Ons het houvas aan God se liefde

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 1
Preek Inhoud: 

Ps 31: 1-4
Ps 62: 1, 4, 5, 8
Geloofsbelydenis
Skb 20: 3, 5, 7, 8
Lees: Rom 8: 18-39
Teks: Sondag 1 H.K.

Brs en srs, kinders!

Om in onsekerheid te lewe, dit is vir 'n mens die moeilikste wat daar is.

Elkeen wat wel eens 'n keer 'n ernstige siekte of 'n ongeluk in sy nabye omgewing meegemaak het, sal dit kan bevestig. Die tyd van onsekerheid dat jy nie weet hoe dit gaan afloop nie, knaag die swaarste aan jou. Daarom praat ons in so'n situasie wel van 'n martelende onsekerheid.

So 'n martelende onsekerheid is daar b. v in die geval dat een van jou kinders op 'n dag nie meer uit skool tuiskom nie. Niemand weet wat met die kind gebeur het nie. Orals word gesoek, maar jy kry niks nie. Dan moet tenslotte so iemand as vermis opgegee word. Dit is nog veel moeiliker te aanvaar en te verwerk as dat jy moet klaarkom met die feit dat jou kind dodelik verongeluk het. Dan weet jy tenminste seker wat gebeur het. Maar as jy dit nie weet nie, dan sal die vrae sal altyd bly pla. Wat het van hom of haar geword? Hoe het hy aan sy einde gekom? Watter angste het hy deurgeggaan? Jy wil weet. Want onsekerheid is onverdraaglik..

Onrus en spanning kan mens heeltemal verteer. Ons het seker-heid nodig as ons as mense staande wil bly in die lewe.

Wel, as ons nou Sondag 1 van die H.K. lees en op ons laat inwerk dan val dit vir ons onmiddellik op, watter rus uit hierdie Sondag na ons toekom.

Met trefsekere woorde word vir ons geteken wat die houvas is waaraan gelowiges hulle mag vasklou.

Dit blyk dat dit 'n houvas is wat ook in die mees roerige tye staande bly.

Selfs die dood kan ons daardie houvas nie afneem nie.

En dit maak die houvas heeltemal uniek.

As ons 'n bietjie oor die omskrywings van hierdie Sondag nadink dan verrys vir ons agter die oorbekende woorde van hierdie Sondag die liefde van die Drieënige God.

Die Vader, die Seun en die Heilige Gees word in hierdie Sondag as rusgewende pilare rondom ons gesit. Selfs die swaarste storms van die lewe kan daardie pilare nie losruk nie.

En daarom, wie sy steun by hierdie pilare soek en vind hy gaan selfs in die grootste slag wat in elke mens se lewe kom, namelik die dood, nie onderuit nie.

Want ook dan weet jy, jy is veranker aan die groot liefde van God. Daardie anker hou selfs deur die dood heen.

Ek verkondig vir u vanmiddag die evangelie van die troos in lewe en in sterwe onder die volgende tema:

Ons het houvas aan God se liefde

  1. Die liefde is bewys in die geskenk van die Seun
  2. Die liefde word betoon in die sorg van die Vader
  3. Die liefde word ervaar in die gawe van die Gees

Ons maak vanmiddag weer 'n nuwe begin met die prediking uit die H.K. Vir die meeste van u sal dit die soveelste keer in die lewe wees dat dit gebeur.

Veral hierdie Sondag, Sondag 1 is so ontsaglik bekend dat daar eintlik niks nuuts van te sê is nie.

Dus geen nuus vanaand, gemeente. Dit is alles ou nuus wat ek vir u moet vertel. Dit geld trouwens nie net vir hierdie Sondag nie, eintlik is dit waar vir die hele Kategismus.

Tog wil ons vanweë die ou-nuus karakter van die Kategismus nie daarom stop met die behandeling van die Kategismus nie.

Immers die Kategismus is 'n samevatting van die Woord van God Die Woord is 'n evangelie. 'n Boodskap van liefde.

En van 'n woord van liefde kry 'n mens nooit genoeg nie.

Dit sou die dag wees dat dit wel gebeur!

Sê nou: my vrou sê vir my, man ek het jou lief!

En ek sou reageer met: wel, het jy niks nuuts om te sê nie?

Bly dan maar liewers stil. Dat jy my liefhet het jy 20 jaar gelede ook al gesê. Dit weet ek inmiddels wel. Dit is ou nuus. Ek stel nie daarin belang nie.

U voel almal wel: so'n reaksie sou heeltemal onvanpas wees.

