Ons ontvang uit die vele skrifwoorde die enigste troos in lewe en in sterwe

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 1
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 1 H.K.

LITURGIE:
L. Klaagl. 1 & Jesaja 40: 1, 2 & Jesaja 66: 10-13
SB 22: 1, 2, 9
SB 22: 3
Ps. 77: 1, 4, 6
Ps. 119: 15
Ps. 131: 2, 3

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons maak vanmôre 'n nuwe begin met die behandeling van die Heidelbergse Kategismus.

Daardie leerboekie van die kerk wat in die jare van die Reformasie van die 16de eeu in Europa op versoek van keurvors Frederik III van die Pfalz in Duitsland geskrywe is as 'n leerboek vir die skole, soos ons in ons Kerkboek bo die Kategismus kan lees.

Hierdie gereformeerde vors, Frederik die Vrome, soos hy ook wel genoem is, was bekommerd oor die toekoms van God se kerk. Hy het ingesien dat die jeug van die kerk 'n deeglike onderrig in die leer van die saligheid moes ontvang om bo die dwalinge van die Roomse kerk te kan uitkom en om later die skatte van die kerk aan nuwe geslagte te kan oordra.

En so het hierdie Kategismus ontstaan as 'n eenvoudige maar tegelyk baie mooie en betroubare samevatting van God se Woord.

So mooi en so betroubaar, dat die gereformeerde kerke hierdie leerboekie as 'n amptelike belydenisskrif aanvaar het en in hul Kerkorde afgespreek het nie net die jeug nie, maar ook hul ouers, ja die hele gemeente moet uit hierdie boekie elke sondag gedurigdeur onderrrig ontvang. Dis hoekom daar nou amper elke sondag in die Gereformeerde Kerke 'n kategismus preek gehou word.

En dis hoekom ons praat van "Sondag 1, Sondag 2, Sondag 52", pleks van "Hoofstuk 1, Hoofstuk 2 ensovoorts".

Toe die opstellers van die Heidelbergse Kategismus, die professore Zacharias Ursinus en Caspar Olevianus, gesoek het om hulle samevatting van die skatte van God se Woord in een woord saam te pers, het hulle by die woordjie "TROOS" uitgekom. Hierdie sentrale woord in Sondag 1 is mos tegelyk die tema van hul hele Kategismus. Sien Vraag 2: Om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe moet ons drie dinge weet, nl. oor ons ellende, oor die verlossing van ons ellende en hoe ons God vir so'n verlossing dankbaar moet wees. En hierdie drie dinge word dan vervolgens in die drie dele van die Kategismus grondig behandel. So die hele Kategismus behandel die tema van die TROOS.

Hierdie tema is seker ook maar gekies weens die ellende en nood van daardie dae juis vir die Gereformeerde Kerke. Vervolging, Inkwisisie, brandstapels.......

Maar tog het die skrywers van die Heidelbergse Kategismus nie die meeste op menslike omstandighede gelet nie. Hulle het nie hul vertrekpunt in die ervaringe van die destydse mens geneem nie. Hulle het bo alles na die Skrifte geluister.

Die woordjie "TROOS" speel ook in die Bybel 'n sentrale rol. Die HERE Self word deur Paulus in sy 2de brief aan die Korintiërs "die God van alle vertroosting" genoem. Want so het God Homself in sy heilswerk vir sy volk aan ons leer ken. En dan dink ons veral aan die profesieë van Jesaja, die tweede helfte, vanaf hoofstuk 40. "Ek is dit wat julle troos, sê die HERE"; "soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos".

Hier het die skrywers van die Kategismus hul vertrekpunt geneem.

Want hierdie troos van die HERE is maar nie opbeurende praat nie- as die HERE sy volk, troos gee Hy vir haar weer grond onder die voete! Die grond van sy verbond. Die vaste grond van 'n nuwe en ewige verbond met God deur die bloed van sy Seun Jesus Christus. En op die grond van hierdie verbond kan 'n mens altyd verder, in lewe en sterwe, vir ewig. 'n Inkwisisie, die brandstapel, dwaalleer, wat ook al, ja, die duiwel kom daar nie meer tussen nie.

