In Christus se Naam kom die Gees as gawe saam

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 12
Preek Inhoud: 

07-04-91

SONDAG 12

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 110 : 1, 2, 3
Geloofsbelydenis
Sing: Ps. 89 : 8, 15, 18 [NB. vers 8!!! ipv 5] salwing
Skriflesing: 1 Johannes 2:12-27
Sondag 12 HK
Gebed
Kollekte
Sing: SB. 13 : 1, 2, 3, 4 [salwing met die Heilige Gees]
Preek
Sing: SB. 13 : 5, 7
Dankgebed
Sing: Ps. 133 : 1
Seën

Gemeente van Christus, ons Heer,

dis dié naam "Christus" wat ons vanaand oordink. Gesalfde is die betekenis. Ons ken die ritueel van salwing uit die Ou Testament. 'n Mens is vir 'n spesiale taak gesalf. Die salfolie het 'n uitstaande betekenis vir enige Israeliet gehad. Dié olie is volgens 'n spesiaal resep gemaak en heilig genoem. Dit wás voortaan heilig! Heilig soos ... die Heilige Gees dit is. Ja, die salfolie is die een simbool vir God die Gees. Ons gaan nou nie baie oor die plegtige gebruik van salwing sê, soos dit in dit ou verbond was nie. Maar dan nog weet ek van Jesus.

Jesus het die naam gekry: Hy is die Gesalfde, die Massiach = die Messias. So is Hy in die profesieë en in die verwagting van die volk genoem: die Messias wat sal kom! Maar waar en hoe is Hy dan gesalf? Het ons Here Jesus 'n salwing soos 'n koning of soos 'n priester ontvang? Ja, Hy het. Was daar iemand wat iets bo sy kop gehou en uitgegiet het? Ja, daar was! Onthou jy wat gebeur het voordat Jesus sy werksperiode begin het? Toe is Jesus deur Johannes in die Jordaan ondergedompel. Hy is gedoop, of ons kan ook sê, Hy is met die Heilige Gees gesalf! Die Gees het soos 'n duif op Hom neergekom en Hom oordek. Saam met die Jordaanwater wat nog van Hom afgedrup het, het die Gees Hom oorspoel.

Ons Skriflesing uit 1 Johannes 2 sê in dieselfde woordkeuse: "Julle het die salwing van die Heilige" (vs. 20). Dit is duidelik die Heilige Gees wat volgens Christus se belofte uitgestort is op almal wat in Hom glo. Die geloof is die bewys: die Gees moes jou oorspoel het! Johannes het ook geskryf: "die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle" en "dieselfde salwing leer julle aangaande alles". Dis die bron van die geloof. Dis 'n krag oor jou en 'n krag teselfdertyd in jou. Deur God se wonderlike mag oorspoel dit ons om jou te voed. Maar ook put jou geloof uit die bron en vloei teselfdertyd uit jou uit, want jy kan die mooi geloof uitstraal. Die heilige salfolie van Israel was alreeds 'n teken van die Gees. Sedert ons Here Christus se doop is dit die werklikheid: die Gees gaan uit van die hemel. Nou dat Christus opgestaan het uit die dood kom die Gees in strome oor die gelowiges. Solank as julle aan Christus verbind is.

Kom ons luister in hierdie lig na die betekenis van Jesus se werksnaam: die Christus, die gesalfde van God. Sy werksnaam is: die Gesalfde. Wat van ons naam: christene? In watter mate is jy deur die Gees van Christus gesalf? Ek sê vir julle:

IN CHRISTUS SE NAAM KOM DIE GEES AS GAWE SAAM

om

  1. getuies van Hom,
  2. toegewy aan Hom
  3. magtig in Hom te wees.

1. OM GETUIES VAN CHRISTUS TE WEES: PROFEET

Die voorseggings oor Christus praat partykeer oor Hom as die verwagte profeet. Dit word saamgevat in die bekende woorde waarmee die brief aan die Hebreërs begin: "Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun" (1:1). Ewe lank was die profete God se spreekbuis. Toe kon God reguit tot ons praat: in Christus. Sy naam "gesalfde" sê dat Hy die enigste was wat reguit en regstreeks in opdrag van God kon praat. Hy het persoonlik alles kom sê wat God wou gesê het: oor sy plan vir verlossing van die aarde. Die mense in Israel het gedink: Hy is minstens 'n profeet. Ons mag weet: Hy is God se eie Seun wat reg uit God se hart uit gepraat het.

