Die oorwinnende kerk moet vlug

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 12
Preek Inhoud: 

Ps. 98: 1, 2, 3
Ps. 98: 4
SB. 1: 1 - 6
Ps. 121: 1 - 4
Lees: Openb. 12: 1 - 12
Teks: Openb. 12: 13 - 17

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

'Van stryd en oorwinning'. Dit is sover ek onthou die titel van 'n kerkgeskiedenisboek van vroeër. Stryd en oorwinning, daaroor gaan dit ook in Openbaring 12.

Uit 'n stryd kom altyd 'n wenner en 'n verloorder te voorskyn. As in 'n oorlog een party besef dat hy die verloorder is, dan slaan hy gewoonlik op die vlug om nog sy lewe te kan red. Daarby is die wenner altyd die agtervolger.

In die oorlog van Openbaring 12 is die oorwinnaar Migael, wat ten behoewe van die vrou en haar kind gestry het. Die draak het die slag verloor, dus hy kan nou vervolg word om hom definitief onskadelik te maak.

Maar die merkwaardige is dat dit hier nie gebeur nie. Die vrou wat by die oorwinnaars van die draak behoort, moet vlug. En die verloorder, die draak, is die vervolger. Hierdie skynbare teenstrydigheid word veroorsaak, deurdat die oorlog van Migael en sy engele aan die een kant, en die draak en sy engele aan die ander kant, nie 'n stryd om die mag was nie, maar 'n stryd oor die reg.

God se volk moet deur reg verlos word. In die regstryd het die Satan verloor. Hy kan geen regte meer op diens van mense opeis nie, maar hy het nog steeds 'n sekere mag. 'n Verderflike mag.

Hy het wel verloor, maar is nog nie verslaan nie. Hy gebruik die mag wat hy nog steeds het. En daarom moet een van die wenners vlug, die vrou wat die kind gebaar het. Ofwel, die kerk wat Jesus Christus voortgebring het en as Heiland dien, kry swaar onder die laaste woede aanvalle van die Satan.

So kom ons by ons tema vir vandag se Woordbediening.

DIE OORWINNENDE KERK MOET VLUG.

Sy word

  1. Deur 'n wonder bewaar.
  2. Deur die skepping bygestaan.
  3. Nog altyd bedreig.

Is dit 'n onverstaanbare teenstrydigheid dat die wenner, die vrou, moet vlug en die verloorder die agtervolging begin? Nee glad nie, sê Johannes. Hy het gesien dat in die beslissende slag die Satan uit die hemel gewerp is. Hy het sy plek definitief verspeel, en mag daar nooit meer as aanklaer verskyn nie.

Maar daarmee raak dit swaar vir die bewoners van die aarde. Wee julle, want die duiwel gaan nou rond soos 'n brullende leeu, om te soek wie hy kan verslind, want sy tyd het nou baie min geword.

Die oorwinnaars kry dus baie swaar. Hulle kan nie op hul louere rus nie, want in die oorwinning lê die swaarkry opgesluit. En andersom: in die swaarkry is die oorwinning.

Hierdie merkwaardige stand van sake is alleen verstaanbaar en te begryp in die geloof.

Kyk, hoe ervaar ons die agtervolging van die Satan? Hoe voel ons die woede van die draak? Nie deur konfrontasies met tasbare, sigbare sataniese magte nie, maar in die persoonlike stryd teen jou eie sondes. Elke dag is daar weer oomblikke dat jy 'nee' moet sê teen die verleiding tot sonde. En juis die 'nee-sê' laat jou swaarkry. Dit is die swaarkry van die smalle pad.

As jy verloor in die stryd teen die sonde, dan kies jy vir jou die breë pad. Die breë pad is gerieflik. Jy voel soos 'n vors wat uitgaan om te oorwin. Maar die breë pad loop uit op die dood.

Die smal pad is die pad van die oorwinnaars. Hulle kry swaar. Hulle sukkel om vol te hou. Maar die einde van die pad is die Lewe.