Die Heidelbergse Kategismus leer ons meteen in Sondag 1 raaksien: wie alle ligstrale van die vele Skrifwoorde opvang en in een bundel by mekaar bring, ontvang hierdie een troos, dat hy danksy Christus se bloed weer God se kind mag wees. Ons leef in die kerk van hierdie troos. Elke preek, elk huisbesoek, elke katkisasieles moet bediening van hierdie troos wees. Elke doopsbediening en elke nagmaalsviering herinner ons aan en bevestig ons in hierdie troos.

So ook in hierdie preek van vanmôre moet ek u hierdie troos aanreik. Ek verkondig u:

ONS ONTVANG UIT DIE VELE SKRIFWOORDE DIE ENIGSTE TROOS IN LEWE EN IN STERWE.

HIERDIE TROOS WORD GEGEE

  1. AAN SKULDBEWUSTE KINDERS
  2. DEUR DIE DRIE-ENIGE GOD
  3. IN 'N GEREFORMEERDE KERK

1. Ons het 'n paar verse uit die begin en uit die slot van Jesaja se troosprofesieë gelees, broeders en susters. Dit begin in hoofstuk 40 met die so bekende vers: "Troos, troos my volk, sê julle God". En in hoofstuk 66 eindig dit met die beeld van 'n vertroostende moeder waarby God se volk tot rus mag kom.

Maar dis belangrik dat ons veral die verse van Jesaja 66 noulettend lees om die diepte van die troos wat God skenk te leer verstaan.

Die beeldspraak wat die HERE gebruik is naamlik opmerklik.

In die eerste plek: die beeld verskuif in die verse 11 en 13. In vs. 11 vergelyk die HERE Jerusalem, die kerkstad, met 'n moeder. God se kinders mag suig en versadig word aan haar vertroostende moederbors.

In vs. 13 vergelyk die HERE vervolgens Homself met 'n moeder wat haar kind troos. Dis al opvallend, omdat God gewoonlik Homself die Vàder van sy volk noem en met daardie beeld van 'n vader dan ook uitdruk hoeveel Hy om sy kinders omgee. Maar noudat Hy wil omskrywe hoe Hy sy volk sal troos, gryp God na die mees aansprekende en ontroerende beeld: die beeld van 'n kind wat by sy moeder kom en uithuil en daar nuwe krag kry. Van kleins af soek 'n kind mos die troos veral by sy Ma. Met sy Pa speel hy, stoei hy, gesels hy, van sy Pa leer hy baie, maar is daar verdriet, het hy seergekry, dan kom skuil jy by sy Ma. Want die band met jou moeder is nou maar eenmaal baie spesiaal en innig. Die verhouding van 'n kind tot sy Ma was mos vanaf die eerste begin die allernouste.

Maar daar is 'n ding wat nog meer opval in hierdie beeldspraak van Jes. 66: 13. U kan dit in ons Bybelvertaling nie agterkom nie. U lees daar maar net: "Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos". Hierdie vertaling is nie heeltemal verkeerd nie. Maar die woord wat in ons vertaling met "iemand" weergegee is, beteken letterlik: "'n man". Dit het in die spraakgebruik wel uitgeslyt tot "'n persoon", "iemand", maar dan nog bly dit opvallend dat Jesaja hierdie woord moes neerskrywe en nie: "Soos 'n seun", of "soos 'n kind deur sy moeder getroos word" nie.

God wil ons nou in vs. 13 nie meer laat dink aan 'n klein babatjie wat aan moeder se bors tot rus kom nie, maar aan 'n volwasse man wat kom troos soek by sy moeder.

En u sal saamstem: God gebruik daarmee 'n uitsonderlike beeld!

'n Baba wat huilend in moeder se arms getroos word- dit gebeur daagliks. Klein kinders kom oor die kleinste kleinighede troos soek by hulle Ma. Hulle het geval, 'n boetie het hulle gepla, 'n maatjie wil nie meer met hulle speel nie- en hulle kom en huil by Ma. Ook as hulle ouer word bly Ma die een by wie jy kan uithuil en opnuut begin: as die eerste liefde doodloop, as jy vir jou examens druip.....

