Die kerk bely in die eerste artikel haar geloof in God die Vader

Predikant: 
Ds RH Bremmer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 9
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van Dr. R H Bremmer oor Sondag 9 H. K.

My God en my Vader

Lees: Psalm 121
Teks: Sondag 9 H. K.
Sing: Ps. 33: 1 en 10
na wet Ps. 34: 8
na belydenis Ps. 35: 8
Ps. 121: 1, 2, 3, 4
Ps. 146: 4
Ps. 145: 10, 11, 12

Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

Wat het ons as gemeente van Jesus Christus 'n mooie liturgie, 'n mooie orde van erediens. Realiseer ons dit dat in die erediens alles op mekaar afgestem is? Die evangelie-verkondiging staan sentraal. Vanaf die begin is alles daarop gerig en van daaruit word die einde van die erediens bereik. Die lied wat ons sing, die geloof wat ons bely, en die wet wat ons voorgehou is, bring ons by die verkondiging van die blye boodskap dat Jesus Christus vir ons gely het en opgewek is. Om dan nie van die gebede, offers aan God en barmhartigheidsdiens te vergeet nie.

Alles is op mekaar afgestem. Nog voor die seengroet uitgespreek word en die diens begin, spreek die dienaar die votum, die begin gebed uit. Ons ken dit al uit die kop en tog is dit elke diens weer nuut: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Hierdie votum kom so uit psalm 121: 2, alleen daar staan dit in die enkelvoud van die digter: My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Wat 'n mooie instelling van die kerk uit die tyd van die reformasie om die diens met hierdie bede te begin.

In die kerk is ons as swakke mense byeen wat van nature in sonde ontvang en gebore is. Nou gaan ons God in 'n samekoms van die gemeente ontmoet. Daar moet gepreek en gebid word. Daar moet geluister word en daar word die sakramente bedien. Wie kan ons daar beter tot ons hulp aanroep as Hom wat die hemel en aarde gemaak het? By Hom is ons by die hoogste gesag! Met minder kan ons ook nie doen, om godvrugtig aan 'n erediens deel te neem nie. Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

Gemeente vanmiddag/more gaan dit in sondag 9 oor die Here! In die eerste artikel bely ons Hom soos volg: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde. Saam met die ganse kerk van alle tye bely ons Hom as ons God en Vader. In die wereld van vandag is dit van groot betekenis. In hierdie wereld waar telkens brutaler God vir dood verklaar word, of nie meer as die Almagtige Skepper soos Hy Homself geopenbaar het, erken word nie. Die eerste artikel is fundamenteel, op die eerste woorde van die Bybel word terug gegryp. Dit leer ons die almagtige God ons Vader noem. Genesis een se van Hom: In die begin het God die hemel en die aarde geskape. Oor daar die Skepper en Vader spreek ek vanmiddag/more:

DIE KERK BELY IN DIE EERSTE ARTIKEL HAAR GELOOF IN GOD DIE VADER.

Daarin word uitgespreek:

  1. Haar geloofsrykdom;
  2. Haar geloofsvertroue;
  3. Haar geloofsgrond.

I Het ons raakgesien hoe sorgvuldig vraag 26 geformuleer is? Hier word nie gevra, waarom se jy, of wat verstaan jy van God die Vader nie, maar eenvoudig en tog indringend word gevra wat glo jy met hierdie woorde: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde? Van A tot Z gaan dit om die geloof in God die Vader. En uit sondag 7 weet ons nog dat geloof nie alleen 'n gewisse kennis is nie, maar ook 'n vas vertroue. Dit moet nou sigbaar word.

Katkisante skrik altyd van die lengte van die antwoord en ondervind moeite om dit te leer. Maar ons moet ons nie laat afskrik nie, bekyk ons die antwoord goed, dan sien ons dat die woord Vader sentraal staan. Die ewige Vader van onse Here Jesus Christus, wat terwille van sy Seun Christus my God en my Vader is. Dit is van hierdie sondag die kern. Daar omheen is alles gegroepeer.

