Die oorwinning in die christenstryd is bo ons voorberei

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 12
Preek Inhoud: 

06-12-92

OPENBARING 12 : 7-12

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 91 : 1, 2
Wetslesing
Sing: Ps. 91 : 3, 6
Skriflesing: Efesiërs 6:10-20
Tekslesing : Openbaring 12:7-12
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 34 : 1-4
Prediking
Sing: SB. 12 : 1, 2
Dankgebed
Sing: SB. 12 : 3, 4
Seën

Gemeente van ons Here in die hemel,

'n Oorlog in die hemel én 'n hemelkoor. Opnuut word in beelde van groot afmetings geweldige indrukke op die netvlies van jou hart ingebrand. Stryd en oorwinning, geweld en 'n lofsang. Opnuut is daar skerp teenstellings wat in vs 12 so uitkom: "Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde ...".

Maar dis mos ons, dié "bewoners van die aarde"! Daar word 'n "wee" oor ons uitgeroep?! Ons word beklaag en gewaarsku. Is daar nie vroliker tekste in die Bybel nie? Ja, daar is. Maar daar is terselfdertyd in hierdie Bybelgedeelte groot vrolikheid! Kom ons kry dié twee bymekaar, die vrolikheid en die beklaging. Die groot vraag aan ons is naamlik: waar begin die vrolikheid van die geloof?

Die betekenis van verse 1-6 was: blitsvinnig gryp God in om sy verbond te red. Die Kind is plotseling "weggeruk na God en na sy troon", sê vs 5. Noudat die Kind gered en dus ons Here in die hemel is, volg die draak Hom. Wat dan gebeur, is die inhoud van die volgende visioen wat Johannes mag meemaak. Ek bedien die Woord van Christus vir u:

DIE OORWINNING IN DIE CHRISTENSTRYD IS BO ONS VOORBEREI

want

  1. die aanklaer neergewerp (vs 7-9)
  2. en die aanklag verwerp (vs 10-12).

1. DIE AANKLAER IS NEERGEWERP (vs 7-9)

Nadat die Kind (ons weet dis Jesus) in die hemel opgeneem is, ontbrand daar 'n oorlog in die hemel. Die initiatief kom van die kant van Migael en sy engele. Wie sy Bybel mooi ken, weet dat in die profesieë van Daniël hierdie hoë engel ook voorkom. Hy word daar genoem "een van die vernaamste vorste" temidde van die engele (10:13). Of: "die groot engel wat oor die lede van jou volk waghou" (12:1). Ook in die klein brief van Judas kry jy 'n beeld van Migael "die aardsengel" wat met die duiwel gestry het.

In die verse 1-6 is elke keer van 'n "teken" gepraat. Dit is 'n voorstelling in die visioen met spesiale betekenis. Daar word dinge samegevat wat in werklikheid opeenvolgende gebeurtenisse is. Dink byv. aan die Kind wat gebore is én skielik in die hemel opgeneem word, terwyl Jesus in werklikheid eers 'n volwasse man geword het. In ons teks vanmôre word nie gesê "dit 'n teken" nie. Dit het dus 'n meer maklike betekenis. Ja, uit die hele Bybel weet jy: daar is 'n stryd tussen God en die duiwel waarin ook die engele en bose geeste betrek is. Maar onthou: dit is 'n geestelike stryd wat met aardse beelde beskrywe word. Sodat ons kan verstaan wat bo ons aangaan.

Die aanval kom dié keer dus van die kant van God se heilige engele. Die poging van die draak om in die hemel te kom, die Kind agterna, lok dié aanval uit. Nee, dit was blykbaar nie sommer maklik om die draak te weerstaan nie. Dit was 'n oorlog waarin van altwee kante alle engele betrek is. Die duiwels egter "kon nie oorwin nie en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie". "En die groot draak is neergewerp ..."!

Ons het lankal iets daarvan geweet. Die Here Jesus self het mos gesê: "Ek het die Satan soos 'n weerligstraal uit die hemel sien val" (Luk 10:18). Die val van Satan het begin, toe daar in Jesus se naam op aarde bose geeste uit mense uitgedryf is. Aan die kruis het Hy alle magte van die hel voorgoed gekeer. Dis dus verstaanbaar dat daar nie plek vir 'n bose gees meer in die hemel is, toe die Oorwinnaar by sy hemelvaart daar gekom het nie.

