Die regering van Christus in die 1000-jarig ryk

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 19
Preek Inhoud: 

Ps 18: 1, 13, 14
Ps 139: 1, 2, 3
Geloofsbelydenis
Ps 75: 1, 2, 3, 4
Lees: Openb20
Teks: Sondag19 HK

Brs en srs, gemeente van Jesus Christus!

'n Bekende beeld waarmee die Bybel die posisie van die N.T.-Kerk teken, is die beeld van die bruid wat wag op die koms van haar bruidegom.

Die bruid, die kerk, sien uit na die terugkoms van haar bruidegom, Jesus Christus.

Die wagtyd vir die bruid het vandag al amper twintig eeue geduur. Vanweë hierdie lank wagtyd is daar twee gevare wat die bruid bedreig.

Die eerste gevaar is dat die bruid moeg raak van steeds maar wag. Tenslotte wil sy nie langer wag nie, gee haar bruidegom op en probeer sonder Hom regkom in hierdie wêreld. Dit sien ons gebeur in kerke waar die toekomsverwagting nie meer lewend gehou word nie.

In verband met die toekomsverwagting dreig ook 'n ander gevaar. Dit kan soms gebeur dat in die kring van gelowiges die toekomsverwagting teveel ingevul word met eie idees en fantasieë.

Dan word daar b. v. berekenings gemaak oor die presiese datum van verwagte terugkeer van Christus. Allerhande gegewens uit die Bybel en situasies uit eie tyd word op so'n manier aan mekaar verbind, dat daarmee 'n datum van die wederkoms met groot stelligheid bepaal word.

Waarom doen mense dit?

Waarom is die berekening van die wederkoms so belangrik vir hulle?

Ek vermoed dit is hierom: Mense het aan die belofte van Christus eintlik nie genoeg nie. Hulle wil meer hê. Hulle wil meer weet. Hulle soek 'n ander sekerheid as net 'n belofte van Christus: Ek kom!

Daardie sekerheid word hulle verskaf deur hul berekeninge en bewyse soos hulle die tekens van die tye verstaan.

Baie dikwels sien ons so'n toekomsverwagting saamgaan met sekere teorieë oor 'n 1000-jarig Ryk wat sal kom. Dit word ook wel genoem die leer van die chiliasme.

Op grond van Openb 20 waar sprake is van 'n periode van 1000 jare glo hierdie chiliaste dat daar straks eers 'n voorlopige koms van Christus sal wees. Wanneer Hy kom vestig Hy 'n Ryk van vrede op aarde wat 1000 jaar sal duur. In daardie periode is die Satan veilig gebêre. Ons ondervind van hom geen hinder nie.

Maar na die periode van 1000 jaar van ongehinderde vrede kry die Satan nog een keer sy kans. Dan sal hy nog baie slagoffers onder die gelowiges maak. En dan skielik is die einde daar, die laaste oordeel.

Noudat ons vanmiddag oor Sondag 19 moet praat, waar dit gaan oor Christus' heerskappy en oor ons verwagting van sy wederkoms, kom ons met al hierdie dinge in aanraking.

Ons wil vanmiddag sondag 19 behandel teen die agtergrond van Openb 20.

Die regering van Christus in die 1000-jarig Ryk

  1. die begin van daardie Ryk
  2. die seëninge van daardie Ryk
  3. die voltooiing van daardie Ryk

"En sit aan die regterhand van God"

Dit is die uitdrukking uit ons belydenis waarby ons eerste moet stilstaan hierdie middag. U sal verstaan dat hierdie sit aan die regterhand van God 'n vorm van beeldspraak is.

Die beeld bedoel te sê dat Christus na sy gang na die hemel 'n posisie ontvang, waarin Hy feitlik all beheer uitoefen oor die wêreld.

Hy sit tans op die troon en regeer.

Hierdie posisie is egter slegs tydelik.

Sy koningskap in die huidige vorm duur vanaf sy Hemelvaart tot aan die dag van sy Wederkoms. Aan die einde van die periode as Hy heel die wêreld aan sy Vader onderwerp het sal Hy tenslotte Homself onderwerp aan sy Vader sodat God alles kan wees in almal. Dan is die laaste doel bereik.

Gereformeerde Bybelverklaarders gaan gewoonlik daarvan uit dat die Bybel met die 1000-jarige Ryk die tyd bedoel vanaf die hemelvaart van die Here Jesus tot aan die uiteindelike voltooiing.

