Ons God is die drie-enige God

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 8
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 8 H.K.

LITURGIE:
L. Joh. 14: 1-26
Ps. 97: 1, 4
Ps. 97: 7
SB. 27: 1-5
Ps. 113: 1, 2
SB. 50: 7

Broeders en susters,

Ons bewaar agter in ons Kerkboek 'n geloofsbelydenis wat hom heeltemal rig op die brandpunt van die algemene en ongetwyfelde christelike geloof: die leer van die Drie-eenheid.

Hierdie belydenis is lange tyd aan Atanasius, die bisskop van Alexandrië, toegeskrywe, aangesien Atanasius bekend geword het as die groot verdediger van die leer van die Drie-eenheid teenoor dwaalleraars soos Arìus. Maar teenswoordig word, tereg, betwyfel of dit wel Atanasius was wat hierdie belydenisskrif opgestel het. Vir die betekenis van hierdie belydenis maak dit egter glad nie saak nie, want die Gereformeerde Kerke het dit in Artikel 9 van die Nederlandse Geloofsbelydenis as 'n waardevolle en betroubare belydenisskrif aanvaar, nie vanweë sy skrywer nie, maar vanweë sy inhoud.

Hierdie sogenaamde Geloofsbelydenis van Atanasius is die belydenis oor God se Drie-eenheid. Baie uitvoerig word onder woorde gebring hoedat ons een God in drie Persone bestaan en hierdie drie nogtans een is.

Dis opvallend hoedat dit in hierdie belydenis vanaf die eerste sinne alles of niks is. Kom ons lees saam: "Vir elkeen wat salig wil word, is dit in die eerste plek nodig dat hy die algemene geloof moet vashou. As iemnad dit nie heeltemal en ongeskonde bewaar nie, sal hy sonder twyfel ewig verlore gaan!"

En dan volg op hierdie begin: "Die algemene geloof is: Ons moet die een God in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid eer, sonder om die Persone te vermeng of die Wese te deel. Want die Persoon van die Vader is 'n ander, diè van die Seun is 'n ander, diè van die Heilige Gees is 'n ander. Tog het die Vader en die Seun en die Heilige Gees een Godheid, gelyke eer en gelyke heerlikheid".

Dit blyk duidelik dat ook die opsteller van hierdie belydenis daarmee geworstel het om dit wat onbegryplik in God is, in begryplike sinne uit te druk. Ons hoor hem omtrent soek om dit suiwer te bly sê (Art. 15 e. v. ): "So ook is die Vader God, die Seun God, die Heilige Gees God; en tog is daar nie drie gode nie, maar een God. Net so is die Vader Here, die Seun Here, die Heilige Gees Here; en tog is daar nie drie heres nie, maar een Here. Want soos ons deur die Christelike waarheid gedwing word om elke Persoon afsonderlik God en Here te noem, word ons ook deur die algemene geloof verbied om drie gode of heres te bely".

Maar nogtans bly hierdie belydenis dit skerp stel en word u en my behoud regstreeks van ons geloof in hierdie Drie-eenheid van God afhanklik gemaak, broeders en susters. Kyk nog eens in art. 28: "Wie dus salig wil word, moet so oor die Drie-eenheid dink".

En die slot onderstreep dit vir die derde keer: "Dit is die algemene geloof; en as iemand dit nie getrou en vas glo nie, sal hy nie salig kan word nie".

Geen saligheid dus vir diè wat nie glo aan die Drie-eenheid van God.

Moes dit nou so skerp gestel word, gemeente?

Gaan dit nie te ver om die saligheid van 'n mens so strak te bind aan wat hy glo van die Drieheid in die Eenheid en die Eenheid in die Drieheid van God? Moet nou juis hierdie onderdeel van ons geloofsbelydenis -wat tog baie meer behels- so belangrik, ja, alles beslissend gemaak word?

Dit gaan mos ons verstand tog te bowe! Is dit sinvol dat ons ons druk maak oor 'n leerstuk wat vir ons tog onbegryplik bly? ; wat ons met die beste wil in die wêreld nie vir ons kinders kan duidelik maak nie? ; en wat ons heeltemal nie aan die wêreld kan verkoop nie?

Moet die hele geloof nou op die een kaart van God se Drie- eenheid gesit word?

Ja, dit moet, broeders en susters. Dit kan nie anders nie. Want kyk maar in Sondag 8 van die Heidelbergse Kategismus: "so het God Hom in sy Woor geopenbaar, dat daar drie onderskeie Persone is, die Vader, die Seun en die Heilige Gees, en dat hierdie drie tog die enige, ware en ewige God is".

