God wil vir sekere mense die geloof skenk

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 7
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 7 H.K.

LITURGIE:

L. Hebr.10:19-39

Ps.111:1,4 Ps.111:5 Ps.119:19,26,52 Ps. 9:1,7 Ps. 2:6

Broeders en susters,

"Salig word" en "verdoem wees"/"verlore gaan"- hierdie twee swaar uitdrukkings sit die Kategismus in Sondag 7 teenoor mekaar.

En dit is nie maar net swaar uitdrukkings nie- dit is ook swaar sake, van beslissende betekenis vir enige mens.

Want elke mens staan voor die keuse tussen hierdie twee. En daar is geen tussenweg nie. Dit is "salig word" of "verdoem wees"; gered word of verlore gaan, ewig lewe of vir ewig dood wees. En tussen hierdie twee gaap 'n diep en onoorbrugbare kloof.

"Salig word" of "verdoem wees"- deur hierdie twee gaan die paaie van die mense vir ewig uit mekaar en die eindpunt van albei die paaie lê ewig ver van mekaar verwyder: die een pad kom in die hemel uit, die ander een in die hel.

Want God het 'n kruis op hierdie aarde geplaas, en daaraan sy eie Seun opgehang as 'n versoening van ons sondes. Maar daarmee het God hierdie kruis ook tot 'n kruispunt gemaak, waar die paaie van die mense beslissend uit mekaar gaan. By hierdie kruis val nou vir elke mens die beslissing oor "salig word" of "verdoemd wees".

Hierdie kruis stel elke mens vir die keuse. Hierdie kruis bring die krisis in die wêreld.

So spreek die HERE daaroor in sy Woord. Hy het sy Seun gestuur tot 'n val en 'n opstanding, tot 'n rots waarop jy kan bou en terselfdertyd tot 'n rots waarop jy jou te pletter kan loop. Wie

in Hom glo, word nie veroordeel nie, wie nie glo nie is alreeds veroordeel. Want die saligheid vir sondaars het God in die hande van sy Seun gelê, en wie dit nou uit sy` hande nie wil aanneem nie gaan vir ewig verlore.

Dit is die erns wat die Kategismus in Sondag 7 vir ons uit God se Woord opgevang en saamgevat het en wat ek aan u moet voorhou.

Ek bedien u God se Woord soos volg saamgevat:

SLEGS DEUR DIE GELOOF IN CHRISTUS SKENK GOD AAN VERLORE SONDAARS SALIGHEID.

Ons sal aandag gee aan drie aspekte van hierdie geloof:

1. die geloofsvertroue

2. die geloofskennis

3. die geloofsbelydenis.

1. Christus se offer vir ons sondes het nie die groot begenadiging van alle mense ingelui nie, gemeente. Daar volg op die erfsonde wat Adam veroorsaak het nie die erfgenade deur Christus nie. Want genade is geen erfgoed nie. Genade is 'n onverdiende geskenk wat 'n mens verwonderd by God moet kom haal en anders sal hy dit nie kry nie.

Sondag 7 sny by ons elke verkeerde verwachting wat ons dalk na sondag 6 kon gekry het, direk af.

God hèt 'n Middelaar gegee om ons skuld by Hom te versoen. God het, toe die losprys vir ons sondes vir ons onbetaalbaar geblyk het, sy eie Seun diè prys laat betaal om vir ons die lewe terug te verdien. Christus het die Hoëpriester geword wat sy eie bloed aan God geoffer het om ons skuld by God vir altyd uit te delg. En hierdie offer was van són oneindige krag en waarde, bely ons in die tweede hoofstuk van die Dordtse Leerreëls, dat dit oorvloedig genoeg is om die sondes van die hele wêreld te versoen.

Maar nogtans wòrd nie die sondes van die hele wêreld, van alle mense hierdeur versoen nie!

Christus se offer beteken geen al-versoening, waardeur elke mens op aarde outomaties, of hy dit self weet of nie, gered word nie.

Hierdie gedagte het wel gedurigdeur kop uitgesteek, en veral in

die moderne teologie word dit weer geleer, op són wyse dat 'n verkondiging van die evangelie met bevel van geloof en bekering nie meer noodsaaklik geag word nie. Elke mens is mos in prinsipe alreeds gered! Sending kan daarom ontwikkelingshulp word en evangelisasie kan deur 'n dialoog, 'n oop tweegesprek, vervang word.

Maar God self leer ons anders: Hy vra geloof en bekering. En alleen wie glo word gered.

Die brief aan die Hebreërs, waarin so uitvoerig oor Christus se unieke Middelaarskap en sy afdoende offer vir ons skuld geskrywe is, druk dit so uit, dat ons nou ook moet "toetreë en "ingaan in die hemelse heiligdom".

Daar lê weer 'n pad na God terug oop.

Die pad was geblokkeer. Onsself het deur die sonde daardie pad opgebreek. En soos geen mens in die heiligdom op aarde mog ingaan nie -die voorhangsel het mos as 'n "verbode toegang"-gordyn elke sondaar gekeer-, so mog ook geen mens meer by God in sy hemelse heiligdom kom nie.

Maar soos die hoëpriester eenmaal in die jaar tog die pad gebaan het deur die voorhangsel heen en die genade en versoening by God met bloed gekoop het, so het Christus met sy eie bloed 'n nuwe en lewende weg na God in die hemelse heiligdom ingewy.

Hebr.10:20 sê: Christus het hierdie nuwe pad deur "die voorhangsel van sy vlees" gebaan. Die gordyn in die tempel was maar 'n simbool. Maar die feitlike verhindering om nog ooit weer tot God te kan nader, was ons sondes. En toe het Christus al ons sondes na Hom toe gehaal en in sy eie liggaam, sy vlees saamgetrek. En so het sy geseënde liggaam die groot obstakel geword wat opgeruim moes word, stukgeskeur moes word om die pad na God toe weer oop te maak. En Hy hèt Homself laat verskeur, vernietig.

