Ons God soek vryspraak na 'n regverdig gerig

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 5
Preek Inhoud: 

01-03-92

SONDAG 5 HK

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 76 : 1, 4
Geloofsbelydenis
Sing: Ps. 49 : 1, 2
Skriflesing: Jesaja 59 : 1-21, Hebreërs 10 : 1-7
Kategismus : Sondag 5
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 49 : 3, 5
Prediking
Sing: Ps. 76 : 5, 6
Dankgebed
Sing: SB. 24 : 2
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

al 'n hele paar Sondae worstel ons saam met die vraag: hoekom is God so streng? Ons is maar swak mense. Boonop besef ons lankal dat ons arme sondare is. Of dink aan die mense wat wel 'n bietjie van menslike "christendom" het: wel religieuse stemminge, maar nie 'n stryd en ywer vir God se koninkryk nie. Wat van dié mense? Hulle is ook maar net skepsels wat moontlik nooit van die diepte van bekering gehoor het nie. Is die léér van die geloof te streng vir gewone mense met hul daelikse ellende?

Om 'n vergelyking te gebruik: 'n mens wat voor die regbank staan en die vonnis hoor, het op die diepste punt van lewe gekom. Die misdaad is blootgelê, hy het baie tyd gehad om daaroor na te dink. Die publisiteit het sy naam omlaag gehaal, sy verlede ontrafel. Dalk het hy 'n kansarme jeug gehad, met slegte voorbeelde van die mense rondom hom. Kaal en eensaam staan hy daar. Nou wag hom 'n straftyd van jare en jare, misskien lewenslang. Hy weet hoe ellendig hy is. Dit sou 'n kwelling wees om aan so 'n mens te vra: en hoe dink jy sal jy uit jou ellende uitkom?! Hy wéét mos nie, hy het nie 'n kans om homself te help nie.

Sondag 5 sê: watter pad het Gód gekies om by so 'n swaar en streng oordeel tog vir vryspraak te sorg? Die verskil met my verhaaltjie is: daar is Iemand wat op die dieptepunt van die vonnis aan my, aan sulke mense gedink het! Ek staan wel kaal voor Hom, maar nie alleen nie! Ek preek vir u in die naam van Christus oor:

ONS GOD SOEK VRYSPRAAK NA 'N REGVERDIG GERIG

  1. God soek betaling (va/ 12)
  2. Ons is straatarm (v/a 13-14)
  3. God beskik 'n Adam (v/a 15)

1. GOD SOEK VRYSPRAAK IN 'N REGVERDIG GERIG: DEUR BETALING

Met dikke letters staan bo Sondag 5 geskryf: die tweede deel oor die verlossing van die mens. Oor die verlossing! Ja, dis waar dat dit lyk asof Sondag 5 nog steeds oor die ellende gaan. As jy dit dink, moet jy mooi luister. Wat ons in Sondag 5 maak is: ons wil verstaan hoekom God die pad van verlossing in Jesus gekies het. En hoekom nie 'n ander pad nie. Ons speur na wat God se motiewe is om by dié plan van ons verlossing te kom en te bly.

Ja, die klanke van die ellende klinkt nog in hierdie Sondag deur. Dit gaan dan ook oor 'n pad, die plan van God om uit die ellende wèg te kom. Om 'n plan te kan maak, moet die werklikheid eerlik uitgesoek word. Daar mag nie een detail vergeet word nie: anders val die plan tog plat. Die werklikheid op aarde moet onder oë gesien word: ons het gesien dat ons as kerkmense nie ver daarvan af staan nie. Jy is mos in die eerste plek mens, sondaar saam met al die ander mense. Selfs as 'n christen is jy 'n mens wat kan struikel. Die plan van God om 'n pad uit ons ellende te maak, praat van die eerste verlossing, wanneer 'n mens tot bekering gebring word: dit wat u nooit mag vergeet nie, dit wat baie naastes so benodig.

Jesaja 59 wys dit baie mooi. Daar is die volk van die HERE, Israel. Die verlossing uit die slawehuis is nie net 'n ding van die verlede nie. Nee, want hulle het die verlossing intusse, opnuut verloor. Die HERE sê: "julle ongeregtighede het 'n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie" (:2). Dit is wat tussen God en sy volk gebeur het. Dit het egter ook gevolge vir die lewe in die land gehad! Elke keer opnuut hoor jy in Jes. 59 die klag dat die reg ontbreek. Vs. 9: "Daarom is die reg ver van ons en bereik die geregtigheid ons nie". Watter reg is dit? Dit is die geregtigheid wat die HERE onder sy volk wil sien. En dit ontbreek, noudat die pad tussen die HERE en sy volk toegesluit is. Onreg het 'n maatskaplike probleem geword. Vs. 11: "Ons wag op reg, maar dit is nie daar nie". Vs. 15: "Ja, die waarheid word vermis". U weet wat dit is as 'n mens, 'n kind vermis word. Dan word 'n soekaksie georganiseer. Wat van die lánd waar die waarheid en die reg vermis word?