As ons wil glo wat God ons in sy Woord leer, sal ons onvermydelik moet glo dat ons God die drie-enige God is. Want so kom hy in sy Woord na ons toe. So het Hy na hierdie wêreld toe gekom. So wil Hy deur ons geken wees. En geglo.

Ek het gesê: ons het hier die brandpunt van die algemene en ongetwyfelde christelike geloof. Want as ons die lyn van Sondag 7 na Sondag 8 volg, sien ons hoe alle strale in die drie-enige God by mekaar kom:

Alleen deur 'n ware geloof kan 'n mens salig word- daarmee het ook Sondag 7 begin. Wat moèt 'n christen dan glo? - was 'n volgende vraag. En die antwoord was: Alles wat in die evangelie aan ons beloof word. Vervolgens is gewys op die Twaalf Artikels van die Apostoliese Geloofsbelydenis wat die baie-baie strale wat vanuit die evangelie na ons toe kom, opgevang en in 12 artikels saamgebundel het.

Maar nou leer Sondag 8, dat die 12 artikels ook nog weer saamgevat kan word. Dit gaan mos daarin eers oor God die Vader en ons skepping, vervolgens oor God die Seun en ons verlossing, en tenlotte oor God die Heilige Gees en ons heiligmaking. Die 12 stralebundels kom nog weer in 3 sterk bundels by mekaar, en hierdie 3 kom tenslotte in die een brandpunt van die Drie-enige God by mekaar.

Wie daarom hierdie God nie ken nie -een en nogtans drie, drie en nogtans een- ken die evangelie nie en sal nie salig kan word nie. Ek moet vanaand hierdie God aan u verkondig. My boodskap is:

ONS GOD IS DIE DRIE-ENIGE GOD

Daarom moet ons

  1. die Drieheid in die Eenheid en
  2. die Eenheid in die Drieheid eer.

1. Die Drie-eenheid van ons God kom nie eers in Sondag 8 vir die eerste keer in die Heidelbergse Kategismus ter sprake nie, broeders en susters.

In hierdie Sondagsafdeling word wel spesiale aandag daarvoor gevra. Maar al in Sondag 1 word soos heeltemal vanselfsprekend die Drieheid in die Eenheid van God onder woorde gebring.

U ken daardie Sondag dalk wel van buite: gaan dit daar nie oor "my getrouwe Saligmaker Jesus Christus wie se eiedom ek is" nie? -God die Seun.

En oor "my hemelse Vader, sonder wie se wil daar geen haar van my kop kan val nie"? -Gòd die Vader.

En oor "die Heilige Gees, wat my van harte gewillig en bereid maak om voortaan vir die Here te lewe"? -Gòd die Heilige Gees.

Al dadelik op die eerste bladsy van hierdie Kategismus leer ons en ons kinders ons God as die drie-enige God ken.

En moet maar daarop let: dit gaan so verder, bladsy na bladsy, Sondag na Sondag. Telkens kom die drie Persone in die een God ter sprake, die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Dit kàn ook nie anders nie, want die Heidelbergse Kategismus het die inhoud van God se Woord saamgevat. En wie die Bybel oopmaak ontmoet hierdie God. Op omtrent elke bladsy van die heilige Skrif kom God as die Drie-enige na my toe. Een God en tog drie Persone.

Mens hoef nie 'n geleerde teoloog te wees om die Drieheid in die een God agter te kom nie. Ook boere, bakkers en bouers sien dit sommer dadelik. Selfs die kinders van die kleuterskool weet mos al dat die Bybel aan ons vertel van ons Vader in die hemel, en van ons Here Jesus Christus wat in Betlehem gebore is en aan 'n kruis moes sterwe, en van die Heilige Gees wat in ons hart wil woon- terwyl ons tog maar een God het.

Die Bybel vertel ons van God die Vader wat ook Vader van mense wou word. Van God die Seun wat die eersgeborene onder baie broeders en susters wou wees. En van God die Heilige Gees wat behalwe die Vader en in die Seun ook mense wou vervul en heilig maak, heeltemal op God se eer gerig.

Nie omdat God sònder ons nie kon lewe nie.

Maar omdat God sonder ons nie wou lewe nie.