Dit beteken dat ons nou reeds volop besig is met die 1000-jarig Ryk.

Nou sal u dalk dink, maar hoe kan dit? Sinds die hemelvaart van Jesus is mos al baie meer as 1000 jaar verby?

Dit is waar natuurlik. Maar die punt is, ons moet die getalle in die boek Openbaring nie letterlik neem nie. Hulle het slegs 'n simboliese betekenis.

Hulle gee net 'n kenmerkende aanduiding van iets.

Die getal 1000 jaar is 'n aanduiding van 'n lang periode, wat in elk geval 'n mens se leeftyd ver oortref. Generasies gaan verby in so'n periode van 1000 jaar.

Maar na 1000jaar is 'n stadium van volheid bereik.

Die 1000 jaar is dus 'n aanduiding van die tyd wat Christus nodig het om sy gemeente uit die hele wêreld te vergader.

Van hierdie periode sê nou Openb 20 dat die Satan gebind is.

Nou roep dit ook 'n vraag op. Maar Satan is tog ook magtig? Hy is tog vandag nie definitief uitgeskakel nie?

Is die chiliaste nie reg as hulle sê dat jy kan sien dat Satan vandag glad nie gebind is nie, maar dat hy juis baie aktief is?

As ons Openb 20 sorgvuldig lees, ontdek ons egter dat die bedoeling daarvan nie is dat Satan volledig magteloos is nie.

Nee, in 'n beeldende vorm beskryf Johannes hoe hy sien dat Satan gebind word.

Die draak word in die afgrond gewerp en dit word bo hom verseël.

In vers 3 lees ons die doel van daardie binding 'sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die 1000 jaar voleindig is nie. '

Die vraag waar alles omgaan is nou: Wat beteken dit dat Satan die nasies nie meer kan verlei nie?

Na my oordeel kry ons die antwoord in vers 8. As die binding opgehef word, gaan Satan uit om die nasies te verlei. Waartoe verlei hy hulle? Tot sonde?

Om teen Christus te kies?

Nee, hy versamel hulle tot die oorlog. Die verleiding van die nasies hou in dat hy hulle daartoe bring om hulle massaal teen die kerk van Christus te keer.

"Om die laer van die heiliges te omsingel en die geliefde stad te verwoes" (vers9)

Dus die kerk vorm die doel van Satan. Hy wil dit heeltemal vernietig.

As Satan sy gang kon gegaan het, sou hy verkies het om onmiddellik na die hemelvaart die heidendom (hier aangedui as Gog en Magog) by mekaar gebring het om die christendom finaal uit te roei.

Ons kan maar dink aan die eerste tyd van die christendom. Hoe kwesbaar was dit alles nie. As Satan toe sy kans gekry het om dit te verwoes. Hy kon daardie klein groepie uit Handelinge 1 sommer gevange laat neem het en hulle monddood gemaak het.

Dan sou daar van Pinkster niks gekom het nie.

Dan kon die ryk van Christus hom die wêreld nie ontplooi het nie.

Wel daarom is Satan tydelik gebind. Sy mag is streng beperk.

Dit is die beeld wat Johannes waarneem. Toe Jesus na die hemel vaar, daal 'n engel neer met die sleutel van die afgrond om die Satan vir 'n tyd op te sluit.

En so het God vanaf die hemelvaart op aarde ruimte gemaak vir die verkondiging van die evangelie.

Toe kon inderdaad die evangelie volgens opdrag van Christus uitgaan oor die hele aarde tot aan die uiterste daarvan.

Dus dit is die situasie in die 1000-jarig Ryk.

Christus is in die hemel en vandaar gee Hy leiding aan die afbou van die Kerk.

Sy hoofkwartier is in die hemel. Maar hy het maatreëls geneem om sy werk op aarde te beskerm.

Antwoord 50 van die Kategismus sê: Christus regeer alle dinge.

Hierdie woord 'Alle dinge' moet ons breed opvat. Alle engele en magte, vorste en volke word deur Hom geregeer.

Hy werk verder aan sy doel. Aan daardie doel maak Hy alles ondergeskik.

Daaraan moet alles en almal saamwerk. Of hy dit weet of nie.

As iewers 'n oorlog is- dit pas by die doel wat Christus wil bereik.