Wel, so sien ons hoe die vrou swaarkry onder die geweld van die draak. Ons verstaan dat dit 'n smal pad was vir die Ou-Testamentiese volk van God, die volk Israel, om Adventsgemeente te bly. Die draak het heftig aangeval en ongelukkig baie suksesse behaal. En tog is op God se tyd die Kind gebore. God het Sy beloftes gehou, en toe het dit tog Kersfees geword. Die Adventsbelofte van die Ou-Testament is vervul. Maar die gebore Messias was slegs 'n kort tydjie op die aarde, en toe is Hy na die hemel weggevoer. En weer bly die vrou alleen op die aarde agter.

Met 'n nuwe Adventsbelofte, met 'n nuwe Adventsverwagting.

En daarmee staan die Kerk weer op die smalle pad. Die smalle pad van hoop en stryd en gebed en swaarkry.

Maar die kerk staan nie alleen nie. Die Here kom sy volk te hulp. In ons teks kry ons 'n derde beeld van die bewaring van die gemeente. In hoofstuk 7 het ons gelees hoe die Here Sy gemeente beveilig, deur 'n verseëling aan hul voorhoofde. In die begin van hoofstuk 11 hoor ons hoe God die binneste heiligdom laat uitmeet en beskerm. Wel hier kry ons die derde beeld van bewaring van die kerk. Aan die vrou word die vleuels van die groot arend gegee, om veiligheid te soek in die woestyn. Dis 'n pragtige beeld hierdie. Op arendsvlerke gedra.... Dan moet u 'n berglandskap voorstel met hoog en steil hange, met ontoeganklike kranse en diep ravyne. Hoe sal jy daaraan verby kan kom? Dis onmoontlik, en as jy dit sou wil probeer, is dit lewensgevaarlik. Net al om af te kyk in die diepte is genoegsaam om jou van angs aan 'n bossie te laat vasklou, en nie meer 'n tree te versit nie....

En let dan op die vlug van die arend. Sonder enige sigbare moeite sweef hy by die hange op en af. Die duiselingwekkende dieptes en die steilste kranse beteken vir hom niks nie. Moeiteloos gaan hy daaraan verby.

As 'n arendsjong sy eerste vliegpogings doen, en in moeilikheid kom, duik die ouer af en vang sy jong op sy vlerke op, en dan dra hy hom terug na die nes.

Wel, dis hierdie beeld wat die Here van oudsher gebruik het as hy vir Sy volk die wonder van hul redding wil verduidelik. Die allereerste keer dat die Here Hom regstreeks tot die volk Israel rig na die uittog uit Egipte, in die Sinaï-woestyn, dan sê die Here dit: Eksodus 19: 4. Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het.

Hoor u, die beeld van dra op arendsvlerke is die beeld van uitredding deur God. Hy het hulle uit die dodelike greep van die Satan gered, en by Hom in die woestyn gebring.

Daar het Hy 'n plek vir hulle berei. Hy Self hou Sy volk in lewe. In die beeld van Openbaring 12 waar die vrou na die woestyn gedra word, lê heel duidelik die gedagte van 'n sekere isolement. Die slang gaan steeds meer beslag lê op die lewe in die wêreld. Die wêreldpolitiek, die kultuur, die wetenskap sal steeds meer in hande kom van mense wat met God en Sy gebod nie wil reken nie. Die slang sal daarin tot groot ontplooiing kom.

En dan sal 'n gelowige in Jesus Christus dikwels by grense kom. Hieraan kan ek nie saamdoen nie. Hierin mag ek nie meewerk nie. Jy sal baie moet loslaat omwille van Jesus Christus.

Tog beteken die verblyf in die woestyn nie dat jy uit die wêreld moet terugtrek nie. Dit is ook 'n gevaar wat gelowiges bedreig. Dat hulle hulself met 'n beroep op die woestynverblyf van die kerk, heeltemal terugtrek in 'n isolement. In 'n gerieflike isolement.

Dan gaan jy alleen nog maar om met broeders en susters van jou kerk. Daar hoef jy nie meer te getuig van Christus nie. Hulle weet mos! Daar kan jy met alles saamdoen, want ons maak mos so of ons maak nie so nie. Jy hoef nie meer self te kies nie. Jy staan nooit meer alleen met jou geloof in Christus nie, want jy ontmoet nooit meer ongelowiges nie. Jy stap net lekker saam in die gerieflike isolement van net jou eie mense.

