Jesus Christus, die enigste Middelaar

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 6
Preek Inhoud: 

Ps 81: 1, 2, 3
Ps 4: 1, 2, 3, 4
Geloofsbelydenis
Ps 149: 1-4
Lees: Joh. 5: 18-29 & N.G.B.art 19, 20
Teks: Sondag 6 vr 16, 17, 18

Brs en srs, kinders,

Waarom?

Dit is 'n vraag wat baie dikwels gestel word. Waarom? Hoekom? Ek weet nie of u ooit besef het dat 'n mens twee heel verskillende waarom- vrae kan vra.

Die eerste waarom is die protesterende waarom.

Waarom moet ek alweer die opwas doen? , is 'n vraag wat in gesinne seker maar gereeld gestel word. Op die vraag word nie 'n antwoord verwag nie. Hierdie waarom is maar net om jou ongenoeë met die situasie aan te gee.

Volwasse mense kan ook van daardie waarom-vrae vra.

B.v van die Here wou jy oor sekere sake graag opheldering hê. Waarom gebeur dit met ons?

Waarom altyd met ons?

Op hierdie protesterende waarom verwag jy ook nie eintlik 'n antwoord nie. Al sou jy 'n antwoord kry dan gaan jy moontlik daarteen weer protesteer.

Dit is die eerste tipe waarom vraag wat ek vir u wou noem.

Die tweede soort waarom-vraag is die vraag van egte belang-stelling.

'n Kind kan van daardie waarom-vrae vra.

Waarom moet Pa steeds petrol in sy motor gooi? Hy wil weet.

Hierdie waarom vraag is die vraag van 'n leergierige leerling.

Hy wil sy kennis uitbrei. Daarom vra hy steeds: waarom?

Dit is gewoonlik die beste leerlinge wat nooit ophou om na die waarom te vra nie.

Ek weet, 'n kind kan so eindeloos na die waarom vra dat jy as volwassene tenslotte maar jou skouers optrek. Dit is nou maar so.

Ons kry in Sondag 6 ook 'n hele paar waarom vrae.

Die onderwerp waaroor dit gaan is nogal volwasse. Dit gaan oor die goddelikheid en die menslikheid van ons Middelaar.

Maar die waarom-vrae word gestel soos die vrae van 'n kind wat wil weet. 'n Kind wat graag wil leer.

Die vrae van Sondag 6 is die vrae van iemand wat nadink oor God se verlossingsweg.

'Nadink', is eintlik 'n baie treffende woord.

Ons kan nie self 'n Middelaar uitdink nie.

Ons kan alleen maar agteraf nadink oor wat God vooraf bedink het.

God het vir ons 'n Middlaar gegee in Jesus Christus. Ons kan slegs agteraf vra en probeer verstaan. Hoekom juis hierdie Middelaar?

Waarom juis juis so een?

Ook hier sal ons met ons waarom-vrae tenslotte op 'n punt kom dat ons nie meer verdere antwoorde kan gee nie. Dan moet ons tenslotte sê: God het dit so gewil.

Inmiddels moet ons wel eers saam nagaan wat God ons van hierdie Middelaar en die weg wat Hy moes gaan geopenbaar het. Want een ding is heel duidelik. Ons lewe is in geding.

Hierdie Middelaar is eksklusief. Ons kan slegs deur Hom verlos word. Hy is God se enigste Middelaar.

Ek verkondig u vanmiddag:

Jesus Christus, die enigste Middelaar

  1. God se eise aan Hom
  2. God se gawe in Hom

Wat dink jy van Jesus Christus?

Hierdie vraag was altyd al die mees sentrale van die christendom.

Tot vandag toe is dit die groot punt in die gesprek van Jode en christene. Wat dink jy van Jesus Christus? Wie is Hy?

Ook in gesprek met heidene gaan dit om 'n antwoord op hierdie vraag. Wie is Jesus Christus?

Is Hy die stigter van 'n religie, 'n hoogs begaafde mens wat tot vandag toe volgelinge het vanweë sy visie op die lewe?

Ek vermoed dat met hierdie laaste visie op Jesus die grootste deel van die mensheid wel kan saamstem. Jesus was inderdaad 'n hoogs begaafde persoon. Anders kon Hy nooit soveel navolgers gekry het nie.

Maar met die toestemming van hierdie punt is ons nog lang nie by die eintlike ding waaroor dit gaan in die christelike geloof nie.

Die kern van die christelike geloof is, dat ons van Jesus glo dat hy die Seun van God, ja dat Hy Godself is.

En so'n belydenis roep uit die aard van die saak onmiddellik weerstand op. Want daarmee kom die geloof waartoe Hy opwek meteens op 'n heel andere vlak. As Hy die Seun van God is dan gaan dit nie meer daaroor of jy van hom moontlik 'n aantal waardevolle lewenslesse kan leer nie, maar dan word dit veel meer 'n saak van gehoorsaamheid.

