Die skrifte verkondig die koms van die Middelaar

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 6
Preek Inhoud: 

Ps 19: 1, 2, 4
Ps 123: 1, 2
Geloofsbelydenis
Skb 33: 1, 2, 3
Lees: Joh. 5: 25-47 & art 5, 7 N.G.B.
Teks: Sondag 6 vr 19

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus!

Vanoggend het ons reeds genoem dat dit vandag die eerste sondag van die Advent is.

Die adventstyd is in die christelike tradisie die laaste vier sondae voor die kersfees.

In die huise van christene word dan tradisioneel 'n adventskrans gemaak met vier kerse daarin waarvan elke sondag een aangesteek word as 'n herinnering, die tyd stap aan. Nog soveel weke dan vier ons die koms van die Here Jesus in die vlees. En tegelykertyd ook nog 'n beperkte tyd, dan sal die Here Jesus vir die tweede keer kom. Dan is die tyd van die volheid daar.

In die prediking word in die adventstyd aandag gegee aan die belofte van die koms van die Middelaar.

Hierdie beloftes vind ons op veel plekke in die O.T.

Daar is verskillende profete wat in hul profesieë op een of ander manier aanduidings gee oor die beloofde Messias.

In die opsig is die hele O.T. soms 'n adventsboek genoem.

En dit is reg.

Want heel die O.T. vertel die verhaal van die komende Verlosser. Die Here het 'n lang pad gekom met sy Middelaar.

En so is die hele O.T. die verhaal van die komende Christus.

Dit is die Here Jesus self wat daarop nadruklik gewys het in sy diskussie met die Skrifgeleerdes.

Hulle het beswaar teen sy pretensie dat Hy die Seun van God is. Dit kon hulle nie aanvaar nie. Dit klink vir hulle na godslastering om soiets te sê.

Vir ons ore klink dit eerder na godslastering om te ontken dat Jesus die Seun van God is.

Maar besef goed dat ons met die belydenis van Jesus as die Seun van God om so te sê grootgeword het.

Vir die Jode was dit tereg 'n heel verregaande uitspraak wat definitiewe bewyse verdien voordat dit aanvaar kan word.

Om daardie bewys te gee wys die Here Jesus op die Skrifte. Julle hoef nie af te gaan op wat ek sê nie, maar kontroleer dit wat ek sê met die Skrifte.

Want dit is die Skrifte wat van My getuig.

Dit is die Skrifte wat teen julle sal getuig as julle my getuienis dat Ek die Seun van God is, verwerp.

Ons tema is:

Die Skrifte verkondig die koms van die Middelaar

  1. Ons leer Christus ken uit die Skrifte
  2. Ons leer Christus liefhê deur die Skrifte

Waaruit weet jy dit?

Dit is die laaste vraag van Sondag 6. Vanmiddag gee ons daaraan aparte aandag.

In hierdie Kategismussondag het dit gegaan oor die vraag, wie die Middelaar is deur wie ons gered kan word. Nadat eers aangetoon is dat ons onsself op geen enkele wyse kan red nie, het die Kategismus tenslotte by die Here Jesus uitgekom as die enigste Middelaar.

Hy is aan ons geskenk tot 'n volkome verlossing.

Nadat dit vasgestel is vra die Kategismus vervolgens: Waaruit weet jy dit?

'n Teregte vraag.

Immers by sake wat so belangrik is, (jou ewige lewe!) mag jy wel baie seker maak dat jou bronne waarop jy dit baseer reg is. Dat hulle betroubaar is.

En dan gee die Kategismus die triomfantelike antwoord: Uit die heilig Evangelie, wat God self geopenbaar het.

Dit is nie ons eie redenerings wat ons by Jesus Christus laat uitkom het.

Dit is ook nie wetenskaplike ondersoek wat ons dit laat uitvind het.

Nee God Self het die aan ons geopenbaar.

En daarom is daar niemand wat dit kan wegredeneer nie.

Ons weet dit omdat God Self so gesê het.

Dit is opvallend dat hier nie na die Bybel of na die Woord van God verwys word nie, maar na die evangelie.

Heel die Skrif word hier aangedui as evangelie- blye boodskap.