Die antwoord het 'n magtig begin, dit ryk onmiddelik tot ver agter die tyd, waarin ons lewe, tot in die ewigheid terug. Direk word van die EWIGE Vader van ons Here Jesus Christus gespreek. Hou dit vas gemeente, want buite Christus om kan ons geen verstandig woord oor God se nie. Dink maar aan Joh. 1: 18: Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, die het Hom verklaar. God die Here is van ewigheid die Vader van ons Here Jesus Christus en ons Heiland is van ewigheid die Seun van God!

Ons belydenis het ons hier voor 'n geweldig en diepsinnig geloofstuk gestel. Dink daar eens oor na, wat dit beteken dat God van ewigheid die Vader van Jesus Christus is en Hy van ewigheid die Seun van God is? Ons raak hier die aandrif van God wat Hy van ewigheid af neem. Van ewigheid bring God sy Seun uit Homself voort en nooit is die proses klaar nie, dit hou ewig aan. Die kerk het in die spreek oor hierdie dinge eerbiedig die woord genereer gebruik. Die Vader genereer van ewigheid die Seun en die Seun word van ewigheid deur die Vader gegenereer. Dit alles is in die woord ewig opgesluit wat die kategismus so nadruklik vir die vaderskap van ons God oor Jesus Christus gebruik.

Moontlik lyk dit ietwat moeilik om te verstaan, dit kan duideliker word as ons op die verskil tussen geboorte en genereer ag gee. Vir 'n geboorte is twee mense, 'n vader en moeder nodig. Sonder die saamkom van man en vrou sal daar geen kind ter wereld kom nie. Die geboorte van 'n mensekind kan op die minuut af geregistreer word. By die generasie van die Seun is dit geheel anders, as Vader bring God die Seun alleen uit Homself voort. Hy het daar glad geen ander by nodig nie. Goddelik en majesteitelik genereer Hy die Seun uit Homself Daar is ook geen moment dat dit voltooi is nie, ewig word die Seun deur die Vader gegenereer.

Deur van ewige Vader van ons Here Jesus Christus te spreek word die goddelike agtergrond van die vleeswording van die Woord getoon. Nou gaan ons belydenis nog 'n stap verder, deur vervolgens van die skepping te spreek. Die ewige Vader van ons Here Jesus Christus het die hemel en die aarde met alles wat daarin is uit niet geskape. Aanbid daarom God gemeente vanwee hierdie magtige wonderwerk, die skepping van hemel en aarde uit niks. God had geen enkel materiaal nodig om die wonderwerk tot stand te bring nie. Soos Hy van ewigheid die Seun uit Homself voortbring, so het Hy die skepping uit niks te voorskyn geroep.

Die skepping was die soewereine daad van onse God. Gen. 1 is een van die magtigste hoofstukke wat ons in die Bybel het. Dit laat ons God in sy heerlikheid en majesteit sien, wat dinge wat nie bestaan nie roep asof hulle bestaan. (Rom. 4: 17) God spreek en dit is daar! God het gese: Laat daar lig wees! en daar was lig. God het gese: Laat daar 'n uitspansel wees tussen die waters. En dit was so. God het gese: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om skeiding te maak tussen dag en nag. En dit was so. God spreek en dit is daar.

Is ons God nie aanbiddelik, in hierdie skeppingswerk nie? Hoor hoe in Openbaring 4: 11 die vierentwintig ouderlinge as verteenwoordigers van heel die kerk, die Here God verheerlik: U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur U wil bestaan hulle en is hulle geskape. Nogmaals: God het die wereld uit niks geskep. Hy was daarby van niks en niemand afhanklik nie.