Jy onderwerp jou aan Hom of jy verwerp Hom.

Die Jode het dit onmiddellik besef. Ons het iets daarvan gelees in Joh. 5.

Jesus het God sy Vader genoem in sy verdediging van sy genesing van 'n man op die sabbat. Hy het toe gesê: My Vader werk totnoutoe en ek werk ook.

En dan stel die Jode met skrik en moontlik met verontwaardiging vas dat Jesus Hom met God gelykstel. As jy so oor God praat dan beweeg jy jou op een vlak met Hom.

En ja, dan kan 'n mens teenoor Jesus maar een van twee doen: Of jy werp jou in aanbidding voor Hom neer. Of jy beskuldig Hom van Godslastering.

U is die Christus, die Seun van die lewende God!

U onthou die woorde van Petrus. U onthou ook dat die Here Jesus toe gesê het: Op hierdie belydenis sal Ek my gemeente bou.

So sentraal en onmisbaar is dus die belydenis dat ons in Jesus Christus met God Self te doen het.

Want onthou as ons die toorn van God oor die sonde ernstig neem, as ons die dreiging met ewige straf en 'n helse oordeel nie as sommer dreigemente wil verklaar nie, dan kan ons nie sonder hierdie belydenis van Christus as God Self nie.

Want wie kan 'n ewige straf ondergaan en dit tegelyk afbetaal?

Dit is mos onmoontlik?

Wie kan veroordeel word tot 'n ewige dood en vervolgens opstaan en lewe?

Dit kan uitsluitlik iemand wat die lewe in Homself het. Dit kan God alleen. Net God Self is sterk genoeg om in die oordeel van God te oorleef.

Verstaan u nou die ongelooflike belang van die goddelikheid van die Middelaar wat vir ons die straf op Hom neem?

Met Sondag 6: Ons Middelaar moet inderdaad waaragtig en ewig God wees.

Maar ons moet nie by die goddelikheid van die Middelaar bly staan nie.

Die kerk het ook leer bely dat Jesus Christus waarlik mens is.

Mens van vlees en bloed.

En ook hierdie belydenis is onmisbaar vir die kerk. Immers ons redding hang net so goed af van die ware menslikheid van Jesus Christus.

God is mos regverdig in sy oordele. God het sy eis van genoeg-doening aan niemand anders as aan die mens gestel nie.

En daarom moes ons Middelaar een van ons word. 'n Ware mens.

Sy broers in alles gelyk behalwe die sonde.

So en so alleen is Hy ons Heiland.

Volledig mens en volledig God.

Gemeente, ek kan verstaan hoekom dit moet.

Hoe dit kan, moet u van my nie vra nie. Dit bly die unieke van sy Middelaarskap.

Dit bly die geheim van God en Sy Seun wat ons nie kan en wil oplos nie.

Christus neem van ons die ewige dood weg en skenk vir ons ewige lewe.

Dit is al waaroor dit gaan in die kerk.

Hierdie boodskap maak ons ryk.

Geweldig ryk.

Of dit vir elkeen van u ook 'n verryking is hang af van die vraag in hoever jy hierdie boodskap tans 'n plek in jou lewe gee.

Is dit vir ons net teorie? Kerklike teorie?

Is dit vir ons net 'n dogma, 'n geloofsstuk van die kerk, wat vanweë sy hoë ouderdom ons respek verdien?

Of is dit 'n boodskap wat ons vandag nog kan beindruk?

Wat ons vanmiddag weer kan blymaak?

Ek weet die lewe is vir baie van u nie gemaklik nie.

Vir sommiges is dit selfs bitter swaar nou en dan.

Ons kan hier met mekaar nie elkeen se lewensprobleme oplos nie.

Ons kan ook nie mekaar se waarom-vrae beantwoord nie.

Maar een ding mag ons tog vir mekaar sê en aan mekaar vra.

Dit is dat ons ons kan verbly oor die belofte van die ewige lewe met God.

God se oordeel het verbygegaan. Op Golgota.

Ons kan nog wel swaarkry in die lewe, maar dit is nie 'n straf op ons eie sondes nie. Dit is ook nie 'n oordeel van God nie.

Tenminste as ons as kinders van Hom ons aan Hom onderwerp en ons lewe aan Hom toevertrou.

Immers dan het ons tans reeds die ewige lewe soos die Here Jesus in Johannes 5 sê.

Die ewige lewe wat ons nou reeds het, gee 'n nuwe lig oor ons huidige lewe.

Hierdie aardse lewe is nie alles nie. Dit is ook nie die laaste kans wat ons kry om iets daaruit te haal nie.

Nee, dit is die eerste kans wat ons kry om ons te verbly in die goedheid van die Here.