Toe God met sy eie hande op die Goeie Vrydag in die tempel die voorhangsel van bo tot onder in twee geskeur het, was dit omdat Hy eers die vlees van sy Seun, ja ons sondes in Hom, stukkend geskeur het. Daardie geskeurde voorhangsel in die tempel was die teken van God self dat die pad na Hom toe voortaan weer oop is. Ten spyte van al ons sondes. Danksy die dood van sy Seun.

Maar nou sê Hebr.10 dus: "laat ons nou ook toetree!"

Die pad is gebaan, die belemmering van 'n voorhangsel weggeneem. Daar is geen bordjie met "verbode toegang" meer, danksy die groot Priester Christus- laat ons die pad na God nou dan ook loop.

Ja, God vra dat ons hierdie pad wat sy Seun ingewy het met sy eie bloed, nou ook loop, broeders en susters.

Dit is geloof: dat ons die pad na Hom terug gaan, noudat ons hierdie pad màg teruggaan. Dat ons Hom nou ook weer soek as ons God en Vader.

Want hierdie pad is vir ons geen maklike pad nie. Wie hierdie pad kies, moet daarmee sy groot skuld teenoor die HERE erken. Hy moet ook sy eie magteloosheid om die lewe met die HERE terug te verdien, erken. Klein en skuldbewus keer hy na die HERE weer.

Eiewyse, hoogmoedige, selfversekerde mense sal hierdie pad dan ook nie kan loop nie. Want ons moet ons voor God verootmoedig.

Die brief aan die Hebreër het al eerder, in hoofstuk 4:16, ons opgewek om die pad wat Christus gebaan het, te loop; en toe is hierdie uitdrukkings gebruik: Laat ons na die "troon van genadë gaan, sodat ons "barmhartigheid" kan verkry en "genadë vind om, op die regte tyd gehelp te word.

Almal woorde wat ons klein maak, ja, verneder! Ons wat die dood verdien, moet om genade smeek. Die HERE moet ons barmhartigheid betoon.

Alleen wie so die pad na God terug soek, sal barmhartigheid by God vind en weer as kind aangeneem word.

Want dan mag ons die pad na God terug tog vrymoedig loop.

Ja, dis die eienaardige ding van geloof, gemeente: geloof maak jou eers skuldbewus, soseer dat jy jou wegskaam voor God, en dan gee dieselfde geloof jou die volle vrymoedigheid om nogtans voor sy troon te verskyn. Ons durf enersyds God nie meer reguit in die oë te kyk nie, maar andersyds nader ons tog vrymoedig voor sy aangesig. Ons het 'n slegte gewete, en terselfdertyd kom ons met 'n vry en goeie gewete.

Maar dit het ons dan ook alleen aan ons Here Jesus Christus te danke.

Die brief aan die Hebreërs gebruik die woord "vrymoedigheid" 'n hele aantal kere. Maar hierdie woord beteken hier meer as maar

net 'n rustig gevoel in jou. Vrymoedigheid is allereers iets buite jou, wat jou són rustige gevoel gee. Dis hoekom die skrywer in hoofstuk 10:35 ook kan skryf dat ons ons vrymoedigheid nie moet "wegwerp" nie.

Ons sou die woordjie "vrymoedigheid" in die brief aan die Hebreërs kan omskrywe met: "vergunning", "toegangsbewys".

As ons ons op 'n terrein bevind waar 'n mens alleen met 'n vergunning mag kom, en daar verskyn skielik 'n beampte wat ons vra of ons wel die reg het om hier te wees, dan sal ons baie onseker wees as ons nie 'n toegangsbewys kan toon nie. Maar as as són skriftelike vergunning saamgeneem het, sal ons met volle vrymoedigheid daardie beampte te woord staan.

Om as 'n sondige mens voor God se troon te mag nader, benodig ons ook són vergunning.

Daar is nog altyd 'n "verbode toegang"-gordyn. Alleen as ons 'n toegangsbewys het, gaan daardie gordyn opsy.

Maar ons het són vergunning! Christus het dit met sy bloed vir my gekoop. En Hy het in my doop my die vergunningsbewy`s gegee.

Die doop is die tasbare bewys dat ek by Hom behoort. Hy het eers een met ons geword, 'n mens soos ons, en noudat Hy ons skuld versoen het, mag ons een met Hom wees. Soos Hy ons in die tweede, extra toegangsbewys, die nagmaal, ook verseker: Hy in ons en ons in Hom. Die Kategismus gebruik daarvoor in navolging van die Bybel, 'n sterk woord, gemeente, wat ons ook in ons Doopsformulier terugvind: ons word deur die geloof by Christus "ingelyf".

Feitlik is Christus dus self my vergunnig om tot God te nader. Hy staan by die "verbode toegang"-gordyn om dit vir my opsy te skuif. Soos Hy as vir sy dissipels gesê het: "Ek is die weg. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie."

Hy is ons vrymoedigheid, broeders en susters. En Hy gee ons innerlike vrymoedigheid. Hy het my slegte gewete, die besef dat ek skuldig staan teenoor God, skoon en gee my die vrye gewete dat ek nog maar een ding besef, naamlik dat Hy ons skuld versoen het.

En in daardie vertrouwe mag ek vrymoedig toetree, in volle geloofsversekerdheid. God sal my nie wegja nie. Maar om Christus ontwil sal Hy my weer ontvang soos 'n Vader sy kind.

Broeders en susters, die pad na Vader toe lê danksy Christus weer oop. Maar u sal die pad wel moet loop. U ontvang die saligheid nie soos vanself nie. U sal dit moet kom haal.

