Ons moet die gegewe Middelaar in geloof aanvaar

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 7
Preek Inhoud: 

Ps 16: 1, 4, 5
Ps 18: 1. 12. 14
Geloofsbelydenis
Ps 138: 1-4
Lees: Efese 3: 14-21
Teks: Sondag 7

Geliefde gemeente,

Alles is genade. Dit is hierdie jaar die tema wat die kerkraad by die gemeente wil tuisbring in prediking en in huisbesoeke.

As gelowiges moet ons leer om van genade te lewe. Dit beteken dat ons moet leer besef dat alles wat ons het, deur God aan ons gegee is.

Ook alles wat ons as gelowiges is, ons hele uitstraling as gelowiges is 'n genadegeskenk.

As daar bekwaamhede in die gemeente is wat ingesit word vir die diens van die Here, dan is dit genade dat God dit gee.

As daar ywer is om mekaar op te bou in die geloof, dan is ook dit 'n gawe van God.

As ons met oorgawe ons besig hou om werklik as christene met mekaar en met ander mense om te gaan, dan is dit pragtig. Maar dit is nooit 'n rede om onsself op die bors te slaan nie. Dit is dan te danke aan krag deur God verleen. Dus weer: genade.

Genade. Dit beteken dus alles moet vir jou gegee word.

Nou sou 'n mens met die nadruk op die genade ook 'n verkeerde kant kon uitgaan. As alles dan gegee moet word, dan moet ek seker maar afwag of vir my ook soiets gegee word. Solank dit nie die geval is nie, kan ek maar in my stoel bly sit...

Waar so gepraat word het ons eerder met die verset van 'n eiewillige mens te doen as met iemand wat werklik uitsien na en oopstaan vir die geskenk van die genade.

Immers God roep ons almal soos ons hier vanmiddag sit tot gelowige oorgawe. Hy kom na ons as gemeente toe met sy beloftes en vra van ons dat ons die beloftes in geloof moet aanvaar.

Hy wil dat ons die Middelaar wat Hyself voorsien het as ons Heiland aanneem.

In die Sondae 5 en 6 van die HK het dit gegaan oor die unieke Middelaar wat vanuit die hemel na die aarde gekom het.

Ons het die magtige geskenk bewonder wat God in Jesus Christus aan die wêreld gegee het.

Vandag gee hy dit opnuut vir U. Nie as 'n nuwe geskenk nie, maar wel as 'n geskenk waaroor u u vanmiddag opnuut mag verwonder en verbly.

Ek weet nie of almal van u dit regtig sal aanvaar nie.

Maar laat niemand agteraf sê dat die geskenk vir hom nie aangebied is nie.

Want dit is. In vanmiddag se prediking. Hier is Jesus Christus jou Heiland. Aanvaar Hom in geloof.

Ons moet die gegewe Middelaar in geloof aanvaar

  1. Dan word ons ingelyf in die Seun van God
  2. Dan word ons gelei deur die Woord van God
  3. Dan gaan ons bely met die Kerk van God

Sondag 7 begin met 'n nogal vanselfsprekende vraag. Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het?

Die logika van die vraag is duidelik. Alle mense is verdoem met die eerste Adam in die Paradys. Dan kom Jesus Christus en bevry almal weer van die vloek.

Wat in die Paradys foutgegaan het word op Golgota weer herstel.

Pragtig. Alles is dus gereël. Daar is weer lewe vir die mens.

Dit klink wel logies, maar die redenering is fout. Want dit is die redenering van 'n sondige mensehart.

Immers met so'n redenasie het jy jouself sorgvuldig buitespel geplaas. Want dan beweer jy eintlik: Adam se sonde het buite my omgegaan. Christus se redding ook.

Maar dit is nie die geval nie.

Die Kategismus het juis verduidelik dat die sonde van Adam nie iets buite ons om is nie, maar dat ons daarmee te make het. Dat ons daarvoor mee verantwoordelik is selfs.

Ons staan as mense, elkeen van ons, skuldig voor God.

Daar is nie meer 'n relasie tot God waarin ons met Hom kan omgaan nie. En juis dit is vir 'n mens 'n lewensvoorwaarde.

God het die mens geskape as 'n skepsel wat met sy God in 'n verhouding kan staan.

