Christus se boodskap aan Sy gemeente te Filadelfia

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 3
Preek Inhoud: 

Ps. 93: 1, 2, 3
Ps. 93: 4
Ps. 84: 1 - 6
SB. 43: 1, 2, 3
SB. 43: 4, 5, 6
Lees: Jes. 22: 15 - 22
Teks: Openb. 3: 7 - 13

Broeders en Susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

Filadelfia - 'n pragtige naam vir 'n stad. Broederliefde beteken dit. En dan dink ons onmiddellik aan die Bybel, waar broederliefde 'n belangrike begrip is. So belangrik selfs dat die apostel Johannes sê: wie sy broeder nie liefhet nie, hy bly in die duisternis, hy ken God nie.

Dus broederliefde is een van die kenmerke van 'n ware Christen. Maar as ons nou meen dat Filadelfia dus wel 'n Christelike stad sal wees vanweë sy mooie naam, dan maak ons 'n vergissing. Die aanleiding om die stad hierdie naam te gee, is heelwat meer prosaïes.

So rond 150 jaar na Christus, was daar 'n Griekse koning Attalos. Daardie koning het 'n baie goeie verhouding met sy broer gehad. Dit was vir die mense van daardie tyd so opvallend, dat hulle vir hom die bynaam Filadelfos gegee het. Broederminnaar beteken dit. Wel aan hierdie koning Filadelfos dank die stad Filadelfia sy naam. Filadelfia was 'n jong stad, sonder spesifieke eie tradisies. Die stad is gebou om die Griekse invloed in Klein-Asië te bevorder. Die Grieke het geglo in die superioriteit van hul eie kultuur, en daarom dan ook baie moeite gedoen om die barbare van Klein-Asië 'n bietjie Griekse beskawing by te bring. In die stad het ook 'n aantal Jode hul gevestig om daar besigheid te doen. In dieselfde stad is ook die Evangelie van Jesus Christus verkondig, en het daar 'n gemeente ontstaan. Aan die gemeente van Filadelfia stuur Christus nou 'n brief.

CHRISTUS SE BOODSKAP AAN SY GEMEENTE TE FILADELFIA.

  1. Hy prys hul uithouding.
  2. Hy gee hulle uitsig.
  3. Hy beloof hulle uitkoms.

1. Filadelfia was nou nie juis 'n ryke stad nie. Die mense wat kans sien om groot geld te maak, vestig hulle liewers in hawestede, soos Efese en Smirna. Daar lê die beste kanse, daar is die meeste handel. Maar ja, vir beginners en mense wat nie met 'n groot erfenis van 'n familiebesigheid gebore is nie, is dit maar baie moeilik om daar in die groot stede tussenin te kom.

Wel, as jy dan tog iets wil, gaan jy probeer op 'n plek waar die konkurrensie nie so skerp, en die huise nie so duur is nie. Dan kom jy in 'n kolonistestad soos Filadelfia.

Die kanse om daar 'n besigheid te kan begin, is baie groter. Die kanse om daarvan werklik iets groots te maak, is taamlik klein.

Wel, so was dit nou maar in Filadelfia.

En so was dit dus ook met die gemeente van die Here Jesus in Filadelfia.

Ons sal daarop nog terugkom. Eers lees ons hoe die Here Jesus homself aankondig in sy brief: Dit sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en niemand maak oop nie.

Hierdie woorde oor die sleutel van Dawid is 'n vrywel letterlike aanhaling uit Jesaja 22. Die belang daarvan is tweeërlei: Die eerste is dat die verwysing na die Ou Testament en met name die verwysing na Dawid vir die Christelike gemeente groot betekenis het, in verband met hul verhouding tot die Jodedom. Die Jode het daarop aanspraak gemaak dat die Ou Testament hul Bybel is, en as dit oor Dawid gaan dan is dit hulle Dawid. 'n Joodse simbool is byvoorbeeld die vyfpuntige Dawidster. Wanneer Christus Homself presenteer as die draer van die sleutel van Dawid, is onmiddellik die legitimiteitsvraag in geding. Wie is die wettige gemeente van God: Die Jode of die Christene. Om soos vandag nogal in die mode is te antwoord: Sowel die Joodse gemeenskap, as die Christelike gemeente, is ewe legitiem gemeente van God, is op grond van die hele Nuwe Testament 'n onmoontlikheid.

