Christus regeer aan God se regterhand

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 19
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 19 H.K.

LITURGIE:
L. Psalm 110
Ps. 118: 8
Ps. 118: 7
Ps. 110
Ps. 20: 1, 2, 5
Ps. 20: 6. 9

Gemeente van ons Here in die hemel,

Ons gaan vanaand weer die verkyker gebruik waarmee ons tot in die hemel kan kyk.

Want ons wil ons Here Jesus Christus sien wat vir ons beswil soontoe gegaan. Wat maak Hy daar vandag?

By sy hemelvaart het die wolke soos 'n gordyn agter Hom dig geskuif en geen menseoog kon Hom verder volg toe Hy in die hemel ingegaan het nie. Dit help nou nie meer om boontoe te bly kyk nie.

Maar ons kan in die Bybel kyk. Ons het die Bybel ontvang waarmee ons, soos met 'n verkyker, ja, 'n teleskoop, tog sommer in die hemel kan kyk en kan sien waarmee Christus vandag ter wille van ons besig is.

Die Bybel laat ons sien dat Hy daarbo sy Priesterlike werk vir ons bly doen deur aanhoudend ons sondes voor sy en ons hemelse Vader te bedek. Ons het verlede sondag al spesiaal daarna gekyk in die preek oor Sondag 18 H.K.

Maar die Bybel laat ons nog meer sien, naamlik dat Christus daarbo ook ons Koning geword het wat langs God op die troon die volkomenheid van God se Koninkryk mag voorberei. En daarna gaan kyk ons vanaand.

Ek wil veral Psalm 110 gebruik om u die koninklike aktiwiteit van ons Here in die hemel te wys. En dan mag ek vir u laat sien:

CHRISTUS REGEER AAN GOD SE REGTERHAND

  1. AS KONING VAN SY KERK
  2. MET INSKAKELING VAN SY KERK
  3. TOT VERLOSSING VAN SY KERK.

1. Die hemel is geen aftree-oord, broeders en susters. En ons Here Jesus Christus het daar nie in 'n leuningstoel gaan sit nie.

Die hemel is die regeringssentum van die almagtige God. En Christus het 'n plek gekry langs God op die troon.

En daar mag Hy nie maar net sit en kyk hoe dat God die geskiedenis regeer en al sy en ons vyande tot 'n voetbank vir sy voete maak nie. Maar God het vir Hom gesê, soos ons in Psalm 110 gelees het: "Heers!". Hy het na sy hemelvaart van die Vader alle mag in die hemel en op die aarde ontvang en mag sélf die leisels in hande neem. Omdat Hy eers as Priester die sondes van God se volk versoen het en daarmee God se skepping gered het, mag Hy nou ook as Koning die volkome herskepping mee voorberei. God deel nou sy regering met sy Seun. En die uitvoerende bevoegdheid is aan Christus opgedra.

Die Bybel dui die plek waar Christus nou mag regeer heel presies aan: Hy sit "aan die regterhand van God, die Almagtige Vader".

Waarom noem die Bybel diè plek so noukeurig?

Meestal word daarvan maar net gesê dat dit 'n ereplek is. Soos ons iemand wat ons hoogag, regs van ons laat loop en regs van ons laat sit.

Maar die Bybel praat telkens oor die regterhand van God as 'n omskrywing dat God in aksie kom. Dit is sy regterhand waarmee Hy regeer, ingryp, sy kinders te hulp kom en sy vyande vernietig.

So sing die Israeliete na die wonderlike deurtog deur die Roorsee, waarin die Farao met sy hele leërmag verdrink het: "U regterhand, o HERE, is verheerlik deur krag; u regterhand het die vyand verpletter" (Exod. 15: 6).

En in die dae van Israel se gevangenskap in Babel bemoedig God sy volk met die woorde (Jes. 41: 10): "Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, Ek ondersteun jou met my reddende regterhand".

