Ons middelaar moet God en mens terselfdertyd wees

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 6
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 6 H.K.

LITURGIE:
L. Lukas 24: 13-35
Ps. 119: 34, 37
Ps. 119: 48
Ps. 77: 4, 6
Ps. 19: 4
Ps. 89: 6

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

U het dit dalk wel eens eerder gehoor: daar is al heelwat kritiek uitgeoefen op hierdie Sondagae van die Heidelbergse Kategismus. Is hierdie vrae en antwoorde nie veels te saaklik, veels te nugter en veral: veels te logies nie?

Die een nugter vraag na die ander word gevra. Alle moontlikhede om van Gods ewige toorn verlos te kan word, word saaklik ondersoek. Waarom moet die Middelaar so wees? Waarom moet Hy so wees? Totdat die logiese gevolgtrekking oorbly dat ons 'n Middelaar wat tegelyk God en mens is, moet soek.

Probeer ons so nie om puur verstandelik die weg wat God gegaan het om ons te verlos, te beredeneer nie?

Is dit nie 'n ongepaste poging om die Middelaar wat God vir ons gegee het logies verklaarbaar te maak nie?

Is dit nie 'n verskriklike hoogmoed van mense wat meen dat hulle in staat is om te verklaar waarom dit so en nie anders nie moes in God se raadsplan nie? Gaan ons nie feitlik in God se steol sit nie? Sy weë is mos nie ons weë nie, en is sy gedagtes nie hoër as ons gedagtes nie?

Hierdie kritiese vrae is al dikwels deur verskeie mense gevra, gemeente.

Maar, broeders en susters, Sondag 6 sélf laat ons sien dat hierdie hele kritiek ten onregte is. Moet maar kyk na vr. en antw. 19: "Waaruit weet jy dit? Uit die heilige evangelie.... "

Die Kategismus is nie besig om na 'n Middelaar te soek wat ons nog moet ontdek nie. Nee, God self het hierdie Verlosser lank al vir ons aangewys in sy Woord.

En ook maar net in navolging daarvan, en vanuit God se Woord, wil die Kategismus vir ons aanwys waarom ons Middelaar, die Here Jesus Christus, so moes wees soos Hy was, en is; dat Hy ook alleen so ons Verlosser kon wees.

Het die Kategismus hier nie 'n voorbeeld aan ons Heiland self geneem nie, gemeente? Hy het mos ook, vir die Emmaüsgangers, uit die Skrifte aangewys dat die Christus moes ly om tot sy heerlikheid te kan kom. Van Moses en al die profete af het Hy vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.

So wil ons ook vanmôre uit die Skrifte leer, waarom ons Heiland moes wees, soos Hy was en is: God en mens terselfdertyd.

Ek verkondig u:

ONS MIDDELAAR MOET GOD EN MENS TERSELFDERTYD WEES

ONS VIND HIERDIE MIDDELAAR ALLEEN:

  1. DEUR DIE UITLEGGING VAN DIE SKRIFTE
  2. AS DIE INHOUD VAN DIE SKRIFTE

1. Die twee mans wat ons ken as die "Emmaüsgangers", gemeente, het op eie krag nie kon klaarkom met God se unieke verlossingsplan dat 'n Middelaar wat God en mens terselfdertyd was, vir ons skuld moes boet nie. Hulle kon maar nie verstaan dat dit langs dié weg moes gebeur nie. Dat dit net so kon, en nie anders nie.

Lukas vertel vir ons dat hulle hulle intensief daarmee besig gehou het. Hulle het probeer om met die probleem van die Goeie Vrydag klaar te kom. Op pad terug huis toe het hulle swaar loop en pieker wat om van Jesus van Nasaret te moet dink.

Hulle het in Jerusalem die spanning volop me beleef, daardie oggend. Dit was 'n hele heen- en weergeloop gewees van mense met die mees wonderbaarlike verhale: 'n leë graf, 'n verskyning van engele, selfs leë lykwindsels. Maar: niemand het Jesus gesien nie. Maar waarom sou 'n dooie Jesus dan nou weer leef? En as Hy regtig weer leef, waarom het Hy dan drie dae terug Hom laat doodmaak?

