Die geskiedenis is soos 'n verseëlde boek

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 5
Preek Inhoud: 

Ps. 106: 1, 2
Ps. 106: 3, 20
Ps. 97: 1 - 7
SB. 8: 1, 2
SB. 8: 3, 4, 5
Lees: Openb. 4 en 5
Teks. Openb. 5: 5, 6a (tot: 'n lam asof Hy geslag is)

Broeders en Susters, gemeente van onse Here Jesus Christus,

In die geskiedenis van die wêreld, sien ons dikwels dat enkele persone soms 'n geweldige mag ontvang. Soms kry 'n persoon daardie mag op 'n wettige manier in hande, soos byvoorbeeld 'n president van 'n belangrike land, maar dikwels trek mense op volstrek onwettige wyse steeds meer mag na hulle toe. Een van die magtigste mense van die wêreld op hierdie oomblik, is die Irakse leier, Saddam Hoessein. Nog afgesien van wat hy sal bereik met sy besetting en plundering van 'n buurland, het hy in elk geval bereik, dat die hele wêreld vol spanning toekyk wat gebeur. Tienduisende soldate van oor die hele wêreld het hul gewone besighede verlaat, om ver van huis en haard wag te loop in die Persiese Golf. En iewers op die wêreld moet iemand betaal vir die gigantiese koste van heel die operasie.

Saddam Hoessein, is nie die eerste man wie se aktiwiteite die wêreld asem laat inhou nie. Daar was baie voor hom, en daar sal nog baie na hom wees.

En so sien ons 'n geweldige ontwikkeling van magte in die wêreld. Militêre mag. Ekonomiese mag. Politieke mag. Terrroristiese mag: As jy ernstig genoeg dreig met wapens, kan jy baie afdwing.

Dit alles oordenkend laat die vraag opkom, wie eintlik die wêreld regeer? Natuurlik, ons weet dit wel. God regeer.

Maar tog, glo ons dit ook werklik?

'n Kind van God kan swaarkry in die lewe. Daar kan lyde in sy lewe kom. Lyde vanweë geloofsvervolging deur die wêreld, byvoorbeeld. Maar ook kan jy ly saam met die wêreld onder talle rampe wat gelowiges en ongelowiges tref. En dan kan die belydenis, dat al hierdie dinge ten goede vir ons gebeur, ons maar bitter swaar val.

Wel, gemeente ons is nie die eerste wat hierdie vrae het nie. Hierdie vrae het ook die sewe gemeentes uit Openbaring 2 en 3 gepla. Hulle het geweet van lyde omwille van die geloof. Hulle sien voor hul oë gebeur, dat een mens, die keiser van Rome, 'n gigantiese mag kan oefen. Die hele bewoonde wêreld van daardie tyd het onder sy beheer geval. Hy kan aan enige gril van homself toegee, want hy het 'n onbetwisbare mag besit. Daarby was daar een ding wat hy absoluut nie kon verdra nie: Dat Christene hom nie soos 'n god vereer het nie. Hy het hulle laat doodslaan, soos 'n mens 'n vlieg, wat jou pla, doodslaan.

Dit maak die vraag uiters dringend, hoe groot die mag van God dan werklik is. En daarom ontvang Johannes in Openbaring 4 en 5 allereers 'n visioen van die troon van God. Johannes moet sien dat God regeer, en dat Hy die geskiedenis van die wêreld in Sy hand hou. Maar dan soos 'n verseëlde boek. Jy kan dit nie sommer lees nie. Daarvoor is 'n groot en sterk ingrype nodig. En daaroor wil ek vanoggend die Evangelie bedien.

DIE GESKIEDENIS IS SOOS 'N VERSEËLDE BOEK.

Ons sien:

  1. Wat die oorsaak is van die verseëling van die boek.
  2. Wie die bevoegdheid het, tot opening van die boek.

1. Dit is heel duidelik dat ons by die begin van Openbaring 4 oor 'n drumpel gaan. Johannes moes eers sien wat is, en toe is vir hom die sewe briewe gegee. En alhoewel die briewe 'n heel beeldryke taal hanteer, gaan dit tog oor heel konkrete probleme, van 'n aantal gewone gemeentes. In die probleme wat hulle het, het ons trouens baie van ons eie probleme herken.

Wel, hierdie gemeentes moet voorberei word, op die toekoms wat vir hulle wag, en daarom moet Johannes ook sien wat nou verder gaan gebeur. Johannes sal dus toekomsvisioene ontvang.