Maar haal dit nou dan ook! Skuldbewus en nogtans met vrymoedigheid. U saligheid hang daarvan af!

As u maar net u toegangsbewys bly gebruik. As u maar u sekerheid buite uself in Christus soek, Hom en sy verdienstes omhels.

Ons kan God se troon vandag nog nie sien nie, en ons kan Christus nie meer sien nie. En vergewing van sondes, die kan dit aanwys?

Maar moenie aan u vergunning twyfel nie. Moet eenvoudig glo!

Want Hy wat dit beloof het, is getrou.

2. Són geloof kan alleen die Heilige Gees in ons harte werk. Ek weet dit. Die Kategismus vergeet nie om dit in Sondag 7 te vermeld nie.

Soos daar by God geen al-versoening is nie, so is daar ook geen algemene versoening nie. Dit wil sê: ons moet nie dink dat God deur Christus die pad na Hom terug vir almal weer oopgemaak het sodat elkeen nou die kans het om hierdie pad te kàn loop en ons dus self moet kies, uit eie vrye wil, of ons hierdie pad ook sàl loop nie.

Geen mens sal uit homself die pad na God terug loop nie. Niemand sal sommerso die lewe buite homself soek nie. Daarvoor moet die Gees van God eers in ons harte die geloof laat ontvlam. Ek moet by Christus ingelyf word, sê die Kategismus dan ook baie noukeurig. Ek kan dit self nie doen nie.

Geloof is nie my aandeel in my verlossing van sondes nie.

Geloof is 'n gawe wat God self vir my moet gee. God wag nie of ek nou ook vir Hom sal kies nie. Hy het vir my gekies, en daarom werk sy Gees die geloof in Christus in my.

Maar ek sal daaroor vanaand nie verder uitwy nie, gemeente.

Want mens sou maklik kan dink dat ons dus maar moet afwag of die Gees ook aan my die geloof sal wil gee. Maar Sondag 7 leer ons nou juis, dat dit wel die Heilige Gees is wat die geloof in my hart moet werk en my by Christus moet inlyf, maar dat dit hoegenaamd nie beteken dat ek nou maar 'n afwagtende houding kan aanneem nie.

Want Sondag 7 wys ook vir ons hoe die Gees die geloof in ons hart werk: naamlik "deur die evangelië. En so bely ons dit mos ook in die Dordtse Leerreëls, daardie belydenisskrif wat heeltemal handel oor God se verkiesing en leer dat die geloof nie 'n voorwaarde vir die verkiesing nie, maar 'n gevolg van die verkiesing is. En dan lees ons nogtans in Hoofstuk V, art.14: "Dit het God behaag om hierdie Goddelike genadewerk deur middel van die verkondiging van die evangelie in ons te begin. So bewaar Hy dit, sit Hy dit voort en voleindig Hy dit deur die aanhoor, die lees en die oordenking van die evangelie, deur die aansporings, vermanings en beloftes daarin en ook deur die gebruik van die heilige sakramente."

Dit beteken dus dat ek beslis nie 'n afwagtende houding kan aanneem nie. Die Heilige Gees hou deur middel van die evangelie Christus met al sy weldade aan my voor, maar nou sal ek dit dus ook moet aanneem. Met ander woorde: ek sal moet luister, lees, oordenk, studeer.

Ek sal eers die pad wat Christus vir my met sy bloed ingewy het, kan loop as ek dit uit God se Woord leer ken het.

Geloofsvertroue kan naamlik nie sonder geloofskennis nie.

Daar was 'n tyd, broeders en susters, dat dit nodig was om veral te benadruk dat geloof nie maar net 'n kwessie van kennis was nie, maar ook van vertroue. Omdat baie kerkgangers die vrymoedigheid waaroor die brief aan die Hebreërs skryf, maar nie kon vind nie. Omdat hulle dit allereers in hulleself gesoek het. Hulle het geweet van Christus se offer vir die sondes, hulle het geweet van die pad wat Hy gebaan het, daar was dus voldoende geloofskennis, maar hulle het nie durf vertrou dat ook hulle hierdie pad mog loop nie. Hulle het geen geloofsvertroue gehad nie.

Ek wonder of dit vandag nie presies andersom is nie. Of daar vandag nie baie kerkgangers is wat nie soveel moeite daarmee het om te vertrou dat hulle danksy Christus weer God se kinders mag wees nie; maar wat maar min meer weet van alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het. Geloofsvertroue wat maar op min geloofskennis rus.

Maar as ons geloofskennis swak is, broeders en susters, kan ons

geloofsvertroue nie sterk wees nie. Dan sal dit by die eerste die beste aanvegting ineenskrompel.

Het u gesien, dat die Kategismus in Sondag 7 tot twee maal toe praat oor "alles" wat God geopenbaar het, "alles" wat in die evangelie aan ons beloof word?

Ek sal die hooflyn in die Bybel moet ken, seker, soos Sondag 6 dit aangewys het: God se belofte in die Paradys na die sondeval, wat Hy eindelik deur sy eniggebore Seun vervul het. Maar ek sal ook van al die punte op daardie lyn moet weet, ek sal die kleinste besonderhede in God se Woord moet ondersoek om te ontdek hoe alles in die Ou en in die Nuwe Testament die skynwerper rig op ons Hoëpriester Jesus Christus.

Nee, dit is geen louter teoretiese kennis nie. Dit is kennis wat deur die liefde gestimuleer word. Elke bladsy van die Bybel gaan mos oor my Verlosser!

Soos 'n vereerder van Naas Botha letterlik alles oor sy rugby- held wil weet: watter mouhemde hy dra, watter seep en naskeermiddel hy gebruik....

En soos 'n seun wat verloofd geraak het alles van sy nooi wil te wete kom, haar al hoe meer wil leer ken, totdat hy haar in die huweliksgemeenskap mag beken......

so moet u ook al hoe meer oor u Heiland wil leer. Uit liefde vir Hom.