Dawid het daarvan gesing in die boek van die Psalms. Psalm 138: "As ek te midde van benoudheid wandel, behou U my in die lewe; U steek u hand uit teen die toorn van my vyande en u regterhand verlos my".

Dalk vind ons nêrens die betekenis meer treffend aangedui as in die beryming van Psalm 118, die 8ste vers:

Gods regterhand is hoog verhewe
sy regterhand is groot van daad
dit laat van skrik die wêreld bewe
maar hef sy volk uit lyde en smaad.

So regeer God met sy regterhand, gemeente. Hy laat die wêreld bewe deur sy gerigte, maar hef sy volk uit lyde en smaad in sy genade. In daardie regterhand konsentreer God se voorsienigheid waarvan ons in Sondag 10 H.K. belydenis gedoen het. Maar as God dan ons Here Jesus Christus vanaf sy hemelvaart aan sy regterhand laat sit het- wat kan dit dan anders beteken as dat God nou niks meer doen buiten Christus om nie! Voortaan regeer die Vader alles alleen nog maar deur Christus. Christus regeer nou aan God se regterhand. Christus lei nou daardie hand. As God nou die wêreld van skrik laat bewe, gebeur dit: om Christus ontwil. As God se hand baie persoonlik my met tere sorg omring, of deur allerhande beproewings louter, gaan dit nooit buiten my Heiland om nie. Hy sê: Toe maar, Vader, slaan hulle maar in u toorn, daardie vyande van My en van my kerk! Hy sê ook: hoeseer U my broeders en susters ook al beproef, Vader- moet hulle wel vashou en hulle veilig daar deurheen haal.

Hierdie troos lê daar in die nadruklike plaasaanduiding, gemeente! In die regeringssentrum in die hemel staan 'n troon waarop Christus sit en regeer aan God se regterhand. Diè hand hou tenslotte alles in die hand. Maar dit word bestuur deur Christus, as Koning van sy kerk.

En moet dan maar alle nadruk daarop lê dat Christus as Koning van sy kerk aan God se regterhand sit, broeders en susters.

Ja, want as dit dus ons Koning is wat die geskiedenis beheers en die wêreld regeer, moet dit mos wel beteken dat alle geskiedenis op aarde draai om die vergadering en beskerming van die kerk!

Het u so al ooit die koerante gelees en die nuus op die televisie en die radio gevolg?

Dit voel vir ons altyd of die kerk die speelbal van die maghebbers van hier benede is. Hulle bepaal die plek van die kerk in die wêreld. Die geskiedenis van die kerk is afhanklik van die ontwikkelinge in die wêreldgeskiedenis, dink ons.

Maar u mag dit maar omdraai, gemeente: die geskiedenis van die wêreld is afhanklik van die ontwikkelinge in die kerk. Ja, feitlik is die hele wêreldgeskiedenis kerkgeskiedenis. Want Hy wat die geskiedenis beheers, is die Koning van die kerk. Telkens weer lei Hy die geskiedenis op aarde so dat dit bevorderlik is vir sy kerk.

Ek weet, dit vra geloof om dit raak te sien. Maar die geskiedenis is al vol voorbeelde dat politieke ontwikkelinge juis diensbaar geword het aan die voortgang van Christus se kerkvergadering.

'n Bekende en indrukwekkende voorbeeld is die politieke omstandighede in die jare waarin die groot Kerkhervorming in Europa op gang gekom het, in die 16de eeu. In die eerste jare, toe Luther vanuit Wittenberg sy oproep om na die Woord van die HERE terug te keer, orals hoorbaar gemaak het, het die Paus vanweë die politieke situasie van daardie dae nie dadelik Luther die mond gesnoer nie. Want daar moes in die plek van die ou Maximiliaan 'n nuwe keiser vir Duitsland gekies word en die Paus wou teen elke prys voorkom dat dit Maximilian se kleinseun Karel V sou word. Daarom het hy die keurvors Frederik die Wyse gesteun, maar juis hierdie Frederik was die beskermheer van Luther!

