Die beste is vir die Kerk soos dit in die woestyn was

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 12
Preek Inhoud: 

13-12-92

OPENBARING 12 : 6+13-17

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 105 : 2, 3
Wetslesing
Sing: Ps. 105 : 22, 23 - goeie sorg in die woestyn
Skriflesing: Openbaring 12:6+13-17, Eksodus 19:1-8
Doopsformulier
Sing: Ps. 105 : 5
Gebed
Kollekte
Sing: SB. 29 : 1, 2, 7, 8, 9 - toekoms vir die vrou
Tekslesing : Openbaring 12 : 13-17
Prediking
Sing: Ps. 124 : 1, 2
Dankgebed
Sing: Ps. 124 : 3, 4
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

die visioene wat Johannes gesien het, is vir ons soos skyfies. 'n Enkele Bybelvers bevat in woorde wat Johannes in groot afmetings gesién het. So kan ons verstaan wat geskrywe is: deur elke skyfie, elke vers afsonderlik en aandagtig te bekyk. Maak asof dié klein skyfies vir ons op 'n groot doek geprojekteer is: in jou gedagte. Vanoggend is daar baie beelde uit die natuur, soos die arend, die woestyn en water. Jy kan 'n voorstelling maak. Die preek wil jou help om die betekenis te sien en om die Woord van God te hoor.

Met vs 6 het die eerste reeks beelde geëindig. Nadat die Kind veilig gestel is, vlug die vrou. Daar sien jy dit al gebeur: sy "vlug na die woestyn". Daar is 'n plek in afsondering wat deur God spesiaal gereed gemaak is. Vervolgens het ons die beelde van die oorlog in die hemel gesien en die lofsang van die hemelkoor gehoor. Die bose is neergewerp: uit God se hemel uit, maar op die aarde. Die laaste vers van die tweede reeks beelde het so geëindig: "wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het" (vs 12).

Die derde reeks beelde - ons teks vir vanmôre - neem die laaste vers van die eerste reeks (vs 6) en die laaste vers van die vervolg (vs 12) op. "En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het". Die boodskap wat ons van die Here kry, het ek so probeer saamvat:

DIE BESTE IS VIR DIE KERK SOOS DIT IN DIE WOESTYN WAS

Want dit was 'n plek

  1. van veiligheid (vs. 6+13-14),
  2. van afhanklikheid (vs. 15-16),
  3. van voorbereiding (vs. 17).

1. DIE BESTE PLEK: VAN VEILIGHEID (vs 6, 13-14)

Die vrou word nog steeds nadruklik so genoem: "die vrou wat die seuntjie gebaar het". Die duiwel kan Christus se koms op aarde nie vergeet nie! Noudat die kind, die Verlosser van mense veilig is, weet hy hoe kort sy tyd is. Sy kans is nou om die vrou, die volk van God, die mense wat verlos moet word, te gryp. Ja, die "vrou" is nog steeds die beeld van die volk van God, maar nou in die Nuwe verbond, noudat die Messias op aarde gebore en later in die hemel opgeneem is.

Die vrou, het ons in vers 6 al gesien, het na die woestyn gevlug. Dit is 'n maklike beeld vir elkeen wat die pad ken wat die Here met sy volk gegaan is. Die pad het mos ná die verlossing uit Egipte deur die woestyn gevoer! Na die verlossing van die slawerny aan die sonde voer die pad van God se volk opnuut dwarsdeur die woestyn. Nee, nie rêrig 'n sandwoestyn nie. Dit is 'n beeld wat opgeroep word, maar wat presies dink jy by die noem van 'n woestyn? Jy dink aan sand en hitte, dors en droogte, rotse en lae struike, en min skaduwee. Ja, dit is wat die woestyn is. Die woestyn is 'n beeld van die wêreld waar jy ook deur gevare omring is. In 'n mate het die volk Israël dit ook ondervind. Wat hulle egter die meeste ondervind het, was dat hulle altyd veilig en versorg was. Die HERE het mos heelpad saamgetrek!

Onthou u wat ons in Eksodus 19 gelees het? Wanneer hulle by die Sinai aangekom het en al verskeie woestyne deurgetrek het, herinner die HERE hulle aan sy sorg langs die pad: veilig en versorg. "Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het" (vs 4). Arendsvlerke is baie sterk. Daarop dra hulle die kleintjies om hulle te leer vlieg. So veilig en goed versorg was Israël in die woestyn, solank as wat die HERE by hulle was. Dan sal jy ook Openbaring 12:14 sommer maklik kan verstaan: "maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg". Jy sien haar vlieg, met groot en sterk vlerke. Daar is niks wat haar kan keer nie. Die HERE self dra sy volk: en gee haar versorging en veiligheid. Ja, solank as wat ons naby die HERE bly. Want ons weet genoeg oor die ou volk Israël: van wat gebeur as ons Hom vergeet.

