Die Satan word oorwin deur die bloed van die Lam

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 12
Preek Inhoud: 

Ps. 103: 1, 2, 3
Ps. 103: 4, 5
Ps. 96: 1, 2, 3, 4
Ps. 96: 5, 6, 7, 8
Lees: Sag. 3 & Rom. 3: 9 - 20
Teks: Openb. 12: 7 - 12

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

"Ek sal vyandskap stel tussen jou en hierdie vrou, tussen jou saad en haar saad". Met hierdie woorde verklaar God die oorlog aan die Satan, die verderflike mag wat daarop uit is om God se skepping te laat misluk. Ongelukkig het die Satan al voor hierdie woorde gespreek is, die Skepping onherstelbare skade toegebring. Hy het kans gesien via die mens, die sonde in die Skepping te importeer.

Maar God wil die definitiewe verlies van Sy Skepping nie aanvaar nie, en daarom verklaar Hy die oorlog aan Satan. Die Satan en sy volgelinge, die slangesaad, sal permanent daarop uit wees om die saad van die vrou, naamlik die kinders van God, van die aardbodem uit te roei. Die stryd sal swaar wees, maar God sal verhinder dat Satan definitief sy planne kan uitvoer. Hy sal tenslotte Sy volk red.

In die eerste gedeelte van Openbaring 12 moes ons so na die geskiedenis van die aarde leer kyk, naamlik as die strydtoneel van slangesaad en vrouesaad.

En wanneer jy eenmaal so leer kyk het, gaan jy inderdaad iets daarvan sien. As ons heeltemal agteraf van die geskiedenis stand van sake opmaak, dan ontdek jy allerhande momente uit daardie stryd.

Jy sien dit byvoorbeeld raak in die verdrukking van die volk Israel in Egipte. Farao laat hom gebruik deur Satan om die volk van God dood te druk.

'n Soortgelyke iets gebeur as Koning Balak die towenaar Bileam huur om die volk te vervloek. Jy sien iets van die stryd as die Edomitiese koning Herodes wil probeer om die pasgebore koning van die Jode van die lewe te beroof.

As jy eenmaal so na die geskiedenis leer kyk het, dan sien jy steeds weer waar die eintlike front le.

Maar nou hoor ons in ons teks dat daar in die hemel ook stryd gevoer word. 'n Hemelse leërmag stry teen die draak en sy engele. Nou word dit nog moeiliker voorstelbaar vir ons. Dit raak al hoe swaarder om simboliese voorstellings met ervaarbare werklikhede te verbind. Tog moet ons dit probeer, want ook hierdie openbaring is tot ons troos en bemoediging, want in die stryd wat hier gevoer word, word 'n oorwinning behaal. Satan en sy leërs word oorwin deur die bloed van die Lam.

Dit is ons tema vir vanoggend se prediking:

DIE SATAN WORD OORWIN DEUR DIE BLOED VAN DIE LAM.

Ons sien:

  1. Sy posisie as aanklaer word beëindig.
  2. Sy krag as verleier word gebreek.

Daar het oorlog in die hemel gekom! Dit klink na 'n baie interessante materie. Is die hemel dan nie die wêreld van ewige rus en vrede nie? Blykbaar tog nie!

Maar nou wil ons graag meer weet. Hoe lyk dit dan presies in die hemel? Hoe word die oorlog daar gevoer? Is daar wapens in gebruik. Vloei daar bloed?

Wel, gemeente, as u vol met hierdie tipe vrae is, sal ek u moet teleurstel. Die Bybel beantwoord nie sulke vrae nie. Van hierdie Migael en sy engele weet ons ook nie veel meer as wat hier staan nie. Hy word ons voorgestel as die aanvoerder van die hemelse leërmagte.

Vermoedelik gee sy naam, Migael, die mees treffende omskrywing van sy taak en posisie. Migael, dit is: Wie is soos God?

