Christus maak Sy kruis van betekenis in die wêreld

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 6
Preek Inhoud: 

Ps. 2: 1, 2, 4
Ps. 2: 6
Ps. 13O: 1 - 4
Ps. 84: 1, 4, 5
Lees: Matt. 24: 1 - 14
Teks: Openb. 6: 1 - 12

Broeders en susters, geliefde gemeente,

As God dan 'n God van liefde is, hoe kan Hy toelaat dat op die wêreld soveel verskriklike dinge gebeur? U herken ongetwyfeld hierdie vraag van iemand wat hom krities opstel teenoor die Christelike geloof. Hoe pas rampe op aarde by 'n God van liefde? Moontlik borrel hierdie vraag ook sommer gereeld op in u eie twyfelmoedige hart.

Nou is dit nooit moontlik om aan iemand werklik te bewys hoe dit is nie. Hier kan jy niks bewys nie. Hier kan jy maar net buig voor die Evangelie.

Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy Eniggebore Seun gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sou gaan nie, maar die Ewige lewe kan hê.

As God geen God van liefde was nie, sou Hy Sy Seun glad nie gestuur het nie, dan sou Hy geen reddingsplan bedink het nie. Dan sou Hy vanaf die sondeval van die mens dadelik Sy hande van die wêreld teruggetrek het, en die wêreld sommer aan die ondergang prysgegee het.

Dit is hoe die Bybel na hierdie dinge kyk.

Daarom kan ons nooit vanuit die feite van die dag, sommer tot liefde of haat van God besluit nie, of ons op een of ander manier van die bestaan van God oortuig nie. Nee, dit gaan altyd andersom. Jy moet eers glo in die gekruisigde Christus. En van daaruit sien ons iets van God se werksaamheid in die geskiedenis.

Ons het die vorige keer gesien hoe die voortgang van die geskiedenis gestuit is, deurdat niemand waardig was om die verseëlde boekrol te open nie. En toe skielik staan daar die Lam asof Hy geslag is. Die gekruisigde Christus. Hy is waardig om die seëls te breek, sodat die geskiedenis kan voortgaan, en God Sy uiteindelike doel, die koms van Sy Ewig Koninkryk kan bereik. Almal rondom die troon juig, noudat die Lam die seëls gaan oopbreek. Ons wag ook vol spanning af, wat gaan gebeur?

Ons tema vir vandag se preek is:

CHRISTUS MAAK SY KRUIS VAN BETEKENIS IN DIE WÊRELD.

Ons let op:

  1. Die geweld op die aarde.
  2. Die gebede in die hemel.

1. Met hoofstuk 6 kom ons midde in die visioene wat die boek Openbaring sy eienaardige karakter gee. In talle variërende beelde, word vir ons gewys hoe die Here Jesus heen werk na die koms van die Jongste Dag. Die laaste Oordeel waarin Hy definitief tussen gelowiges en ongelowiges skeiding sal maak, en dan kom die nuwe Jerusalem. 'n Nuwe hemel en 'n nuwe aarde.

Dit is 'n lokkende vooruitsig vir elke Christen. Daarom is dit begryplik dat Christene van alle tye, dikwels die vraag gevra het: "Sou dit al so ver wees? Sou die Jongste Dag amper daar wees? "

En dan het hulle rondom hulle gekyk en gesê: "Ja nee, die tye is nou so ernstig, die groot Dag is amper daar. " En vervolgens begin hulle die visioene van Johannes so te interpreteer, dat tenslotte gebeurtenisse en persone uit hulle tyd, sonder meer herkenbaar is in die boek Openbaring. En wee diegene wat nie hulle interpretasie glo nie. Hy word sommer afgemaak as 'n ongelowige. In 20 eeue Christendom het hierdie patroon hom al weet ek hoeveel keer herhaal. Laat ons daarom maar nugter bly as ons in die boek Openbaring verder lees.

Trouens, nie alleen vanweë die les van die geskiedenis nie, maar veral omdat die Here Jesus self ons opgeroep het om nugter te wees. As iemand sê: "Hier is die Christus!" of: "Daar is Hy!" moet hom nie glo nie. Bly nugter. Wees waaksaam en bid.

