Ons glo in God as Vader, Seun en Heilige Gees

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 8
Preek Inhoud: 

Ps. 76: 1, 2
Ps. 76: 6
Ps. 91: 5 - 8
SB. 33: 1, 2
SB. 33: 3
Lees: 1 Joh. 5: 1 - 13
Teks: Sondag 8 H.K.

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanmiddag moet ons nadink oor Sondag 8 van die Heidelbergse Kategismus. Dit gaan oor die Drie-eenheid van God. En dit is vir ons 'n moeilike onderwerp. Want nou moet ons dink en praat oor dinge wat ons verstand ver te bowe gaan. Ons praat oor Hom wat 'n ontoeganklike lig bewoon. Ons dink oor Hom wat die Almagtige is, wie is in staat om die gange van die ewige God te volg?

En tog sal ons oor Hom moet praat. Hy is mos die inhoud van ons geloof! 'Ek glo in God'. 'n Korter belydenis is vir ons nie moontlik nie. Hy, God Self is die kern van ons belydenis.

Natuurlik kan die christelike geloof nie by so 'n kernbelydenis bly staan nie. Die kernbelydenis 'ek glo in God' moet in sy veelkleurige inhoud nader ontvou word.

Dit is ook wat in die Kategismus gebeur.

Die inhoud van die geloof word in Sondag 7 so omskrywe: Wat is vir 'n christen nodig om te glo?

Antwoord: Alles wat ons in die evangelie belowe word.

En nou kry ons die konsentrasie.

Die inhoud van die geloof word saamgevat in 12 artikels.

En daarna word die 12 artikels verdeel in 3 dele. Antwoord 24.

Maar in dit alles gaan dit om die belydenis van die ewige God.

Sien u wat gebeur in Sondag 7 en 8. Al die ligstrale van die geloof word saamgebondel totdat hulle saamval in een brandpunt.

Die belydenis van die Ene waaragtige en ewige God.

Verstaan u, in die belydenis van die Ene God het ons die kern van ons belyde. Die brandpunt van die geloof.

En daarna laat die Kategismus die ene ligstraal weer deur 'n prisma val, waarby die helder wit lig weer in talle skitterende kleure uiteen val.

Want in al die Sondae daarna wat hierdie belydenis verklaar, sien ons wat die belydenis van die Enige God vir ons beteken.

Die eerste brief van Johannes verklaar watter gevolge die belydenis van God vir ons het, naamlik ons ontvang die ewige lewe.

Wel, daarop loop ook die belydenis van die 12 artikels uit. Ons bely die ewige lewe. Die ewige lewe uit die lewende God!

Hy wat in die Drie-enige God glo, hy het die lewe, en hy wat in Hom nie glo nie, het die ewige lewe nie.

Dit is wat ons vanmiddag wil hoor in die evangelieverkondiging uit Sondag 8.

ONS GLO IN GOD AS VADER, SEUN EN HEILIGE GEES.

  1. Hy leef drie-enig.
  2. Hy troos drievoudig.

1. Hy leef drie-enig.

Dit klink so baie eenvoudig, broeders en susters, hierdie antwoord van die Kategismus op die vraag hoekom daar gepraat word van die Vader die Seun en die Heilige Gees.

Omdat God Hom so in Sy Woord geopenbaar het, dat die drie onderskeie Persone die enige, waaragtige en ewige God is.

Die Bybel self sê mos so, dus wat sal ons nog daar teen inbring?

Maar laat ons nie vergeet dat rondom hierdie belydenis van die Drie-enige God, 'n stryd van baie eeue gevoer is.

Eintlik het die stryd al begin met die Jodedom.

Die Jode, hulle het wel dieselfde Ou-Testament gehad, maar hulle wou tog nie dieselfde God bely nie.

Ons sou kon vra: Waar lê die breekpunt van die joodse geloof en die christelike geloof?

Die antwoord is nie so moeilik nie. Die breekpunt lê daar waar mense soos volg Jesus Christus bely: U is die Seun van die Lewende God! Die eerste christelike belydenis is: Simon Petrus.

Die Here Jesus se daarvan: Dit is nie vlees en bloed wat jou dit laat bely nie, dit het jy nie self bedink nie, Petrus. Maar My Vader in die hemel het dit vir jou geopenbaar!