As iewers 'n oorlog beeindig word- Ook dit dien sy doel.

As christene vervolg word- Hy het 'n bedoeling daarmee.

As die kerk groot kanse kry vir die verbreiding van die evangelie- Dit pas by Christus plan.

Natuurlik is dit wel 'n saak van geloof. Want daar gebeur teveel dinge op die wêreld waarvan ons sin en doel absoluut nie kan begryp nie.

Dit geld ook vir die gang van ons eie lewe.

Nee dit is beslis nie 'n maklike tyd om in die 1000-jarig Ryk te lewe nie.

Dit is in elk geval nie die onbekommerde luilekkerland waarvan soveel mense droom nie.

Dit kan selfs baie swaar word in die 1000-jarig Ryk.

Dit sal nog swaarder word as die 1000 jaar amper vol is.

Maar in die geloof hou ons vas: Jesus Christus weet wat Hy doen.

Beproewinge sal daar ongetwyfeld wes, maar met die beproewinge gee God ook die uitkoms.

Teen alle astrante ontkenning van die wêreld in, mag ons bly bely: Jesus is Heer. Hy het opgevaar na die hemel en sit aan die regterhand van God.

Hy kry sy werk klaar.

2. Die seëninge van daardie Ryk

Die chiliaste verwag nogal baie van daardie Ryk. Dit sal 'n wonderlike tyd wees vir christene. Aan hulle en aan die gelowiges wat sal opstaan sal baie heerlikhede geskenk word.

In sondag 19 lees ons egter van 'n ander heerlikheid.

Daar gaan dit oor die heerlikheid van ons Hoof Jesus Christus.

Dit is trouens in die Bybel altyd so.

Dit gaan nie in die eerste plek oor ons nie. Om ons heil, ons saligheid, ons vreugde, ons lewe, ons eer.

Nee, dit gaan altyd oor Christus. Oor sy eer, sy lewe sy heerlikheid.

En ons is daarvoor bestem om vir Hom die eer te gee.

Dit is wat sin en doel aan ons lewe gee.

Aan Hom die eer.

Eers Hy en dan ons.

Dit is die volgorde wat die Kategismus aanwys. Die heerlikheid van ons Hoof Christus bring vrugte saam vir ons.

Ons lees van twee vrugte.

Eerstens, ons ontvang nou hemelse gawes.

Deur sy Helige Gees stort Hy in ons sy lede, die hemelse gawes uit.

Ons ontvang die gawes in die vorm van prediking en gawes soos troos en bemoediging.

Natuurlik, dit is nog maar 'n begin van die ewige vreugde.

Daar is nog baie by ons wat hierdie vreugde kan belemmer.

Ons sondige hart, ons spannings, ons sorge, ons moeisame verhoudings met mekaar. Allerhande dinge kan vir ons die vreugde afrem.

Maar daar sal 'n oomblik kom waarop alle belemmeringe weggedoen sal word.

Dan sal by ons 'n lag van vreugde deurbreek oor alles wat Jesus Christus vir ons gedoen het.

Hemelse gawes: ons ontvang dit reeds tans.

Daarby hoef ons nie net aan spesifiek geestelike gawes te dink nie.

Ook wat ons sou noem aardse gawes val onder die hemelse seëninge. As ons in die daaglikse lewensbehoeftes waarin voorsien is, die hand van Jesus Christus herken, dan word dit vir ons tot 'n hemelse gawe.

'n Tweede seën wat ons in die Ryk van Christus ontvang is dat Hy ons met sy mag teen alle vyande beskerm en bewaar.

In daardie Ryk is blykbaar nog steeds vyande.

Immers die Satan is wel gebind, maar hy is nie magteloos nie. Hy gaan rond soos 'n brullende leeu, om te soek wie hy kan verslind.

Noudat aan hom die mag ontbneem is om die kerk as 'n geheel uit te roei, nou rig hy hom op die individuele gelowiges. Hy sal probeer om die kerk van Christus soveel as moontlik skade toe te bring.

Dit is in ooreensteeming met wat gesê word in Genesis 3: 15

Satan sal nie die kans kry om die kop van die vrou te vernietig nie, maar hy sal haar wel in die hakskeen byt.

Dit beteken, hy sal haar skade kan toebring.

Maar ook in daardie situasie mag ons versekerd wees van die beskerming van Jesus Christus.