Waarom is die Skrif blye boodskap?

Wat is bly daaraan?

Dit is omdat die boek oor ons verlossing gaan!

Oor ons bevryding uit 'n lewe wat deur die sonde so vreeslik bederf is.

Heel die Bybel is die boek van ons verlossing.

Laat ons dit nog maar eens 'n slag nadruklik vasstel.

Mense kan dikwels op 'n manier met die Bybel omgaan asof dit 'n boek is wat jou lewe en dinke vreeslik beperk.

Dan is die gedagte: as jy leef met die Bybel as die Woord van God dan kry jy in die lewe nie 'n millimeter speling nie. Dan lê alles wat jy moet dink en glo lankal vas in vaste vorme en woorde. Jy kan self eintlik nie meer nadink nie, want alles is vantevore reeds vasgelê.

Hoe kan jy jou as mens in hierdie moderne wêreld handhaaf as jy jou met hande en voete moet laat bind aan gedagtes en idees uit 'n ver verlede?

So'n verwyt word nie altyd ten onregte gemaak nie.

Daar is inderdaad mense wat so met die Bybel omgaan. Vir hulle is alles vasgelê wat jy moet dink of wat jy moet doen en jy is maar net bang om daarvan enigsins af te wyk.

Jy meen dat in die Bybel presies voorgeskryf is wat jy wel of wat jy nie moet doen nie. En as jy in 'n sekere situasie nie presies weet wat om te doen nie, dan meen jy dat tog wel iewers in die Bybel 'n oplossing vir jou probleem moet staan. Jy moet dit net kan vind. Of jy soek deskundige leiding wat dit vir jou uitvind.

Maar die Kategismus haal ons ver vandaan so 'n visie op die Skrifte.

Die Bybel is die evangelie!

Dit is die boek waarin die verhaal vertel word van ons verlossing. Dit is die Boek waarin die Here Jesus Christus aan ons bekendgemaak word as die Middelaar van God.

Reeds vanaf die eerste begin is die Bybel die boek van die verlossing.

Vanaf die allereerste begin is daar sprake van evangelie.

Kyk maar sê die Kategismus. Al in die Paradys het God Self met die evangelie gekom.

Toe reeds het Hy belowe: Daar sal 'n kind gebore word uit die vrou wat die kop van die slang sal vermorsel. Ek sal uit die menslike geslag 'n Verlosser verwek wat versoening sal doen oor die sondes van die mens. Hy sal die mag van die Satan breek en my kinders weer herstel in die plek wat Ek vir hulle wou gee.

Vanuit daardie Moederbelofte, die allereerste belofte wat God gegee het, het God dit verder uitgewerk. Hy laat die evangelie deur die heilige aartsvaders verkondig. Daarby kan u dink aan die geskiedenis van die roeping van Abraham. Die ervarings van Isak en Jakob. Daar in hulle en met hulle het die Here gewys hoe Hy verder wil gaan met sy verlossingsplan. Hy wil vir Hom 'n volk afsonder. Nakomelinge van hierdie een man, die gelowige Abraham.

Moses die groot profeet van die O.T. het verder 'n groot rol gespeel in die bekendmaking van die blye boodskap. Die verhaal van die bevryding uit die slawehuis Egipte is heeltemal aan Moses verbonde.

Dit is ook Moses deur wie die wet gekom het waarin die Here wys hoe Hy gedien wil word. Die mens kan nie sommer met God lewe nie, daar moet versoening gedoen word vir sy sondes. En weer is die blye boodskap: daar is versoening!

Daar is bevryding van skuld.

Die mens mag en kan met God om gaan, want God wys Self hoe dit moontlik gemaak word. Daar moet offers gebring word. Daar moet bloed vloei. Die sonde is te ernstig om sommer verby te laat gaan.

Ook ander seremonies van die wet wys daarop. Byvoorbeeld die belangrikste seremonie van die O.T., die besnydenis, is 'n sprekende simbool dat 'n mens nie sommer met God kan lewe nie. Daar is belemmeringe wat uit die pad geruim moet word.

En weer moet daar sinmbolies bloed vloei.

En tenslotte kom dan die Middelaar self. Die eintlike Persoon oor wie dit alles gegaan het.

