Die ware geloof is om Jesus Christus as Redder te omhels

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 7
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 7 HK

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 100: 1, 3, 4
Wetslesing
Ps. 100: 2
Gebed
L. Heb 10: 19-39
Sondag 7 HK
Gesonge geloofsbelydenis
Prediking
Ps. 9: 7
Gebed
Kollekte
Ps. 119: 19, 22, 52
Seën

Broeders en susters,

In vanoggend se preek gaan dit dus oor 'n baie belangrike saak: ons geloof.

U weet almal hoé belangrik die geloof is. Slegs dié wat glo, sal nie verlore gaan nie maar sal die ewige lewe hê. Wie nie glo nie, is reeds veroordeel.

Die Kategismus maak dit hier in Sondag 7 ook direk in die eerste vraag en antwoord duidelik: dis nie so dat almal nou sommer weer deur Christus salig word soos hulle deur Adam verlore gegaan het nie. God verleen nie danksy Christus se kruisdood op Golgota 'n algemene amnestie aan alle sondaars nie.

Die Switserse teoloog Karl Barth het wel so geleer. En daar is steeds leerlinge van hom wat dit beweer. Hulle predik 'n Al-versoening vanweë Christus se offer vir die sondes. Heilsuniversalisme word hierdie dwaling daarom genoem: volgens hulle is die heil, die verlossing van die sonde, nou universeel, vir almal. Almal is klaar verlos deur Christus. Daarom is Evangelieprediking met die oproep tot geloof en bekering volgens hullle eintlik nie meer nodig nie. Laat die kerk liewer konsentreer op ontwikkelingshulp, laat die kerk hom beywer vir meer politieke en sosiale geregtigheid.

Dit is egter 'n raaisel hoe hulle hierdie opvatting kan rym met God se Woord. Daarin word dit mos heel anders geleer. Slegs die wat met 'n ware geloof Christus en al sy weldade aanneem, word deur Hom salig.

Maar daarom is vir óns die vraag baie belangrik: wat ís 'n wáre geloof?

Daar is so veel mense wat sê dat hulle glo. Wanneer is jou geloof eg, wanneer mag jy seker wees dat jou geloof jou red?

Dit was regdeur die kerkgeskiedenis 'n probleem vir God se kinders, gemeente.

Daar is in die verlede wel allerlei onderskeidings gemaak om die mense vir 'n verkeerde soort geloof te bewaar. Hulle het gepraat van 'n historiese geloof: dit is as mense maar net aanvaar dat dit wat die Bybel vertel, histories wel waar sal wees, maar hulle daardeur nie op hul knieë voor God laat bring nie; 'n ander verkeerde soort geloof was tydgeloof: dit het maar net vir 'n tydjie geduur en baie oppervlakkig gebly; dan was daar volgens hulle die wondergeloof: waarby mense wel onder die indruk was van die wonders wat Jesus gedoen het, miskien self in sy Naam ook wel wonders gedoen het, maar nie deur Jesus se Wóórd geraak is nie.

Die egte geloof is hierteenoor die saligmakende geloof genoem.

U sal verstaan: sulke onderskeidings was bedoel om te waarsku. Is jou geloof wel die egte, saligmakende geloof? Maar u weet waarskynlik ook wel dat sulke onderskeidings by baie opregte kinders van God 'n groot twyfel en onsekerheid veroorsaak het. Veral as daar elke keer weer die ernstige vermaning in hul ore geklink het dat hulle moes oppas om nie met 'n ingebeelde hemel hel toe te gaan nie! Want wanneer mag 'n mens nou seker weet dat jou geloof die egte geloof is?

'n Soortgelyke onsekerheid word deur die Pinkstergroepe soos die AGS vandag gesaai. Ons seuns en dogter kan daarmee in aanraking kom in die hoërskool. Ons kan vir hulle wel sê dat ons regtig glo in die Here Jesus Christus en in sy versoeningswerk vir ons; maar dit is vir hulle nie genoeg nie. Hulle betwyfel of ons geloof die egte geloof is. Die egte geloof moet mos daarin blyk dat die Heilige Gees oor jou kom. Jy kan eers weet dat jou geloof eg is as jy in tale kan praat en kragte van genesing en so meer kan verrig.