Die profeet in Israel was 'n opvallende figuur. Dit was nie 'n reëlmatige amp waaraan die mense gewoond kon raak nie. Nee, die HERE het elke keer opnuut 'n man as profeet geroep of die een spesiale profeet 'n nuwe opdrag gegee. Hulle moes snaakse klere dra: 'n mantel van kameelhare. Party van hulle het soos Nasireërs geleef, gebind deur 'n besondere gelofte. Dink aan Samuel of aan Elia of aan Jesaja. Dus: profete is besondere mans wat die HERE in noodsituasies geroep en ingesit het. In die allergrootste noodsituasie het God sy eie Seun ingesit. Sonder simbole het Hy die salwing met die Heilige Gees gekry. So kon Hy alles sê: hoe gevaarlik die situasie, hoe onwillig om te hoor die mense ook sou wees. 'n Profeet was enige tyd 'n opvallende mens.

Nou noem die Bybel enige mens wat homself christen of christin noem: 'n profeet. Is jy in staat om so 'n besondere taak te aanvaar? Kan jy 'n opvallende mens wees? Die Bybel sê mos dat dit werklikheid geword het wat Moses in wanhoop geroep het: "Ag, as die hele volk van die HERE maar profete was, dat die HERE sy Gees oor hulle mag gee" (Num. 12:29). Moses het gewonder: hoekom is daar altyd net stryery onder God se volk? Hoekom bly God se kinders onplesierige mense. En dis die vrae wat ons partykeer nog pla. Maar die wanhoopsroep van Moses is vervul! Dit het Pinksterfees geword. Die Heilige Gees het gekom en Petrus het uitbundig uitgeroep: "dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: Ek sal van my Gees uitstort op alle vlees: julle seuns en julle dogters sal profeteer" (Hd. 2:17).

Wat gebeur as die Gees oor 'n mens kom? Die Heilige Gees wil jou eerste vul met God se liefde. Dis hoekom jy so baie mag hoor, mag weet van wat God uit sy hart uit gesê het. Dan vul die Gees 'n mens ook met God se Woord, sodat jy iets in jou kry wat nie uit jouself is nie: wysheid, kennis, insig in die lewe. Die Gees verander jou hart, Hy seën jou geheue, Hy gebruik jou stem en jou oë. Dis vervul wees met die Heilige Gees: dat mens weet daar is dinge in my wat van God kom!

Moenie bang wees om profeet genoem te word nie. Altyd mag jy weet dat Christus bô jou is! Jy hoef jouself nie met 'n opvallende mens soos die profete van die ou testament te vergelyk nie. Onder die Here Jesus mag jy die gewone mens wat jy is, wees. In sy naam mag jy leer hoe om oor die evangelie te praat. Jy wat jouself dalk te jonk ag mag reguit praat. Jy wat mos so hartseer is dat jy nie meer weet hoe om blymoedig te getuig nie. U wat dink: ek is te oud om nog iets vir die HERE yte beteken. Julle het almal dieselfde Christus! Dis sy woorde van liefde en genade wat jy mag praat. Dis weet dat die Gees die verbinding tussen die hemel en jou oophou. Dan sal jy altyd 'n opvallende mens wees. Nee, ons is nie getuies soos die profete en apostels was nie. Ons mag getuie wees van die werk wat God Drieënig nóu doen. Jy mag vertel van God se hand in jou lewe. Jy mag Christus se naam, sy werksnaam "Gesalfde" bely: dis sy naam en sy werk. Sy naam en sy werk: dis sy eie Woord. Sy naam en sy werk: dis jy! As jy getuig of met iemand bid, mag jy weet: in Christus se naam kom die gawe van die Gees saam.

2. OM TOEGEWY AAN CHRISTUS TE WEES: PRIESTER

Waaraan dink u by die noem van 'n priester uit Israel? U sal eerste noem: sy besigheid in en by die tempel. As ek daarby ook die hoëpriester noem, sal u spesifiek aan die offers, die diens van die versoening dink. In die terme het die hele brief aan die Hebreërs ons oor Christus leer dink: die groot Hoëpriester wat met die offer van sy lewe ons van al ons sondes bevry het. Dis dié aspek wat die Kategismus vorentoe gehaal het: Hy is gesalf tot ons enigste Hoëpriester wat ons met die enige offer van sy liggaam verlos het. Die priester het self offer geword! Sy lewe het sy dood geword.

