Die Lam maak die sesde seël oop

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 6
Preek Inhoud: 

Ps. 90: 1, 2
Ps. 90: 4, 9
SB. 36: 1 - 5
Ps. 85: 1, 2
Lees: 2 Petrus 3.
Teks: Openb. 6: 12 - 7: 17.

Broeders en susters, geliefde gemeente,

Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Weereens het ek ontdek hoe ongelooflik sentraal hierdie bekende teks uit Johannes 3: 16 is. Want hierin is die kernsake van heel die Bybelse verkondiging opgeneem. Daar is oordeel - jy gaan verlore. Daar is reddig - die Ewige lewe.

En die redding word bewerk deur die Seun van God, wat vanweë die liefde van God, na hierdie wêreld gestuur is. Dit is werklik die Bybelse boodskap in a nutshell.

God se Woord is 'n boodskap van sonde en genade.

Van oordeel en van uitredding. En dit alles (in die beeld van die boek Openbaring) deur die Lam van God wat geslag is.

Vandag gaan ons saam met Johannes kyk na wat gebeur as die sesde seël oopgesluit word. Huiweringwekkende gebeurtenisse beskryf hy dan. Hemel en aarde begin wankel. 'n Paniese vrees breek uit onder die mense....

En tog, dit is die Lam van God wat die seël oopmaak. Dis Hy wat hierdie gebeurtenisse inisieer.

En daarom is daar nie uitsluitlik oordeel nie. Daar is ook uitredding. 144. 000 verseëldes. Hulle word gered van die ondergang, en daarom mag Johannes ook sien hoe daardie groot skare staan, en die lof van God en van die Lam, sing.

Ek verkondig u die Woord van die Here, soos volg:

DIE LAM MAAK DIE SESDE SEËL OOP.

Ons sien:

  1. Hoe God die Skepping bedreig.
  2. Hoe God die verlossing beseël.
  3. Hoe God die lofprysing bereik.

1. Verlede week het ons gesien hoe die eerste vyf seëls, wat die Lam oopmaak, magte te voorskyn gebring het, wat die wêreldtoneel beheers. Daar is die vier perde met hul ruiters, wat allerhande kwaad simboliseer, wat oor die wêreld kom. Ongeremde magsontwikkeling, bloedvergieting, hongersnode en epidemies. God gee vir hulle 'n kans in die geskiedenis. Ons sou kon sê: as 'n waarskuwende oordeel. God het magte op die aarde losgelaat, wat die mens nie kon bind nie. En daarom lees ons dwarsdeur die geskiedenis oor oorloë, revolusies, armoede en siektes. Die vier perde gaan al sinds die sondeval rond oor die aarde. Tegelykertyd is daar die krag van die biddende martelaars. Hulle roep om 'n eindoordeel; om die vernietiging van al die Godslasteraars; om die volkome koms van Christus se Koninkryk. En toe het Johannes vir hulle hoor sê, dat hulle nog geduld moet oefen. God se tyd is nog nie daar nie. Daar is nog meer knegte van Jesus Christus wat gered moet word.

Vandag kyk ons met Johannes hoe die sesde seël oopgebreek word. En uit wat ons dan sien, begryp ons dat ons hier 'n openbaring oor die eindoordeel kry. Dit is 'n eenmalige oordeel. In vers 17 word naamlik vasgestel: 'die groot dag van Sy toorn het gekom'.

"Die son het swart geword, en die maan soos bloed". As ons dit lees, kom dit ons nie onbekend voor nie. So kry ons dit ook in die Pinkster toespraak van Petrus. En Petrus het sy beskrywing van die dag van die Here weer ontleen aan die Ou Testamentiese Profeet Joël.

Trouens ook die Here Jesus gee 'n soortgelyke beskrywing van die oordeelsdag. Luister maar Matt. 24: 29: "Dadelik na die verdrukking van daardie dae, sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word".

Dit beteken dus dat die Bybel heel eenstemmig is oor wat om te verwag by die oordeelsdag. Son, maan en sterre is betrokke. Die hele natuur word ontwrig. Vaste natuurwette lyk dan hul geldigheid te verloor.

So sien Johannes dit kom in sy visioen. Die gebeurtenisse word ingelei deur 'n geweldige aardbewing. En daarmee begin die hele aarde te wankel. Ek weet nie of u ooit 'n aardbewing meegemaak het nie, maar dit is een van die mees beangstigende ervarings, wat 'n mens kan ondervind. Alles wat altyd onwrikbaar vas was, blyk skielik onderworpe aan 'n kragsontwikkeling iewers in die aarde, waarteenoor die mens volstrek magteloos staan.

