Ons geloof in God die Vader, God die seun, en God die Heilige Gees

Predikant: 
Ds RH Bremmer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 8
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van Dr. R H Bremmer oor Sondag 8 H. K.

Ek glo in God die Vader, God die Seun, en God die Heilige Gees

Lees: 1 Joh. 5
Teks: Sondag 8 H. K.
Sing: Ps 150: 2
na wet Ps 150: 1 en 3
na belydenis Ps 18: 20
Sb 35: 1, 2, 3
Ps 50: 7
Ps 145: 1, 11, 12

Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

Onderons sal daar wel mense wees wat met Jehovasgetuies gepraat het. Veral teenoor onkundiges is hulle lief daarvoor om oor die Drieeenheid te praat. Hoe kan nou een drie wees en drie een wees vra hulle dan. Jy kan mos tel. So probeer hulle mense op 'n dwaalspoor te bring.

Jesus God? Daar is geen sprake van nie, Hy is die uitvoerder van die wil van God, maar nie self God nie, so se hulle. Soos 'n bouinspekteur daarop toesien dat volgens die voorskrif van die argitek gebou word, so sien Jesus daarop toe dat die wil van God nagekom word.

Hoe kan God verneder word vra hulle verder want volgens die christelike geloof is Jesus verneder. Die Heilige Gees, dis geen persoon nie, dis hoogstens 'n krag of mag, maar geen God nie. So bestry hulle die katolieke christelike geloof, in God as Vader, Seun en Heilige Gees.

Die Jehovasgetuies is nie die enigstes wat van die geloof in Vader, Seun en Heilige Gees niks wil weet nie. Die ortodokse Jode verwerp ook met krag die drieeenheid van God. Hulle beroep hulle op Deut. 6: 4: "Hoor, Israel, die Here onse God is 'n enige Here". Moses bely hier met krag dat die Here, teenoor die veel godedom van die heidene die enigste God is. "Hoor Israel" in die hebreeus: "Sjemang Jisjraeel!" wat vir die Jode hul geloofsbelydenis geword het. Dit is op klein stukkies papier geskrywe wat die Jode in klein kokertjies aan hulle deurposte vasmaak, ook in klein dosies wat aan hulle gebedsrieme, die tefilliem, bevestig is. Hierdie gebedsrieme het hulle om hul hoof of arm gewikkel as hulle in die Sinagoge bid.

Inderdaad: Die Here onse God is 'n enige Here. Saam met Jode is dit ons belydenis! Is ons oeroue christelike belydenis dat ons God ken as Vader Seun en Heilige Gees daar dan nie mee in stryd nie? Geen sprake van nie, die christelike kerk bely met alle krag: die eenheid en enigheid van God. Alleen: die Here wat een is, kom in die Nuwe-Testament as Vader Seun en Heilige Gees na ons toe. Dis wat ons in sondag 8 van die kategismus bely. Voordat die twaalfartikels bespreek word laat die kategismus sien dat al die twaalf artikels van God die Vader, van God die Seun en van God die Heilige Gees spreek. So leer ons Hom ken, aanbid en vertrou. Vanmore/middag spreek ons oor:

ONS GELOOF IN GOD DIE VADER, GOD DIE SEUN, EN GOD DIE HEILIGE GEES.

  1. So ken ons Hom;
  2. So bely ons Hom;
  3. So vertrou ons Hom.

I Broeders en susters, een van die groot moeites van die moderne mens is om in God te glo. Baie vra: is dit moontlik om God te ken? Die agnostisisme, die idee dat die mens van die dinge buitekant die sigbare en tasbare wereld geen weet kan he nie, is in ons tyd wyd versprei. Ons kan God mos nie verifieer nie se hulle dan. Reen kan 'n mens voel, die weerlig kan gesien word en storm kan gevoel en gehoor word, maar God, hoe kan jy bewys dat God bestaan? Is dit moontlik om 'n ongelowige te oortuig dat God bestaan? Daar is nog geen enkele proef of eksperiment wat ooit het kan aantoon dat God bestaan nie.