Hier is die begin van die goddelike openbaring van die drie-eenheid.

In elk geval die begin van 'n menslike belydenis daarvan.

Die lewende God het 'n Seun. 'n Seun van gelyke goddelikheid as Hyself.

Dit is ook hierdie belydenis wat vir die Joodse Raad voldoende sal wees om Jesus tot die kruis te veroordeel. As Hy Homself die Seun van God noem, het Hy Hom met God gelykgestel.

Dan roep die Jode uit: Wat het ons nog getuienis nodig? Lukas 22: 71.

Nou moet Hy hang. Hoor U daarin die ergernis van die Jode oor die belydenis van die Drie-enige God?

Dieselfde ergernis kry ons in die Pinksterverhaal. As die Heilige Gees uitgestort word oor die manne uit Galilea, dan bely hulle: Hierdie Gees is die Gees van God.

En weer is dit die Jode vir wie dit 'n ergerlike belydenis is.

Die belydenis van die Drie-enige God!

Met daardie belydenis maak die Kerk hom vry van die Jodedom.

Maar nie slegs teenoor die Jode wat maar net van 'n Ewige God wou weet, het die Kerk hom sterk gemaak met die belydenis van die Drie-Enige nie. Ook in die konfrontasie met die heidendom, met sy gode sonder tal het die Kerk pal gestaan met die belydenis: Daar is maar een enig Goddelike wese.

Maar dan nog is die stryd nie klaar nie. Wanneer die Kerk na 'n aantal eeue sy invloed sterk verbrei het oor heel die samelewing, dan ontstaan 'n nuwe probleem. Dan word naamlik geprobeer om die leer van die Kerk oor God in te pas in 'n filosofiese sisteem.

En weer is die botsing fel.

Met die geloof in die Drie-enige God, is naamlik die kern van die evangelie in geding.

Dat Vader, Seun en Heilige Gees ewig saamlewe as die ewige en waaragtige God, dit is vir 'n logiese redenering onaanvaarbaar.

Dit gaan ver uit bo menslike dinkkrag.

Ons kan God in Sy diepste wese nie deurgrond nie.

En ons moet dit ook nie wil probeer nie. En as ons tog probeer dan verloor ons God as die ewig lewende, wat lewe in Homself het.

Omdat die ewige lewe self in geding is by hierdie belydenis van die Drie-eenheid, daarom mag die kerk hierdie stryd beslis nie verloor nie.

Omdat die ewige lewe self hier in geding is, daarom is die toon van die belydenis van Atanasius ook so baie skerp: die een wat hierdie leer nie geheel en al ongeskonde bewaar nie, hy sal ongetwyfeld ewiglik verlore gaan.

Dus dit gaan hier in die belydenis van Sondag 8 om groot dinge. Hier gaan die weë uitmekaar: Jode en Grieke en alle moderne loënaars van God se Drie-eenheid.

Dus so staan die Kerk in die wêreld met 'n Godsleer wat maklik bespot of belaglik gemaak kan word, maar waarvan ons tog wil vashou, omdat ons hier by die hart van die evangelie staan. Want in die belydenis van die Drie-enige God staan sentraal dat ons 'n Lewende God het.

Onse God is nie 'n dooie God van hout of steen soos by die primitiewe heidene nie.

Onse God is ook nie 'n onbeweeglike Opperwese soos by die ontwikkelde heidene nie.

Onse God is ook nie die lydende God wat ons enkel in 'n lydende naaste kan ontmoet soos in die moderne teologie nie.

Maar onse God is die Lewende God.

Die God wat lewe en beweging het in Homself!

Die drie Persone in God het 'n lewende verhouding tot mekaar.

Ons kan sê: God is vol van lewe. Die Vader lewe met die Seun. Die Seun ken Sy Vader, en die Heilige Gees is die Gees van die Vader en die Seun.

Die bekende teks waarmee Johannes sy evangelieverhaal begin, vertel iets daarvan. In die begin was die Woord en die Woord was by God en die Woord was God. Die Woord was by God.

God lewe nie alleen as 'n enkeling in in 'n volstrekte selfgenoegsaamheid nie. Nee, Hy lewe van ewigheid saam met Sy Seun en die Gees.