En dan die son. Sy helder lig val skielik weg. Asof hy ingepak word in 'n sak van swart bokvel. Die maan gaan uit soos 'n lamp wie se energie opraak, en net nog 'n rooierige skynsel gee. Die onwankelbare sterrehemel wat al eeu in, eeu uit, dieselfde beeld vertoon aan die mens, kom in beweging. Sterre beweeg sommer na alle kante, en vlieg rond soos uitgeskudde vye. Die hele firmament word oopgeskeur. Berge verskuif, eilande sink weg, elders val nuwe eilande droog.

Wat gebeur nou tog alles?

As ons die betekenis van dit alles wil verstaan, moet ons terug na die Skeppingsverhaal van Genesis 1.

As God die aarde wat daar aanvanklik woes en leeg gelê het, gaan toeberei vir menslike bewoning, gaan Hy te werk in 'n aantal skeppingsdae. Die eerste dag skep Hy die lig. Die tweede dag die uitspansel, die hemelruimte soos jy dit van die aarde af waarneem. En toe die derde dag die skeiding tussen droë grond en permanente water. En dan die vierdie dag kry son, maan en sterre hul vaste posisie.

In hierdie toebereiding van die aarde, deur lig te skep, deur die bereiding van 'n dampkring rondom die aarde, die afwisseling van land en see, die vaste plekke van die hemelliggame, lê God die grondslag vir die moontlikheid van lewe op die aarde. Op 'n maan kan jy nie woon nie, op sterre kan jy nie leef nie. Net die aarde word deur God berei as woonplek vir die mens.

En as ons nou terugkeer na die opening van die sesde seël, dan sien ons sommer wat presies gebeur. Son, maan en sterre, raak gedisorganiseer. Die Skeppingswerk van die vierdie dag is daarmee heen. Berge en eilande word uit hulle plekke versit, en so word die Skeppingswerk van die derde dag verbreek. Die hemel wyk weg soos 'n boekrol wat toegerol word, daarmee is die uitspansel, God se Skeppingswerk van die tweede dag vernietig. En met dat die ligbronne nie meer hul lig gee nie, word die aarde 'n prooi van die duisternis. Die werk van die eerste Skeppingsdag is daarmee heen.

So slaan die Here in Sy oordeel die basis onder die menslike bestaan weg. Hy trek Sy Skepping terug. En nou blyk dat al daardie sake, waarvan ons gedink het: dit is onveranderlik, dag en nag, oppervlakte water en dampkring, land en see.... dat dit alles deur God in stand gehou is, solank as Hy dit wil. Maar die dag dat Hy Sy bestuur daarvan terugtrek, verval die pragtige Skepping tot 'n chaos.

Onthou hoe Petrus (2Petr. 3: 1-7) gepraat het van die spotters in die laaste dae: Hulle sê: Sal daar 'n wederkoms wees? Maar alles bly mos soos dit van die begin van die Skepping af was? Dit is mos ook vandag die algemeen geldende opvatting; Natuurwette soos ons dit vandag waarneem, was altyd al daar, en hulle sal altyd geldig bly. Kan u nou die wanhoop verstaan, van die mense in ons teks, wat mee maak dat natuurwette verbreek word?

Immers, dan raak jy geskok in die fondamente van jou bestaan. Dit is 'n totaal onverwerkbare ervaring.

'n Ervaring, wat nog uitgaan bo die van die eerste vyf seëls: By oorlog, revolusie, hongersnode, kan 'n mens so geskok raak, dat jy dit jou lewe nooit meer te bowe sal kom nie. Dan kan die vreeslikste dinge gebeur, en tog: Een ding het gebly: Die son het geskyn, die maan het in die nag gekom, die berge het op hul plek gestaan, ofwel, die grondstruktuur van die lewe op aarde het staande gebly.

Maar in die sesde seël, word die basis onder die lewe weggetrek.

God breek die wêreld af, wat Hy Self gemaak het. Die natuur word chaos. En die kultuur, die samelewing? Ook dit word totaal omvergewerp.

Sosiale verskille val sommer weg. Rykes en armes, vrymense en slawe, almal dink maar net aan vlug. Hulle wil almal vlug na die mees angsaanjaende toevlugsoord, wat 'n mens kan bedink, die dood! Berge val op ons! Liewer onmiddellik dood, dan dat ons nog een minuut langer die toorn van die Lam van God kan verdra. Want die toorn van die Skepper, het losgebrand. Skielik weet almal dit: Wie kan bestaan voor Sy toorn?

Is daar ooit 'n toevlug, as die toorn van God losbreek oor die aarde?

Dit is die snydende vraag, wat Johannes nog in die ore dreun, as hy sy oë toemaak: Wie kan bestaan voor die Lam van God?

2. Hoe God die verlossing beseël.

Wie kan bestaan voor die toorn van God? Terwyl die wanhopige vraag Johannes nog besighou, word vir hom onmiddellik 'n ander visioen gewys. Ook die visioen is deel van die sesde seël. Eers sien hy 'n beeld van vier winde, wat deur vier engele onder beheer gehou word.