En daarom sal u in die eerste plek trou in die kerkdienste moet kom. Kyk nog 'n slag na Hebr.10: eers klink die aansporing om in geloofsversekerdheid die pad wat Christus ingewy het, te gebruik en om die geloofsbelydenis onwankelbaar vas te hou. Maar dan word amper in een asem toegevoeg (in vs.25): "en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim nië. Waarby ons maar aan die gereëlde kerkdienste moet dink.

Die Heilige Gees gebruik in die eerste plek die sondagse eredienste om in die evangelie Christus en al sy weldade aan u voor te hou. Daar word die hele raad van God in die prediking aan u verkondig. Daar word sêmaar die toegangsbewys om voor die hemelse troon van genade te mag verskyn, uitgedeel en uitgelê.

Daar word u gestimuleer om ook tuis en saam in verenigingsverband die Skrifte verder te ondersoek en u geloofskennis uit te brei.

Moet dus nie maklik die kerkdienste versuim nie, broeders en susters. Moet ook nie vanweë klein kinders by die huis bly as dit nie beslis noodsaaklik is nie. Ons het smôrens mos oppasdienste gereël. Hoekom word daarvan partykeer maar so min gebruik gemaak? U het die kerkdienste nodig. Want daar begin die Heilige Gees sy genadewerk in u lewe. Daar leer Hy u alles wat God in sy Woord geopenbaar het ken: oor ons skuld teenoor Hom, maar ook oor Christus se versoening van ons skuld. Daar begin Hy die geloof in Christus in u harte te werk. Daar haal Hy u af van die pad waarop u verlore sou gaan en sit Hy u op die pad waarop u mag salig word.

3. Alles wat God ons in sy Woord geopenbaar het, alles wat in die evangelie aan ons beloof word, is wel baie, gemeente.

So veel, dat daar gemaklik verwarring sou kan ontstaan. Ons het die gesegde: "Elke ketter het sy letter", waarmee ons maar wil aandui dat ook allerhande dwaalleraars hulle op die Bybel beroep vir hul afwykende sienings.

Hoe maklik kan eiesinnige gedagtes, subjektiewe opvattings ons die regte sig op Christus gaan beneem! Of twyfel en onsekerheid saai.

En die duiwel sal definitief probeer om ons ons geloofssekerheid te ontneem en verwarring te stig.

Maar dit mag natuurlik nie.

Ons geloof moet die ongetwyfelde geloof bly.

En die algemene geloof, vir elkeen orals in die wêreld en vir alle eeue dieselfde. Omdat dit die christelike geloof is, die geloof is die Christus van God.

Hiervan hang mos af of ons sal salig word of dat ons verlore sal gaan!

Maar daarom het daar onder God se goeie sorg vir ons al gou 'n geloofsbelydenis gegroei, dit is: 'n eenvoudige maar betroubare samevatting van alles wat ons op grond van God se beloftes mag glo.

Ons lees al in die brief aan die Hebreërs van són belydenis. In Hoofstuk 3:3, 4:14 en 10:23 vind ons diè woordjie. Blykbaar het hulle in daardie tyd alreeds 'n tipe van 'n samevatting van die

evangelie geken, dalk gegroei uit die vrae wat gevra is aan mense wat hulle by die gemeente gevoeg het en gedoop mog word.

Al in die eerste eeue het uit die doopsbelydenis die Twaalf Artikels van die Apostoliese Geloofsbelydenis ontstaan, daardie pragtige saaklike samevatting van die leer van die apostels van Christus.

Són geloofsbelydenis het 'n middel geword om die eenheid in die geloof te bewaar, gemeente. Om te sorg dat die kerk in alle tye en op alle plekke een en dieselfde geloof sou hou: die algemene en ongetwyfelde christelike geloof.

Later het daar meer belydenisskrifte bygekom: die van Nicea en Athanasius, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls, en die Kategismus wat ons elke Sondag gebruik.

Almal middels in diens van die Heilige Gees om dwaalleer te bestry en ons by die saligheid te bewaar. Middels om nuwe geslagte ook te bring tot dieselfde geloof as hulle voorouers.

Ons mag baie dankbaar wees dat hierdie belydenisse gegroei het.

Maar dan sal ons diè ook moet ken en gebruik, broeders en susters!

As u wil salig word, sal u Christus moet ken.

En as u Christus wil ken, sal u u Bybel moet ken.

Maar dan sal u dus sekerlik die samevatting van die Bybel in u belydenisskrifte moet ken.

AMEN.

(Pretoria, 25 September 1988)

PREEK OOR SONDAG 7 H.K.

LITURGIE:

Votum en seëngroet

SB. 7:1,4,8

Gebed

L. Joh. 1: 1-13

Joh. 3:14-21

Joh.12:44-50

Ps. 89:6

Prediking

Gesonge Geloofsbelydenis

Gebed

Kollekte

Ps.119:39,48

Seën

Broeders en susters,

Dit is elke keer weer 'n hoogtepunt in Christus se kerk wanneer daar mense is wat publiek in die midde van die gemeente hulle geloof bely; wat nie skaam is om openlik daarvoor uit te kom dat hulle hul toevlug tot die gekruisigde Christus neem nie.

Talle mense het reeds so voor in die kerk gestaan en hulle Ja-woord gegee. Ook van julle, jongemense wat nog die katkisasie volg, word verwag en gehoop dat julle eendag in die openbaar julle geloof in Christus sal bely. En wat van die seuns en dogters wat nog in die laerskool of in die kleuterskool is? Ook by julle is die hele opvoeding, tuis en by die skool, reeds daarop gemik dat julle dit al hoe duideliker sal besef: sonder my Vader in die hemel en sonder die Here Jesus Christus kan ek nie lewe nie. Sodat ook julle eendag hier voor in die kerk sal staan om openlik julle geloof te bely.