Op die ou end word Karel V tog keiser. Sowel hy as koning Frans I van Frankryk as die Paus was vyande van die Reformasie dus dit sou moontlik gewees het dat hulle nou gesamentlik hierdie beweging van hernude gehoorsaamheid aan die Koning van die kerk sou probeer uitroei het. Boonop het die Turke in die Ooste opgeruk om die hele Wes-Europa in 'n heilige oorlog aan die Islam te onderwerp. Van alle kante was Christus se kerk dus bedreig. Maar opnuut het die onderlinge politieke magstryd tussen daardie verskillende vyande van die Evangelie die redding van die Reformasie beteken. Hulle was dusdanig besig om mekaar te beveg dat hulle onvoldoende by magte was om die uitbreiding van die kerkhervorming te keer.

So het ons Koning in die hemel die geskiedenis van die wêreld gebruik om sy kerk tot nuwe bloei te bring.

Ons sal dit nie altyd so duidelik soos destyds kan aanwys nie, broeders en susters, maar ons mag dit nogtans altyd glo dat daar niks in hierdie wêreld gebeur wat nie op die een of ander wyse die kerk ten goede kom nie.

Die onverwagse ontwikkelinge in Oos-Europa, die skielike veranderinge in ons eie land- ons Koning in die hemel het dit laat gebeur om sy kerk eendag daar te kry waar Hy met ons wil teregkom: op die nuwe aarde. In die rus mag ons daagliks die koerant opslaan en na die nuus kyk en luister.

2. Ja, in die rus mag u selfs saam met Christus die koms van die nuwe aarde help voorberei.

Want ons Koning in die hemel gebruik nie alleen die wêreld by die regering van sy kerk nie; Hy skakel ook sy kerk in by sy wêreldregering.

Blykens Psalm 110 heers ons hemelse Koning mos uit Sion. Van daaruit strek Hy sy magtige septer uit om te heers temidde van sy vyande. Van daaruit onderwerp Hy die wêreld en oorwin Hy sy vyande.

Maar is "Sion" in die Skrif nie die plek waar God op aarde by sy volk wil woon nie? Die plek waar sy tempel op aarde gebou is? Waar die diens van die versoening op aarde verrig word?

In die Nuwe Verbond is "Sion" die Kerk van Christus op aarde.

Ons Koning in die hemel gebruik dus sy kerk op aarde om sy regering uit te voer. Is die hemel die regeringssentrum van God se Koninkryk vanwaaruit die aktiwiteite gelei word, die kerk is die kaserne waar die soldate gemobiliseer en geïnstrueer en uitgestuur word om die wêreld te onderwerp aan Koning Jesus.

Met hemelse gawes wat ons Koning deur sy Heilige Gees in sy kerk op aarde uitstort, maak Hy ons bruikbaar om die oorwinning van sy Koninkryk te bevorder.

En u kan by die hemelse gawes maar eenvoudig aan "geloof" dink, broeders en susters, aan geloofsmoed om as soldaat van die Koninkryk van die hemele in hierdie wêreld te staan. Geloof en skriftuurlike wysheid waardeur ons vanuit die kerk prinsipiële artikels en boeke skryf waarin na die norme van God teruggeroep word. Geloofsmoed waardeur ons vanuit die kerk ons stem laat hoor in politieke vergaderings om te ywer vir gehoorsaamheid aan die gebooie van God in ons land en in die wêreld. Geloofsmoed waardeur ons by ons werk 'n ander opstelling kies as die meeste kollegas. Geloofsmoed waardeur ons in die universiteit beskeie dog beslis 'n professor wat die betroubaarheid van God se Woord in twyfel trek, teëspreek.

Geloofopoffering waardeur ons vanuit die kerk die Woord van ons Koning uitdra in ons omgewing en verder weg in evangelisasie en sendingwerk.

Die Heilige Gees maak ons van harte gewillig en bereid om ons onder ons hemelse Koning in die stryd te werp vir sy ryk.