Gemeente hier staan ons met ons geloof in God die skepper van hemel en aarde vierkant teenoor die ewolusionistiese denke van hierdie tyd. Hierdie twee kan ons nie kombineer nie, soos sommige denkers geprobeer het. Want dan maak ons God van die materie afhanklik wat in die weg van ewolusie tot stand gekom het en waar God dan verder mee sou werk. Of ons laat God die eerste materie skep waarmee Hy Hom dan nie verder bemoei nie. Die materie moet homself dan verder ontwikkel

Gemeente God is 'n God van wonders. Hy het soewerein die hemel en die aarde geskep en daarna ook tot 'n woonplek vir mense toeberei. In Jesaja 45: 18 word dit so mooi gese: Want so se die Here, wat die hemel en die aarde geskape het - Hy is God - wat die aarde geformeer en dit gemaak het - Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word - Ek is die Here, en daar is geen ander nie.

Maar wat van die mens? Ons belydenis spreek hier net oor die hemel en aarde wat geskape is. Jesaja het ons netnou laat sien dat die skepping, om so te se die toneel is waarop die grote werk van God met die mens Hom afspeel. Die wereld is nie daar om woes te wees nie, maar om bewoon te word. In vergelyking met die ganse heelal is ons aarde maar 'n speldekop, maar op die speldekop het God die mens as sy beeld geskape. Op die speldekop het God die groot verlossingswerk tot stand gebring, nadat ons, sy beelddraers, teen Hom in opstand gekom het. Daar wil antwoord 26 van spreek: God as Vader van Jesus Christus hou hierdie wereld nog deur sy raad en voorsienigheid in stand.

Ja, daar is geen mag in die wereld wat hierdie wereld uit die Vaderhand kan loswikkel of uitskeur nie. Partymaal lewe onder ons die vraag wat gaan van hierdie wereld word, wat maak die mens met die skepping en hoe gaan dit in die toekoms word, sal daar vir ons nageslag nog lewensmoontlikheid wees? Gemeente ons bely hier ons geloof in God die Vader, die Almagtige. Dit wil se: dat geen mag ter wereld, geen duiwel en ook geen wereld van godverlaters die regering van God kan breek nie. God is met hierdie wereld op pad na die nuwe hemel en nuwe aarde, dit mag en moet ons met alle mag vashou.

Dit mag ook ons wetenskaplikes bemoedig, hulle wat met geologie en biologoie en met die menswetenskap daagliks moet besig wees. Hulle worstel met probleme en raaisels oor die wording en werking van die heelal. In alles mag hulle weet dat die Bybel geen wetenskapboek is nie, maar wel 'n boek ook vir wetenskapsmense is. Hulle is ook geroep om soos die Skrif dit doen die grootheid en heerlikheid van die skepping, tot eer van die Skepper te laat sien. Want wie kan uit die niks maar net een waterdruppel skep? Alleen God kan dit doen! So moet ons almal in ons werk, in ons daagliks omgaan met die skepping, Hom oor sy wonderwerke prys!

Nou het ons by die hoogtepunt van die lang volsin van antwoord 26 gekom. Ons het bely dat God in die generasie van sy Seun die ewige Vader van Jesus Christus is. Daarna bely ons dat God die wereld geskape het en dit onderhou. Vervolgens gaan ons, ons hart bloot le. Ja ons hart! Ons mag nou sommer se: dat hierdie magtige en heerlike God terwille van sy Seun Christus my God en my Vader is. Ons mag die woorde terwille van sy Seun Christus nie oor die hoof sien, hulle kan in die slot van die sin nie gemis word nie. Want dit is die derde wat ons hier van Vader geopenbaar word. Die eerste was Vader bring van ewigheid die Seun uit Homself voort; die tweede Hy het die hemel en aarde geskape en hou hulle in stand: en nou as derde dat Hy ons om Christus ontwil tot sy kinders aanneem.

Is die evangelie nou goed gehoor wat in die woorde my God en my Vader tot ons kom? Aan Maria Magdalena het Christus gese: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God. Nadat Christus vir Thomas sy lidtekens gewys het se Thomas: My Here en my God. In die woorde my Vader, my Here, my God le 'n kragtige toeeiening van die geloof. In die hospitaal het iemand vir my gese: dominee ek glo wel, dat daar 'n hoere mag is wat ons lei, moenie dink ek is ongelowig nie! Sou daardie hoere mag geloof aan ons kerkmense vreemd wees? As dit daar is weet dan dat ons belydenis van daardie geloof niks wil weet nie, dit se: Om Christus ontwil my God en my Vader!

