Die twee getuies deur die wêreld gedood

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 11
Preek Inhoud: 

Ps. 25: 1, 2
Ps. 25: 3, 4
Ps. 119: 46, 47, 48
Ps. 136: 1 - 6 (beurtsang)
Lees: Openb. 11: 1 - 6
Teks: Openb. 11: 7 - 14

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Uit wat ons tot nou toe uit die boek Openbaring gelees het, het ons verstaan dat daar gereeld oordele van God oor die wêreld gaan. Omdat die mens van God afgeval het, het daar 'n vloek oor die Skepping gekom. En vanweë die vloek, is die mens met heel die Skepping onderworpe aan tal van probleme. Vanuit die Bybel moet ons die probleme leer verstaan as openbaring van God se toorn vanweë die sonde. Volgens dieselfde Bybel sal die toorn openbaring met die voortgang van die geskiedenis steeds toeneem. Daar kom 'n intensivering van oordele.

Tegelykertyd egter sorg God daarvoor dat in die wêreld 'n gemeente van Jesus Christus is, wat nie ophou om getuie te wees van die komende oordeel, en die beskikbare redding nie.

Ondanks dat die kerk in die wêreld klein sal raak, en steeds meer in 'n isolement teruggedring sal word, bly God kragte voorsien. Deur die Heilige Gees bly daar 'n gemeente wat ondanks alle gerigte en oordele, ondanks alle verdrukking bly getuig van die liefde van God, en bly bid om die koms van die Koninkryk van Christus. Deur allerhande tekens en wonders, beskerm God die getuienis van die kerk. Teen alle verwagting in kan die kerk sy getuienis volhou. Christus het Sy gemeente op 'n rots gebou, en volgens Sy belofte aan Petrus, sal selfs die poorte van die doderyk Sy gemeente nie kan oorweldig nie. Maar in ons teks van vandag sien ons nou iets anders. Die poorte van die hel gaan oop, die dier wat uit die afgrond opkom, oorweldig die twee getuies, en slaan hulle dood. Is die dier dan tog die sterkere? Is dit dan die einde van die kerk op aarde?

Gemeente ek verkondig u vanoggend die evangelie soos volg:

DIE TWEE GETUIES DEUR DIE WÊRELD GEDOOD.

Ons let op:

  1. Die plek van hulle dood.
  2. Die reaksie op hulle dood.
  3. Die redding uit hulle dood.

Hulle is die twee olyfbome, en die twee kandelaars wat voor die God van die aarde staan. Dit was nogal 'n bemoedigende beeld, die getuies is olyfboom en kandelaar tegelyk. Hulle laat die lig van die evangelie in die wêreld straal. Die kandelaar brand volop. Maar sy olie raak nie op nie, want hy is olyfboom tegelyk. Terwyl die kerk die evangelie in die wêreld verkondig, word sy self daarmee gevoed. Wie van die evangelie uitdeel, groei self in sy geloof.

Daarom is die opdrag om getuie van Christus te wees, 'n wonderlike opdrag. Maar tog, laat ons ook dit bedink: dit gaan daarmee soos met die boekie wat Johannes moet eet. Aanvanklik is dit soet in die mond, maar later maak dit sy maag bitter. Die gehoorsaamheid aan die opdrag kan 'n mens duur te staan kom. Daarvan lees ons in vers 7 van ons teks.

Wanneer hulle hul getuienis voleindig het, sal die dier wat uit die afgrond opkom, teen hulle oorlog voer, en hulle oorwin en hulle doodmaak.