Tog is daar al die eeue deur teoloe gewees wat gedink het hulle kan bewys van die bestaan van God lewer. Veral die roomskatolieke teoloe was daar sterk in. Hulle se alle dinge het 'n oorsaak, Dat jy bestaan vind sy oorsaak daarin dat jy 'n Vader en moeder het. Die boom buitekant het daar gegroei omdat hy eenmaal daar geplant is. So kan ons deur gaan, die een vind sy oorsaak in die ander en as mens so terugredeneer sal mens by die eerste oorsaak uitkom, wat self nie veroorsaak word nie. 'n Ander bewys is: alle dinge het 'n doel, die een doel is op die ander gerig en uiteindelik kom jy by die hoogste doel in hierdie wereld uit. Die eerste oorsaak en die hoogste doel word dan God genoem. Die teoloe benader dit dan nog van 'n anderkant. Dan gaan hulle daarvan uit dat deug beloon en kwaad gestraf word. In hierdie wereld gebeur dit nie altyd nie. Tog moet elke deug beloon en elke kwaad bestraf word, daarom moet daar 'n hoer wese wees. God wat in die hiernamaals uiteindelik deug beloon en kwaad straf. Met hierdie subtiele redeneringe probeer hulle bewys dat God bestaan.

Gemeente hierdie soort redeneringe het nog nooit iemand tot werklik geloof in God gebring nie. Die ewolusionis vra dan hoe weet jy dat agter alle dinge 'n eerste oorsaak le wat self geen oorsaak het nie? Die materie is ewig, het altyd bestaan! Het alle dinge 'n doel? Ek sien daar niks van nie, die wereld is een groot chaos. Wat die beloning en bestraffing na hierdie lewe aangaan wie kan dit bewys. Nee op grond van menslike redenerings is nog nooit iemand tot die geloof in die drieenige God gebring nie.

Geloof kan nie op 'n redenering rus nie. Daarom begin die eerste van die twaalf artikels ook met: "Ek glo in God" Dit begin nie met ek glo aan God nie, ook nie ek glo dat daar 'n God bestaan nie. Hy wat in God glo, maak 'n sprong. Hy stap uit die wereld waar mens dinge kan sien en tas in 'n totaal ander wereld van die geloof oor. Hy het God in sy Woord oor Hom self hoor spreek, oor sy heerlik God wees, oor sy God die Vader, Seun en Heilige Gees wees. Daaraan skenk hy geloof. Ons geloof rus in die eie spreke van God oor Homself. Want ons het in Hebr. 11: 1 gelees dat die geloof die bewys is van die dinge wat ons nie sien nie. Hy wat in God glo is soos Moses wat volgehou het soos iemand wat die Onsienlike sien!

Gelovende tree ons die wereld van God, van sy Woord en beloftes binne, omdat daar die vaste grond vir ons bestaan le. Dis dinge wat vir die menslike verstand te hoog en wonderbaar is, maar daarom is hulle wel reeel! In sy Woord staan God daar agter. Glo is van die vertroue in God een ondeelbare bewys. Dit wil nog nie se dat ons die vertand daarby moet uitskakel nie. Oor die geloof in God kan ons nadink en ons kan dit ook uitle. Kyk hoe voortreflik die kategismus dit doen. Heel simpel word gevra hoe die twaalf artikels ingedeel word.

Let daarop hoe die kategismus hier vra: Nie hoe deel jy die artikels in nie, dit gaan hier nie oor 'n konstruksie wat ons aan die artikels ople nie. Nee, hoe word hulle ingedeel. Die verdelings-struktuur is so uit die artikels self af te lees, so eenvoudig selfs 'n kind kan dit raaksien. Die eerste: Ek glo in God die Vader, die tweede en in Jesus Christus sy eniggebore Seun en die laaste Ek glo in die Heilige Gees. Die pragtige struktuur van ons heilig, algemeen en christelik geloof is volgens die drieeenheid van God opgebou! As bely word: Ek glo in God, word tegelyk gese: Ek glo in God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees. Dis die groei van ons belydenis binne die kerk wat vir hierdie opbou gesorg het.