Die Kategismus stel dit juigend vas: Eindelik het God al sy beloftes, al sy werk in sy eniggebore Seun vervul.

Die evangelie kry sy volle inhoud eers as ons Jesus Christus leer ken het as die beloofde Midddelaar en Verlosser.

En daarom moet jy vir jou verlossing daar wees.

Die Bybel is 'n boek van verlossing. So moet jy die boek dan ook leer lees. Verlossing deur Jesus Christus wel te verstane.

Dit is ook noodsaaklik dat jy so die O.T. lees.

Dit is nie 'n boek met verhale oor die geskiedenis van 'n spesifieke volk nie. Dit is ook nie die weerslag van hoe mense in daardie tyd oor religieuse sake gedink het nie.

Nee, dit is die blye boodskap van die koms van Jesus Christus. Die koms van die Middelaar wat God self wil gee vir sy volk.

So moet die verhale wat vertel word gelees word. En dan bring hulle inderdaad wonderlike nuus.

Die blye nuus van 'n magtige God vol liefde vir sy skepsel die mens. Daardie God soek op sy beurt die liefde van ons hart.

2. Ons moet die Christus leer liefhê

Julle ondersoek die Skrifte omdat julle meen dat julle daarin ewig lewe het, sê die Here Jesus vir die Skrifgeleerdes. Daarin is julle heeltemal reg!

Maar bedink dan dit: die Skrifte getuig van My.

As julle die Skrifte ondersoek dan sal julle op My afkom.

Soos ons gesê het, doel die Here Jesus daar op die O.T.

Die O.T. gee mos 'n profetiese getuienis van die komende Christus.

Maar nou wil ons nie bly stilstaan by die Skrifgeleerdes met wie die Here Jesus in gesprek is nie.

Die Here Jesus spreek ook ons aan. En ons het nog soveel meer van die Skrifte as die Jode.

Ons het die N.T. daarby. Dit gee nog veel meer en veel direkter getuienis van die Christus.

Maar ook daarvan geld: die Skrifte moet ondersoek word wil ons die Here Jesus werklik leer ken.

Nou dink baie mense as dit gaan oor Skrifondersoek aan predikante. Hulle moet die Skrifte ondersoek om elke week weer 'n preek te kan maak.

Of hulle dink aan 'n inleiding vir 'n bybelkring of vereniging. Dan moet jy die Skrif ondersoek.

Maar die eerste doel van die bybel is nie om 'n studieboek te wees nie.

Die Bybel is mos evangelie! Blye boodskap!

Die Bybel is die boek van ons verlossing. En daarom moet die Bybel ook so behandel en gebruik word.

Nie in die eerste plek vir ondersoek nie. Ondersoek klink so akademies afstandelik.

Nee, die Bybel is veral 'n boek om in te soek.

Om te soek na die Here Jesus waarvan die boek getuig.

Soek u so ooit in die Bybel?

Soek u ooit vir 'n trooswoord?

Vir 'n woord van bemoediging?

Mens het dit tog nodig.

Dit is 'n ou gereformeerde gewoonte om die Bybel agter mekaar deur te lees van begin tot einde en om dan weer opnuut te begin. Daarvan is veel goeds te sê. Mens kom dan elke keer deur die gehele Bybel.

Maar daar is ook 'n beperktheid aan die gewoonte.

Dit kan gou word tot 'n pligmatige lesing wat jou op die oomblik dat jy dit lees bitter min sê.

In tye van probleme moet 'n mens sy troos soek in die Woord.

Soek. Nie elke gedeelte is ewe passend om jou voort te help in die situasie waarin jy tans is nie.

'n Heel eenvoudig voorbeeld. In 'n tyd van groot verdriet mag 'n mens ekstra na sekere psalms gryp wat jou verdriet onder woorde kan bring en tegelykertyd 'n geweldige troos bied.

Jy het dit dan so nodig.

In vakansietyd wanneer jy die geleentheid het om in die natuur te lees gryp dan na 'n bybelgedeelte waarin die wonder daarvan op die Naam van die Here gestel word.

Soek daarna. Op so'n manier kry jy 'n veel meer lewende omgang met die Woord van die Here.

