God hou Christus as Verlosser aan ons voor met die eis tot bekering en geloof

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 7
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 7 H.K.

LITURGIE:
Votum en seëngroet
SB. 7: 1, 4, 8
Gebed
L. Joh. 1: 1-13 & Joh. 3: 14-21 & Joh. 12: 44-50
Ps. 89: 6
Prediking
Gesonge Geloofsbelydenis
Gebed
Kollekte
Ps. 119: 39, 48
Seën

Broeders en susters,

Dit is elke keer weer 'n hoogtepunt in Christus se kerk wanneer daar mense is wat publiek in die midde van die gemeente hulle geloof bely; wat nie skaam is om openlik daarvoor uit te kom dat hulle hul toevlug tot die gekruisigde Christus neem nie.

Talle mense het reeds so voor in die kerk gestaan en hulle Ja-woord gegee. Ook van julle, jongemense wat nog die katkisasie volg, word verwag en gehoop dat julle eendag in die openbaar julle geloof in Christus sal bely. En wat van die seuns en dogters wat nog in die laerskool of in die kleuterskool is? Ook by julle is die hele opvoeding, tuis en by die skool, reeds daarop gemik dat julle dit al hoe duideliker sal besef: sonder my Vader in die hemel en sonder die Here Jesus Christus kan ek nie lewe nie. Sodat ook julle eendag hier voor in die kerk sal staan om openlik julle geloof te bely.

Nie net óns, die kerkraad, die gemeente, julle ouers, wil graag hê julle moet so ver kom dat julle jul eendag openlik oorgee aan die Here Jesus as julle Verlosser nie. Gód begeer dit. Hy roep ons onophoudelik om sy Seun as Verlosser te aanvaar. Hy dwing ons al hoe meer na 'n keuse toe; wat wil ons? Lewe deur Christus? Of die ewige dood?

God is nie met een geloofsbelydenis tevrede nie.

Die dag van die openbare geloofsbelydenis is nie die eindpunt nie. Geloof is nie 'n artikel wat 'n mens op die dag van sy belydenis aanskaf of ontvang; of 'n ingesteldheid wat 'n mens geleidelik ontwikkel, en as jy dit een keer het, dan hou jy dit nie.

Geloof is 'n keuse wat ons elke dag opnuut moet maak. Ons word daagliks gedwing om ons toevlug tot die gekruisigde Christus te neem. Ook na ons geloofbelydenis bly God ons oproep om ons aan sy Seun oor te gee.

In elke preek, in elke huisbesoek, elke katkisasieklas, so dikwels as wat ons die heilige Skrif oopmaak, elke keer weer hou God ons Here Jesus Christus aan ons voor met die eis tot bekering en geloof.

Hieroor, dat ons ons elke dag opnuut aan die gekruisigde Christus moet oorgee, gaan dit in Sondag 7.

Hieroor gaan dit dus ook in hierdie preek.

Ek kan die boodskap soos volg saamvat:

GOD HOU CHRISTUS AS VERLOSSER AAN ONS VOOR MET DIE EIS TOT BEKERING EN GELOOF

SO'N GELOOF IN CHRISTUS

  1. BETEKEN DAT JY JOU OORGEE AAN GOD SE SEUN
  2. WORD JOU INGEGEE DEUR GOD SE GEES
  3. WORD AAN JOU GEGEE DEUR MIDDEL VAN GOD SE WOORD

1. Sondag 7 begin met 'n vraag, gemeente, wat amper oorbodig lyk: "Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het? ".

Natuurlik nie, sê ons. 'n Kind weet dit al dat net die wat glo deur Christus van hulle sondes gered word.

Nogtans is daar talle mense vir wie dit nie so vanselfsprekend is nie. Die gedagte is al baie oud, maar ook steeds springlewend, dat ons Here Jesus Christus deur sy offer vir ons sondes 'n algemene grasieverlening vir alle mense bewerk het. Hy het vir almal gesterwe, almal is dus deur Hom verlos van God se toorn. Na die dag van Golgota aanvaar God alle mense weer as sy kinders en is die sonde vergewe en vergeet.

