Die troos van die uitverkiesing tot geloof

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 7
Preek Inhoud: 

Ps. 100: 1, 2, 3
Ps. 100: 4
Ps. 127: 1 - 4
SB. 24: 1, 2
SB. 24: 3, 7
Lees: Ef. 3: 14 - 21 & D.L. 1 par. 1 - 6
Teks: Sond. 7a

Broeders en susters,

As ons in staat was om 'n ondersoek te hou na die diepte van die geestelike lewe by almal wat hulself vandag as christene beskou, dan sou ons waarskynlik verbaas wees oor die geweldige oppervlakkigheid van baie geloofsbelewing. 'n Groot deel van die mense het maar baie vae gedagtes oor wat Christus nou werklik beteken. Hulle weet iets van redding deur Jesus Christus, hulle besef dat dit ook iets vir hul daaglikse lewe moet beteken, maar hoe en wat presies, dit ontgaan hulle. En eintlik stel hulle ook nie soveel belang nie.

Ek dink dat ons as gereformeerde mense in die bevoorregte posisie is, dat ons in 'n lang kerklike tradisie staan, waarin baie intensief en baie fundamenteel nagedink is, oor die boodskap van die Bybel. Oor die werk van God in die lewe, oor die doel en sin van die wêreld. Baie resultaat van eeuelange dinkwerk en studie is neergelê in die belydenisgeskrifte van die Kerk, en daar is 'n veelheid van boeke beskikbaar waarin die rykdom van die bybelse leer nader uitgewerk word. Die leer van die kerk word dan ook nie gekenmerk deur oppervlakkigheid nie, maar deur 'n geweldige diepgang. Maar nou die lewe van gereformeerde kerkmense, word dit ook gekenmerk deur soveel diepgang, of moet ons eerlikheidsonthalwe vasstel dat ook by ons baie oppervlakkigheid voorkom?

Ek dink so. Ek vrees so.

Ons het vanmiddag by die apostel Paulus gelees, dat ons in staat moet wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die lengte en breedte en diepte en hoogte is, van die liefde van Christus. U verstaan dat as die Bybel hier praat van diepte en hoogte, dan verlaat ons die platte vlak. God soek nie oppervlakkige gelowiges nie, maar kinders wat wil weet van die diepte van Sy liefde.

En daarom wil ons vanmiddag 'n startpunt neem in die eerste vraag van Sondag 7, en dan met behulp van die eerste 6 paragrawe van die Dordse Leerreëls, afdaal na die diepte. Ons sal ontdek dat ons geloof in ons Middelaar Jesus Christus nie iets is wat onsself in stand kan hou nie, maar dat dit gewortel en gegrond is in die liefde van God Self. En daarin vind ons lewe 'n onuitspreeklike troos.

DIE TROOS VAN DIE UITVERKIESING TOT GELOOF.

  1. die diepte van die liefde van God
  2. die vryheid van die keuse van God.

Word al die mense dan weer deur Christus salig, soos hulle deur Adam verlore gegaan het? Nee, maar slegs die wat deur 'n ware geloof in Hom ingelyf word, en al Sy weldade aanneem.

Die probleem wat Sondag 7 aansny, is wel duidelik. In die voorgaande Sondae moes ons tot die belydenis kom, dat as gevolg van die eerste sonde van Adam, heel die mensheid in skuld verlore is. Aan die gedagte dat dan moontlik weer deur die gehoorsaamheid van Christus, die hele mensheid gered word, kan nie 'n sekere logika ontsê word nie. Maar so gou ons die spoor van die gedagte begin volg, besef ons dat ons dan heeltemal vasloop. Immers, as dit waar is dat deur gehoorsaamheid van Christus die hele mensheid weer gered word, dan verloor die boodskap van die Bybel onmiddellik sy sin en betekenis. Dit word dan bloot 'n teorie wat geen enkele invloed op aardse werklikhede kan oefen nie. As tog almal outomaties gered word, watter rede het jy om dankbaar te wees? Watter rede het jy om die Here lief te hê? Watter rede het jy om te vra na Sy wil vir jou lewe?

Dus vanuit die geheel van die Bybel gesien, is op vraag 20 maar een antwoord moontlik. Die antwoord van die Kategismus: Nee, nie die hele mensheid, slegs die wat deur 'n ware geloof in Christus ingelyf word, en al Sy weldade aanneem.

