Jesus Christus, God en mens altwee, is die Middelaar van die nuwe en beter verbond

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 6
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 6 H.K.

LITURGIE:
L. Num. 20: 22-29 & Hebr. 7: 11-28
Ps. 115: 6, 7
Ps. 115: 9
Ps. 118: 1, 7
SB. 8: 1, 4
SB. 33: 3

Broeders en susters,

Sondag 6 dwing my om vanaand te spreek oor wat eintlik onuitspreeklik is.

En u moet met my nadink oor wat ons verstand te bowe gaan.

Want so mag ons dit tog wel sê noudat Sondag 6 ons aandag vra vir die Persoon van die Middelaar wat God self tussen Hom en ons gegee het: 'n Middelaar wat terselfdertyd ware God en ware mens is. Die heilige God en 'n regverdige mens in een Persoon.

Een wat die ewige las van die toorn van God as mens gedra het en tog daar nie vir ewig onder beswyk het nie.

Hier moet ons mos wel woorde kortkom. Hiervan moet ons verstand mos wel stil staan. God het 'n onvindbare Verlosser nogtans gevind.

Ons sou ook maar beter kan swyg as ons uit onsself oor die wonder van hierdie Middelaar sou moet praat.

Maar gelukkig hoef ek maar net na te sê wat God ons voorgesê het.

En u hoef maar net na te dink oor wat God voorgedink het.

Eindig Sondag 6 nie so nie? "Waaruit weet jy dit? " Waaruit weet ons dit alles, oor die volmaakte Middelaar wat God en mens terselfdertyd moes wees, en waarom

Hy dit moes wees om ons van ons skuld teenoor God te kan verlos?

Ons kan dit mos alleen maar weet uit die heilige evangelie, diè blye boodskap van verlossing, wat God self alreeds in die paradys bekend gemaak het, wat Hy vervolgens op allerhande maniere nader ingevul het, en wat Hy op sy tyd deur Sy Seun vervul het. Die geheim van ons Verlosser word vir ons in die Skrif onthul.

Die Kategismus noem in hierdie verband ook die offers en ander seremonies van die wet van die ou verbond. Ook daarin het God vertel van die groot Verlosser wat daar moes kom. Ook die hele inrigting van die Outestamentiese erediens het aanskouingsonderys gegee oor die volmaakte Middelaar wat alleen in staat sou wees om vir God se volk regtig die geregtigheid en die lewe te verwerf en terug te gee.

Ek het opnuut in hierdie sigbare onderwys van God in die ou verbond my vertrekpunt gekies om vir u die wonder van die nuwe verbond wat God se eie Seun bekragtig het, dit keer vanuit Sondag 6, te wys.

Ons het laas week, in die preek oor Sondag 5, al spesiaal aan hierdie erediens aandag gegee. Maar toe het ons veral gelet op die prys wat God as betaling vir ons skuld geëis het: offerbloed.

Vandag haal Sondag 6 die Middelaar wat hierdie prys betaal het in die kollig. Die Hoëpriester wat sy eie bloed geoffer het.

Ek mag u verkondig:

JESUS CHRISTUS, GOD EN MENS ALTWEE, IS DIE MIDDELAAR VAN DIE NUWE EN BETER VERBOND.

  1. Die middelaar van die ou verbond was self ook onderworpe aan die dood.
  2. Die Middelaar van die nuwe verbond is die oorwinnaar van die dood.

1. Die woord "Middelaar" het geval, broeders en susters.

By hierdie woord het ons op die ou end uitgekom, aan die einde van Sondag 5, nadat ons die gevolgtrekking moes maak ons kan onsself onmoontlik van ons skuld by God bevry.

As dit aan ons sou lê, dan sou die verbond met God in die ewige verderf moet doodloop, want ons het die reg op lewe en op God se liefde verspeel; en ons is ook nie by magte om hierdie reg nog ooit terug te verdien.

En God ken geen genade vir reg nie. Daar moet aan sy reg voldoen word. Alleen versoening deur voldoening.

Dus is ons verlore- tensy 'n ander een hom in ons plek voor God stel en ons belange by God gaan behartig.

Ons benodig 'n Middelaar wat vir ons by die Vader intree.

Hierdie noodsaak, dat 'n middelaar hom in ons plek voor God stel, het die HERE al vir sy volk in die erediens van die ou verbond geleer. En dan baie spesiaal deur die persoon van die hoëpriester.