'n Heiden wat in die eerste eeue hom tot Christus bekeer het, wou direk gedoop word, dink maar aan die geskiedenis van Filippus en die Etiopier. Terwyl Filippus besig was om hom die evangelie te verkondig se hy: Hier is water wat verhinder dat ek gedoop word? Toe se Filippus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. Die Etiopier antwoord toe: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is. (Hand. 8: 36, 37) In daardie belydenis is God die Vader en God die Seun al opgeneem. So is korte tyd later op die doopvraag: wat glo jy? gentwoord: Ek glo in God as my Vader en in Jesus Christus, die Seun van God en in die Heilige Gees. Uit hierdie begin het stadig die twaalf artikels gegroei.

Ons kategismus formuleer die indeling nog mooier, naamlik: God die Vader en ONS skepping, God die Seun en ONS verlossing en God die Heilige Gees en ONS heiligmaking. Daar staan nie God die Vader en DIE skepping nie. Nee God die Vader en ONS skepping. In teologiese boeke word die opskrif: God en die skepping, Christus en die verlossing wel gebruik, maar hier is geen teoloog aan die woord, wat wetenskaplik en teoreties die leer oor die skepping behandel nie. Dis die gewone kerklid wat hier spreek! Ek en u is dit wat hier ons geloof bely! Om so te se is hier jan en alleman in die kerk aan die woord.

Teoloe as Ursinus en Olevianus, wat die kategismus opgestel het, het hulself hier langs hul broeders en susters in die kerk geplaas. Langs klerke en drywers, huisvroue en studente, seuns, dogters en bejaardes. Die hele gemeente van Christus is hier aan die woord. Die Christene van die eerste uur en ons die werkers van die elfde uur, bely hier te glo in die God wat ons geskep het, wat in Jesus Christus ons verlos, en deur sy Gees tot sy diens heilig en daarom onse God is. Wat 'n heerlik woord die "ons" gemeente. Daar word nie subtiel oor 'n eerste oorsaak van alle dinge of 'n laaste doel gepraat nie.

As ons hier ons geloof in God die Vader bely, spreek ons opgewek en bly, oor God ons Vader die Almagtige wat ons geskape het. Wat heel die wereld geskape het. Die vlaamse digter Guido Gezelle het gesing: "My spreek die blom 'n tale, my is het kruid beleefd, my spreekt het alte male wat God geschapen heeft" Met hierdie belydenis staan ons midde in die wereld soos die geloof dit sien. Om so te se die towerstaf van die geloof het ons geraak en die wereld word nou heeltemal anders gesien.

Aanstonds sien ons buitekant die son skyn en vanaand die sterre, dan is dit die heerlikheid van ons Skepper wat ons raaksien. Ons sing met Psalm 139: "Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaar geweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in U boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is U gedagtes vir my, o God. " Die hele skepping is die werk van God.

Die aarde is nie in die loop van miljoene jare uit 'n oersel ontwikkel nie, soos die ewolusionisme beweer nie. Dis die majesteitelike werk van Vader. Hy sorg vir my, Hy is my almagtige Vader. As ons Vader agter die lewe sien dan sal ons in die geloof ook anders teenoor vraagstukke soos aborsie en eutanasie staan. God het die aarde nie geskep om leeg te wees nie, maar om bewoon te word, se Jesaja 45: 18. en Ek is die Here; daar is geen ander nie. Die aarde is van die Here daarom moet ons suinig met sy skepping wees. Wat het die mens in sy jag na welvaart die aarde al verniel en hoe skadelik word met die natuur omgegaan.