Maar as daardie kind mens geword het, 'n "persoon", 'n "iemand", ja 'n man, volwasse en selfstandig, getroud en nou met eie kinders, dan gebeur dit eintlik nie meer dat hy by sy Ma troos kom soek nie. Nie omdat die verhouding nou nie meer so hartlik is nie, maar omdat die verhoudinge nou anders geword het. Hy het nou sy vader en moeder verlaat en sy vrou aangekleef. Sy vrou het in 'n mate die plek van sy Ma ingeneem en nou sal sy hom troos as daar probleme en verdriet is.

Dis 'n baie uitsonderlike situasie as 'n volwasse man nog weer by sy Ma kom om by haar troos te soek. Dit gebeur eintlik maar net as sy lewe in 'n doodloopstraat gekom het: as sy vrou gesterf het, of sy huwelik in 'n krisis gekom het, of as sy lewenswerk waarvan sy Ma vanaf die begin getuie was en waarin sy hom so aangemoedig het, inmekaargestort het. En veral: as hy sy lewe totaal versondig het! As hy in 'n sondige lewe homself, sy huwelik, sy gesin verwoes het, sy God eenkant geskuif het en nou tot inkeer kom; hy durf sy vrou nie meer opsoek nie, hy durf sy kinders nie meer in die oë te sien nie, maar hy vlug na sy ou moeder om met sy kop in haar skoot en met haar hand op sy hare al sy ellende uit te huil.

Kyk, so is ons as ons van die HERE troos ontvang, gemeente. So was God se volk, toe Jesaja namens die HERE sy troosprofesieë mog spreek.

Nie meer soos 'n klein, onnosel kind nie, nie soos 'n kwajong of 'n onsekere puber nie, maar soos 'n man wat sy lewe versondig het.

Die eerste tyd, na die uittog uit Egypte, toe was Israël nog soos 'n kind. God sê dit self in Hosea 11: "Toe Israël 'n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egypte het Ek my seun geroep. Ek self het hom leer loop, Ek het hulle op my arms geneem, Ek het my na hom neergebuig, Ek het hom voedsel gegee... ".

Maar Israël het nie altyd klein en dus nie eintlik toerekeningsvatbaar gebly nie. God se volk het uitgegroei tot 'n selfstandige nasie in die wêreld, danksy God se opvoeding en sorge het hulle hoog in aansien gekom by die ander volke vanweë hul rykdom en wysheid.

Maar toe het hulle ook eiewys begin word. Hulle wou Vader se naam nog wel dra, maar Vader se opvoeding het hulle verloën. Hulle het die styl van die goddelose wêreld oorgeneem, die rykdom wat hulle van Vader saamgekry het, vergooi en op die pad van die sonde hul lewe vermors. Sodat dit ten laaste 'n ballingskap geword het. Hulle moes in die vreemde omswerf. Sonder perspektiewe vir die toekoms. Sonder trooster.

Ons het ook die eerste Klaaglied gelees. 'n Klag van een wat in die verwoeste en ontvolkte Jerusalem agtergebly het. En dit klink soos 'n refrein in daardie Klaaglied: daar is geen trooster! Nee, God se volk het self mos alle troos verspeel. Hulle het hul lewe versondig.

As die HERE in Jesaja se profesieë terugroep na die enigste troos in lewe en in sterwe, roep Hy nie klein kinders nie, maar deur en deur skuldige mense. Mense wat hulself aan die heerskappy van die duiwel oorgegee het. Hulle is nie sielig, nie beklaenswaardig nie, maar sondig. En eers as hulle sover is dat hulle dit insien, sal hulle die pad huis toe vind om daar deur die HERE getroos te word soos iemand, ja, soos 'n man deur sy moeder getroos word.

So wie weer getroos wil lewe en sterwe, moet in die eerste plek besef hoe groot sy sonde en ellende is. Dit het die opstellers van die Kategismus van Heidelberg terdeë uit die Skrifte verstaan. En hulle sal dit in die volgende Sondae nog uitdiep.

