Christus brief aan Sardis is 'n opwekking tot selfbeproewing

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 3
Preek Inhoud: 

Ps. 87: 1, 2, 3
Ps. 87: 4, 5
Ps. 139: 1, 2, 3, 4, 5
S.B 42: 1, 2, 3 (mel. SB 28)
S.B 42: 4, 5
Lees: I Kor. 11: 17: 34
Teks: Openb. 3: 1-6

Broeders en susters,

Wie 'n oor het laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Van al die sewe briewe uit die boek Openbaring glo ons dat dit die Heilige Gees is wat hierdie briewe skryf. En omdat Hy nooit uitsluitlik vir een gemeente skryf nie, luister ons 1900 jaar later deur middel van preke weer na al die briewe.

Deur ons te probeer indink in watter situasie elk van die gemeentes geleef het en dan te luister na die boodskap wat die Heilige Gees vir hulle het, ontvang ons ook vertroosting en vermaning. Ons ontdek sommer waar dit met ons as gemeente maklik verkeerd kan gaan. Ons hoor hoe die Here Jesus Sy volk dan weer terugroep en op die regte spoor sit.

Vandag lees ons die brief aan die gemeente van Sardis. 'n Brief met vernietigende kritiek. Julle het die naam dat julle lewe, maar julle is dood.

Wel gemeente, ek sou nie graag wil hê dat ons as gemeente in Kaapstad so 'n vernietigende brief van die Here Jesus sou ontvang nie. Maar tog gee die feit, dat so 'n brief gestuur kon word, in 'n situasie dat alles vir die oog in die gemeente mooi en reg is, en dat tog die geestelike lewe amper dood is, vir ons rede tot nadinke. So 'n brief vorm ook vir ons aanleiding tot selfbeproewing. Vir ons as gemeente om ons af te vra: is ons werklik 'n lewende gemeente van Christus!

Maar met die oog op die Heilige Nagmaal wat ons volgende week wil vier, moet elkeen van ons hom ook persoonlik afvra: is ek ook 'n lewende lidmaat van Christus se Kerk, en wil ek dit ook graag wees?

In hoeverre verwag ek werklik vergewing van sondes en lewensvernuwing deur Jesus Christus?

CHRISTUS BRIEF AAN SARDIS IS 'N OPWEKKING TOT SELFBEPROEWING

Hulle moet:

  1. hul eie posisie raaksien
  2. hul roeping raaksien

1. Van die stad Sardis kan 'n mens eintlik nie soveel besonders vertel nie. Ook Sardis het sy mooi strate en pleine gehad. Ook in Sardis was tempels en beelde van talle gode van die heidendom. Ook Sardis het sy handel en industrie gehad. Maar in geen van daardie sake het Sardis werklik uitgeblink nie.

Op talle gebiede is Sardis deur naburige stede soos Thiatire en Pergamus oorvleuel. In laasgenoemde stede was groot ywer en entoesiasme om eerste te wees en steeds verder te kom. Maar die mense van Sardis was redelik tevrede met wat hulle bereik het. Hulle het eerder op die roem van die verlede geleef, as dat hulle hul ingespan het vir die toekoms.

Wel, so gaan dit in die gemeente van Sardis ook maar. Ons sien wel dat die brief wat hulle ontvang 'n skerp kritiek inhou, maar dis nie so duidelik wat nou presies verkeerd is nie. Daar is geen algemene afdwaling na die heidendom nie, daar is geen groot spannings in die gemeente nie, die kerklike werk gaan voort, die prediking, die besoeke deur die ouderlinge, die werksaamhede van die diakens. En dit word ook opgemerk deur ander gemeentes. Hulle het 'n mooi gemeente daar in Sardis. Hulle het nie probleme met Nikolaïete soos in Efese en Pergamus nie, hulle het geen Isebel-figuur soos in Thiatire nie. Nee, die gemeentelewe in Sardis kan darem pragtig ontwikkel. 'n Mens kan skoon jaloers raak.

Maar Christus oordeel totaal anders: Julle het wel die naam dat julle lewe, maar julle is dood. Julle is wel besig met tal van gemeentelike aktiwiteite maar in feite is julle almal aan die slaap.

Wat is dan verkeerd? Dis dan miskien 'n bietjie moeilik om te verduidelik. Maar die probleem is dat alles redelik goed gaan. Natuurlik daar is swakhede en gebreke in die gemeente, maar goed dis nou maar so by sondige mense. Daar is nie juis groot sondes wat kop uitsteek nie. Die gemeente leef beslis nie in 'n krisissituasie nie. In hulle omgewing word met 'n sekere welwillendheid na hulle gekyk.

En dit alles het nou by hulle die probleem geword. Hulle self voel dit nie as 'n probleem nie. Inteendeel. Hulle meen, net soos ander mense, dit gaan goed hier by ons. Ons is 'n lewende gemeente van Christus.

Maar Christus sê: Lewend? Maar julle is dan amper dood!