Die fout is dan nie by diegene wat die ou nuus bring nie. Immers 'n woord van liefde kan nooit verouder nie. Dit is steeds weer nuut. Maar die probleem lê by die ontvanger van daardie boodskap. Hy stel dan blykbaar nie meer belang in die liefdeswoord nie. Dus ook nie in die liefde self nie.

En daarom begin ons vanmiddag weer vrolik aan 'n nuwe serie preke uit die H.K.

Ou nuus, maar tog goeie nuus.

Die evangelie self vra daarom om steeds weer opnuut gepredik te word.

Nou kom daar nog iets spesiaals by m. b. t die H.K.

In die H.K. is die skat van die kerk versamel. 'n Kosbare skat van eeueoud. In hierdie skat het die kerk van alle tye sy rykdom neergelê.

Hierdie rykdom moet steeds weer uitgestal word om gewaardeer te word. Anders vergeet ons hoe waardevol daardie skat wel is.

Dit gaan maar so met enige soort versameling wat 'n mens in sy lewe bymekaar kan maak.

Wie lief is vir sy versameling sal die voorwerpe steeds weer in sy hande neem en liefkoos. Elke keer bekyk jy hulle weer en bewonder die skoonheid daarvan. Jy voel jou ryk met jou besit.

So gou jy dit nie meer gereeld doen nie, beteken dit binne korte tyd die einde van jou belangstelling vir jou versameling.

Eendag kom daar iemand wat sê: het jy nie iewers so'n versameling gehad nie? Kan ek dit maar kry? En jy gee dit sommer saam. Dit beteken lankal niks meer vir jou nie.

Soiets mag ons nie met die H.K. gebeur nie.

En daarom wil ons met behulp van die Kategismus steeds weer die rykdom wat ons in die geloof het, bewonder.

Soos u weet is die kategismus verdeel in drie hoofdele.

Ellende, verlossing en dankbaarheid.

Vanaf Sondag 2 tree hierdie skema in werking. Daaraan vooraf gaan 'n inleiding. Sondag 1.

Of eintlik is "inleiding" 'n veels te saaklike, koue woord.

Ons kan beter sê dat deur sondag 1 aan die hele kategismus 'n raamwerk gegee word.

Die raamwerk van die troos. Van die houvas wat daar vir ons in lewe en sterwe is.

Die mooie is dat hier al van troos gepraat word voordat daar van ellende gepraat is.

Selfs voordat ons behoefte het aan troostende woorde, word vir ons al troos aangebied.

En dit was van die opstellers van die Kategismus 'n baie goeie gedagte.

Immers hierdie aanpak maak die kategismus nie net tot 'n ewewigtige komposisie nie, maar dit is meteen 'n weergawe van die manier waarop die Here ook met ons omgaan.

Die plek van Sondag 1 is daarom so pragtig dat ons nie eers 'n verhaal hoef aan te hoor oor ons ellende nie, of oor die noodsaak van verlossing nie, of oor die regte van God op ons lewe nie.

Nee voordat nog maar iets vertel word kom hier die magtige liefdesverklaring van God na ons toe.

Jy behoort aan My!

Hoe dit so gekom het, wat daaraan vooraf gegaan het en wat alles van jou verwag word, dit alles sal jy nog wel een keer hoor.

Maar inmiddels staan vas: Jy is van My!

En Ek wil hê jy moet weet!

So werk die Here nou altyd, gemeente.

Hy is ons altyd ver vooruit. Hy het sy liefde vir ons reeds bewys, toe daar nog glad niemand van ons was nie.

Wel, daardie liefde wat God vanouds reeds bewys het, dit is die hoop en die troos van die kinders van God.

Ons wil daarvan iets meer sien aan die hand van ons gelese skrifgedeelte. Romeine 8.

Paulus praat daar oor die lyde van die teenwoordige wêreld.

U kan daarby maar dink aan enige vorm van lyde in hierdie wêreld.

Lyde vanweë siekte of gestremdheid. Lyde wat kom as jy doodgaan of as een van jou geliefdes afsterwe.

Ook kan jy dink aan lyde wat as christen oor jou kom. Die spot van jou omgewing of regstreekse vervolging.

Lyde vanweë verbroke verhoudinge in die gesin, die familie of die huwelik.

Of lyde wat jy rondom jou in die wêreld sien in oorloë, natuurrampe, armoede en noem maar op.

Al daardie lyde roep by ons groot vrae op. Hoe kan dit?

Hoe pas dit by die vadersorg van God?

Waar is sy liefde?

Wel, oor al die lyde gaan Paulus in Romeine 8 iets sê.

En dan plaas hy die sake onmiddellik in 'n baie groot verband.

