Die gelowige word deur die Heilige Gees verseker van sy volharding

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 21
Preek Inhoud: 

Ps. 49: 1, 2
Ps. 49: 3, 4
Ps. 125
SB. 8: 1, 2, 3
SB. 8: 4, 5
Lees: 1 Petrus 1: 1 - 12 & D.L. hfst. 5 par. 9 - 15
Teks: Sondag 21a

Broeders en susters, seuns en dogters,

Ons praat nou vir die derde sondag oor die volharding van die heiliges, na aanleiding van ons belydenis oor die betekenis van die kerk. Al 'n paar keer het ons agtergekom dat daar inderdaad 'n noue verband is tussen wat ons glo van die kerk, en wat ons glo van die volharding van die heiliges.

Die Kerk is naamlik die werk van Jesus Christus, en as sodanig is die kerk ook die voorwerp van Sy liefde. Hy bly as bruidegom trou aan Sy bruid, ook al kleef aan daardie bruid baie gebreke.

Maar van die kant van die bruid gebeur ook iets.

Sy glo in die trou van die bruidegom, sy verwag dat Hy in alles vir haar sal sorg. Hy bevestig dit steeds weer in Sy beloftes, en in Sy optrede.

En dit gee reaksie by die bruid. Sy leer haar bruidegom steeds beter ken, sy het ondervinding van Hom dat Hy haar nooit teleurstel nie. En uit daardie ervaring groei vertroue, groei steeds meer sekerheid dat die dag van die bruilof definitief sal kom.

Daarom wie 'n lewend lidmaat van die kerk is, wie deel is van Christus se bruid, mag ook deel in die groeiende vertroue op die bruidegom. Hoe meer jy ervaar van Christus se liefde en trou, hoe sekerder jy mag word dat jy deel het aan die bruilof. Jy bely dit, jy glo dit, jy weet dit, jy voel dit.

Dit is 'n totale geloofservaring.

DIE GELOWIGE WORD DEUR DIE HEILIGE GEES VERSEKER VAN SY VOLHARDING.

  1. Hoe hy die sekerheid ontvang.
  2. Wat die sekerheid uitwerk.

Geloofsekerheid is een van die mooiste dinge in die lewe van 'n christen. Met die sekerheid van die geloof lê jy jou lewe in hande van die Here. Jy vertrou dat Hy na liggaam en siel jou in alles sal versorg, en dat Hy Self die kwade wat gebeur laat dien tot jou heil. So 'n vertroue gee aan 'n mens 'n geweldige rus. Dan kan die branders van die lewe maar kom, maar die gelowige staan soos 'n rots. Sy geloofsekerheid laat hom nie wankel nie.

As ons by onsself die beeld oordink, dan dink ons, dit is pragtig. En so sou dit inderdaad moet wees, maar in die praktyk van die lewe werk dit nie so nie. So seker is ons glad nie, in elk geval nie in die situasies waarin ons lewe geruk word nie.

Tog wil die Here dat ons sekerheid moet hê. Immers, eers dan kan ons as kinders van God ook werklik getroos wees. Want ons troos in die lewe hang heeltemal af van die sekerheid wat ons as gelowiges het.

En daardie troos wil die Here graag vir Sy kinders gee. Daarom praat paragraaf 9 van die Dordse Leerreëls oor hierdie sekerheid. Die gelowiges kan sekerheid hê van hierdie bewaring van die uitverkorenes tot die saligheid, en van die volharding van die ware gelowiges in die geloof.

'Die bewaring van die uitverkorenes' en 'die volharding van die ware gelowiges' is eintlik maar net twee kante van een en dieselfde saak. Van God se kant af spreek ons van bewaring. En van die gelowiges se kant af van die volharding.

Die sekerheid van volharding kan die gelowige nie in homself vind nie. Dit is 'n sekerheid wat vir jou gegee moet word. En dit word vir jou gegee, naamlik daar waar jy leer vertrou dat God Sy uitverkorenes sal bewaar.