Nie net óns, die kerkraad, die gemeente, julle ouers, wil graag hê julle moet so ver kom dat julle jul eendag openlik oorgee aan die Here Jesus as julle Verlosser nie. Gód begeer dit. Hy roep ons onophoudelik om sy Seun as Verlosser te aanvaar. Hy dwing ons al hoe meer na 'n keuse toe; wat wil ons? Lewe deur Christus? Of die ewige dood?

God is nie met een geloofsbelydenis tevrede nie.

Die dag van die openbare geloofsbelydenis is nie die eindpunt nie. Geloof is nie 'n artikel wat 'n mens op die dag van sy belydenis aanskaf of ontvang; of 'n ingesteldheid wat 'n mens geleidelik ontwikkel, en as jy dit een keer het, dan hou jy dit nie.

Geloof is 'n keuse wat ons elke dag opnuut moet maak. Ons word daagliks gedwing om ons toevlug tot die gekruisigde Christus te neem. Ook na ons geloofbelydenis bly God ons oproep om ons aan sy Seun oor te gee.

In elke preek, in elke huisbesoek, elke katkisasieklas, so dikwels as wat ons die heilige Skrif oopmaak, elke keer weer hou God ons Here Jesus Christus aan ons voor met die eis tot bekering en geloof.

Hieroor, dat ons ons elke dag opnuut aan die gekruisigde Christus moet oorgee, gaan dit in Sondag 7.

Hieroor gaan dit dus ook in hierdie preek.

Ek kan die boodskap soos volg saamvat:

GOD HOU CHRISTUS AS VERLOSSER AAN ONS VOOR MET DIE EIS TOT BEKERING EN GELOOF

SO'N GELOOF IN CHRISTUS

BETEKEN 1. DAT JY JOU OORGEE AAN GOD SE SEUN

WORD 2. JOU INGEGEE DEUR GOD SE GEES

WORD 3. AAN JOU GEGEE DEUR MIDDEL VAN GOD SE WOORD

1. Sondag 7 begin met 'n vraag, gemeente, wat amper oorbodig lyk: "Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het?".

Natuurlik nie, sê ons. 'n Kind weet dit al dat net die wat glo deur Christus van hulle sondes gered word.

Nogtans is daar talle mense vir wie dit nie so vanselfsprekend is nie. Die gedagte is al baie oud, maar ook steeds springlewend, dat ons Here Jesus Christus deur sy offer vir ons sondes 'n algemene grasieverlening vir alle mense bewerk het. Hy het vir almal gesterwe, almal is dus deur Hom verlos van God se toorn. Na die dag van Golgota aanvaar God alle mense weer as sy kinders en is die sonde vergewe en vergeet.

Hierdie gedagte beheers vandag die vrysinnige teologie. Moet maar oplet: 'n verkondiging van die evangelie met bevel van geloof en bekering word nie meer noodsaaklik geag nie. Elke mens is mos in prinsipe alreeds gered! Sending kan daarom ontwikkelingshulp word en evangelisasie kan deur 'n dialoog, 'n oop tweegesprek, vervang word.

Ook die hele taak van die kerk het verander: vroeër het die kerk veral gepréék, opgeroep tot geloof; vandag lê die kerk hom meer toe op maatskaplike en sosiale hulpverlening. Die kerkgebou word 'n toevlugsoord vir swerwers en vlugtelinge, en 'n opvangsentrum vir verslaafdes, vigspasiënte en so meer. Ook bemoei die kerk hom meer met die politiek en die omgewing. Hy veg vir 'n regverdiger en leefbaarder samelewing.

Maar waarsku vir God se brandende toorn, vir die ewige verskrikking van die hel, Christus se kruis predik as die enigste vlugweg- dit gebeur nie meer nie. Dis tog ook nie meer nodig nie? Is God se toorn nie lankal geblus nie?

Die Kategismus stel dus wel deeglik 'n sinvolle en aktuele vraag, broeders en susters: "Word al die mense dan weer deur Christus salig...?". Maar die antwoord bly 'n nadruklike "nee!". Christus se dood op Gotgota het nie die groot begenadiging vir alle mense ingelui nie. Baie beslis nie.

Zacharias Ursinus het in sy uitgebreide verklaring op die Heidelbergse Kategismus, "Die Skatboek" soos hy dit genoem het, geskrywe, met 'n verwysing na 'n uitdrukking wat Paulus in sy brief aan die Galasiërs gebruik het: as Christus se dood 'n algemene grasieverlening sou bewerk het, sou Christus 'n dienaar van die sonde geword het. Of, met ander woorde: dan sou Christus maar net die sonde in die hand gewerk het.

U kan dit tog verstaan?

As ons so maklik almal weer tot God se kinders aangeneem is, ontstaan tog soos vanself die gedagte dat die sonde seker nie so heel vreeslik is nie. Daar is in elke geval nie so heel veel rede meer om radikaal met die sonde te breek nie: God vergeef mos tog wel! Ja, Hy hét ons lankal vergewe. Dit maak nie meer so veel saak hoe of ons lewe nie.

Voel u? 'n Maklike algemene vergewing danksy Christus se dood bewerk geen afkeer van die sonde meer nie. Dit laat jou eerder aan die sonde gewoond raak. Die lewe is nou maar eenmaal so, maar eendag kom alles reg. Eintlik ís alles al reg.

En dan is daar natuurlik ook geen huiwering vir God se vreeslike toorn meer nie. Daardie toorn is tog vir eens en vir altyd gestil op Gotgota? Vandag is God nog slegs die God van liefde en mededoë. Straf van God bestaan nie meer nie.

