Ons lewe is in God se hand

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 10
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 10 H.K.

LITURGIE:
L. Psalm 139
Ps. 139: 1, 2, 3
Ps. 139: 12
Ps. 139: 4, 5, 8, 9
Ps. 145: 10, 11
Ps. 145: 2, 3

Broeders en susters,

Ek mag u vanmôre weer die hand van God in ons lewe wys.

In die Bybel word baie konkreet van die hand van die HERE gepraat. Byvoorbeeld in die Psalm wat ons in hierdie diens gelees het, Psalm 139: vs. 5: "U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my. " Vs. 9 en 10: "Gaan ek emigreer na die anderkant van die see, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou". Ja, God se hande was daar al aan die allereerste begin van ons lewe: Hy het ons geweef in die skoot van ons moeder, vs. 13.

Die digter van Psalm 139 bely die hand van die HERE as 'n lewende werklikheid van begin tot end in 'n menselewe.

Die HERE God, die Almagtige, wat sy hand in die ontstaan van hierdie aarde gehad het, het mos nie sy hande daarna van sy skepping afgetrek nie. Nadat Hy hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het, onderhou en regeer Hy dit nog daagliks deur sy ewige raad en voorsienigheid. God se hand is nog elke oomblik van die dag in alles in ons lewe hier op aarde aanwesig. Daar gebeur in ons lewe niks per toeval nie, niks sommer vanself nie, niks as 'n natuurlike saak nie, maar alles, letterlik alles kom uit God se hand na ons toe. Hy het nog altyd in alles die hand. En ons lewe bly in sy hand.

Ons is in alles van sy hand afhanklik.

Ja, so staan dit in die Bybel. En so bely ons dit as kerk, broeders en susters.

Maar om dit te erken en te aanvaar, om jouself nou ook vol vertroue aan die hand van die HERE oor te gee- dit kos baie geloof vir 'n kortsigtige en hoogmoedige mens. Daarvoor moet 'n mens eers klein word voor God. Eers weer kind word voor God. Kind wat hom net aan Vader se hand, of nog liewer: ìn Vader se hand veilig voel.

Die HERE wil ons vandag weer so maak, broeders en susters. Deur hierdie preek waarin ek u oë weer vir sy hand in ons lewe moet oopmaak, wil Hy weer afhanklike kinders van ons maak.

Ek verkondig u:

ONS LEWE IS IN GOD SE HAND

HIERDIE WETENSKAP IS:

  1. ONBEGRYPLIK VIR 'N MENS
  2. VERKWIKLIK VIR GOD SE KIND
  3. VERSKRIKLIK VIR DIE GODDELOSE

1. Die belydenis van God se voorsienigheid, die geloof dat die HERE sy skepping nog daagliks asof met sy hand onderhou en regeer, sodat niks per toeval nie, maar alles ons uit sy hand toekom; ja dat alle skepsels selfs so in God se hand is dat hulle hul sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie- dié geloofsbelydenis is vir ons "gesonde verstand" maar 'n moeilike saak, gemeente.

Dit roep by ons talle vrae op.

Kan ons vandag nog volhou dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en al daardie tipe dinge uit God se hand kom?

Ons weet mos inmiddels dat dit alles maar net met natuurwette te make het. Natuurwette wat 'n mens slegs met ernstige nadelige gevolge kan skend. As daar byvoorbeeld in die Bybel vertel word dat tydens 'n geveg van Israel teen die Kanaäniete op versoek van Josua die son omtrent 'n volle dag bly stilstaan het, moet ons as moderne mense dan nie sê dat dit natuurlik nie werklik gebeur het nie? Die son staan mos altyd stil? Die aarde draai. Om die son. Maar ook as dit by Josua maar net waarnemingstaal was -ons sê mos ook dat die son opkom en ondergaan- en in werklikheid die aarde 'n volle dag stilgestaan het, is dit vir ons gesonde verstand 'n onmoontlikheid. Watter gevolge moes so'n stilstand van die aarde op die aantrekkingskrag hier oop aarde gehad hê? Sou dit nie 'm gigantiese verplaasing van seewater veroorsaak het nie??

Vroeër het die mense geglo, ons sing dit nog in Psalm 29, dat die donder die stem van die HERE was, en die weerlig sy magsopenbaring.

Maar vandag leer ons kinders al in die skool, ook in die gereformeerde skool, dat 'n donderbui 'n elektrisiteitsverskynsel is, 'n ontlading in die lug van 'n elektriese spanning, terwyl die donderslag 'n lugtrilling is wat deur daardie ontlading veroorsaak word.