Ons almal weet dat ons moét glo. Maar vir baie mense is dit maar 'n probleem hoe om op die regte manier te glo. Ook vir Gereformeerde mense.

Dit het onlangs nog weer geblyk toe studente in ons Nederlandse susterkerke hul jaarlikse Paaskongres gehou het. Hulle wou besin oor wat deesdae "Godsverduistering" genoem word: die probleem dat baie mense, ook Christene, God se nabyheid nie meer ervaar nie.

Volgens hul kongresbundel worstel ook Gereformeerde studente met daardie probleem. "Kan 'n mens wel egte omgang met God hê? ", vra die een student. 'n Ander een sê kliphard: "'n Direkte kontak met God - ek wonder of dit ooit daar was, maar dalk het ons nou eers agtergekom dat dit nie daar is nie". Hulle sê: "Ons glo nie meer nie, ons aanvaar maar net 'n klompie dogmas. Geloof is iets wat 'n mens moet doén, dit is 'n lewenskuns. Maar dit bly maar bra moeilik, ek sukkel maar altyd om met God kontak te maak. Ons kry dit maar moeilik reg om 'n vertroulike relasie met God te kry".

Dalk skrik u, net soos ek, van sulke uitsprake, broeders en susters. Maar moenie dink dat derglike vrae en twyfels net by die jongmense in Nederland voorkom nie. Ons eie jeug kan met dieselfde probleme worstel: Hoe moet 'n mens glo? Wanneer weet jy dat jou geloof reg is?

En ken u sélf nooit daardie soort vrae nie?

Laat hierdie preek u dan mag help om van sulke vrae ontslae te raak en weer met 'n blye en oortuigde hart te kan glo.

Want ek verkondig u vanoggend:

DIE WARE GELOOF IS OM JESUS CHRISTUS AS REDDER TE OMHELS

EN EK SAL VIR U WYS DAT VIR SO 'N GELOOF DRIE DINGE NODIG IS:

  1. 'N OOP HART
  2. 'N OOP OOR
  3. 'N OOP MOND

1. Ja, die ware geloof is, dat 'n mens Jesus Christus as Redder omhels. Dit is nie my eie omskrywing nie. So bely ons dit saam in Art 22 van die NGB.

Daardie uitdrukking maak al direk duidelik dat geloof baie meer is as net die aanvaarding van 'n klompie dogmas. Geloof is baie meer as dat 'n mens net 'n aantal waarhede moet leer en begryp. Geloof is nie dat jy jou uitlewer aan 'n opvatting nie. Geloof is dat jy jou uitlewer aan 'n Persoon: aan God se Seun Jesus Christus wat ook jou Redder wil wees.

As die NGB praat van Jesus Christus omhels, mag ons dink aan 'n lewendige liefdesverhouding tussen Christus en ons. Ons het Hom lief met ons hele hart en gee ons vol vertroue met liggaam en siel aan Hom oor. So praat die Bybel ook wel oor ons relasie met die Here Jesus. Hy word die Bruidegom genoem en ons die bruid. En vier ons aan die nagmaalstafel nie die gemeenskap met Christus nie? As ons die brood eet en die wyn drink as simbole van sy gekruisigde liggaam en bloed, en Hom so as 't ware in ons opneem, omhels ons daar baie konkreet ons hemelse Bruidegom. En dan is dit: Hy in ons en ons in Hom.

Tog moet ons versigtig bly met hierdie beeldspraak. Die Christelike Mistiek het in die verlede naamlik heeltemal ontspoor daarmee. Volgens die Mistiek moes elke Christen strewe na so 'n innige vereniging met God en met Christus dat die mens heeltemal opgaan in God. En dat God in hom opgaan! Daarby het Christene dan in opperste verrukking allerhande intieme liefdeswoordjies gestamel, maar in der waarheid baie platvloers en oneerbiedig teenoor ons God en Heiland geraak.

Dít bedoel ons belydenis glad nie as gesê word dat die ware geloof Christus en al sy verdienstes omhels nie.

Ons moet eerder dink aan mense wat, nadat hulle ternouernood aan die dood ontruk is, hul redder om die hals val. Soos mynwerkers wat deur 'n aardskudding in 'n mynskag vasgekeer was, sonder kos en sonder water, en eers na dae uit hul benarde posisie bevry word, uitgeput en huilend hul redders in die arms val.