En so vertel die Bybel allereers van God die Vader en ons skepping. God die Vader het -maar Hy het dit in 'n noue samewerking met God die Seun en God die Heilige Gees gedoen- 'n wêreld tot lewe geroep, vol met visse, voëls, boem, plante, diere èn mense. Om voortaan hierdie wêreld van dag tot dag met 'n tere sorg te onderhou en te regeer. Bowenal na ons mense het sy liefde uitgegaan. Ons mog, in teëstelling tot al die ander skepsels, sy kinders wees wat mog saamhelp om hierdie alreeds so mooie wêreld nog mooier te maak. God het alles in ons hande en onder ons voete gegee, sodat ons elke dag opnuut verruk sou staan oor die almag van ons hemelse Vader.

Die een na die ander ontdekking sou ons mog doen, telkens nuwe blyke van Vader se almag en majesteit sou ons tevoorskyn mag bring.

God die Vader het daarby maar net een ding van sy kinders verlang, naamlik dat hulle daarvan bewus sou bly dat die lewe altyd in sy Vaderhande bly lê en uit sy hande bly kom: "In Hom leef ons, beweeg ons en is ons. Hy is dit wat aan almal lewe, asem en alles gee". Dit kon en moes die mens weet. Buite God is daar geen lewe nie. Daar kom die dood, die ondergang, die chaos.

Maar dan moet die Bybel vervolgens vertel dat die mens nogtans so eiewys was om sy lewe te wil losmaak van God. Hy wou net soos God wees, maar dit is mos: nie langer van God afhanklik nie. En toe het die lewe op aarde 'n voortdurende sterwe geword. Die chaos hèt gekom.

Maar toe het ook God se verlossingswerk aan die gang gekom. God het sy skepping nie aan die chaos prysgegee nie. God die Seun het Homself aangebied om die weggevalle wêreld op te vang en van die ondergang te red deur dit by sy Vader terug te bring. Hy sou baie verlore kinders gaan red. Toe die duisternis in God se goeie skepping ingeval het, het Hy as die Lig in die wêreld gekom. Dit moes wel eers die hele geskiedenis van die ou verbond duur voordat hierdie Lig definitief kon deurbreek. Maar toe het dit ook wonderskoon geskyn, want God die Seun, die afskynsel van Vader se heerlikheid en die afdruksel van sy wese, het op die aarde neergedaal om 'n mens onder die mense te word, in alles aan sy broers gelyk, behalwe die sonde.

Hy het met ons oor die paaie van hierdie deur die sonde verwronge wêreld gewandel. Ja, Hy het ons vooruit geloop om in ons plek die volle las van God se toorn oor die sonde te tors en deur dood en graf heen die deur na die lewe toe weer vir ons oop te maak.

Nou kan Hy eendag ons sterflike liggame aan sy verheerlikte liggaam gelyk maak en ons vir altyd by Hom neem op 'n herskape aarde.

En dan vertel die Bybel ook nog van God die Heilige Gees en ons heiligmaking. Want ook die Heilige Gees lewer sy bydrae daaraan dat dit in die skepping van God weer word soos dit eens was: 'n wêreld vol mense wat weer heeltemal God se kinders sal wees. Die Heilige Gees trek die mense na Christus toe, en agter Christus aan na die Vader toe. Die Gees bind die stryd aan teen elke sonde wat nog in ons oorgebly het. Hy maak ons van harte gewillig en bereid om voortaan weer vir God alleen te lewe. Net so lank totdat God alles in almal sal wees.

So openbaar die drie-enige God Hom in sy Woord aan ons, broeders en susters. En so wil Hy geglo en geëer word. Drie in Een.

Al verstaan ons ook die helfte nie daarvan nie- sò sal ons ons God moet ken, want so, as die Drie-enige, het Hy Homself leer ken. So het Hy na ons toe gekom en kom Hy nog altyd na ons toe.

So was Hy daar by die meeste van ons al dadelik na ons geboorte, toe by ons doop die naam van die Vader, die naam van die Seun en die naam van die Heilige Gees bo ons klein koppie uitgespreek is. Toe was daar God die Vader, wat met ons 'n ewige genadeverbond wou oprig, ons tot sy kinders en erfgename wou aanneem en ons daarom met alle goeie dinge wou versorg en alle kwaad van ons wou afweer of tot ons beswil beskik.

Toe was daar God die Seun, wat ons in sy bloed wou was en ons in sy dood en opstanding inlyf, sodat ons van ons sondes bevry en voor God regverdig gereken sou word.