Dan bely ons dat ons in God die Seun glo en ons verlossing. Wat heerlik is dit om so kragtig in geloof oor God die Seun en ons verlossing te kan spreek. Hier is geen sprake van aarseling of twyfel aan verlossing nie. Wie in God die Seun glo het deel aan die verlossing. Immers God die Seun is geen onbekende nie, maar Jesus Christus ons Heiland. Hy is van die Heilige Gees ontvang en uit die maagd Maria gebore. Vir my het Hy in die vlees gekom, in Bethlehem in 'n krip gele. Vir my het Hy aan die kruis op Golgota gehang, graf en duiwel oorwin en uit die dood opgestaan. Hy is die man deur wie God die wereld sal oordeel en wat aan die kom is.

Nou bely ons ook nog dat God, God die Heilige Gees is, die God van ons heiligmaking. Die woord heiligmaking mag ons moontlik plegstatig in die ore klink, tog is die woord veel omvattend. Die woord raak nie alleen ons persoonlike lewe nie, maar die hele skepping. Ons is geneig om by die woord heiligmaking net aan die werk van die Heilige Gees in en aan ons hart te dink, maar die heiligmakende werk van die Gees omvat die ganse skepping.

Die kategismus dink ook aan die ganse kerk, Hy versamel hulle wat oor die hele wereld en deur alle tye die kerk van God vorm. Deur die Woord bring Hy uit alle tale, volke en geslagte die heilige algemene christelike kerk byeen. Tot uiteindelik die skare wat niemand kan tel nie versamel sal wees. Rassisme en diskriminasie is totaal met die kerkvergaderende werk van die Heilige Gees in stryd. Want hy bring ons almal swart blank bruin geel en rooi in die gemeenskap van die heiliges in die Hoof Christus, bymekaar. Oor die hele wereld is dit die Heilige Gees wat die hegte band van broederskap smee.

Die Heilige Gees maak ons deelgenoot in die vergewing van die sondes. In die bloed van Christus word ons deur Hom rein gewas. Dit is ook deel van die heerlike werk van God die Heilige Gees en ons heiligmaking. En in die volheid van die tyd dan kom die magtige asem van die Heilige Gees oor die aarde sweef en wek alle dooies, uit die stof van die aarde op. Almal sal dan die lof van God moet verkondig. Die kinders van God sal dan die ewige lewe in 'n nuwe hemel en aarde ontvang. Oor die heerlike werk van die Heilige Gees raak 'n mens nooit uitgedink nie.

II Wat nou van die drieeenheid in die kategismus word die woord nie genoem nie, sterker nog die woord kom ook in die Bybel glad nie voor nie. Het die Jehovagetuies dan tog gelyk, dat drie geen een en een geen drie kan wees nie? Of die Jode as hulle teenoor die christelike leer die "Sjemang Jisjraeel" uit Deut. 6 stel? Die opstellers van die kategismus het hierdie vraag belangrik genoeg geag, om hom aan die leerling in die mond te le. Met spanning vra hy: Aangesien daar maar 'n enige Goddelike wese is, waarom noem jy die Vader, die Seun en die Heilige Gees? Uitgereken word by hierdie vraag ook na Deut. 6 verwys! Hoe sal die leermeester hom uit hierdie moeilikheid uitred?

Gemeente let nou op antwoord 25. Kragtig en oortuigend word die twyfel dat die drieeenheid aan die eenheid van God afbreuk doen uitgewis: Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het, dat die drie onderskeie Persone die enige, waaragtige en ewige God is. Die antwoord oortuig, want deur 'n direkte beroep op die woord van God is daar geen teenspraak meer moontlik nie. Meestal volstaan die kategismus deur verwysing na Skrifplase, maar hier en by die leer oor die sakramente word reguit 'n beroep op die Skrif gedoen. Asof die kategismus wil se: maak die Bybel maar oop van Genesis 1 tot Openbaring 22 kom God as drie persone na ons toe, naamlik Vader Seun en Heilige Gees. As dit nodig is dan moet die kerk, dan moet ons ook so durf spreek. Kragtig die Skrif bely wat alle teenspraak monddood maak. Daar is baie op die spel, soos die geloofsbelydenis van Athanasius dit vir ons leer.