Reën en droogte, en as gevolg daarvan vrugbare en onvrugbare jare, rykdom en armoede- die weerburo kan mos vandag presies voorspel of daar reën of sonskynweer kom, aangesien dit alles heeltemal uit natuurlike prosesse van warmte en verdamping verklaarbaar is. Ons hoor dit daagliks op die radio en sien dit op die televisie. Ek weet, die voorspellings kom nie altyd uit nie, maar ook daarvoor is agteraf altyd 'n verklaring te gee.

En kom daar geen reën nie, wel, dan het ons nog boorgatwater, ons kan vanuit ons damme en riviere die bouland natlei....

En is die land nie te vrugbaar nie, dan gebruik ons mis, of kunsmis. Is daar te min sonwarmte, dan verbou ons in broeikasse. Het dus die mens self nie die hele proses in die hand nie?

Rykdom en armoede: kom dit uit God se hand? Of hang dit maar net daarvan af of jy hard werk, suinig kan wees, jou verstand gebruik, betyds risiko's durf neem en so meer?

En ons kan maar dieselfde sê van gesondheid en siekte. Kom dit uit God se hand oor ons? Of kan jy self ook baie daaraan doen: gesond eet en drink, ligaamsbeweging, draf, sport, nie rook nie... Ja, daar is kieme en bakteries en virusse wat in ons liggaam kan binnedring en siekte veroorsaak. Maar dan is daar mos ook medisyne, die moontlikheid van 'n operasie. En die kundige hand van 'n dokter kan jou weer heeltemal gesond maak.

Ons vertel vir ons kinders dat babatjies deur die HERE aan ons gegee word. Maar ons weet baie goed hoedat 'n nuwe menselewe verwek word en groei. Teenswoordig is die dokters al so slim dat hulle in proefbuisies die begin van 'n nuwe mensie kan maak en dit vervolgens in die liggaam van 'n vrou inplant om dit daar verder te laat groei.

Tog sê God se Woord, broeders en susters, dat die HERE wel deeglik in dit alles die hand het. Sodat daar sonder sy wil nog geen haar van my kop kan val nie.

Die HERE laat daagliks die aarde om die son draai. Maar Hy kan daardie proses ook stopsit, sonder enige nadelige gevolg. Hy kan self die skaduwee op 'n sonwyser laat teruggaan in plaas van vooruitgaan, soos Hy vir koning Hiskia gedoen het.

Die HERE hou die hele proses waardeur reën en droogte ontstaan, in sy almagtige hand. En Hy lei dit soos Hy wil. Hy laat ons werk geluk of misluk, gee voorspoed of teëspoed. Hy stuur basille en virusse, Hy seën medisyne of laat hulle glad nie werk nie. Hy bring die ontmoeting van eiertjie en saadsel tot stand sodat daar 'n nuwe mens begin groei.

Hy, Hy, Hy. En sonder Hom gebeur daar niks nie. Soos Paulus in Athene gesê het: "Hy is dit wat aan almal lewe, asem en ales gee. In Hom lewe ons, beweeg ons, en is ons".

Ons kan dit miskien nog wel aanvaar, gemeente. Dat agter al die dinge wat ons inmiddels in die natuur ontdek het, die hand van die HERE skuilgaan. Maar dan kom daar tog dadelik nuwe, nog indringender vrae:

As God dan in alles die hand het- het die mens dan nog wel sy eie verantwoordelikheid? ! Sondag 10 sê, dat geen skepsel, dus ook die mens nie, hom sonder God se wil kan roer of beweeg nie.

Maar is God dan feitlik verantwoordelik vir dit wat ek doen? As ek myself dronk drink en vervolgens in my motor klim en 'n kind doodry: was dit dan God se wil? God se hand?

As ons sonder God niks kan doen nie- waarom het die HERE dan in die paradys die duiwel nie gekeer toe Hy Mannin wou verlei nie? Waarom het Hy nie verhoed dat Mannin en Adam sou sondig nie? As ek selfs geen vrye wil het om te glo nie, maar ook die geloof nog deur God se hand aan my gegee moet word- kan God 'n mens wat nie glo nie dan nog wel iets verkwalik?

Almal indringende, partykeer kwellende vrae, broeders en susters.

Vrae wat al by baie mense, veral jong mense, en mense met 'n groot verstand groot twyfel veroorsaak het. Kan ons nog wel glo wat die Bybel van God sê en wat die kerk in sy belydenisskrifte daarvan saamgevat het??