Die dier wat uit die afgrond opkom. U sal verstaan dat ons hier nie aan 'n letterlike dier uit een of ander diep put moet dink nie. Die dier uit die afgrond is die mensheid wat hom van God en Sy Woord afgekeer het. Die wêreldse mens wat niks met 'n God in die hemel te doen wil hê nie. Die mens wat self wil bepaal wat goed of sleg is. Ook wel genoem die mens van die wetteloosheid, of op 'n ander plek, die antichris. Dit is hierdie wyse van dinke wat vandag al hoe meer besit van die westerse wêreld neem. Geen God, geen meester. Die onontkombare konsekwensie daarvan is, dat die mens tenslotte sy menslikheid verloor. Hy word soos 'n dier. En al hoe feller raak hy teen mense wat sal opkom vir die reg van God in hierdie wêreld. Tenslotte sal hierdie wyse van dink, die wêrelopinie sodanig in beslag neem, dat elke stem wat nog praat van 'n God wat oordeel oor goed en kwaad, tot swye gebring moet word. Dan is die dier uit die afgrond los. Die hel gaan oop. Satan neem vlees en bloed aan in die leidende opiniemakers, en dan is daar in die wêreld geen enkele ruimte meer vir 'n teëstem. Die geluid van Christus moet doodgemaak word.

Gemeente, laat ons hierdie visioen nie van ons af wegskuif as 'n vreeslike droom, waarvan ons die verwesenliking maar ver in die toekoms dink nie.

Nee, in ons teks staan dat die dier uit die afgrond opkom. Hy is besig om op te kom. Dus die dier spring nie skielik aan die eind van die geskiedenis uit die put, om dan vinnig sy slag te slaan nie. Nee, hy is besig om op te kom. Geen God, geen meester. In die Franse Revolusie, 200 jaar gelede, is dit vir die eerste keer hardop gesê. Uit skrik vir die konsekwensie van hierdie dinke, het daarop 'n reaksie gekom wat sterk remmend gewerk het. Maar in die dinke van die mens, het die kreet: geen God, geen meester! vasgehaak. Die vrugte daarvan sien ons in vandag se samelewing. As God nie iets kan verbied nie, wie sal ons dan iets verbied? Dan doen ek wat goed is in eie oë. Ek geniet myself. En wat ek daarmee aan iemand ander aandoen, is nie my probleem nie. As ouers net doen wat goed is in hul oë, watter rede het hulle dan om hul kinders enigiets te verbied? En dan mag die ouer 'n bietjie outydser in sy opvattings wees as die kind, maar tenslotte is daar geen verskil. Want geen van twee het 'n hoëre norm om aan vas te hou, as net sy eie opvattings van goed en verkeerd nie.

Gemeente, as u enigsins oog vir daardie ontwikkeling het, sien u die dier uit die afgrond opkom. Die mens van die wetteloosheid. Hy is nog nie in sy uiterste konsekwensie daar nie. In elk geval is dit nog nie so algemeen, dat daar geen ruimte vir die kerk meer is nie, maar daar is 'n ontwikkeling gaande. Tal van remmende faktore is nog werksaam. Die groot massa is prakties nog redelik konservatief, met betrekking tot ou waardes. Maar omdat die waardes nie meer 'n vaste grond in die norm van God vind nie, is hulle besig om af te brokkel. Dat die proses langsaam gaan, mag ons beskou as geduld van God met hierdie wêreld. Hy hou die Satan nog aan die ketting. Hy laat hom nog nie los nie.

En daarom is daar nog steeds geleentheid vir prediking, vir sending werk, vir evangelisasie arbeid. Mense kan hulle nog bekeer, maar dan moet die kerk sy boodskap duidelik laat hoor, naamlik dat alleen 'n radikale terugkeer na die geopenbaarde norme van die Skrif die mens kan red.

Maar die Byble sê hier al dat tenslotte die Satan sy kans sal gryp. Hy sal die getuies tot swye bring. Dood sal hy hulle maak, daar waar hulle hul getuienis laat hoor.

En waar is dit? Dit is op die strate van die stad wat geestelik genoem word, Sodom en Egipte.

Name met 'n vreeslike klank. Sodom - die stad wat reeds in Abraham se tyd hulself so aan sinlike wellustigheid verkoop het, dat dit 'n gruwel was in die oog van die Here. Die mees walglike vorm van seksualiteit is daar verheerlik as toppunt van kultuur. Die stad het selfs sy plek op die aardbodem verbeur.

Egipte - dis die land waar die kinders van God verdruk is. Farao het die volk Israel in 'n dodelike greep omhul, toe hy by wyse van bevolkingsbeplanning al die Joodse seuntjies by hul geboorte laat verdrink het. Farao het geweet as hy die jong kinders doodmaak, dan sterf die volk vanself uit.