Ja, gemeente, hulle kon maar nie verstaan dat die Christus moes ly om tot sy heerlikheid in te gaan nie.

Want dit was die eintlike probleem waarmee Kleopas en sy maat maar steeds hulself afgetob het. Hulle het regtig wel hoë verwagtings van Jesus gehad. Moet maar kyk in vs. 21, waar Kleopas sê: "Ons het gehoop dat Hy dit was wat Israel sou verlos". As daar verlossing sou kom, dan deur hierdie Jesus! Hy was die Messias wat God gegee het. Hulle was vas oortuig daarvan.

Totdat die kruis gekom het, die groot teleurstelling van die Goeie Vrydag. Toe was in een keer alle verwagtings die bodem ingeslaan.

Ja, en nou is daar vandag wel op allerlei maniere gesuggereer dat Jesus uit die dood sou teruggekeer het - en hulle was selfs nog wel bereid om dit te glo; Hy het mos meer as een keer ook ander uit die dood teruggeroep- maar às dit dan so sou wees: waarom het Hy Hom dan eers sonder verset die dood laat inja? ! Dít kon hulle nie verstaan nie. Op daardie punt het hulle gedagtes telkens vasgeloop van watter kant hulle dit ookal bekyk het.

Want hulle het God se weg dat dit so moes, nie verstaan nie. Diew kruis het nie in hul oorleggings gepas nie, maar juis hul hoop deurkruis.

Die Here Christus sou alle vrae en probleme in een keer kon weggeblaas het, as Hy Hom meteens met sy uit die dood weergekeerde en verheerlikte liggaam aan sy hierdie mans sou vertoon het.

Dit sou die maklikste weg gewees het, sou ons dink.

Maar dis opmerklik dat Christus dié weg juis nie gekies het nie, maar vermy. Hy het bewus die ompad gekies dat Hy sy leerlinge eers laat worstel het met die probleem van 'n verlate graf, terwyl Hy self uit die gesigsveld gebly het.

En selfs wanneer Hy eindelik binne die gesigsveld verskyn, lewend, lopend, luisterend en geselsend, sorg Hy daarvoor dat die moeite vir die Emmaüsgangers nog nie sommer verdwyn nie. Hy weerhou hulle oë, sodat hulle Hom nie kan herken nie. Hulle kan sy gedaante nie herken nie, en sy stem nie, ook nie sy woordkeuse nie. Maar as 'n onbekende maar wel oulike medereisiger wandel die Here saam met hulle Emmaüs toe. Daar is 'n mag van God wat die herkenning verhinder. Hulle mág Christus nie dadelik herken nie.

Baie bewus sluit die Here voorlopig hul oë, en voorkom Hy dat hulle die vertroude Jesus van vroeër weersien.

Waarom maak Christus so? Waarom stel Hy sy leerlinge so lank op die proef?

Christus sluit voorlopig die oë van sy dissipels omdat hulle ore moet oopgaan. Hulle moet met hul oop vraag oor die oop graf na die oop Skrifte toe. Voordat hulle mag sien moet hulle eers hoor na dit wat God allank tevore voorsê het, ook m. b. t. die graf in Josef se tuin.

Hulle is onverstandig met harte wat traag is om te glo! Hulle het nie hulle verstand gebruik en hulle Bybel gevat nie, toe hulle vanoggend geen tou meer daaraan kon vasknoop nie. Hulle het nie met hul hele hart God se klok bygehou nie. Dis hoekom hulle nou geen aansluiting kan kry nie.

En dus haal hul onbekende medereisiger asnog die Skrifte daarby en begin vir hulle gedurende hul wandeling uit te lê hoe dat die Skrifte 'n verrassende en verhelderende lig werp op die gebeurtenisse van die afgelope dae en ure.

Van begin tot end, vanaf die boeke van Moses tot en met die profete gaan Christus met hulle die Skrifte na en wys dit orals aan dat hulle voorbereid kon gewees het op dit wat nou gebeur het. 'n Gekruisigde Koning en 'n verlate graf - hulle het daarvan glad nie deurmekaar hoef te raak nie. Het God die hele heilsplan nie alreeds van tevore uitgeteken nie?