Só kan, en moet, ons Jesus wat ons ternouernood van die ewige dood gered het, in die arms val.

Laat ek dit vir u nog 'n bietjie duideliker maak met gebruikmaking van die gedeelte wat ons uit die brief aan die Hebreërs gelees het, hoofstuk 10.

In daardie gedeelte herinner die briefskrywer aan die reddingswerk wat Christus vir ons gedoen het.

Jesus is die Redder wat ons uit die mynskag van die sonde waarin ons vasgekeer was, kom uithaal het om ons na ons God en na die lewe by Hom weer te bring.

Daarvoor moes Hy deur 'n geweldige hindernis heen breek.

Dit staan in Heb 10: 20 baie opvallend: Christus het die pad na God toe oopgebreek "deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees".

Met daardie "voorhangsel" herinner die skrywer van die Hebreërbrief aan die "verbode toegang - gordyn" in die Ou-testamentiese heiligdom, met dreigende engele daarop, wat die toegang na God toe vir enige mens afgesluit het en die lewe onbereikbaar gemaak het.

Daardie voorhangsel was natuurlik maar net 'n simbool. Die eintlike belemmering wat die mense gekeer het om by God te wees, was natuurlik die sonde. Dit het soos 'n sware gordyn tussen God en sy volk gehang. Dit het as 'n enorme rotsblok die weg na die lewe afgesluit.

Maar toe het Christus, as die beter Hoëpriester, al ons sondes as 't ware in Homself saamgetrek. Hy het Homself, Hy het sy vlees tot sonde laat maak. En sodoende het sy geseënde liggaam die groot hindernis geword wat weggedoen, die gordyn wat stukkend geskeur, die rotsblok wat opgeblaas moes om vir ons die pad na God en na die lewe terug weer oop te maak.

En Christus hét Homself laat verskeur. Hy het aan die kruis in sy eie liggaam al ons sondes vir eens en vir altyd opgeblaas en tussen ons en God opgeruim.

Van dié oomblik af het vir ons die pad uit die mynskag van die dood na die lewe, na die Gód van die lewe terug, weer oopgelê.

God het dit Self laat weet deur die egte voorhangsel in die tempel te Jerusalem op daardie selfde oomblik eiehandig van bo tot onder middeldeur te skeur.

Ons mag, danksy Christus, uit die duisternis van die dood in die lewenslig stap.

En wat is nou geloof, broeders en susters?

Dat ons nie in die donker mynskag bly staan, of lê nie, maar die reddende hand wat Hy vanaf sy opstanding uit die dood na ons toe uitsteek, beetgryp en ons deur Hom in die lig, in die lewe terug láát trek. Ja, dat ons nie onverskillig op 'n afstand bly staan en toekyk nie - so maak alleen mense wat steeds nie besef in watter benarde omstandighede hulle verkeer nie; so maak mense wat al so gewoond geraak het aan die lewe sonder God dat hulle die duisternis verkies bo die lig en die dood, die ewige dood bo die lewe! Ons weet van beter. Daarom moet ons hierdie Redder, wat vandag lééf, ontroerd om die hals val en so aan Hom vasklou dat ons Hom nooit weer wil loslaat nie. Omdat ons sonder Hom nooit meer kan lewe nie.

Ons moet ook nie bang en skaam bly terugstaan nie, bang omdat ons maar alte goed weet dat ons sélf die aardskudding waardeur ons van die lewe afgesny is, veroorsaak het; bang dat God ons skuld so groot sal vind dat Hy ons nie meer voor sy heilige oë kan verdra nie.

U weet, daar is baie mense wat so bang vir God is dat hulle nie weet of ook húlle Christus wel as hul Redder mag omhels nie. Hulle wíl graag glo, en Christus se reddende hand gryp. Maar mág hulle glo? ! Mag hulle sy hand gryp?

Sal hulle nie met 'n ingebeelde hemel tog hel toe gaan nie? !

Kyk dan wat die skrywer van die Hebreërbrief skryf (vs22): "Laat ons toetree, met 'n waaragtige hart" - dit is: 'n opregte hart waarmee ons eerlik voor God bely hoe skuldig ons is, sonder om iets weg te steek.