Maar dan is die kerk nie meer vrugbaar in die samelewing nie. Dan klont die sout saam en gee nie meer smaak aan die geheel nie. Die kandelaar staan onder 'n emmer. Vir hulle wat saamleef onder die emmer, uiters gerieflik, maar verder volstrek onvrugbaar.

Waarom word die vrou na die woestyn gevoer? Omdat sy vervolg word! Waarom word sy vervolg? Omdat sy die getuienis van Jesus Christus hooggehou het in 'n afvallige wêreld!

Dus gemeente, nie elke isolement is op sig gesond nie. Die isolement waarin God Sy volk bewaar, is byvoorbeeld die isolement van die Sondagse eredienste. Dan sit ons as gemeente veilig by mekaar om onderhou te word in ons geloof.

In die prediking van die evangelie skenk die Here vir ons wat ons nodig het. Maar ons mag hier net 1 dag per week sit. Daarna spring ons aan die werk met die getuienis van Christus. Dan staan ons weer in die wêreld. En wie werklik in die wêreld staan, voel skielik hoe anders dit in die kerk was. Op Sondag in die kerk ervaar jy die rusgewende isolement van geloofsonderhouding deur die Here. En dan voel jy, jy is buite die gesig van die slang.

Maar Maandae stap jy die lewe in, en voel jy 'n totaal ander isolement. Die isolement van die eensaamheid. Die eensaamheid wanneer jy alleen staan as gelowige. As jy alleen jou beslissings moet neem. As jy moet volhou teen die spotlag van die wêreld in: Ek glo in Jesus Christus. Ek glo dat Hy sal weerkom om te oordeel die lewendes en die dooies.

So 'n eensaamheid duur lang. Voel verskriklik lang. Dit duur 'n tyd... Tye.. En dan nog 'n halwe tyd. Eindeloos. Ons glo die tyd is 'n vasgestelde tyd. Christus kom op Sy tyd. Maar die Adventsverwagting is swaar, want ons weet nie wanneer. Ons weet nie wanneer ons Adventshoop vervul gaan word nie.

2. Die vlugtende kerk word deur die Skepping bygestaan.

Ons het gesien hoe God Sy kerk red deur 'n wonder. Deur die Evangelie van genade red Hy die gemeente. Hy bly haar onderhou in die woestyn. Maar terwyl God se volk op arendsvlerke in veiligheid gebring word, doen die slang 'n nuwe poging. Hy gooi uit sy bek water soos 'n rivier agter die vrou aan. By hierdie beeld moet ons 'n rivier voorstel wat afkom in 'n vloed. 'n Klein en vriendelike stroompie, verander skielik in 'n niks en niemand ontsiende watervloed. Alles wat in sy pad staan, sleur hy saam. Alles wat nie baie deeglik op 'n onaantasbare fondament veranker is nie, word losgeruk en verdwyn reddeloos in die stroom.

Wel, so 'n vloedgolf gaan oor die wêreld en bedreig ook die kerk. Vandag sien ons die vloedgolf kom in die golf van volslae normloosheid. Dit spoel oor ons en ons kinders.

Daar is nie meer vaste norme, as die mens nie die gebooie van God wil aanvaar nie. "Geen God en geen meester" is die ideaal wat daagliks sy duisende verslaan.

Alles wat praat van 'n norm van God, 'n wet of 'n gebod, word beskou en benoem as outyds. Jy moet ook modern wees. Iemand van hierdie tyd. Soos 'n breinspoeling word dit aan ons opgelê.

Lewensgevaarlik. Immers as jy op 1 punt ingee, as jy op 1 punt jou fondament loslaat, dan sleur die vloedgolf jou sommer saam.

'n Mens raak baie bekommerd as jy sien hoe die golf van normloosheid die laaste 25jaar hoog opswel. Wat kan ons nou na die mens gesproke nog verwag? Is daar nog enigsins 'n toekoms op hierdie wêreld?

Maar dan sê vers 16: die aarde kom die vrou te hulp. Die krag van die verleiding word op een of ander manier gebreek.