'n Gelowige kan dus sekerheid hê oor sy volharding in die geloof. Dit is die eerste wat ons moet vasstel hier. Daar is 'n sekerheid te ontvang. 'n Gelowige hoef nie altyd met betrekking tot sy geloof in Jesus Christus die voorbehoud maak: nou ja, ek glo nou wel, maar ek weet natuurlik nie hoe lyk dit oor 20jaar nie. Nee, die gelowige mag sy lewe in God se hand lê, in die volste vertroue dat God hom sal bewaar by die geloof.

Die vraag wat nou volg is: watter sekerheid is dit, en hoe verkry jy dit?

Oor die tipe sekerheid antwoord paragraaf 9: Hieroor het hulle sekerheid volgens die maat van die geloof waarmee hulle seker glo dat hulle ware en lewende lidmate van die kerk is, en altyd sal bly, en dat hulle vergifnis van sondes en die ewige lewe het.

Dit is hoogs opmerklik dat op hierdie oomblik die belydenis van Sondag 21a, die belydenis oor die kerk, weer ter sprake kom. As jy glo dat jy 'n lewende lidmaat van die kerk is, dan het jy ook sekerheid oor jou volharding.

Hoe pragtig kom hier die eenstemmigheid van ons verskillende belydenisskrifte uit. Hier word opnuut bely dat die kerk voluit 'n geloofsaak is. Dit is nie net jou lidmaatskap van 'n gemeente, dit is nie jou inskrywing by 'n plaaslike kerk nie, maar dit is jou geloof dat jy aan die heilige algemene christelike kerk behoort, wat die beslissende saak is.

Die Dordse Leerreëls maak van die gelowiges geen mense wat net besorg is oor hul persoonlike verkiesing nie. Die Dordse Leerreëls maak van 'n gelowige nie 'n individualis wat gefikseer is op sy persoonlike redding nie, maar verwys hom na die kerk. Ons bely mos in Sondag 21 dat Jesus Christus vir hom 'n gemeente, wat tot die ewige lewe uitverkies is, bewaar, bestuur en onderhou.

God se liefde gaan in die eerste plek uit tot Sy gemeente.

Christus het Sy bloed gestort vir Sy bruid.

Dus waarom word ons hier so nadruklik na die kerk verwys?

Wel, omdat Hy daar Sy gawes beskikbaar stel. Daar skenk Hy die beloftes van vergewing van sonde en die ewige lewe.

Om daarvan nog iets meer te verneem spring ons nou eers van paragraaf 9 na 14.

Ons omskrywing van hierdie eerste punt van die preek was: hoe die Heilige Gees die sekerheid in die gelowige werk. In paragraaf 14 verskuif die vraag effens na: Waar doen die Heilige Gees dit?

En die antwoord is: In die kerk. En waar is die kerk dan? Wel, daar waar die evangelie verkondig word!

God begin Sy genadewerk in ons, deur middel van die verkondiging van die heilige evangelie.

So het dit Hom behaag sê paragraaf 14. God kon op heel ander maniere gewerk het om die gelowige tot vertroue in Sy volharding te bring, maar Hy het hierdie manier gekies.

Die verkondiging van die heilige evangelie, en verder die gebruik van die sakramente. Wel daarvoor moet 'n mens in die kerk wees. Daar word die evangelie in opdrag van Christus verkondig.

Daar word die sakramente op bevel van Christus bedien.

Maar weereens, net die aanhoring van die prediking en die ontvangs van die sakramente is nie genoeg nie. Die Here wil daarmee werk, en daarvoor moet jy Hom as gelowige die ruimte gee. Die Heilige Gees wil met jou werk, en dan moet jy Hom dit nie onmoontlik maak deur Sy middele af te wys nie.

Want die Heilige Gees is werklik nie net tydens die voordrag van die prediking aktief nie. Dit gaan verder.

Kom ons vergelyk dit met voedsel. Die prediking is mos geestelike voedsel, en die Nagmaal, Hemelse spys en drank. Wel, die voedsel neem 'n mens maar tydens 'n kort periode tot hom. Die meeste mense sien wel kans om sê so in 10 minute hul maag volledig te vul. Maar die voedselopname deur die mond na die maag, is nie die enigste wat moet gebeur nie. Daarna moet dit verder verwerk word deur die liggaam, wat die voedsel verteer en dit tot nut maak vir die verskillende liggaams funksies.