En wat vir ons hele lewe en vir ons sterwe geld, broeders en susters, dit geld ook vir ons Nagmaalsviering van volgende sondag. Soos ons Formulier ook sê: "Om tot ons troos die Nagmaal van die Here te kan hou, is dit voor alles nodig dat ons onsself vooraf reg sal beproef. Ten eerste moet elkeen nadink oor sy sonde en vervloeking, sodat hy homself kan mishaag en hom voor God kan verootmoedig".

Eers as ons ingesien het hoe groot ons sonde en ellende is, sal ons in Vader se arms val en uithuil. En dan vind ons by Vader troos soos 'n volwasse man by sy moeder: En soos 'n ou moeder haar lankal volwasse seun, wat sy lewe vergooi het en nou skuldbewus en stukkend by haar troos kom soek, teen haar aantrek en teenoor sy matelose ellende haar liefde stel, die ou en diep liefde omdat sy in hom darem nog altyd daardie klein seuntjie sien wat vroeër op haar skoot gespeel het- so vind ons dan troos by die HERE.

2. En nou los ons maar hierdie beeld, gemeente. Want die werklikheid van die troos wat ons by God vind, gaan bo die beeld uit.

In daardie beeld het mos nie net die man ouer geword nie, maar ook sy moeder. Is hy volwasse en het hy inmiddels al 'n lewe agter hom, dan is sy oud en vergrys. Sy kan nou nog na hom luister en hom regruk, maar eendag sal ook sy hom nie meer kan help nie. Ook nou al kon sy hom nie gaan haal nie en hom nie, soos vroeër toe hy klein was, uit die gevare uitsleep nie.

Maar as die HERE in Jesaja se profesieë slag op slag sê: "Ek sal julle vertroos"; "Ek is dit wat hulle troos", dan is dit die Drieenige God wat praat, Hy wie se Woord in ewigheid stand hou omdat Hy Self 'n ewige God is, Hy word nie moeg of mat nie, Hy, die HERE, die Eerste, en by die laaste is Hy dieselfde. So openbaar Hy Hom ook aan ons in hierdie troosprofesieë van Jesaja. (40: 8, 28)

Nie elke moeder is nog bereid om haar seun wat sy lewe versondig het, weer in liefde te ontvang en te troos. Al gebeur dit nie maklik nie -"Kan 'n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? "- tog is daar moeders wat so'n seun nooit meer wil sien nie. Maar die HERE sê: "Nogtans sal Ek jou nie vergeet nie! Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer". (49: 15, 16)

Hy wag dan ook nie bekommerd, soos daardie ou moedertjie, totdat ons uit onsself na Hom toe terugkeer om troos te soek nie.

Hy kom en haal ons. Hy keer in genade na ons terug. Die digter van die Klaagliedere het dit goed raakgesien, toe hy in sy vyfde lied gebid het (vs. 21): "Bekeer ons tot U, HERE, dan sal ons ons bekeer", of, soos ons ook kan vertaal: "Bring ons, HERE, tot U weer, dan sal ons terugkeer".

God het sy verlore volk kom haal. Lees die vervolg van Jes. 40 (vs. 9 en 10): "Sê aan die stede van Juda: Hier is jul God. Kyk, die Here HERE sal kom as 'n Sterke, en sy arm sal heers... "

En wat van hoofstuk 52: 8 en 9: "Hoor, hulle verhef die stem, hulle jubel almal saam; want hulle sien vlak voor hulle oë hoe die HERE terugkeer na Jerusalem. Breek uit, jubel almal saam, puinhope van Jerusalem! Want die HERE het sy volk getroos, Jerusalem verlos".

As 'n Vader wat sien sy kinders is besig om ver verongeluk het God kom ingryp. Ons is vir Hom te kosbaar. "Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet, daarom sal Ek sê aan die noorde: Gee! en aandie suide: Hou nie terug nie! Bring my seuns van ver en my dogters van die einde van die aarde af, elkeen wat na my naam genoem is en wat Ek geskape het tot my eer, wat Ek geformeer het, wat Ek ook gemaak het" (43: 4, 6, 7).