Vir die skerpe luisteraar moet die formulering opval. Die Kategismus antwoord nie eenvoudig: Die redding is slegs vir hulle wat glo nie... maar skryf: dit is vir hulle wat deur ware geloof in Christus ingelyf word.

Ingelyf word. Blykbaar is die redding nie 'n saak van: of jy aanvaar dit, of jy aanvaar dit nie, maar is daar 'n element wat buite jou omgaan: Jy moet ingelyf word. Daar is blykbaar 'n aksie van Iemand waarby jy met jou as gelowige gehandel word, waar jy slegs kan ontvang. En die een sal wel ontvang, en die ander nie.

Laat ons nou maar noem waarom dit gaan. Die eerste vraag van Sondag 7 stel ons voor die realiteit van verkiesing en verwerping.

Dit is dan ook die rede dat ons vandag die Dordse Leerreëls wil raadpleeg.

Waaroor gaan dit? Wat is die rede dat die een in ongeloof hom van Christus afkeer, en die ander Christus in geloof omhels?

Is die een mens meer selfstandig as die ander? Het sommiges meer behoefte aan die steun van die geloof in God? Is sekere volke meer religieus ingestel as ander volke? Is dit 'n kulturele toevalligheid dat die een volk die christendom bely, en die ander nie? Is geloof of ongeloof miskien 'n saak van opvoeding by die huis?

Ag, gemeente, ons kan hier bly vra. Ons kan eindeloos suggesties aandra, maar dit alles kan maar net aan die buitenste oppervlak raak. Geloof en ongeloof. Dit is 'n so radikale diepgaande verskil, hier is vir 'n mens niks te 'verklaar' nie.

Enige natuurlike, menslike verklaring skiet hier volkome te kort.

As jy hier God se eie ingrype nie in rekening wil bring nie, dan word al jou geredeneer dwase mensepraat.

Reeds by die eerste paragraaf van die Dordse Leerreëls, word mensepraat die swye opgelê. Daar word erken dat alle mense in Adam gesondig het, en dat op hulle die vloek van die ewige dood lê.

Heel die wêreld is doemwaardig voor God. Almal. Niemand kan ook maar enigiets aanvoer, waardeur hy die vloek sou vryspring nie. Hier reeds in paragraaf 1 van die Dordse Leerreëls, val die allerbelangrikste beslissing. God is aan niemand iets skuldig nie. Hy is niemand redding verplig nie. Dit is nie 'n uitvinding of 'n opvatting van outydse teoloë nie, maar dis ook nie 'n eie waarneming uit die wêreld rondom ons nie, dit is slegs 'n vasstelling op grond van God se Woord. God Self sê dit so.

En daarom moet ons daar begin. Ons moet ons almal daar 'n plek laat wys, en buig onder die feite van erfsonde, vloek en ewige dood. En as ons ons so op ons plek laat sit het, dan kry ons sig op die ongelooflike groot werk van onse God.

Hy maak 'n pad oop waar nie 'n pad was nie. Hy stuur Sy liefde in 'n wêreld wat alleen maar kan haat. Hy het 'n Lig laat skyn in 'n ondeurdringbare duisternis. Niemand het dit van Hom gevra nie, niemand het Hom gesoek nie, en tog, Hy het gekom.

Dit is wat ons hoor in paragraaf 2 van die Dordse Leerreëls: Die liefde van God is egter hierin geopenbaar, dat Hy Sy Eniggebore Seun gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige Lewe kan hê.

Die liefde van God is geopenbaar!

Die hemel het oopgegaan! Daar is lewe. Lewe vir hom wat glo!

En so sien ons hoe die liefde van God 'n geweldige beweging aan die gang sit. In Sy liefde stuur God vir die wêreld Sy Eniggebore Seun. Die Seun stuur op Sy beurt weer Sy apostels, die verkondigers van die Evangelie. En so maak die liefde van God 'n opening in 'n wêreld van haat. Hy laat die Evangelie bekend maak. Kyk maar paragraaf 3: Om mense tot geloof te bring, stuur God uit loutere goedheid predikers van hierdie vreugdevolle boodskap, na wie Hy wil, en wanneer Hy wil.