Kyk, dis tog snaaks dat bose geeste welkom in die hemel was? Ek kan eintlik glad nie verstaan dat daar ooit enige vorm van kommunikasie, enige ontmoeting tussen God en satan denkbaar was nie? Dit beskadig ons beeld van die heiligheid, die suiwerheid van die hemel. Ja, maar ons kan wel aan een ding dink, een vlak van kontak tussen God en satan. Dit is ons, die mense. Ons is die twisappel. En: die satan het 'n sekere reg op mense. Sedert die een dag, nog in die paradys. Luister hoe die visioen verklaar word, sodat niemand meer kan sê dis maar onduidelik nie. Vs 9: die groot draak is hy wat "die ou slang genoem word", die bekende slang uit die begin. Hy word "die duiwel en Satan genoem": sy naam in Grieks en in Hebreeus. Die "diabolos" (het ds Bijzet ons geleer) is die een wat alles in woorde deurmekaar gooi. Die "Satan" is die teenstander van God en sy werk. Dit is hy "wat die hele wêreld verlei". Die satan: met dié naam tree hy op in die geskiedenis van Job as die een wat God se kind slegsê. Hy is, sê vs 10, die Aanklaer. Dit is wat hom 'n sekere reg gegee het om in God se sake in te meng. Ons sondes het hom dié reg gegee. En hy het die reg gebruik om deur die eeue God se kinders aan te klaag, nadat hyself altyd en orals verwarring in hulle harte en lewe gestig het.

Nou egter, in hierdie visioen, word die draak, die slang, die satan, die duiwel, die verleier en die aanklaer gekéér! Hy het geen enkele reg meer om in die hemel, voor God se troon te kom nie. Al sy name identifiseer sy slegheid. Al dié name word opgesom om te sê: kyk, watter groot oorwinning! Luister mooi watter verandering daar kom! Daarom bars die hemelkoor los in 'n lofsang: "Nou het die redding en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword!, en die gesag van sy Christus!". Redding: vir die mense. Krag: om dit deur te voer. En koningskap: om sy reg voor altyd te vestig. Gesag: Christus is die Gesalfde, opnuut 'n woord uit Psalm 2. Christus het die reg om op die troon te sit. "Want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag".

Besef julle wat dit beteken? Die aanklaer is weggestuur, uit die hemel uitgewys! Geen mag kan hom ooit weer daarbinne kry nie.

Daar is baie christene wat mooi die aanklag ken wat die satan elke keer weer in hulle harte laat opklink. Dit is dié christene wat ernstig is oor hulle sondes en oor die skade wat hulle veroorsaak het. Dit is hulle wat God se heiligheid en sy aanhoudende genade baie mooi ken en wat juis daarom so gekwel word deur hulle eie skuldig hart. Die aanklag van die satan is naamlik die enigste waarheid wat hy praat. As hy oor my sondes praat, is hy reg. Tog stig hy verwarring en lieg hy: want hy laat mense skuldig voel asof hulle heeltemal buite die genade staan. Nee, mense wat nie meer omgee of God hulle genadig is, sal die satan nie in hulle hart te beskuldig nie. Hy maak dit net met kinders van God: om hulle angs voor God in die pad te sit.

Toe die Kind nog nie op aarde gekom het, was daar nog oorgenoeg ruimte vir die aanklag van die satan. Noudat die gesalfde Kind van God daar is, het die aanklaer geen reg om te praat meer nie. U mag hoor van die stryd in die hemel toe die satan en sy bose geeste uitgeban is. Die toegang tot die troon van God is nou oop. Daar is die redding, die krag en die koningskap oor jou lewe: in die persoon van sy gesalfde, die Kind wat die aanklag weerlê en op sy skouers geneem en teruggewys het. Die oorwinning mag in jou hart weerklink. Met die lofsang. Dit is alles baarbo vir jou voorberei.

2. DIE AANKLAG IS VERWERP (vs 10-12)

Die vervolg maak baie duidelik dat die stryd van christene op aarde daarmee nie verby is nie. Dit het hier eers begin. Want die groot draak "is neergewerp", ja, uit die hemel, maar op die aarde. Dit is waar ons lewe. "En sy engele is saam met hom neergewerp", sê vs 9. Ja, daar bars 'n lofsang los oor die aanklag in die hemel teen jou verstom. "Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon", maar "wee die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het" (vs 12). Hy is neergewerp, maar het toe die initiatief oorgeneem: hy het neergedaal. Dit is wat Paulus in Efesiërs 6 beskrywe: "want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug". Hier kom opnuut uit: ook al is dit 'n geestelike stryd, dis 'n baie werklike stryd. Die oorlog word nou hier met volle krag gevoer. Hy is nog altyd die ou slang, die vuurrooi draak, die duiwel en satan "wat die hele wêreld verlei" (vs 9).