Toe rond die Franse Revolusie in die 18de eeu vir die eerste keer die kreet: Geen God, geen meester! gelanseer is, het christene hul hart vasgehou. Nou kom die einde van die geskiedenis, want die mens van die wetteloosheid het nou opgestaan! Maar die wal het die skip gekeer. Die totale anargie van die revolusie is tenslotte weer omgebou na 'n ordelike samelewing. Die aarde het te hulp gekom.

In die jare sestig van hierdie eeu, het ons die seksuele revolusie gesien. Alles wat lekker is, is toegestaan. Alles mag. Geniet, geniet!

Maar skielik word die feesvreugde ru versteur. Vreeslike siektes verslaan hul miljoene. Veiligheid is daar maar net in die monogame huwelik. Die huwelik wat God al in die Paradys ingestel het.

Vandag word in 'n dolgedraaide emansipasie geloof die verskil tussen man en vrou gereduseer tot 'n klein liggaamlike detail. Dit is die leer. Maar dan skielik blyk die lewe sterker. Want God het by die Skepping die vrou as vrou gemaak met unieke moontlikhede en eienskappe. En teen daardie Skeppingsorde is geen mense leer opgewasse nie.

In die vloedgolf van normloosheid kom die aarde die vrou te hulp. Die Skepping self roep die mens wat in sy eiesinnigheid meen dat hy koning van die aarde is, tot die orde. Die aarde laat hom nie eindeloos deur 'n magsbeluste mens uitbuit nie.

Die Skepping sal hom nooit in diens van die Satan wil stel nie. Hy dien die regmatige heerser van die aarde. En daarom gaan daar van die Skepping altyd iets positiefs uit. Iets baie leersaams ook, naamlik dat jy wette van God nie ongestraf kan vertree nie. Trek jou vir 'n paar dae terug in die eensaamheid van die natuur en keer dan terug in die bewoonde wêreld. Dan ondergaan jy met 'n skok wat dit beteken dat ook die Skepping in barensweë is, en uitsien na die verlossing.

Die natuur is nie vry van die vloek oor die Skepping nie, maar tog daar is 'n Skeppingsorde wat heilsaam is, vir 'n mens wat meen dat hyself sy eie wette wel kan maak. En so sien ons die aarde steeds bystand verleen aan die gemeente van Christus wat glo dat daar gebooie van God is, en norme wat nie ongestraf geïgnoreer kan word nie.

3. Die vlugtende vrou nog altyd bedreig.

Die vrou is in veiligheid gebring in die woestyn. Dit beteken: God hou die kerk op aarde in stand.

Die gebore Adventskind is na die hemel weggeruk.

Gevaar dus verby?

Nee tog nie. Die vrou is wel in veiligheid, maar wat van haar verdere nakomelinge? Nou word hulle bedreig. Satan kan die bestaan van die kerk as sodanig op aarde nie meer ongedaan maak nie, maar daarom rig hy al sy aandag op die individuele lidmate van die kerk.

Geheel in lyn met die moederbelofte trouens. Satan sal nie die kop van die vrou kan vermorsel nie, hy kan haar lewe nie neem nie, maar hy kan haar in die hakskeen byt. Hy byt elke dag. Hier 'n kerklidmaat. Daar 'n dopeling. Hoe verder jy jouself na die rand van die gemeente manoevreer, hoe kwesbaarder jy raak vir 'n hakskeenbyt.

Iemand wat die gebooie van God wil bewaar en tegelyk die getuienis van Jesus Christus in hierdie wêreld wil hooghou, kry met die toorn van die draak te doen.

Dit is dan jou eie stryd as gelowige. Die swaarste stryd, want daardie stryd moet jy alleen stry. Alleen op jou kamer, alleen in jou bed, alleen op jou kantoor.

Want die kerk is wel die gemeenskap van die gelowiges en binne daardie gemeenskap word die norme van God aan jou voorgehou, maar jy moet die norm toepas. Ook al sny dit in jou eie vlees. Ook al sou jy baie graag nou en dan sekere gebooie van God wil ophef.

Daardie stryd moet jy alleen stry. Heeltemal alleen.

Nee, tog nie heeltemal alleen nie. Immers die Heilige Gees staan langs jou. Sterker nog, die Heilige Gees woon in jou.

Hy leer jou om in Adventsgeloof te volhard.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)