Daar is baie redes vir God se toorn oor so 'n land. Soos vir Suid-Afrika. Maar ook dan soek die HERE 'n uitweg. Baie mooi is dit in vs. 16 beskrywe: "en Hy het gesien dat daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand tussenbei tree nie". Nou val vir 'n moment die beeld van God as Regter weg! Hy is net toeskouer: die HERE is verbaas dat niemand opstaan om te help nie, die arme mensheid. Toe het God self opgestaan! "En sy geregtigheid het Hom ondersteun" (:17). Sy geregtigheid het Hom ondersteun: Hy het 'n pad van verlossing gesoek, een waarin tog reg gedoen word. Kyk hoe mooi is dit om oor verlossing úit die ellende te praat. Jy sien duidelik hoe die HERE is, hoe Hy bekommerd is, hoe Hy besig is om 'n pad te soek temidde van ons werklikheid.

Ons God soek vryspraak na 'n regverdig gerig. En tog leer die Skrif ons: dan moet daar wel iets wees, iemand wees wat die skuld wegneem. Iemand wat God rede gee om regverdig te kan bly en op basis daarvan barmhartig te wees. Die Kategismus vra: 'aangesien ons volgens die regverdige oordeel van God die tydelike en ewige straf verdien het, hoe kan ons van dié straf bevry en weer in genade aangeneem word?'. 'God wil dat daar aan sy geregtigheid voldoen word. Daarom moet ons òf deur onsself òf deur 'n ander ten volle betaal'. Aan God se geregtigheid moet voldoen word: erken u dit? Kyk nie net vir die strengheid nie. Onthou wat ons al gesien het: hoe mooi God se planne met die mensheid is, hoe groot die liefde kan wees. Onthou hoe u God is: sy geregtigheid is 'n mooi eienskap. Onthou hoe belangrik geregtigheid op aarde is: om die samelewing moontlik te maak. God se geregtigheid: dit maak die samelewing van God en mense moontlik.

2. GOD SOEK VRYSPRAAK NA 'N REGVERDIG GERIG: ONS IS STRAATARM

V/a 13 en 14 hoor bymekaar. 'Kan ons self betaal? Nee, glad nie; ons maak juis ons skuld elke dag nog groter'. V/a 14 voeg daarby dat ons ook nie self 'n plaasvervanger kan vind nie: daar is nie 'n ander skepsel wat jou plek sou kon inneem nie. Ons kan self nie vir 'n betaling sorg wat by God sou voldoen nie. Dit het die HERE al vroeg duidelik gemaak toe Hy menseoffers verbied het. Dit was sy goedheid: Hy wou mense verhinder om in wanhoop die lewe van 'n mens, van 'n kind te offer. Want dit skreeu styg uit die mensoffers wat aan afgode gebring is, omhoog: die nood dat jy redding móet kry. Dink aan die nood, wanneer die land skreeu vir reën en die diere vir drinke en die kinders vir kos. Menseoffers is verstaanbaar: as daar tog mense sterf, hoekom sou jy dan nie een van hulle offer nie? Nee, het die HERE gesê: dit mag nie en dit kán nie genoeg wees, solank as mense net so swak én sondig as jy is nie.

Daaraan voeg v/a 14 toe: jy kan ook nie 'n ander skepsel jou plek laat inneem nie. Die dieroffers het deur God se goedheid wel 'n tyd lank die funksie gehad. Die Hebreërbrief wys egter hoe dit elke dag opnuut herhaal moes word. Dié offers was net 'n uitstel van die groot offer wat geëis is. "In dié offers is daar [selfs] jaar vir jaar 'n herinnering aan die sondes; want die bloed, die lewe van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem" (11: 3-4). Die HERE het die offers ingestel: as 'n noodmaatrëel. Tog sê die Skrif ook: "brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie (:6). Dit kon vir God nie die sake regstel nie. En ons verstaan: diere, ander skepsels kan nooit die hoë plek van die mens inneem nie. Hulle kan nooit so baie wêrd wees ... as jy nie. Hulle kan nooit jou groot skuld betaal nie. Want jou groot skuld is: dat jy die beeld van God, die hoogste eer, weggesmyt het.

Kyk, as êrens uitkom hoe baie die mens wêrd is, dan hier. Moenie net na die woorde hoor, wanneer jy antw. 14 hoor nie: 'ten eerste wil God aan geen ander skepsel die skuld van die méns straf nie'. Wat sien jy, wanneer die mens teenoor die ander skepsele gestel word? Dit, dat die mens so baie wêrd is! Hoe straatarm jy ook is, God onthou dat jy ryk was: waardevol gemaak deur Hom; beeld van Hom te mag wees, te kan wees! Dit is hoekom 'n ander skepsel nooit jou plek kán inneem nie. Daar is geen ander skepsel wat in God se oë van 'n selfde waarde is nie.