Tog kan mens by die figuur van die priester nog meer dinge noem: dis aspekte van die priestertaak wat help om die een groot taak - die diens van die versoening van sondes - nog mooier te belig. Eerstens kan ons noem die toewyding van die priester. So 'n mens het sy hele lewe lank die HERE gedien. Dit was sy roeping vanaf sy geboorte uit die stam Levi. Jesus was nie uit die een stam nie. Tog het Hy vrywllig sy hele lewe aan God se diens gewy. 'n Tweede volgende aspek van die werk van 'n priester is

die versorging van siekes! Hulle was baie betrokke, as daar 'n ernstige geval van siekte was. Byvoorbeeld, die melaatses was die hele tyd van hul siekte aan die sorg van die priester toevertrou. Dis mooi: die man wat 'n spesiale taak het vir jou versoening met God, kry ook die taak om jou in tye van beproewing deur die HERE by te staan! Die priesters wasin 'n mate die diakens van die ou verbond. Dink dan nou ook weer aan Christus. Hy het vol liefde Homself ontferm oor almal was liggaamlik of psigies siek was! Dit was wesenlik vir sy taak: om mense van die laste te bevry, sódat ook hulle die Woord van genade kon hoor, sodat hulle deur die hoor toegang tot die nuwe lewe kon kry.

Ja, en dan noem die Kategismus nog 'n laaste aspek. Langs die diens van die vergewing van sondes, die toewyding van 'n hele lewe en die sorg vir siekes was daar ook die voorbidding. By die offers het die priester gebid. Meer nog: gedurende sy hele lewe het Christus gebid. Hy het op sy knieë by die Vader gekom. Hy het vir ander mense, vir ons by die Vader kom vra. Dit is nou die groot taak wat Hy in die hemel, dis by die Vader het: om altyd vir ons te pleit. Hy het 'n rede om te pleit. Hy is die rede, omdat dit Sy lewe is wat Hy vir God geoffer, aan Hom gewy het. So sien ek Christus, ons Here: wat met sy hart en sy hande wys dat Hy vir die mense omgee.

Hy het u geroep om 'n "priesterskap" vir Hom te wees, sê Petrus in sy brief. Nee, jy kan nooit die offer van versoening bring nie. Jy hoef dit nooit te probeer nie! Jy mag wel dit doen: jou lewe aan Hom wy. Jouself jou lewe lank aan Hom wy. Dis wat die priesters van die ou verbond moes doen. Dié diens het beperkings gehad: jy kon net op een manier, op een plek priester wees. Maar u mag op enige plek uself aan Christus se werk op aarde wy. Dit beteken: Christus se werksradius is groter, baie wyer as vroeër. Hy kies mos sy mense orals, sodat Hy op allerlei plekke in die wêreld sy eie diensknegte en diensmeisies het. Almal mag op hul eie wyse sy talente, sy toewyding aan Hom bring. Hy sal die offer nie verbrand nie, maar gebruik. Hy het daaraan gesterf, jy mag 'n lewende dankoffer wees. Jy mag lewe!

Onthou mooi: Christus het sy werk begin mét die salwing deur die Heilige Gees. Jy kan alleen met die krag, met die lewende verbinding met die hemel 'n priester vir God wees. Dis as jy jou hart en jou hande in sy diens en vir sy mense wil gebruik. As jy bewus is dat die Heilige Gees jou hart en hande moet regeer.

3. OM MAGTIG IN CHRISTUS TE WEES: KONING

Daar was nog die derde figuur, die hoogsgeplaaste mens wat in Israel 'n soortgelyke opvallende posisie gekry het: die koning van Israel. Die woorde "die huis van Dawid" sê vir u genoeg. God se beloftes aan die familie was mos dat hulle ewig oor die een volk van God sou regeer. Die koning het 'n groot mag gehad: hy sou namens die HERE regeer, hy moes reg spreek, hy het die geestelike en daaglikse leiding oor die volk se toekoms in sy hande gekry. God het die een familie uitgekies en hul ontsaglike mag en eer gegee.