Wel, so is dit met die prediking ook. Twee keer 'n halfuur per week ontvang jy jou geestelike maaltyd in 'n preek. Maar dit moet dan nog verder verwerk word.

Paragraaf 14 noem hier: die aanhoor, die lees en die oordenking van die evangelie, deur die aansporing, vermanings en beloftes daarin.

Die voedselopname deur die prediking is onmisbaar, maar wil die voedsel werklik tot voordeel strek, wil die voedsel werklik die gelowige sterk, en vir hom die ervaring van geloofsvertroue en geloofsekerheid verskaf, dan moet die gelowige die boodskap verder oordink. Hy moet hom laat aanspoor daardeur. Hy moet die vermanings ter harte neem. Hy moet die beloftes aanvaar, en homself daaraan bewustelik toevertrou.

So werk die Here die volharding in die gelowige. En as jy daardie middele nie wil gebruik nie, of verontagsaam, dan verloor jy die geloof en die vertroue. Dan beweeg jy al hoe verder weg van Christus en Sy gemeente. En dit is dan nie omdat God se bewaring nie gewerk het nie, maar omdat jy die middele wat Hy aanwys verwerp het. Jy kan ook van mense wat aanvanklik tot die gemeente behoort het, maar later weggebreek het, nie sê: Dus die bewaring van God werk nie altyd nie, want daaroor gaan dit nie.

Dit gaan hier om die vraag, of 'n gelowige vir homself die vertroue mag uitspreek, en die sekerheid kan hê dat hy tot die einde toe sal volhard. En dan sê die Bybel en die Dordse Leerreëls: Ja seker, die vertroue mag jy hê, as jy maar steeds die middele gebruik wat God vir jou aanwys. As jy maar Jesus Christus deur Sy Woord en Gees in jou laat werk.

En daarmee is ons weer terug by paragraaf 10, waar die vraag gestel word, waarvandaan ontvang jy so 'n sekerheid? Daar is talle mense wat geglo het, en nog wel glo, dat so 'n sekerheid alleen maar die deel is van hulle wat daaromtrent 'n besondere openbaring ontvang het. Daarvoor moet jy dan seker 'n stem uit die hemel hoor!

Ander mense het gemeen, jy moet in jouself gaan soek na merktekens van jou uitverkiesing. 'n Droom, 'n gevoel, 'n oortuiging.

Maar nee, sê die Dordse Leerreëls. Oor Sy uitverkiesing gee God vir niemand 'n besondere openbaring nie. Niemand kry 'n stem uit die hemel nie.

Al stem uit die hemel, is die Woord van God self. Hierdie Bybel waarin God na ons toekom met Sy beloftes. Daardie beloftes moet jy in geloof aanvaar.

Dis eintlik heel kenmerkend gereformeerd, dat ons altyd terugverwys word na die Woord van God en Sy beloftes. Die belofte van God is werklik die enigste grond van ons geloof.

Ook die getuienis van die Heilige Gees, wat saam met ons gees getuig dat ons kinders van God is, is 'n getuienis wat nie los van die Woord staan nie.

Tenslotte word nog genoem, die ernstige en heilige strewe na 'n goeie gewete en goeie werke. Ook dit is op sigself natuurlik nie 'n grond vir ons sekerheid nie, maar dit bedoel te sê, dat 'n gelowige, wat God se beloftes aanvaar, van homself baie goed weet of hy werklik streef na 'n goeie gewete, en na goeie werke, of nie. Iemand wat van homself weet dat hy glad nie strewe na 'n goeie gewete, kom met die beloftes ook niks verder nie.

Maar wie die beloftes werklik aanvaar, ontdek by homself dat hy inderdaad nou wil strewe na 'n goeie gewete, en die doen van goeie werke. En dit mag vir homself dan weer 'n bevestiging wees, dat hy op die regte pad is. Die pad van God se verkiesing, die pad van die volharding tot aan die einde toe.

2. Wat hierdie sekerheid uitwerk.

As groot beswaar teen die leer van die uitverkiesing en die volharding van die heiliges, is altyd aangevoer, dat so 'n leer hoogmoedige en sorgelose mense maak.