Hierdie een man moes heel besonderlik in Israël optree as die saakwaarnemer van die hele volk by God.

Hy was een uit die volk, in alles aan sy broers gelyk, 'n ware mens soos sy, maar hy mog uit die middel van die volk vorentoe tree en die saak van die hele volk voor God bring.

Die HERE het al die ander op 'n afstand gehou. Niemand mog dit waag om tot Hom te nader nie. Watter skuldige mens kan mos voor die heilige God kom sonder om te sterwe?

God het wel by sy volk gewoon, in die heiligdom. Maar u weet, onsigbaar en ongenaakbaar agter 'n dik en donker gordyn wat altyd gesluit moes bly.

Net hierdie een man mog een maal in die jaar deurdring tot binnekant die gordyn en tot vlak voor God se troon nader.

Die hoëpriester alleen kon die afstand tussen God en sy volk oorbrug en die belange van die volk namens almal by God behartig.

So het die hoëpriester in die ou verbond as 'n middelaar van die volk by God gefungeer.

Die HERE het hierdie middelaarsposisie ook tot uitdrukking laat kom in die kleding wat die hoëpriester moes dra:

Op albei sy skouers het hy 'n edelsteen gedra met daarin die name van die 12 stamme van Israël ingegraveer- op elke skouer 'n steen met 6 name. Boonop het die hoëpriester ook nog 'n borstas gedra, met daarop in vier rye van drie 12 edelstene, wat nogmaals die 12 stamme van Israël moes simboliseer. In elke steen het die naam van 'n stam gestaan.

So was dit dus 'n sigbare saak dat hierdie een man as die verteenwoordiger van die hele volk opgetree het. Hy het sêmaar die volk op sy skouers en op sy hart gedra. Hy het nie sy eie belange gesoek nie, maar die belang van die volk by God gedien.

God het dit selfs tot 'n hòòrbare saak gemaak dat die hoëpriester die middelaar van die volk was. Want aan die soom van sy mantel was daar almal klein goue klokkies, wat hoorbaar geklingel het as die hoëpriester namens die volk in die heiligdom ingegaan het om voor God te nader. Die volk kon deur die geluid van die belletjies hom in gedagte tot voor God se troon volg en weet: hy gaan nie net vir homself nie, hy gaan ook vir my!

Deur dit alles het die volk dus 'n sigbare en hoorbare onderwys oor die noodsaak van 'n middelaar ontvang. Almal was op hierdie een man aangewese. Sonder sy diens sou die lewe in God se nabyheid 'n volslae onmoontlikheid wees. Alleen deur die bemiddeling van die hoëpriester wou God by sy volk bly woon en die lewe seën.

Die hoëpriester het die volk dan ook aanhoudend aan die erns van die sònde, waardeur die afstand tussen God en hulle ontstaan het, herinner. Die skuld was so groot, dat God nog slegs een man, as die saakwaarnemer van die ander, in sy heiligdom wou ontvang.

Die vernaamste diens wat die hoëpriester die volk daarom kon bewys, was die versoening van hul sondes by God. As hy tot voor God se troon in die Allerheiligste genader het -en ook hy mog dit maar net een maal in 'n jaar- dan het hy dìt kom doen: versoeningswerk verrig. Hy het die bloed kom bring wat God as 'n versoening vir die sondes geëis het. Sonder bloedvergieting vind daar mos geen vergifnis plaas nie.

God mog die bloed van die hele volk eis. Hy het daarop reg gehad. Almal het dit verdien om dood te bloei. Maar die HERE het genoeë geneem het plaasvervangende bloed wat die hoëpriester vir Hom kom bring het. As die hoëpriester dit op die versoendeksel gesprinkel het, mog die volk verder lewe. Danksy die offerdiens van die hoëpriester is God se toorn oor die sonde telkenmale gestil en die verdiende dood afgeweer.

Nogtans, broeders en susters, kon die middelaar van die ou verbond God se volk nie afdoende help nie. Hy was nie by magte om deur sy diens God se volk regtig van die sondes af te help en vir hulle die lewe terug te gee nie.