Ons hoor daarin 'n taamlike aggressiewe vraag. Wie is soos God? Niemand mos. En wie hom soos God wil gedra of homself met God probeer gelykstel, kry met Migael te doen. Was dit in die Paradys nie Satan wat vir homself daardie plek gesoek het nie? En onthou hoe hy probeer het om die mens daarin met hom saam te neem, deur sy suggestie: Eet van die verbode boom en jy sal soos God wees.

Wie is soos God? Niemand nie. Vir die waarheid van hierdie ontkenning, ywer Migael.

En dis hoekom daar oorlog in die hemel kom. Die oomblik waarop die oorlog begin, is nogal belangrik. Die oorlog breek naamlik uit op die oomblik dat die deur die draak bedreigde kind weggeruk word, na God en Sy troon. Blykbaar is daar 'n noue verband tussen iets wat die draak doen, en die feit dat 'n oorlog ontketen word.

Wat gebeur het is dit: Die draak het probeer om die kind, wat die vrou sou baar, te verslind. Onthou u dat dit in die kind om die beloofde Verlosser gegaan het? Om Jesus Christus, die mensgeworde Seun van God?

Wel, met hierdie aanval het Satan hom regstreeks teen God gerig, hy wou God verslind... en daarmee is die maat vol! Nou tree Migael op, en werp die Satan die hemel uit.

Hy het sy plek totaal verbeur. Hy mag nooit meer in die hemel verskyn nie. Nou die Seun van God op die troon sit, is daar geen toegang meer vir Satan nie.

Het Satan dan ooit toegang in die hemel gehad? Ja, blykbaar wel. Ons weet nie presies hoe ons ons dit moet voorstel nie, maar in die Bybel hoor ons gereeld daarvan, dat ook Satan in die hemel in die omgewing van God se troon kan verskyn. Dink byvoorbeeld aan die geskiedenis van Job. Daarin word vertel hoe Satan in die hemel kom, en kritiese vrae vra by die vroomheid van Job... Job is nie so vroom soos hy lyk nie. Hy is ook maar 'n sondaar...

Dink ook aan die verhaal oor Josua, die hoëpriester, wat ons gelees het. Die voorstelling is anders as by Job, maar op een punt is dit dieselfde. Satan staan daar as aanklaer. Hy sê: let op die vuil klere van hierdie Josua. Moet so iemand hoëpriester wees in Jerusalem? Wil u van sulke mense eerbetoon ontvang en offers aanneem?

Die tekening van Satan as aanklaer keer terug in Openbaring 12. Blykbaar het Satan inderdaad tot op daardie oomblik toegang tot die hemel gehad. Hy het steeds weer daar verskyn as aanklaer. Kyk, hoe sondig is die mens!

Let op U volk, o God, watter gemors maak hulle daarvan? Is dit nou uitverkorenes? Is dit deur sodanige mense dat U gedien wil word? Is daar een gebod van U wat een van hulle gehou het? En so pleit Satan skuldig vir almal. Die sonde is nou in die wêreld, en jy kry dit nooit meer daaruit nie. Dag en nag staan hy daar en aankla.

En ongelukkig was Satan reg. Daar is niemand regverdig, selfs nie een nie!

Hierdie bybelwoord kon hy op elke skepsel van toepassing verklaar. Daar is niemand wat goed doen, selfs nie een nie!

En daarmee verval die Moederbelofte. Geen mens op aarde kan die saad van die vrou wees, wat die kop van die slang sal vermorsel nie. Want almal is klaar skuldig. Reeds vanaf hul geboorte. Van elke kind wat gebore is, kan die aanklaer met reg sê: Skuldig! Ook al onbruikbaar vir U!

En toe word die Adventskind gebore!

Onskuldig van die skoot van sy moeder af! Sonder sonde, deur 'n wonder van God in die wêreld gebring.

Teen Hom kan Satan nie 'n woord inbring nie! Teen Hom kan hy nie 'n klag staande hou nie!