In die lewende relasie tussen die drie Persone in die ene God, is die lewe. Daarin is Hy die lewende God.

Wel, van daardie lewe wat in God is, wil God nou uitdeel.

Met daardie lewe kom Hy na mense toe. Mense mag deel in die volheid van lewe wat daar in God is.

En hoe doen God dit? Wel, daarvan praat Johannes in die Skrifgedeelte wat ons gelees het: God het ons die ewige lewe gegee en die lewe is in Sy Seun.

Die ewige Vader van die Seun wou Vader van mense word.

Aan daardie wil van God om ook Vader van mense te word, dank ons die Skepping. Daar moes 'n aarde kom met mense daarop, omdat God in Sy liefde die lewe wat Hy in Hom het, aan mense wou uitdeel.

Maar daardie strewe van die Vader het vasgeloop op die sonde en die ongeloof van mense. Hulle wou die lewe hê, maar nie 'n gegewe lewe nie, nie daardie lewe wat die Vader vir hulle bedoel het, toe hy hulle geskape het nie.

Hulle het gekies vir 'n lewe los van die Vader. En dit het 'n groot mislukking geword. Want buite die Vader was enkel die dood.

Maar nog het die Vader Sy plan nie laat vaar nie. Hy wou Sy Skepping nie laat misluk nie, en toe het Hy Sy Seun gestuur met die volmag om van daardie lewe uit te deel.

As 'n laaste geleentheid vir mense om daardie lewe te ontvang. Johannes sê dit baie skerp: God het vir ons ewige lewe gegee en die lewe is in Sy Seun.

Wie die Seun het, het die lewe: wie die Seun van God nie het nie, het die lewe nie.

Skerper as dit kan dit nie gestel word nie: Wie die Seun van God nie het nie, het die lewe nie!

Wie nie deur die Seun, wie nie uit die hand van Jesus Chrsitus die lewe wil ontvang nie, hy is al dood. Hy val vir altyd buite die lewe.

Dit is mos die wonder van die Kersfees. Die Seun van God het na die wêreld gekom om lig te bring in die duisternis. Om die lewe te bring vir hulle wat in die dood lê.

So lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy eniggebore Seun gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Maar daardie gebeure van Kersfees is nog nie die laaste nie. Immers, toe die Seun Sy werk op die aarde voltooi en na die hemel teruggegaan het, het God 'n tweede Persoon van Sy Goddelike wese gestuur. Opnuut het God Self na ons wêreld toegekom, maar nou in die Heilige Gees. En so het dit Pinkster geword.

Die Gees sal die werk van die Seun kompleet maak.

Hy gaan op Sy beurt mense deelgenoot maak van die gemeenskap met God. Hy sal die geskiedenis voltooi, want hierdie evangelie dat God lewe aan die mense wil gee, moet die wêreld in.

En dan begin die geskiedenis van die kerk wat sendingsgeskiedenis is. Die Gees laat oral die Woord verkondig.

Die Gees bring mense tot geloof in die boodskap van die lewe.

En so beweeg kerkgeskiedenis en wêreldgeskiedenis vorentoe met as einddoel: die volledige heiliging van die lewe tot eer van God.

So sien ons dat die volheid van lewe wat aanvanklik net in God Self is, uitgedeel word aan mense: Dit gebeur in die werk van die Drie-enige God. Die werk van Skepping, Verlossing en Heiligmaking. En nou kan ook duidelik word hoekom na die voltooiing van die geskiedenis, die ewige lewe wag.

God het begin uit ewige lewe in God Self. Maar dan openbaar Hy Hom as die God van ons Skepping, ons Verlossing en ons heiligmaking, ons ewige lewe.

Daarvoor sluit die Apostoliese Geloofsbelydenis dan ook af: Ek glo 'n ewige lewe. Dan is die sirkel weer gesluit.

Dit gaan van ewige lewe wat in God is, tot ewige lewe waarin ook mense deel.

Die God wat lewe het in Homself, gee aan almal wat in Hom glo. Ewige Lewe.

Daarom: glo in die Drie-enige God, is glo in die ewige lewe wat net Hy kan gee.