Die verhouding is verbreek. In die Bybel gaan dit oor een ding, namelik dat die verhouding weer herstel moet word.

Daarom soek ons ook nie sommer 'n Betaler van ons skuld nie. Ons soek nie iemand wat die saak buite ons om reël nie, nee, ons soek 'n Middelaar.

'n Middelaar is iemand wat 'n verhouding tussen twee partye weer kan herstel.

Want daar is juis die probleem.

Kyk, ons is mense. God het ons geskape as mense.

Die groot verskil tussen die mens en al die ander skepsels van God is dat 'n mens 'n wese is wat verantwoordelik gestel kan word vir sy dade.

'n Mens moet in sy lewe keuses maak. Keuses met verreikende gevolge dikwels.

'n Dier nie. 'n Dier handel instinkmatig. Hy het 'n ingeboude sisteem wat hom gewoonlik vertel wat die regte ding is om te doen.

Maar die mens het 'n keuse. 'n Keusevryheid.

So wou God die mens gemaak het. Hy wou mense hê wat die keuse het om Hom te dien. Hy het nie outomate gekreëer nie.

Van 'n outomaat kan jy mos geen liefde verwag nie.

Aan 'n voorgeprogrammeerde eerbetoon van mense wat nie anders kan nie, is vir God geen eer te behaal nie.

God se doel was om liefde en eerbetoon te ontvang van verantwoordelike mense wat die vrye keuse het om dit te gee of nie te gee nie.

Ons weet almal hoe die mens sy vrye keus gebruik het.

Hy het van sy kant die verhouding totaal verbreek.

Om nou weer terug te kom op ons punt:

Ons het gesê: God gee vir ons in Jesus Christus 'n Middelaar.

'n Middelaar is daar om partye by mekaar te bring.

Daar is 'n verhouding wat herstel moet word.

En dit kan uit die aard van die saak nie die partye om nie.

Wel, dit is nou waar die geloof inkom.

Christus maak weer 'n verhouding moontlik tussen God en die mens.

Maar slegs die mense wat in Jesus Christus glo laat die verhouding tussen hulle en die Here herstel.

Somin as die verbreking van die verhouding buite ons omgaan nie, so min kan ook die herstel van die verhouding buite ons omgaan nie.

Die mens het deur ongeloof by God af weggeloop.

En nou is daar maar een pad terug.

Die pad van die geloof in Jesus Christus.

Hy herstel die verhouding met God. En daarom is daar slegs redding vir ons by Hom. In Hom.

Ons moet deur geloof in Hom ingelyf word.

Let 'n bietjie op die spesiale manier van sê van die Kategismus.

Ons moet ingelyf word. Jy lyf nie jouself in nie. Jy word ingelyf.

En wie doen dit dan?

Dit is nou die werk van die Heilige Gees.

Op hierdie punt wil ons ook kyk na die skrifgedeelte wat ons gelees het.

Daar staan bo: Paulus gebed vir die gemeente.

Wat bid hy presies?

vers 16: dat Hy aan julle mag gee om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens.

En wat is die effek of in elk geval die bedoeling daarvan?

vers 17: sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon.

God self moet dit dus gee. Paulus bid dat God so sal werk dat ons deur die Heilige Gees Christus welkom heet in ons lewe. Hy kom by ons inwoon.

Paulus spreek die lesers van sy brief so aan: Julle wat in die liefde gewortel en gegrond is.

Dit gaan hier oor God se liefde wat na ons uitgegaan het. Daardie liefde het die meeste geblyk in Jesus Christus. Hy kom na ons toe. Met al sy liefde. En nou sê Paulus hier: julle het in daardie liefde gewortel. Daarin het julle vastheid gevind.

Christus kom in julle woon.

Maar dan is tegelyk die omgekeerde waar. Julle woon in Christus.

Julle word heeltemal een met Hom.

In die eenwording, in die inlywing in Christus is ons redding.

Maar daardie inlywing is 'n kwessie van geloof.

Ook van geloofsoorgawe.

Want iemand wat onwillig is om Hom in Christus te laat inlyf kan nie ingelyf word nie.

Want geloof is 'n antwoord.