Immers, as jy seker is dat jy uitverkies is, wel dan kom dit in elk geval reg met jou, wat jy ook al doen. Dit is hoe dan dikwels geredeneer word. Maar dit is 'n redenering, en dis nie geloof nie.

Geloof klamp hom vas aan beloftes van God. Een van die beloftes is, dat God Sy kinders sal bewaar, eenvoudig omdat Hy hulle moet bewaar, omdat hulle self so swak is. En daarom is die geloof in die belofte van die volharding volgens paragraaf 12 'n ware wortel waaruit nedrigheid, kinderlike vrees, ware vroomheid, volharding in die stryd, vurige gebede, standvastigheid onder die kruis, standvastigheid van 'n blywende vreugde in God.

Sien u, paragraaf 12 teken 'n totaal ander tipe gelowige as die figuur van 'n hoogmoedige, selfvoldane mens, wat meen dat met hom niks kan gebeur nie.

Inteendeel. Die belydenis van die volharding bring jou elke dag op die knieë tot 'n vurige gebed.

En bring jou verder tot standvastigheid.

Driekeer agtermekaar noem paragraaf 12 die woord 'standvastigheid'. 'n Wonderlike woord.

Eers: Standvastigheid onder die kruis. Dit beteken: as jy om wille van jou geloof in Christus vervolg word, as hulle jou daarom aan 'n kruis wil spyker, dan is die geloof in die volharding vir jou 'n wonderlike troos. Want, kyk na jouself, en jy wil net vlug. Jy kan jou lewe nie vir die geloof in Christus gee nie. Daartoe is jy nie in staat nie. En jy begin al wankel, voordat jy werklik aan die kruis geslaan word. Dan is die leer van die volharding 'n geweldige troos. God sal jou vashou. Hy dra jou in sy heerlikheid. Sy liefde is vir jou meer as die lewe.

Paragraaf 12 noem verder: Standvastigheid in die belydenis van die waarheid. Die belydenis van die waarheid is: dat jy bely dat God Homself in Sy Woord geopenbaar het, en dat jy dit mag naspreek in 'n belydenis daarvan. Maar hoeveel is daar nie, alleen al in jouself wat hom daarteen verset. Moet ons werklik ons lewe inrig soos die Bybel dit vir ons leer? Maar, dis dan so moeilik! Is die Bybel dan werklik die Woord van God, of is dit tenslotte tog ook maar mensewoorde, uit 'n ver verlede? Daardie vrae kan ons gereeld pla. Hoe standvastig is ons eintlik? En dan is die leer van die bewaring 'n geweldige troos. Die Heilige Gees staan jou by in die belydenis van die waarheid.

Tenslotte word genoem: die standvastigheid van 'n blywende vreugede in God. Ons weet, blydskap en vreugde in die Here is die deel van 'n ware christen gelowige. Maar hoe kwesbaar is daardie blydskap. Nie alleen deur allerhande probleme wat vir ons baie lewensvreugde kan ontneem nie, maar ook ons eie vreugde in die Here word dikwels maar versomber deur ons eie swakheid van geloof. Maar die uitsig dat die Here ons in Sy ewige vreugde sal lei, kan vir ons nou reeds vreugde skep. En standvastigheid in die vreugde word dan ons deel.

Want ons weet nou ons bruidegom sal ons nie verlaat nie.

As bruidsgemeente het ons nou soveel ervaring met Sy geduld en goedheid en liefde, dat selfs ons eie swakhede die uitsig op die vereniging met die bruidegom nie sal verduister nie.

Daarvoor sorg die bruidegom Self. Ons lê dit in Sy hande. En daarom kan die Dordse Leerreëls op hoë toon afsluit. Daar klink 'n loflied. Die Bruid van Christus het die leer van die volharding as skat van onberekenbare waarde liefgehad, en dit volhardend verdedig.

God sal sorg dat die kerk dit ook in die toekoms doen. Teen God kan geen beplanning standhou nie, nog minder kan geweld iets teen Hom vermag. Aan hierdie ewige God, Vader Seun en Heilige Gees, kom toe eer en heerlikheid, tot in ewigheid.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)