'n Beskerming waarom jy as gelowige daagliks moet vra.

Dit is waar dit in sondag 19 oor gaan. Hier spreek die vertroue van die geloof. Die geloof weet waarvandaan hy krag moet kry, namelik van die Heilige Gees.

Ons moet altyd op ons hoede wees.

Maar hoef nooit bang te wees nie.

Ons veiligheid is mos by Jesus Christus.

Sy beskerming is deel van die hemelse gawes wat vir ons beloof is.

Hierdie gawes kom egter slegs beskikbaar op volhardende gebed.

3. Die voltooiing van daardie Ryk

Aan die einde van die 1000 jaar sal die Satan ontbind word.

Dan kom die geleentheid vir die Antichris.

Die Antichris word in die Bybel geteken as iemand wat aan die einde van die tye 'n poging sal doen om die hele kerk van die aarde te laat verdwyn.

Dit sal dan 'n bitter moeilike tyd vir die kerk wees.

En daarom word in antw 52 die wederkoms van Christus as 'n troosryke gebeurtenis geteken. Dit is iets om met verlange na uit te sien.

Dit beteken mos dat ons dan van ons vyande verlos sal word. Gog en Magog, die wêreldmagte wat deur Satan ingeskakel is om die laer van die heilliges te omsingel word dan deur vuur verteer.

Al die vyande van Christus word tereggestel. Al die godloënaars en kerkvervolgers.

Maar nie net hulle nie. Geoordeel word oor die lewendes en die dooies.

D.w. s. aan daardie oordeel kan geen mens ontkom nie. Selfs 'n graf bied dan geen beskerming nie. Alles sal aan die lig kom.

Nie net openlike vyandskap teen Christus kom aan die lig nie, maar ook alle geveinsdheid.

Kyk 'n mens kan nou nog as 'n huigelaar in die kerk sit. Met 'n taamlik netjiese buitekant, maar met 'n hart vol sonde en ongeloof.

Maar dan kan 'n mens dit nie meer volhou nie.

Dan kom daar 'n publieke oordeel.

Alles uit die lewe kom dan aan die lig.

Al ons woorde maar ook ons dade sal dan deur die Here beoordeel word.

Met nadruk stel Openb 20 dat elkeen geoordeel sal word volgens sy werke.

Nou sê antw 52, dat ons met opgehewe hoof ons regter uit die hemel verwag.

Dit beteken: ons sien daarna uit om die Here as Regter te ontmoet.

Dit is nogal 'n hele ding om dit so te sê.

Wie sou dit durf doen?

Maar tog kan dit.

As ons weet ons saak is reg as gelowiges, ons het opreg met die Here gelewe op aarde, dan hoef ons nie bang te wees as ons sake aan die dag moet kom nie.

Inteendeel dan kan ons daarna met vrymoedigheid uitsien.

Is ons dan so tevrede oor ons eie lewe?

Nee, dit is nie waaroor dit gaan nie.

Daar is 'n groot verskil tussen hoogmoedigheid en vrymoedigheid.

Hoogmoedigheid is dat jy jouself op die bors slaan. Wie waag dit om oor my lewe iets te sê? So 'n hoogmoedigheid sou teenoor God totaal onvanpas wees.

Maar ons kan wel met vrymoedigheid tot Hom nader.

Immers as gelowige stel jy jouself mos reeds daagliks voor God se aangesig.

Elke dag vra jy vergewing vir wat jy verkeerd gedoen het en neem jy jou voor om daarteen te stry.

Jy gaan elke aand slaap in vrede omdat jy vertrou: Jou sondes is vergewe.

Wie elke dag homself so voor die regterstoel van God plaas met erkenning van skuld en aanvaarding van die bevrydende vergewing hoef vir 'n Laaste oordeel glad nie bang te wees nie.

Jy kan dan jou regter maar met 'n opgehewe hoof verwag.

Jy ken mos jou Regter. Dit is die Here Jesus self.

Jy ken hom al jou lewe lank in jou daaglike omgang met Hom.

Waarvoor sou jy dan nog vrees om voor sy aangesig te moet kom?

Nee, vrees is glad nie nodig nie.

Jy sien eerder daarna uit.

Want watter groter vreugde is vir 'n christen dinkbaar as om eindelik sy Heiland van aangesig tot aangesig te kan ontmoet?

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)