Hy sien hoe verwoestend die sonde op die skepping ingewerk het. Dit is 'n werklikheid waarvan 'n mens nie kan wegskram nie.

Die skepping is aan die nietigheid onderworpe. Nie vrywillig nie, ook nie omdat dit nou maar so is nie, maar hierin werk die hand van God.

Hy is dit wat die skepping daaraan onderwerp het. Hy werk daarin sy oordeel uit. En daarom leef ons nie op 'n volmaakte wêreld nie, maar in 'n gebroke wêreld.

God se vloek bly druk op die skepping.

Maar omdat dit Sy hand is wat ons daarin sien, mag ons ook iets anders weet.

Die lyde in die wêreld is nie sommer sinloos nie.

DIe lyde is ook nie uitsigloos nie.

God het ons 'n plek gegee in 'n wêreld waaroor om ons ontwil 'n vloek gekom het. Maar God self het tegelyk belowe dit sal nie vir altyd so sal bly nie.

Eendag gaan God herstel bring.

Want God wil mense verlos.

So werklik as die straf en die lyde in die wêreld is, so werklik is ook die aksie van God om te verlos.

Immers as daar uit Romeine 8 een ding duidelik is dan is dit dit: God het die voorneme om mense te verlos.

En daardie voorneme voer Hy ook uit.

Hy ken... en bestem... en roep... en regverdig... en verheerlik tenslotte almal wat Hom toebehoort.

Daar kry niemand 'n speld tussen nie.

God het 'n verlossingsplan klaar. Of nog sterker: Hy het daardie plan al vir die grootste deel uitgevoer. Die mees kritieke oomblik is klaar agter die rug. God se Seun is oorgegee om gekruisig te word. En Hy het die oorwinning reeds behaal. Hy sit nou aan die regterhand van God.

Sien u? God is ons ver vooruit.

Al voordat ons daar was, al voordat ons troos in die lewe nodig gehad het, al voordat die lyde met sy moeilike vrae deur ons oordink kon word, is die Here al daar en sê:

Ek is by jou. Ek het jou lief. Glo my!

Ek het jou al bedoel, toe Ek My seun oorgegee het om jou vry te koop!

En dit gee 'n geweldige houvas, brs en srs, in hierdie wêreld wat deur spanning verteer word.

God is ons met sy liefdeswoord en liefdesbetoon ver voooruit.

Dit word nêrens duideliker gewys as in die Doop van klein kinders nie.

Dan staan God alweer daar met Sy liefde betoon.

Die kinders weet nog van niks nie. Hulle lewe nog heeltemal onbewus.

Hulle weet nog nie van skuld of straf of lyde nie. Hulle het nog geen idee van sondes of behoefte aan vergewing daarvan nie.

Maar God is hulle al vooruit. Hy het hulle klaar gekoop en betaal voordat hulle geweet het.

Hulle is die duurbetaalde eiendom van Jesus Christus. En daarom gaan sy daaglikse sorg na hulle uit.

Daaroor in punt 2:

2. Die liefde word betoon in die sorg van die Vader

God is ons ver vooruit het ons in die eerste punt gesien. Hy het vir ons Sy seun gegee, voordat ons geweet het van vreugde of verdriet. Voordat ons bewus was van sonde of vergewing.

Die kennis wat ons het van wat God in die verlede gedoen het, leer ons nou ook om na die toekoms met vertroue uit te sien.

Immers blykens die feite uit die verlede, blykens die feit van Golgota, is God vir ons. Wel, wie kan dan nog teen ons wees?

Soos Paulus dit stel in Romeine 8: as God ons Sy Seun reeds geskenk het, wat sal Hy ons dan nog wil onthou?

Sal Hy ons dan met Christus nie alles gee nie?

Sal God mense vir Hy selfs sy eie Seun opgeoffer het, sommer laat ondergaan in lyde en dood?

Maar dit is dan onmoontlik!

Hy het hulle mos gekoop met die bloed van sy eie Seun!

Reken maar dat God so duurbetaalde mense baie mooi oppas.

En daarom moet ons in hierdie sondag ook bely dat sonder die wil van die hemelse Vader geen haar van ons kop kan val nie.

Let wel, daar staan nie dat daar van ons nooit 'n haar gekrenk sal word nie. Soiets het God aan niemand belowe nie.

Inteendeel, Paulus praat hier in Romeine 8 van verdruking, benoudheid, vervolging, honger, naaktheid en lewensgevaar.

Dit is alles nie niks nie.

En tog ons moet bly glo dat dit alles nie buite die hand van God omgaan nie.