Met Athanasius die kerkvader uit die vierde eeu bely die kerk: Elkeen wat wil salig word, vir hom is voor alle dinge nodig dat hy die algemene geloof moet hou; en die een wat dit nie geheel, en al en ongeskonde bewaar nie, hy sal ongetwyfeld ewiglik verlore gaan. Die algemene geloof dan is dit: Dat ons die enige God in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid eer. So het die ou kerk dit bely en die kerk van die reformasie het hom in die kategismus daarby aangesluit: So in drie persone het God Homself in sy Woord geopenbaar!

Is daar dan Skrifgedeeltes wat onomwonde met duidelike woorde van die drieheid in die eenheid spreek? Vir seker gemeente en ek sal ook 'n aantal noem. Matteus 28: 19; Kort voor die hemelvaart van ons Heiland, het die dissipels na Galilea gegaan na die berg waar Jesus hulle bestel het. Daar gee Jesus hulle sy laaste opdragte. Koninklik spreek hy hulle aan: " Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het". Kan dit met nog meer oortuiging gese word?

Duidelik word hier aangesluit by Matteus 3: 16 en 17 toe Jesus deur Johannes in die Jordaan gedoop is. Daar by die begin van die optrede in die openbaar het God die Vader Hom as sy Seun toegespreek. In die grondteks staan daar so iets as "opgelet" wat in ons Afrikaanse Bybelvertalings glad nie weer gegee word nie. Matteus gebruik die woord as daar iets wonderliks gebeur. Opgelet; die hemel het oopgegaan, en hy het die Gees van God soos 'n duif sien neerdaal en op Hom kom. Opgelet; 'n stem uit die hemel het gese: Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het. Direk in die begin van sy evangelie het Matteus al laat sien dat Vader Seun en Heilige Gees bymekaar behoort. So openbaar God Homself!

Nog 'n bewysplek is 2 Kor. 13: 13 By die afsluiting van sy tweede brief aan die gemeente bid hy hulle die seen van God toe, met die woorde: Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees. Paulus het heel goed begryp dat die doopbevel van Christus hom ook die vrymoedigheid gegee het om in die Naam van die drieenige God die gemeente te seen. Nogtans het reeds kort na pinkster stemme in die kerk opgegaan wat net soos vandag nie wil hoor dat Jesus die Seun van God en die Heilige Gees ook God is nie.

Met hierdie ketterse leer het veral die apostel Johannes geworstel. Met allemag en krag het hy getuig dat Jesus die Seun van God is: " Wie anders is dit wat die wereld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? Die Een wat deur die water van sy doop en die bloed van sy dood na ons toe gekom het, is Jesus Christus; nie net deur die water nie, maar deur die water en die bloed. Die Gees is die getuie daarvan, en die Gees is die waarheid. Daar is dus drie wat getuig: die Gees en die water en die bloed, en die drie se getuienis stem ooreen. Ons aanvaar mense se getuienis, hoeveel te meer die getuienis van God, want dit is God wat getuig, en die getuienis handel oor sy Seun. " (1Joh. 5: 5-9)

Dit is almal getuienisse uit die Nuwe-Testament, maar wat van die Ou-Testament mag moontlik gevra word? Word dit geignoreer omdat daar geen getuienis vir die Drieheid in Eenheid te vinde is nie? Stellig nie! Alleen ons moet die Ou-Testament vanuit die vervulling in Christus, in die nuwe verbond lees. Dis mos ons geloofsuitgangspunt: Die Ou-Testament is in die Nuwe-Testament vervul. In Gen. 1: 26 se God: "Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld". Vanouds het die christelike kerk hom al op hierdie teks beroep. God spreek hier al van Homself in die meervoud.

Die hoepriesterlike seen uit Num. 6: 24-27 het die kerk ook herhaaldelik gebruik om die drieeenheid te verdedig: "Die Here sal julle seen en beskerm. " Die vaderlike sorg van God oor sy volk kom hier vorentoe. "Die Here sal julle tot redding verskyn en julle genadig wees. " In die versoenend werk van sy Seun kom God na Israel toe. " Die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee" In die laaste kom die werk van die Heilige Gees in die toeeiening van die heil, in die lig. " So moet die priesters my Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seen" As die Heilige Skrif as 'n eenheid gelees word, sal ook in hierdie hoepriesterlike seen die drieeenheid van God herken word.