Egipte, praat dus van bedreigde kerkjeug.

Sodom, praat van 'n kultuur van volslae tugteloosheid.

Broeders en susters, dit is naderby as wat u dalk dink. As ons vandag se kultuur werklik geestelik beoordeel, en moet benoem, dan is daar inderdaad geen treffender name as Sodom en Egipte nie.

In Sodom het die mens self bepaal wat goed en kwaad is. Geen God, geen meester! En die mense wat dit vandag uitleef word beskryf en bejubel in populêre weekblaaie, soos Huisgenoot, Rooi Rose en Sarie. Popsterre en filmsterre. Elke week die laaste foto's van hul nuutste liefdes. Sodom!

Die ouers wat die goed in huis haal is besig om hul kinders te laat verdrink in die Nyl van normloosheid. Egipte!

Die ergste kom nog, weet u wat in ons teks ook nog staan, behalwe Sodom en Egipte. Daar staan: waar ook onse Here gekruisig is.

Almal weet waar die Here Jesus gekruisig is. In Jerusalem. In die stad van Dawid. By die tempel van die Ou-Testamentiese kerk!

In sy verwerping van Jesus Christus word Jerusalem die setel van die valse kerk. Godsdienstigheid genoeg onder die Joodse leiers. Vroomheid te oor by die Fariseërs. In God se Naam: Jesus moet gekruisig word! sê hulle.

Waar sal die dier uit die afgrond op sy gevaarlikste wees? As hy sy intrek neem in die kerk! As in die naam van God aan mense vertel word, dat God liefde is, en dat dit beteken dat elkeen kan doen wat goed is in eie oë. As in die naam van Jesus Christus 'n boodskap verkondig word, waaruit die kruis van Golgota sorgvuldig weggesny is. Dan val daar slagoffers, dan val hele generasie af van die christelike geloof.

En laat ons daarom op ons pasoppens wees gemeente. Ons kan ons werklik nie permitteer om argeloos in hierdie wêreld te staan nie. Ons moet weet wat aangaan. Ons moet besef wat ons in huis haal aan boeke, blaaie, T.V. programme en huisvriende.

Wil ons as kerk nog 'n getuienis wees in hierdie wêreld, dan moet ons anders wees as ons omgewing. Die kerk moet dan 'n toonbeeld wees van ywer in die geloof, trou aan mekaar, liefde wat verder reik as jou eie mense.

As dit nie die geval is nie, dan het die dier uit die afgrond klaar oorwin. Dan hoef hy ons nie meer dood te maak nie. Dan het ons ons lewe klaar verloor.

2. Die reaksie op die dood van die getuies.

Die twee getuies uit ons teks het hul getuienis volgehou. Totdat die tyd vol is. As hulle na God se oordeel lank genoeg getuig het, dan laat God hulle getuienis wegneem. Hulle word gedood waar hulle geprofeteer het.

En daarmee is die laaste kans vir die wêreld weg. As daar geen prediking meer is nie, dan is daar ook nie meer redding nie. Maar dit besef hulle nie onmiddellik nie.

Inteendeel, hulle is bly dat die getuies dood is.

Drie en 'n halwe dag bly hul lyke onbegrawe lê. Die laaste eer wat vir elke mens vergun word, word aan hulle onthou. In 'n begrafnis word 'n mens se nagedagtenis beskerm, maar in die geval van die dooie getuies word opsetlik hul herinnering uitgewis.

Volke en stamme en tale en nasies kom kyk. Die hele wêreld verbly hom oor die einde van die christendom.

Hulle stuur selfs mekaar gelukspresente. Die volke van die aarde wat so baie oorloë met mekaar gevoer het, begrawe die strydbyl, en sluit vrede, want eindelik is hulle vry! Daar sal geen plae meer kom nie. Dis die einde van die gerigte oor die aarde. Nou kom daar 'n tyd van vrede, van rus. 'n Totaal nuwe tyd. Nou is hulle bevry van die stem van die gewete. Nou kom die groot vryheid!