Die mense word geroep tot bekering en geloof in Jesus Christus.

Let op: Dit gaan hier nog steeds oor die liefde van God. Laat ons dit nie vergeet nie. Hy is niks aan niemand verplig nie. Dis louter goedheid. Dis enkel liefde.

Laat ons nou dat ons op hierdie punt aangekom het, veral nie die begin van die pad, paragraaf 1 vergeet nie: Alle mense is verlore in skuld!

En dan sien ons skielik wat God in Sy liefde doen: Hy stuur boodskappers van die Evangelie uit, tot wie Hy wil, en wanneer Hy wil. Uit die aard van die saak: God bepaal in Sy liefde die weg wat Hy wil gaan. Eers die Jood, en dan die Griek, en toe die Europeaan. En toe ook ons.

As ons vir 'n oomblik dink aan die geskiedenis van die Kerk; aan die wyse waarop die Evangelie van Jesus Christus deur die sending oor die wêreld verbrei is, dan sien 'n mens inderdaad: God bring die vreugdevolle boodskap na wie Hy wil, en wanneer Hy wil.

Kyk so ook maar 'n keer na jou eie lewensgeskiedenis.

Is dit aan jouself te danke dat jy in Christus ingelyf is? Was jy so heilbegerig van jouself? Was dit jou eie wil waardeur jy jou die beloftes van die Evangelie eie gemaak het? Ag vergeet dit.

Dit is liefde van God. Volhardende liefde. Hy het van Sy kant jou gesoek. Steeds weer het Hy na jou toegekom. Seker, Hy het baie middele gebruik. Ouers, vriende, prediking en katkisasie. Maar al die middele by mekaar is nog altyd nie in staat om jou geloof te verklaar nie. Geloof is nie 'verklaarbaar' nie. Ons kan net sê: Jou geloof is 'n geskenk van God. In jou lewe het Hy na jou toegekom, Jy was nog maar skaars gebore, of Hy was al daar met die seël van Sy liefde. Die Doop. Jy het groter geword en begin verstaan, en toe was die Here daar, in die verhale wat jy van Hom gehoor het. In die gebedjie wat jy geleer het.

Kyk nog 'n keer terug na paragraaf 1: Alle mense is doemwaardig voor God. En kyk waar is jy vandag: Is dit jy of is dit die Here wat jou gebring het waar jy is?

Erken maar rustig: Dit is Sy liefde!

Ek kan alleen maar stamel van genade.

2. Die vryheid van God se koms.

In paragraaf 4 neem die Dordse Leerreëls ons verder saam. Van die mens uit het niemand God gesoek nie, en tog gebeur iets. Daar kom gelowiges!

Op die liefdebetoning van God in die stuur van boodskappers van die Evangelie, kom 'n antwoord. Daar kom 'n wederliefde. Daar kom 'n dankbare erkenning van menslike skuld en 'n dankbare aanvaarding van die aangebode redding.

Maar dit gaan nie outomaties nie. By God is nooit outomatisme nie. Sy liefde werk ook nie as 'n toormiddel nie. En daarom moet ons die werklikheid onder oë sien. Daar is mense wat tot geloof kom, maar ander nie. Die een staan op op die wekroep van die Evangelie, die ander bly dood soos hy was.

Die vryheid van God se wil, wat ons in Paragraaf 3 ontmoet het, dat God predikers stuur na wie Hy wil, en wanneer Hy wil, dieselfde vryheid ontmoet ons ook hier. God is vry in Sy gawe van die geloof aan mense. Hy skenk gehoor aan wie Hy wil. En Hy onthou die gehoor aan wie Hy wil.

Gemeente, hier het ons afgedaal na die diepte. Na die diepte van God se liefde. Daardie liefde is vry. Hy is aan niemand verplig om Sy liefde te gee nie. Hy is aan niemand verskuldig om vir Hom die geloof te gee nie.

Hier is geheel en al: vrye wil van God. Welbehae van God; Dit is 'n wonder dat daar geloof op aarde is. Vanuit die diepte van die verlorenheid, vanuit die werklikheid dat die neiging om God te haat, elke mens, ook u en my, aangebore is, is dit 'n wonder dat daar op aarde geloof is.