Maar daarom het die vrysinnige teologie ook geen verklaring meer vir al die rampe waardeur die aarde en ons lewe nog aanhoudend geteister word nie. Dit kan niet van God afkomstig wees nie. Hy is dan 'n God van liefde! Nee, God staan seker self ook maar magteloos en verbysterd teenoor al sulke verskriklikhede. Hy ly daarin met ons mee.

U sien: daar lê 'n direkte verbinding tussen die gedagte in die vrysinnige teologie dat daar 'n algemene versoening plaasgevind het, en die veranderde opvattings m.b.t. God se voorsienigheid, ook in allerhande teenspoed.

Hét Christus op Golgota 'n dienaar van die sonde geword, broeders en susters?

Inteendeel, daar op Golgota, het God duideliker as ooit tevore gewys hoedat Hy die sonde háát. Hy het sy eie goddelike Seun vanweë ons sondes in die hel, die godverlatenheid weggestoot.

Maar daarmee was sy toorn oor ons goddeloosheid nog nie outomaties wég nie!

Daarmee was ons nie soos vanself van ons sondeskuld ontslae nie.

God het op die dag van Golgota geen algemene amnestie afgekondig nie. Hy het slegs die enigste vlugweg oopgemaak waarlangs ons aan sy toorn kan ontkom. Maar nou sal ons daardie vlugweg ook moet gaan! Ons sal Christus nou ook in geloof as Verlosser moet aanneem.

God het Christus se kruis tot 'n kruispunt gemaak waarop alle mense nou moet kies: wil hulle met Christus opstaan in 'n nuwe lewe? Of wil hulle in hul sondes bly lê maar dan eendag onder God se toorn verteer word?!

Laat God ons danksy Christus se kruisdood nou maar in die sonde voortlewe?!

Glad nie. Hy roep ons nou juis deur Christus uit die lewe in die sonde weg.

Ons Heiland het Homself meer as een keer "die lig" genoem waarin ons, mense, weer kan lewe. Vir dié doel het God Hom in die wêreld gebring. Ons het dit gelees in die Evangelie volgens Johannes.

Maar almal word nie outomáties deur Christus verlig nie. Om in sy lig te kan lewe, moet 'n mens 'n keuse maak. Jy moet die lewe in die duisternis bewus agter jou laat en na die lig toe kom. Jy moet jou aan die lig oorgee en voortaan nog slegs daarin wil wandel.

So dikwels as wat God sy Seun aan ons voorhou as die Verlosser, doen Hy nie net

'n blote mededeling van iets wat lankal 'n feit is nie. Maar dan dwing Hy ons tot 'n keuse, tot 'n oorgawe. Hy kom na ons toe met die eis van bekering en geloof.

Daarmee werp God ons elke keer weer in die stryd, gemeente. U weet dat natuurlik wel van uself, as u eerlik is teenoor uself.

Want om jou oor te gee aan die lig van Christus, beteken wel dat jy self in al jou slegtheid aan die lig kom. Jy moet beken dat jou lewe vir God onverdraaglik en afstootlik is. Jy moet toegee dat jy jou eie skemerlampies maar beter kan afskakel. Daarby kan 'n mens tog nie ewig lewe nie.

Jy moet erken dat jou skuld by Vader in die hemel só groot is, dat God sy eersgebore Seun daarvoor in die hel moes wegstoot.

Jy moet erken dat God die reg gehad het om jou in plaas van Christus in die hel weg te stoot.

'n Geloofsbelydenis is dus niks om trots op te wees nie. Om in Christus te glo beteken 'n kapitulasie. 'n Eerlike erkenning dat jy geen lewe in jouself het nie en ook nie kán hê nie. Jy sal dit buiten jouself moet soek en dit nêrens kry nie, behalwe in Christus.

God vra són geloof in Christus, gemeente, dat ons by Hom ingelyf word. Dié uitdrukking gebruik die Kategismus.

Om ingelyf te word- dis 'n vernederende saak!

Toe eers Natal, en vervolgens ook Transvaal deur die Engelse by die Engelse koninkryk ingelyf is, was dit 'n bitter en vernederende saak vir die Afrikaanse Boere. Jy verloor jou selfstandigheid en onafhanklikheid en moet jou voortaan skik onder die wette van 'n vreemde maghebber.

So moet ons ons selfstandigheid opgee en ons aan Christus as ons nuwe maghebber gewonne gee. Voor God bestaan ons nie meer in onsself nie. Ons bestaan nog slegs in Christus. Ons mag ook nie langer maak soos ons sélf wil nie. Christus se Gees regeer voortaan oor ons.

Maar God wil hê ons moet so ver kom dat ons onsself nie onder hewige verset láát inlyf by Christus nie; maar dat ons sélf vir hierdie inlywing kies. Omdat ons weet dat dit ons enigste oorlewingskans is. Omdat ons die bankrot van ons eie bestaan eerlik onder die oë sien.

Geloof is daarom geen oorgawe onder protes nie.

Maar 'n oorgawe vol vertroue.

Daardie woord ("vertroue") is die sentrale woord in die definisie van 'n ware

geloof wat die Kategismus in Sondag 7 gee.

Ja, geloof begin met kennis. Natuurlik: voordat jy jou in vertroue aan iemand oorgee, moet jy hom eers deur en deur ken. So is dit ook by Christus.

U sal allereers alles wat God in sy Woord geopenbaar het -en gaan dit alles nie oor sy Seun as die Redder van die wêreld nie? So het ons dit mos geleer in die laaste vraag van Sondag 6- u sal allereers dit alles baie mooi moet ken en vir waar aanvaar.

Maar dan groei daar ook soos vanself die vertroue dat dit goéd is om uself aan God se Seun volkome oor te gee. Dán sal alles weer reg kom. Dan word die lewe weer lig. God sê mos so, en as daar een is wat nie lieg nie is God dit.