Ek het op al daardie vrae vanmôre nie die antwoord nie. Want daarop ìs vir die mens eenvoudig geen antwoord nie. Ons sal maar net, soos Dawid in Psalm 139, moet sê: "Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie". Dié nederige, beskeie houding vra die HERE van ons. Die almagtige en oralteenwoordige krag van die HERE in sy skepping en in ons lewe is 'n werklikheid, maar is vir klein mensies ondeurgrondelik. Telkens weer roep die HERE ons in sy Woord tot dié besef op: "Kyk, God is groot en onbegryplik vir ons. Die Almagtige- ons vind Hom nie".

Die hele boek Job is vol daarvan. God laat die duiwel los op Job se lewe. En die een verskrikking na die ander volg. Dit kom uit God se hand. Job se vriende het daarvoor 'n simpele verklaring, maar Job weier om dit te aanvaar. Maar hoekom maak God so met hom? Op die ou end roep Job die HERE Self ter verantwoording. Maar hy kry geen antwoord nie! O ja, die HERE reageer op Job se vertwyfelde en opstandige vrae. Maar Hy leer Job maar net die regte verhouding tussen Hom, die Almagtige, en die klein mensie Job weer raaksien. Hy is die Pottebakker, ons die klei. Hy die Skepper, ons die skepsel. Hy God, ons mens. En Hy mag maak soos Hy wil. ookal verstaan ons met ons beperkte verstand niks daarvan nie. Ons sal dan maar net ons knieë moet buig en die hand op die mond lê. God se doen en late bly te wonderbaar vir ons, ons sal dit nie begryp nie.

Dié nederige houding neem die kerk daarom ook aan in sy belydenis, broeders en susters. Al dadelik in Art. 1 van die Nederlandse Geloofs Belydenis word van die HERE God gesê dat Hy "onbegryplik" is. En daarna lees ons meer as een keer dat daar sake is wat "ons verstand te bowe gaan". 'n Pragtige uitdrukking: my verstand is aan grense gebonde. My begrip kan ver reik, maar daar is 'n grens. Ek kan nie hoër nie. Maar dan weet ik dat dit nie die einde is nie. Want God se weë is hoër as my weë, en God se gedagtes hoër as my gedagtes.

So praat die N.G.B. in Art. 13 ook van God se voorsienigheid: "Ons wil nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na dié dinge wat hy bo die vermoë van die menslike verstand doen nie. Ons eerbiedig juis in alle nederigheid en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is. Ons is tevrede daarmee om te bly by wat Hy aan ons in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry".

Broeders en susters, die HERE vra van ons die geloof van 'n kind.

Maar moet u nie daaroor vererg nie. Moet u nie vervies dat die HERE onbegryplik vir u bly nie. Is dit mos nie die beste bewys dat Hy alleen God is nie? 'n Afgod is nie onbegryplik nie. Hy doen nooit iets bo die vermoë van die menslike verstand nie. Hy kán dit mos nie, want hy is self die produk van die menslike verstand. Maar die HERE is die die produk van ons verstand nie. Ons is juis die produk van sy onmeetlike verstand. En Hy bly God.

Ons slegs mens.

2. Maar is dit nie 'n angswekkende wetenskap nie? Ons is dus uitgelewer aan 'n onbegryplike God sonder Wie ons niks kan doen nie? 'n Wese wat selfs ons gedagtes ken en wat aanhoudend ingryp in ons bestaan?

Ja, maar dis glad nie angsaanjaend nie, broeders en susters. Dit is vir 'n kind van God juis baie verkwiklik. Want daardie onbegryplike Wese is nie 'n ver en grillerige heerser nie.

Hy is die HERE.

So spreek Dawid hom aan in Psalm 139. "HERE, U deurgrond en ken my". En daardie naam HERE is mos die Naam wat aan sy verbónd met ons herinner. Die Naam HERE sê vir ons, dat die almagtige God vir ons, klein en sondige mensies, omgee. En dat Hy die beloftes van lewe en toekoms wat Hy vir sy volk gegee het, nooit vergeet nie, al mag dit partymaal dalk so lyk. Hy sal hulle almal vervul.

Ons ken die HERE vandag mos as die Vader van ons Here Jesus Christus, wat er wille van sy Seun ook my God en my Vader wil wees. En wat my eendag saam met Christus in sy ewige heerlikheid sal opneem.

Maar dan hoef ek vir sy hand in my lewe mos nie bang te wees nie! Sy hand is vir my 'n vaderhand.