En dan maak hy 'n ander plan. Die kind moet onmiddellik vernietig word! Weg van die aardbodem. Weg uit die wêreld. Die draak sal Hom verslind.

En dan is dit klaar! Klaar met Satan. Nou mag Migael ingryp. Nou het Satan sy plek verspeel. Want die keer wil hy hom vergryp aan onskuldig bloed.

En daarmee is die oordeel gevel. Nou word Satan uitgewerp. Die oorlog wat hier beskryf word, is dan ook nie juis 'n saak van kragmeting nie... Wie kan die grootste aantal engele aanvoer nie? ... Nee, hier gaan dit om 'n regstryd.

Nie die reg van die sterkste heers hier nie, maar die sterkte van die reg behaal die oorwinning.

Satan is oorwin deur die bloed van die Lam. Deur die onskuldige bloed van die Lam. Want teenoor die reg van die onskuldige bloed moet sy aanklagte verstom.

En daarom heers daar vreugde in die hemel.

Die aanklaer by die troon van God het sy plek verspeel.

Hy kan die broeders nie meer aankla nie.

En sy plek word oorgeneem deur 'n pleiter vir God se volk.

'n Voorbidder wat steeds tussentree by die Vader.

Hoor u watter verskil die Hemelvaart van Christus maak?

In plek van 'n aanklaer staan daar nou 'n pleiter by die troon.

In plaas van iemand wat steeds sê: "Kyk, God, hoe sondig daardie kind van U! Hoe skuldig maak die gelowige hom elke dag weer!" staan daar nou Iemand wat ons sondes voor die aangesig van God bedek.

As daar nou 'n kind van God op aarde sondig, dan is daar die Lam van God. En Hy pleit steeds weer 'onskuldig'. Hy sê steeds weer: Die sonde is klaar versoen. Die skuld is klaar betaal. En daarom is ons getroos. Ook al is die stryd nog swaar. Ook al verloor ons dikwels in die stryd teen ons sondes. Ons het 'n voorbidder in die hemel. Hy is daar ons ten goede.

2. Satan se krag as verleier gebreek.

Hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam. Dit beteken: die dood van Jesus Christus was die beslissende faktor in die stryd. Die stryd tussen Migael en die draak speel hom af buite ons normale waarneming. Uit die simbolieke van die Openbaring weet ons dat daar meer is tussen hemel en aarde, as wat ons met ons oë kan sien. Paulus praat byvoorbeeld van bose geeste in die lug, van owerhede, van magte, van wêreldheersers van die duisternis. Maar tegelykertyd maak hy duidelik dat ons daarvan deel is: Dit is ons worstelstryd, wat nie teen vlees en bloed is nie (Efese 6).

Ons staan in die stryd van Migael en die draak, dus as daar oorwinnings behaal word, dan deel ons ook in die oorwinning. En hoe dan? Wel, laat ons met vers 11 vooropstel, dat die eintlike oorwinning behaal word deur die bloed van die Lam, maar tegelyk staan daar ook, dat Satan oorwin is deur die woord van hulle getuienis. Die gelowiges op die aarde deel in die stryd van Migael en die draak. Maar hulle deel is net die getuienis.

Hulle hoef self nie oorwinningskragte te voorsien nie. Hulle hoef self nie die duiwel en sy ryk te vernietig nie, maar hulle is getuies. Getuies van die bloed van Christus.

Getuies van die krag van die Lam.

Christus laat mense van Hom praat. Daar is mense wat die Here Jesus liefhet. Iemand wat hulle nooit van oog tot oog gesien het nie. Hulle glo in Hom.

Daarvoor is krag nodig, gemeente. Die krag van die Gees van God. Die Heilige Gees.

Met die krag van die Gees begin mense hulle te verset teen die Satan.