Vrae soos: waarom moet ons Verlosser 'n egte en regverdige mens wees? en: Waarom moet Hy terselfdertyd ware God wees? Waarom moes God mens word en sterf aan 'n kruis? kan niemand beantwoord deur logies te redeneer en vernuftig te konkludeer nie. Daarvoor moet jy eenvoudig en intensief die Skrifte lees en ondersoek.

Wie eers maar lees en luister, sal vanself ook sien.

En daardie Emmaüsgangers het dit gaan sien, gemeente. Net nou sê hulle vir mekaar: "Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie? " Hulle het vir die man langs hulle nouliks 'n oog gehad. Maar hulle was wel een en al oor gewees vir dit wat Hy uit die Skrifte aangewys het. Want deur die uitlegging van die Skrifte het die Christus in beeld gekom, Hom wat hulle die hele dag alreeds gesoek het en Wie hulle maar steeds nie kon vind nie. Toe die SKrif oopgegaan het, het ook hulle oë oopgegaan. En hul harte het aan die brand geraak. Dermate, dat hulle hierdie onbekende Bybelkenner baie graag nog 'n rukkie by hulle wou hou. Nie vanweë die man nie, maar vanweë sy Woord, vanweë sy verbasende kennis van die Skrif.

Opsetlik het die Heiland hierdie skynbare ompad gekies, broeders en susters. Binnekort sou Hy eeuelank onsigbaar wees vir sy volk. Oor 'n paar weke sou mos die hemelvaart kom. Die wat die Christus net as 'n persoon, as 'n verskyning geken het, sou op die hemelvaartsdag alles verloor.

Daarom het Christus betyds die Skrifte as tussenskakel tussen Hom en sy volk ingeskuif. Pase is nie die terugkeer na die oue en vertroude nie. Die opstanding bring nie die regstreekse kontak waaraan hulle die afgelope 3 jaar gewoond geraak het, terug nie. Pase lui 'n nuwe fase in God se heilsgeskiedenis in. Nou breek die tyd aan van nie sien nie, en nogtans glo. Glo op grond van die Skrifte. Want dit is dié wat van Christus getuig. Die Skrifte bring die Christus tog haarfyn in beeld.

Ook na die hemelvaart sal Christus altyd sigbaar wees. Maar net nie meer via die oë nie. Voortaan via die ore, as ons na die Skrifte hoor. So sal Hy tog altyd daar wees. Liggaamlik verdwyn Hy uit die oog. Maar die Skrifte bly. En as die Gees van Christus die Skrifte ons op die hart bind, kom ons harte tog in vuur en vlam te staan. Harte wat traag is om te glo, word deur die uitlegging van die Skrifte brandende harte.

Dit is die pad waarlangs Christus na ons toe kom: deur middel van oop Skrifte na oop harte.

Langs dié pad het die Here mos ook na u toe gekom, broeders en susters.

Die meeste van u het van kleins af die Heilige Skrifte leer ken. God het 'n pa en ma gegee wat met baie geduld en aanvanklik in alle eenvoud vir ons geleer het om te luister na dit wat die HERE oor Homself in die Skrifte sê. Daarna het die onderwysers in die skool dit aangevul. Ons het 'n eie Bybel gekry en geleer om daaruit te lees, terwyl ons weekliks in die kerk vanuit die Skrifte onderrig is, sowel sondags in die prediking as op weeksdae in die katkisasieklas.

Ons het mekaar gehelp om in die vereniging die Bybel te bestudeer.

En dit was die weg waarlangs die Gees van ons Here Jesus Christus die geloof in ons harte laat ontvlam en aangewakker het.

Maar as dit dus die weg is, dan is dit wel belangrik dat ons hierdie pad voortdurend oophou. Met ander woorde, dat ons vir die Skrifte 'n oop oor hou!