Hierdie gedagte beheers vandag die vrysinnige teologie. Moet maar oplet: 'n verkondiging van die evangelie met bevel van geloof en bekering word nie meer noodsaaklik geag nie. Elke mens is mos in prinsipe alreeds gered! Sending kan daarom ontwikkelingshulp word en evangelisasie kan deur 'n dialoog, 'n oop tweegesprek, vervang word.

Ook die hele taak van die kerk het verander: vroeër het die kerk veral gepréék, opgeroep tot geloof; vandag lê die kerk hom meer toe op maatskaplike en sosiale hulpverlening. Die kerkgebou word 'n toevlugsoord vir swerwers en vlugtelinge, en 'n opvangsentrum vir verslaafdes, vigspasiënte en so meer. Ook bemoei die kerk hom meer met die politiek en die omgewing. Hy veg vir 'n regverdiger en leefbaarder samelewing.

Maar waarsku vir God se brandende toorn, vir die ewige verskrikking van die hel, Christus se kruis predik as die enigste vlugweg- dit gebeur nie meer nie. Dis tog ook nie meer nodig nie? Is God se toorn nie lankal geblus nie?

Die Kategismus stel dus wel deeglik 'n sinvolle en aktuele vraag, broeders en susters: "Word al die mense dan weer deur Christus salig...? ". Maar die antwoord bly 'n nadruklike "nee!". Christus se dood op Gotgota het nie die groot begenadiging vir alle mense ingelui nie. Baie beslis nie.

Zacharias Ursinus het in sy uitgebreide verklaring op die Heidelbergse Kategismus, "Die Skatboek" soos hy dit genoem het, geskrywe, met 'n verwysing na 'n uitdrukking wat Paulus in sy brief aan die Galasiërs gebruik het: as Christus se dood 'n algemene grasieverlening sou bewerk het, sou Christus 'n dienaar van die sonde geword het. Of, met ander woorde: dan sou Christus maar net die sonde in die hand gewerk het.

U kan dit tog verstaan?

As ons so maklik almal weer tot God se kinders aangeneem is, ontstaan tog soos vanself die gedagte dat die sonde seker nie so heel vreeslik is nie. Daar is in elke geval nie so heel veel rede meer om radikaal met die sonde te breek nie: God vergeef mos tog wel! Ja, Hy hét ons lankal vergewe. Dit maak nie meer so veel saak hoe of ons lewe nie.

Voel u? 'n Maklike algemene vergewing danksy Christus se dood bewerk geen afkeer van die sonde meer nie. Dit laat jou eerder aan die sonde gewoond raak. Die lewe is nou maar eenmaal so, maar eendag kom alles reg. Eintlik ís alles al reg.

En dan is daar natuurlik ook geen huiwering vir God se vreeslike toorn meer nie. Daardie toorn is tog vir eens en vir altyd gestil op Gotgota? Vandag is God nog slegs die God van liefde en mededoë. Straf van God bestaan nie meer nie.

Maar daarom het die vrysinnige teologie ook geen verklaring meer vir al die rampe waardeur die aarde en ons lewe nog aanhoudend geteister word nie. Dit kan niet van God afkomstig wees nie. Hy is dan 'n God van liefde! Nee, God staan seker self ook maar magteloos en verbysterd teenoor al sulke verskriklikhede. Hy ly daarin met ons mee.

U sien: daar lê 'n direkte verbinding tussen die gedagte in die vrysinnige teologie dat daar 'n algemene versoening plaasgevind het, en die veranderde opvattings m. b. t. God se voorsienigheid, ook in allerhande teenspoed.

Hét Christus op Golgota 'n dienaar van die sonde geword, broeders en susters?

Inteendeel, daar op Golgota, het God duideliker as ooit tevore gewys hoedat Hy die sonde háát. Hy het sy eie goddelike Seun vanweë ons sondes in die hel, die godverlatenheid weggestoot.

Maar daarmee was sy toorn oor ons goddeloosheid nog nie outomaties wég nie!

Daarmee was ons nie soos vanself van ons sondeskuld ontslae nie.