Dis duidelik dat die vier winde vernietigende magte is, wat die hele wêreld uit sy voeë sal blaas. Dus, ons kry hier 'n effens ander beeld, maar tenslotte tog presies dieselfde oordeel, as wat eerder in die sesde seël beskryf is. Die aarde word bedreig deur hemelse geweld.

Maar die geweld word voorlopig gekeer. Eers moet Johannes iets anders sien: 'n Belangrike engel, uit die rigting van die opkomende son, 'n heilsbode. Hy eis dat eers die diensknegte van die Here verseël moet word, voordat die oordeel van die sesde seël uitgevoer kan word. Duidelik sigbaar op hulle voorhoofde moet hulle 'n seël kry. Die bedoeling is wel duidelik. Dink maar aan die laaste oordeel, wat oor die Egiptenaars gekom het, voordat die Farao Israel laat gaan het. In Sy toorn het God deur Egipte gegaan, om die nag al die eersgeborenes te laat sterf, maar die volk Israel is verseël. Die bloed aan die deurposte het hulle gevrywaar vir die toorn van God. Agter daardie bloedsimbool was hulle veilig.

Wel, as die toorn van God oor die aarde losbars: Wie kan dan bestaan?

Die antwoord is hier: Die 144, 000 wat God self verseël het. Hulle ervaar wel die groot verskrikking, wat oor die aarde kom, maar hulle hoef die dood nie onder die berge te soek nie. Hulle sal oorleef, omdat hulle die Naam van die Here sal aanroep. Die Naam van Jesus Christus. Die Lam van God. En dan sal hulle veilig wees. 144, 000 verseëldes. 'n Pragtige simboliese getal. In vers 9 word hulle genoem: Die groot menigte wat geen mens kan tel nie. Net God kan hulle tel. Hy tel hulle een vir een. 144, 000. 12x12x1000. Die getal twaalf is die getal van die Kerk. Die Here het Sy volk onder die Ou Testament vergader in 12 stamme. Die Here bou Sy Nieu Testamentiese Kerk op die fondament van die 12 Apostels. En die getal gelowiges is groot. Jy kan hulle slegs tel by duisende. Dit alles is die simboliek van die getal 144, 000

Dus wie kan bestaan, op die groot dag van God se toorn?

Alleen hulle, wat God Self verseël het. Alleen hulle wat hulle laat roep het tot die Volk van God. Tog die gemeente van Jesus Christus. Tog die Heilige algemene Christelike Kerk.

Daar vergader Christus mos Sy gemeente. wat Hy tot die Ewige lewe uitverkies het.

Wie sal bestaan as die toorn van God losbreek: Almal wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. So het Joël onder die Ou Testament geprofeteer.

Onder die Nuwe Testament mag ons die Naam invul met die Naam van Jesus Christus. Almal wie Jesus Christus aanroep, sal gered word. En dan verstaan ons ook die lang opsomming van al die twaalf stamme uit Israel hier in Openbaring 7.

Moontlik het ons die lys met 'n bietjie verveling deurgekyk. Wat maak al die stamme, met al die kenmerkende herhalings uit die Ou Testament, hier in Openbaring 7? Na drie stamme weet ons dit wel, so voel ons.

En tog, gemeente, vir wie sy Bybel ken, en wie die moeite wil neem om noukeurig te lees, is hierin 'n duidelike boodskap.

Onthou u die rytjie seuns van Jakob, wat u moontlik in die skool geleer het? Ruben, Simeon, Levi, Juda, Sebulon.... En as ons nou weer kyk na vers 5, het die volgorde verander.

Skielik staan Juda voorop. Onthou u die aanduiding van die Lam uit Openbaring 4, as die Leeu uit Juda? Die Lam staan voorop! Christus staan eerste! Hy is Koning, die Seun van Dawid!

Nog iets: Daar is sprake van Josef. Maar daar was in Israel nie iets soos 'n stam van Josef nie. Daar was in sy plek die twee stamme Efraïm en Manasse. Manasse is in ons lys. Maar Efraïm het uitgeval! Hoekom juis Efraïm: Wel, Efraïm was die stam wat die leiding op hom geneem het in die verset teen die huis van Dawid. As Israel uiteenval in 'n tweestammeryk en 'n tienstammeryk, dan is Efraïm die aanvoerder van die tienstammeryk. Jerobeam die Efraïmiet laat die volk roep: Watter aandeel het ons aan Dawid? Daar is geen erfdeel aan die seun van Isaï nie! (1Kon. 12: 16). En daarmee verwyder Efraïm amper heel die volk van Dawid se huis en van die belofte aan Dawid se huis. Die Koms van die Messias.... Ons kyk verder in ons lys: Daar is nog 'n stam uitgelaat. Die stam Dan is ook nie meer daar nie. Die stam Dan in die verre Noorde, het eintlik al vanaf die begin van die inbesitneming van Kanaän, sommer saamgesmelt met die Kanaäniete. Vir Dan was daar geen probleem om die afgodsdiens van die Kanaäniete oor te neem nie.