Jy is nie veronderstel om te reken nie, maar om te werk aan jou opdrag in die wêreld. Christus vra nie van ons dat ons gedurig loop en pieker en reken: Sal Christus vandag terugkom, of eers môre? Nee, die ware gelowige sal eerder sê: "Of Christus vandag terugkom of môre, dit weet ek nie. Dit is die saak van die Here. Dit het Hy vir my nie geopenbaar nie. Maar wat Hy wel gesê het is: Gaan vervul jou roeping in My Naam". Dan is daar handevol werk. Gelukkig die dienskneg wat sy Heer, as Hy kom so besig sal vind. Dit beteken, die boek Openbaring is nie bestem om met die visioene daaruit te spekuleer, oor die dag van die wederkoms nie, maar is bedoel as troos en krag om in ons lewensroeping te volhard. In die opsig het die visioen van die opening van die sewe seëls vir ons baie te bied.

In hoofstuk 5 het Johannes die verseëlde boek gesien. Ons het daaruit verstaan, dat daar 'n blokkering van God se raadsbesluit is. Die geskiedenis kan nie verder nie. Niemand is bevoegd om die seëls oop te maak nie.

Tot die Lam kom. Die Lam wat geslag is. Oftewel: Totdat Christus Homself aan die kruis geoffer het.

Sy gang na die kruis maak die geskiedenis weer oop. En daarom is Sy kruis die middelpunt van die geskiedenis. Omdat daar 'n kruis op Golgota sou staan, kon God die geskiedenis van die mensheid laat begin. Omdat daar 'n kruis op Golgota was, kon God die geskiedenis van die mensheid voltooi.

Agter alles staan die werk van versoening en voldoening. En dit, gemeente, geld ook vir ons tyd.

Ons tyd kon ook maar net kom, danksy die kruis. Die kruis is die sentrale motief in die geskiedenis. Rondom die kruis val die werklike beslissings.

Kan ek dit bewys vanuit die geskiedenis, dat dit so is? Dat alles tenslotte gaan om Jesus Christus, en Hom as gekruisigde? Nee, dit kan ek nie bewys nie. Dit kan ek alleen maar glo.

En so moet ek ook in geloof kyk as die Lam die sewe seëls begin oopsluit. Dan sien ek inderdaad hoe die Here Jesus Sy kruis in die geskiedenis tot gelding bring. Die effek van Sy kruis is groot. Dit bring die wêreld in beweging.

En dan is dit werklik nie onmiddellik orals vrede nie. Onthou die waarskuwing van die Here Jesus: Moenie meen dat Ek kom vrede bring nie, eerder die swaard!

Dit is wat Johannes moet sien. As die Lam die eerste seël oopbreek, roep een van die vier Lewende wesens rond die troon met 'n geweldige stemgeluid: "Kom Kyk!" So presenteer hy die eerste beeld. Johannes sien 'n wit perd. Met 'n ruiter daarop, wat 'n boog hanteer. Hy het uitgegaan as 'n oorwinnaar, en is ook op pad om te oorwin.

Die persoon op die perd is heel duidelik 'n magsfiguur. Die kleur wit, het iets koninkliks. Dis nie juis werksklere nie. Eerder die kleur van die triomf.

Aan hom is ook 'n kroon gegee. Wie die kroon gee, staan nie daarby nie, maar hy is kennelik voorwerp van verering deur baie mense. Hy hou sy kroon maar op terwyl hy perdry. Sy mag het vir hom 'n kick gegee. Hy gaan uit om te oorwin. Hy soek nog meer en meer mag. Honger na mag raak nooit versadig nie. Trots ry hy rond op sy wit perd. Hy geniet sy magsposisie. Hy bou sy eie koninkryk.

Gemeente, ons hoef by die ruiter op 'n wit perd, nie aan 'n spesifieke persoon te dink nie. Dit gaan om die magsfigure van die aarde. Steeds weer staan mense op wat 'n geweldige mag na hulleself toetrek. Hulle het vir God geen ore nie. Hulle bou 'n eie Koninkryk. 'n Koninkryk gebaseer op finansiële mag. 'n Koninkryk gebaseer op militêre mag. Hulle kan 'n plaag raak vir die hele aarde, insluitende die kinders van God. 'n Lewensgevaarlike mag!

Maar Johannes sien reeds 'n tweede perd kom. 'n Vuurrooie, hierdie keer. Hy kan die vrede van die aarde af wegneem, sodat die mense mekaar begin doodmaak. Wel gemeente, ons hoef nie ver te soek om die verwoestende mag van die rooi perd raak te sien nie. Mense begin met mekaar slaags raak. Daar vloei bloed. Die bloed van 'n burgeroorlog. Die swaard van die revolusie. Niemand vertrou niemand meer nie. Onrus en geweld beheers die toneel, as die rooi perd met sy ruiter rondgaan. 'n Afskuwelike kringloop van onstuitbare geweld kom op gang. En wie is in staat om dit te keer?