En toe was daar God die Heilige Gees, die derde Goddelike Persoon, wat in ons wou kom en woon en ons tot lidmate van Christus wou heilig deur tot ons eiedom te maak wat ons in Christus het, naamlik die afwassing van ons sondes en die daaglikse vernuwing van ons lewe, totdat ons eindelik onder die gemeente van die uitverkorenes in die ewige lewe vlekkeloos gestel sal word.

So het die drie-enige God na u toe gekom, broeders en susters, al by u doop. En so het Hy daar sindsdien gebly in u lewe. Sonder hierdie Drie sou u lewe geen lewe wees nie!

Elke sondag wil ook hierdie God u hier in die kerk ontmoet- al sien u Hom ook nie. Hy is hier, en Hy groet ons telkens weer met die woorde: "Genade en vrede vir u, van Hom wat is en wat was en wat kom (God die Vader); en van die sewe Geeste wat voor sy troon is (God die Heilige Gees) en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eersgeborene uit die dood en die Owerste van die konings van die aarde (God die Seun)".

En hierdie God wil ook met u saamgaan as u die kerk weer verlaat om huis toe te gaan. Dan verseker Hy u: "Die genade van die Here Jesus Christus (God die Seun) en die liefde van God (die Vader) en die gemeenskap van (God) die Heilige Gees sy met u almal".

Soseer het God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees hulleself aan u lewe verbind: vanaf u eerste lewensdae en nog van week tot week.

Hierdie Drie is uit u lewe nie meer weg te dink nie.

En dus sal ons hulle aldrie eer.

2. Nogtans is en bly hierdie Drie Een.

En dus sal ons ook die Eenheid in die Drieheid eer.

Want ook so het God Homself in sy Woord geopenbaar, dat hierdie drie onderskeie Persone tog die enige, ware en ewige God is.

Hy wil ook so geglo en geëer word.

En "glo", broeders en susters, dit beteken feitlik maar net dat ons baie eenvoudig luister na wat God self gesê het, en dit ook aanneem.

Geloof gaan nie uit van eie sienings nie, nie van eie logika nie, maar gee homself gewonne aan die waarheid van God se Woord. Soos God self dit gesê het, so is dit en so sal dit wees.

Die geloof bring dan ook altyd 'n ootmoedige houding saam. Wie glo, is bewus van sy eie kleinheid en bekend met God se grootheid. Wie glo, sê nie so gou nie: dit kan mos nie, dit klop nie, dit is nie logies nie!

Wie glo, sê liewers: "Al gaan hierdie leer die menslike verstand ver te bowe, glo ons dit nou tog deur die Woord, terwyl ons verwag om die volle kennis en vrug daarvan in die hemel te geniet". Soos die kerk dit in art. 9 van die Nederlandse Geloofsbelydenis bely.

Dus nie: hierdie leer stry met ons verstand, want 3 kan mos nooit 1 wees nie.

Maar: my menslike verstand is maar beperk, aan grense gebind. En ons God gaan nou maar eenmaal ver bo hierdie grense uit. My verstand kan dit nie meer bevat nie, maar dit hoef nog nie te beteken dat dit dus ook nie waar kan wees nie. Glad nie! Dit bewys maar net dat God God is, en geen mens nie.

Die baie gode wat die heidene vir hulle bedink het, gaan die verstand nie te bowe nie. Hulle is mos self produkte van die menseverstand. Bedinksels en maaksels.

Maar ons God is die enigste ware God, maar daarom ook altyd ver bo ons, nietige mensies, verhewe. En ons glo Hom op sy Woord.

Het u gesien, gemeente, dat so ook in Sondag 8 oor die onbegryplikheid van God se Drie-eenheid gespreek word? Daar word geen poging gedoen om dit wat onbegryplik is tog op die een of ander wyse begryplik te maak nie -mens sou dit tog nooit kan regkry nie.

Daar word geen lang sinne en ingewikkelde redenasies gebruik nie- dit sou nog maar net moeiliker geword het. Ons lees eenvoudig: so ken ons God, want so het Hy homself lèèr ken. Die Bybel staan daarvan vol.

Vader, Seun en Gees, hulle is tog Een. Wie lees en laat staan wat daar staan, kom nooit daar onderuit nie.

Maar ons hoef ook nie daar onderuit nie, gemeente!