Hoekom voel almal dat dit so goed gaan daar by julle in Sardis? Omdat julle tevrede geraak het met julleself. Julle jaag nie meer na werklike lewensheiliging nie. Julle is tevrede net soos dit is. Julle het jul standaarde vir 'n christelike lewensstyl vasgestel, maar is nie meer bekommerd oor die hoë norm van volkomenheid wat God ook van julle eis nie.

Maar (vs 2): Ek het jou werke nie volkome voor God gevind nie. By die gemeente is nie meer 'n hartlike berou oor hul sondes en onvolmaaktheid nie. Daar is ook geen begeerte om hul lewe werklik te beter nie. Nee, hulle is tevrede met wat hulle bereik het, en bid net vir die vorm om vergewing van sondes, maar in hulle hart dink hulle: wat kan ek eintlik nog verbeter? Hulle vier nog steeds Nagmaal, maar eerder omdat dit so hoort as dat hulle voel ons het dit nodig.

En dan kan ons nog verder vra: Waarom hoef die gemeente van Sardis geen stryd te voer nie? Hoekom het hulle geen probleme met Nikolaïete, wat 'n kompromie met die wêreld wil soek nie?

Wel, dis hierom: die gemeente as geheel leef al met soveel kompromieë dat mense met Nikolaïetiese lerings nie eers opval nie. As almal hul klere klaar besoedel het, kan niemand 'n ander meer iets verwyt nie.

En waarom kry die gemeente van Sardis nie swaar van die kant van hul heidense omgewing nie?

Wel, die rede is, hulle doen geen moeite om die Evangelie van Christus op die strate van Sardis te laat hoor nie.

Waarom stel Christus homself in die eerste vers van hierdie brief so nadruklik voor as: Hy wat die sewe sterre het. Die sterre is die gemeentes van Christus in hul uitstraling na buite. Hulle moet skyn soos ligte in die duisternis. Maar dit doen hulle in Sardis nie meer nie! Blykbaar het hulle die laaste jare met sendingwerk in die stad so min vordering gemaak, dat hulle dit maar beëindig het as energieverspilling. Hulle het hul nou meer op die bewaring van die gemeente self gerig. Dit kos tyd en inspanning genoeg.

Maar hul taak buitentoe het hulle verwaarloos. En wat hulle gedoen het was alles so vryblywend, dat dit geen enkele verset opgeroep het nie. In Sardis was daar geen martelaars vir die geloof soos Antipas uit Smirna nie. Van die gemeentelede in Sardis het nooit iemand die binnekant van 'n tronk gesien nie.

Dink dan terug aan die apostel Paulus. Hoe hy gestry het vir die Naam van Christus! Hy het onvermoeibaar opgeroep: "Daar is maar een Naam waardeur julle gered kan word. Julle heidene met jul afgode, moet 'n ewige dood verwag, as julle daarvan nie bekeer nie. Julle moet kies! Dit is 'n keuse van lewe of dood!" Het hy gepreek. "Christus se oordeel sal kom oor julle pragtige maar goddelose kultuur!"

Wel, so 'n prediking is nie aanvaarbaar vir heidene wat nie hul lewe om wille van Christus, wil verander nie. En daarom: sluit op daardie Paulus! Gooi hom en sy manne in die tronk!

Hy bedreig die vrede van die stad!

Maar nie so met die gemeente van Sardis nie. Hulle bedreig nie die vrede van die stad nie. Agter die mure van hul kerkgebou kan hulle maar bid wat hulle wil, en vereer wie hulle wil. Dankbaar het die gemeente van Sardis die geleentheid gebruik. Dit was gerieflik so.

Totdat Christus kom en hulle wakker skud en in 'n spieël laat kyk. Julle het die naam dat julle lewe, maar julle is dood.

2. Hulle moet hul roeping raaksien.

Wees wakker, roep Christus tot die gemeente. Ontwaak julle wat aan die slaap geraak het.

Christus verwys in die brief aan Sardis na Homself as Hy wat die sewe Geeste het. Daarmee roep Hy iets in herinnering van die Pinkstergebeure. Op die Pinksterfees het Hy Sy Gees uitgestort op die gemeente. Op elk van Sy gemeentes.

Die Gees het mense in beweging gebring. Die Gees het mense losgemaak van hul ou lewe en lewensstyl, en hulle verander in blye Christusgetuies. Hulle het nie omgegee dat daar probleme kom vanweë hul belydenis van die Naam van Christus nie. Kyk maar na Petrus en Johannes. Die Pinksterfees is skaars agter die rug of hulle word al in hegtenis geneem vanweë hul genesing van iemand in Christus Naam. En almal was bereid tot enige offer, as dit maar die verbreiding van Christus se Evangelie ten goede kom.

Met groot entoesiasme en offerbereidheid het mense die Evangelie na Sardis kom bring. Hulle het baie tyd en energie spandeer, maar wat het hulleself in Sardis daarmee gemaak? Na 'n paar wysigings in hul lewensstyl, was hulle al tevrede. Hulle het nou 'n gemeente en 'n kerkgebou en 'n kerkraad, en hulle het verskillende dinge aan die gang, maar wat maak hulle met die Gees wat vir hulle geskenk is?

