julle dan om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is.

Ons het as gelowiges 'n roeping om te vervul. Ook 'n roeping mbt die kerk.

Wie 'n roeping het, kom nooit klaar nie.

Lees maar Efese 4: met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ernstig strewe om die eenheid vandie Gees te bewaar deur die band van die vrede.

Nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Dit is die vraag of daardie houding altyd gebruik is in die kerk om die eenheid van die Gees te bewaar of te soek.

Is veel stryd in die kerk nie nie meer op vleselike as op geestelike manier gevoer nie?

Dit gebeur maar so maklik, gemeente.

En dan dink ek aan ons eie situasie.

Ons glo dat ons as gemeente, kerk van Jesus Christus is.

Dat Hy ons opgeneem het in sy kerkvergaderende werk deur Sy Gees en Woord waarvan in Sondag 21 sprake is.

Maar tegelykertyd is ons ook 'n groep mense met amper almal dieselfde agtergrond.

Die meeste van ons kom uit 'n nederlandse gereformeerde kerk.

Ons kom almal uit ongeveer dieselfde sosiale laag in die maatskappy.

Ons is nie armes nie, maar ook nie juis rykes nie. Ons praat dieselfde taal, ons het grotendeels dieselfde lewenservarings ens.

Die gevolg daarvan is dat ons as sosiale groep baie maklik met mekaar kommunikeer. Ons kuier by mekaar en drink koffie, ons gaan uit met mekaar, kortom ons geniet die sosiale omgang.

Daarmee is niks verkeerd nie. Immers in Sondag 21 gaan dit ook oor die gemeenskap van die heiliges en dit het ook te doen met sosiale verkeer.

Tog is daaraan wel 'n gevaar verbonde.

Die gevaar dat ons die sosiale groep identifiseer met die kerk. Dan begin dinge deur mekaar raak.

Want dan gaan ons as gemeente 'n geslote sosiale groep vorm.

En dan verloor ons een vandie mees kenmerkende eienskappe van die kerk.

Want die kerk is nie 'n club nie maar kerk. 'n Club bepaal self wie as lid toegelaat word en wie nie. Maar in 'n kerk word dit deur die Heilige Gees bepaal. En daarom moet almal in die kerk kan inpas.

Toegepas op ons eie situasie: as 'n Afrikaner lid word van ons gemeente, dit is een ding. Maar moenie verwag dat hy 'n Hollander gaan word wat net so doen en net so voel soos ons. Hy kan nie.

Ons kan ook dink aan ons broers en susters in Belhar.

Sosiaal gesien is ons myle van mekaar. Om met hulle 'n intensiewe sosiale kontak op te bou gaan nie werk nie.

Dit is duidelik.

Maar dit neem nie ons roeping weg om by geleenthede moeite te doen om mekaar te leer ken as broers en susters nie.

Daarvoor moet 'n mens homself verloën. Hy moet 'n stukkie praktiese nederigheid beoefen.

Die grootste gevaar vir ons as gemeente is dat ons versand in 'n houding van selfgenoegsaamheid.

Ons is tevrede met die bestaande situasie.

Maar hierdie tevredenheid is natuurlik die doodsteek vir ons besef van roeping.

Laat ons ons bly beywer om ons roeping te vervul.

Ek glo in die heilige algemene christelike kerk, waar Christus almal wil vergader wat deur sy bloed gereinig is en deur sy gees geheilig word.

Here, kom ons ongeloof te hulp.

Want ons sien maar so min daarvan.

Leer ons vanuit die geloof te bid om die eenheid van alle ware christusgelowiges.

Leer ons om vanuit die gebed ons roeping te vervul in vandag se kerklike wêreld.

Want die kerk is nooit ons kerk nie, maar nog altyd die kerk van Jesus Christus.

En dit gaan nie daarom hoe ek daaroor voel nie, maar om wat die Bruidegom verwag van sy bruid, die gemeente.

Waar hy vergader wil Hy al sy kinders by mekaar sien.

En as dit nie werk nie, moet ons nooit met daardie situasie vrede maak nie, maar altyd bly besef hier stuit ons op die beperkthede van ons eie mens wees.

Vol geloof bly ons bid dat Christus sal kom om al sy kinders byeen te bring. Waar ons deur ons gebrek aan geloof en liefde nie sover kom nie, sal Hy eendag vir almal wys hoe groot sy liefde is en hoe ver sy kerkvergaderende werk gestrek het.

Amen.

6 Junie 1993

Liturgie: 

(kyk in preek)