Want al gaan dit dan ook ons verstand ver te bowe, dit gee ons wel 'n magtige troos om te mag weet dat ons tog maar een God het. Omdat Vader, Seun en Heilige Gees Een is, dwarsboom hulle mekaar nie, werk hulle mekaar nie teë nie, bots hulle goddelike kragte nie op mekaar nie, maar saam maak hulle een groot werk klaar.

Saam soek hulle ons, aangesien hulle allereers saam mekaar soek.

Daar is tenslotte maar een God in ons lewe. Want die God wat aan die daaglikse vernuwing van u lewe werk, is Dieselfde as die God wat u uit die heerskappy van die bose verlos het; en is ook Dieselfde as die God wat u hemelse Vader wil wees.

Nooit werk daarom die Seun die Vader teë nie, of die Vader die Seun. Nooit staan ook die Gees in die Seun se pad nie, of anderom.

Die God van ons verlossing is dieselfde God as diè van ons skepping. En die God van ons heiligmaking is Dieselfde as die God van ons verlossing.

U mag dan ook nooit die werk van die Vader losmaak van die werk van die Seun nie; of die werk van die Seun van die werk van die Vader. U mag nooit die werk van die Gees skei van dit van die Seun en die Vader nie.

En dit gee ons darem maar 'n magtige troos, broeders en susters!

Want as God die Vader in sy voorsienigheid allerhande moeite oor my lewe bring, as ek baie swaarkry en verdriet op verdriet moet verwerk- dan staan God die Seun, my Saligmaker en Verlosser daar dus nie buite nie, maar moet dit juis tot my saligheid dien.

En God die Heilige Gees bring my so ver, dat ek in die grootste ellende nog kan bly sing dat God goed is. As ek nie meer weet wat om te bid nie, kom die Gees my in my swakheid te hulp. En Hy versterk my geloof sodat ek nie daaraan twyfel dat God ewig my genadig Vader wil wees nie.

Vader, Seun en Heilige gees werk saam aan hul een plan wat op die ewige lewe moet uitloop. Agter hul onderskeie werk wat elk besig is om in hierdie wêreld te volbring, lê tog een gesamentlike, vas omlynde plan wat die drie-enige God met Homself gemaak het.

Wat God aan ons beloof het, het Hy eers aan Homself beloof. Die drie Persone het saam hierdie plan opgestel en vir mekaar belowe dat hulle dit ook saam sal volvoer.

En so is in die geskiedenis van hierdie wêreld en in ons lewe die drie-enige God besig om die gestelde eindoel te behaal: God alles in almal en die onoortroffe verheerliking van sy naam.

Dit kan nie fout gaan of vas loop nie, want God staan daarvoor borg en Hy sal nie rus nie voordat die doel bereik is nie. Vader, Seun en Heilige Gees kom eers tot rus as die kroon op hulle werk gesit is. As die skare van die wat uitverkies is, kompleet is en die lewe eindelik volmaak sal wees.

Gemeente, die christelike kerk het al die eeue deur gestry om die geloof in die Drie-eenheid in God ongeskonde te bewaar.

Die geloofsbelydenis van Atanasius, soos ons dit nog maar sal bly noem, is een monument van die baie stryd wat daar teen bestryders van hierdie geloofsstuk gevoer moes word. Wie 'n slag kyk in Artikel 9 ban die Nederlandse Geloofsbelydenis sien dat daar 'n hele rytjie van sulke bestryders by mekaar gebring is: Jode, Mohammedane, ketters soos Marcion, Mani, Praxeas, Sabellius, Samosatenus, Arius....

Dit sou maar min moeite kos om hierdie rytjie nog twee keer so lank te maak en tot op vandag aan te vul.

Was, en is dit die moeite werd, so'n stryd oor 'n so moeilike geloofsbelydenis as die Drie-eenheid van God? Kon die kerk op hierdie punt, wat mos ook ons verstand te bowe gaan, nie 'n bietjie soepeler wees nie?

Nee, dit was en is onmoontlik, broeders en susters.

Want wie God nie as die drie-enige God wil ken nie, sal God heeltemal nie ken nie. Want ons God is die drie-enige God. En ons saligheid lê in die hande van hierdie God.

Wie dus salig wil word, moet in alle opsigte sowel die Drieheid in die Eenheid as die Eenheid in die Drieheid eer.

Ons moet dit die opsteller van die eeueoue belydenis nasê: "As iemand dit nie heeltemal en ongeskonde bewaar nie, sal hy sonder twyfel ewig verlore gaan".

AMEN.

(Pretoria, 2 Oktober 1988)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)