Die kerke wat daar nog staan, bly bewaar as kultuurvoorwerpe uit die verlede. Interessant vir toeriste. Maar eredienste word nie meer gehou nie. Ander kerkgeboue word verbou tot bioskope. Weer ander kan dien as veilinggebou.

Eindelik vry van lastige boeteprediding!

So het ook die Jode gedink, wat Jesus uit die weg geruim het. Die Jesus is 'n bedreiging vir die volk. Nou-nou loop almal Hom nog na vanweë die tekens wat Hy doen. Liewers dat een man sterf, dan dat 'n hele volk verlore gaan.

Die geskiedenis herhaal hom, en word vervul as ook die getuies van die Here gedood word.

Waar die wêreld hom ontdoen van God en Sy Woord, word Christus opnuut gekruisig. Maar na die eerste kruisiging op Golgota, het 'n opstanding gevolg, en na die opstanding 'n hemelvaart, en na die hemelvaart die prediking van die evangelie.

Soiets gebeur in ons teks ook, maar tog weer anders. Daarom in ons laaste punt

3. Die redding uit hulle dood.

Nadat die lyke van die getuies drie en 'n halwe dag op straat gelê het, en die wêreld homself met die bevryding van die lastige profete gelukgewens het, gebeur iets besonders. 'n Gees van die lewe uit God, vaar in hulle, en die profete gaan weer op hul voete staan. 'n Kolossale wonder. 'n Totaal onverwagte en onverklaarbare wending. En dan val 'n groot skrik op die feesvierende wêreld.

Die God wat hulle doodgewaan het, wat hulleself in hul hoogmoed doodverklaar het, Hy lewe.

Die woorde van die twee getuies kon die mense nog wegredeneer. Hul tekens kon hulle nog op 'n ander manier verklaar. Maar as 'n dooie opstaan uit die dood, dan stok elke menslike denke. Hier staan die verstand stil. Want dit kan nie! Dit is onmoontlik. Maar die feit kan hulle nie ontken nie.

En so lewer God 'n dringende bewys van Sy aanwesigheid deur die lewe aan dooies te skenk. Soos Hy eendag die bewys gelewer het, deur Sy Seun uit die dooies op te wek. Toe het Hy Sy Seun in 'n wolk na die hemel laat opvaar, in die aanwesigheid van die dissipels.

Nou weer laat Hy Sy profete opstaan, en Hy roep hulle na die hemel. In 'n wolk. Die bekende wolk van God se heerlikheid.

Maar nou in die volle openbaarheid. Almal moet dit sien. Die vyande moet dit aanskou, sê ons teks.

Jesus se hemelvaart is net deur Sy vriende gesien. Maar daardie vriende het 'n opdrag gehad: Julle sal My getuies wees, tot aan die eindes van die aarde, sodat almal wat hoor en die evangelie glo, gered kan word.

Nou moet die vyande die hemelvaart van die profete van Christus aanskou, maar die tyd van die getuienis is nou definitief verby.

Daar word geen getuies deur Jesus meer die wêreld ingestuur nie. Nee, die getuies word uit die wêreld weggeneem. Sy getuies word aan die aarde onttrek.

En daarmee val definitief die doek. Die oordeel breek los. In 'n groot aardbewing stort 'n tiende van die stad in. 7. 000 mense sterf. Weer simboliese getalle. 7 - die getal van volheid. 1000 - dit gaan oor baie.

Dan moet die wêreld God die eer gee. Dan moet hulle die knie wel buig vir Jesus Christus. Maar dit is nou te laat vir redding.

Die getuies word gered, hulle ontvang die Lewe, maar vir die wêreld is dit nou te laat.

En so eindig die tweede wee. Die dreiging bly hang. Daar kom 'n derde wee. Ons weet nie wat dit gaan bring nie.

Ons weet net dit: God het Homself bekendgemaak in Sy Woord. Sy beloftes staan vas. Ons opdrag is duidelik.

Kom ons bid om volharding en trou.

Want net in die weg van God se wette is die Lewe.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)