Dawid het daarvan alreeds Psalm 110 geprofeteer (vs. 3): "U volk sal baie gewillig wees op die dag van u krygsmag (dit is: wanneer die troepe vir die stryd gemobiliseer word)".

Wanneer God se kerkvolk opgeroep word om die goeie stryd saam te stry sodat God eendag alles in almal sal wees, kom hulle. Nie as dienspligtiges nie, maar as vrywilligers, nie met teësin nie, maar vol oorgawe. Hulle wil graag saamstry, op watter plekkie ook al die Koning hulle sal inset. Hulle kom vanself en meld hulle aan vir die stryd op alle fronte. Omdat hulle begeester is deur die enorme belang van hierdie stryd.

Dawid het die soldate van God se Koninkryk alreeds voor hom gesien: "in heilige feesgewade". Miskien moet ons liewer vertaal: "in heilige priestergewade".

Hulle is deur hul Koning wat eerste self as priester Hom wou opoffer vir God se saak, nou almal tot priesters gemaak. Hul kleding laat uitkom dat hulle nie hulself soek nie, geen eie belang najaag nie. Hulle soek nie dat die wêreld aan hulle voete kom te lê nie, maar hulle is bereid om hulleself daarvoor op te offer dat die wêreld aan die voete van hul Koning kom te lê.

En onder daardie vrywillige vegters vir Christus en sy ryk is daar ook 'n hele aantal jong mense. Ook die jeug wat deur so veel sake nog geboei word, stel hulle alreeds in diens van die hemelse Koning en maak in hul lewe alles ondergeskik aan sy belange. Die naam van hul jeugblad is tiperend vir hul houding: ook hulle is bereid om die "Wapenrusting" te dra.

Die kerk is geen saak van net 'n aantal ou mensies nie. Oud én jong is vuur en vlam vir die een saak.

Ons kan nie regstreeks in die hemel sien nie, broeders en susters. Maar ons kan wel onsself hier op aarde sien!

Ons eie lewe, ons kerklike lewe en ons aktiwiteit as lidmate van Christus se kerk in hierdie wêreld is die sigbare bewys dat ons Koning in die hemel aan God se regterhand besig is om die hele wêreld aan God te onderwerp. Ons vorm die fronttroepe van die Koninkryk van die hemel.

Ek stem saam: ons durf dit amper nie te glo nie, maar so belangrik is dus die kerk hier op aarde. En soos onder Christus se regering allerlei gebeurtenisse in die wêreld van beslissende betekenis vir die kerkgeskiedenis is, so is 'n strydbare kerk dus nie minder van beslissende betekenis vir die wêreldgeskiedenis nie. En ook daarvan is die geskiedenis vol voorbeelde. Ek kan opnuut wys op die groot Kerkhervorming: hoe het die oplewing van die kerk in Wes-Europa groot gevolge gehad vir die hele politieke en maatskaplike samelewing en hoe het deur die sendingsywer wat daaruit ontstaan het, hele volkere verander!

Maar daarom is dit ook baie belangrik dat ons ons beywer vir die bewaring van die kerk hier op aarde as 'n léwende gemeente van Christus, vurig van Gees, broeders en susters. Om vandaaruit as soldate van God se Koninkryk in hierdie wêreld te staan. Want as die kerk sy lidmate nie meer aan die brand steek met die vuur van die Heilige Gees nie, sal onvermydelik ook die ywer en die offerbereidheid van die soldate van Christus afneem. En sal dit skadelik wees vir die voortgang van Christus se Koninkryk op aarde. Hoekom is daar maar so min christelike aksie meer hier in Suid-Afrika? Hoekom het ons in ons land, ten spyte van so veel christene, nie eens 'n christelike dagblad nie? Hoekom het ARSO (die Aksie vir Reformatoriese Skool Onderwys) heeltemal misluk?

Moet ons die oorsaak daarvan nie in 'n algehele kerklike slappigheid soek nie?

Gemeente, as u glo dat Christus as die Koning van sy kerk aan God se regterhand sit, beywer u dan daarvoor dat sy kerk hier op aarde 'n weerbare leër bly.