Soek as jy dit nodig het 'n woord van bemoediging. Laat jou daardeur vertroos. En as jy dan iemand anders ontmoet wat ook so'n woord nodig het dan kan jy hom sommer so'n woord gee. Want jy het die woord op die regte oomblik gelees en dit het vir jou troos gegee omdat jy daarvoor op die oomblik ontvanklik was.

Ons het in die punteverdeling gesê dat ons Christus moet leer liefhê.

Ons sou die Bybel wat so vol is van Christus, die liefdesbrief van God kon noem.

Ek weet nie of u ooit 'n liefdesbrief gehad het nie. Maar in elk geval dan tog wel eens 'n bemoedigende briefie van iemand vir wie jy baie lief is. So 'n brief lees jy oor en oor.

Jy wil geen woord daarvan mis nie. Jy probeer by so 'n liefdesbrief elke woord proe en proe totdat jy werklik alles daaruit gehaal het wat daarin is.

Wel, so moet 'n mens leer omgaan met die Woord van die Here.

Dan groei jy al hoe meer in kennis.

Maar die kennis is nie soseer boekekennis nie, maar dit is liefdekennis. Jy leer die Here steeds beter verstaan.

Ek hoop u verstaan wat el wil sê. Dit is 'n goeie ding dat op die laerskool aan die kinders 'n groot stuk bybelkennis bygebring word. Hulle raak daardeur tuis in die verhale van die Bybel. Maar moet nie dink dat jy daarmee klaar is nie. Daar is 'n verskil in bybelkennis en kennis van die Here.

As jy werklik die Here leer ken het ( en daarvoor is natuurlik die bybel weer onmisbaar), dan weet jy sommer wat Hy wil sê. Want jy ken Hom mos.

In jou liefde vir hom het jy geprobeer om sy liefdesbrief te verstaan en jou eie te maak.

En omgekeerd, wanneer ons uit gebrek aan liefde nie die moeite neem om intensief met die Bybel as liefdesbrief van God om te gaan nie, dan kom ons op 'n gevaarlike pad. 'n Pad wat baie mense gegaan het en gaan.

Die pad gaan so: Jy lees net pligmatig uit die Bybel.

Die daaglikse tafellesings word gedoen. Vir die oog lyk alles reg.

Maar jy soek nie eintlik 'n woord van die Here nie. Jy is klaar te besig met ander dinge. Die tyd wat jy nog maak om in die Bybel te lees voel amper soos verlore tyd. Dit moet net vinnig afgehandel word soos ons baie dinge in die lewe maar vinnig moet afhandel.

Maar die lewe is daaruit. Jy hoor nog wel. Jy lees nog wel. Maar jy soek nie meer nie.

Jy soek nie meer werklik vertroosting nie. Jy soek nie meer eg onderwysing nie.

En dan kom daar 'n dag dat dit vir jou niks meer sê nie. Die Bybel word net 'n boek. 'n Vreemde boek. Jy kyk vas in allerhande teenstrydighede wat jy meen op te merk.

Want jy het die boek verwaarloos as liefdesbrief van God.

Weet u hoe snaaks 'n liefdesbrief is as dit nie aan jou gerig is nie? Jy voel nie aangesproke nie. Jy voel eerder neiging om te lag. So gaan dit ook met die Bybel as jy die boek nie meer as 'n aan jou gerigte brief lees nie. Dan word dit net lagwekkend, irriterend selfs. Net so irriterend as 'n liefdesbrief van iemand in wie jy glad nie belangstel nie.

Ons moet Christus leer liefhê. Ons moet dit inderdaad leer.

En dit is 'n lang proses. Onbekend maak nou maar onbemind.

Maar hoe meer jy jou in die Skrifte verdiep, hoe meer jy Christus sal ontdek.

Jy gaan Hom raaksien in die O.T.

In die N.T.

In die geskiedenis van die kerk.

In jou eie lewe.

Wie lewe by die lig van die Woord sal groei in geloof.

En groei in geloof is groei in liefde.

Liefde namelik tot die Volkome Middelaar wat God ons tot verlossing geskenk het.

Sy Naam is Jesus Christus.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)