Hy het selfs sy eie, sy ewige en natuurlike Seun nie gespaar nie, maar vir ons almal oorgegee. God die Seun het as God se Kneg aarde toe gekom, sodat Hy ons krankhede op Hom kon neem, en ons smarte- die het Hy gedra. Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel.

Ja, Hy het met sy kosbare bloed die prys vir my versondigde lewe betaal en my so uit alle heerskappy van die duiwel verlos.

Hy is dit wat my weer op die pad huis toe gesit het!

Wat My ook op hierdie pad bly vashou. Hy het my nie verlos om my vervolgens weer aan my self terug te gee nie. Ek sal voortaan nooit meer my eie pad kan kies nie- ek sou sommer dadelik weer verongeluk. Nee, toe Hy my van die sonde vrygekoop het, het Hy my tot sy eiedom gemaak. Hy mag my nou die pad voorskryf.

En Hy hou my nou fyn dop. Op so'n wyse dat daar nog nie 'n haar van my kop kan val nie, of Hy weet dit. Hy sal gedurigdeur Vader se aandag vir my vra, om my met al sy liefde en sorg te omring en te beskerm.

Ja, Hy gee vir My sy Heilige Gees, wat my moet leer om nie noodgedwonge nie, maar weer van harte gewillig en bereid die pad te loop wat Vader sy kinders altyd leer loop het. Die pad waarop ons nie ons self soek nie, nie eie eer en eie belang voorop plaas nie, maar waarop ons heeltemal vir Hom lewe.

Maar daarom is die Heilige Gees nie 'n lastige onderwyser nie. Die Bybel noem ook Hom "die Trooster" (Joh. 14: 16). "Ek sal julle 'n ander Trooster gee", sê Christus daar. Want ook Hy self is natuurlik ons Trooster, Hy wat ons in ons ellende kom opsoek het en ons uit die ellende kom uithaal het.

As die Heilige Gees as Trooster ons voortaan op ons lewenspad namens Christus begelei, as Hy met ons wil saam woon om ons voortdurend aan God se liefde vir ons te herinner en aan God se opvoeding, dan mag die Kategismus tereg sê: op hierdie wyse word ek van die ewige lewe verseker. Dit bewys dat God my liefhet, ten spyte van my versondigde lewe; dit bewys dat God my vashou en terugbring na 'n lewe sonder sonde, sonder duiwel, sonder gevaarlike wêreld en sonder die bose begeertes van my vlees.

Vandat die Gees by my kom inwoon het, geniet ek alreeds 'n voorsmaak van die ewige vreugde. Ek kan elke dag getroos lewe. En ek is nie meer werklik bang vir die dood nie. Ek kan ook getroos sterwe. Omdat die Drieenige God weer my God is!

So wie getroos wil lewe em sterwe, broeders en susters, moet hierdie Drieenige God ken en weet hoe ons van al ons sondes en ellende verlos word. Dit is die tweede waarop die opstellers van die Heidelbergse Kategismus ons direk al in Sondag 1 wys. En ook dit sal hulle in die vervolg van hierdie leerboekie breedvoeriger behandel.

Hierdie Drieenige God kom aanstaande sondag na ons toe in die Nagmal, en ons mag tot ons troos nagmaal vier, as ons sy vaste belofte glo dat al ons sondes ons alleen op grond van die lyding van Jesus Christus vergewe is; en as ons die Heilige Gees ook in ons wil laat woon en werk, omdat ons van voorneme is om van nou af met ons hele lewe ware dankbaarheid aan God te betoon en opreg voor die aangesig van God te wandel.

3. Daar is tenslotte nog een element in daardie opvallende vers in Jes. 66, gemeente, waarvoor ek u aandag moet vra.

Die HERE sê as 'n aanvulling in daardie vers, vs. 13: " En julle sal in Jerusalem getroos word".

Daarmee is die HERE terug by vers 11, by Jerusalem, die kerkstad, as 'n vertroostende moeder wat huilende baba's laat drink aan haar bors. Die beeld wat ons ook in die nuwe Testament lees, van die kerk as 'n moeder wat vir God kinders baar, wedergebore laat word, voed en vertroos met die onvervalste melk van die Woord (vgl. 1 Petr. 2: 2).