Na sy aard is so 'n toekomsvisioen baie vaer. Die betekenis is nie altyd sonder meer duidelik nie, en veral van allerhande details sal ons nie altyd die presiese bedoeling kan weergee nie. Dit is op 'n manier vergelykbaar met 'n gelykenis. Dit gaan daarin altyd om die hoofpunt van vergelyking. Jy moet die prent as 'n geheel sien, en jou nie elke keer afvra: Wat beteken hierdie woord? Watter simboliek is in daardie kleur? As jy so werk raak jy heeltemal verwar in vrae oor details en sien jy die bedoeling van die geheel nie meer nie. Dan ontgaan die boodskap jou.

Wel, die eerste wat Johannes sien in die begin van hoofstuk 4 is 'n geopende deur in die hemel.

En daarmee is ons onmiddellik by 'n baie belangrike element in die geheel van die boek Openbaring. Daar is 'n geopende deur in die hemel. Vanuit die aarde gesien is daar 'n toegang tot God, en vanuit die hemel gesien is daar betrokkenheid op die aarde. Myns insiens het ons hier die hele boodskap van die boek Openbaring in sy mees kernagtige vorm. Hierdie boodskap is vandag superaktueel. Daar is 'n oop deur na die hemel.

Meer dan ooit leef vandag die westerse mens vanuit die geloof in 'n geslote wêreld. Die aarde is 'n selfstandig funksionerende voorwerp. Alles wat op aarde gebeur is onderworpe aan die wetmatighede van die aarde. Daarin is geen invloede van buite-af nie. Daar is geen besturing van die aarde nie. Daar was geen vorming van die aarde in 'n Skepping nie. Al wat is, al wat gebeur, kom tot stand deur allerhande aardse prosesse, wat teoreties almal beskryfbaar is, maar waarop prinsipieel geen enkele invloed van buite-af moontlik is nie. Dan het die wêreld ontstaan in 'n miljarde jare durende evolusieproses. Mens en dier het dan iewers tydens die proses ontstaan. Daar is geen besturing van jou eie lewe nie. Daar is dan ook niemand tot wie jy 'n gebed kan rig nie. Ook die toekoms van die aarde is volledig afhanklik van interne aardse prosesse. Want die hemel is toe. Daar is geen deur na die hemel nie. En vanuit die hemel kan ons ook niks verwag nie. Geen hulp, maar ook geen straf nie. Net niks.

Dit gemeente, is die mees verbreide oortuiging in vandag se westerse beskawing. Ons noem dit ook wel: Die totale sekularisasie. Dit beteken, daar is niks meer as hierdie sigbare wêreld nie.

Verstaan u nou hoekom die Here Jesus eers vir Johannes die geopende deur in die hemel wys?

Dit beteken dan: God bemoei Hom met die wêreld. In die hemel staan die deur oop. Vanuit die hemel kan alles gesien word wat op aarde gebeur. En deur die oop deur gaan daar bemoeienis uit met die wêreld.

Vanaf die aarde is vir die gewone oog, die oop deur nie te sien nie. Net Johannes mag die oop deur sien in 'n visioen. En ons mag weet dat die deur oop is, in geloof.

Ons glo daar is 'n geopende deur tussen die hemel en die aarde. En daarom raak ons nuuskierig wat Johannes verder mag sien.

Kyk, roep hy, daar staan 'n troon in die hemel, en Een sit op die troon.

En daarmee is ons by die kerntoneel van Openbaring 4 en 5. Die troon van die Heilige God.

In die vervolg van die boek Openbaring sal Johannes nog 'n hele paar verskrikkinge moet aanskou. Angsaanjaende visioene sal hy sien. Bloedstollende monsterverskynings sal hom amper laat doodskrik. Maar eers moet hy dit sien. Die troon van God.

Die sentrum van heel die gebeure in die hemel en op die aarde. Daar staan 'n verhewe troon. Heel eerbiedig word toegevoeg: Daar is Een wat daarop sit. Dat dit God self is, is duidelik, maar dit kan Johannes nie regstreeks sê nie. Daarvoor skiet gewone woorde tekort. Want die voorkoms van die Een in die troon is soos die ligstrale van allerhande edelstene. God is lig, en in Hom is glad geen duisternis nie.