Maak die Here dit nou nie moeiliker as nodig nie? Hoekom gebruik Hy die beeld van arendsvlerke en van vlieg? Hy kon tog ook eenvoudig sê: Ek bring my volk in veiligheid, wanneer die duiwel julle kwaad wil aandoen? Dit Here gebruik 'n beeld om jou ekstra te laat dink: wat is vlug? Watter krag neem dit om veilig vir die duiwel te wees? Die HERE roep met dié beeld die ou geskiedenis in gedagte. Onthou jy hoe wonderbaarlik Ek vir my volk gesorg het toe hulle deur die woestyn moes trek?! Dink aan my woorde oor hoe Ek julle soos op arendsvlerke gedra het! Onthou jy jou Bybel?? Dan weet jy weer: die beste plek vir ons is soos dit in die woestyn was. Dit is: in veiligheid naby die HERE. Soek jy ook so vinnig dié veiligheid?

Die visioen vertel verder nog: die vrou word op 'n spesiale plek onderhou "'n tyd, en tye en 'n halwe tyd". Daar word in die hele boek Openbaring met getalle gewerk. Langs beelde, kleure en emosies moet ook getalle iets spesiaals vertel. Ja, dit moet jy onthou: die getalle is nie om te tel nie, maar om te vertel. Die bekendste voorbeeld is: 7. Dit is die getal wat die volkomenheid omskrywe. Die getal word ook opgebreek, sodat jy stukkies daarvan kry. Hier kry jy: een en twee en 'n half. Dit is: drie en 'n halve tyd. Daardie "drie en 'n half" word in vers 6 anders uitgedruk: "duisend-tweehonderd-en-sestig" dae. Dit is presies drie en 'n halwe jaar! Op ander plekke is dieselfde tyd in maande uitgedruk: 42 maande (wat ook drie en 'n halwe jaar is). Ek vertel nou nie verder daaroor nie. Die betekenis van dié "drie en 'n half" is in die hele Openbaring: die tyd vanaf Christus se hemelvaart tot aan sy wederkoms. Dit is die helfte van die volkomenheid, die tweede helfte van God se werk. Ek gaan nou nie dieper op die getalle in nie.

Die betekenis is eenvoudig: in die tyd waarin die kerk op aarde lewe, sorg die HERE vir haar, dag vir dag, jaar na jaar. Pragtig: die kerk as sulks kán die slang nie vernietig nie! Ja, die wêreld is soos 'n woestyn: net so bar en droog en gevaarlik. Maar soek dan ook, vlug na die veiligheid wat die HERE gee, soos die woestyn met God se sorg leefbaar was.

2. DIE BESTE PLEK: VAN AFHANKLIKHEID (vs 15-16)

Het jy al agtergekom dat die draak nou weer "die slang" genoem word?! Dit lyk vir my dis nie sonder betekenis dat die name wissel nie. Die name verander en dus die beelde waarmee die bose vir jou gewys word. Jy moet luister én kyk. Vs 14 het die woestyn al genoem die plek "waar die vrou uit die gesig van die slang onderhou word". Sy listigheid kan haar nie regstreeks kry nie. Dus: basies is die kerk op aarde veilig! As ons nie vir hom luister nie.

Wanneer die slang agterkom dat hy die kerk nie kan aantas nie, maak hy 'n plan. Dit is wat vers 15 met 'n nuwe skyffie duidelik wil maak. "En die slang het uit sy bek water soos 'n rivier agter die vrou aan gegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier". Jy sien: 'n groot golf haal haar byna in, daar in die droë woestyn! Baie uitleggers sê: die water is die simbool van groot gevaar; die duiwel wil die kerk vernietig. Ja, maar hoe?? Water is in die woestyn naamlik nie 'n gevaar nie, maar 'n uitkoms, 'n heerlikheid! Kyk, wanneer daar 'n rivier dwars deur die woestyn stroom, is die woestyn sommer nie gevaarlik meer nie. Dan kan jy daar lewe! Ja, en dit is die gevaar wat bedoel is: die gevaar dat jy vir jouself kan sorg en nie meer van God afhanklik is nie.

Onthou: jy sien die bose hier besig as die slang. Daardie waterstroom is die ene misleiding. Asof ons tog wel op onsself kan vertrou. Ja, baie watter is gevaarlik, veral na langdurige droogte. As die spruite dan afkom ..., neem die droë grond die water nie op nie. Baie misleiding is gevaarlik vir die kinders van God. Hoe meer punte om ons te mislei, des te gevaarliker word dit. Kyk, wanneer die bose die kerk nie kan kleinkry nie, verhul hy homself soos die slang en stuur 'n stroom misleiding agter jou aan. Byvoorbeeld oor geld wat tog lekker is; oor 'n invloedryke posisie waarmee ons tog mooi dinge kan bereik; oor my privaatheid wat ek tog benodig. Dit is alles dinge met mooi kante: jy kan iets goeds daarmee doen. Terselfdertyd kan jy ook eers mooi dinge vir jouself daarmee doen, sodat jy van die ander vergeet. Sodat jy vergeet jy het alles van die HERE gekry en is heeltemal van Hom afhanklik. Dan moet die woestyn jou opnuut afhanklikheid leer, jou dwing dit te leer.