In die Nederlandse Geloofsbelydenis word daar voor die geloofsvertroue waarmee ons ons aan Christus moet oorgee, 'n paar maal 'n ander woord gebruik: ons moet Christus en al sy weldade "omhels".

U moet by daardie woord (omhels) nie aan twee verliefde jongmense dink nie. Dink maar aan 'n mens wat deur gyselaars gevange geneem is en vir weke op 'n onbekende plek vasgehou. As daardie mens bevry word, val hy sy redder in die arms en huil op sy skouer van dankbaarheid en oplugting.

2. Maar hoe kom eiewyse, hoogmoedige mense soos ons so ver dat hulle so totaal wil kapituleer en Christus as hulle Redder omhels?

Uit onsself uit kom ons nooit so ver nie!

In die Dordtse Leerreëls erken ons dit eerlik (hoofstuk III/IV Art.3): sondige mense "kan en wil nie tot God terugkeer of hulle verdorwe natuur verbeter of selfs maar onderneem om dit te verbeter nie".

U weet dit natuurlik: die Dordtse Leerreëls is geskrywe om die dwalings van die sogenaamde Remonstrante te weerlê. Daardie mense, en ons praat dan van die eerste vyftig jare na die groot Reformasie, het geleer dat 'n mens slegs deur 'n opregte geloof in God se Seun Christus van sy sondes gered word; maar dat daardie geloof jou eie vrye keuse is. Jy het 'n vrye wil om te besluit of jy Christus as jou Redder omhels, of dat jy Hom verwerp en in jou eie sondige bestaan wil aangaan.

U kan sulke geluide vandag nog orals hoor, sekerlik ook hier in Suid-Afrika. Ek dink byvoorbeeld aan die AGS en allerhande soortgelyke sektes. Hulle glo jy kan so ver kom dat jy sélf jou sondes raaksien en sélf besluit om daarmee te breek en 'n nuwe lewe in Christus te begin.

Kyk egter nog 'n bietjie in Sondag 7, gemeente. In antwoord 20 is die woorde sorgvuldig gekies: ons gee ons nie uit onsself in die geloof aan Christus oor nie. Nee, ons word by Hom ingelyf. Ons moet tot 'n oorgawe gebring word.

Dit moet God self doen. In antw.21 van Sondag 7 lees u dan ook dat dit die Heilige Gees is wat die geloof in 'n mens se hart werk.

So leer die HERE dit self vir ons in sy Woord. Kyk byvoorbeeld 'n slag met my na Handelinge 16:14:

die apostel Paulus het as gevolg van 'n besondere beroep wat hy in 'n droom ontvang het ("Kom oor na Macedonië en help ons!"), in die stad Filippi aangekom. Op die eerste sabbat verkondig hy aan 'n aantal vroue die Evangelie van Jesus Christus en daar is een vrou, Lydia, 'n purperverkoopster uit die stad Thiatire, wat sy boodskap gelowig aanneem. Maar hoekom? Is sy slimmer as die ander vrouens? Het sy 'n meer godsdienstige inslag of so iets gehad?

Nee, "die Here het haar hart geopen", vertel die Skrif. Die Gees van die Here Jesus Christus het haar ontvanklik moes máák om Paulus se boodskap te aanvaar.

Paulus het self in sy brief aan die Efesiërs ook geskrywe dat geloof in die Here Jesus Christus as jou Verlosser nie iets is wat 'n mens self kan ontwikkel nie. Kyk Efes.2:8: selfs die geloof is nie uit julleself nie: "dit is 'n gawe van God".

Ons het dit ook in die eerste hoofstuk van Johannes se Evangeliebeskrywing gelees, vs.13. Johannes het vertel dat baie mense God se Seun as die verlossende lig verwerp het. Maar daar is ook wat Hom aangeneem het, mense wat in sy Naam glo. Gewone mense van vlees en bloed sal egter nooit so ver kan kom nie. Daarvoor moet God self, deur die Heilige Gees, 'n nuwe lewe in jou verwek en 'n nuwe mens van jou maak.

Geloof moet deur God se Gees aan ons gegee word, broeders en susters.

En ons weet dat God se Gees nie aan álle mense die geloof, die oorgawe aan Christus gee nie. Hy gee dit net aan dié mense wat God daarvoor uitgekies het.

Slegs in hulle lewe bewerk Hy 'n berou oor en 'n afkeer van die sonde, 'n breuk met die lewe in die sonde en 'n nuwe lewe in Christus.

Baie mense het moeite met hierdie wete, dat God slegs 'n beperkte aantal mense uitgekies het om deur Christus van sy toorn gered te word en 'n nuwe lewe op 'n vernude aarde te beërwe. Waarom het God dan nie alle mense gekies nie? Is dit nie oneerlik van God nie?

Die HERE leer ons in sy Woord egter dat ons sulke "waaroms" nie mag vra nie.

Dink 'n bietjie daaraan hoedat die HERE Job met al sy opstandige vrae reggesien het: "Wil die berisper met die Almagtige twis?!"

En Paulus het in sy brief aan die Romeine (hoofstuk 9) hierdie pragtige voorbeeld gebruik: "Wie is jy, o mens, wat dit durf om vir God teë te praat? Die maaksel kan tog nie vir sy maker sê: Waarom het u my só gemaak nie?

Of het die Pottebakker nie die mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot 'n eervolle gebruik, en die ander tot 'n oneervolle gebruik te maak nie?"

Ons is net nie in die posisie om vir die HERE verwyte te maak nie. Hy mag maak soos hy wil.

Ons moet liewer op 'n heeltemal ander manier "waarom?" vra. U weet tog dat God niemand sou veronreg het as dit sy wil was om die hele menslike geslag, dus ook u en my, in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie?