En as Hy my ken en deurgrond, selfs my gedagtes kan lees en weet wat of ek wil gaan sê, dan dan hoef ek nie te voel asof 'n geheimsinnige wese iewers in die heelal my ongemerk dophou nie. Maar dan mag ek weet dat liefdevolle vaderoë my vol sorg in die oog hou.

Hy ken my sit en my opstaan, Hy deurvors my gaan en my lê, en Hy is met al my weë goed bekend. Maar dan nie so dat ek vir Hom 'n masjien is waarvan Hy die toetse bedien nie. Nee, ek is sy kind. En Hy gee om vir my. Hy is so betrokke, dat Hy selfs belangstel in die stoel waarop ek sit, die bed waarop ek slaap. Hy gaan saam met my as ek in my motor werk toe gaan, of na my vakansieadres ry. Hy hou my kinders in sy hand as hulle met die fiets skool toe gaan.

En as ek hospitaal toe moet gaan, is Hy ook daar en sy vaderhand lei die hande van die dokters en die verpleegsters, sodat sonder sy toelating en wil geen haar van my kop kan val nie.

Hy bring met sy hand my huweliksmaat na my toe. Of Hy onthou aan my juis 'n lewensmaat, omdat Hy 'n ander plan met my lewe het. Hy kan ook op sy tyd en op sy wyse my man of vrou weer van my af wegvat, omdat Hy as Vader weet dat dit die beste vir my is.

As Hy die son onbarmhartig brand, as 'n donderbui losbars, as daar 'n vrugbare reënbui of 'n verwoestende haelstorm kom, is ek nie aan die geweld van die elemente uitgelewer nie, maar is in dit alles die hand van my hemelse Vader wat ook dit vir my beswil gebruik.

As ek slaag vir my eksamens, maar ook as ek druip, gaan dit nie buiten Vader om nie. Hy het sy wyse bedoelings daarmee.

My werk, my spanning om in my eie besigheid die kop bo water te hou, my bekommernis hoe ek my gesin kos en klere moet bly gee as daar in my finansiële posisie geen verbetering kom nie- Vader is op die hoogte van alles. Hy self het my in hierdie spanningsveld gelei, omdat dit blykbaar goed vir my is.

En as ek siek word, gestremd raak, my liggaamskragte verloor, is dit Vader se hand wat hierdie las op my lewe lê. Maar terselfdertyd hou Hy my des te stewiger vas om my ook hierdeur heen te dra. Hy gee krag aan die medisyne wat ek moet drink of laat my juis al hoe sieker word om langs dié weg my op die ewige lewe voor te berei.

Hy weet wat elkeen van ons benodig. Hy verstaan van ver ons gedagtes. Ek kan partymaal so moeg wees, of deurmekaar, of senuweeagtig en gespanne dat ek nie meer weet hoe om te bid nie. Ek kan die woorde nie meer oor my tong kry nie. Maar beter as wat ek dit self kan vra, weet die HERE ook dan wat die beste vir my is.

So is sy vaderhand 'n lewende werklikheid in die lewe van elkeen van sy kinders. En daar is in die hele wêreldchaos nie een wat aan sy oog ontsnap nie. En Hy bring oor elkeen presies dit, en presies so lank, en presies so hewig as wat vir daardie kind die beste is. Hy is met elkeen van ons afsonderlik vol liefde besig. Niemand se lewe verdwyn in die massa nie, niemand word afgeskeep omdat die HERE te besig is nie. Maar sy hand sluit elkeen van sy kinders persoonlik in van agter en van voor. Hy hou ons almal by die hand en in sy hand.

Nooit ontsnap ons aan sy aandag nie. Sy hand en sy oë is oralteenwoordig in sy hele skepping. Terwyl Hy hier by my in Pretoria is, is Hy ook by my vriende en kennisse aan die Kaap; en by my familie ver weg in Nederland, of Australië. Self die ruimtevaarders wat die aarde so ver agter hulle gelaat het, dat hulle vanaf die maan die aarde kon bekyk, het die HERE nie agter hulle gelaat nie. Hy was daar eerder as hulle!

God se hande was daar voordat hierdie wêreld daar was. En voordat my lewe begin het. Hy self het my lewe laat begin in die skoot van my moeder. Met sorg en liefde het Hy die ontmoeting van eiertjie en saadsel tot stand gebring en aan 'n nuwe lewe begin weef.

En sy hande sal nog daar wees as ek die laaste asem uitblaas en die my siel die onbekende reis na die hemel toe sal maak: word ek na my doodstryd in die hiernamaals wakker: dan is ek nog by U!