God het op die dag van Golgota geen algemene amnestie afgekondig nie. Hy het slegs die enigste vlugweg oopgemaak waarlangs ons aan sy toorn kan ontkom. Maar nou sal ons daardie vlugweg ook moet gaan! Ons sal Christus nou ook in geloof as Verlosser moet aanneem.

God het Christus se kruis tot 'n kruispunt gemaak waarop alle mense nou moet kies: wil hulle met Christus opstaan in 'n nuwe lewe? Of wil hulle in hul sondes bly lê maar dan eendag onder God se toorn verteer word? !

Laat God ons danksy Christus se kruisdood nou maar in die sonde voortlewe? !

Glad nie. Hy roep ons nou juis deur Christus uit die lewe in die sonde weg.

Ons Heiland het Homself meer as een keer "die lig" genoem waarin ons, mense, weer kan lewe. Vir dié doel het God Hom in die wêreld gebring. Ons het dit gelees in die Evangelie volgens Johannes.

Maar almal word nie outomáties deur Christus verlig nie. Om in sy lig te kan lewe, moet 'n mens 'n keuse maak. Jy moet die lewe in die duisternis bewus agter jou laat en na die lig toe kom. Jy moet jou aan die lig oorgee en voortaan nog slegs daarin wil wandel.

So dikwels as wat God sy Seun aan ons voorhou as die Verlosser, doen Hy nie net 'n blote mededeling van iets wat lankal 'n feit is nie. Maar dan dwing Hy ons tot 'n keuse, tot 'n oorgawe. Hy kom na ons toe met die eis van bekering en geloof.

Daarmee werp God ons elke keer weer in die stryd, gemeente. U weet dat natuurlik wel van uself, as u eerlik is teenoor uself.

Want om jou oor te gee aan die lig van Christus, beteken wel dat jy self in al jou slegtheid aan die lig kom. Jy moet beken dat jou lewe vir God onverdraaglik en afstootlik is. Jy moet toegee dat jy jou eie skemerlampies maar beter kan afskakel. Daarby kan 'n mens tog nie ewig lewe nie.

Jy moet erken dat jou skuld by Vader in die hemel só groot is, dat God sy eersgebore Seun daarvoor in die hel moes wegstoot.

Jy moet erken dat God die reg gehad het om jou in plaas van Christus in die hel weg te stoot.

'n Geloofsbelydenis is dus niks om trots op te wees nie. Om in Christus te glo beteken 'n kapitulasie. 'n Eerlike erkenning dat jy geen lewe in jouself het nie en ook nie kán hê nie. Jy sal dit buiten jouself moet soek en dit nêrens kry nie, behalwe in Christus.

God vra so'n geloof in Christus, gemeente, dat ons by Hom ingelyf word. Dié uitdrukking gebruik die Kategismus.

Om ingelyf te word- dis 'n vernederende saak!

Toe eers Natal, en vervolgens ook Transvaal deur die Engelse by die Engelse koninkryk ingelyf is, was dit 'n bitter en vernederende saak vir die Afrikaanse Boere. Jy verloor jou selfstandigheid en onafhanklikheid en moet jou voortaan skik onder die wette van 'n vreemde maghebber.

So moet ons ons selfstandigheid opgee en ons aan Christus as ons nuwe maghebber gewonne gee. Voor God bestaan ons nie meer in onsself nie. Ons bestaan nog slegs in Christus. Ons mag ook nie langer maak soos ons sélf wil nie. Christus se Gees regeer voortaan oor ons.

Maar God wil hê ons moet so ver kom dat ons onsself nie onder hewige verset láát inlyf by Christus nie; maar dat ons sélf vir hierdie inlywing kies. Omdat ons weet dat dit ons enigste oorlewingskans is. Omdat ons die bankrot van ons eie bestaan eerlik onder die oë sien.

Geloof is daarom geen oorgawe onder protes nie.

Maar 'n oorgawe vol vertroue.

Daardie woord ("vertroue") is die sentrale woord in die definisie van 'n ware geloof wat die Kategismus in Sondag 7 gee.

Ja, geloof begin met kennis. Natuurlik: voordat jy jou in vertroue aan iemand oorgee, moet jy hom eers deur en deur ken. So is dit ook by Christus.