Vandaar ook dat rondom die troon wesens staan, wat gedurig roep: Heilig, heilig, heilig is die Here God.

Wat hier in allerhande beelde omskryf word, is die heiligheid van die Here. Sy ontoeganklikheid vir sondige mense. En tog is Hy betrokke by mense.

Want bo en behalwe die vier besonderse wesens, sien Johannes ook 24 ouderlinge. Hulle simboliseer die skare van verlostes.

Van mense wat geroep is, en hul lewensdoel daarvan gemaak het om God te eer. Hulle bring hulde aan God die Vader.

Hulle erken Hom en aanbid Hom as die Skepper van hemel en aarde. Daarom is hulle loflied: U is waardig Here om te ontvang, die heerlikheid en die eer, en die krag, want U het alles geskape, en deur U wil bestaan hulle, en is hulle geskape.

So sing die ouderlinge die lof van God, oor Sy skepping. Die hele skepping, hemel en aarde, en al wat daarin is, is Sy werk. Dit behoort Hom toe. En daarom is God alleen waardig om die eer daarvan te ontvang.

Die hele Skepping is produk van Sy denke en dade. Hy het 'n pragtige plan gemaak en wil dit enduit uitvoer, sodat Sy lof volkome kan wees.

Maar daar is nou 'n probleem. Die probleem word gesimboliseer deur 'n boek. 'n Boek wat heeltemal vol geskryf is, maar die inhoud daarvan kan nie openbaar word nie, die geskiedenis kan nie verder nie, want die boek is verseël. Die plan van God is nie verder uitvoerbaar nie. Die einde, die voltooiing daarvan kan nie kom nie. Die geskiedenis kan nie verder nie. God se plan om Sy uitverkorenes die Ewige Lewe te gee, om hulle deel te maak van die ewige lofprysing, kan nie deurgaan nie. Die boek is verseël.

Die blokkade wat daar is, is skuld. Die pragtige volmaakte Skepping is bederf. In die hemel word God geprys, van alle kante. Maar van die aarde haper die loflied. Die mens wil nie. Die mens kan nie. Skuld! Duisternis op die aarde! Die geskiedenis het muurvas geloop. Niemand kan die verseelde boek nog oopmaak nie. Johannes besef wat dit beteken. Die wêreld is vasgevang in skuld. Die Skepping is in nood. Die mensheid is verlore. Die aarde se ondergang lê voor, want daar is geen opening van die toekoms nie. En as Johannes dit goed tot hom laat deurdring, kan hy sy trane nie meer bedwing nie. Nou dink ons: Johannes huil darem 'n bietjie te vroeg. As die verskrikkinge van die sewe seëls kom, dan is daar rede om te huil. Maar nee, Johannes sien die rol wat die mens in die bederf van die Skepping gespeel het. Die mens wat geskape is na die beeld van God, om God te prys, het sy diens verlaat. Skuld. Skuld van ons almal.

'n Sugtende Skepping. Wie Christelik na die geskiedenis van die wêreld kyk, het met Johannes rede om te huil. Watter ellende is daar. En die meeste word deur mense mekaar aangedoen. Verdrukking, oorloë, massamoorde. Die helfte is ons nie aangesê nie. Wat weet ons eintlik van lyde in die wêreld? Lyde van mense in nood? As nou en dan 'n tippie van die sluier gelig word, soek ons maar gou iets om ons aandag af te lei. Want dis net onverdraaglik. Ons wil dit maar liewers nie eens weet nie.

Ons sluit liewers ons oë. Dit bespaar trane.

Maar Johannes moet kyk. Hy sien die Skepping in barensnood, en hy smeek: Kan dan niemand iets doen nie? Hy huil, nie net uit ontferming nie, maar ook uit besef van eie medepligtigheid. Die nood van die wêreld gaan ons aan, gemeente! Want ons is medepligtig aan die sonde. Die sonde van die begin waardeur die bederf ingekom het. En daarom kan ons nooit skouerophalend aan die nood van die wêreld verbygaan nie. Ons huil met Johannes oor die sinneloosheid van die geskiedenis. Oor die hopeloosheid van die menslike bestaan. Oor die verwording van die eens so wonderlike Skepping van God.

2. Wie die bevoegdheid het om die boek oop te maak.

'n Ouderling onderbreek Johannes se geween: Moenie ween nie, Johannes, kyk die Leeu uit die stam Juda, die wortel van Dawid, het oorwin, om die boek oop te maak, en sy sewe seëls te breek.