Straatarm is ons. Nee, 'n christen weet dis nie erg om dit te erken nie. Dit maak jou wys. Daarom gaan jy ook nie alles van groot mense verwag nie. Nie van die trou van 'n vriend nie, nie van die belofte van 'n broeder in die Here nie: jy mag iets daarvan verwag, maar nie alles daarop bou nie. Ons verwag nie alles van die staatspresident of van die leier van 'n party nie. So 'n mens kan net 'n sterk leier wees, wanneer ook hy in nederigheid sy krag in die Woord van God soek. Wanneer hy ook sy mense elke keer opnuut verwys na Jesus wat gekom het om te dien, en nie om te heers nie. Straatarm is die volke wat die reg nie meer ken nie.

Nog een element moet ons aandag hê. 'Ons maak juis ons skuld elke dag groter'. Ons voeg daeliks nuwe skuld toe wat bedek moet word. Nee, daar is nie 'n opeenhoping van skuld, wanneer jy van genade lewe nie. Wanneer jy opreg vergewing vra, is die skuld ook werklik weggedoen uit God se oë. Dit is egter ook waar: dat sulke vergewing nie genoeg is om dan self die volgende dag jou nuwe sondes te kan goedmaak nie. Ek styg nie bo myself as sondaar uit nie. Ek weet: môre benodig ek Christus opnuut. Hy moet ook dan ryk vir my wees, omdat ek straatarm in myself gebly het. Ek kan dit vrymoedig sê, want ons God soek vryspraak, ook wanneer Hy my regverdig beoordeel.

3. GOD SOEK VRYSPRAAK NA 'N REGVERDIG GERIG: EN BESKIK 'N ADAM

Nog 'n keer: wat maak ons met hierdie Sondag? Ons soek om die pad te verstaan wat God gekies het om mislukte mense tog in genade te kán aanneem. Dan is die laaste vraag: verstaan jy dan ook hoekom die Seun van God mens moes word?

Ja, want 'n middelaar en verlosser vir ons: hy moet ons plek kan volstaan, hy moet aanvaarbaar wees vir God. Vryspraak vir die mens: dit motiveer God. Om dit te bereik soek die Here 'n mens! Dit moet 'n nuwe Adam wees. Een wat hierdie kwaliteite van die ou Adam het: wat 'n nuwe begin vir die hele mensheid kan gee, 'n nuwe "vader" vir mense kan wees, wat die toekoms kan voorberei. Dit lyk snaaks om Christus "ons vader" te noem. Hy is dit, soos Adam dit was: die eerste van baie mense.

Die tweede kwaliteit van hierdie plaasvervanger van ons moet wees: Hy moet sterker as ons wees. Nee, Hy moet sterker as Adam wees! Hy mag nie struikel en nie val nie. Hy moet tydens sy lewe versoekings deursien en weerstaan. En dan ook nog die vreeslike: Hy moet as mens die groot toorn van God kan dra. Kyk welke laste ons op die skouers van die Middelaar gelaai het. Ja, ons doen dit in die eerste plek. Daaroor sal in by die volgende Sondag nog verder praat: toegepas op ons Here Jesus Christus.

Nou is dit voldoende: God het enduit die pad van sy geregtigheid gegaan. Sy barmhartigheid begin daarin dat Hy ruimte vir 'n plaasvervanger gegee het. Die voorwaardes wat Hy gestel het is duidelik: dit moet 'n mens wees en 'n sterkere as ons. Die wonder is al dit: dat Hy ruimte skep om uit die gerig uit te kom! Dan sal ons ook sien hoe Christus, as God en mens in een persoon, vir ons die plaasvervanger geword het.

Ons God soek vryspraak na 'n regverdig gerig: Hy eis betaling, terwyl ons straatarm is. En dit is hoekom God 'n Adam wil hê. Dit is baie belangrik om te verstaan, vir sover ons daartoe in staat is, hoe God tot hierdie pad van hulp besluit het. Want dit is wat jy vir jouself moet weet: om nooit op jouself of op ander mense te vertrou. Dit is wat jy moet weet om die leer van die geloof aan ander mense te kan vertel. Nee, dis nie 'n maklike evangelie nie. Tog kan jy sê: selfs in die regverdigheid van ons God is daar soveel mensvriendlikheid. Dit mag u sê om mense in hul nood te ontmoet.

Bly wakker, broers en susters, want elke dag kan die Here u gebruik, u roep om 'n ander mens in sy nood te mag help. En wees dan nie net in die week en buite die gemeente tot hulp bereid. Ook binne die gemeente is dikwels geloofsnood: hoe om werklik van jouself ag te sien en jouself aan Christus oor te gee. Dit kan wees dat mense te maklik oor die erns van God dink. Dit kan ook wees dat u broer of suster te swaar sug onder sy eie onvermoë. U kennis van die leer versterk: almal benodig dit, omdat elkeen sy naaste mag dien.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)