Maar dan mág ons ook, almal, toetree, in die lig tree, "in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van 'n slegte gewete... " By die besprenkeling met die doopwater het God dit al aan ons belowe: Ek wéét jy is skuldig. Maar Ek vergewe jou en aanvaar jou weer as My kind. Kom maar! En daarom hoef ons nie 'n slegte gewete te hou nie. Die skuld is opgeruim, opgeblaas soos 'n rotsblok toe Christus vir ons gesterf het.

Daarom het ons, sien ook vs19, "vrymoedigheid" om agter Jesus aan die lewe weer tegemoet te gaan. Jesus self roep u mos!

Dit is geloof: jou deur Christus laat saamneem terug na die lewe by Vader toe.

Christus kén as Redder en wéét wat Hy vir ons gedoen het. Maar jou daarom ook aan hierdie lewende Verlosser persoonlik oorgee. Jou lot in sy hande lê. Elke dag, as u uself deur u eie skuld opnuut vasgekeer het in 'n sondige lewe, Hom as Redder te hulp roep en opnuut in sy arms val.

Geloof is: vertrou dat Hy telkens opnuut die weg na God terug vir u oopmaak.

Geloof is: by Hom die hulp soek om teen die sonde te stry en om by Vader in die lig te kan bly.

Dít is die ware geloof.

U sal nou verstaan waarom ek sopas gesê het dat daar vir 'n egte geloof 'n oop hart nodig is. Om Christus as Redder te kan omhels - daarvoor is tog allereers 'n hart nodig wat vol dankbaarheid oopgegaan het onder die liefde en selfopoffering wat Hy vir ons bewys het.

Dus kan 'n ware geloof ook nooit 'n saak van die verstand alleen bly nie. 'n Egte geloof is baie meer as die aanvaarding van 'n klomp feite wat in die Bybel staan. Geloof raak ook die gevoel van 'n mens, die vervul jou met blydskap, dit maak 'n lied los op jou lippe. Geloof is: jy het Christus in jou hart gesluit en jy kan geen dag meer sonder Hom lewe nie. Maar saam met Hom durf jy elke dag te lewe en kan jy selfs die moeilikste dae deurkom.

2. Maar hoe kom 'n mens so ver dat jou hart vir Christus oopgaan en jy Hom persoonlik as ook jou Redder omhels, broeders en susters?

Met dié vraag worstel baie mense, al stem hulle ook ten volle saam met wat ek tot dusver gesê het.

Ons kan Christus mos nie sién nie. Hoe kan ons 'n lewende, persoonlik band kry met Iemand wat ons nog nooit gesien het nie en aan wie se bestaan ons dikwels twyfel?

Daar is mense wat hierdie vrae beantwoord deur te sê: Geloof moet aan 'n mens gegéé word. Jy kan self niks daaraan doen nie. Die Heilige Gees moet jou hart oopmaak vir Christus en jou so ver bring dat jy Hom ook as jou Redder aanvaar.

Jy moet eenvoudig wag tot dit die Gees behaag om ook in jou die ware geloof te werk.

Dié wat so sê is op 'n manier wel reg. Dit is inderdaad God se eie werk as 'n mens se hart in liefde en dankbaarheid vir Christus oopgaan. Ons lees byv. in die Bybel (Hand 16: 14) van 'n sekere Lydia in die stad Filippi dat die Here haar hart oopgemaak het en dat sy dáárom in geloof Christus as haar Redder omhels het.

Ons weet ook dat God se Heilige Gees nie by alle mense die hart vir Christus oopmaak nie. Daar is geen al-versoening, het ek in die begin van hierdie preek gesê: alle mense kry nie sommer, ook sonder geloof, danksy Christus die lewe terug nie.

Maar daar is selfs geen algemene versoening nie. Ons bedoel daarmee in die Gereformeerde geloofsleer: dis ook nie so dat alle mense wel die kans kry om deur Christus gered te word, dat Christus wel na almal sy hande uitsteek nie, en dat dit dus heeltemal van die mens se eie geloof afhang of hy daardie reddende hand ook beetgryp of nie.

Nee, daar is by God verkiesing en verwerping. En slegs na die wat God in sy vrye welbehae gekiés het, steek Christus sy reddende hand uit.

God moet eers self ons oë oopmaak vir die ellendige posisie waarin ons deur ons eie skuld tereggekom het. En eers dan kan ons Christus se hand gryp en ons laat red.