Die Leeu uit die stam Juda, die wortel van Dawid!

Met hierdie nadruklike verwysing na die Ou Testament, word die Verlosser voorgestel, as die Messias van Israel. Daar in Israel het God Sy verlossingswerk begin. Die Leeu uit die stam Juda is 'n verwysing na Jakob se profesie oor sy seun Juda, in Genesis 49. Dus in die eerste Bybelboek is al sprake van hierdie figuur.

God het Sy plan van oudsher gereed gehad, in die boodskap wat hieruit na ons toekom. Hy laat die wêreld nie sy gang gaan nie, om net hier en daar iets te doen, of op sekere dinge te reageer nie, maar Hy het alles sorgvuldig beplan.

Die Leeu het oorwin, om die boek verder oop te maak. Hy het die bevoegdheid daartoe, om die Raad van God verder in uitvoering te bring.

Kyk, Johannes, let op die Leeu van Juda!

En as Johannes dan kyk, dan sien hy inderdaad iets. Maar nie 'n leeu nie, nie 'n geweldenaar nie. Hy sien tot sy verbasing 'n lam, 'n geslagte lam selfs. En dit is nou tipies weer die Bybel wat ons elke keer weer hierdie verrassing besorg. As die wêreld geregeer moet word, as die maghebbers van die aarde bedwing moet word, as koninkryke onderworpe moet word, dan verwag ons 'n figuur wat magtig en sterk is, en alles oorwin deur vertoning van mag.

Maar die Bybel doen net die omgekeerde. Die Lam van God, word ter slagting gelei. Soos 'n skaap wat stom is voor sy skeerders. Hy verset Hom nie. Hy roep nie 'n legioen engele nie. Hy laat Hom weerloos aan die kruis hang. Dwaasheid. In mense oë. Goddelike wysheid. Hemelse kragsvertoon.

Die Leeu van Juda, geslag soos 'n lam. En tog was dit die mees sinvolle gebeurtenis van die geskiedenis. Die Skepping wat verlore was in skuld, is bevry deur die slagting aan die kruis. Die toorn van God wat as 'n swart dreiging oor die hele Skepping gehang het, het daar tot 'n uitbarsting gekom. Dit is in al sy verskrikking uitgegiet oor die Lam van God. En juis dit is die oorwinning van die Lam. Die basiese oorwinning, waardeur die geskiedenis verder kan, en God se doel met die Skepping asnog bereik kan word. Sonder Christus wag daar maar een ding vir die wêreld. Vernietiging onder God se toorn. Maar deur Christus is daar 'n opening na die toekoms. Baie mense het dit nie raakgesien nie. Die kruis het daar gestaan op Golgota. Helse geweld het daar losgebars, en is verdra. En oorwin. Maar inmiddels het die lewe vir baie mense gewoon deurgegaan. Asof niks gebeur het nie.

Maar dit kan nie.

Die Lam gaan nou verder. Sy werk op Golgota is nie 'n gebeurtenis waaraan enigiemand kan verbygaan nie.

Die kruis word nou jou redding, of jou ondergang. Dit sal verder in die boek Openbaring uitgewerk word. Of redding, of ondergang. Daar is geen ander moontlikheid nie.

Want die kruis is ernstig gemeen. Die vloek van God was daar in al Sy verskriklike werklikheid.

Maar vir wie Christus aanvaar as die Lam, as die Paaslam, agter wie se bloed jy skuiling soek, is daar troos.

Daar sal nog 'n hele paar dinge gebeur met die wêreld. Oordele en beproewinge sal kom as die seëls oopgemaak word. Maar die Lam het klaar oorwin. Die opening van die seëls is in Sy hand. En Hy sal Sy einddoel bereik, naamlik dat die geskiedenis in die wêreld tot rus kom in 'n ewige lofprysing, waarin die verloste mensheid deel.

Halleluja, lof aan die Lam.

Dit is die kern van die lofprysing wat al die figure uit die visioen van Openbaring 5 gaan bring. Die lewende wesens, die ouderlinge, die ontelbare engeleskaar.

Ja, elke skepsel wat in die hemel en op die aarde is, sing saam in een juigende koor:

Hallejuja, lof aan die Lam van God,
Hy is die Heer van die geskiedenis.
By Hom is ons lewe in veilige hande.
Prys Sy Naam.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)