Daardie geloof kan jy nooit vanuit die mens verklaar nie.

Geloof is nie van benede af verklaarbaar nie. Geloof is slegs van God uit verklaarbaar.

God het begin. En Hy werk dit uit. Hy kry dit reg, daar waar Hy wil. Daar waar Hy verkies om die geloof te skenk.

Hier is ons op die diepste. God kies. God kies uit. God verkies.

Daaraan kan ons nie verby kom nie.

En daarom val hier ook die groot beslissing. Aanvaar ons dit, of aanvaar ons dit nie? 'n Ander keuse is daar nie.

Hier wil ons of onsself handhaaf, alles in eie hande hou, ook ons keuse vir of teen God, (soos die Remonstrante), maar dan ontken ons daarmee alles wat die Bybel ons leer oor die bederf van die mens, oor sy ellende, oor die vloek, oor die sonde, dan verloën ons die noodsaak van die koms van die Seun van God, en dan maak ons die hele loop van die Evangelie oor die wêreld, afhanklik van toevallige historiese omstandighede... of ons bely hier die keuse van God.

Een van twee. Of jy buig jou vir God, wat Hom geopenbaar het in die Skrifte. Of jy handhaaf jou teenoor Hom.

Dit gaan hier dus om die vryheid van God. Wie kies vry: Jy of Hy. Vanuit die Bybel is maar een antwoord moontlik: God kies vry. Daar is een Evangelie. Maar daarop kom twee verskillende reaksies. Daar is twee hoorders van die Woord: Een aanvaar. Die ander weier. Wag God vol spanning af, hoe ons sal kies?

Nee, gemeente. Hy het Self al klaar gekies.

En so sien ons die Here na ons toekom in die Skrifte. Hy het Sy keuse reeds gemaak! Hy wil by jou die Evangelie bring! Hy kom na jou toe, met Sy Evangelie van genade. Hy maak jou hart oop vir die ontvangs van die geloof. Hy doen dit. Hy doen dit Self.

Maar gemeente, bedink dit. Die rykdom hiervan, dat God dit alles Self doen, is net sigbaar vir verwonderde geloofsoë. Redenerende koppe loop hier muurvas. Slegs in geloof kan die uitverkiesing gesien en aanvaar word.

Kyk, as jy sonder geloof na iemand se lewe kyk, dan weet jy dit presies: hy het tot geloof gekom, omdat hy 'n gelowige moeder gehad het. Sy het tot geloof gekom, omdat sy 'n gelowige man getrou het.

En so kan mense maar redeneer.

Maar die gelowige oog sien iets anders. Hy sien die leiding van God in sy lewe. Hy sien God na hom toekom, langs die pad van die verkiesing. Hy weet, as dit van homself afgehang het... maar dit hang dan mos nie van jouself af nie. God het vir jou verkies, en dit gee volgens paragraaf 6 'n onuitspreeklike troos. Dit gee 'n onwrikbare houvas in jou lewe. Hier pas alleen maar lof op God, en aanbidding vir Sy wonderlike werk.

As ons van dit alles iets verstaan het, dan weet ons skielik wat dit inhou: om gered te word uit vrye genade!

Word dan al die mense weer deur Christus salig, soos hulle deur Adam verlore gegaan het? Nee, nie almal nie. Slegs die wat deur 'n ware geloof in Hom ingelyf word, en al Sy weldade aanneem. Noudat ons tot in die diepte afgedaal het, en 'n blik geslaan het op die fondamente van die lewe in die geloof, nou sal ons hierdie Kategismus antwoord ons nooit meer uit die mond rol, asof ons hier rede het om onsself te prys vanweë die feit dat ons tog maar so verstandig was, om die weldade van Christus aan te neem nie.

Nee, hier kan God alleen geprys word. Hoekom God my verkies en 'n ander in sy boosheid en verharding laat bly het, sal altyd 'n raaisel bly vir my. Ons weet in die geloof net dit: My vertroue op Jesus Christus gaan terug op 'n onveranderlike voorneme van God om my te red.

En wat bly vir my oor as om God te prys? Met die woorde van Paulus in Efese 3:

Aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus, deur alle geslagte tot in Ewigheid!

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)