In die Dordtse Leerreëls staan dit so mooi geformuleer: "Dit het God behaag om sy genadewerk deur middel van die verkondiging van die evangelie in ons te begin. So bewaar Hy dit, sit Hy dit voort en voleindig Hy dit deur die aanhoor, die lees en die oordenking van die evangelie...... "

Die vuur van die geloof bly nie soos vanself wel brand nie. Dit kan sommer weer doodgaan as ons nie met 'n hartlike oorgawe die Skrifte bly aanhoor, lees en oordenk nie.

En dit is 'n gevaar wat ons almal aanhoudend bedreig. Hoe gou kan mense wat met brandende harte openbare geloofsbelydenis afgelê het, weer onverstandig word en harte kry wat traag is om te glo, sodat hulle die regte sig op Christus verloor!

Dit gebeur onvermydelik as ons nie meer een en al oor bly vir die boodskap van die Skrif nie- as ons die uitlegging van die Skrifte in die prediking al gou te moeilik vind, of so krities daarna luister dat ons onsself by voorbaat die seën ontneem- as die Skriflesing by die huis beperk word tot gou gou 'n stemmingsgedeelte -'n psalm of iets dergeliks en in elk geval nie al daardie moeilike gedeeltes uit die Ou Testament soos die Wette van Moses en die profete nie- pleks van om saam die hele Bybel deur te werk met sonodig hulpbronne daarby; dit gebeur as die Skrifoordenkings in die "Kerkstad" en "Woord & Wandel" tot die lektuur behoort wat per definisie nie gelees word nie- as die boekrakke vol staan met allerhande lektuur maar die gedeë Skriftuurlike boeke makeer- as ons dit maar aan ander oorlaat om saam die Skrifte te ondersoek in die Verenigings, of as die Verenigingsaand wel bygewoon word maar 'n minimale voorstudie 'n sinvolle bespreking by voorbaat onmoontlik maak.

En u kan dit maar aanvul....

Ek waarsku hier nie vir denkbeeldige gevare nie. Maar ek konstateer hier 'n reële bedreiging van ons geloofslewe: gevaarlike gemaksug in die besigwees met God se Woord, 'n beangstigende gebrek aan kennis van en insig in die Skrifte. Seuns en dogters wat al amper belydenis sou moet aflê, maar hul Bybel so sleg ken dat hulle nie weet waar om die profesië van Esegiël te soek nie.

Die Bybel moet vir ons 'n oop boek bly, broeders en susters, waarin ons op elke bladsy ons Verlosser raakloop: God wat mens geword het om in ons plek deur lyde heen die pad na die heerlikheid te baan.

2. Die wat die inhoud van die Skrif ken en voor oë bly hou, moet mos wel in vuur en vlam kom te staan. Dié het ook geen moeite meer met die vrae in Sondag 5 oor die God-wees en mens- wees in Christus terselfdertyd.

Op elke bladsy van die Bybel word vir ons mos van Christus vertel.

Christus het as onbekende vreemdeling in Jerusalem Homself vir die Emmaüsgangers in die Skrifte aangewys. Hy het deur die hele Ou Testament heen vir hulle uitgelê al die dinge wat in al die Skrifte op Hom betrekking het. Hy het Homself as die inhoud van die Skrifte aangewys, so, dat geleidelik duidelik geword het hoe dat Hy in God se verlossingsplan metvolk gepas het. Hulle het geleer, asof dit vir die eerste keer was, om die erns van die sonde raak te sien, waardeur niemand meer God se Koninkryk kan beërwe nie. En hulle het die eis van God se reg weer leer eer, waardeur daar alleen versoening deur voldoening moontlik is, soos God dit in die bloedige offerdiens aangewys het. Hulle het eers nou ten volle verstaan dat God die skuld van sy volk heeltemal vereffen wil hê, nie deur dierebloed nie, maar deur menseliefde, maar dat geen mens in staat is om die losprys vir homself te betaal nie, laat staan vir ander mense. Hulle het al hoe duideliker gaan besef dat die wêreld in skuld verlore lê, dermate dat alleen nog God se genadige ingryping van bo-af uitredding kan bring. Alleen 'n goddelike Borg kan nog die prys betaal.