Maar as die HERE in Jesaja 66 sy kinders belowe hulle sal in Jerusalem soos deur 'n moeder vertroos word, dan is dit opnuut baie opmerklik.

Alle ellende het immers in Jerusalem begin. Omdat Jerusalem nie meer 'n moeder wou wees nie. Jerusalem het 'n hoer geword, wat haar kinders -God se kinders!- verwaarloos het. Hierdie ontaarde moeder het self haar kinders die verkeerde pad opgestuur.

Maar as God weer Vader wil wees, sal daar op aarde ook weer 'n moeder moet wees om God se kinders te vertroos en weer soos tevore vir Vader op te voed. Ja, dan sal Jerusalem weer moeder moet wórd.

God beloof feitlik hier in Jesaja 66, dat Hy die kerk op aarde sal reformeer, gemeente. Reformeer is mos: weer terugbring na die vroeëre situasie.

En so het God na die ballingskap sy volk in Jerusalem laat terugkeer en deur tempeldiens en priesterdiens sy kinders weer met moederlike sorg omring.

En na Christus se offer vir die nuwe en beter verbond het Hy deur sy Heilige Gees oral op aarde die gemeente van Sy Seun to 'n vertroostende moeder gemaak. Die kerk, wat sy trooswoorde onophoudelik in prediking, huisbesoeke, katkisasielesse en so meer bedien, en dit reëlmatig met die Doop en die viering van die Nagmaal onderstreep. Die kerk as die Jerusalem van die nuwe verbond.

Die opstellers van die Heidelbergse Kategismus het in hul dae gesien hoe dat God sy kerk op aarde bly reformeer om hier op aarde 'n moeder vir sy kinders te hou. Hy het moedige ampsdraers gegee om sy kerk uit die greep van Roomse dwaalleer en menslike heerskappyvoering te bevry, sodat die troos van God se verbondswoorde en van die sakramente daarby weer uitgedeel kon word.

En toe het hulle hul leerboekie vir skoolkinders geskrwye het, sal hulle nie voorsien het nie, dat die HERE hierdie geloofsbelydenis eeuelank sou gebruik om sy gereformeerde kerk 'n troostende moeder te laat bly nie.

Maar ons weet inmiddels dat God so gedoen het. Al meer as vier eeuw het Hy mee deur hierdie Kategismus geslag na geslag bewaar by die enigste troos in lewe en in sterwe. Hy het deur hierdie geloofsbelydenis nuwe dwaalleer in die kerk ontmasker en so sy kerk deur nuwe reformasies 'n moeder laat bly.

Laat ook ons daarop bly toesien, gemeente, dat die kerk 'n moeder vir God se kinders bly wat hierdie enigste troos in lewe en in sterwe bly bied. 'n Kerk wat die rykdom van God se verbond bly verkondig, die kategismusprediking nie verwaarloos nie, die belydenis zuiwer en hoog hou.

Maar dan moet ons ook altyd maar weer in die deur God gereformeerde kerk terugkeer en ons deur haar láát vertroos.

Dan moet u kerk toe kom so dikwels daar erediens gehou word, sondags smôrens èn saans....

ook a. s vrydagaand as God se troos spesiaal m. b. t. die huwelik bedien word. U moet volgende week sondag Nagmaal vier en u vooraf beproef of u die regte gesindheid het om dit te kan vier.

U moet die woorde van u ampsdraers aanneem, ook as hulle u moet vermaan. Dan soek hulle mos om u by die enigste troos in lewe en sterwe te bewaar! En julle, seuns en dogters, moet trou katkisasieklas toekom en daar nie net sit nie, maar ook luister en leer. Alles leer was 'n mens oor die enigste troos in lewe en sterwe moet weet.

Want buiten hierdie troos kan 'n mens nie lewe nie en word die dood 'n verskrikking.

Maar daarom kan 'n mens ook nie buiten die kerk wat soos 'n moeder aan God se kinders hierdie troos uitdeel nie.

AMEN.

(Pretoria, 7 Aug. 1988)

(Pietersburg 21 Aug. 1988)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)