Welbeskoud het ook hy nie die reg gehad om tot God te nader nie. Want hy was eweseer 'n sondaar soos al die ander, sodat hy verplig was om eers vir sy eie sondes offers te bring. En die bloed wat hy voor God se aangesig gebring het kon ook nie werklik die sondes versoen nie; want dit was onmoontlik dat die bloed van bulle en bokke die sondes sou wegneem. Daarvoor sou nie minder nie as die bloed van 'n volmaakte middelaar nodig wees: 'n mens sonder sonde.

'n Middelaar soos Aäron was nie by magte om God se volk permanent aan die dood te ontruk en die lewe met God terug te gee nie.

En ook dìt het die HERE aan Israël wil duidelik maak.

Dit vertel die geskiedenis wat ons uit Numeri 20 gelees het vir ons.

Moes Aäron by sy lewe die noodsaak van die middelaarskap aan die volk voorhou, by sy sterwe moet hy die magteloosheid van hierdie middelaarskap aan die volk wys.

Hy mog nie in stilte sterf nie. Sy sterwe mog geen privaat-aangeleentheid bly nie, iets waarby alleen die naaste familie aanwesig was.

God het daarvan 'n publieke demonstrasie vir die hele volk gemaak. Gans Israël moes hiervan getuie wees: die hoëpriester sterf!

Dis hoekom God vir Aäron die berg Hor laat opklim het. En daar, op die verhoog, moes hy sy ampsklere uittrek om daarna voor die oë van die hele gemeente te sterwe.

Israël moes dit sien: dit is die einde van sy ampsdiens. Ook hy is aan die dood onderworpe en word by sy volksgenote versamel.

Dis 'n veelseggende uitdukking, broeders en susters, wat in hierdie verband in Numeri 20 gebruik word: "tot sy volksgenote- of liewer: tot sy voorouers versamel word". Want Aäron het tydens sy hele ampsdiens afstand moet bewaar tot die dood. Selfs by die sterwe van sy eie pa en ma, 'n broer of suster, en by hul begrafenis mog 'n hoëpriester nie aanwesig wees nie. Die hoëpriester was mos die groot opponent van die dood. Deur sy diens moes hy mos die dood op 'n afstand van die volk hou.

Baie duidelik word ons dit by voorbeeld in die slot van Numeri 16 vertel: toe daar na die opstand van Korag, Datan en Abiram 'n plaag onder die volk uitgebreek het waardeur baie mense gesterf het, het Aäon met 'n vuurpan met reukwerk onder die volk in gehardloop om versoening vir die volk te doen. En, so lees ons dan in vs. 48: "terwyl hy tussen die dooies en die lewendes staan, het die plaag opgehou". Waar die hoëpriester optree, kan die dood nie verder kom nie. Hierdie middelaar was by magte om die dood te keer.

Maar nou moet Israël sien dat hierdie middelaar nogtans ook die weg van alle vlees gaan, en op die ou end ook self deur die dood gevat word. Hy word tot sy volksgenote, sy voorouers versamel. Ook hy val sêmaar in die massagraf waarin al so baie volksgenote hom voorgegaan het.

So moes Israël deurdronge raak van die onvolkomenheid van Aäron se middelaarskap; hulle moes hul blik van hom losmaak en leer om vorentoe te kyk. Die oorwinning op die dood lê nog iewers in die toekoms. Hulle moes dit gaan besef dat daar 'n beter Middelaar nodig was, een wat sterker as die dood sou wees.

Eleasar het wel die ampsklere van sy pa aangetrek om sy ampsdiens onder Israël voort te sit. Maar ook hy sou God se volk nie regtig verder kan bring nie. Hy het 'n priesterskap volgens die orde van Aäron ontvang. Hy het by Aäron se dood begin en sou by sy eie dood eindig.

2. Hoe 'n middelaar en verlosser moet ons dan soek?

So een wat 'n ware en regverdige mens is, sonder enige sonde, maar nogtans ook sterker as alle skepsels is, dit wil sê: een wat terselfdertyd ware God is.

As daar dan geen middelaar van hier benede by magte is om ons skuld vir altyd by God weg te werk nie, dan sal daar van bo 'n middelaar moet kom. Dan sal God self alleen nog uitkoms kan bring.

En ons weet: God hèt uitkoms gebring, broeders en susters. Hy het die beter Middelaar, na wie Hy sy volk onder die ou verbond leer uitsien het, lankal agter die hand gehad.