Die tweede belang van die Jesaje verwysing is myns insiens die beeld van die sleutel self. Uit Jesaja 22 word heel duidelik, dat die man wat die sleutel het, nie maar sommer een of ander portiersfunksie het nie, maar dat hy in die koninklike paleis, in die mees letterlike sin, 'n sleutelposisie besit. Dis hy wat besluit wie die paleis mag ingaan, en die koning ontmoet, en wie nie toegelaat gaan word nie. As die sleuteldraer nie wil hê dat die koning sekere mense moet sien nie, of sekere inligting nie moet ontvang nie, dan kan hy maar so besluit.

As hy sê: Jy kan inkom, dan is daar niemand wat vir jou die toegang nog kan verbied nie. Maar as hy sê: Vir jou geen toegang hier nie, dan kan jy hoog en laag spring, maar die deur is toe. Teen sy beslissings is geen beroep moontlik nie. U sal verstaan dat so iemand 'n uitsonderlike magsposisie besit.

Wel, so presenteer Christus Homself nou aan Sy gemeente te Filadelfia: as die persoon wat die sleutel het. Hyself het die volmag om te besluit wie gaan inkom, en wie uitgesluit gaan word. Hy tipeer die gemeente so: Jy het min krag.

Die gemeente van Filadelfia is maar soos die stad Filadelfia.

Finansieel het hulle nie soveel moontlikhede gehad nie. Die beursies was maar klein. Daar was dus min drakrag. Wel, groot was die gemeente ook nie. Die meeste werk moes steeds maar weer deur dieselfde mense gedoen word. Daar was dus min mankrag.

En die ampsdraers was wel trou in hul werk, maar was nou ook nie juis groot inspirerende voorgangers nie. Daar was dus min dinkkrag. Watter moontlikhede het so 'n gemeente nou? Daar is altyd geld tekort, mense tekort, idees tekort.

En daarby kom nog, dat daar in Filadelfia 'n felle aktiewe Joodse gemeenskap is, wat maar al te graag sien dat dit vir die sekte van die Christene, soos hulle dit noem, moeilik gemaak word. Wat hulle betref bloei die gemeente van Christus maar vinnig dood. En as hulle dit kan aanhelp, pragtig.

U kan ongetwyfeld wel indink dat so 'n situasie taamlik moedeloosmakend is. Wat kan jy dan nog doen as gemeente? Christus weet dit en sê: Ek weet van julle inspanning. Ek het gesien hoe julle gewerk het. Daar is elke week gepreek, daar is katkisasies gehou, die ouderlinge het op huisbesoek gegaan, julle het julle ingespan om ander mense met die Evangelie te bereik.

Julle het min krag. Maar julle het baie gedoen.

Julle middele was beperk. Maar julle het nie stilgesit nie.

Julle het nie gesê: Vanweë ons gebrek aan moontlikhede is al die deure toe nie. Julle het gewerk asof al die deure oop was.

En hoe kon hulle dit doen?

Hoe het hulle volgehou?

Wel, hulle het die Woord van Christus bewaar, in die sin dat hulle Sy Woord geglo het. Hulle het geglo dat Christus die Magtige is. Hulle het geglo dat Sy Heilige Gees inderdaad kragtig is.

Hulle het gelo dat dit nie hulle woord, en hulle inspanning is wat mense kan red nie, maar dat Christus dit Self doen.

Hy het inderdaad die mag om oop te maak, ook daar waar vir ons gevoel net toe deure is.

En juis daarom dien Christus Homself so nadruklik aan as die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het.

Hy is die Heilige. Dit wil sê: Hy is God Self. Hy staan bo die Skepping met al die skepsels daarop.

En Hy is die Waaragtige, dus Hy doen ook wat Hy sê.

En so het Hy die sleutel van Dawid.