Vs 16 vervolg: "en die aarde het die vrou te hulp gekom, en sy mond oopgemaak en die rivier opgesluk". Die woestyn, die dorstige grond suig die water so vinnig op as wat dit stroom. Soos die Ou Testament dit uitdruk: die aarde maak sy mond oop, soos toe Korag, Dathan en Abiram opgesluk is. Die natuur self keer die verleiding: soos op 'n natuurlike wyse. God wil nie hê dat jy jou afhanklikheid vergeet nie. Die oorvloed wat die slang aangebied het, neem Hy weg. Ja, dalk jou geld, jou posisie, miskien wel 'n deel van jou liggaamskrag. Dit beteken 'n uitredding, wanneer dit jou afhanklikheid van God leer. Asof jy in die woestyn opnuut op water moet leer wag. Soos in die woestyn: dit kan die beste wyse om te lewe vir jou wees.

3. DIE BESTE PLEK: VAN VOORBEREIDING (vs 17)

Die laaste vers vertel van die frustrasie van die duiwel. Sy laaste aanval op die vrou het misluk. Sy woede is nou nog groter. Nou soek hy vir 'n prooi wat hy wel kan bereik. "En hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge". Die woestyn as beeld van veiligheid verdwyn nou. Die vrou is daar veilig (die kerk as sulks kan hy nie vernietig nie), maar daar is nog ander kinders wat blykbaar nie die veiligheid geniet nie.

Hier moet ons mooi dink. Ons het tot nou toe geleer: die "vrou" is die volk van God. Eers was dit die volk van die Ou verbond wat die Kind verwag het. Na sy hemelvaart is dit dieselfde volk van God, maar nou in die Nuwe verbond. Dit is mos die kerk: die algemene, christelike kerk. Wie is dan nou daardie "ander nakomelinge" van die vrou? Letterlik: "die ander van haar saad". Dié uitdrukking verstaan ons, want ons het al die woorde daarby geneem wat God vir die slang gesê het: "Ek sal vyandskap stel tussen jou saad en haar saad" (Gen 3:15). Nou laat die slang sy vyandskap teen "die ander van haar saad" losbars. Wat egter van die vrou, die kerk wat 'n veilige plek op aarde het? Die ander kinders is tog ook kinders van Christus se kerk?

Natuurlik, maar ons weet dat die woestyn as 'n veilige plek hier slegs 'n beeld is. Dit is nooit 'n aanwysbare plek nie. Wanneer nou die woestyn uit die beelde verdwyn, gaan dit oor die wêreld soos die wêreld is. Dus: jy sien nou ook wel die kerk, maar nou as die kinders van God soos wat hulle in die wêreld lewe en soos wat hulle daar deur die draak bedreig word. Dit gaan nou ook nie meer oor die kerk as ons gesamentlikheid nie, maar oor die gelowiges afsonderlik. Want ook al mag ons saam die gemeenskap van die kerk vorm, tog moet elkeen ook op sy eie voete staan en sy eie stryd stry. Die slang het sy mantel van misleiding weer afgewerp en word weer reguit "die draak" genoem. Daar staan nou in vs 17 nie hoe die draak sy woede op die kinders van God koel. Dit kry ons verderop in Openbaring.

Wat wel beskrywe is, is hoe die kinders van God wat in die wêreld lewe, lyk! Die is hulle "wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus hou". Opnuut kry ons 'n signalement van christene. Al eerder, in die lofsang van bo, is beskrywe hoe jy die aanklaer oorwin. Dit doen jy saam "deur die bloed van die Lam en deur die woord van julle getuienis" (vs 11). Nou word dieselfde anders gesê. Anders, want dit is nou die lewensstyl van die kinders van God wat beskrywe staan. Die gebooie van God is mos die wegwysers in die lewe: hoe om regop en reguit te stap, sonder om te struikel en in sonde te val. Die getuienis van Jesus is die grond daaronder: hoe om met die beeld van Jesus voor jou oë Hom daeliks na te volg. Jy het 'n dubbele houvas gekry: die beeld van Jesus en die riglyn van God. Bewaar dit, hou dit hoog.

Ja, dit is wat die draak in die wêreld sien. Dit maak hom woedend. Hy sien die saad van die vrou, die kinders wat God in hierdie wêreld gee. Hy sien hoe hulle Jesus navolg en vir God gehoorsaam is. Noudat die duiwel die Kind Jesus nie meer kan klein kry nie, rig hy al sy woede op die afsonderlike kinders van God. Op elkeen op sy eie plek in die wêreld. Nou mag ook elkeen afsonderlik hoor: wanneer jy God se gebooie vashou en Jesus volg, kan die mag van die bose jou nie kleinkry nie. As jy tenminste voorberei is: deur die veiligheid by God te soek en die afhanklikheid daeliks te leer. Dan was die beeld van die woestyn ook vir jou 'n voorbereiding: om so in die wêreld te leef. Dan soek jy ook die gemeenskap van die kerk wat nie vernietig kan word nie! Alleen is jy in gevaar, saam kan julle veilig en versorg wees.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)