Ons het die woord gehoor. Ons het verstaan. Alles wat verkeerd is in hierdie wêreld daaraan staan ons saam skuldig. Ons buig ons onder God se toorn.

Maar daarom omhels ons met temeer dankbaarheid die unieke Middelaar wat vir ons beskikbaar gestel is.

Daaroor in punt 2.

God se gawe in die enigste Middelaar

Ons keer terug na Sondag 6. Nadat geantwoord is dat 'n ewentuele Middelaar sowel 'n ware en regverdige mens moet wees en daarby ook dat Hy waaragtig God moet wees, kom 'n baie spannende vraag.

Maar wie is dan so'n Middelaar?

In daardie vraag moet ons allereers iets van wanhopigheid hoor klink. As God se eise aan 'n Middelaar dan so hoog is, waar gaan ons ooit so iemand kry?

Want so iemand bestaan mos nie.

God is mos God. En 'n wêreld van verskil skei Hom van die mens. As Skepper staan Hy mos an die oorsyde van die bestaan.

Dus die bedoeling van die vraag is om nogmaals die onmoont-likheid van die hele situasie te onderstreep.

Maar.... wie is so'n Middelaar?

En dan volg daar die triomfantelike antwoord van die Kategismus. Ons Here Jesus Christus!

Hy is dit. Hy is die Middelaar wat aan al die eise van God voldoen. As enigste.

Nadat in die sondae hieraan voorafgaande daardie naam 'n bietjie agtergehou is, kan nou skielik die volle lig daarop val.

Ons Here Jesus Christus wat deur God aan ons geskenk is tot wysheid, regverdigheid, heiligmaking en verlossing.

Die laaste woorde word regstreeks aangehaal uit 'n brief van Paulus uit die eerste Korintiërbrief.

Nadat Paulus op die dwaasheid van die kruis van Christus gewys het, praat hy van die groot wysheid van God wat daaragter lê.

Paulus verlaat op die oomblik sy gewone redeneerstyl en gaan oor in 'n digterlike vorm.

Want nou is die oomblik om te roem. Hy is so beindruk deur die wonder wat God tot stand gebring het om mense te verlos dat hy nou alleen nog maar kan sing.

God het sy Seun Jesus Christus gegee!

Hy het geword tot wysheid, geregtigheid en heiligheid, ja tot 'n volkome verlossing!

Prys die Here!

Die Kategismus het in die Sondae 2-5 'n streng redenering gevolg. Allerhande feite is saaklik vasgestel en nugter onder oë gesien.

Maar nou die Naam van Jesus Christus val, nou word dit skielik anders. Nou gaan die Kategismus oor in 'n lofprysing!

In Jesus Christus kry ons die groot geskenk van God. Hy het Self 'n Middelaar gegee! Toe ons nie verder kon nie, het Hy gekom en self die oplossing gegee vir 'n onoplosbare probleem.

En daarom moet daar geroem word. Namelik in die Here.

Sy goedheid moet geprys word!

Soos gesê die toon van die Kategismus word nou skielik anders.

Daar word nie meer gepraat van die mens wat gesondig het nie en die mens wat verlos moet word nie.

Nee, hier gaan dit sommer oor van 'n dogmatiese waarheid in 'n heel persoonlike belydenis.

Oor die waarheid kan 'n mens redeneer, maar as jy persoonlik betrokke raak dan moet die redenering oorgaan in 'n geloofsuiting.

In 'n lied van verwondering.

In 'n toon van blydskap oor die feit dat dit waarvan so lank gepraat is, jou deel geword het.

Hoor maar: Dit is ons Here Jesus Christus wat deur God aan ons geskenk is.

Hier praat ons nie meer oor probleme en moontlike oplossings nie. Nee hier spreek ons almal 'n heel persoonlike belydenis uit.

Dit is Ons Here Jesus Christus.

Hy is die Enigste Middelaar.

Hy is God self.

Maar tegelyk is Hy mens soos ek.

Hoor u met hierdie besitlike voornaamwoord: 'ons' aanvaar ons die geskenk van God vir onsself. As ons eie.

Hierdie Heiland soek ek as my Middelaar.

Aan Hom vertrou ek my lewe toe.

En dan mag daar nog vrae genoeg oorbly, en dan sal daar heel wat waaroms onbeantwoord moet bly, maar ek weet My Verlosser lewe!

En daarom wil ek altyd weer my loflied sing op die grootheid van die Here God dat Hy so 'n Middelaar vir ons geskenk het.

Nee, dat Hy so 'n Middelaar aan my gegee het.

Ek kan daarvoor net dankie sê.

Met 'n hart vol dankbaarheid.

En met goeie hoop op vervulling van al sy beloftes.

Ook die belofte van ewig lewe vir elkeen wat hom aan Jesus Christus oorgee.

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)