Ek kan daar vanoggend nie veel van sê nie; ek het dit trouens al dikwels in ander preke gedoen.

Maar beteken dit nou dat ons dus maar vol spanning en angs moet afwag of God ook eendag na ons toe wil kom en sy arms vir ons oophou?

Nee, baie beslis nie.

Want God hét lankal reddend na u toe gekom. Hy steek op hierdie einste oomblik sy hande na u uit!

God kom naamlik persoonlik na die mens toe met sy Woord. Hy spreek ons aan. En só steek Hy sy hand na ons uit.

Sondag 7 van die Kategismus beklemtoon dit ook: hoe werk die Heilige Gees die geloof in my? Ant. 21: "deur die evangelie".

In die Bybel praat God met ons deur die Heilige Gees. Persoonlik. Nog steeds.

Dit is nie alleen so dat die Heilige Gees vroeër, toe die bybelboeke geskryf is, die skrywers geïnspireer het om God se woorde vas te lê nie. Dit is ook so dat die Heilige Gees nog steeds daardie destyds opgeskrewe woorde gebruik om vandag met ons te praat. Kyk byv. nog maar 'n keer in Heb 10. Daar staan in vs 15, vlak bo die gedeelte wat ons saam gelees het, dat die Heilige Gees deur iets wat die profeet Jeremia eendag opgeskrywe het, vandag nog "aan ons getuienis gee" - "gee", teenwoordige tyd!

So dikwels as wat die Evangelie tot mense klink, is Christus Self daar persoonlik aanwesig om verlore sondaars in sy arms te sluit. En só maak die Heilige Gees deur die evangelie die harte van mense oop vir Christus om Hom as hul Redder te omhels.

Dus, gemeente, is daar vir 'n ware geloof allereers 'n oop oor nodig.

U moet u ore vir die evangelie oopmaak. Dan sal ook u hart vanself vir Christus oopgaan.

U moet hier in die kerk wees onder die prediking van die evangelie.

Dit is nie toevallig dat die skrywer van die Hebreërs in daardie gedeelte wat ons saam gelees het, nadat hy ons aangespoor het om ons vrymoedig deur Christus na die lewe met God te laat saamneem, amper in een asem toevoeg: "en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim nie... " Daar, in die gesamentlike eredienste, kom Christus mos konkreet as Redder na ons toe.

Een of twee preke per week is origens nie genoeg om u hart vir Christus oop te hou nie, broeders en susters. Sommige mense dink wel so. Dan sê hulle: ek hoop, dominee hou 'n goeie preek, want ons moet weer 'n hele week daar op teer.

Maar dis nie so nie! Die prediking van die evangelie vorm maar net die begin elke week. Kyk wat sê die Dordtse Leerreëls in hoofstuk 5, art 14: "Dit het God behaag om sy Goddelike genadewerk deur middel van die verkondiging van die evangelie in ons te begin. So bewaar Hy dit, sit Hy dit voort en voleindig Hy dit deur die aanhoor, die lees en die oordenking van die Evangelie, deur die aansporing, vermanings en beloftes daarin en ook deru die gebruik van die sakramente".

Regdeur die week moet u dus met God se Woord besig bly. Oop ore vir sy Woord hê. Saam en vir u self lees, studeer, oordenk. Mekaar aanspoor. En nooit so dwaas wees om te dink dat u al genoeg van die Bybel weet en daarom daardie intensiewe luister na God se Woord nie meer so nodig het nie.

Dáár begin naamlik meestal die eerste probleme met die geloof! As jongmense na hul katkisasiejare gemaksugtig raak in hul persoonlike lees van die Bybel. As hulle ontrou word in die gesamentlike luister na die evangelie in die jeugverenigings. As hulle hul ore in die kerk Sondags nie meer oophou vir die preke nie. Dan word die preke 'n klomp dogmas vir hulle. En die geloof die aanvaarding van 'n aantal waarhede. Maar hulle sien Christus Self nie meer nie. En dus voél hulle ook geen blydskap en ontroering meer nie. Hul lewe het leeg geword.

En dit geld nie net van jongmense nie. Dit geld ewe goed van al die mans wat te besig is om nog tyd oop te hou vir 'n gereelde en meer diepgaande Skrifstudie.