Met die erkenning begin die Dordtse Leerreëls, daardie pragtige belydenisskrif wat ons leer om op die regte manier oor God se verkiesing en verwerping te praat. U en ek, ons verdién almal die ewige dood, God se verterende vuur.

Maar u en ek, ons glo darem dat God nie net aan ander nie, maar ook aan ons uit loutere genade slegs op grond van die verdienste van Christus vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.

Waarom mag ons, u en ek, dit glo??

Of, met ander woorde, waarom het die Heilige Gees in óns harte hierdie geloof bewerk? Ons mag daaruit tog aflei dat God ook ons gekies en tot sy kinders aangeneem het? Maar waarom???

Wie so vra, soek geen rationele antwoord nie. Dié stamel slegs van verwondering.

En dít is die regte manier om oor die verkiesing van God te praat: vol dankbare verwondering oor die onverdiende genade wat God klaarblyklik ook aan jou bewys het.

3. Hierdie verkiesingsleer, met die oortuiging dat die Here self deur die Heilige Gees die oorgawe aan Christus in 'n mens moet bewerk, is en word dikwels misverstaan. Nie net deur mense wat opstandig daaronder raak nie.

Daar is ook mense wat die feit dat God se Gees jou die geloof moet ingee, berustend aanvaar. Maar hulle meen dat ons dus maar 'n afwagtende houding moet aanneem. Jy kan mos tog self niks daaraan doen nie. Dit moet jou ingegee word.

Jy sal maar moet wag of en tot dit God behaag om ook jou die geloof in Christus te skenk.

Maar wie són afwagtende houding aanneem, ignoreer die middel waardeur die Heilige Gees die geloof in Christus in ons harte bewerk.

Kyk wat sê Sondag 7: "deur die evangelie" werk die Heilige Gees die oorgawe aan Christus in ons.

God se Gees kom met God se Woord na ons toe. Die evangelie is die ene belofte dat daar vergewing van sondes en 'n nuwe lewe is deur Christus; 'n belofte wat met die eis gepaard gaan om ons van ons sonde te bekeer en in Hom te glo. En so, op dié wyse, maak die Gees ons hart ontvanklik om ons vol skuldbesef en vertroue aan Christus oor te gee.

Paulus noem in sy brief aan die Efesiërs dat die Heilige Gees die Woord van God soos 'n swaard hanteer. Daarmee dwing hy ons tot oorgawe en lyf Hy ons by Christus in.

So het dit by Lydia gegaan, daardie vrou wat as eerste tot geloof gekom het in Filippi. Ja, die Here het haar hart geopen. Maar hoe? Deur die prediking van die Christus uit die mond van Paulus.

En wanneer die apostel aan die gemeente te Efese skryf dat selfs die geloof 'n gawe van God is, het hy eerder geskrywe dat alles daarmee begin het dat hulle die woord van die waarheid, die evangelie van hulle redding, gehoor het. Kyk 1:13.

So het die Heilige Gees tog ook ons lewe verower en aan Christus onderwerp, broeders en susters? Dit het tog alles met die Woord van God begin?

Daardie Woord, in die skool, in die preke, in die katkisasies, in persoonlike Bybelstudie was tog ook by ons die middel waardeur die Heilige Gees ons na Christus toe gedrywe het?

En moet maar 'n bietjie kyk in ons Doopsformulier, gemeente. Ons bid vir elke baba wat gedoop word, of die HERE daardie kind altyd met sy Heilige Gees wil regeer en dus tot geloof in Christus bring. Maar dan sê ons dadelik daarby: "...sodat dit christelik en godvresend opgevoed word...". As ouers hul kind van kleinsaf die Woord van hul God leer hoor, en lees en glo, is die Gees van God al van kleinsaf met daardie kind besig.

Daarom is dít ook die eerste taak van die kerk in hierdie wêreld: sosiale en

maatskaplike hulpverlening vanuit die kerk, opvang van swerwers en verslaafdes- dit alles is waardevol en nodig en dalk doen ons nog veels te min daaraan. Maar dit alles verloor sy waarde, as dit nie gedra word deur die eerste en belangrikste boodskap wat die HERE aan sy kerk toevertrou het nie: die prediking van die gekruisigde Christus as die Redder van almal wat in Hom glo.

Dié boodskap moet klink in die wêreld, met die eis tot bekering en geloof.

Die troue kerk van Christus was daarom ook altyd suinig op die evangelie wat aan haar toevertrou is. Sy het besef dat die suiwere verkondiging van die evangelie die eerste kenmerk van die ware kerk is.

Daarom het sy in die loop van die eeue ook gestry om die evangelie onvervals te bewaar. Hoe maklik kan eiesinnige gedagtes, subjektiewe opvattings ons die regte sig op Christus gaan beneem! Of twyfel en onsekerheid saai. Dis dié dat daar belydenisskrifte gegroei het, betroubare samevattings van God se Woord waarin dwaalleer ontmasker en weerlê is. Soos die 12 Artikels van die Apostoliese Geloofsbelydenis waarna in Sondag 7 verwys word, maar ook hierdie Heidelbergse Kategismus. Want die evangelie van Christus moet nie vir tweeërlei uitlegging vatbaar wees nie.

Wil u lewe, broeders en susters? Wil u deur Christus gered word van God se verterende toorn? Ignoreer dan nie die middel waardeur die Heilige Gees u by Christus wil inlyf. Maar hoor na dit wat die Gees tot die gemeente van God sê. Moenie dink dit was genoeg dat u eendag openbare geloofsbelydenis gedoen het nie. Maar bly besig met die aanhoor, die lees en oordenking van die evangelie Ken en gebruik die kerk se belydenisskrifte. Daarin word Christus telkens opnuut aan u voorgehou met die eis tot bekering en geloof.Kom daardeur ook elke dag opnuut tot bekering en geloof!

En prys dan God se verkiesende genade oor ook u lewe!

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)