Dan het konsekwent geweier om die Here as die Enigste God Sy eer te gee. Hulle het opgegaan in die wêreld. En daarom word Dan hier uitgesluit.

Hy het homself buitekant geplaas.

En nou ons tog na die stamme kyk: Wat van Levi? Levi is daar, maar Levi staan sommer temidde van die ander stamme. Levi die priesterstam, wat geen eie stamgebied in Israel ontvang het nie, en daarom altyd 'n uitsonderingsposisie ingeneem het, is nou sommer deel van die volk. Dit beteken dat die rede vir sy uitsondering, die priestertaak, vir hulle verval het.

En ons verstaan hoekom. Die Lam het mos gekom! Jesus Christus het die enigste en afdoende offer gebring, en daarom is geen verdere offers nodig nie. Noudat Jesus Christus, as Enigste Hoëpriester in een keer versoening tot stand gebring het, nou kan al die ander offerpriesters ontslaan word.

Hulle is nou sommer deel van die verloste menigte.

Wel, as ons al die gegewens nou saam vat, is dit duidelik wat Johannes wil sê: Die opsomming van die stamme is aanduiding van die uitverkore volk van God. Daardie volk sal gered word. Hulle ontvang die verseëling aan hulle voorhoofde, sodat die toorn van God hulle nie sal tref as Sy oordeel kom nie. Maar omdat dit hier nie gaan oor die ou Verbondsvolk Israel as volk van God se Uitverkiesing nie, maar om die uitverkore volk van die Nuwe Verbond, daarom gee Johannes die stammelys in 'n vorm waarin die Naam van Jesus Christus uitspring. Juda voorop. Josef in plaas van Efraïm, Dan die afgodsdienaar, is uit, Levi die priesterstam, kry 'n ander taak.

Dit alles wil sê: Jesus Christus is die Lam van God wat geslag is.

Agter Sy bloed is daar skuiling, as die toorn van God oor die aarde losbars.

God bewaar Sy Kerk, die bruid van Christus, wat leef uit die boodskap: Daar is maar een Evangelie. en dit is Jesus Christus en Hom as gekruisigde.

3. Tenslotte: Hoe God die lofprysing bereik.

By die opening van die sesde seël, kry Johannes nog 'n derde visioen. 'n Groot menigte wat niemand kan tel nie. Hulle dra wit feesgewade en palmtakke in hul hande, en hulle sing: Heil aan onse God, wat op die troon sit, en aan die Lam!

Daardie lofprysing is algemeen. Engele, wesens, ouderlinge, almal doen saam! Dit lyk 'n bietjie op 'n herhaling van die visioen van Openbaring 5, as almal die lofprysing begin op die Lam wat waardig is om die seëls oop te maak.

Dit is ook 'n soort herhaling. Maar dan tog ook 'n verdieping. Immers daar is nou al ses seëls oopgesluit. En nog steeds word daar gesing, en die troon van die Lam aanbid.

En daarmee word vir ons 'n groot vertroosting gebied. Vernietigende magte mag oor die aarde gaan. Oordele van God mag oor die Skepping losbreek. Maar God se verseëling is betroubaar. 'n Ontelbare menigte sal gered word uit die oordele. 'n Groot verdrukking het oor hulle gekom, hulle het besit, familie en moontlik hul lewe verloor, maar die Lam gee alles terug. Hy lei hulle na lewende waterfonteine. God sal al hul trane van hulle oë afvee.

Al die trane wat gehuil is, om die moeites van die lewe. Die trane wat gestort is in die worsteling om ondanks alles wat gebeur, die hand van die Hemelse Vader vas te hou. God Self sal Sy arm om Sy kinders slaan en sê: Nou was dit genoeg. Kom, ek droog jou trane. Kyk weer rond met vertroue, en raak vervul met vreugde, omdat jy deel mag hê aan wat hier gebeur, naamlik dat alles wat asem het, die Here loof!

En so bereik God Sy doel waarom alles gegaan het. Hy het die aarde geskape, tot eer van Sy Naam. Hy het die mens daarop gesit, sodat die mens Hom eer. En toe die loflied aan Hom geweier is, het Hy uit liefde vir die wêreld, Sy Seun gestuur, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar gered word.

En so bereik God weer Sy groot doel. Na 'n lank geskiedenis, na 'n wêreld se geskiedenis, ontvang Hy weer alle lof. Heil aan onse God, wat op die troon sit, en aan die Lam!

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)