2. Hy troos drievoudig.

Ons het nou gesien hoe die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, saam werk aan die één ding: die gawe van die ewige lewe vir mense. Vir ons. Dit gaan mos oor ons Skepping, ons Verlossing en ons Heiligmaking. En daardie feit is vir ons baie troosvol.

Ons kan dalk op die eerste oogopslag meen: watter troos is daar vir ons in Sondag 8. Dit bied maar net 'n indeling van die 12 artikels. Maar dan maak ons 'n vergissing.

Die troos van Sondag 1, ons troos in lewe en sterwe, is volop aanwesig in Sondag 8.

En omgekeerd dieselfde. Sondag 1 ontleen sy krag aan die belydenis van die Drie-enige God.

Luister maar: My enigste troos is, dat ek toebehoort aan Jesus Christus die Seun van God. Sonder die wil van My hemelse Vader sal geen haar van my hoof kan val nie. Die Heilige Gees maak my bereid om verder vir Hom te lewe.

Vader, Seun en Heilige Gees. Juis in Sondag 1 sien ons wat die krag van die Drie-enige God tot stand bring. Want hier werk hulle aldrie saam om my te troos.

Ek is gekoop deur die Seun, dit is my verlossing, maar die Vader die Skepper en regeerder van my lewe, hy sorg dat in my lewe die verlossing nie verlore gaan nie. Die goeie, ja selfs die kwade wat Hy my toedeel, moet vir my ten goede saamwerk.

Dit beteken, dat in my lewe, onder watter omstandighede ook al, my Vader besig is om my te bewaar by die verlossing deur die Seun. Hy is besig om my die lewe te gee.

En tenslotte ook die Gees werk saam in die plan om my te verlos, om my deel te gee aan die ewige lewe, wat God werk.

Sondag 1 sê dit so: Die Heilige Gees verseker my van die ewige lewe.

Sien u, ook hier staan die ewige lewe wat God wil uitdeel sentraal.

Die Gees sorg daarvoor dat die belofte wat God aan my doen, ek dit ook in geloof sal aanvaar, en so werklik deel sal hê aan daardie lewe.

So verrig Vader, Seun en Heilige Gees hul spanwerk vir ons verlossing.

Daardie werk van God kan nie misluk nie, want vanaf die allereerste begin is alles daarop gerig dat mense deel kry aan die ewige lewe wat in God is.

Is dit nie 'n magtige vertroosting nie, broeders en susters, in al die probleme wat ons in die lewe maar kan hê of kan maak?

Is dit nie iets om jou eindeloos oor te verbly dat die Drie-enige God Hom gee vir ons verlossing nie?

Dit het al begin by ons doop.

Toe het Hy reeds Sy grote en ondeurgrondelike Naam as Drie-enige God, verbind aan ons naam.

Jou naam is daar in een asem genoem met die Naam van Vader, Seun en Heilige Gees. Met die Naam van die Lewende God, wat van Sy lewe wil uitdeel.

Woorde van lewe klink daar by 'n doopvont.

Dit is tog kenlik 'n wonder dat dit kan. En dat dit mag. En dat dit steeds weer gebeur.

Hoe pragtig sê die Doopsformulier: As ons gedoop word in die Naam van die Vader, betuig God die Vader vir ons dat Hy ons as Sy kinders en erfgename aanvaar.

Kinders van 'n ewige Vader word ons.

En dan erfgename van die lewe van die Vader.

As ons gedoop word in die Naam van die Seun, verseël die Seun vir ons dat Hy ons was in Sy bloed en reinig van ons sondes. Hy maak ons één met Hom in dood en opstanding.

En met die Seun in Sy opstanding! Daar is ewige lewe in die Seun. Lewe vir almal wat in die Seun ingelyf is.

As ons gedoop word in die Naam van die Heilige Gees, verseker die Heilige Gees vir ons dat Hy ons tot Lewende lidmate van Christus maak, met as einddoel dat ons volkome rein in die ewige lewe 'n plek ontvang temidde van die uitverkorenes.

Dat is die einddoel. Daarnatoe is ons op pad. Die ewige lewe.

Daarnatoe word ons saamgeneem. Deur Vader, Seun en Heilige Gees.

Broeders en susters, seuns en dogters, watter kostelike troos is dit om te weet: jy is gedoop in die Naam van die Drie-enige God!

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)