U sal allereers alles wat God in sy Woord geopenbaar het -en gaan dit alles nie oor sy Seun as die Redder van die wêreld nie? So het ons dit mos geleer in die laaste vraag van Sondag 6- u sal allereers dit alles baie mooi moet ken en vir waar aanvaar.

Maar dan groei daar ook soos vanself die vertroue dat dit goéd is om uself aan God se Seun volkome oor te gee. Dán sal alles weer reg kom. Dan word die lewe weer lig. God sê mos so, en as daar een is wat nie lieg nie is God dit.

In die Nederlandse Geloofsbelydenis word daar voor die geloofsvertroue waarmee ons ons aan Christus moet oorgee, 'n paar maal 'n ander woord gebruik: ons moet Christus en al sy weldade "omhels".

U moet by daardie woord (omhels) nie aan twee verliefde jongmense dink nie. Dink maar aan 'n mens wat deur gyselaars gevange geneem is en vir weke op 'n onbekende plek vasgehou. As daardie mens bevry word, val hy sy redder in die arms en huil op sy skouer van dankbaarheid en oplugting.

2. Maar hoe kom eiewyse, hoogmoedige mense soos ons so ver dat hulle so totaal wil kapituleer en Christus as hulle Redder omhels?

Uit onsself uit kom ons nooit so ver nie!

In die Dordtse Leerreëls erken ons dit eerlik (hoofstuk III/IV Art. 3): sondige mense "kan en wil nie tot God terugkeer of hulle verdorwe natuur verbeter of selfs maar onderneem om dit te verbeter nie".

U weet dit natuurlik: die Dordtse Leerreëls is geskrywe om die dwalings van die sogenaamde Remonstrante te weerlê. Daardie mense, en ons praat dan van die eerste vyftig jare na die groot Reformasie, het geleer dat 'n mens slegs deur 'n opregte geloof in God se Seun Christus van sy sondes gered word; maar dat daardie geloof jou eie vrye keuse is. Jy het 'n vrye wil om te besluit of jy Christus as jou Redder omhels, of dat jy Hom verwerp en in jou eie sondige bestaan wil aangaan.

U kan sulke geluide vandag nog orals hoor, sekerlik ook hier in Suid-Afrika. Ek dink byvoorbeeld aan die AGS en allerhande soortgelyke sektes. Hulle glo jy kan so ver kom dat jy sélf jou sondes raaksien en sélf besluit om daarmee te breek en 'n nuwe lewe in Christus te begin.

Kyk egter nog 'n bietjie in Sondag 7, gemeente. In antwoord 20 is die woorde sorgvuldig gekies: ons gee ons nie uit onsself in die geloof aan Christus oor nie. Nee, ons word by Hom ingelyf. Ons moet tot 'n oorgawe gebring word.

Dit moet God self doen. In antw. 21 van Sondag 7 lees u dan ook dat dit die Heilige Gees is wat die geloof in 'n mens se hart werk.

So leer die HERE dit self vir ons in sy Woord. Kyk byvoorbeeld 'n slag met my na Handelinge 16: 14: die apostel Paulus het as gevolg van 'n besondere beroep wat hy in 'n droom ontvang het ("Kom oor na Macedonië en help ons!"), in die stad Filippi aangekom. Op die eerste sabbat verkondig hy aan 'n aantal vroue die Evangelie van Jesus Christus en daar is een vrou, Lydia, 'n purperverkoopster uit die stad Thiatire, wat sy boodskap gelowig aanneem. Maar hoekom? Is sy slimmer as die ander vrouens? Het sy 'n meer godsdienstige inslag of so iets gehad?

Nee, "die Here het haar hart geopen", vertel die Skrif. Die Gees van die Here Jesus Christus het haar ontvanklik moes máák om Paulus se boodskap te aanvaar.

Paulus het self in sy brief aan die Efesiërs ook geskrywe dat geloof in die Here Jesus Christus as jou Verlosser nie iets is wat 'n mens self kan ontwikkel nie. Kyk Efes. 2: 8: selfs die geloof is nie uit julleself nie: "dit is 'n gawe van God".