Daardie woord vir God ons skepper is 'n heerlike woord! Hy die ewige Vader van sy Seun, Hy is die Vader van heel die skepping, Hy is ook ONS Vader. Deur hierdie woord Vader word die Here baie naby aan ons gebring. Onlangs het ek met 'n tagtigjarige man gepraat. Sy Vader was lank al dood, maar die man het met 'n geweldig entoesiasme oor sy vader gepraat. Hy het my 'n ou vergeelde foto laat sien en gese: elke dag dink ek nog aan hom, as kind het ek daagliks met vader deur die bos geloop waarin ons gewoon het. Wanneer dit donker was het ek ook wel eens angstig gevoel, maar die aanraking van die ruwe materiaal van die werkbroek wat vader gedra het, het my veilig laat voel. Nou so gee ons hemelse Vader, deur die Vadernaam, vir ons aan Hom houvas. In die Naam hou ons in die moeilikste situasies nog steeds aan die Here vas.

Moenie vergeet nie, in die Vadernaam is ons gedoop, en Hy het ons belowe om ons tot sy kinders aan te neem. Hoekom is dit vir baie so moeilik om die woorde: my God en my Vader uit te spreek? Johannes het in sy eerste brief hoofstuk 3: 1 vir ons geskrywe: Kyk wat 'n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word!....... Geliefdes nou is ons kinders van God! Die bekende Engelse prediker Spurgeon het gese: Vir baie is dit moeilik om te glo, omdat dit so maklik is. Daarby het hy gese: God het ons in die Bybel 'n blanko tjek gegee. Ons het maar net nodig om ons naam daarop te skryf vir uitbetaling.

As daar geworstel word met die vraag: Is ek wel 'n kind van God, is die beloftes wel vir my bestem? Vergeet dan nooit die vaste grond wat antwoord 26 vir ons gee, naamlik: Om sy Seun Christus ontwil is Hy my God en my Vader. Hoor ons die liefdevolle klank? God het vir ons sy geliefde Seun oor gegee, soos Paulus in Rom 8: 32 se: Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Ja om Christus ontwil!

Uit hierdie geloofsrykdom in die Vadernaam word nou ons vaste geloofsvertroue op Hom gebore In antwoord 26 vloei die een direk uit die ander voort. Op die: my God en my Vader is, volg direk: op wie ek so vertrou dat ek nie twyfel nie of Hy sal my met alles wat vir liggaam en siel nodig is, versorg. In geloof is die ken en die vertrou inmekaar gevleg. Nou ek my Vader as die God wat hemel en aarde geskape het, leer ken het, nou mag ek ook vertrou dat Hy met die skeppingsmag agter my staan.

Ons mag daar selfs nie aan twyfel nie se ons belydenis. Elkeen van ons ken wel eens die momente of tye dat die twyfel ons aanveg. Ons weet hoe die duiwel die kinders van God daarmee van hul sekerheid probeer berowe. Dit het die manne wat sondag 9 geskryf het ook goed geweet. Vandaar die oproep om nie te twyfel, of God die Vader wel vir ons sal sorg nie. Gemeente dis nie gering wat ons van Vader mag verwag. Heel persoonlik se antwoord 26: Hy sal MY met ALLES wat vir liggaam en siel nodig is versorg.

Vandag dink baie dat hierdie "alles" nie meer korrek is nie. Deur allerhande versekeringe kan ons vandag goed vir onsself sorg. By siekte is daar die siekefonds en vir die ou dag het ons 'n annuiteits versekering. Gemeente vergis jou nie, ook die versekerings is middels van Vader waardeur hy ons versorg. Van al daardie moontlikhede mag ons dankbaar aan God, gebruik maak. Gaan daar egter nooit jou vertroue op stel nie. Baie pensioentrekkers het met die huidige inflasie agter gekom dat die pensioen waarop hulle vertrou het te kort skiet.