Christus herinner in vers 3 aan die begin: Onthou hoe jy dit ontvang en gehoor het! Onthou die inset en die baie werk wat vir jou gedoen is om jou by Jesus Christus te bring. Nou waar bly jy dan? Bekeer jou!

Want anders kom Ek en sal julle oorval soos 'n dief. Onverwags sal Ek daar wees en as jy dan nog slaap, het jy jou kans verby laat gaan! Ek dink die feit dat Christus soveel nadruk lê op die waarskuwing dat hulle wakker moet wees, en dit dan toespits met die oog op sy koms, is 'n bewys dat daar in Sardis geen lewende adventsverwagting meer is nie.

Die spanning van die koms van Christus leef glad nie meer by hulle nie.

Daar word wel gepreek, maar die gemeente word nie voorberei op die koms van Christus nie. Daar word wel huisbesoek gedoen, maar die ouderlinge spoor nie aan om te leef uit die belofte van die nuwe wêreld nie. En juis met die oog daarop, met die oog op die koms van Christus, moet daar weer 'n nuwe verwagting by die gemeente kom. 'n Lewende verwagting daarvan.

En dit sal ook die sendingwerk en die evangelisasie-arbeid nuwe energie gee. Die gedagte dat ons nie eindeloos die tyd het nie, gee die spanning van: Laat ons van ons kant probeer red, wie gered kan word! Christus is mos besig om te kom. En wie hier in hierdie wêreld nie met die evangelie bereik word nie, vir hom is dit ewig te laat.

Ons nader nou die einde van die brief. Meestal skryf die Here Jesus dan nog 'n paar bemoedigende woorde. Luister na vers 4: Maar jy het enkele persone in Sardis wat hul klere nie besoedel het nie.... Enkele persone....

Dit beteken dat die getroue gelowiges in Sardis 'n uitsondering geword het! Daar is nog maar enkeles wat hul klere nie besoedel het nie, dit beteken daar is nog maar 'n paar wat nie saamgegaan het met die algemene insinking van die geloofslewe nie. Daar is nog enkelinge wat nog elke dag besef hoe hulle tekortkom teenoor Christus. Daar is nog mense wat met besef van skuld hulle buig voor die aangesig van God. Daar is nog lidmate wat hul sondes so ernstig neem dat hulle bid: Here kom ter verlossing uit hierdie nood. Daar is nog gemeentelede wat onvermoeibaar probeer om ook ander mense tot Christus te trek. Vir hulle is daar 'n belofte: Julle sal saam met My in wit klere wandel, omdat julle dit werd is!

Ek is seker dat juis hierdie mense verbaas sal reageer: Ek, is ek dit werd om met Christus te wandel? Ek in wit klere? Maar ek het dan soveel tekortkomings, my kleed is so besoedel! En dan sal Christus sê: Juis julle. Julle wat besef dat julle soveel tekortkomings het; juis julle wat in liefdesywer tog alles geprobeer het; juis julle sal met my wandel.

Want julle het elke dag jul knieë gebuig vanweë julle sondes. En julle het die Heilige Nagmaal aangegryp om werklik vertroos te word deur die vergewing van jul sondes. Julle het die Nagmaal gebruik om weer 'n nuwe begin te maak in die stryd teen die sonde. Julle het by elke geleentheid My Naam genoem. Julle was nie skaam om My voor die mense te bely nie. Wel, dan is Ek nie skaam om julle naam voor My Vader en voor Sy engele te noem nie.

Wie 'n oor het laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. So waarsku Christus die gemeente van Sardis. Julle het die naam dat julle lewe, maar julle is dood.

En nou is ons 1900 jaar verder.

Die Heilige Gees het vanoggend sommer daardie brief aan Sardis hier by ons in Kaapstad in ons midde gelê. Net soos Sardis is ons 'n gemeente van die Here Jesus Christus. Net soos Sardis het ons die Heilige Gees ontvang. Net soos Sardis gaan by ons die prediking en die huisbesoeke voort. Net soos Sardis hoef ons nie te stry teen groot ketterye in die gemeente nie. Net soos Sardis word ons nie omwille van ons belydenis van die Naam van Christus in die gevangenis gegooi nie.

Net soos Sardis het ons die naam dat ons leef...

Wel, of Christus sal oordeel dat ons net so dood soos Sardis is, dit kan ek nie sê nie. Want ek is volop deel van die gemeente. Maar so 'n brief laat ons dink. Ofwel, so 'n brief gee rede tot selfbeproewing:

As predikant, berei hy die gemeente voor op Christus koms?

As ouderlinge, veg ons hard genoeg vir die lewensheiliging van die gemeente? As diakens, betoon ons in die wêreld die barmhartigheid van Christus? As gemeente, is ons ons roeping bewus om in ons wêreld getuies van Jesus Christus te wees?

As elke indiwiduele lidmaat: Jaag ek ook na die volmaaktheid waarvan die Bybel praat, of is ek lankal tevrede met wat ek bereik het in die geloof?

Ek lê die vrae maar in u midde, broeders en susters.

Dan weet ons dat ons op die knieë moet gaan voordat ons die Nagmaal kan vier.

Dan weet ons dat ons almal Christus se Nagmaal bitter hard nodig het.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)