Ons het dit ook in die eerste hoofstuk van Johannes se Evangeliebeskrywing gelees, vs. 13. Johannes het vertel dat baie mense God se Seun as die verlossende lig verwerp het. Maar daar is ook wat Hom aangeneem het, mense wat in sy Naam glo. Gewone mense van vlees en bloed sal egter nooit so ver kan kom nie. Daarvoor moet God self, deur die Heilige Gees, 'n nuwe lewe in jou verwek en 'n nuwe mens van jou maak.

Geloof moet deur God se Gees aan ons gegee word, broeders en susters.

En ons weet dat God se Gees nie aan álle mense die geloof, die oorgawe aan Christus gee nie. Hy gee dit net aan dié mense wat God daarvoor uitgekies het.

Slegs in hulle lewe bewerk Hy 'n berou oor en 'n afkeer van die sonde, 'n breuk met die lewe in die sonde en 'n nuwe lewe in Christus.

Baie mense het moeite met hierdie wete, dat God slegs 'n beperkte aantal mense uitgekies het om deur Christus van sy toorn gered te word en 'n nuwe lewe op 'n vernude aarde te beërwe. Waarom het God dan nie alle mense gekies nie? Is dit nie oneerlik van God nie?

Die HERE leer ons in sy Woord egter dat ons sulke "waaroms" nie mag vra nie.

Dink 'n bietjie daaraan hoedat die HERE Job met al sy opstandige vrae reggesien het: "Wil die berisper met die Almagtige twis? !"

En Paulus het in sy brief aan die Romeine (hoofstuk 9) hierdie pragtige voorbeeld gebruik: "Wie is jy, o mens, wat dit durf om vir God teë te praat? Die maaksel kan tog nie vir sy maker sê: Waarom het u my só gemaak nie? Of het die Pottebakker nie die mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot 'n eervolle gebruik, en die ander tot 'n oneervolle gebruik te maak nie? "

Ons is net nie in die posisie om vir die HERE verwyte te maak nie. Hy mag maak soos hy wil.

Ons moet liewer op 'n heeltemal ander manier "waarom? " vra. U weet tog dat God niemand sou veronreg het as dit sy wil was om die hele menslike geslag, dus ook u en my, in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie?

Met die erkenning begin die Dordtse Leerreëls, daardie pragtige belydenisskrif wat ons leer om op die regte manier oor God se verkiesing en verwerping te praat. U en ek, ons verdién almal die ewige dood, God se verterende vuur.

Maar u en ek, ons glo darem dat God nie net aan ander nie, maar ook aan ons uit loutere genade slegs op grond van die verdienste van Christus vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.

Waarom mag ons, u en ek, dit glo??

Of, met ander woorde, waarom het die Heilige Gees in óns harte hierdie geloof bewerk? Ons mag daaruit tog aflei dat God ook ons gekies en tot sy kinders aangeneem het? Maar waarom???

Wie so vra, soek geen rationele antwoord nie. Dié stamel slegs van verwondering.

En dít is die regte manier om oor die verkiesing van God te praat: vol dankbare verwondering oor die onverdiende genade wat God klaarblyklik ook aan jou bewys het.

3. Hierdie verkiesingsleer, met die oortuiging dat die Here self deur die Heilige Gees die oorgawe aan Christus in 'n mens moet bewerk, is en word dikwels misverstaan. Nie net deur mense wat opstandig daaronder raak nie.

Daar is ook mense wat die feit dat God se Gees jou die geloof moet ingee, berustend aanvaar. Maar hulle meen dat ons dus maar 'n afwagtende houding moet aanneem. Jy kan mos tog self niks daaraan doen nie. Dit moet jou ingegee word.

Jy sal maar moet wag of en tot dit God behaag om ook jou die geloof in Christus te skenk.

Maar wie so'n afwagtende houding aanneem, ignoreer die middel waardeur die Heilige Gees die geloof in Christus in ons harte bewerk.

Kyk wat sê Sondag 7: "deur die evangelie" werk die Heilige Gees die oorgawe aan Christus in ons.