Maar dan gaan hulle ook insien dat daardie goddelike Borg wat God wou gee, eers Homself as Priester moes offer vir die sondes van die volk, voordat Hy sy troon kon bestyg.

So moes dit, volgens die plan wat God al eeue van tevore in die Skrifte uiteengesit het. Daar moes 'n goddelike Middelaar kom wat Homself eers as mens moes laat verbreek, om langs dié weg te kan verlos.

Daardie onderwys uit die Skrifte het vir die Emmaüsgangers brandende harte gegee, broeders en susters. Hulle het die Christus gaan raaksien, soos Hy regtig is en soos hulle Hom moes verwag het. Hulle het baie klein en skuldbewus tydens hierdie katkisasieklas geword, en tegelyk diep verwonderd oor die grootheid van God se genade wat in hierdie Christus, God en mens altwee, aan die lig gekom het.

Toe hulle sover was, toe mog die skille van die oë afval. Toe was hulle ryp om in hul reisgenoot die Christus self, die onderwerp van die katkisasieles, te herken.

Dit het gebeur "by die breking van die brood" vertel Lukas spesiaal een- en andermaal daarby. Hierdie leerlinge het ongetwyfeld tot die kring wat regstreekse kontak met die 12 apostels onderhou het, behoort. Dit blyk wel uit wat oor hulle vertel word. Sou hulle in die afgelope dae saam gehoor het van die eienaardige wending wat die Here tydens die laaste Pasgaviering aan die maaltyd gegee het. Toe Hy brood geneem het, en nadat Hy gedank het, dit gebreek het met die woorde: "dit is my liggaam dat vir julle gegee word"?

Dis naamlik opvallend dat Lukas hier presies dieselfde woordkeus gebruik het, wat ons in die boek Handelinge ook nog weer raakloop as die aanduiding vir die nagmaal.

In dié geval het Christus bewus daardie breking van die brood deur Homself, alhoewel Hy net 'n gas was, tot die aanknopingspunt vir die herkenning gemaak. Gebreekte brood as die sigbare onderstreping van die katkisasieles van onderweg. Gebreekte brood wat 'n lydende Christus in gedagtenis roep.

Maar op dieselfde oomblik verdwyn Hy dan ook weer uit die gesig. Dit kan nou. Hulle kan nou met Hom verder, ook sonder om Hom te sien. Hulle het nou aan die Skrifte genoeg.

Die Skrifte bring vir ons die Christus in beeld, gemeente. God uit God, wat ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel moes neerdaal het en 'n mens moes word. 'n Middelaar Christus wat oor ons sondes moes sterf. En wie Hom so gesien het, kom in vuur en vlam te staan. Dos moet die Skrif 'n oop boek vir ons bly.

Maar 'n oop Skrif alleen is nie voldoende nie. Ons sal 'n oop oor moet hê vir dit wat die Skrifte t. a. v. die lydende Verlosser vertel.

Die boodskap van die Skrifte is naamlik vir hoogmoedige harte nie aangenaam nie. Want dit leer vir enige mens om 'n afkeer van homself te kry en om die lewe buite homself in Christus te soek. Ons leer daardeur om alleen van GENADE te lewe.

Dit is dan ook nie verwonderlik nie dat baie mense hul oë en harte vir hierdie Christus sluit.

Dit is geen wonder dat baie mense liewer hulleself deur dwaalleer sand in die oë laat strooi. Juis ook allerhande dwaalleer wat óf die egte mens-wees, maar vooral die egte God-wees van Christus aantas.

Maar waar die evangelie van die Skrifte verswak en bygeslyp, verdraai en toegedek word, waar die erns van die sonde verdoesel en die grootheid van God se genade verklein word, waar die mens deur vervalsing van die evangelie leer om tog weer homself belangrik te maak, daar verdwyn die egte Christus uit die gesigsveld en daar verkil ook dadelik die harte en raak die kerke leeg. Daar gaan die toekoms dig.

Salig is daarom elkeen wat uit die Skrifte Christus as die Verlosser van sóndaars, verlore sondaars, leer raaksien. En glo!

AMEN.

(Pretoria, 22 April 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)