In die lyde van hierdie wêreld sien ons inderdaad dat 'n oordeel van God werksaam is. 'n Oordeel ook vanweë ons sondes.

Maar tegelyk staan vas: Die God wat dit doen, die God is vir ons ook 'n vader. 'n Vader wat presies weet wat Hy doen.

En omdat Hy dit weet mag ons ook iets weet. Namelik dit: Al hierdie dinge laat God meewerk ten goede vir hulle wat God liefhet.

Om dit te weet dit gee vir 'n mens houvas. Want dan kan jy altyd verder. Ek weet alles moet dien tot my heil.

Ook al kan ek dit absoluut nie verstaan nie.

Ek bly worstel met my vrae. Hoekom? Hoekom so? Hoekom ek? Hoekom hulle? Alweer hulle?

God se weg met ons bly ondeurgrondelik. Onbegryplik.

Net so onbegryplik as Sy liefde vir my trouens. Hoekom sal Hy juis my liefhê? Hoekom sal Hy juis my wil troos in lewe en in sterwe? Ek weet nie.

Maar die liefde is daar. Dit weet ek. Die Skrifte is vol daarvan.

Wel, dan is God se daaglikse sorg ook daar. En daarom mag ek Hom prys. Daarom mag ek Hom ook eer in Sy majesteit.

Dit en nie anders is trouens my opdrag in die lewe. Om 'n lewe te lei waarin God geprys word, waarin Hy die eer ontvang.

Of Hy goeie dinge gee om te geniet. Of moeilike dinge om te dra.

Sy Naam moet geprys word!

3. Daardie liefde word ervaar in die gawe van die Gees

Tot nou toe het ons taamlik sterk nadruk gelê op die geloof.

Ons kan God nie sien nie. Ons kan sy Seun nie sien nie.

Ons kan selfs baie moeilik die hand van die Here aanwys in die ervarings van ons daaglike lewe.

Van God se liefde weet ons alleen maar omdat ons daarvan vertel is.

Ons kan dit slegs glo.

God laat alles meewerk ten goede. Maar dit kan ek nie altyd volg nie. Ook hier kan ek net glo.

Maar hoe kan ek so'n geloof volhou as ek niks daarvan belewe nie?

As ek die liefde van God in my lewe nie kan ervaar nie.?

Hoe moet ek bly glo in 'n situasie waarin alles selfs teen die liefde van God vir jou lyk te pleit?

Laat God dan nie teveel oor aan my geloof nie?

Waar bly my houvas as dit nog steeds ek is wat moet glo?

Is die gevaar nie groot dat ek eendag sommer skielik alles weer sal loslaat, net omdat ek die geloof nie kan volhou nie?

Maar nee, daarvoor hoef ons nie bang te wees nie.

Immers as ons gedoop word, dan word ons ook gedoop in die Naam van die Heilige Gees.

Die Gees kom in ons woon en werk.

Dit is nie net ons wat in die geloof na God se belofte moet gryp nie, maar dit is die Gees wat ons daardie belofte laat vashou.

In Romeine 8 staan dit so:

Ons het die Gees as 'n eerste gawe ontvang. Op hierdie eerste gawe sal meer volg, maar die eerste gawe help vir ons nou reeds om op die Here te vertrou.

Die Heilige Gees maak van jou 'n andere mens.

Dit gaan al sigbaar word in heel eenvoudige dinge.

By voorbeeld ons laat ons roep tot die sondagse eredienste van die gemeente, ook al het ons 100 ander dinge om te doen.

Ons vat 'n bybel om daarin ons troos te soek.

Ons stry teen 'n sondige neiging wat ons het omdat die Here dit van ons vra.

Wat dink julle, is dit julle geloofstrou wat julle hier in die kerk bring elke keer weer? Is dit julle vastheid van oortuiging dat julle opkom vir die eer van die Naam van Christus?

Nee, dit is nou die werk van die Heilige Gees.

Die Gees maak my bereid om vir my Heiland te lewe.

So sê Sondag 1 dit.

Dit is die Gees wat my tong losmaak vir 'n lofsang op God.

Dit is die Gees wat my oë oopmaak vir die geweldige liefde van God waarmee ons omring word.

Hy wek in ons die lewe. Nuwe lewe. Hy is mos die lewendmakende Gees wat ons geskenk is deur die genade van Jesus Christus.

Nou het ek sekerheid.

Nou het ek al die houvas wat ek in die lewe nodig het.

'n Drievoudige sekerheid gewaarborg deur die Drieënige God.

Laat ons almal die seën met altwee hande aangryp.

Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees is met ons almal.

Amen.

4 Oktober 1992 middagdiens

Liturgie: 

(kyk in preek)