En op sy tyd het Hy vir ons die Verlosser gegee wat hier op aarde nie te vinde was nie. Hy het Hom uit die hemel laat kom: Sy eie Seun het Hy in die wêreld gestuur, ontvang van die Heilige Gees -God uit God, sterker as alle skepsels- maar gebore uit die maagd Maria -en so: mens onder die mense, hul eie vlees en bloed.

Ons staan hier rêrig aan die grense van ons dinke, gemeente. Heeltemal 'n mens van vleis en bloed soos ons en nogtans sonder sonde- wie het dit ooit gesien sinds die sondeval?

En terselfdertyd: ware God, sodat Hy deur die krag van sy Godheid die las van die toorn van God oor ons sondes aan sy mensheid sou kan dra sonder om vir ewig daaronder te beswyk.

God het die onmoontlike moontlik gemaak.

Maar ons sê tegelyk: dit kon ook alleen maar so. Alleen hierdie Middelaar was in staat om vir ons die geregtigheid. die herstelde verbondsverhouding met God, en die lewe te verwerf en terug te gee.

Hierdie Middelaar het ons nodig gehad: 'n mens soos ons, om uit die middel van by broers en susters vorentoe te kan tree en tot God te nader.

En terselfdertyd: sterker as alle skepsele om nou eindlik die hele las van ons skuld van ons af te vat om dit op sy eie skouers te laai en vir altyd uit te delg.

So'n hoëpriester was vir ons gepas, sê die skrywer van die brief aan die Hebreërs in die gedeelte wat onms gelees het: "een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is en wat daarom tot in die hoogste hemele mog opklim; wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters uit die geslag van Aäron, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir diè van die volk nie. Maar een wat vir eens en vir altyd die versoenende offer vir sy volk gebring het toe Hy Homself geoffer het".

God se Seun het in die wêreld gekom en Hy het een van ons geword. Hy het Hom nie in 'n opvallende ampsgewaad vertoon nie, maar het sy glorie verberg deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem.

Tog was ook Hy 'n Middelaar wat al die skuld van sy volk na hom toe getrek het.

Toe moes ook Hy op die ou end 'n berg opklim om te sterwe- Golgota. En God het ook hierdie sterwe tot 'n publieke aangeleentheid gemaak.

En hulle het ook Hom die klere uitgetrek.

Maar sy middelaarskap het daar nie geëindig nie, soos dit by Aäron die geval was. Aäron se priesterdiens het daar op die berg Hor afgebreek, maar Christus het op Golgota volkome in funksie gebly, ja, juis toe het Hy tot die hoogste priesterdiens gekom. Hy het geen bulle of bokke vir die versoening van die volk geoffer nie, want daarmee kon die skuld mos nie werklik weggedoen word nie. Hy het daarom Homself geoffer en sy bloed gegee tot 'n volkome versoening van al ons sondes, om vervolgens daardie bloed tot binnekant die voorhangsel van die heiligdom in die hemel te bring.

Toe Christus op diè berg gesterf het, is Hy dan ook nie tot sy voorgeslag vergader nie. Hy het nie teruggeval in die graf van die voorouers, waarin al so baie hoëpriesters Hom voorgegaan het nie. Maar Hy het die dood en die graf van binneuit gaan oopbreek. Hy het deur sy dood hom wat mag oor die dood gehad het - dit is die duiwel- tot niet gaan maak, om almal te bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.

Hy het die dood ingegaan om ook weer daaruit op te staan. En om so ons almal uit die greep van die dood weg te sleur.

Hierdie Middelaar was nie, as 'n ewe skuldige mens soos ons almal, onderworpe aan die dood nie, maar hierdie Middelaar het die oorwinnar op die dood geword.

Hy het nie gekom om op die ou end saam met ons te val nie, maar Hy het gekom sodat ons met Hom nou eindlik sou opstaan. Hy het ons aan sy hand na ons hemelse Vader teruggebring. Want Hy kan volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.

Noudat hierdie hoëpriester ons belange by God behartig, langs God op die troon in die hemel, nou lê die lewe vir ons weer oop.

Toe Aäron gesterf het, het God se volk 30 dae lank oor hom rou bedryf, gemeente.

Ons kan alle dae vreugde bedryf, noudat Christus vir ons gesterf het. Aangesien sy dood vir ons almal die deurbraak na die lewe geword het!

AMEN

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)