Die versekeringe hou die gevaar in dat ons agter alles nie meer die sorgende hand van Vader raaksien nie. Die materialisme neem dan oor. Dan dink ons ook dat ons in die sorge van die lewe Vader nie kan betrek nie. Gesinsvorming word dan suiwer 'n saak van, of ons dit kan bekostig om 'n kind te neem. Ek weet om in hierdie tyd kinders te kry en groot te bring is geen geringe taak nie. Dit vra veel meer as vroeer daartoe nodig was. Laat ook in die vrae van gesinsvorming antwoord 26 nie ongebruik nie, maar weet: Ek mag so op Vader vertrou dat ek nie hoef te twyfel nie dat Hy vir die kind wat verwag word en vir die kinders wat daar reeds is sal sorg.

Daar is vaste beloftes waar ons houvas aan het en waaruit ons krag mag put. Dink aan Psalm 23: 1: Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie. Of Psalm 55: 23: Werp jou sorg op die Here en hy sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie. Ons, as christene, het 'n felle stryd teen die algemene siening dat meer as drie kinders per gesin ongewens is, en nie skroom, om doding voor die geboorte van daardie kinders goed te praat nie. Die uitdrukking ongewenste kind is eintlik afskuwelik en wat 'n belasting word op daardie kinders gele.

Ons Heiland het ons, in ons sorge 'n ander pad gewys: Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Moenie julle kwel oor jul lewe - wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggame - wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam meer as die klere nie? Kyk na die voels van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie in skure bymekaar nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte byvoeg? En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek se vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. Lees Matt. 6 daar maar op na. Daar is 'n ou kinderrympie: O ons kinders ons leef as voeltjies so bly, want die Here daarbo sorg vir jou en vir my. Dit mag kinderlik klink en kan dit op volwassenes wel toegepas word? Sien dit dan teen die agtergrond van die woorde van ons Heiland in die bergpredikasie dan het die rympie baie diepte.

Nog het antwoord 26 nie tot 'n end gekom nie. Daar het nog 'n besonder trooswoord vir ons oorgebly: Ek vertrou so op Vader dat ek nie twyfel nie dat Hy ook al die kwaad wat Hy oor my in hierdie jammerdal beskik, my ten beste bestuur! Daar word wel gese dat die kategismus hier 'n swartgallige siening verkondig. Moet die jammerdal nou so nadruklik genoem word? Die belydenis is hier nie pessimisties nie, maar realisties, so is die lewe tog? Moses het al in Psalm 90 gese die uitnemendste van ons jare is moeite en verdriet! Weet ons dan nie van hospitale en Psigiatriese inrigtings nie? Het leed en siekte nog nooit in ons lewe gekom nie? Dit gaan mos met die kinders van God net soos met elkeen, sommer kan 'n ongeneeslike siekte jou tref of geliefde van jou weggeneem word. En daarmee sal ons dan moet leer lewe, antwoord 26 staan dus middein die realiteit van die lewe.

Daarby moet op twee punte gelet word. In die eerste plek bely die kerk hier dat die kwaad wat ons hier tref, nie buite God omgaan nie. Hy staan nie buite die kwaad wat Hy my in hierdie moeitevol lewe toebedeel nie. Vir die moderne mens is dit heel moeilik te verwerk. Hoe kan God nou in die kwaad wees wat ons tref? Hoe het Job kan se: Die Here het gegee, en die Here het geneem: Die Naam van die Here sy geloofd!? Dit het Job alleen kon doen, om dat hy geweet het: die Here is ook in die kwaad wat sy kinders tref. Alleen: Die Here is in die kwaad oor sy kinders anders as in die kwaad oor ongelowiges. Ook dit bely sondag 9 voluit. Hy sal die kwaad wat hy oor my beskik my ten beste bestuur.