'n Antwoord van 'n verantwoordelik gestelde skepsel.

Die Here wag na al wat Hy gedoen het nou op u antwoord van geloof.

Al wat u kan sê is: Ja Here ek glo.

Ek wil graag in Christus ingelyf word. Want ek besef nou alleen by Hom is lewe.

2. Ons word gebind aan God se Woord

Wat is 'n waar geloof?

Hierdie tweede vraag van Sondag 7 het in die loop van die tye baie diskussie ontlok. Dit het veral gegaan oor die verhouding van die twee elemente wat in die antwoord genoem word.

Kennis en vertroue. Die onderskeiding wat die Kategismus hier maak, het aanleiding gegee om allerlei teorieë oor die geloof op te stel.

Byvoorbeeld hierdie: Kennis, dit gaan oor bybelkennis. Jy is self daarvoor verantwoordelik. Jy moet jou onderwerp aan die die Bybel en dit onvoorwaardelik as waarheid aanvaar.

Maar hierdie kennisgeloof is nie saligmakend nie, daar moet nog vertroue bykom.

Maar of jy die vertroue kry, dit sal jy moet afwag want dit is die werk van die Heilige Gees. Dit kan jy nie dwing nie.

En eers die vertroue is saligmakend.

Daarmee word ongeveer dit bedoel, 'n mens kan gedoop wees, 'n mens kan trou in die bybel studeer, hy kan opreg bid, maar dit kan gebeur dat hy tog nie verder kom as die kennisgeloof nie, want die Heilige Gees wil nou net nie die laaste gee nie. Jammer vir jou.

Maar as jy sake so uit mekaar begin haal is jy besig om te skei wat God byeengevoeg het. En terwyl jy dit doen het jy weer 'n moontlikheid gevind om jou eie verantwoordelikheid van jou af te skuif. Jy toon jou goeie wil deur die Bybel te aanvaar as die woord van God, maar sê jy: Ongelukkig is die beloftes nie vir my nie, want die Gees wil net nie die noodsaaklike vertroue in my werk nie.

Wat kan ek daaraan doen? Dit is die skuld van God of van Sy Gees.

Maar dit is nie hoe dit werk nie. Die werk van die Gees begin al baie eerder. Die Heilige Gees gebruik die Woord van God as die instrument om mense tot geloof te bring.

Dus ook die kennis waardeur ek alles vir waar aanvaar wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het, is nie daar sonder die werk van die Heilige Gees nie.

Waar jy die Bybel as die woord van God begin aanvaar en kennis kry van die werk van Jesus Christus, daar is die werk van die Heilige Gees.

Ons het in Efese 3 gelees dat Paulus daar bid dat die lesers sodanig versterk word deur die Heilige Gees, dat Christus in hulle harte kan woon.

En dan lees ons verder in vers 18: en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is.

Hier gaan dit oor die begrip wat ons het van ons verlossing. Oor die verstaan van wat God gedoen het om ons te red.

Begryp en verstaan, dit doen 'n mens met sy verstand.

Maar tegelyk is begryp en verstaan meer as 'n verstandelike kwessie. Van die begryp en verstaan kom 'n mens tot kennis van Christus.

En waar jy Christus werklik leer ken het, daar kan dit nie anders of jy gaan Hom liefhê.

Kyk maar in vers 19 van Efese 3... dat julle die liefde van Christus sal ken wat die kennis oortref.

Wat hier staan is dit 'n mens moet kennis kry van die werk van Christus en deurdat jy daarvan kennis kry ontdek jy sy liefde vir jou. En daardeur begin jy Hom op jou beurt ook weer liefhê.

Jou aanvanklike kennis gaan al hoe meer oor in vertroue.

Soos dit met mense onderling ook maar gaan. Dit vat tyd om iemand te leer ken. Maar hoe meer jy iemand leer ken hoe meer jy die persoon leer waardeer. Hoe meer jy iemand ook vertrou.

Omdat dit in hierdie geval oor 'n mens gaan kan ook die omgekeerde gebeur. Hoe langer jy iemand ken hoe minder vertroue jy in hom het.

Maar met Christus kan 'n mens maar net groei in vertroue as jy hom eenmaal leer ken het.

Dit wil Paulus sê as hy vers 19 afsluit met: sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.