Daarom word die vraag wat moontlik is vir 'n gemeente, deur Hom bepaal. Nie hul finansiële drakrag, nie hul getalsterkte, nie hul mannekrag is bepalend, of daar deure oopgaan of nie. Nee, hul geloof in die mag van Christus is bepalend!

As hulle kyk na eie kragte en moontlikhede, dan sê hulle: Ag, wat kan ons nou bereik, met ons klein groepie, met beperkte gawes.

Maar dit is mos nie bepalend nie. Christus Self het die sleutel!

As Hy deure oopmaak, wie kan dan sluit?

In daardie geloof kom mense tot groot dinge. Jy kry ook mense wat sê: Ag, sendingwerk wat lewer dit nou op? En Evangeliesasiewerk, 'n gemors van tyd en energie en geld. En hulle bly sit waar hulle sit, en mors hul tyd en energie en geld op hulleself. Tenslotte word so 'n lewe vrugteloos en vreugdeloos.

So kan dit met 'n hele gemeente wel gaan. Dan sien jy alleen nog maar besware en gevare. En op die ou end gebeur niks nie.

Maar gelukkig het dit darem in Filadelfia nie so gegaan nie.

Hul kragte was maar min. Maar hul het 'n taak gesien, en vol vertroue aan die werk gespring.

En daarom prys hul Heer hulle. Goed gedoen, julle was getroue diensknegte. Oor min was julle getrou gewees. Ek sal julle oor baie stel.

2. Christus gee vir hulle uitsig.

Kyk, Ek het vir jou 'n geopende deur gegee.

Maar hoe kan Christus bewys dat Hy kan oopmaak en sluit vir wie Hy wil? Wel, Hy gaan vir hulle 'n bemoedigende wonder werk. Daarvan lees ons in vers 9: Kyk, Ek gee jou uit die sinagoge van Satan, van die wat sê dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar lieg - Ek sal maak dat hulle kom en voor jou voete neerbuig en erken dat Ek jou liefgehad het.

Daarmee bedoel Christus, dat binne korte tyd 'n aantal mense uit die Joodse gemeenskap sal kom, en erkenning doen, dat God se liefde na Christus se gemeente uitgegaan het. Ek stel my voor dat 'n aantal Jode in Filadelfia by die gemeente sal aansluit.

Juis van Jode is so 'n oorgang uitermate onwaarskynlik. Hulle is mos by die sinagoge van Satan, die groot teëstander van Christus. Satan sal graag van Joodse fanatisme gebruik maak, om Christus se gemeente skade toe te bring.

Maar juis van hulle sal kom. Daarin sal Christus 'n deur oopmaak. As Hy 'n deur oopmaak, wie sal dan sluit? Christus bewys dit. Juis deur Jode, wat meen dat hulle die uitverkore volk van God is. Van hulle sal tot erkenning kom: God se liefde het na julle uitgegaan. So maak Christus onverwagte deure oop, en daarmee bemoedig Hy Sy gemeente. Die omgekeerde gebeur ook. Dat deure wat oop was toegemaak word. Daar is mense wat vir jare onder die bediening van die Evangelie was. Daar is mense wat van kleins af gehoor het van

Jesus Christus en Sy kruis. Maar hulle het Hom nie aanvaar nie.

Eers raak hulle slordig in die diens van die Here. Liefde en trou verdwyn. En dan breek hulle met die diens van die Here. Aanvanklik heel bewus. En later sê jy: Was hulle ooit binnekant 'n kerk?

Uit hierdie brief aan Filadelfia blyk dat Christus gereeld groot beproewinge oor die kerk laat kom. Dan word die bewoners van die aarde op die proef gestel. En dan val almal deur die mat, wat oënskynlik nog wel Christene was, maar by wie die Christendom net 'n uiterlike vorm geword het. 'n Leë huls.

By die eerste beproewing blyk hul leegheid.

Van die gemeente in Filadelfia sê Christus: Julle sal volhard. Ek sal julle bewaar in die uur van die beproewing, omdat julle in die uur van die vryheid My Woord bewaar het. Hulle sal getrou bly, ookal kom daar 'n swaar tyd.