Besorg het die leerling gevra, hoe die kerk oor drie persone kan spreek, terwyl daar tog maar een God is. Ons ken die antwoord: so, in drie onderskeie persone het God Homself geopenbaar. Die hele Skrif spreek daarvan. Om alle misverstand te voorkom word daar nog iets aan toegevoeg. Heel eerbiedig en sorgvuldig word gese: Dat die drie onderskeie persone die enige waaragtige God is. Sien u die toon van aanbidding raak gemeente? Die wereld vloek God, maar die kerk aanbid. Met eerbied en ontsag aanbid die kerk die ene waaragtige ewige God. Met eerbied word in die gebede van die kerk van Vader Seun en Heilige Gees gespreek. Na die erediens laat die kerk aanbiddend en God verheerlikend sy lidmate met die Naam die wereld weer ingaan. Dis 'n majesteitelike God wat ons het gemeente!

In Goddelike majesteit kom God in sy Woord na ons toe. In die geloof sien ons Hom as Vader Seun en Heilige Gees, na sy kinders toekom.

Stel dat God geen Seun het nie, dat Hy in sy Seun nie buitekant Homself sou kon tree nie. Dat God Homself van ewigheid af in sy ewige liefde nie aan sy Seun had meegedeel nie. Hoe sou Hy ons dan ooit kan liefhe? Dan was Hy 'n starre onbeweeglike God gewees, soos die Moslims hulle Allah voorstel. Dis die magtige en die diepste in hierdie belydenis van ons dat God Homself in goddelike liefde, in sy Seun uitgestort het en dat hulle van ewigheid in die Heilige Gees tot mekaar kom. So is Hy vir ons die ene, enige en ewige God wat ons in aanbidding prys.

III Nou kom ons tot die laaste. Ons het saam gesien hoe ons God as die Drieenige ken, daarna het ons oorweeg hoe ons God, in die Vader, Seun en Heilige Gees wees, aanbid. Nou wil ons nog sien hoe ons op God vertrou. Daartoe wil ek u mee terug neem na die doopfont, waar ons almal die teken en seel van die verbond in die doop ontvang het. Immers is ons almal daar in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees gedoop!

Gemeente van ons geboorte af is ons onder die sorg van God, ja van die begin van ons lewe af! Soos Dawid dit in Psalm 22: 11 uitsing: "Van my geboorte af is ek onder U sorg van die begin van my lewe af. " So mag ons ook sing: Van ons geboorte af is ons onder die sorg van God die Vader en die Seun en die Heilige Gees, ja van die begin van ons lewe af! In Hom die God drieenig le die onwrikbare fondament van my lewe. God die Vader het my belowe dat Hy my met alles wat vir liggaam en siel nodig is sal versorg en ook al die kwaad wat Hy oor my in hierdie jammerdal beskik, my ten beste bestuur. God die Seun het my belowe dat Hy my in sy bloed van al my sondes was en my in sy dood en opstanding inlyf. Die Heilige Gees het ons belowe dat Hy alles wat ons in Christus besit aan my toeeien, naamlik die afwassing van die sondes en die daaglikse vernuwing van ons lewe. Dis Hy wat ons by die hand vat en in die ewige lewe, in die gemeente van uitverkorenes inbring.

God is die God van my doop. Hoor Israel die Here is onse God; die Here is Een. Hoor Israel die Here is onse God: Hy is Vader, Seun en Heilige Gees. So ken ons Hom. So bely ons Hom. So mag ons op Hom vertrou. Dis die God van ons doop. Geloofd sy God die Here, die God van Israel. Dit is die Here wat magtige dade doen! Mag sy verhewe Naam vir altyd geloof word, mag die hele wereld van sy majesteit vol wees.

Amen ja amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)