Dié familie en dié volk het lankal die belofte oor die Here Jesus gehad: die profesie van die vredevors. "'n Kind is vir ons gebore, 'n seun is aan ons gegee en die heerskappy is op sy skouer ... tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder ! einde op die troon van Dawid en oor sy koninkryk" (Jes. 9:6). Die Gesalfde seun sou kom! Jesus het werklik die styl van 'n koning gehad, maar dan van 'n koning volgens God se gedagtes. Hy het liefde vir al sy mense gevoel, Hy het God se wet naby gebring, Hy het aan die toekoms gedink, Hy het sy lewe vir sy volk oorgehad. Hy het die vyande van sy mense persoonlik bestry. Deur sy oorwinning op die ergste vyand het Hy die ewige lewe gekry. Ja, onthou mooi dat Christus sy aardse taak volkome uitgevoer het. Hy het sy salwing altyd onthou. Dis hoekom Hy ook as mens, as eerste mens die ewige lewe ontvang het! Toe het Hy gesê, toe kon Hy sê: "aan My is gegee al mag in die hemel en op aarde" (Mt. 28:18).

Ons mag glo: dis Hy wat nou vanuit die hemel regeer. Net so werklik, net so liefdevol, net so met sy mense verbind as wat Hy op aarde gewerk het. Wat is sy mag in die hemel? U kan antwoord deur te vra: wat was sy mag op aarde! Dit was dat Hy met die Woord en die liefde van 'n Vader gekom het. Dit was dat Hy die Gees van die geloof kon skenk. Dis nou dieselfde middele, dieselfde mag: nou dat Hy met alle mag in die hemel oor u regeer. Met die meerdere mag van sy persoonlike oorwinning oor die dood en die duiwel stry Hy nou vir julle. Hy is ''n ewige Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat verwerf is, beskerm en bewaar'.

Ek dink: dit kan 'n mens ontroer om te hoor hoe ons priesters mag wees. Naamlik deur met liefde in jou hart en met jou 2 hande die Here en sy kinders te wil dien. Baie van u doen dit alreeds: die pa's en ma's vir hul kinders, grootouers vir al hulle kleinkinders. Hulle bid en sorg. Daar is baie wat verplegende en versorgende werk gekies het, juis om hul gawes in diens van die mense vir die Here te gee. Daar is ook mense wat profetiese werk doen: hulle durf te praat, hulle is aktief. Maar wat is, waar is die christene wat konings is?

Dit lyk vir my dat ons die koninklike van God se moontlikhede met mense eers in die toekoms sien gebeur. Soos die Kategismus sê: dat ek hierna met Christus oor alle skepsels kan regeer. Ja, maar wat van nou? Kom ons kyk opnuut na Christus wat as koning bô ons is. Hy het geregeer: dis dat Hy sy mense en die moontlike gevare raakgesien het. Dis groot, dis magtig: as 'n klein mens die groot werklikheid van die bose kan raaksien! Daar is nog 'n ander trek van Christus as Koning: Hy het nederig gebly, terwyl Hy tog groot en magtig was. Die profesieë het Hom as koning so geteken: "Hy is sagmoedig, nederig en Hy ry op 'n esel". Dis groots, dis magtig: as jy wat 'n klein en magtelose mens is, jou eie swakhede rustig kan erken! Dis groots as jy oorsig oor jou eie moontlikhede het. Dis hoekom die Kategismus sê: dat ek ook 'n bietjie koninklik mag wees is omdat "ek in hierdie lewe met 'n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry"!

Die vrye gewete: dit kry jy as jy weet dat jy in Christus vry teenoor die hemelse Vader is. Vrygespreek van die las van sonde en skuld. Dat jy skaam voel teenoor God is mooi. Maar die skaamte mag nie alles oorskadu nie, want jy moet lewe, jy moet werk. Luister hoe mooi, hoe vrymoedig die apostel Johannes praat as hy skryf: "Ek skryf julle, vaders en moeders, omdat julle Hom ken wat van die beginne af is" (vs. 13). So groot mag u in die Here Christus wees: u mag God ken! Nog vrymoediger is dit as Johannes sê: "Ek skryf aan julle, jongmanne en vroue, omdat julle die bose oorwin het ... en omdat julle sterk is en die Woord van God in julle bly". Is jy sterk? Ja, as die Woord in jou lewe, as jy Christus daagliks hoor praat. Dan mag 'n mens vry soos 'n koning of 'n koningin praat. Wie sal vir 'n koninklike persoon durf sê hy mag nie so praat nie?!

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)