Bly almal u eie plekkie in die kerk volstaan, veral ook as, soos vandag, die politieke omstandighede skielik verander en onseker raak. U hoef mos nie angstig te raak nie: ons glo mos dat ook daardie veranderinge in die wêreld onder Christus se regering in die belang van die kerk plaasvind. U mag ook nie dros en vanweë die onsekere politieke omstandighede probeer wegkom na Australië of Nederland toe nie. Ons Koning in die hemel het juis ook onder veranderende politieke omstandighede 'n belangrike taak vir sy kerk hier! En u trou en u ywer in en vanuit die kerk vandag is onder Christus se regering van minstens so veel belang vir ons land en vir die wêreld.

3. Ek weet: dit is nie altyd ewe maklik om ons plek as soldaat van die Koninkryk van Christus in hierdie wêreld te bly volstaan nie. Ons moet maar op baie teëstand en haat reken. Die Kategismus praat in die laaste antwoord van "droefheid en vervolging" wat ons te wagte staan in hierdie fase van Christus se regering. Want die wêreld aanvaar hoegenaamd nie dat die kerk die redding van die wêreld beteken. Die duiwel sal die wêreld al hoe meer teen die kerk aanhits, om sodoende sy eie ryk te red.

Ook dit vertel die geskiedenis met vele voorbeelde vir ons. Hoeveel martelare het die kerkgeskiedenis al nie opgelewer nie?

Hoe maklik kan 'n mens dan moedeloos raak. Hoe maklik kan ons dan daaraan begin twyfel of die leiding van die wêreldgeskiedenis regtig wel in Christus se hande lê. Lyk dit partymaal nie asof Hy geen hand uitsteek nie??

Broeders en susters, ook daardie beproewing behoort tot die regeringsplan van ons Koning. Hy het ons tevore in sy Woord daarop voorberei. Ons kán weet dat die kerk in die wêreld deur swaar tye heen moet.

Christus toets ons daarin of ons wel bereid is om ons in die diens van sy Koninkryk op te offer tot in die dood. Soos Hy homself tot in die dood vir ons geoffer het!

Maar ons kan ook weet dat daar eendag vir goed 'n einde aan ons moeite en lyding en beproewing kom. Want die doel van die regering van ons Koning in die hemel bly in elk geval die verlossing van sy kerk.

Daar kom 'n dag waarop alle vyande verpletter gaan word. Psalm 110 noem dit "die dag van sy toorn" en beskryf dit baie realisties: op daardie dag wanneer Hy sy strafgerig hou, maak Hy dit vol dooie liggame. Al sy en ons vyande word dan in die ewige verdoemenis gewerp, maar ons Koning neem ons saam met al die uitverkorenes na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid.

Dié dag kan sommer aanbreek.

Ons mag glo dat ons Koning geen dag later as wat nodig is, sal kom nie. "Kyk, Ek kom gou", het Hy beloof.

Dawid het in Psal 110 alreeds 'n pragtige beeld daarvoor gebruik. Ons Koning is soos 'n veldheer wat in die agtervolging op sy vyande homself selfs geen tyd gun om uitgebreid te gaan eet en drink nie. Hy volstaan met gou 'n slukkie water uit 'n stroompie langs die pad. Maar daarom sal Hy eendag ook die hoof in seëpraal kan ophef! En daarom mag ons vandag alreeds die hoof ophef en met 'n opgerigte hoof ons Koning enige dag uit die verwag.

Geen mens weet presies wanneer Hy kom nie. Daardie dag kom soos 'n dief in die nag. Daarom moet ons ook nie die hele dag na die hemel staan en kyk nie. Nie nou alreeds met ons oë deur die wolkegordyn probeer dring nie. Ons moet maar trou aan die werk bly. En daagliks met die teleskoop van die Bybel besig bly.

Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy Heer, as Hy kom, op hierdie manier besig sal vind.

AMEN.

(Pretoria 4 maart 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)