Wat in die toekoms presies sal gebeur sê Christus nie.

Daarmee het nog die gemeente van Filadelfia, nog ons iets nodig nie.

Maar een ding is seker. Vir wie vandag getrou is, lê môre die toekoms oop. Dan kan daar nog van alles gebeur. Maar Christus is getrou!

Die werklike beslissings val naamlik nie in die uur van die beproewing nie, die werklike beslissings val nou!

Dis eintlik logies. Of iemand 'n toets gaan slaag of nie, hang tenslotte nie van die toets self af nie, maar van die voorbereiding op die toets. Wie vandag getrou is in die klein dinge, getrou is in sy kerkgang, in sy omgang met die Here, in sy geld, sal môre die toets slaag.

Wie nou om allerhande rede laat slaplê, druip later die toets. Nie omdat die toets te swaar was nie, nee, die toets het alleen die waarheid aan die lig gebring, naamlik dat jy nie aan jou geestelike lewe gebou het, toe die tyd daar was nie.

As ons vandag vol angs na die toekoms kyk, en net sien op onsself, en ons eie moontlikhede, dan raak ons net verlam, en doen gevolglik niks nie.

Met as gevolg dat ons môre niks meer kan doen nie.

Maar as ons vertrouend op Christus, met blydskap ons taak aanvaar, dan sal Christus tot ons verrassing deure oopgooi, waarvan ons gedink het, hulle is heeltemal toe. Dan sal ons ook met eie oë aanskou, wie die sleutel van Dawid het.

Daardie uitsig gee Christus vir Sy gemeente, wat nie net reken nie, maar wat bo alles glo. En dan gebeur die werklike groot dinge.

3. Christus belowe vir hulle uitkoms.

Aan die slot van die brief het Christus nog 'n pragtige belofte.

Onthou u nog dat ek gesê het die gemeente van Filadelfia het min drakrag?

Maar kyk nou wat Hy vir hulle belowe. Wie oorwin, Ek sal hom 'n pilaar in die tempel van My God maak. 'n Pilaar. 'n Steunpilaar! Na die mens gesien geen drakrag, geen mankrag, geen dinkkrag. In Filadelfia was daar net geloofskrag, en vanuit geloofskrag was daar daadkrag.

Dus hoe is jy steunpilaar in die kerk van Christus? Net deur eenvoudig trou te wees op jou plek. Die Here vra heel gewoon diensbaarheid met jou gawes. 'n Gemeente kan nooit sê: Ons is te klein om werklik iets te kan beteken nie.

En geen lidmaat kan homself op die agtergrond hou in 'n vorm van valse beskeidenheid: Wat kan ek nou beteken in die kerk? Ek is te besig, of ek het nie gawes, of wat ook al nie.

Nee, almal wat uit liefde trou is, maak Christus tot 'n steunpilaar.

Hy gee vir joún vaste plek in die huis van die Here.

En op jou kom 'n inskripsie. Eerstens word die Naam van God op jou geskryf. Jy behoort tot Sy onvervreembare eiendom.

Jy ontvang ook die Naam van die Nuwe Jerusalem. Die Nuwe Jerusalem is die aanduiding van die Kerk in die Nuwe Bedeling. 'n Gelowige op aarde is nooit individualisties met sy eie heil besig nie, dit sou net egoïsties wees. Nee, Hy laat hom inpas in die gemeente van Christus, in die Nuwe Jerusalem. Daarheen is sy verlange. Daarna sien hy uit. Na die glorie van die bruid van Christus. En wie daarin mag deel, deel ook in die glorie van die bruidegom van Jesus Christus. Hy skryf op jou Sy nuwe Naam. Sy nuwe Naam is Oorwinnaar.

Dan sal Hy eer ontvang van almal. Dan sal almal moet erken: Jesus Christus is Heer. Alleen die een sal dit knarsetandend moet doen, en na die ewige verderf verwys word.

En die ander mag dit doen in blye dankbaarheid: Jesus is tog Heer. Inderdaad, Hy het die sleutel.

Die sleutel na die dood of na die lewe. Die sleutel na die hemel of na die hel.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)