Meer daaroor sal ons in die laaste gedeelte van Openbaring 12 sien. Ja, die hemelse lofsang eindig in 'n profesie: "wee die bewoners van die aarde". Julle word beklaag én ook gewaarsku. En tog is dit nie hopeloos nie. Want vs 11 sê iets oor die oorwinning wat op aarde behaal word. "Hulle het die aanklaer oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis". Wie is hierdie "hulle"? Dit is in elke geval die "broeders" wat in vs 10 genoem is. Hulle is vroeër aangeklaag, hulle het die aanklaer oorwin. Is dit die mense wat omwille van die geloof in Christus gesterf het? Daar word aan die martelare van Openbaring 6 gedink, die siele wat onder die altaar is. Ek dink nie dis nodig om uitsluitend aan mense wat alreeds gesterf het te dink nie. Ek dink die lofsang gaan oor almal wat in die geloof stry op aarde.

Hoe oorwin jy die duiwel? Hoe weerstaan jy die aanklag in jou hart? Hoe keer jy dat die duiwel reg is? "Deur die bloed van die Lam" in die heel eerste plek. Nee, daar staan nou nie dat die Lam self die duiwel oorwin nie. Dit het Hy wel gedoen, maar Hy is nou in die hemel. Nou is die blik daarbo gerig op die aarde en op die stryd wat hier aangaan. Die bloed van die Lam: dis die houvas aan sy offer, aan die vergewing van jou sondes in sy naam. Die Lam: dis die klein weerloos offerdier, soos die Kind. Dit is jou wapen teen elke aanklag en elke leuen van die duiwel. Die tweede wapen is: "die woord van jou getuienis". Getuig maar van sy Woord en jy is toegerus. Die "getuienis" word dikwels opgeroep deur 'n aanval. Mense word gedwing hulle geloof te bely, te verdedig en te verklaar. Dit kan sover gaan dat jou lewe op die spel staan. Daarom is toegevoeg: "en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie". Daar gaan niks bo die trou aan die Here, ook jou lewe op hierdie aarde nie.

Hier al kan jy weet: die aanklag is deur God verwerp vir dié mense wat Christus in die wêreld volg. Hoe naby die stryd van die geloof kan kom, blyk deesdae wel. 'n Man wat homself teen die begin van dwaalleer (en dus van leuen) in die NG-kerk verset, word stilgemaak. Waar bly in so 'n reusagtig groot gemeenskap dan die woord van die getuienis? Ek vra vir julle: is ons bereid om in dié stryd te deel? Ons vergeet sommer van die stryd in die lug én van die duiwel se spel van misleiding. Ons steek sommer vas in 'n web vol klein stryerye. Of is dit daar waar die misleiding begin? Ja, daar is waaragtig groot dinge besig om te gebeur. Kom ons besef opnuut: die christenstryd is iets waarin mense mag saamstaan. Dit is nie net die stryd van elke gelowige om die uitweg uit sy sondes by Christus te vind nie. Dit is ook die dinge waarin ons saam mag staan: om des te beter die geestelike dimensies te besef. Saamstaan: ook saam met die mense wat in 'n ander kerkverband bewustelik dieselfde stryd stry.

Die oorwinning is bo voorberei: deur die Kind van Kersdag en die Lam van Goeie Vrydag. Die aanklaer is uitgewerp, die aanklag word deur God verwerp: op grond van die pragtig evangelie van ons Here Jesus, God se gesalfde. Maak dat daar nie 'n nuwe aanklag geskrywe word nie: oor die vergeet van die woord van die getuienis. Of oor 'n te grote liefde tot die lewe en alles wat jy kan geniet. Of daaroor dat julle dalk vergeet het om as broeders saam te staan in die stryd. Dan kom dit alles terug by die een ding: of die bloed van die Lam die kosbaarste skat in jou lewe is. As dit waar is, is julle "die bewoners van die aarde" wat nie te bang hoef te wees nie. Julle ken dan vir die groot woede van die satan wat onder julle in stilte, met misleiding woed.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)