God se Gees kom met God se Woord na ons toe. Die evangelie is die ene belofte dat daar vergewing van sondes en 'n nuwe lewe is deur Christus; 'n belofte wat met die eis gepaard gaan om ons van ons sonde te bekeer en in Hom te glo. En so, op dié wyse, maak die Gees ons hart ontvanklik om ons vol skuldbesef en vertroue aan Christus oor te gee.

Paulus noem in sy brief aan die Efesiërs dat die Heilige Gees die Woord van God soos 'n swaard hanteer. Daarmee dwing hy ons tot oorgawe en lyf Hy ons by Christus in.

So het dit by Lydia gegaan, daardie vrou wat as eerste tot geloof gekom het in Filippi. Ja, die Here het haar hart geopen. Maar hoe? Deur die prediking van die Christus uit die mond van Paulus.

En wanneer die apostel aan die gemeente te Efese skryf dat selfs die geloof 'n gawe van God is, het hy eerder geskrywe dat alles daarmee begin het dat hulle die woord van die waarheid, die evangelie van hulle redding, gehoor het. Kyk 1: 13.

So het die Heilige Gees tog ook ons lewe verower en aan Christus onderwerp, broeders en susters? Dit het tog alles met die Woord van God begin?

Daardie Woord, in die skool, in die preke, in die katkisasies, in persoonlike Bybelstudie was tog ook by ons die middel waardeur die Heilige Gees ons na Christus toe gedrywe het?

En moet maar 'n bietjie kyk in ons Doopsformulier, gemeente. Ons bid vir elke baba wat gedoop word, of die HERE daardie kind altyd met sy Heilige Gees wil regeer en dus tot geloof in Christus bring. Maar dan sê ons dadelik daarby: "... sodat dit christelik en godvresend opgevoed word... ". As ouers hul kind van kleinsaf die Woord van hul God leer hoor, en lees en glo, is die Gees van God al van kleinsaf met daardie kind besig.

Daarom is dít ook die eerste taak van die kerk in hierdie wêreld: sosiale en maatskaplike hulpverlening vanuit die kerk, opvang van swerwers en verslaafdes- dit alles is waardevol en nodig en dalk doen ons nog veels te min daaraan. Maar dit alles verloor sy waarde, as dit nie gedra word deur die eerste en belangrikste boodskap wat die HERE aan sy kerk toevertrou het nie: die prediking van die gekruisigde Christus as die Redder van almal wat in Hom glo.

Dié boodskap moet klink in die wêreld, met die eis tot bekering en geloof.

Die troue kerk van Christus was daarom ook altyd suinig op die evangelie wat aan haar toevertrou is. Sy het besef dat die suiwere verkondiging van die evangelie die eerste kenmerk van die ware kerk is.

Daarom het sy in die loop van die eeue ook gestry om die evangelie onvervals te bewaar. Hoe maklik kan eiesinnige gedagtes, subjektiewe opvattings ons die regte sig op Christus gaan beneem! Of twyfel en onsekerheid saai. Dis dié dat daar belydenisskrifte gegroei het, betroubare samevattings van God se Woord waarin dwaalleer ontmasker en weerlê is. Soos die 12 Artikels van die Apostoliese Geloofsbelydenis waarna in Sondag 7 verwys word, maar ook hierdie Heidelbergse Kategismus. Want die evangelie van Christus moet nie vir tweeërlei uitlegging vatbaar wees nie.

Wil u lewe, broeders en susters? Wil u deur Christus gered word van God se verterende toorn? Ignoreer dan nie die middel waardeur die Heilige Gees u by Christus wil inlyf. Maar hoor na dit wat die Gees tot die gemeente van God sê. Moenie dink dit was genoeg dat u eendag openbare geloofsbelydenis gedoen het nie. Maar bly besig met die aanhoor, die lees en oordenking van die evangelie Ken en gebruik die kerk se belydenisskrifte. Daarin word Christus telkens opnuut aan u voorgehou met die eis tot bekering en geloof. Kom daardeur ook elke dag opnuut tot bekering en geloof!

En prys dan God se verkiesende genade oor ook u lewe!

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)