Satan word in vers 9 genoem as die Verleier van die hele wêreld. Die hele wêreld val vir die verleiding deur Satan. Daar is niemand wat goed doen, selfs nie een nie. En tog, die kanse keer. Die groot verleier slaag nie meer vanselfsprekend nie. Sy oppermag is gebreek!

Nie meer die sonde heers as koning nie, maar nou is Christus koning in die lewe van Sy kinders.

In die stryd teen die sonde, word baie verliese gely, seker. Maar daar word ook oorwinnings behaal. Definitief.

Die krag van Satan as verleier is gebreek. Die bloed van die Lam het hom oorwin! Uit die bloed van die Lam kom vir ons die kragte om getuies te wees vir Jesus Christus in 'n sondige wêreld.

Nou moet ons origens in die opsig wel nugter bly. Christene het somtyds baie optimisties geraak. Ons sal die wêreld vir Christus wen! Onward, Christian soldiers! Marching as to war! Laat ons maar vergeet van fanfare en trom geroffel.

Openbaring 12 vertel dat die kerk moet vlug in die woestyn. Vlugtelinge is nie juis soos triomfantelike soldate wat meen dat hulle die oorwinning klaar in hul sak het nie.

Laat ons maar beskeie bly.

Met betrekking tot ons moontlikhede leef ons as vlugtelinge in 'n woestyn. Met betrekking tot ons opdrag staan ons midde-in die wêreld. Daar moet ons die getuienis laat hoor. Vir vertroue in die eindoorwinning is alle rede.

Daar is geen moontlikheid dat Christus as nog die stryd sal verloor nie.

Maar vir 'n gevoel van triomf is ook geen rede nie.

Daarvoor is die stryd te fel. Moenie vergeet wat met die draak gebeur het nie. Hy is wel die hemel uitgegooi, maar hy is op die aarde neergewerp.

Sy stemming is baie grimmig. Nou hy weet hy is aan die verloorkant, is hy ontstoke, in groot woede. Sy dae is getel, en dit weet hy baie goed.

En daarom word ons vir die duiwel gewaarsku.

Omdat hy weet dat hy min tyd het, sal hy in sy ondergang met hom saamsleur wie hy maar kan.

En daarom is ons gewaarsku. Die kerk bly permanent in die gevaargebied. Die lewe bly vol versoekings. Afhangende van jou situasie, sal die duiwel jou probeer aftrek van die weg waarop Christus jou geplaas het. Die verleiding lê vir elkeen op 'n ander gebied. Vir die een op finansieel gebied, om homself onregmatig te bevoordeel, en so die duiwel in die kaart te speel. Vir 'n ander op seksueel gebied, om God se huwelikswet te oortree, en God los te laat.

Vir 'n derde is dit sy egoïsme wat hom in die pad staan, om naaste liefde te betoon, en sodoende die liefde van Christus te verloor. Vir weer 'n ander sy leuenagtigheid om homself uit allerhande situasie te red, maar daardeur die oop verhouding met God beskadig. Of iemand raak gevoelig vir allerhande filosofieë wat nie met God en Sy Woord wil reken nie, en val so ten slagoffer aan die Satan.

Op enige manier sal Satan jou van Christus probeer lostrek. Dus wat dit aangaan, word dit vir 'n Christen in hierdie wêreld nooit gerieflik nie. Dit bly 'n woestyn.

Voortdurende gebed bly noodsaaklik om te volhard in die geloof. Die krag van die Heilige Gees het jy hard nodig om die beloftes van die ewige lewe bo die verlokkinge van hierdie aardse lewe te bly stel.

Maar dit kan. Die Heilige Gees is daar. Hy is vir ons belowe, en hou Hom beskikbaar. Die krag van die verleider is gebreek. Maar die mag van die Vertrooster staan.

En daarom kan ons tog verder. Daarom kan ons met vertroue die toekoms tegemoet gaan, want ons weet: Die Lam het klaar oorwin! Die Koninkryk van Christus is besig om te kom.

Dis seker. AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)