So mag 'n kind van God hom veilig weet in God se vaderhande, broeders en susters. Nee, dan verstaan ons nie altyd waarom die HERE nou juis só met ons maak en nie anders nie. God se gedagtes is vir ons nou eenmaal onnavolgbaar en onberekenbaar. Wil ek hulle tel, ek kan net so wel aan die strand gaan sit en probeer agterkom hoeveel sandkorreltjies daar is. Maar ek hoef dit ook nie alles te weet nie. Dis vir my genoeg om te weet dat die HERE van te vore met liefde en ondeurgrondelike wysheid elke bladsy van my lewensboek alreeds volgeskrywe het, sodat Hy nooit deur onverwagse dinge oorrompel word nie. Daar staan heel wat bladsye in daardie boek van my lewe wat nie maklik is nie. Maar dis 'n vaderhand wat daardie boek saamgestel het en nou met bewoënheid elke nuwe bladsy opslaan. En dié boek eindig met 'n heerlike slot!

3. Dit is dus baie verkwiklik om omself veilig in God se vaderhande te mag weet.

Maar dit kán ook verskriklik word!

Dit ís alreeds verskriklik vir die mens wat geen kind van God wil wees nie. Vir die goddeloses, soos Dawid hulle in Psalm 139 noem. "Goddeloos" beteken mos dat iemand "sonder God" leef of wil lewe.

En daartoe reken Dawid ook dié mense wat nog wel oënskynlik vroom die Naam van die HERE in die mond neem, maar in werklikheid die HERE haat, sy hand in hulle lewe nie wil erken en aanvaar nie. Mense -en dit kan ook teoloë wees- wat 'n God van Wie hulle heeltemal afhanklik is, haat en daarom arglistig die waarheid van God se Woord probeer verdraai.

Ook daardie mense, wat hulleself aan die hand van die HERE wil ontworstel, bly in sy hand. Want geen mens kan hom aan die hand van die HERE ontworstel nie. Maar God se hand kan wel iemand wat bewus vir die goddeloosheid kies, aan die goddeloosheid oorgee! Paulus wys dit vir ons baie indringend in die eerste hoofstuk van sy brief aan die Romeine. Dan stoot God se hand so'n eiewyse mens al hoe verder die pad van die goddeloosheid op. Hy moét nou ook maar sonder God lewe. En dit ìs geen lewe! Dan hou God se hand so'n mens op afstand van die lewe in die verbondsgemeenskap met

Hom en dwing hom om al brutaler te sondig. Ja, God se hand laat die duiwel en sy bose geeste, wat hulle ewemin sonder sy toelating en wil kan roer of beweeg, op so'n mens los. En op die ou end stoot God daardie goddelose mens vir ewig weg in die goddeloosheid van die hel.

Dit kan ook vreeslik wees om in die hande van die lewende God te val, gemeente.

Maar so verskriklik kan God se hand ook vir u en my word! Want wie en wat is ons van onsself? Sodra die HERE ons aan onsself oorlaat, word ons ook goddeloos.

Daar is alle rede om met Dawid in Psalm 139 te bid: "Deurgrond my, o God, en ken my hart. Toets my en ken my gedagtes en kyk of daar by my 'n weg is wat op die ewige smart uitloop". Want ag, my hart ìs sleg, en my gedagtes is meestal nie reg nie. Ek kies uit myself dadelik die verkeerde pad. Hou my daarom in u hand, HERE, Vader. Wil veral ook wat dit betref met u voorsienigheid in my lewe aanwesig wees. Gryp met u Heilige Gees in in my denke, suiwer my gedagtes, gee my 'n nuwe hart. "Lei my op die ewige weg!".

Ja, ons is totaal van God se hand afhanklik, gemeente. Sy hand alleen kan my vashou en met Christus in die ewige lewe bring. Sy hand kan my ook laat struikel en val, en my 'n prooi van die bose maak. Dis dié dat Christus vir ons leer bid het: "Lei my nie in versoeking nie, maar verlos my van die bose". Met daardie gebed gee ons onsself sonder reserwe aan God se vaderhande oor. Ons is aan sy liefde en sy verkiesing uitgelewer.

En so ver wil die HERE ons as sy kinders juis hê:

Dat ons ons alleen nog in sy sterke, ja almagtige vaderhande veilig voel. En dat ons die goddeloosheid, die hoogmoedige gedagte dat 'n mens sonder God kan lewe, háát! Sodat die HERE alles in ons almal word.

Ook hierdie preek was 'n middel om dit te bereik.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)