Sou daar ook nie een van die oorsake lê van die twyfels en probleme by daardie Gereformeerde studente in Nederland nie: dat hulle het Christus Self nie meer deur die Heilige Gees hoor praat in die Bybel nie? Waarskynlik was benadering en hul besigwees met die evangelie nie meer reg nie. Dan kan jy miskien 'n slim student wees, wat tydens kongresse kritiese en logiese vrae kan vra, maar sal jy tog eers weer eenvoudig moet leer om soos 'n kind na die Skrif te luister.

Die wat 'n meer persoonlike en lewendige omgang met God en Christus soek, moet by 'n meer persoonlike en lewendige omgang met die Wóórd van God en Christus begin!

3. Ek het by die samevatting van my boodskap gesê dat vir die ware geloof tenslotte ook 'n oop mond nodig is. Ek wonder of u verstaan het wat ek daarmee bedoel.

Ek bedoel dit: as ons hart vir Christus oopgegaan het omdat ons ore vir Christus oopstaan, moet soos vanself ook ons mond oopgaan. En waar die hart van vol is, sal die mond van oorloop. Dan word ons geloof soos vanself 'n geloofsbelydenis.

Ja, tot die egte geloof behoort ook die geloofsbelydenis.

'n Geloofsbelydenis is 'n samevatting in eie woorde van dit wat ons eers van God gehoor het. Ons het 'n hele paar van sulke belydenisse, wat skriftelik vasgelê is.

Dit is ons reaksie op God se liefde in Christus vir ons; allereers in die rigting van God self. Daarmee sê ons ons blydskap en dankbaarheid uit aan sy adres.

Maar so 'n geloofsbelydenis het ook betekenis vir ons onder mekaar.

Ons moet mos nie net elkeen vir homself Christus as Redder omhels nie, ons moet ons ook sáám deur Hom laat verlos. Hy wil ons saam uit die duisternis van die sonde saamneem na die lig by sy Vader toe.

Die Kategismus gebruik hier in Sondag 7 'n sterke uitdrukking: ons word deur die geloof by Christus ingelyf. Ons vorm nou saam as 't ware een liggaam rondom Christus.

Maar dan moet ons saam ook práát oor dieselfde Verlosser. Ons moet saamsing oor sy verlossingswerk. Ons moet mekaar versterk in die geloof, mekaar aanspoor om tot Christus te vlug, mekaar terugroep as iemand dreig om terug te gly in die afgrond van die sonde.

Maar daarvoor is dit ook nodig dat ons saamstem oor Christus se verlossingswerk. Daarom vervul ons geloofsbelydenis ook 'n belangrike rol om die eenheid van dieselfde geloof te bewaar. Ons geloof moet algemeen bly: almal moet dieselfde glo. Die geloof moet ongetwyfeld bly: niemand mag hieraan twyfel nie. Ons gesamenlike geloofsbelydenis vorm daarom tegelyk 'n sterke verdedigingswal teen allerhande dwalings wat ons gemeenskaplike geloof wil ondermyn.

Ons geloofsbelydenis is tenslotte ook 'n middel waarmee ons mense wat Christus nog nie ken nie, na Hom toe kan roep. Hiermee gee ons hulle 'n eerste houvas aan die Bybel.

Laat daarom elkeen wat worstel met sy eie geloof, wat twyfel of sy geloof wel 'n egte geloof is, of geloof wel 'n egte band met Christus totstandbring, ons geloofsbelydenisse weereens aandagtig gaan lees!

Mense wat vrae mbt die geloof gekry het, wat vol twyfels geraak het, sê ook dikwels dat ons vandag behoefte het aan nuwe geloofspapiere. Ons kan tog vandag nie meer volstaan met geloofsbelydenisse van eeue terug nie??

Maar, broeders en susters, Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid, sê die skrywer van die brief aan die Hebreërs in hoofstuk 13. Daarom is die Bybel nog steeds dieselfde. En daarom kan ons vandag nie eintlik iets nuuts en ietsanders oor Hom sê as ons broeders en susters van 4 eeue terug in hul geloofsbelydenisse nie. Dit wat toe gesê is, was en is genoeg om Christus te ken en lief te hê en om ons lewe in sy hande te lê.

As ons maar ons ore regtig vir die Bybel oophou, sal ons dit die kerk van die verlede in die hede nasê: "Ons glo almal met die hart en bely met die mond... "

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)