Antwoord 26 kry dit van Paulus in Rom. 8: 28 wat skrywe: Ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroepe is. Hoe moeilik is dit vir ons om dit te kan bely. Om te aanvaar dat alle dinge ten goede meewerk. Hoe het die apostel dit kan skrywe? Gemeente dit kon hy, omdat hy die lyding en verdriet in ewigheids perspektief gesien het. Lees maar vers 18 van dieselfde hoofstuk, die apostel van Jesus Christus spreek daar met groot sekerheid: Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.

Dit lyk of Paulus 'n weegskaal hanteer. In die een skaal pak hy al die lyding en verdriet vanaf die sondeval in die paradys tot op die wederkoms van ons Here Jesus Christus. Al die siekte, leed, rou, verdriet, sterwe en dood, weeg nie op teen die heerlikheid in die andere skaal wat aan ons geopenbaar sal word nie. Paulus bedoel die heerlikheid sal plotseling en verrassend van bo oor ons kom en dan sal ons sien hoe wys en mooi die Here alles vir my ten beste bestuur het.

Somtyds mag dit in hierdie lewe al gesien word. Dink aan die geskiedenis van Josef. As vader Jakob gesterf het, kom die broers van Josef, hom vir al die leed wat hulle hom aangedoen het, om vergewing smeek. Hoor die antwoord van Josef: Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van God? Want julle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink, om te doen soos dit vandag is, om 'n groot volk in die lewe te behou. (Gen. 50: 19, 20)

Dis juis dat ons die belofte het; dat God al die kwaad wat Hy ons toedeel, ten goede laat meewerk, dat ons ook in nood die aangesig van Vader in gebed mag soek. Toe Sanherib Jerusalem beleer het en koning Hiskia in groot nood gekom het, toe het Hiskia die lasterlike briewe van Sanherib vir die aangesig van die Here uitgesprei en die Here aangeroep: Here, God van Israel, wat op die gerubs troon, U alleen is die God van al die koninkryke van die aarde, U het die hemel en die aarde gemaak! O Here, neig u oor en luister. Open u oe, Here en kyk; en hoor die woorde van Sanherib, wat hy gestuur het om die lewende God te smaad! Omdat ons 'n beroep op ons hemelse Vader wat hemel en aarde gemaak het kan doen, kan ons Hom ook die swaarste nood voorle. Hy is ons Vader wat oor alle mag tot verlossing beskik.

III Antwoord 26 het die vaderskap van God en die Skeppersalmag van God pragtig in die slotsin gekombineer: Omdat Hy dit kan doen as 'n almagtige God en ook wil doen as 'n getroue Vader. Wat 'n magtig slotakkoord. In die eerste artikel van die apostoliese geloofsbelydenis, bely ons: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde. Nou laat die kategismus vir ons sien dat die almag van God in diens van die vaderskap staan.

Ons weet dat die mense van die twintigste eeu, dit moeilik met die almag van God het. Die teoloe van hierdie tyd se God is swak. God ly met die mense saam. Van die almag van God wil hulle niks meer weet nie. Daarom is dit so belangrik dat die jeug van die kerk wat aanstonds in die moderne samelewing hul plek moet volstaan, hierdie antwoord 26 saamkry, om ter wille van hul lewe daaraan vas te hou. Seuns en dogters jul Vader is die Almagtige die God wat hemel en aarde geskape het!

Daar was 'n predikant wat tot die pos van minister geroep is, en toe gese het: Ek sou nog so graag 'n jaar lang oor die Almag van God wil preek. In my gemeente het ek wonders van daardie almag gesien. By ons God is die wonders nog lank die wereld nie uit nie! As ons hulle maar wil sien. Gemeente in die begin van die preek is opgemerk dat elke samekoms van die gemeente begin, met die votum: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Die Here is ons almagtige Vader. Op Hom mag ons nie alleen sondags nie, maar al die dae van ons lewe steun. Aan God die lof!

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)