Van kennis groei jy na vertroue en van vertroue groei jy na vervulling met die volheid van God.

Dan gaan jy steeds meer besef hoe ryk sy genade is. Hoe groot sy goedheid is.

Gemeente, heel hierdie proses is die werk van die Heilige Gees. Ons is op pad om vervul te raak met die volheid van God.

Ek hoop ons raak almal vervul van die volheid.

Maar onthou: dit kan ek vanmiddag nie vir u gee nie.

Ek kan u net die weg wys.

Begin by die Woord van die Here. Aanvaar dit as die woord van die waarheid.

Vertrou jou toe aan die Woord sodat jy in die woord werklik die Here hoor praat.

Luister na die prediking en doen iets daarmee, want dit is die instrument van die Heilige Gees.

En laat jou vervul met die volheid van God.

3. Dan gaan ons bely met die kerk van God

In vers 18 van Efese 3 het ons nog 'n elementje oorgeslaan waarvoor ons nou u aandag vra.

Dit gaan om die woorde 'saam met al die heiliges'.

Paulus bid dat ons saam met al die heiliges in staat kan wees om die lengte die breedte en die diepte te begryp.

Blykbaar is die volheid van God waarnatoe ons op pad is nie deur jou as eenling bereikbaar nie. Jy sal nooit op jou eie die volle betekenis van die Woord van die Here en van Sy werk kan verstaan nie.

Daarby het jy al die heiliges nodig. Ons kan dit ook so sê: Daarby het jy die kerk van alle tye en plekke nodig.

Met daardie kerk is ons verbonde deur ons geloofsbelydenis.

Mens kry vandag tal van sektes wat dink dat hulle sonder enige belydenis kan klaarkom. Hulle is trots daarop "Alleen die Woord. Meer het ons nie nodig nie!"

Dit kom neer op 'n geweldige selfoorskatting. Asof jy vir die eerste keer werklik die Bybel kan leer lees. Asof jy werklik sonder enige hulpmiddel die boek kan verstaan en daarby nie sal wegraak in allerhande vorm van dwaling nie.

Dan oorskat jy jou eie beoordelingsvermoë. So'n hoogmoed lei tot jou val.

Daarby doen jy ook tekort aan die breedte en hoogte en lengte en diepte van die openbaring van God.

Dit is so groot, dit kan jy nie alleen vat nie. Jy kan dit net saam met al die heiliges leer verstaan en dan nog sal jou kennis onvolkome wees.

En daarom het ons die steun nodig en voel ons ons ryk met die belydenis van die kerk van alle eeue.

In hierdie geval die apostoliese geloofsbelydenis.

Dit is 'n pragtige samevatting van die evangelie soos die kerk dit oor die eeue leer bely het.

Ek glo in God die Vader, God die Seun en in God, die Heilige Gees.

Met die woorde het die kerk van oudsher sy geloof in God onder woorde gebring.

Wie hierdie woorde van harte kon nasê is welkom geheet in die gemeenskap van die heiliges.

Saam met al die heiliges moet ons leer om die rykdom van ons geloof te ervaar.

En die mooie daarvan, in die kerk is kinders daarby ingesluit.

Hulle word in die Bybel ook as heiliges aangespreek en behandel. Hulle is geheilig in hul gelowige ouers. Dit beteken, vanaf hul geboorte is hulle deel van die gemeenskap van die heiliges.

Wanneer gelowige ouers 'n kind ten doop hou, word van hulle dan ook nog 'n slag nadruklik instemming gevra met die apostoliese geloofsbelydenis.

Want daarin bely ons ons geloof saam met die heiliges van alle eeue.

En dit is vir ons geweldig troosryk.

Ons is nie die eerstes wat die bybel lees nie.

Ons is nie die eerstes wat 'n antwoord moet formuleer op God se beloftes nie.

Ons doen dit in gemeenskap met al die heiliges.

En saam met hulle kan ons ons keer op keer verwonder oor die lengte, die breedte, die hoogte en die diepte van die liefde van God wat verskyn het in Jesus Christus onse Heer.

Kom ons wil die belydenis saam singend onder woorde bring. Amen.

13 Des. 1992

Liturgie: 

(kyk in preek)