Maar reeds word ons aandag gevra vir 'n derde ruiter. Hy ry op 'n swart perd. Hy het nie 'n boog nie, nie 'n swaard nie, maar 'n skaal. 'n Weegskaal.

'n Rantsoen koring vir 'n penning! 'n Rantsoen. Die kos is op rantsoen. 'n Penning is 'n dagloon vir 'n werker. Van een rantsoen koring kan hy presies lewe, maar meer ook nie. As hy meer monde moet voed met sy salaris, moet hy met minderwaardige voedsel genoeë neem. Drie rantsoene gars. Gars is in daardie tyd gebruik as veevoer. Dan weet u wel hoe laat dit is. Die gewone man kan nie meer lewensonderhoud bekostig nie. Die hongersnood kom in die prentjie. Armoede word die lewenspatroon. Alle vreugde syfer uit die lewe uit. As die armoede die voordeur inkom, gaan die liefde by die agterdeur uit, se die spreekwoord. Meestal gaan dan nog wel meer by die agterdeur uit.

En moenie die olie en wyn beskadig nie, word nog tenslotte toegevoeg. Wel, in die beeld van sopas: olie en wyn is die luukse artikels. Dit is welvaartsprodukte. Die welvaart bly! Maar die welvaart is in hande van 'n klein bolagie van die maatskappy. Terwyl die man in die straat se droë brood op rantsoen is, gaan die enkele rykes hulle te buite aan oorvloed van olie en wyn. En dit maak die ellende nog skrynender. En daar is geen mens wat 'n oplossing kan bedink, of 'n ander te hulp kom nie.

En dan al is daar die aankondiging van die vierde ruiter. Hy ry op 'n vaal perd. Sy naam is die dood. Die doderyk volg hom op die voete, om al sy slagoffers te verslind.

Sy belangrikste doodmaakmiddel is die pes, en die wilde diere van die aarde. Die pes is berug as 'n baie besmetlike en hoogs dodelike siekte, wat in die geskiedenis van die mensheid meerdere kere toegeslaan het. By pes epidemies sterf sommer 'n kwart of 'n derde van die bevolking. Op die oomblik lyk die pes as siekte redelik onder beheer, maar daar is weer nuwe siektes in opmars, wat ewe dodelik en bedreigend is vir die mensheid.

En so wys al die vier ruiters met hul perde in eenselfde rigting. Dit is almal lewensbedreigende magte op die aarde. Met groot geweld gaan hulle te kere. En wie sal hulle inbind as hulle eers losgelaat is?

Hulle mag is ewenwel beperk. 'n Vierde deel van die aarde kan hulle tref om dood te maak. As in hoofstuk 8 die sewe basuine begin blaas, word dit nog erger. Dan oorleef 'n derde deel van die aarde dit nie. En as tenslotte in hoofstuk 16 die sewe skale van God se toorn uitgegiet word, dan is daar vir niemand meer oorlewing nie. Dit is dus heel duidelik 'n opklimming in intensiteit van oordeel.

Dit beteken: Terwyl die vier ruiters rondgaan oor die aarde, is dit nog tyd van God se geduld met die wêreld. Hy laat die wêreld wel vasloop met sy eie probleme van magswellus, geweldpleging, hongersnood en siekte, maar die merendeel van die mensheid oorleef dit. Hulle sien die oordele moontlik nie raak as oordele van God nie, maar hulle merk wel dat daar probleme is, wat deur mense nie opgelos kan word nie.

Het u nog nooit die vier ruiters sien ry nie? Dan word dit tyd om u geskiedenisboeke weer op te soek, om u koerante beter te lees, en om by 'n oop Bybel in die wêreld rond te kyk.

Dink u ook nog dat die mensheid self wel kan regkom, as ons met mekaar maar van goeie wil is, as ons die demokratiese proses maar sy kans gee? Niks verkeerd met goeie wil nie, en 'n demokratiese proses is 'n goeie saak, maar laat niemand so naief wees om te glo dat dit die wêreld sal red nie. Dat ons so 'n vrederyk kan behaal. Vergeet daarvan! Daar was mos 'n kruis op Golgota! Daardie kruis was daar nie verniet nie. Aan daardie kruis kom niemand verby nie. En daarom het die vier ruiters uitgegaan op hul perde. Met 'n oordeel wat nie almal as oordeel sal erken nie, omdat hulle die mag van die geslagte Lam weier te aanvaar. Maar dit bly oordele. Laat ons hulle raaksien om ons blywend te herinner aan die werksaamheid van die Lam van God. Hy is besig om te kom, en die vier ruiters is tenslotte heroute van Sy komende Koninkryk.

2. Ons let op die gebede in die hemel.

As die vyfde seël oopgemaak word, sien Johannes skielik 'n totaal andere beeld. Hy sien siele onder die altaar. Die beeld dui op mense wat as martelaar vir Jesus Christus gesterf het. Ons moet uit 'n visioen soos hierdie nie teveel inligting wil haal oor die toestand van gelowiges in die hemel nie. Hier is nie inligting nie, maar wel openbaring. Openbaring om ons geloof te versterk.

Die bloed van die martelare roep: "Hoelank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek u nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie? "

Die probleem wat hulle hier aanroer is eintlik nie hulle probleem nie, maar eerder die probleem van die strydende kerk hier op aarde. Want dit is die vraag wat gelowiges steeds weer pla: As Christus dan die Heerser is, hoe kan Hy solank toelaat dat Sy volgelinge vervolg en gedood word? Waarom gryp Hy dan nie in nie, en betoon Hy Hom nie die Magtige nie?

Hoekom laat Christus Sy getuies doodmaak deur 'n vyandige wêreld? Dit is die vraag waarmee die kerk worstel. En die siele onder die altaar bring die vraag onder woorde: Hoelank nog Here, laat U hierdie toestand bestaan? Hoelank nog mag magte wat maar net daarop uit is om u Woord bespotlik te maak, hoelank mag mense wat maar alte graag alles wat Christelik genoem word wil wegvee van die aardbodem, hoelank mag hulle ongestraf hul gang gaan? Here doen iets. Forseer 'n beslissing. Wys u die Magtige! Die Heer van hemel en aarde. Want die getuies word al hoe minder. Steeds minder word die kerk wat 'n Getuie is van die werke van Jesus Christus.

Immers, Getuies word doodgeslaan. Straks is daar niemand meer om te getuig nie. Wat kom dan van die Koninkryk van Christus? Hoelank nog Here sal u wag met die toemaak van die mond van spotters?

En dan ontvang hulle vertroosting. Die vertroosting sien ons raak in die hele beeld wat Johannes sien. Allereers sien hy die siele onder die altaar. Dit beteken dit: die bloed van martelaars is nie sommer vergiet nie. Hulle bloed het nie sommer in die sand van die Romeinse arena verdwyn, waar hulle aan die wilde diere gevoed is nie. Nee, God het hulle aavaar as offerbloed op die altaar. Vir hulle word rus gegee. Hulle mag die wit gewaad van die oorwinning reeds dra, omdat hulle tot die einde toe volhard het in die geloof.

Hulle moet nog wag op die eindoordeel, want daar is nog meer broeders en susters in die geloof op pad. Die getal van die uitverkorenes is nog nie vol nie. Daar sal nog gedood word, terwille van die Woord en die getuienis wat hulle het.

Dus ons moet daarmee maar reken, gemeente.

Wie in Jesus Christus glo, moet die getuienis bewaar. Dit beteken, hy moet soos die siele onder die altaar in die wêreld opkom vir die alomvattende betekenis van die kruis van Christus. En dit kan weer tot gevolg hê, dat daar 'n kruis in jou lewe kom.

Laat ons as gelowiges bly bid om die voortgang van Christus se werk op die aarde. Laat ons bid dat Hy Sy doel sal bereik.

Nee, nie om onsself nie. Nie omdat ons moeg raak om die getuienis te bewaar nie. Nie omdat onsself nou eindelik die rus van die wit klere soek nie. Nie omdat ons ons maar vinnig aan hierdie lewe met sy talle kruise wil onttrek nie.

Nee, ons moet geduld oefen, en ons taak bly verrig. En dan maar bid dat, terwille van die eer van die Naam van Christus, Sy Ryk gou moet kom. Dit gaan nie om ons nie, maar dit gaan om Hom!

Om Jesus Christus en Sy ewige Koninkryk, tot verheerliking van God drie-enig!

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)